Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 16

10.

Оглавление

Felix Jordaan is een van die nuwe geslag joernaliste. Kan skryf, kan video’s opneem en van kommentaar voorsien. Pos daagliks berigte op die internet-nuusnetwerke. Totaal onbetroubaar. Vertel Geordie haar nie hoeveel keer die man spertye mis omdat aaptwak sy persepsie van tyd rek nie? Fluister Geordie nie vir haar hoe ’n mens die man se feite tot satwordens moet kontroleer nie? Maar hy is, soos Geordie homself ook gou sal korrigeer, ’n werfetter op stories wat mense ten alle koste geheim wil hou. Hy het net ’n rafeltjie nodig om ’n mat van geheimhouding los te torring.

<Kon Felix jou help?> teks Fleur voordat sy op die Triumph klim om voor die bottelnek van dankseggers uit te kom. Sy kies die veilige pad, Joe Slovo-rylaan na Elfdelaan, Houghton, links deur tot sy onder die kaal takke van die jakarandas verdwyn, terug na Popol Vuh. Die strate is stil, hier en daar Sioniste in hul donkerblou of wit gewade, onderweg soos die Gees hul vat. Sy gooi haar draai om die boggel van die Dieretuinmeer, kyk verlangend na die mense wat in die middagson sit en bak, die kaal wilgers.

Wanneer sy die Triumph voor Popol Vuh staanmaak, wag Geordie se antwoord op haar.

<Slapogie se toon! Felix kry pic>

Sy vra dadelik: <Weet hy hoe die ongeluk gebeur het?>

<Spanbest sê nie>

Sê hulle ooit? Daar was ’n tyd, weet Fleur, toe joernaliste nog voetwerk gedoen het, dat koerantmanne met die spelers self kon praat. Stories kon uitsnuffel. Daar was nie baie skandale nie. Harde stories het die koerante bereik, en skinnertwak nie. Die dae van Louis de Villiers, Stephen Nell en Ian Smith. Name wat bly voortleef waar oudjoernaliste om vure of kaarttafels of in inrigtings vir sorgbehoewendes ’n dop steek. Koerantmanne wat strategies gedink het oor waar die volgende scoop vandaan kom. Mens maak nie vyande van jou bronne nie. Maar vandag is dit anders. Fleur se situasie is weliswaar uniek, maar Felix en die ander joernaliste is afhanklik van persverklarings deur die spanbestuur, en perskonferensies waar daar beperkte toegang tot spelers is. Onderhoude met die spelers self geskied slegs wanneer dit inpas by die span se strategie vir die volgende wedstryd – hoe om met die opponente se koppe te smokkel.

Ironies genoeg is Maurice die een wat dit alles orkestreer. Fleur weet dat as sy eerlik moet wees, sy sal moet erken dat sy met die vyand heul. Maar sy is mos nie meer werklik ’n joernalis in haar verhouding met Maurice en Corpus Christi nie, is sy? Dit is vir haar moeilik om die sprong te maak. Sy geniet die vryheid wat joernalistiek haar bied om baie nuuskierig te wees, te gier op die golf van skinderstories tot waar dit breek op die strand van harde nuus.

Daar’s geen kans dat Felix Jordaan sal uitvind hoe Slapogie sy toon gebreek het nie. Dít weet Fleur. Die vent sal nie ’n scoop raaksien nie, al sit mens ’n Flake daarin. Om ’n scoop te kan herken moet mens ’n wye algemene kennis hê, wyer as wat jy kan google, en ’n kropgevoel wat niks uit te waai het met die rafeltjies van skinderstories nie.

Sy kners op haar tande, smyt haar handskoene in haar valhelm. Geordie het haar omgepraat om die storie waaraan sy gewerk het voordat sy die kontrak met Corpus Christi en Sarvu moes teken, net so vir Felix aan te gee.

Hy het dit terstond opgedonder.

Hoe maklik is dit?

