Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 32

5.

Оглавление

Laataand wys Maurice sy gesig in Popol Vuh. Eintlik sou hy vanaand eerder klubs toe wou gegaan het, maar hy stel daardie plesier uit vir die dag wanneer sy kontrak met Corpus Christi ten einde loop. ’n Maand ná die eindwedstryd. Fleur is al besig met haar lasagne wanneer hy teenoor haar neerplons. Hy draai na Plas, wys met twee vingers hoeveel whisky hy in sy glas wil hê, terwyl hy terselfdertyd die ander hand na die bakkie met brood voor Fleur uitsteek.

“Jy reggekom met Lektriek?” Hy druk ’n bietjie botter sag teen sy kleinbordjie se rand, smeer dit dan dik oor die sny witbrood. Hy glimlag in haar rigting – ’n glimlag wat hy dikwels in die badkamer se spieël oefen en wat hy die Super Baden-Powell noem. ’n Maneuver wat hy gebruik wanneer hy reeds die antwoord ken.

“Nada. Lektriek was nie lus vir gesels nie.”

Maurice slaan sy oë op na die plafon, waar geen hulp vandaan kom nie. “As hy nie lus het vir gesels nie, kry jy sy mond nie oop nie.”

Hy bring die brood na sy mond met ’n grasie wat grens aan nonchalance.

“Party mense kan die doosgeit aan- en afskakel. Ander nie. Ek dink Lektriek is een van laasgenoemdes.”

“Staan vas, suster.” Maurice het nog ’n snytjie beet. Hierdie tyd van die dag, weet Fleur, is hy senuagtig as daar nie ’n glas in sy hand is nie. “Laat ek met hom praat. Kom môre weer oefening toe. Jy sal sien.”

Fleur pers haar lippe saam. Skud haar kop. “Het daai ene ook al gehoor.”

Plas Johnson kom aan met Maurice se whisky in ’n lang glas, ’n karaffie water byderhand.

Maurice is nie ’n groot eter wanneer hy dors is nie. Hy bestel slaai en gee dan aandag aan die bou van ’n behoorlike dop. Wanneer Plas buite hoorafstand is, speel die duiweltjies in sy oë: “Wat is vanaand se teksvers?”

“Plas het nog nie gesê nie.” Sy en Maurice sit vir mekaar en glimlag. Dis deel van die spel, hierdie agterdog oor die sjef-filosoof se gedagtes van die dag. In ’n helder oomblik sal Fleur erken dat dit vir haar ’n toevlug is, ’n bietjie breingimnastiek om te vergeet van die dodelike verveling wat ’n span rugbyspelers omgeef. Die lewe is helaas nie vol helder oomblikke nie, weet sy, uit dure ondervinding.

Maurice het haar gewaarsku, heel in die begin. “Almal dink ’n rugbyspeler se lewe is opwindend. Rubbish! Dis ontsettend vervelig. Dieselfde dinge wat oor en oor herhaal word. En dan moet liewe ou Maurice sorg dat hulle nie saans dros en die soort dinge doen wat Australiërs gewoonlik doen nie.”

“Of Wallisiërs,” het sy nog geskerts soos ’n ware sportkommentator, maar Maurice was nie ontvanklik nie.

Dis net die klank van die lugreëling wat in die restaurant hoorbaar is. Hard aan die werk in die boonste hoeke van die lang vertrek, van waar dit ’n stroom warm lug inpomp vir diegene wat hier binne wegvlug van die koue Hoëveldse naglug. Plas speel soos gebruiklik, diep op die agtergrond, die musiek van Popol Vuh. Duitse musici met ’n gevoel vir ruimte. Hy het selfs die restaurant na hulle genoem. Andersins niks. Kos en klank ontmoet slegs op die grens van dronkenskap, en só beledig hy nie sy sjef nie. Aldus die filosoof van Parkhurst.

Die voordeur swaai oop en giet ’n man met ’n swaar winterjas na binne. Hy stap na een van die tweesitplektafels teen die lang muur. Die dik jas word versigtig oor die rug van die een stoel gehang. Hy gaan sit in die ander stoel, sy gesig na die ingang.

Plas kyk op sy horlosie. Die aand het daardie punt bereik waar die geroesemoes bedaar. Die kombuis is reeds besig om op te ruim en voorraad te neem vir môreoggend se aanvullende inkopies. Die wêreldbekerrugby veroorsaak groot druk op sy pastareserwes.

Hy stap rustig oor na die tafel van die laat aankomeling. Die man is vinnig met sy bestelling, mors nie tyd met gemeenplasighede nie.

Plas kom weer met sy rustige gang terug na Maurice en Fleur se tafel, maar druk sy kop eers by die kombuisdeur in, roep die bestelling uit. Spaghetti puttanesca, een grappa, een bier.

