Читать книгу Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus - Страница 21

Hoofstuk 15

Оглавление

Kommissaris Mbulu word op die lughawe ingewag deur een van Visser se manne.

“Moet ons reguit na die kolonel se kantoor gaan?” vra die bloedjong konstabel onderdanig.

“Asseblief, ja.”

Agter in die polisiemotor kyk Mbulu stilswyend na die stad se bekendste baken: Tafelberg. Vandag staan die berg breed en bonkig sonder sy tafeldoek, helder afgeëts teen die blou lug. Die stad sweet in ’n versengende hittegolf, ongewoon vir so vroeg in Oktober.

Sy gedagtes gaan na die onderhoud wat voorlê en sy ongewone versoek. Hy en die ouerige kolonel het ’n paar keer saam gewerk kort ná die nuwe bedeling in 1994 aangebreek het. Hy het Visser leer ken as ’n oop, vriendelike man, ’n verligte Afrikaner. Destyds reeds, nog voor die verkiesing, was hy openlik gekant teen apartheid. Dit het hom nie juis gewild gemaak in die Diens nie.

Mbulu, wat toe nog net die rang van speurluitenant gehad het, het die uitgesproke Visser uit ’n baie netelige posisie gehelp. In sy boek skuld Visser hom dus. Maar dalk sal sy versoek vandag net te veel wees om van die kolonel te verwag.

Die ouer man groet hom hartlik toe hy by sy kantoor instap. Die kolonel lyk bedrieglik jonk vir sy sestig jaar. Sy gesig is bruingebrand van ure langs die viswaters en net sy silwer borselkop verraai sy ouderdom.

Hy luister aandagtig terwyl die kommissaris sy saak stel.

“Kortom, Jan, ek erken ek is raadop. My laaste hoop is nou op jou gevestig – om kaptein Hector aan ons beskikbaar te stel.”

Die kolonel skud sy kop vertwyfeld. “Ai, Bongani. Ek weet maar te goed dat ek jou skuld ná die Rietfonteinsaak, maar Daniella Hector —”

Hy lig sy hande in ’n hulpelose gebaar. “Dis nie so maklik nie. Sy werk op die oomblik aan ’n groot Cape Flats-saak – ’n bendesindikaat – en sy verwag binnekort ’n deurbraak. Daarby moet ek jou sê sy’s ’n koppige vroumens. Of sy nou haar saak sal laat staan terwyl sy so warm op die spoor is . . . ek twyfel.”

“Ek kan maar net pleit dat jy my sal help. Sy is duidelik die beste wat die Diens het wat betref reeksmoordenaars.” Mbulu maak sy lêer oop en haal die koerantberig uit. “Soos dit vir my lyk, gaan jy haar in elk geval aan die FBI moet afstaan.”

Visser glimlag. “Nee, sy het dit toe gelukkig nie aanvaar nie, ter wille van haar gesin. Sy’s ’n enkelouer en haar ma sien bedags na die kind om. Soos jy kan sien, laat Danny haar deur niemand ompraat of voorsê nie, selfs nie eens die FBI nie.”

Hy lag hartlik vir sy eie kwinkslag, maar die kommissaris kyk hom net strak aan.

“Help my, Jan, asseblief. Hierdie keer is dit my kop wat op die blok is.”

Visser se gesig raak ernstig. “Moenie jou hoop op haar sit nie, my vriend. Maar ek sal my bes doen.” Hy lig die gehoorstuk van sy foon op. “Lucia, kry vir my kaptein Hector op haar selnommer.”

Die vier insittendes in die kombi met getinte ruite praat nie. Hulle wag gespanne. Die senuwees vreet al van vroegdag af, toe die lang wag hier voor die sinkstoor in die hawe begin het. Hulle sit botstil maar oorgehaal, hulle in- en uitaseming stadig en gereguleer. Alle oë is gevestig op die sinkgebou se ingange.

Danny Hector kyk op haar horlosie. As die informant reg was, moes die aflewering al plaasgevind het. Tensy die handelaars snuf in die neus gekry het.

Yussuf agter die stuurwiel se kakebeen beweeg ritmies asof hy kougom kou. Sy oog vang iets in die truspieël. ’n Tientonvragmotor kom stadig nader in die nou stegie.

“Dink ons het aksie . . .” Van die lank stilbly is sy keel droog en sy stem klink skor.

Danny, in die sitplek langs hom, kyk in die kantspieëltjie en sien wat hy sien. Haar lippe beweeg skaars toe sy sê: “Gee hulle kans om af te laai en in te dra.”

Die ander knik stilswyend. Hulle hou die trok dop wat voor die groot laaideur stilhou en luierend wag. Die laaideure, outomaties beheer, skuif oop. Die trok ry stadig in en die laaideur skuif toe.

“Mooi!” prewel Danny. Sy voel hoe die adrenalien inskop en deur haar are versprei.

Sy haal haar selfoon uit en skakel dit af, kyk gebiedend na die ander. “Hou julle fone aan, maar skakel die klank af.”

Hulle gehoorsaam flink.

Sy leun terug teen die sitplek. Nou is geduld hulle wapen. Die vrag moet heel afgelaai wees voor hulle toeslaan. Haar pistool druk bonkig teen haar been. Sy verpes die ding, maar weet sy durf nie daarvan ontslae raak nie. Nie voor die manne nie.

Die oggendson begin bak deur die getinte glas en dit raak ondraaglik warm in hulle koeëlvaste jekkers. Sweet slaan op hulle voorkoppe uit, maar hulle verduur dit, want Danny het beveel dat geen ruit afgedraai mag word nie. Buite koggel seemeeue wat krysend neerswiep en weer in die lug opstyg.

