Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 10

4.

Оглавление

Die dag is warm genoeg vir die Triumph. Fleur gebruik die deels gerestoureerde Bonneville om vinnig deur die Sabbatsverkeer te beweeg. Die Triumph is nie heeltemal so rats soos ’n moderne motorfiets nie. Fleur se arms ook nie heeltemal so sterk as wat sy wil hê nie. Maar dit neem haar maklik tien minute minder as ’n motor om van Hotel Bonheur tot by Popol Vuh in Parkhurst te ry. En dan het die motors nog die voordeel van die nuwe navigasietegnologie.

Nie eintlik Fleur se gebruik om op Sondag só vroeg daar uit te slaan nie, maar dis spesiale omstandighede. Die plek is nog leeg voor die noen. Fleur gooi haar helm en dinge neer op ’n stoel by haar tafel in die agterste hoek, keer terug na die toonbank, waar Plas Johnson reeds haar koppie flat white neergesit het.

Dít is vir Fleur die hemel. Popol Vuh met sy hoë staalplafon en baksteenmure. Die lang vertrek met die lig wat by die oop stoep instroom en nie die vertroostende skemering van die vertrek kan binnedring nie. Dis hier waar sy kan sit en die dinge wat haar balans versteur, een vir een wegskil uit haar gedagtes. Haar ma. Die biografie. Ook: Hoe lanklaas sy ’n verhouding aan die gang kon kry. Daar was belangstelling – maar nie van haar kant af nie.

Fleur buk vorentoe om die geur van die koffie te geniet. Haar blik gepen op die groot afdruk van ’n handgetekende plakkaat vir die film Aguirre – der Zorn Gottes, sigbaar oor haar skouer in die spieël voor haar.

Plas Johnson staan voor haar. Lig sy wenkbroue, die vraag onuitgesproke.

“Hulle hou daarvan.”

Hy glimlag. “Maar?”

“Ek moet nog werk daaraan.”

Plas is besig om die voorraad van koue bier onder die toonbank na te gaan. “Soos jy verwag het,” kom sy stem van agter die toonbank.

“Soos ek verwag het.”

Sy neem fyn slukkies van die koffie.

Plas kom orent. “En …?”

“Niks. Geen geheime nie. Hulle steek niks weg nie. Die afrigter is maar so eenkant. Dis hoe hy dinge doen.”

“Dis twee weke voor die eindstryd. As daar geheime is, sal hulle nou al só gewoond wees om dit te beskerm.”

“Dis hoekom ek nóú moet toeslaan.”

Plas het agter die toonbank uitbeweeg. Maak laaste verstellings aan tafels, skuif eetgerei reg, sorg dat servette onberispelik gevou is.

“Julle joernaliste,” mompel hy.

“Ek kan dit voel, man. Hier.” Fleur tik op haar maag met haar linkerhand. “Daar is ’n moerse skroef los by die Springbokke.”

“Sê jy, as ou rugbyliefhebber.”

“Plas!” Sy sug, kreun effens. “Glo my. Ek weet. Ek kan mense se houdings lees.”

“Oukei, oukei.”

Fleur weet nie hoe sy die projek tot hier sou gebring het as dit nie vir Plas Johnson was nie. Die gedrog van ’n opdrag wat in haar skoot beland het. En natuurlik, vóór dit gebeur het. Die Götterdämmerung van die koerante. Plas wat haar vertroos het. Raad gegee het. Op haar voete gehou het.

Nie dat hy ’n sieletrooster is nie. Plas is niemand se vloerlap nie.

Hy is ’n filosoof. ’n Denker.

Sy bloos, hier waar sy nou in die verlate Popol Vuh sit, as sy haar eie reaksie onthou, die eerste keer toe hy haar vertel hy is ’n filosoof.

“Wat!” Sy het gekraai, gegil van die lag. “Is jy ernstig?”

“Wat het jy teen filosowe?”

Sy het hom eers net aangekyk, wagtend op ’n glimlag, ’n laggie, ’n oogknip, iets – wat sou wys hy’s net besig met ’n grappie. Niks. Nada. “Wel, sê vandag so iets, en almal weet. Hier’s ’n pretensieuse ghwar. Die ergste. Die laaste stuiptrekkings van politieke, morele, etiese en kognitiewe loopmaag.”

Sy’t hom nou begluur. Suig daai ene, filosoof.

“Ongetwyfeld deel van my wit bevoorregte bestaan?”

“Nadenkers. Erg nuttig.”