“Sê vir my,” sy donker oë wat intens van Fleur na Maurice en terug beweeg, “wie van julle ken vir Catherine Bott?”

“Toevallig, ja. Nieu-Seelandse sokkerspeler. Internasionale vlak.” Maurice wonder hoe op aarde sy op Plas se radar verskyn het. Vrouesokker is nie deel van die filosoof se register nie.

“Nee. Nee!” Plas rol sy oë. “Kan jy aan niks anders as sport dink nie?”

Maurice lig albei hande op, gee oor.

“Sy’s ’n Britse sopraan. Jy sou haar gehoor het, Maurice, as jy na die vroeë Swingle Singers geluister het. Maar dalk was dit buite jou bereik …”

“Wees hom genadig, Plas.” Fleur wil die vrede bewaar, maar eintlik hou sy oor ’n honderd van Plas wanneer hy Maurice se knoppies druk.

“Laat hy homself verdedig, verdomp.” Plas kyk weg, na die eensame puttanesca-eter, gaan dan voort. “Bott het ’n engelstem. Miskien ’n bietjie té soet vir vandag se oor, maar omdat sy op haar toppunt daarin gespesialiseer het om Middeleeuse musiek te laat herleef, is sy op die hande gedra.”

“En?” Maurice knipoog vir Fleur. “Is sy een van daardie soprane wat in ’n voorry sou kon sak? Hè?”

Plas gee hom oor aan die stilte van die oomblik. Wanneer hy weer begin praat, rig hy hom aspres tot Fleur.

“Toe Wim Keiser haar vra wat haar definisie van skoonheid en troos is, het sy sonder huiwering geantwoord dat dit ‘Fine amour et esperance’ is, van die Franse komponis Audefroi le Bastart.”

“Nè?” Maurice kan homself nie help nie. “Die ouvrou van …”

“Tipiese Middeleeuse lied.” Plas staan langs die tafel, plaas sy hand op Maurice se skouer. “Jy weet mos, Maurie. Ware liefde gee vertroue. Dis so in jul rugbyspelers se kraam. Ware liefde gee vertroue dat ek my liefdespyn weg kan sing. Haar gesig verbly my só dat ek aanvaar hoe sy my ook laat ly …”

“Dis só op die rand van onkant,” sê Fleur.

“Nou kan jy vra,” sê Plas, “hoekom sy dit met skoonheid en troos in verband bring.”

“Soos mens maar vra,” sê Maurice.

“En Bott antwoord eenvoudig. Die lied is so pragtig in sy eenvoud dat dit mens troos bring, al het jy nie troos nodig nie.”

“Ek sal maar daarna luister aanstaande Saterdagaand, nadat ons die beker gewen het.” Maurice verraai geen emosie nie.

Plas wil antwoord, maar bly stil wanneer die puttanesca-eter skielik langs die tafel verskyn.

Die man kyk na Fleur en Maurice, maar hy praat met Plas: “Rekening, asseblief.”

Fleur kyk op. Die man se donker oë laat haar dadelik kriewelrig voel. Sy kyk af, na Maurice – Maurie, lieweling, wat asvaal geskrik oorkant haar sit en na sy hande kyk.

Plas en die man stap na Plas se kredietkaartmasjiene en geldlaai by die ingang.

“Maurie …”

Hy bring sy hand na sy lippe, maak die teken van ’n ritssluiter.

Fleur sit saam met hom en wag op Plas se terugkeer.

Wanneer die man vort is, kom sit Plas weer by hulle. Hy merk dadelik op dat Maurice ontsteld is.

“Wat’s dit?”

“Spoeg uit, Maurie!” Fleur vermoed ’n storie.

“W-weet julle wie daai man was?”

Niekies. Hulle weet nie.

“Funky DD.”

Fleur kan dit kwalik glo. ’n Skadufiguur uit die kriminele onderwêreld. Só menssku dat hy in joernalistieke kringe op dieselfde vlak as die tandemuis en visioenêre politici geplaas word. Min mense het Didier van der Spuy al ontmoet. Dié wat het, het gewoonlik nie geleef om daarvan te vertel nie.

“Die Dansende Dood?”

“Einste …”

Plas gaan haal ’n bottel grappa en drie glase.

Hy skink.

“Hoekom sou hy sy draai hier gemaak het?” vra Fleur.

“Moordenaars moet ook eet,” sê Plas, en lig sy glasie in ’n onuitgesproke heildronk.

“Voorspooksel?” Maurice praat só sag dat hulle hom skaars kan hoor.

Hulle sê dit nie, maar al drie dink dieselfde gedagte: Wie is volgende in Funky DD se visier?

“Daai gesig troos niemand nie,” antwoord Plas.

Hond se gedagte

Подняться наверх