Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 29
2.
ОглавлениеDinsdagoggend, die groot beplanning vir Saterdag se halfeindwedstryd lê voor almal. Pas ná sewe, met die wintersonnetjie wat net-net begin loer oor die mistigheid van die oostelike Hoëveld, stap Fleur die Hotel Bonheur binne. Sy ignoreer die toerbusse en sekuriteitsamptenary. Vasberadenheid is die beste kamoeflering. Sy haal diep asem en glip deur die swaaideur, haar kort donker hare en swart oë wat uit die deur se glaswand na haar terugkyk.
In Katstert en Slapogie vas.
Hulle staan in diepe gesprek op die rand van die sitkamergedeelte van die ontvangsruim. Dawk wat langs Katstert op sy hurke sit. Sy oë op Fleur, stert wat vriendelik waai.
Wat de hel, dink sy. Sy pyl op die Bokkaptein af. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Maurice in haar rigting dartel om haar te onderskep, maar Katstert glimlag en wink haar nader.
“Fleur!”
Sy laat hom toe om haar ’n drukkie te gee. Wanneer hy terugstaan, hou hy haar arm vas, sodat sy nie kan loop nie.
“Ek groet net gou vir Slapogie …”
Slapogie knik vir haar, sê iets binnensmonds. Hy staan half vooroor, steun op ’n kruk om sy gewig van sy seer voet te haal. Fleur kyk af. Die Bokke het almal die gips geteken.
“Moenie moed verloor nie, Slappes.” Katstert ontferm hom vaderlik oor sy heelagter. “Die voet sal regkom, en die ander dinge ook. Jy kan my woord daarvoor aanvaar.”
Voor Slapogie kan antwoord, is Maurice byderhand.
“Ons het ’n vlug na Kaapstad om te haal,” sê hy. Glimlag vir Fleur. Ons, maar sy weet Maurice vlieg nêrens heen nie. “Nou het jy Katstert se onverdeelde aandag!”
En daarmee hinkepink Slapogie na die deur en ’n wagtende Uber. ’n Portier sleep die toksak en Slapogie se ander reissakke. ’n Sekuriteitsman maak vir Slapogie die deur langs die swaaideure oop. Die land is die ene meegevoel vir die gebreekte groottoon en die terneergedrukte held wat daarmee saamgaan. Skopper van die langste reddingsdaad in Bok-rugbygeskiedenis
Slapogie se Uber verdwyn voor die hotel.
Fleur wil vir Katstert invra oor Slapogie – maar hy het die afleiding van die mank heelagter se vertrek gebruik om hom uit die voete te maak.
Die swaaideur skiet Maurice weer die hotel binne, reg op haar af. Hy kom staan teenaan haar, hulpvaardig en paraat. Fleur is dadelik agterdogtig, maar Maurice nooi haar na die oggend se spanoefening.
“Jy maak nie ’n grap nie? Ek dog dis hoogs geheim. Hier op die vooraand van die halfeindronde.”
“Vir jou maak ons ’n toegewing, girl. Dalk wil jy nog iets bywerk oor Katstert se leierskap. Jy weet.”
Nee, sy weet nie. Sal ook nie vir hom inlaat op haar geheimpie nie. Sy hou van Katstert, maar sy leierskapshoedanighede traak haar nie nou nie. Dié is in kanne en kruike.
Sy sit met ’n ander gedagte. Soveel mans in haar omte, en sy het nog nie lus geword om aan enige van hulle te vat nie. Sy dink aan Charles. Probeer onthou hoe sy nek geruik het. Soek na ’n herinnering van sy vel, van die aanraking van sy vingers. Maar haar geheue laat haar in die steek.
Die enigste minnaar wat sy aan die dood afgestaan het, en sy sukkel om hom te onthou. Maar hy het haar wel agtergelaat met iets. Gebluste liefdeslus.