Читать книгу Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus - Страница 6

Hoofstuk 1

Оглавление

April 1985, Johannesburg

Vroegmôre kort ná dagbreek. Dertig renjaers met swart leerbaadjies en valhelms skiet soos Middeleeuse ridders, twee-twee in formasie, om die draai. Die kragtige motorfietse brul triomfantlik. Die breë wiele vreet die teerpad op die breakfast run na Harties.

Dis Sondag, die week se werksorge is vergete. Alle gedagtes is by kos, die ruiters op hulle ysterperde is honger. Die vroeë opstaan het die Johannesburgers ’n goeie aptyt gegee en daar word uitgesien na stomende koffie, spek en eiers en niertjies.

Braam Brink jaag sy aan sy met sy vriend Adam Williams. Hulle het mekaar drie jaar gelede leer ken deur die Harley-klub. Miskien is “ken” nie die regte woord nie, want afgesien van hul gedeelde belangstelling in motorfietse weet Braam maar min van Adam. Hy weet nie eens presies wat die man se nering is nie, maar te oordeel aan sy fris Harley moet hy goed verdien. Braam het al probeer uitvis, maar Adam was ontwykend. Hy het dit daar gelaat, dis immers die man se private lewe.

Politiek word ook vermy, maar wat dít betref, weet Braam, is hulle teenpole. Aan die begin was hulle soms haaks daaroor. Adam het Braam ’n Kommie genoem vanweë sy werk as joernalis by ’n oggendkoerant. “Jy en jou donnerse Kommiekoerant,” sou hy spottenderwys sê.

Tog geniet hulle ’n goeie kameraderie ten spyte van hul verskille.

Braam verlustig hom in die kragtigheid van die motorfiets tussen sy dye. Hy rev die enjin harder en skiet vorentoe, by Adam verby. Daar is maar altyd ’n verborge wedywering tussen man en man oor wie se ryding die beste is.

Dis genoeg uitdaging vir Adam. Hy leun vorentoe op sy fiets, gee petrol en haal Braam in. Met sy kop beduie hy in die rigting van ’n afdraaipad. Dit lei na die padkafee wat hulle soms besoek wanneer hulle alleen uitry. Braam knik dat hy verstaan en laat Adam toe om leiding te neem.

Adam swenk seepglad by die grondpad in. Sy gedagtes bly draai by wat môre vir hom voorlê. Daarom sien hy nie vandag kans vir die ander se geselskap nie. Hulle sorgeloosheid en goedige kwinkslae sal net sy nerf skaaf.

Hoe lank terug was dit dat hy ook so sorgeloos was? Hy weet nie. Weet nie wanneer die depressie begin het nie, net dat dit die afgelope maande toegeneem het, net soos die angs wat hom snags wil versmoor. Dit groei in sy siel soos ’n kwaadaardige kanker.

Siel? Beskik hy nog oor so iets? In die verlede het sy gewete hom nooit gepla nie. Hy het elke taak suksesvol uitgevoer en dit dan uit sy kop gesit. Of so het hy gedink. Hy weet nou hy was verkeerd. Met verloop van jare het dit hom ingehaal soos ’n spook wat pal in jou skadu hou.

Hy stuur sy motorfiets in die smal paadjie in wat na die werf lei. Stofwalms slaan om hom op. Agter hom brul Braam se Harley soos dié hom volg.

Braam Brink is ’n goeie man en ’n goeie vriend. Adam het ook respek vir hom as joernalis. Die man se skerp insig en sy intuïsie as hy ’n storie se spoor vat, het hom versigtig gemaak om niks te verklap nie en Adam se vrae te omseil. Absolute geheimhouding – dis by hom ingedril. Lojaliteit tot die dood toe en totale stilswye. Nou weet hy hoe misplaas daardie lojaliteit was.

Het hy nog ’n kans op ’n nuwe lewe? ’n Lewe sonder die klandestiene uitvoering van plig? Sonder leuens en sonder geheime agendas? Want dis die lewe wat hy lei van sy een-en-twintigste jaar af, toe sy opleiding begin het.

Maar eendag het hy Lilly ontmoet, brose Lilly met haar kinderlike vertroue in hom. Hulle is nou al drie jaar getroud en hy sou wat wou gee om die man te word wie sy dink hy is. Nog meer so ná die geboorte van hulle dogtertjie twee jaar gelede.

