Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 8
2.
ОглавлениеFleur de Villiers drentel die hotelportaal skuins voor elf op hierdie laat-herfsdag binne, enkele minute vroeg vir haar afspraak met die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie. Jaap Schvantz is nie meer vir haar ’n verskrikking nie. Dis net dat sy ’n laatkommery verpes – en buitendien beteken haar gebrek aan vrees vir hom nie noodwendig dat sy van hom hou nie.
Hotel Bonheur is in 2020 opgerig deur Corpus Christi. Dis een van ’n reeks hotelle dwarsoor die land – ’n veilige hawe vir reisigers en gelowiges in ’n land waar orde ’n kwynende herinnering is. Die hotel het ’n baie eienaardige argitektoniese konfigurasie waarin die simboliese elemente van ’n piramiede en ’n groot wit kruis versmelt is. Noord van Fourways, suid van die res van Afrika.
Alles is vir haar oorbekend, van die logo’s van die wit kruis – vir ’n oomblik lyk dit vir haar soos ’n ankh – en die ontwerpmotiewe van elemente uit die Egiptiese hiërogliewe oral in materiaal, glase en plafonne te sien. Ook in die donker faux leer van die rusbanke tot die wit kadotte van die tafelsambrele op die piazza neffens die deurgang na Hotel Bonheur.
Dit is die getemde woesteny van Afrikatoerisme, die geroesemoes van stemme en geblikte musiek wat opklink tussen nagemaakte marmerpilare, die ornate kandelaber in die hoë gewelf, groot kontinentale vloerteëls en die kleiner Mondrian-motief van houtinlegwerk by die deurloop. ’n Variasie op dieselfde tema in ’n duisend ander hotelle verspreid oor die kontinent. Toegespits op toeriste en plaaslike politici, mense buite Fleur se sosiale kringe. Niks daar buite sal ooit weer dieselfde wees in die land van verspeelde vryheid nie, maar hier binne is ’n gees van orde en vrede vaardig.
Fleur is nie beïndruk hiermee nie. Dié beskawing is verpak. Sy merk die lewende orgideë op, eenkant op die glasblad van ’n houttafel.
Hier is stoele, maar hierdie tyd van die oggend sit niemand nie.
Sy veg teen die gevoel dat sy nòg hier hoort nòg regtig hier tyd wil deurbring. Erge ongemak. Sy is nie deel van die rugbykultuur nie. Sy byt die wrewel daagliks in haar kieste vas, nes die wrewels van die verlede, gereed om te verskyn. Gifbekkie, het haar eerste nuusredakteur by die SAUK haar altyd genoem.
Gifbekkie, sy wat nie gekersten kan word nie.
Sy het in ’n onbewaakte oomblik daarin verstrengel geraak. Maurice Kumalo, ’n ou kennis uit haar SABC-dae, het Fleur nege maande gelede genooi vir drinkie-poohs by Popol Vuh. Hul gereelde bymekaarkomplek. Maurice, skakelhoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie. Die wêreldbeker-rugbytoernooi was nog nege maande in die toekoms. Fleur het half verwag hy gaan haar ’n werk aanbied. Een van sy halfdosyn kopieskrywers. Mense wat sorg dat daar daagliks nuwe nuus oor die toernooi geskep word. Sy was van voorneme om hartlik te lag en nee te sê.
Sy het ’n tafeltjie waar sy altyd in Popol Vuh parkeer. Plas Johnson, die eienaar, weet hoe besitlik sy oor die tafel voel.
Dis waar Maurice dan ook vir haar gewag het, ’n G&T voor hom. Geklee in Dolce & Gabbana van kop tot tone: rooi langmoutrui met ’n kruis tussen Georgia Peach- en Russies Ortodokse goue borduursels, ’n spierwit langbroek en rooi gemakskoene met dieselfde goue motiewe as sy trui. Retro in Italië, futuristies in Suid-Afrika. Sy hare kort geknip, met ’n paar dwarsriwwe en ’n paadjie op die verkeerde plek – ’n terughunkering, esteties gesproke, na ’n vorige geslag rugbyspelers se pogings om baie gangster te lyk.
