Читать книгу Die goudbaronne - Lerina Erasmus - Страница 15

Hoofstuk 12

Оглавление

“Ek moes tog maar vir Herman Eloff aangesê het om die hings op Sorgenfrei vir ons noorde toe te bring,” sê Deborah nadenkend terwyl sy en haar seun ontbyt geniet. “Jy weet mos, die een wat verlede keer in die Baai gewen het. Dis ’n goeie perd. Ons stal hier is nie sleg nie, maar nie een van die perde is eintlik wenners nie.”

Kurt glimlag. “Dis tog net ’n vriendskaplike resies. Maak dit soveel saak wie wen?”

“Vir my maak dit altyd saak,” antwoord sy hom skerp. “Dat jy vandag die Mannheim-myne se kleure dra, maak dit vir my nog belangriker. Dit is die eerste keer, besef jy dit?”

Kurt lig sy wenkbroue en fokus maar op die spek en eiers wat oom Sam voor hom neergesit het. “Die stalmanne het Indoena goed geroskam,” paai hy haar. “Hy is sterk en hy skrik nie maklik nie. In ’n hinderniswedloop tel dit die meeste. Hou nou op om Ma te kwel, ons gaan ons bes doen,” glimlag hy gerusstellend.

Deborah knik en glimlag terug. “Natuurlik sal julle, daaraan twyfel ek nie.”

Daar is ’n blos van afwagting op haar wange wat haar vanoggend jonger laat lyk, merk Kurt op. Of verbeel hy hom dalk? Hy laat vaar maar die gedagte en bepaal weer sy aandag by die kos. Hy eet haastig, want hy wil gaan seker maak dat Indoena versigtig gelaai word. Daarna sal hy terugkom en die tradisionele donker pak aantrek, soos dié wat al die resiestoeskouers moet dra. Hy sal maar sy ryklere moet saamneem en daar verklee, want die hindernisresies is eers aan die einde van die dag.

“Jy weet daar is ’n bal vanaand by die Wanderersklub, Kurt. Ek kan natuurlik nie gaan nie, maar dit sal goed wees as jy as verteenwoordiger van die Mannheims dit tog bywoon.”

Kurt haal sy skouers op. “As Ma so dink. Hoekom kan Mamma nie gaan nie?”

“Dit behoort jy tog self te weet, seun.” Sy skud haar kop en lag oor die dom vraag. “Dit sal skaars betaamlik wees vir iemand wat nog rou.”

Kurt verstik byna aan sy roosterbrood. Dis waar, sy ma dra gereeld swart; dit was nog maar altyd so. Hy’t gedink sy hou daarvan – maar rou sy? Oor sy pa?

“Is Ma ernstig?” Hy skud sy kop ongelowig. “Dis die twintigste eeu, Ma. Ek het gedink ’n jaar se rou is uit met ou koningin Victoria.”

Deborah antwoord hom nie dadelik nie. Moet sy dan aan haar byderwetse seun verduidelik dat sekere norme by haar ingeskerp is as kind? Sy onthou dat haar ma skaars ses maande ná haar pa se dood haar rouklere versaak het net om John Digby te plesier. En hoe het dit die dorpsmense nie geskok nie! Sy self kon Alisha skaars daarvoor vergewe. Sy kon nie verstaan dat haar ma nie haar pa se nagedagtenis kon eer deur minstens vir die volle voorgeskrewe jaar te bly rou nie. Maar haar pa was ’n man uit een stuk en met Karl was dit anders. Kurt weet dit, hy weet ook hoe dit was tussen hulle … veral na die einde toe.

“Julle jong mense mag sekere dinge as outyds verwerp, maar as jy ouer is, sal jy sien dat –”

“Genugtig, Ma! Wat is dit met jou dat jy jou deesdae ’n ou vrou hou? Jy is dit nie, was dit nog nooit nie. Hoe oud is jy nou?” Hy maak ’n vinnige berekening in sy kop. Hy skat sy moet in haar veertigs wees. Sy lyk veel jonger, maar met Deborah weet mens nie.

“En dit, my liewe kind, is en bly swak smaak. ’n Heer vra nie ’n vrou haar ouderdom nie,” systap sy die vraag glimlaggend. Sam kom nader met die koffie. Sy skud haar kop. “Dankie, nie meer nie.” Sy sit haar servet langs haar bord neer en staan van die tafel af op. “Nou toe, gaan maak klaar. Ek moet nog ’n paar dinge afhandel, maar as ons halftien ry, sal ons nog betyds wees vir die eerste wedrenne.”

