Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 17
11.
ОглавлениеKrystle kyk uit op die grasperk van die Schvantz-erf in Saxonwold. Sy probeer om oor die vyftig tree tussen haar stoel en die Angus Taylor-beeld by die koidammetjie die fyner detail van die beeld se gesig te sien. Onmoontlik. Tog kan sy dit in haar herinnering oproep, sodat sy nie hoef op te staan en die hele lang pad oor die gras daarheen te stap nie. Hoe nader sy aan die beeld kom, hoe minder bevredigend sal die komposisie vir haar wees. Die sipresse wat in ’n laning aan die Dieretuin se kant van die erf staan, vorm nóú die pragtigste raam. Naderby verdring hulle die epogmakende beeld van ’n veewagter onderweg.
Sy en Jaap vind hierdie paar uurtjies aan die einde van Sondagmiddae altyd die beste. Dan sit hulle terug in die groot stoele van delikaat gevlegte Bali-rottang, sak weg in die kussings wat ’n vrou van Fordsburg vir haar geborduur het met eksotiese Oosterse motiewe rondom ’n vergulde ankh.
Elk met sy Tanqueray G&T, altyd só nuttig as die gedagtes dwaal. Soos nou. Hulle is albei ontsteld oor Slapogie. ’n Groot verlies vir die span, vir gans Suid-Afrika, maar ook ’n teleurstelling om uit te vind van sy dwelmmisbruik. ’n Potensiële katastrofe as die buitelandse pers sou agterkom wat presies gebeur het. Die plaaslike media kan beheer word.
“Hanteer Kumalo dit?”
Dis die tweede keer dat Jaap dié vraag stel. Krystle se kop ruk soos sy na Jaap swaai, soek vir tekens dat hy besig is om haar te terg. Geen.
“Natuurlik! Maurice mis niks.”
Verbeel sy haar of het die dreuning van vanmiddag se skare by die dankseggingsdiens in haar ore vasgeslaan?
“En die twee … vriendinne?”
Krystle gril. Vandat sy gehoor het presies hóé Slapogie gister se oorwinning gevier het, lei haar verbeelding haar ’n lewe. Miskien omdat sy nooit self deel had aan ’n tritsie nie.
“Albei vanaand op ’n vliegtuig terug na Buenos Aires.”
“Wie is die kinderoppasser?”
Sy kyk doelbewus nie na hom nie. Mens sal dit nie glo as jy na hom kyk nie, maar Jaap Schvantz se oë sien alles raak wanneer hulle oop is.
“Een van Kumalo se mense.”
Hy vroetel met sy sakdoek. Hoes daarin, steek dit dan met ’n bewende hand in sy baadjiesak.
“Rugbybal?”
“Sekuriteit het dit. Ons sal die inhoud laat opveil anderkant Leeukoppen.”
Krystle se iPad lui ’n diskrete klokkie. E-pos van Maurice af.
“Maurice? Persverklaring?” Jaap Schvantz ken die ritmes van die media, die mag van ’n persverklaring Sondagaand net voor ses.
“Die held van Ramses Ellispark sal aanstaande Saterdag se halfeindwedstryd teen Engeland op TV moet volg. Josephus Losper, beter bekend as Die Slapogie, het sy regtergroottoon Sondagoggend in ’n fratsongeluk in die stort gebreek.
“Slapogie kon nie die dankseggingsdiens by Ramses Ellispark bywoon nie. Die skare van meer as 60 000 siele by dié diens het geskok gereageer op die nuus, en Slapogie by herhaling staande toegejuig toe sy beroemde strafskop in Saterdag se wedstryd teen die Wallabies op die groot skerm gewys is.
“Die Slapogie het sy lot gelate aanvaar. ‘Ek wil net dankie sê vir my Skepper dat ek sover gekom het in hierdie toernooi. Aan my spanmaats wil ek net sê, Hasta la vista in Christus, my dudes!’”
Krystle laat sak haar iPad.
“Só hartseer?” ’n Sweem van ’n glimlag op die Schvantz-lippe.
“Kumalo classique,” antwoord sy.
Hulle geniet die namiddag. Die verfrissende smaak van die G&T en die effense warmte van die Hoëveldse wintermiddag. Sy het baie geld in haar tuin belê, sodat dit groen en somerig lyk. In skrille kontras met hul Saxonwoldse bure, wat onderwerp is aan die kleurlose doodsheid wat die winter altyd hierheen bring.
Sy dink aan haar pa, Adriaan Bosch, wat nooit op Sondae drank naby hom geduld het nie. Buiten dié geleenthede waar hy pligshalwe sy vrou, Martha, moes ondersteun. Jy kan die man uit Genadendal haal …
Krystle het baie geleer by haar aktivis-ouers. Maar die struggle is nou lank vergete, en die gewaarwordinge besoek haar net wanneer sy ’n rukkie vredig kan sit en dink. Soos nou. Hoe sou Adriaan en Martha geaard het in die nuwe paradigma, met die tegnologiese revolusie wat plek-plek deurgebreek het in die land van groot welvaart en groter armoede?
Die huishulp begin om hulle skarrel. Enkele treë van die sitgedeelte van hul groot stoep is ’n eettafel, waar Krystle en Jaap someroggende hul ontbyt geniet. Met die groot skuifdeure van glas half toegetrek voel dit ten minste nog of die stoep en tuin een is; vanaand sal hulle dig gesluit wees en sal die beligting sorg dat die mense wat daar aansit se weerkaatsings in die glasmuur die illusie van ’n tweede tafel skep.
Vir die duur van die wêreldrugbytoernooi is dit elke Sondagaand se gebruik. Aandete saam met die afrigter en sy twee assistente, plus die Springbokkaptein. En Maurice, natuurlik.
Katstert Nel sal alleen wees. Sy Duitse herdershond, Dawk, bly by die hotel saam met Anjetta.
Krystle is allergies vir hondehare in haar eie huis.