Maurice had ook nog ’n moestas, as sy dit só kan noem, wat ’n lyn twee sentimeter dik al langs sy bolip beskryf het. Genadiglik het hy dit sedertdien afgeskeer. Die August Darnell-gesmoelte was só uit pas met Dolce & Gabbana.
Hoe sy ook al voel oor enige moontlike aanbod vanuit die binnekringe van rugby, sy moes aan haarself erken dat hy erg aantreklik is, op ’n vae, jongerige Denzel Washington-erige manier.
“Dearie!” Sy uitroep was gul, maar nie té gul nie. Maurice was – en bly steeds – hipersensitief oor vals bonhomie. Fleur deel sy gevoel.
Sy het vir haar ’n G&T laat kom. Jenewer uit Stilbaai, die brouery onlangs genasionaliseer om die waarde vir die ganse bevolking te ontsluit.
Plas het hom uit die voete gemaak. Maurice het hom seker vooraf gevra om skaars te bly. Hy moet ernstige sake op die hart hê.
Hulle het oor beuselagtighede gesels, totdat haar G&T bedien is en sy haar lippe kon natmaak.
“Jy wou my sien,” het Fleur gesê.
Hy het haar in die oë gekyk. Sy glimlag het stadigaan oorgegaan in saaklike erns. Hy het begin praat. Die lof besing van Jaap en Krystle Schvantz. Sy het half geluister, meer bewus van hoe hy sy kop na links draai, sy regterwang met die elegante lang vingers van sy linkerhand krap. Naels ge-mani, sonder twyfel. Toe weer stadig na haar gedraai, sy oë momenteel gesluit.
“Weet jy hoe onmeetbaar groot die empire is wat hulle gebou het?” Hy het na haar gekyk asof hy verwag sy moes antwoord, toe skielik verder gegaan, asof hy nie wou hê sy moes antwoord nie. “Terwyl die res van die land besig was met politiek. Terwyl ons ons neuse opgetrek het vir rugby en godsdiens.”
Fleur het gedink aan die groot polisiestaking van vroeg in die 2020’s, wat die Internasionale Rugbyraad amper laat besluit het om die toernooi elders te neem. Gerugte dat Krystle gehelp het om die staking tot ’n einde te bring met ’n groot donasie aan diverse politici. Soveel meer subtiel as Bosasa.
Maurice se bewieroking van die Schvantze het geen verrassings ingehou nie. Fleur is in die algemeen goed ingelig oor Jaap en Krystle wat Suid-Afrikaanse rugby uit sy bankrotskap gered het. Die stryd om die ou gierige administrateurs uit die saal te lig. Die ondergang van die geldgierige rugbylui, voos geklets op Twitter en SocialEyes. Fleur het altyd gedink dis die rugga buggers se verdiende loon dat hulle nie meer die massiewe stadions kon vol kry nie. Net nóg veragtelike simbole, in werkende toestand weliswaar, in ’n land waar die meeste dinge afgerem en verslete is. Sy kan dit nie verhelp nie – rugby was die afgelope dekade vir haar ’n soort meta-Eskom, inherent bankrot en net soms in werkende toestand.
Fleur stuit by een oorweging. Jaap Schvantz, PW Botha se laksman tydens die noodtoestande van die tagtigs, wat skielik ná 1994 die vennoot geword het van die ou struggle-aktivis Martha Bosch. Hul legendariese, nee, ikoniese regenerasie van Genadendal en omgewing. En toe, nog meer onverwags, trou hy met Martha Bosch se dogter, Krystle. Die ou apartheidswerkesel kon sy kop uit die trog van vernedering lig, en het Krystle gehelp om te vergeet van haar vorige, mislukte huwelik. Jaap die Trooster. Dit walg Fleur om aan al die fisieke ramifikasies van die huwelik te dink. Krystle het meer moed as sy wat Fleur is.