“A, mister Malloy!” Die beroepswedder glimlag breed en wys tande ryklik versier met goue stopsels. “Moenie my sê dat jy vandag gaan ry nie, dan het nie een van die kinders ’n kans nie!”

Kit lag goedig. “Nee, Orlofski, maar my ruiter gaan hulle in elk geval opdraande gee.” Hy sit sy arm om Vickey se skouers. “My dogter gaan Balgray se vaandel dra.”

Die beroepswedder kyk verstom na Vickey en dan terug na Kit. “A, maar is dit wys, mister Malloy? Al die ander kandidate vir die hinderniswedloop is mans, en –”

“Daar is geen reël wat dames verbied nie, is daar?” vra Vickey en glimlag liefies vir die onthutste man.

Hy skud sy kop verbouereerd.

“Mooi. Mag ek die lys sien, asseblief?”

Orlofski oorhandig dit haastig, skoon oorhoops.

Vickey se oë flits vinnig oor die lys name – dan sien sy dit. Sy naam, in ’n sterk vierkantige skrif. KURT MANNHEIM. “Dankie, meneer Orlofski!” sê sy triomfantlik en gee die lys terug.

Orlofski kyk haar met openlike bewondering aan, maar haar aandag is lank nie meer by hom of haar pa wat besig is om ’n weddenskap te plaas nie, dis op die paviljoen gevestig … Daar sien sy ’n opvallend mooi blonde vrou in swart wat haar plek bokant die Mannheim Enterprises-banier inneem. En aan haar sy is Kurt, fyn uitgevat in sy donker pak. Sy is skielik dankbaar dat sy vanoggend soveel tyd bestee het aan haar voorkoms. Sy wou op haar beste lyk en sy wéét sy het geslaag. Sy weet ook dat haar rydrag ’n sensasie gaan veroorsaak.

“Sal ons gaan, juffie?” Sy knik en sit haar hand op haar pa se arm. Sy is so opgewonde, sy voel eintlik lighoofdig toe hulle koers kry paviljoen toe.

Deur haar verkyker hou Deborah hul aantog dop. Kit Malloy, aweregs soos gewoonlik, is in ’n roomkleurige somerspak geklee. Ierse trots, dink Deborah snedig. Hoe hou die man nie daarvan om aandag te trek nie. Sy klere, sy motors, die kasteelagtige Balgray … vulgêr! Maar iewers in haar koggel ’n verraderlike stemmetjie dat sy oneerlik is teenoor haarself, dat daar nie een man op of om die baan is wat by die lang Kit Malloy kers vashou nie.

Sy vestig die lense op die donkerkopkind aan Kit se sy: Victoria. Selfs as kind het sy ’n vreemde, wilde skoonheid gehad; seker daardie rare oë en donker hare, dink sy. Maar noudat sy ’n jong dame geword het, is sy asemrowend mooi … en te oordeel na haar houding en die manier waarop sy aan haar pa se arm pronk, weet sy dit ook. Victoria was van meet af aan ’n onhebbelike kind, dink Deborah, ’n opperste bedorwe brokkie. Sy sit die verkyker neer.

“Hier …” Kurt staan by haar met twee glase sjampanje in sy hand, maar die een hou hy heeltemal skeef, duidelik onbewus daarvan dat die inhoud mors. Geïrriteer merk Deborah dat Kurt se blik ook vasgenael is op pa en dogter wat nou die paviljoen se treetjies begin oploop.

“Kyk hoe mors jy!” berispe sy hom.

Kurt kyk verward na die glas in sy hand waarna sy ma fronsend beduie – dis al halfpad leeg. Hy sug en oorhandig die vol glas aan haar.

“Jammer. Ek was ingedagte,” mompel hy.

Deborah wil hom nog teregwys, maar bedink haar. In plaas daarvan glimlag sy vrolik en klink haar glas teen syne. “Ek drink op jou en Indoena!” sê sy opgewek.

