Читать книгу Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus - Страница 10

Hoofstuk 5

Оглавление

Braam het tot die vroeë oggendure gesit om die verslag te lees en te herlees. Teen drieuur het hy in die spaarkamer gaan rus soek om Rachel nie te steur nie. Maar die slaap het uitgebly, die grusame feite was in sy brein ingebrand. Sesuur, toe hy die eerste gekwetter van voëls buite hoor, het hy opgestaan en gaan stort.

Nou staan hy voor sy studeerkamer se venster en drink die sterk, geurige swart koffie met ’n gevoel van behaaglikheid. Sy oggendkoffie gee hom altyd meer helderheid, al sê Rachel dis ’n slegte gewoonte wat hy goedpraat. Buite ontwaak die stad, hy hoor vaagweg die gedreun van vroeë verkeer in Jan Smutsrylaan. Onder in die straat blaf ’n hond knaend, en die ander honde in die buurt val in ’n koor in. Die koerantafleweraar is op pad.

“Was jy die hele nag op?” vra Rachel agter hom.

Hy draai om en glimlag gerusstellend. “Nee, ek het darem so ’n bietjie skuinsgelê. Koffie? Ek het vars gemaak.”

Sy skud haar kop en kom nader, kyk speurend na hom. “Wat is dit, Braam?”

“Ek kan nie daaroor praat nie. Nog nie.” Hy sit sy hand teen haar wang. “Moenie bekommerd wees nie, Ragie.” Sy knik, maar hy sien die onsekerheid in haar oë. “Ek moet ’n paar dae weggaan.”

“Waarheen?”

“Port Elizabeth. Hopelik kan ek op die middagvlug plek kry.”

“Sal ek vir jou pak?”

“Dis nie nodig nie, ek gooi net ’n paar goed in. Maak jy ontbyt vir jou en Danny. Ek sal later iets eet.”

“Ja, gemorskos.” Sy tik op sy midderif. “Oppas, ek voel al klaar ’n boepie.”

“Professionele probleem, my skat.” Hy soen haar. “Ek wil vanoggend kyk of ek iets by die Rooi Kruis-kantoor kan uitvind oor Adam.”

Sy sug, draai weg. “Ek wens . . .”

“Wat?”

“Jy vra te veel vrae, Braam, die land is ’n kookpot. Wat gaan ek doen as jy vir negentig dae opgesluit word?”

Hy lag goedig. “Jy, my liewe vrou, gaan so ’n kabaal opskop dat hulle my summier sal vrylaat. Dis my werk, Ragie, om vrae te vra. En as joernalis gee dit my die reg en vryheid om . . .”

“Ag, jy praat loutere twak! Het ons algehele persvryheid hier?”

Hy haal sy skouers op. “Verwag jy dat ek moet stilbly? Dan is ek nie die nerf van ’n koerantman werd nie. Kom nou, gaan maak ontbyt. Ek wil ’n bietjie met Danny gesels voor ek gaan.”

Dokter Ziegler is van Switserse afkoms. Sy moes blond gewees het, maar haar ylerige hare is nou grys. ’n Groot bril versteek haar oë en laat haar nogal uilagtig lyk, miskien ook weens die dun, benerige mond. Braam weet egter uit ervaring dat sy oor twee belangrike eienskappe beskik: ’n meedoënlose vasberadenheid om te veg vir die verontregtes en daarby ’n vlymskerp tong wat sy nie huiwer om te gebruik nie.

“So, die vyfde April is die man weg op sy sending?” vra sy op haar kortaf manier, haar aandag gevestig op die rekenaarskerm voor haar.

“Dis die datum wat sy vrou aan my genoem het, maar ek weet nie of dit die dag is waarop hy vertrek het nie. Geen inligting is beskikbaar via die SAW-kantore nie.”

“Vanselfsprekend. ’n Mens kry nooit iets uit daardie spul nie.” Sy kyk op. “Geen Williams op die databank nie. Is dit moontlik dat hy onder ’n ander naam gestuur is?”

“Dit kan wees. Hy wou niks verklap oor die sending nie, maar sy vrou vermoed dit was na Angola. Ek weet hy was vroeër daar, hy was toe verbonde aan Koevoet.”