“Rugbyunies sonder geld,” dring Maurice se stem weer tot haar deur. “Leë stadions. Jaap en Krystle het die prentjie gesien. Baie helder.” Maurice het op die klawers van ’n denkbeeldige klavier voor hom gespeel, beide polse skielik dramaties gelig, asof hy pas ’n uitvoering gelewer het, en sy hande weer stadig op die tafel laat rus.
Fleur het ’n ou joernalis-truuk ingespan: Sy fokus op die brug van Maurice se neus, sodat hy die indruk kry dat sy elke woord wat hy sê, indrink. Hy is nou besig om uit te wei oor Corpus Christi se begindae. Alles dinge wat sy ter voorbereiding vir hul gesprek gegoogle het: Notering op die aandelebeurs, Krystle wat besef het dat hulle nie net rugbystadions op Sondae moet vul nie. Kyk ook na Saterdae – vir die redes waarvoor die stadions gebou is. Rugby.
Wat Fleur betref, sou Krystle die land ’n guns gedoen het as sy nie die rugbykultuur gekoöpteer het nie, maar eerder die flentergat-regering. ’n Sielsalige variasie van staatskaping.
Oorkant die tafel het Maurice se loftuiting ’n hoogtepunt bereik.
“Sy en Jaap het Suid-Afrikaanse rugby gered. Hope geld ingepomp. Hope.” Maurice se arms het ’n wye boog oor die tafels van die restaurant geswaai. “Beheer geneem van al die strukture. Die parasiete in hul moer gestuur.” Met sy vingers skiet hy ’n onsigbare blerts van die borduursel op sy skouers af. “Die spel weer op sy been gebring. Saam het Corpus Christi en Sarvu soveel vooruitgang gebring. ’n Kombinasie wat oneindig baie vir ons ekonomie beteken het.”
Fleur is nie vandag se kind nie. Sy het gesit en luister. Met haar vingers op haar bobeen getrommel, buite haar vriend se gesigsveld. Maurice is Sarvu én Corpus Christi se skakelhoof. Reklameer is sy verstek-aksie.
“En toe is daar wêreldvrede? Hosanna in die hoogste hemele?”
Maurice se toon versag, word meer innig terwyl hy verduidelik hoe sku die egpaar vir aandag is. Hoe hulle hul privaatheid vertroetel.
“Kyk, dearie, ek het al hoeveel keer vir hulle gesê hulle twee is Corpus Christi en Sarvu se magtigste wapen. Die media is mal oor hulle! Mál! ’n Wit man en ’n bruin vrou, as jy nou blatant wil wees oor die rasseprofiel. Hy wat lyk soos ’n verbleikte George Clooney, hare vaalsilwer en sy oë so kleurloos soos altyd. Sy wat nooit heeltemal haar bewondering vir die jong Rihanna kon afskud nie …” Maurice lag kliphard. “Hoe ook al, dearie, kom ons praat besigheid.”
“O donner …”
“Moenie bang wees nie. Ek wil jou nie vra om by my te kom werk nie.”
“Nie?”
Maurice het vir haar geglimlag, ’n stilte gebou rondom dié verposing.
“Nee. Jy moet vir Jaap en Krystle gaan werk.”
“Maurie! Wat verstaan jy nie? Jy weet hoe ek oor godsdiens voel. En fokkit, rugby! Buitendien, die Schvantze is vir my ’n bietjie té té.”
“Wag nou, luister hier. Jy hoef nie ’n groot gelowige te wees om Corpus Christi te bestuur nie. En hoeveel rugbyspelers dink jy was deur die jare die grootkoppe by Sarvu?”
“Foei, ja. Maar hoekom iemand kry wat niks van rugby weet, en niks omgee vir geloof en kerke nie, om vir hulle te werk? En wat te doen? Ek’s vrot van die sinisme. Ek’s ’n journo.”