Dis egter duidelik hy hoor haar skaars, want hy kan sy oë beswaarlik wegskeur van die Malloy-losie, waar Kit en sy dogter hulle tuismaak. Tot haar onthutsing sien Deborah nou ook hoe Victoria skalks in Kurt se rigting loer en haar seun dan met ’n sjarmante knik van erkenning groet. Sy kyk vir Kurt en sien dat hy swaar sluk en dan vir die meisie glimlag. So … hulle ken mekaar dus reeds. ’n Ysige band sluit styf om haar hart. Sy weet goed dat Kurt eendag sy hart sal verloor, en dis goed, sy wil dit so hê. Sy sal enige meisie as sy aanstaande verwelkom, maar nét nie Kit Malloy se dogter nie!

Hierdie ontstellende gedagtes maal deur haar kop terwyl die eerste resiesperde verby die paviljoen dawer. Sy tel weer haar verkyker op. Probeer op die wedloop konsentreer, maan sy haarself. Dit sal nie deug om ’n ophef daarvan te maak nie. Kurt is verstandig, en al het hy en die meisiekind ontmoet, kan sy belangstelling dalk bloot oppervlakkig wees. Ná die somervakansie keer hy terug Stellenbosch toe, en sy het verneem Kit se kind studeer in Parys. Twee verskillende wêrelde, ver genoeg uitmekaar. So probeer sy om haar kommer te besweer, maar soos die een wedren ná die ander mekaar opvolg, besef sy met ’n sinkende hart dat haar kind se aandag selde van die Malloys in hulle uitspattige losie wyk.

By gebrek aan fasiliteite moes Vickey in die dames se kleedkamer verklee, en soos die noodlot dit wil hê, loop sy en Kurt rakelings in mekaar vas toe hulle uit hul onderskeie kleedkamers verskyn. Sy glimlag vir Kurt, maar dié staan net en gaap haar in stomme verbasing aan. Sy is geklee in ’n donkerblou seemsleeruitrusting, ’n broek en baadjie wat so nousluitend pas dat dit elke kurwe aksentueer.

Dis geen ruitersdrag vir ’n man nie, besef Kurt, daarvoor is dit te sensueel. En die kant aan die jabot en haar mansjette is blatant vroulik. Tog, so geklee en met haar ruiterpet wat haar hare bedek, lyk Vickey vir hom soos ’n onnutsige koorknaap.

“Middag, meneer Mannheim. Ek neem aan u gaan ook aan die wedloop deelneem?” vra Vickey.

Hy knik en vind genadiglik sy stem. “Jy bedoel … jy gaan ook?”

Sy kyk hom koel aan en tik met haar peits teen haar hand. “Ja. Enige beswaar?”

“Nee, nee! Maar … wel, dames ry nie … ’m … het nog nooit tevore deelgeneem nie …”

Vickey sug teatraal. “Ek kan my herinner,” verklaar sy koel, “dat u my eenmaal lank tevore, toe ons nog kinders was, met ’n soortgelyke aanmerking uit julle swemdam gejaag het.” Sy lag en loer ondeund onder haar wimpers vir hom.

Kurt bloos bloedrooi. Selfs sy ore brand soos kole teen sy kop.

Vickey merk dit en gee ’n rinkelende laggie. “Maar gelukkig is dit so, soos u tydens ons eerste herontmoeting tereg gesê het: Ons is nou nie meer kinders nie.” Sy lig haar vingerpunte teen haar pet en salueer hom. “Op die renbaan, meneer Mannheim, ontmoet ons mekaar weer!” Dan draai sy om en hardloop die trappies op na bo.

“Verduiwels!” verwens Kurt homself hardop, en volg haar haastig.

In die ruigte laer af lê die baan wat destyds op aandrang van Barney Barnato aangelê is. Dit beslaan twee hektaar en word deur ’n bloekombos omring. Daar is ses ligusterheinings, elk vier voet hoog, waaroor die ruiters en hul perde moet spring. Die uitdagings wat daarna volg is almal moeiliker. ’n Twaalf voet diep leivoor gaan elk van die volgende twee spronge vooraf, en die ruiters het dus ’n aansienlike aanloop nodig. Die aanloop na die eerste gragheining is redelik, maar die tweede een s’n is heelwat korter, en menige ruiter word net daar gediskwalifiseer, kort voor die laaste sprong oor die “meer”, soos die Johannesburgers die kleinerige dam noem wat die baan halveer. Die meer bied perd en ruiter net een oorspringplek: waar die dam na die middel vernou. Die laaste heining is direk voor die oorspringplek geplant, net om die sprong moeiliker te maak. Vir dié wat oor daardie heining seil – en nie in die dam beland nie – lê daar dan net ’n paar laaste hindernisse voor, voor die eindstreep omtrent ’n halfmyl verder net duskant die markiestent. Daar ontvang die wenner ’n lourierkrans wat om die nek gehang word en die gesogte beker. Die wenner word dus tot held van die dag verklaar.

