Читать книгу Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus - Страница 19
Hoofstuk 13
ОглавлениеSpeurluitenant Billy Venter kyk met genot hoe sy twee seuns wegval aan die superburgers wat hy vir hulle gekoop het. Cerise, sy eks, sal hom weer uittrap daaroor. Sy sê dis gemorskos, maar haar ou gat! Vandag behoort die seuns aan hom, hulle skoolvakansie is so te sê verby. Hy gaan hulle bederf en vir hulle koop net waarvoor hulle lus het.
Brian, die oudste, sluk, maar sy mond is nog vol kos toe hy praat.
“Al die ouens in ons skool se pa’s vat hulle vir die wedstryd in Soweto.”
“So?” sê Billy, kamma ongeërg. Hy wil nog eers die geheim bewaar dat hy ten duurste kaartjies bekom het vir Saterdag as Bafana teen Kameroen speel. Dit moet ’n verrassing wees vir die seuns.
“Ag, Paaa . . .” kom dit van Johnnie. “Kan ons nie ook gaan nie?”
Billy trek sy skouers op. “Miskien. Dit kos baie geld, jong. Maar as . . .”
Sy selfoon begin vibreer in sy hempsak. Hy vis dit uit en kom orent. Hy moes die demmitse ding afgeskakel het! Hy oorweeg dit ’n oomblik om die oproep te ignoreer, maar antwoord dan: “Bill Venter.”
Toe hy ’n paar tree van die seuns af wegloop, kyk dié betekenisvol na mekaar. Hulle weet maar te goed so ’n oproep beteken heel moontlik die einde van hulle dag by Gold Reef City, en daar’s nog so baie goeters waarop hulle nie gery het nie.
“Draai toe, Johnnie, vir padkos,” beveel Brian terwyl hy sy halfgeëete hamburger in ’n papierservet toewikkel.
Billy sien dit toe hy omdraai en voel soos ’n weeluis. Hy gaan al weer sy latte teleurstel.
“Wat’s die adres?” vra hy kortaf. “Oukei, het dit. Ek kom so gou ek kan, maar ek moet eers my seuns gaan aflaai. Nou’s my af dag ook in sy moer in. Wag vir my daar.”
Toe hy terugkom by die tafel, het die twee al opgestaan. “Jammer, my boytjies, maar dis ’n noodgeval.”
“Is wat Pa altyd sê,” kom dit gelate van Brian.
Johnnie knik instemmend. “Ma sê mens kan Pa met niks vertrou nie.”
“Nè, is dit wat sy sê?” Billy wil iets byvoeg, maar bedink hom. Wat sal dit tog help? Cerise het nou maar eenmaal haar mes in vir hom, en hy wil dit nie nog moeiliker maak vir die seuns nie.
Hy vat sy motorsleutels op die tafel. “Kom, ek sal julle by Ouma gaan aflaai.” Hel, sy eks-skoonma gaan weer ’n bek vol hieroor te sê hê!
Billy sluit sy motordeur en kyk om hom rond. Joubertpark was eens ’n respektabele buurt, maar nou het die duiwehokwoonstelle in krotte verander, dink hy toe hy kyk na die gebreekte vensters en rommel wat in hope rondlê. Te veel mense ingeprop in woonstelblokke waarna die huurmeesters hoegenaamd nie meer omsien nie.
Hy klim die trappe op na die ingang. Koperletters waarvan ’n paar ontbreek, spel Winds-r Co-rt. Nog ’n simpel koloniale naam, dink hy, veral bespotlik noudat die plek só lyk.
Volgens Koot se oproep het hulle ’n liggaam ontdek wat lyk soos die Klipmoordenaar se werk, die saak waaraan Billy werk. Hy skud sy kop. As dit so is, is dit die bliksem se derde slagoffer.
Die hysbak werk nie en hy draf die trappe op na die vierde verdieping.
Die lyk op die eetkamertafel in nommer 403 is presies soos die ander twee. Die ontblote torso vertoon ’n snit van die hals af tot by die naeltjie, nou netjies vasgewerk met hegsteke. Net soos met die ander slagoffers is dit duidelik dat die moordenaar weet wat hy doen, en nêrens is ’n druppel bloed nie.
Billy voel ’n magtelose woede in hom opstoot. Drie maal moor die bliksem en elke keer laat hy die slagoffer só na. Dis asof hy iets daarmee wil sê, maar wat?
“Weet julle wie sy is?” vra hy.
Sersant Koot Human knik. “Delicia Brown. Die skoonmaker het haar ontdek en vir die opsigter gaan sê. Sy het glo in een van daai sleaze clubs gewerk, ’n stripper of iets.”
“Kan julle bietjie soontoe staan?” sê die forensiese fotograaf.
Billy draai om na die ondersoekspan wat op hulle knieë soek na forensiese leidrade, hetsy bloed, selweefsel of hare.
“Enige clues?” vra hy.
Tom Heyns kyk op. “Niks tot dusver nie. Dis net soos met die ander twee.”
“Fynkam elke sentimeter,” beveel Billy. “Een of ander tyd moet die helhond tog iets agterlaat. En verseël die plek sodra julle klaar is.”
Hy praat harder, sluit almal in die vertrek met sy blik in. “Hou dit asseblief stil, manne. Die koerantaasvoëls gaan feesvier as hulle uitvind.” Hy draai na die sersant. “Ek gaan die opsigter en skoonmaker ondervra.”
Soos hy met die trappe af loop, brand frustrasie in sy maag. Drie slagoffers! Mbulu gaan ’n kat baar as hy hom sê. Die kommissaris sal sy kop op ’n paal wil spyker. Amper drie maande en hy het nog nie één bloue bliksemse clue opgetel nie.