Читать книгу Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus - Страница 8
Hoofstuk 3
ОглавлениеAdam draai die stort vol oop. Die yskoue water stroom verfrissend oor sy gesig en lyf. Sy spiere voel styf van die lang sit. Hy kon nie slaap op die nagvlug na Rundu nie, te onseker oor wat die dag vir hom inhou.
Die Johannesburgse buro het die opdrag net te maklik laat klink. “Blote roetine, Williams, net ’n verkenningswaarneming.”
Maar niks is ooit so eenvoudig in die operasionele gebied nie, dit weet hy maar te goed. Toe hy jonger en meer paraat was, is hy ’n hele paar keer op sulke verkenningstogte gestuur, maar waarom nou weer, ná al die jare?
Hy begin hom driftig inseep. Sy bedenkinge sal hom niks baat nie, want hy het min van ’n keuse gehad. Hy sal moet deurdruk en basta. Hy draai die kraan toe en begin hom met harde hale afdroog.
Buite klink die gedreun op van ’n vliegtuig wat land. Hy trek haastig sy kamoefleeruniform aan en is nog besig om sy stewels vas te ryg toe ’n jong korporaal die ablusieblok binnekom.
Toe hy Adam sien, salueer hy. Adam knik en kom orent.
“Kaptein, die bevelvoerder het gevra dat u na die skuur moet kom, so gou moontlik. Meneer Harm Hasslau se vliegtuig het pas geland.”
“Ja, sê vir hom ek is op pad.”
Die korporaal salueer weer en haas hom na buite.
Adam druk die handdoek in sy seilsak en gespe dit toe. So, die heer en meester van Lupus is hier. Persoonlik. Hoekom? spook die vraag opnuut by hom.
Hasslau het hom ongeveer ’n jaar gelede die geleentheid gebied om by die Lupus-eenheid aan te sluit. Nadat hy dit bedank het, het hy bewus geraak van die Duitser se antagonisme jeens hom. Waarskynlik omdat min mense so ’n geleentheid van die hand sal wys. En Hasslau het nou maar eenmaal so ’n gepantserde ego dat dit ’n buffelbul sal beskaam. As ’n ryk man is hy gewoond daaraan om sy sin te kry – dis min of meer wat hy Adam daardie dag laat verstaan het.
Buite verblind die sonlig hom en hy soek na sy donkerbril in sy hempsak. Hy loop vinnig na die ou vliegtuigloods wat as kantore vir die bevelvoerders dien. Hasslau wag hom in.
“Williams!” groet hy joviaal. “Goed om jou weer te sien. Jy lyk uitstekend. Die sagte lewe het jou darem nie vet gemaak nie.” Hy lag oor sy eie kwinkslag en beduie na ’n stoel. “Sit, man!”
Adam gehoorsaam nie, maar probeer hoflik wees. “Ons is gereed om te vertrek. Die manne wag net vir my.”
Hasslau knik. “Ek weet. Ek wil jou net ’n bietjie meer inligting gee.”
Hy draai om na die muurkaart, tik met sy vinger op ’n bestemming. “Cuito, ongeveer 350 kilometer hiervandaan. Ongelyke terrein, so die Casspir sal vir die grootste gedeelte van die afstand net 50 kilometer per uur kan haal.” Hy trek die roete van Rundu af. “Julle behoort Cuito voor donker te bereik.”
Hy draai om na Adam, kyk hom stip aan. “Onthou, die veiligheid van die vier manskappe wat saam met jou gaan, is in jou hande.”
Adam knik net. Dis die gewone motiveringspraatjie, hy ken dit teen dié tyd uit sy kop.
“Die Casspir is goed toegerus,” gaan Hasslau voort. “LMG met twee 12.7 mm-masjiengewere. Maar ek moet beklemtoon dat die gebruik daarvan oorbodig behoort te wees vir hierdie sending. Jou opdrag is slegs verkenning en waarneming. Indien julle vyandelike bewegings teëkom, maak dat julle wegkom.”
“Ja, dis reeds so aan my gestel in Johannesburg. Wat nie aan my verduidelik is nie, is die ware rede vir hierdie verkenningstog.”
