Читать книгу Die goudbaronne - Lerina Erasmus - Страница 12

Hoofstuk 9

Оглавление

Ysige reënvlae spoel teen die venster vas en laat die ruite binne trane sweet wat dan afloop. Van sy skooldae af bedruk die nat Kaapse winters Kurt al. Ná soveel jare in die Boland behoort hy daaraan gewoond te wees. Hy keer sy rug op die venster en kyk na die muurhorlosie bokant die kantoordeur van die regsdekaan. Dis al ná vier. Kort voor die einde van sy laaste middaglesing het een van die eerstejaars hom die boodskap gebring dat hy dadelik na die dekaan se kantoor moet gaan. Hy wag nou al meer as ’n kwartier om die man te sien.

Enkele oomblikke later word sy geduld beloon. Professor Schneider maak sy kantoordeur oop en stap uit. Eers kyk hy half verstrooid na Kurt, dan prewel hy ’n verskoning.

“Juffrou Nothnagel het die middag af, jammer jy moes wag, Mannheim …” Hy hark sy vingers oudergewoonte deur sy grys boskasie wat laatmiddag so slordig soos ’n hamerkopnes om sy kop staan. Hy beduie Kurt moet binnekom.

In die ouer man se kantoor heers daar chaos, tog het dit ’n vreemde geselligheid. Kurt wag dat die dekaan hom ’n stoel moet aanbied, maar die aanbod bly uit. Die professor skyn van hom te vergeet het, en steek half onseker in die middel van die vertrek vas. Sy benerige hande tas en raak soos dié van ’n blinde aan bekende voorwerpe: ’n stoel, ’n boek wat hy optel en weer neersit, dan nes dit weer in sy haardos. Iets skeel, besluit Kurt.

Asof Schneider skielik weer van hom bewus word, draai hy om na Kurt.

“Meneer Mannheim, ek vrees ek het slegte tyding ontvang.” Hy beduie Kurt moet sit, en neem plek oorkant hom in. “Ek het ’n telegram uit Johannesburg ontvang van ’n sekere meneer Malloy.” Hy haal ’n oranje koevert uit sy baadjiesak. “Die telegram is aan my gerig in die hoop dat ek die nuus taktvol sal oordra, maar takt is ongelukkig nie my forte nie.” Hy oorhandig die telegram stilswyend aan Kurt, dan staan hy op en keer sy rug op Kurt.

Schneider gaan staan voor die vuurherd, waarin die kole helder brand. Agter hom hoor hy hoe Mannheim die telegram oopvou. Hy sug innerlik. Die dood van ’n vader is so finaal. Vreemd, jong Mannheim het nooit juis sy vader genoem nie. Deborah Mannheim, ja, en sy was ook altyd die een wat vir die groot byeenkomste en prysuitdelings Stellenbosch toe gekom het. Hy was onder die indruk dat die mooi vrou ’n weduwee was. Daar is soveel weduwees … die oorlog …

“Wanneer het dit aangekom?” Kurt se stem klink selfs vir homself te hard in die stil vertrek.

Professor Schneider draai om. “Net voor my eerste middagklas. Ek het dadelik iemand gestuur om jou te gaan roep, maar jou lesing het reeds begin.” Hy haal sy skouers onbeholpe op en tree nader aan Kurt. “Ek is jammer, Mannheim. Ja? Wat kan mens meer sê?”

Kurt reageer skaars. Hy lees die enkele sinne weer en sy oë kom op die laaste sin tot rus:

EK VERSOEK U OM DIE TYDING AAN KURT MANNHEIM OOR TE DRA STOP KIT MALLOY STOP

Waarom Malloy? Waarom nie sy ma nie? Maar die telegram verskaf die rede:

SY MOEDER ERNSTIG BESEER STOP

Hoe ernstig? Kommer laat sy borskas pyn. ’n Motorongeluk waarin sy pa omgekom het. Was dit die Benz? Het sy ma bestuur? Die onvernietigbare Deborah, hy kan nie onthou dat sy al ooit een dag in haar lewe siek was nie … en hoe ernstig is ernstig?