Die opwinding voor die resies is nou byna tasbaar in en om die tent. Weddenskappe word bespreek en opnuut gelê. Daar word opgewek bespiegel oor die vaardigheid van meedingende ruiters, van wie agt die groot mynhuise sal verteenwoordig. Die stad se vernaamste groot banke neem ook hierdie jaar deel. Die Le Grange-tweeling van Pallinghurst sal teen mekaar ry, want hulle pa, Bruce Senior – die grootste privaat aandeelhouer in beide die Bank van Johannesburg en die Standard Bank van Suid-Afrika – het besluit dat elk van sy seuns een van sy banke sal verteenwoordig.

Maar ook die industrie word verteenwoordig: hul deelnemer is jong Thomas Barlow wat nou die aandag trek terwyl hy oor die veld loop na die wegspringhokke. Jong Thomas, ’n bekwame dokter, is die seun van die grootste mynmasjinerie-vervaardiger, T.J. Barlow. Hoewel hulle hom nog nie in aksie op die veld gesien het nie, meen baie dat die jong doktertjie ’n goeie kans het, want hy ry op een van die beste hingste. Vandag is al die perde eintlik in puik kondisie, word daar besluit toe hulle nader gelei word, maar dis die laaste perd, Amber Queen, wat die toeskouers se bewondering steel. Die vurige merrie se vel glim soos blinkswart satyn, en wanneer sy haar kop spelerig omhoog gooi, vertoon sy die amber kol waaraan sy haar naam te danke het. Amber Queen geniet duidelik al die aandag. Sy loop pronkerig voor die markiestent verby, haar neusvleuels wyd gesper.

Wie sou haar ruiter wees? word daar oor glasies sjampanje gegis. Dat sy ’n perd uit Malloy se stalle is, kan enigeen raai, want net die Swart Ier kan so ’n eksotiese renperd in die stad aanhou. Die naam van die oorspronklike ruiter wat op die program verskyn is doodgetrek, maar nie deur ’n ander vervang nie. Die nuuskierigheid neem toe. Verkykers word weer gerig op die groep deelnemers wat nou stadigaan begin saamdrom by die wegspringplek. Al die ruiters daar is bekende gesigte, almal ken tog die stad se rykmanskinders.

Toe kom Kit Malloy skielik aangeloop. Aan sy sy is sy dogter – geklee in ’n skokkende ry-uitrusting wat absoluut niks aan die verbeelding oorlaat nie. Die dames wat onder hulle kantparasoltjies skuil, buig hulle koppe fluisterend nader aan mekaar. Geskok word daar geskinder: Sy het ’n mansuitrusting aan! Seker ook uit Parys. Sedert haar aankoms uit Frankryk dra juffrou Malloy mos die een skandalige uitrusting ná die ander. Het julle gesien? Sommige ontbloot selfs haar enkels. Maar wat sy vandag dra, oorskry alle perke van ordentlikheid.

Die Malloys vertoef ’n rukkie by die stalkneg wat Amber Queen vashou. Die toeskouers kyk hoe Victoria Malloy die neus van die gespanne merrie streel. Amber Queen proes in sagte erkenning. Dis onteenseglik, dring die besef stadig tot die nuuskieriges deur, dat dit Victoria Malloy gaan wees wat die pronkperd van die dag gaan ry. ’n Paar oomblikke later word dit bevestig. Die organiseerder van die resies bulder die aankondiging oor die megafoon uit: “Perd nommer twaalf, Amber Queen van Balgray, word gery deur mejuffrou Victoria Malloy …” Dan voeg hy by: “Daar is nog ’n verandering op die program. Mannheim Enterprises se Indoena, perd nommer sewe, word vandag gery deur meneer Kurt Mannheim.”