Storie: Die N2 is die nuwe groot ingangsroete vir dwelms. Die goed word in Mosselbaai in sakke in die see gegooi, en opgepik deur plaaslike mense met kragtige bote. Van daar word dit met vragmotors op verskillende roetes na die res van die land vervoer. Fleur het name gehad van die mense in die Wes-Kaap en Gauteng wat betrokke is. Sakemanne en politici en entrepreneurs met wye belange dwarsoor die land. Klerewinkels en restaurante waar die geld gewas word. Die dwelms self is selde meer as ’n dag op die dorp. En die meesterbrein? Dié sit in Johannesburg, het Fleur se kontak in die Valke vir haar gesê. Sy sou nie glo wie dit is nie. Sy het nooit kans gekry om uit te vind nie. Katstert Nel het op haar horison verskyn. Sy moes ’n kontrak teken, en het gesien hoe die klousules oor vertroulikheid en diensvoorwaardes haar dwelmstorie laat wegglip, aangegee na Felix Jordaan.

Wat die storie se nek omgedraai het. Wie sal nou wil glo dat ’n land waar dit soms lyk asof ’n burgeroorlog aan die gang is, ook ’n baie gesofistikeerde smokkelnetwerk het? Dat ’n groot deel van die burgery saam met politici en geregsdienaars aan die krip van die sekondêre ekonomie vreet?

Nes Felix nóú te lig in die broek is om te gaan rondsnuffel, met hotelskoonmakers te gaan praat, in Hotel Bonheur te gaan sit en hoop iemand in spanbestuur praat sy bek verby. Gewapen met ’n sak vol geld, dié lube vir die giftonge.

Hy sal altyd ’n rede vind om iets nie te doen nie.

Fleur staan in Popol Vuh se deur. Haar blik val op die logo’s van kredietkaarte teen die deur se glas. Sy kyk af grond toe, haar gedagtes dwaal ver. Fitzcarraldo – die klankbaanmusiek van ’n fliek wat nie gewerk het nie.

Dan eers beweeg sy oor die drempel.

Die musiek is die teken van Plas Johnson se bui op die oomblik.

Sy onthou – hoe kan sy dit vergeet? – hoe Plas haar moed probeer inpraat het daardie aand, toe sy besef het sy sou haar rug op haar lewe moes keer vir die tyd wat dit sou neem om haar kontraktuele verpligting met Sarvu en Corpus Christi na te kom. Dat sy oplaas alle nuusstories sou moes los, al wou sy hoe graag aan daardie kant aktief bly.

Dat sy haar lewe tydelik aan rugby sou moes opoffer. Buiten die N2-smokkelroete, was daar ook nog ’n moontlike scoop oor die stadsraad se swendelary met eiendom in Higgovale, Kaapstad.

Sy het hier gesit, terneergedruk by die kroegie van Popol Vuh. Sy sou nie meer haar naam lewend kon hou vir lesers en nuusredakteurs nie. Sy sou haarself afsny van almal wat stories aangedra het. In die oorlewingstryd wat gekom het saam met die oorgang van papier na digitaal het sy nou self besluit om vir eers die pas te markeer.

“Ek kan nie glo dat ek dit vir geld doen nie,” het sy gesê.

“Jy mis ’n paar stories. Wat kan so erg wees daaraan?”

“Jy begryp nie. Die vernietiging van ’n dwelmhandelskanaal is vir my belangriker as Katstert Nel.”

“Daar is baie mense wat nie met jou sal saamstem nie.”

“Dis totaal frustrerend.”

“Niks is ooit nie. Wole Soyinka vertel dat hy in die tronk oomblikke van groot skoonheid en vertroosting gevind het.”

“Skoonheid? Vertroosting?”

“In sy sel, eenkant. Hy kon die gevangenes in ’n aangrensende deel van die tronk hoor. Op die dag van teregstelling – daar is altyd sulke dae in tronke, jy weet – kon hy hoor hoe hulle begin sing, die uiterstes van liedjies. Volksliedjies. Tradisionele liedjies. Christelike liedjies. En hy het daar gesit en luister na die perfeksie van harmonie. Oomblikke van grootse oplugting. Van sielsverheerlikende troos. Soyinka praat van die intensiteit waarmee hy daardie oomblikke beleef het. Hoe hy in die ellende van ’n smetput van ’n tronk die grootste belewing van skoonheid en vertroosting gehad het.”

“Het hy gesing?”

“Nee. Hy het geluister. Dis al wat nodig is. Sy toevlug was nie die eensaamheid in die tronk nie. Hy het eensaamheid op ’n ander manier verheerlik. Buite die tronk het hy die dae gekoester wanneer hy alleen in die bosse kon verdwyn. Om alleen te wees. In die natuur.”