“Dis hulle idee. Want hulle dink anders. Dit gaan nie net oor die formele opdrag nie. Hulle wil op ’n omweg-manier vir die nageslag laat verstaan hoe dinge rondom Corpus Christi gebeur het – sonder dat jy oor Corpus Christi spesifiek iets moet doen.”
“Iets wat hulle self uitgedink het?”
“Yup. Hulle wil hê jy moet ’n biografie skryf oor die Springbokke se kaptein. Katstert Nel.”
Sy het gesnork. Wat ’n belaglike naam.
“Is hulle bedonnerd?”
“Dis eintlik ’n baie goeie idee, as jy my vra. Sy pa was Flip Nel. ’n Legend. ’n Actual legend, dearie. ’n Rugbyspeler wat die lig gesien het.”
“Ek sal jou woord daarvoor moet aanvaar.”
“Jy moet jou manuskrip klaarmaak voor die eindwedstryd, en dan het jy vier weke daarna om kopie by te voeg as die Bokke dalk gewen het.”
“Hoe waarskynlik is dit?”
Hy het skouers opgehaal. “Jy weet, by Corpus Christi praat die mense baie oor die Voorsienigheid. Waarskynlikheid is nie eintlik ’n oorweging wanneer mens glo dat die Voorsienigheid aan jou kant is nie.”
Fleur het hom só sit en kyk. Haar vriend met die meerdoelige glimlag. Wat hy aanwend asof ook hy insae in die toekoms het.
Hulle het nog ’n bietjie gesels. Oor geld. Oor integriteit. Oor die noodsaak om oor mense eerder as die fyner kunsies van rugby te skryf. Terwyl Maurice praat, het haar gedagtes baie draaie gemaak – sou die verhaal van Katstert Nel haar balans herstel?
Plas het bygekom, ’n bietjie ge-hanna-hanna, en sy is huis toe met ’n gevoel van groot onrus.
Ná ’n week se gewroeg, en baie pogings tot intervensie deur Maurice, het sy ingestem. Is vryskut, moet ook eet.
Sy het met die egpaar Schvantz gaan gesels. Hul hande geskud en haar joernalistieke reinheid verloor. Sy is nie ’n biograaf van geaardheid nie. Hul aanbod? ’n Kwartmiljoen rand by finale aanvaarding van die manuskrip, ’n blertspersent tantième wat inskop sodra die boek 25 000 eksemplare verkoop het. Wat gou sou wees, is sy verseker, want die lede van Corpus Christi sal dit dwarsoor die land koop. En die groot rugbypubliek.
Die skrywery self was die maklikste deel. Onderhoude wat ses maande in beslag geneem het en nie regtig altyd lekker nie. ’n Blitskursus in rugbykultuur.
Fleur het deurgedruk. Onder uiters moeilike omstandighede, soos sy dit gestel het aan almal wat wou luister. Meer wou sy nie sê nie. Die omstandighede wat haar so geknel het, had niks met die biografie te make nie. Eerder die wrewels van haar verlede.
Fleur wil liewers nie nou daaraan dink nie. Nie hier in Corpus Christi se groot toegewing aan internasionale toerisme nie. Ongelukkig is dit haar gedagtes se mees gereelde dwaalplek. Fleur weet sy behoort op haar ouderdom al meer volwasse te dink oor die negatiewe rol van haar ma in haar grootwordjare, maar noudat haar ma amper libertyns geword het, is dit asof al die ou geskiedenis weer chaos saai in Fleur se gemoed.
Sy het die eerste konsep van die Katstert Nel-manuskrip twee weke gelede ingelewer. Net ná die wêreldbekertoernooi begin het. Suid-Afrika se eerste sedert Madiba se dae. Fleur de Villiers, rugbyskrywer. Nou ja, al dra ’n aap ’n goue ring. Sy was net half tevrede met die manuskrip. Volgens Plas Johnson, eienaar van Popol Vuh, is dit ’n goeie teken. Sy glo hom. Plas weet alles.