“Mannheim …” Schneider se stem onderbreek Kurt se benoude gedagtes. “Hier – drink, kêrel!” gebied die ou professor bruusk. Hy bied Kurt ’n halwe glas brandewyn aan. “Maak sake nie beter nie, maar dit help vir die skok.” Tevrede kyk hy toe hoe Kurt die glas na sy mond lig en drink. “Ek het aangeneem dat jy onmiddellik na Johannesburg sou wil vertrek,” sê hy saaklik. “Ek het dus vir jou plek bespreek op vanaand se agtuurtrein.” Hy sug en skud sy kop. “Jammer. Ek is werklik jammer. Ook verduiwels ontydig, so iets, en dit net so voor die middeljaareksamens. Maar dié dinge gebeur seker maar. Buite ons beheer, nè? Gelukkig dat jou jaarpunt so goed is, sal jou deurdra. Sal nie moeilik wees om my kollegas om te praat om jou later ’n finale mondelinge eksamen te gee nie. Jy gaan ongelukkig die Rhodes-studiebeurs verloor.” Hy sug weer. “Jammer. Ja. Tog jammer. Jou kanse vir Oxford was uitmuntend. Tog, die familie kom sekerlik eerste –”

“Ek moet gaan. As u my sal verskoon, professor?” knip Kurt die ou man se gepraat kort.

“Natuurlik, natuurlik!” antwoord Schneider. Verlig begelei hy Kurt na die deur. Hy het sy taak afgehandel. Hy is dankbaar dat jong Mannheim die saak soos ’n heer hanteer het. Dit is soos dit hoort, dink hy, en maak die deur toe.

* * *

Wit. Die oënskynlike kleurloosheid daarvan mislei ’n mens. Wit het tog vele skakerings, mens merk dit op in so ’n vertrek waar alles gehul is in bleek steriliteit, dink Kit terwyl hy na die wit mure van die hospitaalkamer kyk wat deur die laatmiddagson nou met ’n bleek amber getint word. Die vensterluike, daarenteen, word in die helderheid van dieselfde lig byna blouwit, soos seeskuim, en die wit ysterbed waarop Deborah lê vertoon gryserig, want die skerm wat die bed omhul gooi skadu’s daaroor.

Sy bekommerde blik keer weer terug na Deborah se gesig, so weerloos onder haar tulband van dik wit verbande. Sy was lank in die teater. Die dokters het hom gesê dat sy ’n skedelbreuk opgedoen het, sowel as veelvuldige interne beserings wat bloeding veroorsaak het. Dit, het hulle gesê, was die ernstigste probleem. Vanselfsprekend wou nie een van hulle ’n voorspelling waag oor haar kanse om te herstel nie. Soos wat sy nou daar lê, stil en leweloos, vrees Kit dat sy nie weer sal bykom nie, dat haar asemhaling, reeds flou en hortend, net sal ophou. Hy moet sy angs besweer, maan hy homself. Sy is ’n sterk, gesonde mens, sy was nog altyd ’n vegter, sy sál oorleef. Hy moet liewer nou al sy konsentrasie daarop toespits dat sy moet leef.

Hy leun nader en raak aan haar verbinde hande. Hy fluister haar naam vir die soveelste keer: “Deborah.” Hy weet sy hoor hom nie, maar hy hou vol. “Deborah.” Weer roep hy haar naam, herhaal dit oor en oor, ’n wanhopige inkantasie. “Deborah.” Soos tevore, ontlok dit nie die geringste reaksie nie.

Was dit nie maar altyd so tussen haar en hom nie? dink hy bitter. Voortdurend sy enkelsydige versugtinge, hy wat elke keer die aanvoorwerk moes doen, in sy halsstarrige liefde nooit wou aanvaar dat sy nie meer dieselfde gevoel teenoor hom koester nie. Die hemel weet, hy het met al sy mag probeer om haar uit sy gedagtes, uit sy lewe te verban, selfs somtyds homself probeer oortuig dat hy daarin geslaag het. Maar nou, ná hierdie ongeluk, besef Kit opnuut dat hy hierdie vrou liewer het as sy eie lewe. Hy sou alles wou gee om haar uit hierdie passiewe slaap te laat ontwaak.