Kurt kom te voorskyn met ’n groot sweetvoshings wat hy self na die wegspringplek lei. Te oordeel na die spontane applous wat opklink, is die aansienlike jong man ’n gunsteling, veral onder die ouer dames wat dogters het.

Alle deelnemers het nou die wegspringhokke bereik. “Neem u staanplek volgens u nommers in,” kom die bevel oor die megafoon. Die ruiters val gehoorsaam in plek.

Bruce le Grange is op nommer tien geplaas, twee staanplekke van Vickey af. Hy fluit saggies en knipoog bewonderend. “Wed jou jy’t die tantes in die tent ’n oorval laat kry!” fluister hy tergend. Sy trek vir hom skewemond.

Bruce lag en leun verby na Kurt. “Hallo, Mannheim,” grinnik hy. “Gaan jy wragtig met so ’n regte ou karperd teen ons ander jaag?”

“Indoena is enige tyd reg om vir jou stuk kraaivleis sy agterstewe te wys, Le Grange!” korswel Kurt goedig.

“Ruiters in die saal!”

Alle praatjies word gestaak en die ruiters bestyg hul perde.

Amber Queen trap senuweeagtig rond. Die ruiter op haar rug is ongewoon lig, dit voel anders as die man wat haar altyd op die bergplaas ry. Met hom, weet sy, kan sy geen nukke uithaal nie. Maar hierdie enetjie wat sy nou in die saal het – nee, dis ’n ander saak. Iemand so veerlig en klein sal haar wat Amber Queen is, beswaarlik kan beheer. Die perd runnik saggies en gooi haar kop agteroor. Haar neusvleuels sper wyd en sy haal diep asem, want sy weet die wegspringbevel sal enige oomblik kom … En toe dit kom, skiet Amber Queen en Vickey soos ’n pyl uit ’n boog vorentoe.

Die perd galop volspoed op die eerste heining af, en sonder enige aanmoediging van Vickey seil sy moeiteloos daaroor. ’n Paar oomblikke lank voel Vickey paniekerig. Sy geniet die perd se vurigheid, maar dat die dier so op eie inisiatief hardloop, laat haar voel dat sy nie goed genoeg beheer oor die merrie het nie. Sal sy die perd inkort? Hulle kan dit bekostig, want Bruce le Grange en sy perd seil nou maar eers oor die eerste heining. Sy skat die afstand na die volgende heining. Dis ver genoeg, besluit sy, en trek die leisels in – maar Amber steur haar glad nie daaraan nie. Vickey kyk vlugtig oor haar skouer. Drie ruiters is nou in dieselfde pylvak as sy. Bruce is die naaste aan haar, Thomas Barlow is kort op sy hakke … dan volg Kurt se groot sweetvos, wat op daardie oomblik die Barlow-perd inhaal en verbysteek. Kurt is nou kort op Bruce se hakke.

Die heining voor haar kom vinnig nader. Sy voel hoe die merrie se spiere saambondel in voorbereiding op die hindernis in haar pad. Weereens gooi Vickey haar lyf vorentoe in die saal en die perd galop volstoom vorentoe. Dis asof sy vlieg toe Amber weer foutloos oor die tweede heining seil. Voor hulle lê die eerste grag. Vickey lag, sy begin die resies te geniet. Sy en Amber Queen is ’n onoorwinlike kombinasie, besluit sy.

Kurt hoor dawerende perdepote agter hom. Barlow, dink hy. Hy gaan nie maklik opgee nie. Kurt por Indoena aan. “Jy kan, maat,” fluister hy laag in die hings se nek. “Jy kan die appelskimmel maklik verbysteek – ons moet net voor hulle oor daardie heining spring.” Die groot bruin perd stu vorentoe en met kragtige hale verkort hy die afstand tussen hom en sy voorloper. “Vinniger!” Indoena skiet vorentoe. Kurt sien hoe Bruce oor sy skouer loer. “Sien jy, Indoena,” lag hy, “hulle weet ons haal hulle in!” In antwoord versnel die hings sy pas en hulle gaan Bruce op sy appelblouskimmel verby. Dan is die tweede heining op hulle. Kurt gooi sy gewig na vore en perd en ruiter trek meesterlik oor die heining.