“Hmmm . . .” Sy byt ingedagte aan ’n duimnael. “Hier is niks nie, maar ek het ander bronne van informasie. Wie het dit geneem?” Sy beduie na die foto van Braam en Adam op hulle motorfietse.

“Een van die Harley-Davidsonklub se manne.”

“Laat dit hier by my. Is jou kontakbesonderhede nog dieselfde?”

“Ja, maar ek het nou ook ’n auto pager.” Hy gee haar die nommer. “Dit sal die beste wees om my daarop te bel. Die kantoor sal my laat weet, dan kontak ek u dadelik. Ek sal vir ’n paar dae uitstedig wees.”

“Goed. As Williams in Angola is, sal ek hom opspoor.”

Braam kom orent. “Ek is u dankbaar, dokter, ek . . .”

“Ja, ja. Bedank my as ek resultate het.”

“Lilly?” Annie Beetge kom die glashuis binne met Betsie op haar heup.

Lilly kyk op waar sy by die planttafel staan, haar hande besmeer met kompos en grond. Sy is besig om die nuwe leliebolle te verplant.

“Goeiste, is dit al so laat?” Sy vee ’n haarstring uit haar gesig en laat ’n bruin streep agter. “Ek was so besig dat ek skoon vergeet het van Betsie.”

“Maak glad nie saak nie, kind. Ek moes ’n baksel koek by die tuisnywerheid gaan aflaai, so jy was op my pad. Maar luister, daar wag ’n man op jou voorwerf. Ek het hom gesien toe ek inry. Hy sê hy wil jou sien en dis dringend.”

Lilly frons. Sy kry selde besoek. Adam! skiet die gedagte deur haar.

“Het hy gesê dis oor Adam?”

“Nee, hy wou niks sê nie. Nie ’n praterige tipe nie, lyk bietjie na ’n uitlander.”

Lilly haas haar na die opwasbak, draai die krane oop en begin haar hande skrop.

“Jou gesig ook, daar’s modder aan,” beduie Annie. “Luister, ek gaan vir Betsie haar bottel gee en haar neerlê. Die ou kinnerkie is stokflou gespeel. Sal ek hom sê jy kom?”

“Ja, ja, asseblief.”

Lilly begin vervaard haar gesig skoonvee voor die flenterkleine spieëltjie. Sy haal haar voorskoot af, gooi dit neer en trek haastig ’n kam deur haar hare. Trui, waar’s haar trui? Die glashuis is warm, maar sy weet dis ysig buite.

Sy sien die trui nêrens. Boggher dit, dink sy toe sy uithardloop in die koue.

Annie moes die man ingenooi het, want hy staan reeds in die sitkamer toe Lilly daar kom. Met sy rug na die deur bestudeer hy die familiefoto’s op die kaggelrak: haar en Adam se troufoto, Betsie op ses maande, en as tweejarige op haar skoot, geneem met Betsie se laaste verjaarsdag.

Toe die man omdraai, herken sy hom. Harm Hasslau! Vrees laat haar verlam staan. Sy wil praat, maar ook haar tong voel verlam. Adam, klop dit oor en oor in haar slape, Adam. Hy’t kom sê Adam is dood.

Hasslau haal ’n toegedraaide pakkie wat lyk of dit ’n boek kan wees uit sy jas se sak. “Mevrou Williams, ek het iets vir u gebring sodat u . . .”

Hy word onderbreek toe Annie inkom. “Betsie is vas aan die slaap . . . O, ekskuus dat ek steur. Ek wil maar net groet.”

Sy kyk na Lilly en merk hoe bleek die jong vrou is. “Kind? Is iets verkeerd?”

Lilly antwoord nie, bly net verwese staan.

“Ek dink dit sal beter wees as u gaan,” sê Hasslau. “Ek moet privaat met mevrou Williams praat.”

Annie vererg haar vir sy bars toon, maar knik net en draai om. Toe die voordeur agter haar toegaan, gee Hasslau ’n tree nader aan Lilly.

“Mevrou, ek dink dit sal beter wees as u sit.”

Sy retireer beangs, haar oë vasgenael op hom. “Sê dit net . . . Jy’t my kom sê van Adam . . . dat hy dood is.”