Wat is daar wat hy kan sê of doen om haar siel te bereik in die skaduland waarin dit nou skuil? Hy glimlag wrang. Sou hy ’n reaksie kry as hy haar sê dat haar ellendige myne ingestort het, of dat hulle almal oorstroom het? Dat die skagtorings, van Jutta’s Rand af tot by die nuwe Sederfontein-myn, in ligte laaie staan? Dat haar kosbare Mannheim-aandele tot in hul kanon geval het? Hy leun vorentoe om hom te vergewis dat sy nog asemhaal, steek sy hand uit na die holte tussen die heuwels van haar borste waaroor haar verbinde hande waghou … en daar voel hy tog nog haar hartklop deur die dun flennie van haar nagrok. Slegs ’n yl fladdering, maar tog ’n teken van lewe. Gerusgestel skuif hy weer terug in sy stoel.

“Ek het Kurt laat weet, Deborah,” sê hy dan so saaklik as moontlik. “En Sam het my gesê dat hy getelegrafeer het dat hy terugkom. Teen oormôre behoort jou seun hier te wees. Jy … jy beter jouself regruk, my meisie, só moet hy jou nie sien nie!” Hy soek na nog iets wat haar dalk sal interesseer, maar dit is of sy verstand vasslaan. Sy gedagtes verskuif na Karl Mannheim, die man wat verantwoordelik was vir die ongeluk. Die polisie wat die ondersoek hanteer het, het hom laat weet dat die lykskouing afgehandel is. Mannheim se oorskot kan opgeëis word vir die begrafnis. Hy het Sam laat weet – die res van die reëlings kan húlle tref, Sam en die jong Mannheim.

Iewers lui daar kerkklokke. Daar is nou so baie kerke hier, mens weet nie meer wat so ’n klokkespel aandui nie. Hy behoort terug te gaan huis toe, dink hy, maar daar sal die onsekerheid oor haar hom tot raserny dryf. Hy wil by wees wanneer sy haar bewussyn herwin. Net soos hy ook by wil wees indien sake ’n ander wending neem en sy verswak … Nee! Dit mag nie gebeur nie. Hy kan haar nie verloor nie, nie nou meer nie.

* * *

Hoe is dit moontlik dat ’n mens in so ’n kort tyd soveel kan verouder? dink Kurt geskok toe hy na Sam Naudies kyk. Dit het hom opgeval die oomblik toe hy hom op die stasie gesien het. Dit was of die groot man se gestalte gekrimp het tot ’n skadu van homself. Sy gesig is vaal en diep groewe lê om sy mond en op sy voorkop.

“Ek het my seur Karl huis toe gebring, seurtjie. Hy is uitgelê in sy kamer,” sê Sam stil toe hulle deur die onderste hek van die landgoed ry. Kurt knik. Hy weet dat dit waarskynlik van hom verwag word om nou oor te neem en reëlings te begin tref vir die begrafnis.

’n Tweede keer vra hy Sam uit oor sy ma se toestand, maar weereens skud Sam net sy kop. Al wat hy weet, is wat meneer Malloy hom gesê het. Die hospitaal sal mos nie ’n swart man toelaat om haar te sien nie, al was hy sy hele lewe lank in diens van haar familie. Die bitterheid wat in Sam se stem deurslaan ontstel Kurt, maar die man het sekerlik die reg daartoe, dink hy. Sam het sy pa grootgemaak, daarna vir hom en Heinrich. ’n Goeie, onbaatsugtige mens wat nooit gevra het nie, wat maar altyd bereid was om te gee. Kurt wens skielik dat hy met Sam sy gedagtes kon deel, hom sê dat die wette onregverdig is, dat dit verander moet word. Maar hy kan nie die regte woorde vind nie, iets verhoed hom om met meegevoel uit te reik.

Sam verbreek die stilte en verduidelik kortliks hoe Kit Malloy betrokke geraak het. “Dit het gebeur op die Malloys se nuwe grond, dis waar die ongeluk was. As hy nie so gou daar was nie, sou mevrou ook sekerlik omgekom het. Dis wat die polisie my gesê het.” Hy bring die motor voor die klipstoep tot stilstand, maar maak geen aanstaltes om uit te klim nie.

Ook Kurt bly sit, want dit lyk asof Sam nog iets wil sê. Maar miskien huiwer hy ook omdat hy sy moed wil bymekaarskraap voor hy na die kamer gaan waar sy pa se oorskot lê. Sam se stilswye duur egter voort.

