Читать книгу Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus - Страница 16
Hoofstuk 11
ОглавлениеDie sirene wat huistoegaantyd aankondig, lui oorverdowend toe Rachel in die gang af stap. Kinders peul uit klaskamers soos baldadige lammers, opgewonde oor die naweek wat voorlê.
“Ma-a-a! Mamma!”
Rachel draai om en sien Danny aangestorm kom. Die kind loop nooit nie, dink sy geamuseerd. As sy nie huppel nie, hardloop sy.
“Ek gaan Kaap toe!” vertel Danny uitasem. “Ons span is gekies vir die wetenskapolimpiade!”
Rachel omhels haar. “Dis wonderlik! Het ek jou nie gesê julle gaan wen nie? Ek was juis op pad om jou te soek. Jy sal moet huis toe loop, my skat. Ek moet instaan by mevrou Smith se studieklas, sy’s siek en is vroeg huis toe. Sal jy regkom op jou eie, of wil jy liewer wag tot die klas verby is?”
Danny skud haar kop. “Ek sal regkom, Ma. Dis mos nie ver nie.”
“Nou toe. Daar’s ’n bakkie macaroni-en-kaas in die yskas, jy kan dit net opwarm.”
Danny trek haar neus op. “Ons het dit gisteraand gehad.”
Rachel lag. “Nou bly dan maar honger. Of maak ’n toebroodjie.”
Danny piksoen haar op die wang. “Ciao, Ma!” Sy draf weg met ’n uitgelatenheid wat Rachel beny.
Die platane is klaar vol botsels, dink Danny soos sy in die loop om haar kyk. Binnekort sal hulle blare hê wat koel skadu’s gooi al die pad van die skool af tot by die huis. Sy is bly hulle woon in Parkview met sy baie bome . . .
Dit laat haar lag kry vir haarself. Eintlik maak alles haar vandag bly. As hulle die wetenskapolimpiade in die Kaap wen, sal dit sowaar die beste jaar ooit wees. Haar karatespan het ver gewen in die interprovinsiale toernooi. Daarby is sy gekies as kaptein van die o.16-hokkiespan.
Haar pa het belowe sy kan volgende jaar by die skietklub aansluit. Daarna sien sy baie uit. Dit kan haar net vorentoe help in haar loopbaan as polisievrou. Hoewel, haar pa wil hê sy moet regte studeer. Sy oorweeg dit ’n oomblik. Wel, moontlik kan sy al twee wees. Miskien sommer nog ’n joernalis ook soos haar pa.
Haar ma het met ontbyt genoem daar gaan vandag ’n groot storie van hom in die koerant wees. Sy sou graag met hom daaroor wou praat, maar hy is douvoordag al uit, toe sy nog geslaap het. Sy sal sorg dat sy die Mail lees sodra sy by die huis kom. Dit word elke dag afgelewer, maar vanoggend was die koerant laat.
Toe sy die tuinhek agter haar toemaak, sien sy haar pa se motor voor die oop motorhuis staan. Wonderlik! Nou kan hulle twee ’n bietjie alleen gesels. Dis altyd lekker as net hy en sy saam is, dink sy toe sy met die tuinpaadjie langs voordeur toe hardloop.
Dié staan ook oop. Sy gaan in. Die huis is doodstil.
“Pappa?” roep sy. “Pappa, waar’s jy?”
Haar stem galm onbeantwoord terug na haar.
Sy loop deur die sitkamer en eetkamer, maar daar is geen teken van hom nie. Hy is ook nie in die studeerkamer of in hulle slaapkamer nie.
Weer roep sy: “Pappa?”
Geen antwoord nie. Miskien het hy gou kafee toe geloop vir sigarette, dink sy.
Sy maak haar kamerdeur oop en sit haar swaar tas neer. Nou is sy rasend honger. Net gou hande was voor sy kombuis toe gaan.
Die badkamerdeur is toe. Sy klop liggies. “Pa?”
Doodse stilte.
Sy voel aan die deurknop, dis nie gesluit nie. Sy maak die deur oop en wil na binne tree, maar dan versteen sy. Haar pa lê op die vloer. Daar is bloed oral oor die wit teëls gespat, maar die meeste vorm ’n dam om sy kop. Sy gesig is net ’n bloederige massa. In sy hand naaste aan haar is ’n rewolwer. Dit lê op die koerant, wat reeds deurdrenk is met bloed.
Die besef dring langsaam tot haar deur: haar pa is dood.
Haar gesig vertrek van angs en haar mond gaap oop. Dit voel asof sy nie asem kry nie. Uit haar binneste stu ’n kreet op, ’n lang gerekte klank soos dié van ’n sterwende dier.
“Pappa! PAPPAAA!” gil sy.
Dan skreeu sy net, ’n geluid wat soos ’n sirene aanhou en aanhou.