Nou nog net die afwyserige merrie van Balgray voor hulle, dink Kurt. Hy vermoed hy sal haar moeilik kan inhaal, daarvoor is die afstand tussen hulle te groot, maar hy gaan nie sommerso opgee nie. Weer por hy sy perd aan. Indoena dawer na die grag waaroor die swart merrie nou spring, en binne enkele sekondes is dit Indoena se beurt. Anderkant die grag sien Kurt hoe Vickey omkyk. Dit gee hom ’n ongewone gevoel van genoegdoening. In sy gedagtes daag hy haar uit: “Ja, juffrou afwys, juffrou Parys! Ek sien jy weet ek gaan jou nie ’n maklike oorwinning toelaat nie.”

By die derde heining is Indoena kort op Amber Queen se hakke. Nes die merrie seil die bruin hings ook met gemak daaroor. Sy hoewe tamboer agter Vickey, en weer kyk sy om. Sy sien tot haar ontsteltenis dat die hings haar met groot, kragtige hale begin inhaal, en sy doen iets wat sy nog nooit vantevore gedoen het nie: Sy raps vir Amber Queen liggies met haar peits. Amber Queen versnel wel haar pas, maar haar ore trek plat en sy rol haar oë.

Kit het teen die grasheuwel opgeklouter om die resies beter te volg, en deur sy verkyker sien hy hoe sy kind die merrie met die peits aanmoedig.

“Vickey, Vickey, wat maak jy,” mompel hy onthuts. Geen man sal dit waag om ’n peits op Amber Queen te gebruik nie, die merrie is veels te gespanne daarvoor.

Weer sien hy hoe Vickey omkyk na die Mannheim-hings, wat nou kort op haar hakke is. Al twee ruiters peil af op die baan se moeilikste sprong, die een oor die heining kort voor die meer. Die een wat eerste oorseil, sal die voordeel trek. Kit sien hoe Vickey weer haar peits gebruik. Sy soek groot moeilikheid, dink hy besorg. Hy verwens homself dat hy haar toegelaat het om Amber Queen te ry. Die merrie is heeltemal te nukkerig vir iemand so fyn soos Vickey.

Dan gebeur dit: Net voor die heining wat die oorspringplek van die meer omsluit, raak Amber Queen halsstarrig. Sy kort meteens haar eie spoed in, buig haar nek en laat haar kop sak, dan begin sy verwoed rond te spring. Vickey was dit duidelik nie te wagte nie en trek hoog oor die perd se kop. ’n Angswekkende oomblik lank versteen Kit se hart, maar dan sien hy tot sy verligting hoe die water van die dam opspat toe sy kind daarin neerplons.

Indoena steur hom glad nie aan die temperamentele merrie wat so windmakerig rondspring nie, want hy voel aan die drukking van sy ruiter se knie en dye dat hy hom gereed moet maak vir die sprong. Sy groot bors swel vol asem, dan skiet hy op – ’n volmaakte sprong! Ruiter en perd seil met die grootste gemak oor heining en waterhindernis dieselfde oomblik toe Vickey Malloy se kop bo die water verskyn.

Alles het so vinnig plaasgevind dat Kurt eers besef wat gebeur het toe hy en Indoena al goed op pad is na die laaste paar hindernisheinings. Sy moet beheer verloor het oor die perd, besef hy. Sou sy seergekry het? Sonder om twee maal te dink, kort hy Indoena in, draai om en haas hom terug na die dam waaroor Bruce le Grange nou seil met Barlow en sy perd kort op hulle hakke.

Kurt spring van Indoena af. “Het jy seergekry?” roep hy uit.

Vickey, steeds tot by haar ken in die troebel water, was so iets skaars te wagte. Seergekry? Nee, sy het nie seergekry nie, maar haar eer is bitterlik gekrenk. Hoe durf daardie ellendige perd haar so in die steek laat! Verbaas kyk sy hoe Kurt sonder meer in die water instorm. Hy steek vas toe hy sien sy makeer niks nie en skielik tref die humor van die situasie hom. Nou moet hy homself mooi in toom hou om nie vir haar te lag nie, hierdie meisietjie wat hom elke aand in sy drome teister. Haar gesig is rooi van verontwaardiging onder ’n groot gebreekte waterlelieblaar wat skeef oor haar ruiterpet hang. Hy maak keel skoon.

“H’m … ek weet jy was altyd lief vir water, juffrou Malloy,” sê hy so sedig as moontlik, “maar dis nogal ’n ongemaklike swemplek.”