Hasslau loop vinnig tot by haar, neem haar ferm aan die arm en dwing haar in ’n stoel. Hy gaan sit oorkant haar.

“Wat ek vir u moet sê, mag selfs meer ontstellend wees as nuus dat u man dood is.” Hy plaas die pakkie op die koffietafel. “Het u ’n videomasjien?”

Lilly staar geskok na hom. Al wat sy wil weet, is nuus oor Adam, en hy praat van ’n videomasjien!

Hasslau beduie na die pakkie. “Daardie is ’n video. Ek is gevra om dit aan u te wys, maar dit sal miskien beter wees as u op u eie daarna kyk. Die inhoud is . . . wel, wat my aanbetref, onguur. Ek kan reël dat ’n masjien . . .”

Woede en huil stuif saam in Lilly op. “Hier is ’n verduiwelse videomasjien! Wat het dit met Adam te doen? Sê my net van hom! Is hy . . .” Die woord steek in haar keel vas en haar trane begin loop.

“Nee, nee, hy’s nie dood nie. U sien . . . op daardie video is Adam saam met ’n ander vrou, moontlik ’n prostituut. Dit kan wees dat hy . . .”

“Jy lieg! Ek glo dit nie!” skree Lilly onbeheers.

“Wel, kyk daarna, dan besluit u self. Ek het uit my pad gegaan om u te probeer help. Glo my, dit was nie maklik om die video te bekom nie.”

Sy wil praat, maar hy hou sy hand op om haar stil te maak.

“Asseblief, hoor eers wat ek te sê het. Volgens die inligting wat ek bekom het, word u man vermis. Daar is egter ’n sterk moontlikheid dat hy sy plig versaak en gedros het.”

Lilly hyg na asem. “Nee! Nie Adam nie!”

“Wel, die . . . dame op die video is van Angolese afkoms. Ons het die beeldmateriaal by ’n hotel in Luanda gekry, ons vermoed hy het daarheen ontvlug. Ek is jammer om u so ’n tyding te gee, maar . . .” Hy haal sy skouers op. “U het daarop aangedring om die waarheid te weet.”

’n Kreet skeur uit Lilly. In die kamer begin Betsie huil.

Hasslau staan op. “Ek sal u alleen laat.”

Maar Lilly hoor hom nie meer nie, hoor nie haar kind se gehuil nie, hoor nie hoe hy die voordeur toemaak en wegry nie. Al waarvan sy bewus is, is die kloppende, vretende pyn. Dis in haar kop, in haar siel, oral in haar weefsel. Sy wil wegsink, iewers heen wegsink waar daar geen pyn meer is nie.

Meganies soos ’n robot het sy die aand se take verrig: kos gemaak vir Betsie, gebad, die buitewerf se hekke gesluit. Twee maal het die telefoon gelui, maar sy het nie geantwoord nie. Sy kon met niemand praat nie.

Sy het lank langs die slapende Betsie bly sit. Haar kind versigtig aangeraak, haar en Adam se dogtertjie, hulle bondeltjie vreugde.

Eers ná tien het sy na die sitkamer geloop, waar die videomasjien is. Sy het die kasset in die masjien gedruk. Flikkers en strepe op die TV-skerm, en dan skielik Adam se gesig. Die beeld verwring en dan sien sy hom weer, op ’n bed, met ’n vrou by hom. Sy het lang blonde hare en ’n soel vel. Sy is naak, hulle is al twee naak.

Beeld ná beeld flits verby, tot Lilly naar en duiselig voel.

Haar verstand skeur. Die pyn is erger as destyds toe sy in die inrigting opgeneem is. Adam het haar verwerp, soos hy ook vir Betsie verwerp het. Sy is ’n weggooiding, dis al wat sy is. Weggooiding . . . weggooiding! hamer dit in haar brein, oor en oor en oor.

Sy kom regop, loop struikelend na die kas waar die rewolwer versteek word. Adam het dit vir haar gegee vir veiligheid en haar geleer om dit te gebruik. Dis goed, dink sy, dis goed. Sy weet wat om te doen.

Met die oorgehaalde rewolwer loop sy stadig soos ’n ou vrou in die gang af na waar Betsie in die kamer slaap.

Die leliemoordenaar

Подняться наверх