Читать книгу Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus - Страница 13

Hoofstuk 8

Оглавление

Lilly en Betsie Williams word op ’n koue, triestige Juliedag in Wespark se begraafplaas begrawe. Daar is net enkele mense om die graf, ook Braam, met Rachel aan sy sy. Die vorige dag moes hy ’n kort beriggie oor die sterftes vir die koerant skryf, in die tipiese styl van ’n vreemde wat oor onbekende mense berig. Maar vir hom was dit bitter swaar, want hulle was nie onbekend nie.

Sy gedagtes bly draai om Adam, en aan wat vir hom voorlê. Die vooruitsig om die tragiese nuus oor te dra, lê soos lood in sy binneste. Alle reëlings is reeds getref vir hulle vertrek môre. ’n Private vlug neem hulle na die weermagbasis op Rundu, en daarvandaan sal hulle per helikopter die onderskeie tronke besoek.

Soos Tom Waters voorspel het, was Rachel omgekrap oor Braam se plan om Angola te besoek. Boonop kon hy haar nie al die feite gee nie, net dat hy Adam gaan sien, dat hy dit as sy plig beskou en dat hy deur die koerant gestuur word. Maar Rachel ken hom deur en deur en vermoed dat hy iets wegsteek.

“Kom ons gaan eet iewers,” stel hy voor toe hulle van die begraafplaas af wegry.

“Wat van Danny?” vra sy kortaf.

“Danny is veertien en meer as selfstandig. Toe, jong, ’n lekker lunchie in die Italiaanse plek daar in Braamfontein.”

Sy staar by haar syvenster uit. “Miskien as jy terug is. Ás jy ooit gaan terugkom.”

“As? Nou word jy regtig ’n ou drama queen, my vrou. Waarom sal ek nie terugkom nie?”

Sy skud haar kop. “Dis nie aldag maklik saam met jou nie, Braam Brink. As Danny eendag vir my sê sy gaan met ’n koerantman trou, sluit ek haar sowaar op tot sy dertig is.”

Braam lag groot, en teen haar sin glimlag Rachel.

Hy lê sy vry hand op haar skoot. “Dís my Ragie, ’n vrou duisend!”

Die leliemoordenaar

Подняться наверх