Kurt sit sy hand op die deur se handvatsel. “Dankie dat jy my kom haal het, oom Sam. Ek wil net eers die treinroet van my gesig gaan afwas, dan kan ons daarna hospitaal toe ry. Ons sal later praat oor die ander reëlings.”

Sam knik, maar bly steeds roerloos sit toe Kurt uit die motor klim en daarna haastig die kliptrap opdraf. Dis goed dat hy hier is, dink hy. Kurt is nog jonk, maar hý kan nou die besluite neem. Sam voel weer die afgemete bedruktheid wat net nie uit sy siel wil wyk sedert sy seur Karl se dood nie. Die nutteloosheid van sy lewe is uitgelê in die kamer met die silwerblou gordyne waaroor die skildery van sy ma al soveel jare waghou.

Dis in daardie kamer waar hy sy seur Karl die aand voor die ongeluk ’n laaste keer versorg het vir die nag. Daardie aand het dit vir hom gevoel asof Karl hom iets wou sê … maar hy het toe nie. Net voor hy Karl op sy eie gelaat het, het Karl sy arms om Sam geslaan en hom vasgehou soos toe hy nog ’n kind was. “Dankie, Sam,” het Karl net sag gesê, “dankie vir wat jy oor al die jare vir my gedoen het. Jy was al een wat omgegee het.”

Hy wens hy het sy seur Karl toe gesê dat hy omgegee het omdat die wit kind deur die jare al die kinders geword het wat hy nie gehad nie. Hy het Sam ’n rede gegee om gedweë sy lewe as butler uit te dien. Maar nou … nou is Karl weg. En hy? Wat word van hom, Sam Naudies? Hy is nie meer jonk genoeg vir ander werk nie. Daar is Kurt, ja, maar die moderne jong man het nie meer ’n Sam nodig nie. As mevrou sou gaan, dan sal hy wat Sam is ook uitgedien wees, net soos die ou koets wat nou staan en stof vergader in die ondertuin se pomphuis.

* * *

Kurt het ’n aansienlike jong man geword, dink Kit, toe Deborah se seun oorkant hom gaan sit. Hy trek na sy ma, dieselfde vlasblonde hare, dieselfde oë. As dinge anders verloop het, as sy nie die Mannheims bo hom verkies het nie, sou hy hom as sy eie seun grootgemaak het. Hy sou sy naam gedra het en hy sou ’n Malloy gewees het. Maar dis sinloos, sulke gedagtes.

Kurt verberg die ongemak wat hy voel teenoor die ouer man wat hom so stip aankyk. Dit behoort nie so te wees nie, hy is tog nie werklik ’n vreemdeling nie. Tot sy verligting verbreek Kit die ongemaklike stilte.

“Ek verneem dat jou ma nou buite gevaar is?” vra hy, half stug.

Kurt knik. “Ja, sy het selfs ’n paar woorde met my gepraat, en sy het my gesê hoe hulpvaardig u was. Dit is waarom ek gekom het, om u te bedank.”

Kit knik stroef. “Dit was onnodig. Bloot ’n gelukskoot dat ek tuis en byderhand was.”

Kurt verwonder hom aan die ouer man se bitterheid. Dis amper asof Kit berou het oor sy aandeel.

“Hoofsaak is dat sy dit oorleef het en hopelik aan die herstel is,” gaan Kit voort.

“Ek dink sy is goed op pad daarheen.” Kurt glimlag. “Sy het my vandag al klaar uitgevra na die myne, en dis vir my ’n goeie teken.”

“Inderdaad …” merk Kit droog op en lag vreugdeloos. “Dan sal sy spoedig weer almal aan die kortetjies beethê.” Die onthutsing op Kurt se gesig laat Kit sy woorde effens versigtiger kies. “Dit is goed dat sy weer belangstel in wat om haar aangaan.” Dan verander hy met opset die onderwerp. “En jou pa? Wanneer is die begrafnis?”

“So gou as wat ek die reëlings getref het. Dis nodig. Sam het hom gaan haal, hy is in Mannheims Ruhe.”

“Ja …” sê Kit begrypend.

Dit lyk asof nie een van die twee mans meer iets vir mekaar te sê het nie.

