Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 26
6.
ОглавлениеFleur se tweede onderhoud met Slapogie Losper was makliker as die eerste een, maar steeds nie verkwiklik nie. Sy het hom op Hermanus gaan sien. Die Bokke het hulle daar afgesonder vir een van die vroeë wedstryde van die toernooi in Kaapstad. Slapogie was een van die laaste spelers met wie sy meer moes gesels oor Katstert Nel. Fleur is nie seker of dit net haar natuurlike renons in windgatte is wat haar van hom laat wegsku het nie, of dalk Maurice se manipulasie van beskikbare spelers. Intuïsie versus Die Groter Agenda. Wie sou kon sê? Sy het niks teen die man nie. Weet net dat hul vorige gesprek goor was en dat sy glad nie van hom hou nie. Maurice, geseënd is sy fraaie siel, het nie oor sy voete geval om haar en Slapogie weer rondom ’n koffiepot bymekaar te kry nie.
Die hotel self is een van daais. Gewoonlik vol bleek dwalende reste van die ou Empire. Hul plek skielik gevul deur rugbyspelers in variasies van heersende en vergete kleremodes. ’n Geroesemoes van lycra en katoen met elemente van eksotiese rubber op die vreemdste plekke, gewoonlik rondom die paar logo’s wat die Bokke se borge gelukkig hou.
Slapogie was laat.
Fleur had haar irritasie goed onder beheer. As hierdie biografie haar enigiets geleer het, was dit om geduldig te wag op rugbyspelers wat belangriker dinge gehad het om te doen as om met ’n skrywer te gesels sonder om daarvoor vergoed te word. Toe hy uiteindelik die hotel se sitkamer indrentel en rondkyk tot hy haar eenkant in een van die hotel se rushoekies sien sit, was Fleur al besig met haar tweede koppie koffie uit die groot silwerpot wat die kelner voor haar kom neerplak het. Slapogie het neergeval in die blomryke materiaal van die rusbank langs haar stoel, uitgestrek met een been bo-op die opgepofte kussings.
Fleur het die pligplegings afgehandel: koffie aangebied en geskink, soos Siena in Die Regte Manier Om Te Lewe bepaal het – die melkbeker in die linkerhand, die koffiepot in die regterhand. Sy het die melk en koffie gelyktydig ingegooi, nogal ’n kuns, wat Siena by haar dogter ingeskerp het. Fleur maak seker om nie die melk ewe vinnig te skink nie, sodat die koffie net die regte sterkte sal hê. Tussendeur het sy geklets oor hoe wonderlik dit met die span gaan en Slapogie geprys vir sy aandeel daarin.
Slapogie was nie ’n kletser nie.
“Ag, dis … jy weet, dis die span …”
Hy laat sy sinne onvoltooid hang, formuleer nooit volledig nie. Fleur, innerlik borrelend met irritasie, besluit dat hy besig is om ironies te wees.
“Katstert moet julle seker baie besiel?”
“Besiel?”
“Met sy leierskap. Julle inspireer.”
“O. Inspireer.” Die woord val tussen tonge en tande oor sy lippe, klanke op ’n nooiensvaart. “Ja! Hy’s die kop.”
Fleur kyk vir ’n oomblik déúr Slapogie se ylblou oë. Sy soek iets, ’n teken van humor, insig, betekenis, maar al wat sy raaksien, is die pupille en die kleurlose irisse. Kleure verbleik in Vanwyksvlei se fel son.
“Ek het al met die meeste van jou spanmaats oor hom gesels. Die boek is amper klaar.”
“Ek’s nie eintlik ’n man wat baie chat nie …”
“Jy sal verbaas wees watse insigte ek gekry het by ’n paar van die manne wat ook gedink het hulle is nie mense van woorde nie.”
Slapogie se oë begin dwaal. Na haar laptop, na haar jeans, na haar bloes.
“Katstert,” sê hy ná ’n ruk. “Hy’s lief vir honde.”
Slapogie bars uit, lag vir sy eie spitsvondigheid.
Fleur laat sak haar hande tot op haar skoot.
Dit laat hom net meer lag. Lê en skud op die bank. Dan sit hy skielik regop, geen teken van ’n glimlag nie.
“Jy weet, tannie, daai man, dis hy, dis hoekom ons die ander spanne so smeer.”
“Tannie?”
Hy kyk haar verbaas aan. Dan glimlag hy, verleë.
“Fleur. Orraait.” Hy waai met sy hand, asof hy ’n wind gelaat het en die reuk van hom wil wegkry. “Katstert is dáár. Altyd. Hy weet wat gaan vir wat.”
Fleur kan dit nie help nie, maar sy laat ook haar blik oor sy lyf gly, die oomblik dat hy wegkyk na mense wat ’n entjie weg in die sitkamer sit.
