Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 9
3.
ОглавлениеKrystle en Jaap sit agter in die groot Rolls-Royce Phantom, staar na weerskante by hul ruite uit. Die middelste baan van die N1 is die veiligste. Hulle flits verby enkele stadig bewegende vragmotors en afgeleefde bakkies, motors en eerstegenerasie taxi’s. Regs van hulle skiet die nouveau riche met hul sportmotors en Duitse wonderwerke een ná die ander luuksueus verby. Die bestuurder het die afskorting aangebring, sodat hulle privaat kan praat. Die N1 is nie te besig op die Sondagoggend nie. Die Rolls bestuur homself. Dit is eers wanneer hulle wegswaai en naby die Corpus Christi-kampus is, op die perseel van die ou Kyalami-renbaan, dat die verkeer toeneem en die bestuurder beheer terugneem.
“Sal ons die onderhoud toelaat?” Krystle moet effens harder praat as gewoonlik. Jaap se gehoor is nie meer wat dit moet wees nie, en die Rolls se klimaat- en lugbeheer is op ’n toonhoogte wat sy ore irriteer. Hy sukkel om enigiets in besonderheid te hoor.
“Kan Maurice dit beheer? Ons kan nie toelaat …” Hy verlang só na die ou dae. Toe hy kon staatmaak op amptenare wat nie vrae gevra het nie. Wat as laaste uitweg gepraat het, wanneer die luisteraar se pyn ondraaglik was.
“Dis sy werk. Maurice móét dit eenvoudig maak werk.”
“Die afrigter sal saamwerk?”
Krystle lag sag. “Natuurlik. Hy is ’n goeie toneelspeler. Mos.”
Die Rolls-Royce swaai by die kampus se groot hek in. Al die ingeboude sensors in hek én motor sorg dat hul vordering seepglad is. Geen gewag vir hekke of sekuriteitsklaring nie. Krystle kyk met trots na die imposante weergawe van Nebukadnesar se beroemde Isjtar-poort. Krystle het die argitek Berlyn toe gestuur, om die poort in die Pergamon te gaan besigtig. Die argitek het dit effens aangepas by die omstandigheid. Die blou mure met goue inlegwerk is nog eie aan Nebukadnesar se ontwerp, maar die hek is baie verbreed en ’n venstertjie is aan die binnekant van die twee pilare aangebring, waaruit elke besoeker ’n digitale ontvangs en akklimatisering geniet.
Die motor beweeg statig en doelgerig in die laning na die voorhof van die kampus. Hier binne is hulle onbewus van die flitsende effek van die sonlig op die vensters, bewegende skadupatrone, gevorm deur die takke van die groot jakarandas.
“Indien nie,” sê Jaap Schvantz, “kan ons altyd …”
“Dit sal nie nodig wees nie.”
Krystle sien nie amptelik kans vir een van die “planmakers” uit Jaap se verre verlede nie.
Hulle sien hoe die deurwag naderbeweeg wanneer die motor tot stilstand kom.
“Ons moet net sorg dat sy met die boek besig bly,” mompel Krystle.