“Ja, wel …” sê Kurt en staan op.

“Nou ja … ek sal jou nie langer ophou nie,” sug Kit en kom ook orent. “Laat my weet wanneer die begrafnis plaasvind.” Hy begelei Kurt na buite. Op die stoeptrap skud hulle formeel hand. Kurt draai weg en draf by die trap af.

Kit kyk hom agterna, hoe hy sy perd losmaak en opklim. Die hings is uitgevreet en koppig, duidelik te lank op stal, maar jong Kurt hanteer die dier met gemak. Perdry is in die klong se gene … hoe dan anders, Deborah is sy ma. Hy sug en gaan sit in sy geliefde stoel op die stoep.

Weereens is sy gedagtes vol van haar. Hy was by toe sy haar bewussyn herwin het. Hy het haar verbinde hande in syne gehad. Sy was dankbaar en so rustig in haar afhanklikheid, tot dit tot haar deurgedring het wie dit was wat haar hande vashou. Sy het hare onttrek en die kilheid in haar blik het hom gewaarsku dat Deborah sy aanraking verafsku. Hy was al weer onwelkom.

“Wat maak dit saak,” mompel hy aan homself, maar sy skouers is ietwat geboë toe hy naderhand die huis binneloop. Skielik verlang hy na Vickey. Hy wens desperaat dat sy nie so ver van hom af was nie. Vanaand het hy behoefte om iemand naby aan hom te hê, iemand wat hy liefhet, iemand om te vertroetel, iemand om voor nag te sê. Wat het hom besiel om haar so ver van hom af te laat studeer? Swaarmoedigheid sak op hom toe soos die skemerte kwyn. Sy sal in November vir die Kersvakansie huis toe kom, maar dit voel op die oomblik oneindig ver.

* * *

Die geweldige toestroming van mense deur die hekke van die Braamfontein-kerkhof verstom Kurt. Sy pa was selde of ooit in die stad, en wanneer hy hier was, het hy hom afgesonder. Van waar dan hierdie belangstelling? Hy sien vandag mense, Johannesburgers, wat hy nog nooit vantevore gesien het nie, maar daar is ook bekende gesigte. Hy herken van die manne wat sy ma aan hom uitgewys het as die Goudkewers van destyds, hulle wat nou bekend staan as Johannesburg se Randlords, die stad se sogenaamde goudbaronne. Sou hulle werklik Karl Mannheim se begrafnis bywoon uit meegevoel?

In hul sober, donker pakke is hulle die toonbeeld van waardigheid, maar hul somber gesigte verbloem beswaarlik hul nuuskierigheid. Sy pa se ongeluk het dae lank die hoofberigte in die koerante gehaal. Hy weet ook dat daar bespiegelings was dat Karl homself en sy vrou met opset probeer verongeluk het. Sy ma, wat nog in die hospitaal aansterk, ontken dit. Sy hou vol dat dit ’n ongeluk was, maar sy was nog altyd ’n swak leuenaar, en hy weet ook dat sy nog altyd vir Karl probeer beskerm het. Selfs nou, ná sy dood, skyn dit nog so te wees. Het sy hom tog op ’n manier liefgehad?

Hy probeer sy aandag bepaal by die laaste grafrede, maar min dring tot hom deur. Wie was hierdie man wat hulle vandag hier moet begrawe werklik? Wie was sy pa? Dis vreemd, maar hy voel nogal skuldig dat hy so min vir Karl voel. Maar nou ja, van kleins af was dit so. Daar was nooit ’n band tussen hulle gewees nie, hy was bloot ’n vreemdeling wat soms huis toe gekom het. Hulle het nooit enige rapport ontwikkel nie. Karl en Heinrich het daarenteen goed oor die weg gekom, en toe Kurt klein was, het dit hom soos die uitgestotene laat voel. Waarom het sy pa nie van hom gehou nie? Hy raak bewus van ’n dowwe hartseer wat hy nie kan verstaan nie.

Kurt word uit sy somber gedagtes geruk deur die skerp getjir van die katrolle wat die kis nou stadig in die graf laat afsak. Dis verby, besef hy. Nou sal hy nooit sy pa oor die verlede kan konfronteer nie. Hy kyk hoe vader John die wierookhouer oor die kis swaai in die laaste rite. Om hom sing die begrafnisgangers vir die man in die kis, sing van hul almal se herontmoeting in die hiernamaals.