Slapogie het geen vet aan sy lyf nie. Hy is nie ’n spierpaleis nie, eerder geseënd met lang bene en die klipharde spiere wat saamgaan met ’n lyf wat jare lank onderwerp is aan die rugbyveld van Vanwyksvlei. Hy dra ’n kortbroek in die winter, wit sokkies by sy blink goudkleurige stapskoene. Die trui wat hy aanhet, die Bokke se amptelike ontspanningsdrag, laat toe dat sy gespierde skouers goed vertoon, maar sy kan geen aanduiding kry van sy six-pack nie, vermoed net dat dit dáár is.
Wat sy van hom weet, is genoeg vir haar. Gebore op Vanwyksvlei, daar grootgeword. Rugby het hom in staat gestel om die dorp se kettings af te skud, en daarmee saam die kettings van armoede. Maurice het rieme en rieme kopie in die koerante gekry oor die armoede van Slapogie se mense, en hoe die borge geld na die dorp kanaliseer as deel van hul sosiale verpligtinge. Die provinsie het vir sy pa ’n plaas gegee om op te boer, maar dit het nie uitgewerk nie, en hy het dit in die hande van die plaaswerkers gelaat.
Maurice het vertel, een aand in Popol Vuh, dat Slapogie skynbaar geen begeerte het om ooit weer terug te gaan soontoe nie – en ook nie juis om sy astronomiese inkomste met sy ouers en ses sibbe daar op die plaas te deel nie. Corpus Christi kan maar blaar. Hulle is oud genoeg om na hulself om te sien, is glo Slapogie se siening. Hy is die Seventh Son, die gelukkige laaste kind wat nie meer hand-me-downs hoef te dra nie.
Fleur weet ook baie goed wat die perke van hul gesprek is. Maurice was baie duidelik daaroor, ná ’n vlaag sensasionele berigte die afgelope week in die Britse koerante. Niks vra oor sy berugte vermoëns as minnaar nie. Niks oor die sangeresse en TV-sterre wie se harte hy skynbaar op weeklikse basis gebreek het nie. Niks oor die Porsche wat hy afgeskryf het nie. Niks oor die balju wat al twee keer huise kom terugvat het nie. Niks oor die bakleiery in nagklubs nie.
Sy sou seker daaroor kon gepraat het. As sy hom toegelaat het om sy hand op haar been te hou. Maar sy het nie. En nou is daar net een onderwerp.
Net Katstert.
“Ek het gedag hy sou ’n etter wees. Hy kom uit die regte bloed. Sy pa was mos ook die kop …”
“Flip Nel?”
“Daais. En ek was nie in die Boland op skool nie. Ook nie varsity nie. Sommer net ’n soutnek uit Vanwyksvlei, sien? Maar Katstert … G’n etter hy nie. Hy’s die kop, dit weet mens duidelik. My soos my ouboet gevat en my vertel ek’s eintlik die kop … Sommer by my kom sit met etenstyd. Sy hond ook …”
Fleur het begrypend geglimlag. Slapogie was ernstig.
“Dawk het by ons voete onder die tafel gelê, my hand gelek as ek vir hom kossies aangee …”
“Watse naam is dit vir ’n hond?”
Slapogie het gelag.
“Vra dit … Soos hy met my is, so met almal. Of hulle nou saam met hom op skool was of hom op Loftus gemoer het. Op die veld luister ons vir Katstert …”
“Praat hy ooit oor sy pa?”
“Katstert praat nie eintlik oor synes nie. Hy praat oor ons. Oor ons tradisie. Ons is wenners. Daai is maar … As jy hom oor sy pa vra, sou hy seker chat, sal self nie kan …”
Fleur het in verskeie rigtings gebeur met haar vrae. Slapogie het hier gesit, opgestaan en bene gerek, weer dáár gaan sit. Maar sy kon geen stukkie wrokkigheid by Slapogie bespeur nie. Net heldeverering. Agting. Lojaliteit. Dit was die patroon, uiteindelik. Die Slapogie se bydrae tot die legkaart van Katstert Nel was nul. Die ander spelers het die puzzel vir haar aanmekaargesit. By Vanwyksvlei se grootste seun was daar geen nuwe inligting nie. Net oogkontak, teen die einde van hul gesprek. Hy het gesit-lê op die rusbank oorkant die tafel van haar af, sy bene wyd oop en sy gesig ’n ent verder bokant sy mik, sy oë wat hare gevind het en woordeloos ’n belofte gemaak het wat haar na haar goedjies laat gryp het.
Fleur het weggekyk.
Opgestaan, terwyl Slapogie saggies lag. Soos sy gewoonte is.
Hy het opgespring, sy hand na haar uitgesteek.
“Tot later aan,” en vir haar geknik.