Vickey kom agter dat Kurt dik is van die lag en wil haar eers gruwelik vererg. Sy onweerstaanbare glimlag is egter aansteeklik en sy gaan eerste aan die lag. Kurt begin ook hardop lag en gou skater hulle albei van die lag, terwyl die een ruiter ná die ander verby hulle oor die damhindernis spring.

Kurt waad nader en steek sy hand uit. “Kom, ek dink ons kan beter gesels op droë grond.”

Sy swem-stap tussen die verwoeste waterlelies deur na hom toe en plaas haar hand vol vertroue in syne. Vir ’n ademlose paar oomblikke bly hulle so staan.

“Jy kon gewen het,” sê sy saggies.

“Ek het gedink jy is beseer,” antwoord hy stil.

“Maar jy sou gewen het, jy’t jou kans verspeel. Bruce le Grange gaan nou die beker kry.”

Kurt glimlag helder. “Nou ja? Wat daarvan? Dit was die moeite werd om jou só te sien, juffrou Parys!” Duiweltjies dans in sy oë. “Weet jy daar is ’n waterlelieblaar op jou pet? Jy lyk nogal soos ’n kabouter. Ja, ’n waterkabouter.”

Sy wil met haar hand op haar kop voel, maar voor sy die onstigtelike blaar kan verwyder, is hy by haar en tel hy haar met die grootste gemaak in sy arms op. Hy begin met haar wal toe te stap, na waar Indoena getrou op sy meester wag. Aan die ander kant van die dam het Amber Queen rustig begin wei aan die heining. Sy lig haar kop en kyk met groot minagtende oë na die twee druipnat mense wat uit die water klim, proes en draai haar flank op hulle.

“My pa gaan my ’n skrobbering gee,” mor Vickey toe sy sien dat Kit haastig aangeloop kom. “Hy het my leer ry, geen perd het my nog ooit afgegooi nie.”

“Wel, jy’t niks oorgekom nie, en dis die belangrikste, sekerlik vir hom ook,” antwoord Kurt en sit haar saggies neer.

Soos hy voorspel het, is dit ook Kit se eerste vraag. “Het jy seergekry?”

Vickey skud haar kop, druipnat en nou bewus dat sy koud kry.

“Ek was ’n groot idioot,” prewel sy klappertand.

“Jy moet dadelik droë klere gaan aantrek.”

Vickey knik, maar kyk huiwerig na waar die toeskouers Bruce nou toejuig. “Ek wil nie só voor daai spul mense verby nie, Pappa,” sê sy verleë.

Kurt snap vinnig sy kans. “Jy hoef nie, Indoena sal ons al twee met gemak dra. Ons sal agterom deur die bos teruggaan na die hoofrenbaan. Jou ander klere is mos daar.”

Kit frons, hy sien maar te goed deur die jong kêrel se plannetjie. “Dis onnodig,” sê hy kortaf. “My motor is reeds op pad.” Hy beduie na waar die swierige voertuig stadig uit die bloekombos te voorskyn kom.

“Maar Pappa, my klere is –”

“Ek sal jou klere later laat haal,” antwoord hy ferm en sit sy arm besitlik om sy kind se skouers. “Ek wil jou so gou moontlik by die huis kry.” Sy blik troef dié van die jong man, wat ooglopend teleurgesteld lyk. Nie so vinnig nie, kêreltjie, dink Kit. Nie met Kit Malloy se dogter nie! Maar die woorde wat hy in dank uitspreek, is hoflik genoeg.

“Dankie, Mannheim, jy het jou wenkans verspeel ter wille van Victoria, en ek waardeer dit.”

Tot sy onthutsing voel Kurt hoe hy bloos. “Dit was niks,” mompel hy stug, sy oë gevestig op die naderende motor. Hy tree terug en knik vir Vickey en haar pa. “Totsiens.”

“Meneer Mannheim,” keer Vickey hom haastig voor hy kan loop. “Sal ek … ek hoop ek sien u vanaand, om u dan behoorlik te kan bedank.”

Kurt kyk haar oorbluf aan. Wat sou sy bedoel met vanaand? Waar? Dan onthou hy sy ma het iets van ’n bal gesê.