Het enige van hulle met hul lang gesigte werklik ’n behoefte om Karl Mannheim weer te ontmoet? Sou daar vir sy pa ’n hiernamaals wees? Karl het in niks geglo nie, dit het Heinrich hom vertel. Waarom begrawe hulle hom dan nou met die volle kerklike begrafnisplegtighede? Karl sou sekerlik daarmee die spot gedryf het, maar dis soos sy ma en Sam dit wou hê. Bring ouderdom noodwendig sulke kleinlike huigelagtigheid mee?

Hy ruk hom reg, want die begrafnisgangers begin om hom saam te drom. Hulle betuig hul medelye met ’n handdruk, uiter geykte trooswoorde. Kurt knik en bedank elkeen. Ten spyte van die malende mense om hom voel hy eienaardig afwesig, asof hy iemand anders is, iemand wat ’n rol moet vertolk. Watter rol? Dié van die bedroefde seun wat sy vader verloor het? Watter onsin. Wat sal gebeur as hy aan hierdie vreemdelinge uitroep: Julle het dit mis! Ek weet nie waarvan julle praat nie. Die man wat julle nou so aanprys, het ek nooit geken nie – julle het hom heel moontlik beter geken as ek!

Uiteindelik is dit Kit Malloy wat voor hom te staan kom. Die donker Ier kyk hom ’n oomblik in stilte aan. Sy gebeitelde gesig verraai min, tog wil Kurt glo dat hy vir ’n kort oomblik werklike begrip in die man se blik kan lees. Net soos die ander reik hy Kurt die hand, maar wat hy sê, is onverwags.

“Dit is amper verby, Mannheim,” sê hy, so sag dat net Kurt dit kan hoor. “Jy het dit goed hanteer. Jou ma sal trots wees op jou.” Toe draai hy om en loop weg.

Kurt se blik volg die lang, skraal figuur se gang tussen die sipresbome deur. Kit Malloy is reg, besef hy, die begrafnis is verby. Die begrafnisgangers tou weg in groepe, maar hulle sal almal teenwoordig wees by die begrafnisfees in Mannheims Ruhe. Daarop het Sam aangedring.

Kurt bly alleen agter. Waarom? Dit weet hy nie mooi nie. ’n Laaste eerbewys aan sy pa, miskien? Nee, dis verspot, besluit hy. Hy kyk hoe die grafgrawers die eerste skopgrawe rou grond in die gapende gat laat val. Dit maak ’n dowwe, finale klank. Niemand gee om nie. Maar daar moet mense gewees het wat Karl liefgehad het. Sy oupa en ouma, miskien? Hy het sy oupa geken, maar sy ouma net uit daardie portret wat in sy pa se kamer hang. Sy ma, dalk? Hy is tog gebore uit hul samesyn. Wat gebeur in ’n man se lewe dat jy die einde van die pad bereik en niemand gee ’n duit om nie?

Kurt draai weg en begin stadig aan te stap, sy gedagtes vol onbeantwoorde vrae. Wat is liefde? Nie die liefde wat mens vir jou ma het nie, of vir jou perde, of jou grond nie, maar om iemand wat net joune is lief te hê met jou hele hart? Hy het ’n hele paar nooientjies gehad op Stellenbosch, maar dit het nooit ernstig geraak nie. Daar was altyd ander dinge wat belangriker was: die myne waarvoor sy ma hom van kleins af voorberei het, Sorgenfrei, sy studies. En Heinrich, natuurlik, wat hy soos ’n broer liefhet. Hoe mis hy hom nie. Heinrich, die geroepene, wat sy liefde in God gevind het. Sal hy wat Kurt is ooit liefde vind? ’n Knaende eensaamheid sak oor hom toe.

Wat gaan tog met hom aan, dink hy ergerlik, en begin vinniger aanloop. Sam sal hom verkwalik as hy laat is vir die begrafnismaal. Goeie ou oompie Sam. Hy is die een mens wat vir Karl lief was, tot aan die einde. Vir Sam Naudies sal hy nie teleurstel nie.

Die goudbaronne

Подняться наверх