Half tevrede, heeltemal gatvol.
’n Gevoel het haar gepla, nog voordat sy haar laaste ronde onderhoude afgehandel het. Iets word vir haar weggesteek. ’n Ontbrekende brok inligting. Die kropgevoel het oorgegaan in ’n baie sterk spesmaas. Sy het gesoek vir leidrade. Die ongemak het gegroei; sy het haar in die domein van Corpus Christi en die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie bevind, dáár waar God se Groot Waarheid die pas aangee.
Sy het vrede daarmee. Dis net dat, wel, die kleiner waarheid is soek. Voel sy.
Sy het die groter prentjie gekry, dít weet sy; sy sit net opgeskeep met die vermoede dat die detail haar ontwyk. Sy weet alles, maar sy weet té min. Sy is bereid om al die onderhoude wat sy met die Springbokke gevoer het, van voor af oor te doen, te gaan grawe tussen al die sielige stront. Maar sy is seker, sy wéét, dat sodra sy alles weer afgehandel het, die kanse uitstekend is dat iemand sal omdraai en vra: “Maar hoekom noem jy nie … Het jy nie geweet … Het jy vergeet van …?”
Met die eerste konsep van die manuskrip in die hand kon sy uiteindelik haar gevoelens deel met Maurice. Eers het sy die harnas afgepluk – sy moes dit koop om haar skouers en nek reg te trek deur al die ure wat sy getik het aan die opgaaf van Katstert Nel se lewe. Toe het sy op haar motorfiets geklim en Maurice aangetree vir ’n bietjie derms uitryg. Haar man in die binnekring, die een wat dikwels ingegryp het om onderhoude vir haar te reël, wat saamgelees het soos sy gevorder het. Haar steunpilaar en vertroueling. Wat hom oor haar ontferm het al het hy nie vreeslik baie sin in die wese en syn van die vroulike geslag nie.
Die versoeking was dikwels groot om haar oor Maurice Kumalo te verwonder. In hul SABC-dae het sy aanvanklik gedink hy gebruik hul vriendskap as hefboom om uiteindelik in haar bed te klim. In daardie dae was dit, ondanks die nuwe paradigma wat 1994 aan Suid-Afrika opgedra het, steeds redelik ongewoon om in ’n Afrikaanssprekende omgewing wit-swart vriendskappe te sien. Om van verhoudings nie te praat nie.
Mettertyd het sy besef: Maurice is ’n man van vele kulture en met ’n hebbelikheid vir slegs die manlike kontoere.
Terwyl sy haar vertwyfeling oor die manuskrip, en die ontwykende dieper insig, die groot gemis, uitblaker, het hy haar aangestaar. Hy het haar nie dadelik geantwoord nie. Haar reguit in die oë gekyk, en toe sag, amper liefderik, gepraat.
“Jy’s net moeg, girl. Oorwerk. Dis ’n verwoestende spertyd.”
“Ek kan dit nie afskud nie, Maurie.”
Hy het na sy hande gekyk, en weer haar oë gevind. Sy’t gesoek vir humor, vir meegevoel, vir begrip.
Niks.
“Ek weet van niks wat jou weerhou is nie.” Maurice het stadig begin glimlag. Sy het dié glimlag die afgelope ses maande só dikwels gesien, ’n glimlag waarmee hy enige en alle teenstand uit die spel kan haal. Vertroosting wat dadelik inskop by die ontvangers. “Ruk nou jou bolla mooi reg en pruil die lippies. Jy sal beter voel sodra jy terugvoer oor die konsepmanuskrip gekry het.”
Wat kon sy doen? Sy het dit daar gelaat.
So, fokkit, hè? Hier is sy nou.
Nóú gaan sy begin beter voel.