Uiteindelik het ’n glimlag verskyn. “Dis hoekom ek hier is.”

Plas die Swyger, Plas die Stil Een, Plas die Begryper. Wat vir haar verduidelik het, deur ’n lang nag van koffie en kirsch, hoekom koerante besig is om te verander. Hoekom sy nie meer ’n vaste aanstelling kan hê nie. Hoekom sy vryskut moet wees of haar rug op die joernalistiek keer.

En Plas wat vir haar uiteengesit het hoe die tentakels van dwelmsindikate deur die land reik, veral die jongste, die N2 Highway, met Mosselbaai die spilpunt. Sy was besig met haar eerste groot storie nadat die groot omwenteling by die koerante gekom het. Onseker, versigtig. Haar kontak met die Valke op gesonde voet gekry. Lyste en lyste gemaak van ondernemings in Mosselbaai en Wes-Kaapland, gemeenskaplike eienaars gesoek, en hulle dwarsoor die land gevind, met Sandton die gemene deler. Voelers uitgesteek na SARS. Tot sy een oggend in haar kothuis op Houghton se boonste lip wakker word met ’n dooie rot wat oor die handvatsel van haar deur gedrapeer is. Sy het nie meer ’n nuusredakteur as veiligheidsnet gehad nie. Nie meer die prokureurs van die mediagroep wat haar kon beskerm nie.

Dit het haar ’n ruk geneem om die wysheid van Plas se vermanings te snap. Twee stelle motorbande later, netjies aan flarde geruk deur nagtelike lemme.

“Hulle is eintlik baie vriendelik.”

Plas het ’n manier van filosofeer, afdrooglap in die een hand, wynglase in die ander. Ja, waaragtig, mens sal hom nie só kyk, die skraal figuur met die haredos van ’n gerubyn, en dink dat daai kop sulke draaie kan maak nie. Maar dit doen.

Hy verdwyn in die kombuis. Sy delf in haar drasakkie. Vind haar foon met ’n sug. Laat die e-posse en boodskappe verbyrol, een ná die ander sonder dat enige daarvan haar laat stop om behoorlik te lees. In haar oor lewer die bluetooth-gehoorstuk die een ná die ander stemboodskap af. Fleur laat hulle maar rol, niks verg dadelik antwoorde nie.

Wanneer Plas ’n paar snye Portugese brood en ansjovis in ’n plat bakkie voor haar kom neersit, sit en staar sy reeds in die verte. Sy reageer onwillekeurig. Twee snye met repies vis en druppels olyfolie gebêre voordat sy mooi weet sy is honger.

Plas kom ná ’n ruk met ’n klein bakkie spaghetti, ’n lepel pesto bo-op die hopie.

Fleur laat haar dit welgeval.

“Voor jy waai,” Plas staan twee tafels weg, afdrooglap oor die skouer, “as hulle wel iets wegsteek, het jy enige idee waar om te begin soek?”

Haar mond voel droog. Sy reik instinktief na die botteltjie olyfolie.

Plas glimlag net.

Sekere maniertjies van filosowe irriteer Fleur massief. Die “filosoof” in die Springbokspan, Solms van Niekerk, het ook só ’n glimlaggie. Toe sy met hom gaan gesels het oor Katstert, was dit omtrent al wat sy gesien het. Maurice het haar gewaarsku dat dié boorling van Porterville, deesdae burger van Springs, nie eintlik praat nie.

“Is hy nie net onnosel nie?” wou sy weet. Sy was gereed om te glo dat enige rugbyspeler per definisie nie danig skrander kan wees nie.

“Sy bankbestuurder dink nie so nie, maar miskien sal sy vrou met jou saamstem. Luister maar wat hy sê.”

Haar eerste vraag, terwyl hy haar meesmuilend toekyk, was effens onskuldig: “Watse soort naam is Solms?”

“My ma was ’n tikster.”

Sy het hom aangestaar.

Iets anders probeer.

“Hoe voel jy oor Katstert?”

“Hy is ’n given.”

“En Lektriek?”

“Katstert is duideliker.”

Sy het niks uit hom gekry wat sy kon gebruik nie. Maar Plas en Maurice het met haar gaan sit, en Solms se antwoorde vir haar geïnterpreteer. Ontsyfer. Al vier bladsye van kort antwoorde.

Uiteindelik kon sy alles gebruik, in Plas en Maurice se vertolkings.

Die glimlag van die filosoof.

Onnosel?

Honi soit qui mal y pense.

Hond se gedagte

Подняться наверх