Miskien het Plas haar daardie aand getroos. Maar vir die maande wat sy besig was met Katstert Nel se boek, het sy bly wonder of dit hierna ook haar toevlug sou bly. Haar gesprekke met Plas, die verloopte filosoof?

Sodra sy die biografie gefinaliseer het, en niks verder met die proses van publikasie te make het nie, wat wag dan op haar? Sy kan nie dink dat sy ooit weer met enige van die lede van die Springbokspan sal kontak hê nie. Hoekom sou sy? Net ’n paar van die manne het haar geïnteresseer met hul opmerkings tydens hul onderhoude.

Veral Gert “Big Time” de Clerque. Of BT, soos sy spanmaats hom noem. BT wat op ’n plaas naby Hoedspruit grootgeword het. BT wat alles sien binne die kader van jag. Hy en sy spanmaats is jagters – en soms die prooi.

“Prooi is uniek,” het hy verduidelik oor ’n koppie koffie in Randburg se Waterfront. “Daar is net een persoon wat op enige gegewe oomblik die prooi is. Die man met die bal. Die res is jagters, of hindernisse.”

“So eenvoudig?”

“Jag is nooit eenvoudig nie.”

“Jag jy – van die veld af?”

“Nee.”

“Nooit?”

“Net wanneer daar probleme is met alleenloperleeus.”

“Maar hoekom dink jy dan so baie aan jag?”

“Omdat dit gepas is. Vir my. Dis hoekom hulle my Big Time noem.”

Dit is eintlik eenvoudig om te verstaan, het sy agterna gedink. As jy jouself só kan instel. Dan is die jaag van die persoon wat die bal het, soveel heerliker. In plaas van hom dood te maak, plettervat jy hom. Soos BT maak. Hy is mal oor fisieke kontak. Hou van die groot oomblikke. Demp die vlam van geesdrif by enige opponent as hy hom inhardloop en grond toe boor. As BT jou gevang het, het Lektriek al vir haar gesê, bly jy gevang. Jy is syne. As jy weet hy gaan jou weer kom haal, raak jy liewer van die bal ontslae. Die pyn is té groot met die tweede en derde plettervat. BT geniet dit om die groot tackles nommers te gee. Losskakels hou nie lank genoeg om by nommer vyf te kom nie.

“Wat dink jou vrou daarvan?” het sy gevra, daardie dag.

“Ons praat nie oor rugby nie. Ons praat oor die kinders, oor die plaas, die diere se aanwas. Oor reën en weiding en so aan.”

“O.”

“Jy moet verstaan, rugby is nie alles nie. Ek hoef nie te speel as ek nie wil nie. Ek het ’n MBA en maak genoeg geld uit my portefeulje. My vrou is ’n frankofiel, so ek het ook leer Frans praat. Ons lees baie Franse boeke, kyk Franse flieks. Praat op Sondae net Frans met mekaar. Wie wil oor rugby praat met sy vrou as jy oor groter dinge kan gesels?”

“Op Hoedspruit?”

“Op Hoedspruit.”

Sy het hom só gekyk. Die lang man, nog ’n kolos oorkant ’n tafel. Die littekens aan sy gesig – die medaljes wat ’n goeie agsteman noodwendig dra. Sy het gesien dat hy ligblou oë het, lig soos die Laeveld se hemel op ’n warm somersdag.

Hy het vir haar verduidelik hoe Katstert se leierskap verskil van ander rugbykapteins s’n. Hy het haar uiteindelik laat verstaan wat die rol was van Flip Nel, Katstert se beroemde pa.

Sy het Maurice vertel van haar stimulerende onderhoud.

“BT?” Hy het gelag. “Almal is ’n bietjie bang vir hom. As hy aan die gesels raak, kom hulle agter hoe dom hulle is.”

“Ons moet hom aan Plas voorstel. Hy het soveel kennis.”

“Dit gaan nie net oor kennis nie. Dit gaan oor die waardes wat kennis bring. Sê Plas.” Maurice het haar een van sy kyke gegee. “Tog jammer hy is getroud.”

Hond se gedagte

Подняться наверх