In die tien jaar wat hy geprogrammeer was as effektiewe moordmasjien wat getrou opdragte uitvoer, kon hy sy dade nog regverdig, want hy het geglo dis in die land se belang. Hy het sy meesters se leuens gevreet, hy het daarin geglo. Ter wille van Volk en Vaderland was hulle leuse. Die ironie is lagwekkend.

Maar iewers het die masjien Adam Williams uit rat geraak, het hy sy lewe begin bevraagteken. En nou weet hy met absolute sekerheid dat hy nie sy volgende opdrag kan uitvoer nie.

Die klein wit gebou met die Coca-Cola-bord doem voor hom op. Meer ’n negosiewinkeltjie as ’n kafee, maar die Griek en sy vrou maak ’n eetbare ontbyt. En hulle sal privaat kan praat, wat die belangrikste is. Die hemel weet, hy het dit nodig om oop te maak en iemand in sy vertroue te neem.

Hy verminder spoed en trek die Harley netjies langs die stoep in. Lig sy helm af en trek die ritssluiter van sy leerbaadjie oop, want die son begin nou behoorlik bak. Hy bekyk die stowwerige werf voor hom. Droogte het die rooi grond laat verpoeier en elke windvlaag jaag stof op. ’n Paar verkeerdeveerhoenders skrop rond, en onder ’n peperboom vreet ’n swart-en-wit basterbok. Stof of klippe? wonder hy. Daar’s verdomp niks hier wat groen is nie.

’n Paar kinders hou hom van ’n veilige afstand dop. Hy glimlag en wuif vir hulle, maar hulle deins terug, asof afstand hulle onsigbaar sal maak. Met ’n sug klim hy van sy motorfiets af. Hoe lank sal hy nog vry wees om daarop rond te jaag? Sal hy hierdie stowwerige werf ooit weer sien?

Braam trek sy kleiner fiets langs Adam s’n in. Hy lig die valhelm van sy natgeswete rooi hare af.

“Is dit ’n pit stop of brekkies, china?” vra hy.

Sonder antwoord loop Adam by die stoep se drie rooigeverfde trappies op en verdwyn by die gaasdeur in.

Braam frons toe hy ontslae raak van sy leerbaadjie. Iets byt Adam beslis. Hy het dit agtergekom toe hulle al voor dagbreek uit Johannesburg weg is. Daar is ’n gespannenheid by Adam, ’n nukkerige swygsaamheid. Nie dat hy ooit veel van ’n prater was nie.

In die klein gebou is dit skemer en die lug is bedompig. Hulle sit by een van die tafeltjies en eet hulle ontbyt in stilte. Die geur van koffie en gebraaide spek meng met die aroma van die winkel: negosieware, bruinsuiker en goedkoop tabak, aangevul deur die rook van hulle sigarette.

Dit laat Braam dink aan sy kindertyd, toe sulke winkels algemeen was. Voor die groot inkopiesentrums oorgeneem het, het elke voorstad of dorp sy Moosah’s of Costa’s gehad. Hy sien in die vertoonkas stroke liquorice soos slapende slange in ’n glasbottel, taai en swart. Ook appelkooslekkers, niekerbols en Chappies.

Die Griek se vrou bring vir elkeen ’n tweede koppie koffie.

“Oukei, uit daarmee,” sê Braam toe hulle weer alleen is. “Hoekom sit ons hier?”

Adam kyk op na hom en druk sy sigaret dood, net om weer een aan te steek. Hy lig sy baadjie van die stoel af, vroetel in ’n binnesak en haal ’n dokument uit.

“Jy kan dit later lees,” sê hy kortaf toe hy dit voor Braam neersit. “Jy was toe al die jare reg.”

“Oor wat?”

“Oor die propagandastront wat ons gevoer is.”

Braam is totaal onkant gevang. “Wow, hou vas, Williams! Van wanneer af is jy op dié Damaskuspad? Dis bra skielik! Stel jy vir my ’n soort strik?”

Adam antwoord nie, rook net in stilte, sy donker oë onsiende op die gaasdeur.

Hy kyk na Braam. “Hoe en waar ek die lig gesien het, gaan te lank vat om te verduidelik. Ek gaan probeer uitkom . . . uittree uit die Diens uit.”

