Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 11

5.

Оглавление

Sondag in die stad. In haar kinderjare had die dag vir Fleur ’n spesifieke gevoel. Kerk en die felheid van die emosionele borstrok wat haar ma op haar afgedwing het. Een sy van die wrewels van haar verlede. Sy kon daardie beklemming afskud. Dit mettertyd aangepas by haar manier van dinge doen. Maar as sy nou terugdink aan die evolusie van die dag van rus in haar lewe, is dit onmoontlik om die terugkerende wrewel te ignoreer.

Eens was Sondae vir Fleur die inwyding van ’n nuwe week van avontuur. Hormoongedrewe tydaanwending, het haar sielkundige gesê, die laaste keer dat sy hom gesien het. Dit was twee jaar gelede, enkele dae ná die onverwagte besoekers.

Fleur had ’n minnaar van meer as ’n maand se stand. Charles. Sy was diep verlief. Sondae was húl dae en Sondagaande het hulle gewoonlik die punt bereik waar roekeloosheid die aangewese houding was en hulle met vlammende velle op die bed gesoek het na die laaste bietjies lekkerkry wat hulle nog bly ontwyk.

Toe hulle weer sien, het twee mans langs die bed gestaan.

Mans? Seuns, sy het hulle gereeld by die Portugees net om die draai van haar huis in Brixton gesien.

Charles het opgespring, sy manlikheid wat onversadig rondswaai. Kaal dog op ’n vreemde manier gereed om Fleur se eer te verdedig.

Hy het die mes òf nie gesien nie, òf besluit om dit te trotseer. Hy het hom sekerlik met die lem se lengte misgis en het geskok opgekyk toe dit sy hart vind.

Sy het hom sien neersak. Op die bed langs haar.

Haar helder gees het siek geword van die herhalende beeld. Die lem wat penetreer, die lem wat die skede van vlees verlaat, die lewe wat uit Charles stroom.

Sy het gegil, die eerste keer in haar lewe.

Die inbrekers het gevlug, twee selfone ryker.

Sy het verhuis na haar historiese Houghton-hoekie. Sy bring nie Sondagaande tuis deur tensy dit glad nie anders kan nie.

Sondagaande gesels en vergeet sy. Op die kruising van Moedverloor en Dronkverdriet, op soek na aanwysings na Vergetelheidsvlakte.

Dít is waar Plas Johnson se soektog na Skoonheid en Vertroosting begin het. ’n Nederlandse TV-reeks wat hy op ou tegnologie besit het, het hom gelei. Fleur had nie die tyd of geduld om die DVD’s te kyk nie; Plas se précis het haar gehelp om die messteek te begryp.

Vergeet, het Fleur gevind, was onmoontlik. Sy het hulle Tweedledum en Tweedledee genoem. Ironie is deel van haar skedelruim. Sy wou hulle fantasiefigure maak, sodat sy die wraak kon vermy. Nou nog, wanneer sy eerlik is daaroor, wil sy Tweedledum en Tweedledee se knaters met ’n hamer op ’n aambeeld platmoer tot hulle soos ’n taai snotverkoue in die twee varke se balsakke ronddryf. Eers daarna sou sy die res met ’n stomp mes afsaag.

Die polisie moet hulle net eers opspoor.

“Dearie, vergeet daarvan,” het Maurice gesê, een aand, meer as ’n jaar ná die moord. “As die polisie daarvan kan vergeet, hoekom nie jy ook nie?”

Plas het net sy skouers opgehaal. Fleur het haar oë hemelwaarts gewend. Maurice kon meer diplomaties gewees het, maar hy had die waarheid beet.

Boonop het Sondae ’n bykomende dimensie vir Fleur gekry, nie lank ná die moord nie. As joernalis moes sy op ’n manier wat die meeste joernaliste aanleer, haarself oopmaak vir ander mense se smart. Jy sien dit, amper onbetrokke, en jy skryf daaroor, onbevange. Jy probeer deernis wek met swaar getroffenes. Of afkeer en walging vir mense wat ander se lewens besmet het. Maar al die skanse en emosionele borswerings van die joernalis het Fleur niks gehelp toe haar ma se geheue begin wegsypel nie. Hoe baie Fleur ook al die ouer vrou verag het vir die manier waarop sy Fleur grootgemaak het, kon sy nooit voorsien het hoe erg haar ma se agteruitgang haar sou raak nie.

Haar ma.

Siena de Villiers, eens ’n lig en sieraad in haar pa se gemeente, nou ’n gans ander mens in Huis Avondrus. Die oorsaak van soveel wrokkigheid in Fleur se gees. Die vrou wat sy só intens teleurgestel het deur net te wees wie sy is.

Moeder begin uitrafel, stukkie vir stukkie, en presenteer Fleur met ’n emosionele puzzel. Eens het sy soos ’n opgewarmde Emsie Schoeman haar kinders en haar man se gemeente gereguleer met haar voorskrifte oor goeie gedrag en maniere, en nou breek sy haar eie reëls, een vir een.

Alles in ag genome, het Fleur besef, is sy self nie op ’n lekker plek in haar skedel nie. Sy is minus minnaar, ’n vreemde wese het haar ma se liggaam betrek, en sy moet skielik plek maak vir rugby in haar lewe. Sy is agterdogtig oor vreemdelinge, manlike vreemdelinge. Sy wil nie nuwe mense ontmoet nie. Eintlik hou sy nie van mense nie.

Behalwe Maurice en Plas, miskien, maar hulle is nie daar wanneer sy aan die slaap moet raak nie.

Hond se gedagte

Подняться наверх