Kit Malloy toring soos ’n wraakengel oor sy dogter, sy gesig onleesbaar. Hy neem sy kind besitlik aan die arm. “As jy nie onmiddellik uit hierdie nat klere kom nie, sal daar vanaand geen bal vir jou wees nie, juffie. Komaan!” Hy sleur haar sonder meer weg na waar die motor nou op hulle wag.

Vickey kry darem kans om vinnig oor haar skouer te loer. Hy staan nog daar, maar nou is daar ’n glimlag op sy gesig. Hy knik sy kop een maal en sy weet, o sy wéét dat niks en niemand Kurt Mannheim van haar sal weghou nie!

Hulle sit stug langs mekaar, hy en sy ma. Deborah het niks gesê ná die resies nie, maar hy ken sy ma goed genoeg om die ysige kilheid in haar stem reg te interpreteer toe sy hom beveel het om te gaan verklee en die motorbestuurder aan te sê om haar te kom haal. Hy self voel ergerlik oor haar houding. Dit was tog net ’n vriendskaplike resies, wat maak dit saak dat hy dit nie voltooi het nie? Hy sug. Hy kan haar seker nie blameer nie. Hy het vir Mannheim Enterprises gery en hy het haar en die ander seker gefaal. As iemand anders in sy plek gery het, het die trofee seker nou in die glaskas van Mannheim Enterprises se hoofkwartiere gepryk, langs daardie kriekettrofee van sy oupa.

Deborah se gedagtes is in ’n warboel. Deur haar verkyker het sy gesien hoe hy in die water spring toe daardie geklike kind van Kit deur haar eie toedoen daarin beland het. Sy moes selfs toekyk hoe hulle hande hou en lag asof hulle ou bekendes is, hoe Kurt haar optel en uit die meer dra asof sy ’n porseleinpoppie is. Nie dat sy nie self kon uitloop nie, sy het heel kordaat gelyk toe sy saam met haar pa wegstap.

Die stad se mense gaan praat, dink Deborah onvergenoeg. Die gramskap tussen haar en Kit is geen geheim nie, en sedert die jong dame teruggekom het met al haar uitheemse uitrustings, word daar reeds baie oor haar gefluister. Sy wil nie hê Kurt se naam moet gekoppel word aan so ’n leëkoppie nie. Maar sy durf nie ’n bohaai daaroor maak nie – Kurt is haar kind, en net soos sy het hy ook ’n koppige streep. Hoe minder hulle daaroor praat, hoe beter, besluit sy toe Basjan die motor voor Mannheims Ruhe se stoeptrap tot stilstand bring.

“Jy moet moeg wees,” sê sy toe hulle die trap oploop.

Kurt kyk haar verbaas aan.

Sy sit haar arm op syne en glimlag. “Ek gaan nie van jou verwag om die bal ook nog by te woon nie. Jy was reg, ek is outyds met my voorbehoud oor die routydperk. Ek sal vanaand self gaan. Jy sal dit waarskynlik ook maar vervelig vind om –”

“Ek is nie moeg nie, Mamma. Waarom sou ek wees?” roep Kurt uit. “En ek wíl gaan, ek sien uit daarna,” voeg hy ferm by.

Sy byt die bitsige aanmerking wat sy hom wou toevoeg net betyds terug. Sy knik. “Dan is ek bly,” sê sy gemaak opgewek. “Ons sal al twee gaan. Dit sal vir my lekker wees om aan my seun se arm die balsaal in te loop!”

Sy sien hy wil nog protesteer, maar sy steur haar nie daaraan nie. Toe Sam die voordeur vir haar oopmaak, swiep sy by Kurt verby. “Sam, stuur asseblief vir Lenie na my kamer. Ek wil begin regmaak vir vanaand,” vra sy in die verbygaan.

Kurt staar haar oorbluf agterna en skud sy kop. Sy ma se kwiksilweragtige veranderlikheid is vir hom totaal vreemd. Nou ja, wat maak dit saak as hy saam met haar sy opwagting maak – sy is sy ma, en hy sal haar sekerlik nie die hele aand hoef besig te hou nie. Die belangrikste is dat sý daar sal wees: Vickey Malloy. Sy hart klop vinniger by die gedagte dat hy haar in sy arms sal kan hou wanneer hulle dans. As hy dit kan verhelp, sal nie een van die ander kêrels vanaand daardie voorreg met hom deel nie!

Die goudbaronne

Подняться наверх