“Goed, maak gereed,” sê Danny oplaas. “Ons gaan in.”

Sy takseer die brandtrap van metaal teen die sykant. Baie sal afhang van hoe stil hulle daarteen op beweeg, maar sy het die opdrag deeglik aan die manne uitgestippel. Almal goeie ouens, wat sy spesiaal gekies het uit haar ervaring van vorige operasies.

“Skakel aan, Yussuf,” beveel sy gedemp.

Die kombi begin sag dreun. Sy skakel die radio aan. “Operasie Witsand roep eenheid 9.” Dié wag digby in Somersetstraat.

Byna dadelik kom die antwoord: “Eenheid 9 is paraat.”

“Goed, gee ons tien minute. Oor en uit.”

Danny kyk na haar kollegas se gespanne gesigte en glimlag effens. “Kom ons gaan haal hulle.”

Sy maak haar deur versigtig oop en klim uit. Die res volg haar voorbeeld. Hulle glip een vir een uit tot net Philander oorbly. Hy gaan skuif agter die stuur in.

“Good luck, kaptein,” mompel hy terwyl hy die taakmag dophou.

Danny het reeds die trap bereik en snel geruisloos daarteen op. Op haar hakke volg Yussuf, en Pieterse met die koevoet laaste. Sy stoot die deur aan die bopunt oop en hulle is binne. ’n Lang gang lê voor hulle en ’n deur ver regs. Danny beduie met haar kop soontoe.

Hulle beweeg versigtig, stadig soos krappe, met die rug teen die muur nader aan die deur. Danny gaan staan voor die toe deur. Sy luister, wink dan na Yussuf. Hy draai sy kop en beduie vir Pieterse. Met die koevoet gelig tree hy vorentoe. Danny en Yussuf se dienswapens is in hulle hande, hulle haal dit gelyktydig oor. Toe sy knik, laat Pieterse nie op hom wag nie. Met een skoon hou bars die slot oop.

Danny en Yussuf storm in. Daar is tien mans binne, almal saamgedrom om die hyskraan wat bale op die platform uitspoeg. Soos een man swaai hulle om toe Danny die bevel uitblaf: “Vries!”

Hulle staar ’n oomblik verdwaas na die driemanskap met hulle wapens sekuur op hulle gerig. Die man naaste aan Danny kom eerste tot verhaal. Sy hand sluit om sy mes en met ’n karatesprong wiel hy hom tot kort voor haar. Sy gesig vertrek in ’n gryns toe hy blitssnel op haar afstorm, die vlymskerp lem gereed. Die hand met die kromlemdolk lig venynig soos ’n bakkopslang.

Danny se vinger krul om die sneller. Maar dis asof haar hand geen skietopdrag van haar brein ontvang het nie. Pleks daarvan begin dit onbedaarlik bewe. Die lem mik na haar keel. Dan klap ’n skoot. Die man gil soos die koeël hom in die rug tref. ’n Tweede koeël deurboor sy hart. Sy arms vlieg omhoog toe hy agteroor neerstort.

Yussuf laat sak sy pistool en kyk na Danny, maar sy het reeds haar selfbeheersing herwin. Toe die manne van eenheid 9 by die deur inbars, beveel sy kalm: “Boei die res.”

Sy kniel langs haar aanvaller en druk haar twee voorvingers op die pols in sy nek. Dis onnodig, want die man se wyd gesperde oë staar na haar in starre verbasing, makaber gevries. Toe sy orent kom, ignoreer sy Yussuf se vraende blik.

“Bring ’n lyksak en die merkers,” beveel sy die leier van eenheid 9.

Dan haal sy haar selfoon uit, skakel dit aan en bel. “Stuur dadelik ’n wa, ons het ’n lyk.”

Sy wink Yussuf met die ken na waar oopgesnyde bale lê. Hy volg haar soontoe. Op ’n tafel lê ’n hoop plastieksakkies gevul met wit poeier. Sy skeur een oop, lek aan haar vinger en doop dit in die wit stof, ruik daaraan.

“Jy was reg,” sê sy en glimlag vir hom. “Kokaïen. Jou informant is betroubaar.”

Sy kyk in die stoorplek rond waar bale vol gestop met kokaïen tot dakhoogte gestapel is. “Lyk na ’n lekker stash.”

Sy beduie na die geboeide mans met Oosterse gelaatstrekke wat by die deur saamdrom. “Nou moet ons hulle trap. Uitvind waarvandaan die besending kom en wie die kartel se leiers is.”

Yussuf knik afgetrokke. “Hulle sal sing soos kanaries.”

Sy kyk na hom. “Wat byt jou?”

“Hoekom het jy nie geskiet nie? As ek gemis het, was jy . . .”

“Dood? Wel, jy hét nie gemis nie. Los dit nou daar. Kom, laat ons hierdie spul gaan boek.” Sy beduie na die dwelmpakkies op die tafel. “Reël net eers dat die goed onmiddellik na die laboratorium geneem word.”

Yussuf wil antwoord, maar die gelui van haar foon maak hom stil.

“Danny Hector.” Sy luister ’n oomblik fronsend, sê dan kortaf: “Ons is op die misdaadtoneel, kolonel. Een van hulle is gedood.” Sy luister weer. “Goed. Ek kom so gou ek kan.”

Toe sy haar selfoon terugsit in haar sak, sug sy: “Dit was Visser. Ek moet hom gaan sien. ASAP.”

Die leliemoordenaar

Подняться наверх