Hasslau frons. “Hulle moes dit aan jou verduidelik het. Twee van ons vliegtuie het vyandelike bewegings opgemerk – Russiese tenks in die omgewing van Cuito Cuanavale. Ons moet sekerheid daaromtrent kry, dis al. En dis jou opdrag: neem waar, maak jou berekeninge en kom terug. Onder geen omstandighede mag jy betrokke raak by ’n skermutseling nie, is dit duidelik?”
“Selfs nie in ’n aanval nie?”
“Julle moet gat skoonmaak voor so iets gebeur, Williams! Jy het Viljoen, hy’s ’n bekwame bestuurder en ken die terrein in Suid-Angola. Daar behoort geen rede te wees om in ’n geveg betrokke te raak nie.”
Adam keer die skerp antwoord wat op sy tong prik. Wat sal dit baat om Hasslau daarop te wys dat enigiets moontlik is in hierdie onheilige oorlog?
“Ek sal sover moontlik by die opdrag hou.”
“Gaaf! Dan kan julle maar in die pad val. Jy het ’n lang dag voor jou.”
Met ’n kortaf knik draai Adam om en loop uit. Hasslau se glimlag laat hom aan die grynslag van ’n hiëna dink.
Dis knap ná vier, sien Adam toe hy op sy horlosie kyk. Ure lank, kilometer ná kilometer, skommel hulle al voort oor bosagtige terrein. Nou is hulle kort duskant Rundu, reeds diep in die gevaarsone.
Hy som die drie mans oorkant hom op. Sweet tap hulle af, die gesigte blink in die halflig wat deur die smal vensters skyn. Die hitte in die Casspir is bykans onuithoudbaar.
Niemand praat nie. Dalk oor die beknopte ruimte, maar meer waarskynlik weens spanning. Die beswete gesigte weerspieël Adam se eie angs en onsekerheid. ’n Casspir is veronderstel om bestand te wees teen landmyne, maar hulle weet almal geen pantservoertuig is opgewasse teen ’n langafstandkanon of afstandbeheerde missiel nie.
Hulle het die basis kort ná ses verlaat, so met geluk behoort hulle Cuito voor sononder te bereik. Tot dusver was daar geen teken of beweging van enige vyandelike magte nie. Hulle het net enkele van die plaaslike bevolking op ’n afstand gewaar.
Die man teenoor Adam vis ’n pakkie Lexington uit sy hempsak.
“Sit terug, Hatting,” sê hy skerp. “Die lug is bedompig genoeg soos dit is.”
Hatting bêre gehoorsaam die platgedrukte pakkie. “Is senuwees wat vreet, kaptein.”
“Hou uit, man. Ons sal . . .”
“Kaptein! Daar’s beweging vorentoe!” roep Viljoen uit die stuurkajuit.
Adam veer orent en beweeg gebukkend daarheen. Deur die Casspir se voorruit sien hy ’n stofwolk soos ’n reusesambreel opslaan. Hy klim die paar trappe na die uitkykstasie, druk die luik oop en lig sy verkyker na sy oë.
Die enkele stofkolom het verander in drie. Dan herken hy deur die rooi wasigheid die logge voertuie. Russiese pantsers blokkeer hulle roete.
Hy trek sy kop terug. “Draai om, Viljoen! Gee vet, ons moet wegkom!”
Die Casspir draai na regs en tel spoed op. Tot dusver het hulle skaars 50 kilometer per uur gery, maar Viljoen se voet op die pedaal druk die spoedmeter op na 55.
Adam hoor die gedreun van ’n vliegtuig bo hulle. Waarskynlik bespieders wat hulle posisie aan die pantsers sal oordra. “Hou laag, Viljoen, onder die ruigtes!” skree hy.
Die goed opgeleide bestuurder gehoorsaam instinktief.
Dan klink ’n ander geluid op, meer vreesaanjaend, soos krete uit die hel. Adam herken dadelik die kanonvuur van die Stalin-orrel. Om die Casspir ontplof vuurpyle in kraters wat stof opjaag. Viljoen sigsag oor die veld om die skote te ontwyk.