Sy sien Maurice raak, op die houtdek langs die ontvangsportaal, by ’n man met geboë skouers, sy rug effens op ’n boggel getrek waar hy by ’n tafel sit en tee drink. Sy kop dobber effens, soos die laaste partyfrikkadel op die buffettafel. Maar hy het die profiel van ’n vegter, snawelneus en die gevierde kuif silwergrys.
Jaap Schvantz.
Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie, uit hoofde van sy posisie by Corpus Christi. Die onaantasbare leier in die ry van smettelose verhewenes, van Paul Roos af verby Mark Alexander.
Die briesie roer die flappe van die sambreel bo Schvantz se kop. Dalk is dit slegte karma wat uit hom styg – het Maurice hom vertel van haar voorbehoude?
Kumalo merk haar eerste op, fluister laaste woorde in Schvantz se oor voordat hy opstaan. Die rugbyhoof se gesig verhelder onmiddellik terwyl sy oë na haar soek.
“Fleur!” Schvantz kom orent. Maurice ondersteun hom met een hand onder die elmboog.
Oorkant die tafel sit Schvantz se vrou, Krystle. ’n Wit uitrusting, amper somers, die onmiskenbare stempel van Errol Arendz in die vloeiende kontoere. Tablet op die skoot, verdiep in ander sake. Daar is baie ander mense wat op die houtdek rondbeweeg, maar nooit naby aan hierdie tafel kom nie. Maurice het haar daarop voorberei. Personeel van Corpus Christi, of Sarvu, te oordeel na hul keurige eenvormigheid. Dagpakke en broekpakke, gholfuitrustings minus die skoene, uniforms van die moderne proseliet. Fleur weet hulle is nie hotelgaste nie – of ten minste die helfte van hulle is nie. Dié met die versteekte wapens.
Een ding is darem seker. Niemand kan haar met hulle verwar nie. Nie met haar rooi chino’s, stapskoene en fluweelbaadjie nie.
Fleur het hierdie vergadering aangevra. Sy besef gou dat sy haar misgis het met die waarskynlike bywoners. Natuurlik sou Krystle saamkom – Corpus Christi is immers die borg van die boek. Sy het hoof- uitvoerende beampte geword, met Jaap die voorsitter van albei direksies.
Nou ja! Wat goed is vir Jaap se ore, kan Krystle s’n sekerlik nie skade doen nie.
Krystle Schvantz wys met haar vry hand na die derde stoel aan die tafel. Kumalo gaan moet staan.
Voor sy sit, haal Fleur diep asem. Eendjies, eendjies, almal in ’n ry. Sy dink terug aan haar eerste ontmoeting met Jaap en Krystle, ná sy vir Maurice die groen lig gegee het. Hulle het ewe formeel ’n afspraak met haar gemaak, haar versoek om hulle te vereer met ’n besoek. Eggie Visagie, Katstert se agent, was ’n aangenaaide lappie. Iemand wat sy handtekening op die kontrak geplaas het, maar andersins net ’n asemdief in die vertrek. Streng gesproke die knoper. Die nuttige tussenganger wat een aand oor ’n paar glasies whisky met Maurice Kumalo ’n lysie opgetrek het van moontlike kandidate vir die skryf van die biografie. Terwyl Maurice reeds geweet het wie sy keuse sou wees. Sy het ingestem vir die ergste spertyd wat sy nog ooit moes haal; gelukkig was dit binne die bereik van al haar joernalistieke vaardighede. Maar niks vorder so traag soos iets waaraan mens nie wil skryf nie. Elke woord wat sy neerpen, is ’n monument aan gatvolheid. Fleur hou nie meer of minder van die rugbyspelers as van ander mense oor wie sy al berigte moes skryf nie. Dis net die hele kultuur wat die sportsoort omgeef wat haar afstoot.
Maar die geld is goed. Halleluja.
Fleur blaas stadig asem uit en gaan sit.
Goed en wel.
