Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 18
12.
ОглавлениеSondagaand met Plas, wat vanaand geen lus oorhet vir die kos wat hy vandag aan sy klante voorgesit het nie. Popol Vuh se eienaar gee hom oor aan whisky. Fleur volg sy voorbeeld, beskerm haar maag oudergewoonte met Portugese witbrood en ansjovis. Haar emosionele en kulinêre gemaksone.
“Het jy vandag met Katstert gesels?”
“Nee.” Sien op ’n afstand was vir haar oorgenoeg.
“Wonder hoeveel keer die woord heroïes in vandag se sportberigte gebruik is.”
“Dis banaal,” antwoord Fleur.
“Maar onwaar.” Hier kom dit, weet Fleur. “Al heroïsme wat vir mens oorbly, is om die uitspansel te probeer verstaan.”
“Sê wie?”
“Steven Weinberg. Amerikaanse fisikus. Nobelpryswenner. Om daardie dinge te verstaan, seg hy, is al wat ons bestaan lig bó die vlak van die klug. Dit is ’n poging wat ons bestaan ten minste die sjarme van ’n tragedie gee.”
Sy ken die ritueel. “En waar pas Skoonheid in?”
“In die skryf van wiskundige formules wat dit vasvang.”
“Jy kan nie ernstig wees nie.”
“Ek is, Weinberg is.”
“Jy is weird, Plas Johnson.”
“Daar is só baie om in ag te neem.” Hy praat onverwags sag, asof hy wil hê net Fleur moet hoor wat hy sê.
“Soos?”
“Dat godsdienstige mense al soveel dinge in die naam van God gedoen het wat immoreel is, dat mens ’n vraagteken moet plaas agter hul moraliteit.”
“Nou praat jy my taal.”
“O ja?”
“Belhar.”
“Kan ons nie oor rugby gesels nie?”
Die bottel whisky tussen hulle sak met verdrag.
Maurice kom ingestap. Hy is baie lief vir die Sondagaand-ritueel by Popol Vuh, al van voor die klompie maande wat hy en Fleur saamwerk vir die biografie van Katstert Nel. Hy moet ’n fyn balans tref: Lank genoeg by Krystle en Jaap sit om op hoogte van sake te bly, dan skedaddle na Popol Vuh. Soms finesse hy sake – vanaand kon hy Krystle oortuig dat sy dienste beter aangewend kan word dáár waar Fleur haar bevind. Fleur met haar agterdog. Môre is mos nóg ’n dag, beginnende by brekkie.
“Waar swaai ons vanaand?” Maurice maak homself tuis by die kroegtoonbankie.
“Wiskundige formules.” Fleur het haar berus.
“Slaan my met dieselfde, dearie,” sug Maurice.
Plas skink. “Die mens is nie die hoofpersoon in ’n kosmiese drama wat van die begin af beplan is nie. Hy is maar net teenwoordig op ’n gegewe punt in ’n lang en ordelike ontwikkeling. ’n Wêreld waarin toeval ’n groot rol speel. Agter alles, onder alles, is net ’n klomp koue, kille wiskundige vergelykings. Watse troos is daar in ’n wêreld waar mens nie meer gode en nimfe en geeste in bome aantref nie? Daar is merkwaardige skoonheid in die wetenskaplike ondersoek. In elke formule lê reeds die stramien opgesluit van toekomstige formules. Newton het die kiem gedra van Einstein. Weinberg sê,” Plas bly ’n oomblik stil, sy oë wat seker maak dat sy laaste teenwoordige kelner die enkele gaste by tafels ondersteun, “dat die mens vandag ’n merkwaardige verhouding met sy verbeelding en raaiselagtigheid het. ’n Bietjie meer as tweehonderd jaar gelede was daar op wêreldkaarte nog groot dele wat onontdek was. Vandag kan jy satellietfoto’s van elke sentimeter van die aarde se oppervlak neem. Spring tweehonderd jaar in die toekoms in. Wat gaan hulle van ons sê, oor ons gebruik van ons verbeelding. Van ons soeke na Troos? Hul perspektief op ons sal dieselfde wees as ons s’n op mense van die negentiende eeu.”
Hy bly stil. Daardie veraf kyk in sy oë wat Fleur die afgelope maande al hoe meer met die Filosofie assosieer.
“Weet jy,” val Maurice weg, “dis in rugby nogals ook so. SA Spieël se berigte oor rugby in die ou dae. Jy moet in die rugbymuseum gaan kyk daarna. Wow! ’n Ander game, sê ek julle. En daai tyd was die mans nog rof en nie in gimnasiums gekondisioneer nie. Toe het die universiteite dosyne en dosyne spelers opgelewer vir elke provinsie. Vandag het ons franchises en die universiteite migreer na internetkampusse.”
“Leerbal,” sê Fleur.
“Wat?” Maurice kyk haar in die oë, nie seker of sy spot nie. “O, o, ek onthou. Agtnaat. Leerbal. Daar is een in die rugbymuseum in Kaapstad.”
“Newton,” mymer Plas.
Fleur glimlag. Sy moet haarself keer of sy gaan té lief raak vir hierdie man.
“Dis natuurlik ’n ander vraag of wiskundige formules vir Die Slapogie kan verklaar,” storm Maurice voort. “Ek meen, daai skop van gister. Jy moes my keer of ek gaan soen die bliksem.”
“En sy ongeluk vanoggend?”
Maurice spring regop. “Wat bedoel jy?”
Fleur kyk eers anderpad, deur toe. Popol Vuh sak op die vertrek neer, “Sing, for Song Drives Away the Wolves”. Dan draai sy terug na Maurice, die ene instink. “Maurie, wat het gebeur, pel? Iets waarvan ons nie mag weet nie?”