“Praat jy van die SAP?”

“SAW. Spesiale eenheid wat . . . sê maar struikelblokke uit die weg ruim.”

“Jy bedoel jy’s ’n recce?”

Adam knik. “Maar dis nie nou ter sake nie. Wat nou tel, is dat ek wil uit. Of hulle my sal toelaat, is ’n ander saak. Vreemde dinge het al gebeur met boys wat quit. Daarom wil ek voorsorg tref. Hierdie afskrif is . . .” Hy soek na die regte woorde. “Sê maar dis ’n soort versekeringspolis.”

Braam vou die dokument oop en laat sy oë vlugtig oor die inhoud gaan. “Die Sein . . . wat beteken dit?”

“Jy sal verstaan as jy dit lees. Kortliks: in die huidige politieke klimaat is daar mense wat die regime nie meer in die land kan bekostig nie. Sekere aktiviste het ’n pyn in die gat geword, en Die Sein is die kode om diesulkes te verwyder. Verstaan jy? Permanente verwydering uit die samelewing. Deur ’n opdrag onder dié kode word moord gewettig.”

“Hoekom vertel jy dit vir my? Ek is ’n koerantman.”

Adam trek diep aan sy sigaret en blaas die rook uit, kyk na die kringe wat in die lug verdwyn. “Ek weet watter metodes gevolg word om sulke mense te elimineer. Ek weet ook wie die voorbokke is.”

Daar is ’n soort radelose vrees in sy oë toe hy na Braam kyk. “Hulle gaan my betrek, ek wéét dit. En ek sien nie daarvoor kans nie. Ek was destyds in die operasionele gebied, eers teen Swapo as deel van ’n ops-eenheid toe ek nog verbonde was aan die mediese korps. Later ook in Angola, en dis waar hulle my ingetrek het. Ek het intensiewe opleiding ontvang as ’n recce . . . kortom, as ’n moordenaar. In die Bosoorlog het ek dinge gesien en moes ek dinge doen wat nou nog in my nagmerries by my spook. Maar in my boek was dit oorlog.”

Hy lag bitter. “Of sê liewer in my jeugdige naïwiteit. Ek soek nie verskoning nie, maar ons was vol gepomp met patriotiese illusies wat enige optrede regverdig het. Die doel was immers om die landsgrense te beskerm teen die aanslag van die kommunisme. Die direkte en indirekte aanslae van Rusland, China en Kuba was wel ’n werklikheid en daarom kon ek die oorlogsmisdade aan ons kant oorsien. Ek het geredeneer dat dit deur beide kante gepleeg is. Destyds . . . miskien omdat ek jonger was, was dit toe anders. Met dit wat nou gebeur en wat in die toekoms gáán gebeur, wil ek niks te doen hê nie.”

Hy bly ’n oomblik stil voor hy weer praat.

“Hulle gaan my Port Elizabeth toe pos vir ’n sending, saam met ’n paar ander. Dit het te doen met aktiviste op Cradock . . . Ek weet wat voorlê.”

“Is Die Sein op hulle gegee?”

Hy knik. “Net soos met die Pebco Drie wat verdwyn het. Ek moes tóé al gepraat het, geprobeer het om uit te kom. Maar ek het teen my gewete in besluit dit raak my nie. Ek was verkeerd.”

“Hoekom vertel jy my dit? Wil jy hê ek moet . . .”

“As iets met my gebeur, wil ek hê iemand moet weet. Iemand soos jy – ’n joernalis. Ek het verdere dokumentasie aan my prokureur gegee, meer breedvoerige inligting. As dinge uitwerk soos ek hoop, bly dit daar. So nie, wil ek dit ook in jou hande laat. Vir Lilly en Betsie het ek reeds voorsorg getref, maar ek wil weet dat hulle nie geraak sal word as die wind teen my draai nie.”

Hy staan op en sit ’n paar note op die tafel neer, vat sy baadjie en helm. “Kom, ons kan nog opvang. Resies oor die brug? Laaste een koop die biere!”

Braam was dié vinnige ommeswaai nie te wagte nie. Daar is nog soveel wat hy wil vra, maar Adam is reeds by die deur uit. Toe hy die Harley hoor brul, staan hy verslae op en volg sy vriend buitentoe.

Die leliemoordenaar

Подняться наверх