Hier sit sy, die groot kenner van die lewe en denke van Katstert Nel, Bokkaptein, met haar opdraggewers die ene gemoedelikheid oorkant haar aan tafel. Trots op die voorreg wat hulle op haar lewenspad geskuif het. Hoeveel mense in hierdie land het dit al ooit reggekry om binne ’n meter van sowel die hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie as die HUB van Corpus Christi te kom – op dieselfde oomblik? Ongekend in ’n land waar celebrities en politici omring word deur ’n weermag van veiligheidspersoneel.
Voor Jaap Schvantz lê haar manuskrip, netjies gebind. Hy steek sy hand na die manuskrip uit, net die een punt van die lywige spiraalgebonde stapel papier wat deur sy bewende vingers van die glasoppervlak gelig word. Sy oë bly op Fleur gerig, en dan laat sak hy die manuskrip weer, sy bewende hand wat terugtrek.
“Ons hou daarvan.”
Krystle knik. Dis amptelik.
“Jy sal sekerlik nou baie afronding wil doen, jy sal seker saamstem dat dit nog effens rof is,” sê Krystle. “Maar tot op hierdie punt dink ons het jy só baie vasgevang van wat Katstert Nel so ’n spesiale mens maak.”
“Dankie …”
“Ons voel wel dat jy in een opsig ’n klemverskuiwing moet maak.” Schvantz maak oogkontak, wat hy verloor terwyl sy vrou die rede voortsit. “En dit is dat jy minder klem moet laat val op die finansiële sy van sake, en meer op die positiewe aspekte van …”
“Patronaatskap het ’n prys, nè?” Schvantz eis haar aandag terug. “Die strewes van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie en Corpus Christi moet meermale die fokuspunt word. Nie ons finansiële welsyn nie.”
“Product placement,” begin Krystle, “dis wat die reklamemense dit noem. Kru dog effektief.”
“Dis moontlik.” Fleur kry ’n sweem van Krystle se koffie. Goeie moer.
“Ons is bly jy begryp.” Krystle gebruik een van die hotel se linneservette om koffieskuim uit haar mondhoek te verwyder. Sy versteur nie haar lipstif nie. “Noem ons goeie dade. Ons salarisse en aandeelopsies is minder belangrik, nie waar nie? Vertel liewer van die fondsinsamelings. Van die manier waarop ons kos in die bevolking se mae kry, dakke oor hul koppe. Dit alles, Fleur, begin by die almagtige Vader.”
“En Jesus,” sê Jaap Schvantz. “Maurice sal ’n lysie aan jou gee van dinge waaraan jy ’n bietjie ekstra aandag kan skenk.”
Jaap Schvantz kyk nou weer na Fleur, sy oë wat nie heeltemal saam met sy mondhoeke glimlag nie.
“Dinge waaroor ek en my man sterk voel,” sê Krystle.
“Sekerlik.” Fleur is nie heeltemal seker of daar ’n gees van openhartigheid om die tafel heers nie, maar steek tog haar hand in haar handtassie en haal ’n vel papier met haar aantekeninge uit. Hou die sweeties vir laaste, het haar ma altyd gesê. Haar kwellings. “Ek het ook ’n paar vragies.”
Sy het hul aandag, hoewel albei stilbly. ’n Lydsaamheid miskien, wonder Fleur. Swye, die magtigste wapen in die hande van die patronaat.
“Wat is dit wat julle so hard probeer wegsteek?”
Krystle ruk regop. Sy trek haar skouers met ’n kwalik hoorbare steungeluid reguit.
“Wat bedoel u?”
Fleur kyk vlugtig na binne, daar in die hotelportaal waar ’n fuga hoog uit die dak note na onder laat dwarrel, en enkele mense sit en dut terwyl hulle daarna luister. Des hemels.