“Waar kom jy daaraan?”
“Jou reaksie. Ek vra ’n onskuldige vraag, jy gil soos ’n Drawwertjie met ’n bos wortels in die hand.”
Voordat hy kan antwoord, is daar ’n lawaai by die deur.
Verbal Kint stap op hulle af, die deur wat eers toeklap wanneer hy halfpad gevorder het en hulle sy toestand kan peil aan die kere dat sy knieë swik in die deurswaai. Nie te erg nie, eintlik sober gemeet aan sy gebruiklike Sondag-prestasie.
Plas het vir hom ’n glasie whisky gereed wanneer hy gaan sit.
“Laat’m val!” Verbal lig die glas in saluut, sluk dit met een skoot af.
Plas hervul die glas.
Dít is wat vir Fleur so wonderlik is aan Plas. Dat hy iemand soos Verbal kan duld, en dan nog filosofeer ook. Sy sou dit nie kon doen nie. Menseverhoudinge is nie haar sterkpunt nie, veral nie wanneer dronkgatte betrokke is nie.
Verbal draai om, sodat hy kan vasstel of hy enigiemand in die eetvertrek ken en wend hom dan effe teleurgesteld tot Plas en Fleur. Dis nie heeltemal duidelik of hy Maurice raaksien nie.
“Julle g’hoor? Slapogie se kwassies ’s weg.”
“Wat?” Maurice stut hom op sy elmboog en kom rustig nader aan Verbal se gesig. “Sover ek weet het hy net ’n nooientjie op Vanwyksvlei.”
Dit neem Verbal ’n paar sekondes om die nuus te verwerk.
Dan snork hy. “’S wat jy dink. Hy het twee,” lig sy vry hand op, beweeg sy vingers asof hy tel, “een, twee, tel ’ulle, twie Argy cherries g’raps Sadragaand. Sadragnag.”
Fleur sien hoe Maurice bekommerd in haar rigting kyk.
“Ek glo dit nie,” sis hy. “Kakstorie.”
“Glo wa’ jy wil. Ek sê jou.”
Plas vee die toonbank met ’n klam lap skoon, bring die bottel weer nader.
Niemand stribbel teë nie.
“Is dit net ’n wilde gerug, Verbal?”
“’Ket m’bronne.”
“Bronne?” gil Maurice. “Meervoud?”
“So waar s’s ’n moerse babbies.”
Fleur sien wat kom. Elke Sondag se storie.
Verbal gaan sit op een van die hoë stoele, klem sy glas soos ’n diamant tussen sy vingerpunte op die blad voor hom vas.
Hy praat nie meer nie. As mense hom vir ’n liegbek wil uitmaak, praat hy net nie meer nie.
Presies hoe Verbal en Plas se vriendskap inmekaarsteek, weet Fleur nie. Uit die skinnerstories wat onder mediamense in omloop is, vorm teenstrydige geskiedenisse. Plas altyd die filantroop; Verbal die man wat in apartheidsdae met ’n swart vrou saamgewoon het. Of: Verbal die man wat sy kop verloor het toe hy ’n storie moes doen oor kinderprostitusie. Wat ook al. Hy drink ses dae in die week om die draai in Crosby, Sondagaande spoel hy hier uit. Aldus Plas. Dis nie heeltemal duidelik waar sy geld vandaan kom nie, ’n man in sy diep vyftigs wat reeds die tande kan tel in die Maaier se grimas. Tot haar ergernis moet Fleur erken dat sy soms in Crosby by Charlie’s aandoen om Verbal se gevoelens oor ’n storie te toets. Hy het nog nooit vir haar ’n slegte antwoord gegee nie.
Het hy net beter geruik!
Dan is die aand ook verby, besef sy. Verbal staan op, knik vir Plas, maak ’n koddige kniebuig in haar rigting en sluip deur toe. Hulle hoor hom ’n deuntjie sing, kan sweer hulle hoor “Miss Otis Regrets …” maar dit kan ook wees dat hy net mompel.
Vir Maurice ignoreer hy in alle moontlike kommunikasievorme.
Plas vee die toonbank skoon waar Verbal gesit het.
“Loopdop?”
Sy knik.
“György Konrád sê ons verlange om op enige gegewe oomblik elders te wees, buite te wees, is niks anders as die verlange na Skoonheid nie.”
“Wie hy ook al is.”
“Wil jy?”
“Wat?”
“Elders wees?”
“Net hierdie dop nog.”
Plas pak skoon glase weg, maak die plek netjies vir môre.
“Hy sê ook: Daar kan geen Skoonheid sonder eros wees nie, sonder verlange …”
“Plas.” Fleur gooi die whisky met een sluk af. “Vertel dit vir Slapogie.”
Maurice proes, sprei whiskydruppels in alle rigtings.
“Eros!” brul Maurice. “Daar is geen troos in eros nie. Eros is die gevoel wat jy kry wanneer …”
Fleur en Plas draai na hom.
Maurice swyg.
“Dink jy,” vra Plas aan Maurice, “dat God troos bring?”
“Moet ek ex officio antwoord?”
“Nee, ek vra vir jou, Maurice.”
“Verdien ons die troos wat God bring? Is dit wat jy vra?”
“As jy dit só wil verstaan, ja.”
“God het baie om voor te antwoord. Dink ek.”
“Ja?”
“As God oral is. Dan is hy ook ’n misdadiger …”
“Ten minste het jy en György Konrád dit eens.”
“Maar Hy vertroos ons ook.” Maurice maak sy sleutels en selfoon bymekaar. Hy begin deur toe stap. Hy knipoog vir Fleur en Plas. “Hy het geweet presies hoe om Slapogie te vang.”