Adam sien die gasvlam ontplof toe ’n terugslaglose kanon van die linkerkant af gevuur word. Die granaat mis hulle net-net, danksy Viljoen se knap maneuvers. Met ’n dodelike kalmte swaai Adam die masjiengeweer in die rigting van die recoilless. Hy vuur sonder aarseling. Dis raak, want hy sien vlamme uitslaan.
Uit ’n ander rigting begin die rat-tat-tat van ’n masjiengeweer. Terselfdertyd gil iemand in die kajuit: “Kaptein, Viljoen is getref!”
Die Casspir swenk en tol soos ’n dronk tor. Toe dit omslaan, word Adam uitgeslinger. Hy lê vir ’n oomblik bedwelm, sy gesig teen die grond. Dan hoor hy die geskreeu van die mans in die Casspir. Hy hys hom moeisaam orent en sien hoe die dakvaldeure outomaties oopspring. Gebukkend haas hy hom soontoe.
Hy sien met die eerste oogopslag dat twee van hulle reeds dood is en die derde swaar gewond. Net Sammy die Ovambo-spoorsnyer is ongedeerd. Hy kom wankelrig orent, maar sy bene gee onder hom in. Adam gryp sy hand net betyds en sleep hom na buite.
“Maak dat jy wegkom!” skree hy en buk by die deur om die gewonde man te gaan haal. Die volgende oomblik word hy en Sammy die lug in geslinger toe ’n granaat die Casspir volskoot tref. Dadelik slaan vlamme uit.
Lilly! is Adam se laaste gedagte voor ’n swart newel oor sy bewussyn sak.
Hy raak vaagweg bewus daarvan dat hy nog lewe. Waar is hy? Beweging. Van ’n swaar voertuig, registreer die gedagte. Watter voertuig? Die Casspir het ontplof toe die petroltenk vlam vat.
Hy probeer sy oë oopmaak, maar sien niks. Hy raak aan sy gesig. Daar is verbande om, sy oë is toegebind. Is hulle beskadig?
“Kaptein!” fluister ’n stem. “Kaptein, kan jy my hoor? Dis Sammy!”
Adam probeer praat, maar sy tong lê sy hele mond vol, dit wil nie beweeg nie.
“As jy my kan hoor, beweeg jou hand,” fluister Sammy.
Adam slaag daarin om die vingers van sy regterhand te roer. Stadigaan kom helderheid terug. “Wa-isj-onsj . . .” kry hy ’n paar klanke uit.
“In ’n trok. Jy’t seergekry, kaptein. Hulle vat jou na die hospitaal in Cuito. Ek het gehoor hulle vat my na die tronk.”
“Wie? MPLA?”
“Ek weet nie, kaptein. Nie MPLA nie. Ek dink dis Unita.” Daar is vrees in Sammy se stem.
“Hoe- . . . hoekom?”
“Daar was ’n witman, hulle roep hom Harm Hasslau. Was net kort daar gewees, toe vlieg hy weer weg met ’n helikopter . . . was ons helikopter.”
Adam voel asof iets die lewe uit hom pers. Harm Hasslau! Die sending was bloot ’n rookskerm. Hulle is met opset in ’n lokval gelei.
Die trok kom rukkerig tot stilstand. Harde voetstappe en dan word die agterste deure oopgeruk.
“Out!” skree ’n stem.
“Bid vir my, kaptein,” prewel Sammy. “Hulle gaan my skiet, die Unitas . . .”
“Out, Vambo traitor!” kom die bevel weer.
Adam herken die stem: John Radebe, een van Hasslau se laksmanne by Lupus. Hy hoor ’n geskuifel, Sammy se voetvalle op die metaalbodem van die trok, die plof van stewels op die grond.
Hy raak bewus van ’n prikkeling aan sy kopvel. Dis asof die hele wêreld vir ’n oomblik stol. Dan klink ’n vreesbevange gil op, gevolg deur ’n sarsie geweerskote.
Daar is by hom geen twyfel nie: Radebe het die spoorsnyer koelbloedig tereggestel.