“Hoe meer ek aan die manuskrip gewerk het, onderhoude met mense gevoer het, selfs wedstrydoefeninge bygewoon het, hoe meer het dit vir my begin voel dat ek netjies gestuur word om sekere dinge nie raak te sien nie. Wat is aan die gang? Is daar spanning in die span? Hoekom is die afrigter altyd so eenkant? Ek meen, hy is soms nie eens by die oefeninge nie.”
Schvantz proes. “Het jy hom gevra?”
“Ja. Hy sê dis hoe hy dinge doen. Om sy gesag te behou. Die reguitpratery doen hy in die binnekamers, dáár waar ek nie toegelaat is nie.”
“Dit is hoe strategiese besluite beskerm word,” antwoord Krystle, ’n bietjie meer ontspanne. “En hy het ’n hele spul assistentafrigters wat soms in sy plek waarneem.”
O ja? dink Fleur. Daar’s net soveel afstand tussen hulle en die span.
“Ek dink ek moet ’n behoorlike onderhoud met die afrigter gegun word.”
“Hoekom nie?” Schvantz se ooglede sluit lui en gaan dan weer oop, asof die vars lug en die sonnetjie hom baie vaak gemaak het. Meer as tagtig somers en die ooglede begin tekens van traagheid wys. Sluit langer, open traer.
Fleur kyk na Krystle, nou weer die minsaamheid vanself.
“Is dit nie heerlik om deel te wees van ’n geskiedkundige paar weke soos hierdie nie?” Jaap Schvantz is vrolik.
’n Briesie beweeg oor die terras, veeg Fleur se hare in haar oë. Sy trek dit met ’n stadige sekerheid terug, kyk vlugtig na ’n groepie Japanse rugbytoeriste by ’n tafel verder aan, en Maurice Kumalo wat tussenin staan en teks op sy selfoon.
“Almal wat net rugby lees, slaap en leef.” Krystle sit haar hand op Jaap se arm. “En Sondae hul offers bring en dankbaarheid getuig?”
“Dink u nie ons land het ’n wesentlike transformasie ondergaan nie?” vra Jaap Schvantz. “Geestelik gesproke …”
“Wel ja, definitief.” Fleur veeg weer haar hare vererg uit haar oë. Sy praat nou al nes Katstert Nel.
“’n Radikale transformasie van die gees,” sê Schvantz.
Die tablet voor Krystle maak ’n geluid, soos iemand wat haar aandag met ’n gefluit wil trek. Sy trek dit nader, haar silwerarmbande wat klingel en haar vingers wat doelgerig oor die skerm beweeg.
Krystle kyk op. “Ons moet gaan.”
Sy en Jaap deel ’n blik en ’n glimlag. Nóg ’n spesiale oomblik. Nóg ’n herinnering.
“As jy verdere vrae het, stuur maar via Maurice aan,” sê Jaap Schvantz.
Hulle staan op. Laat Fleur met geen keuse as om hul voorbeeld te volg nie.
“Saterdag gaan ’n historiese dag wees.” Schvantz reik Fleur die hand. “Ons het alles voor ons weggevee. Saterdag kom die wêreldbeker terug Suid-Afrika toe.”
“Eers oor twee weke, Pappie.” Krystle glimlag fraai. “Saterdag eers Engeland afslag.”
Schvantz skud ook haar hand. “God sy gedank,” sê hy. “Onthou die konsentrasiekampe.”
In die wegstap draai hy nog vir oulaas om en met ’n knipoog lig hy sy regterhand en swaai soos ’n Romeinse keiser die duim na onder: “All Blacks,” vorm sy mond die naam van die vyand. Dan skuifel hy en Krystle agter Maurice Kumalo aan en verdwyn in die hotel se voorportaal.
Fleur staar hulle agterna. Oorbluf.
Tussen die lyfwagte deur sien sy die trae gang van Jaap Schvantz en die modieuse Krystle langs hom, haar arm op sy elmboog, en onthou hoe Maurice hulle in die begin aan haar verkoop het. Bouers van ’n magtige sakeryk.
Die bliksems het haar nie eens koffie aangebied nie.