Читать книгу Die goudbaronne - Lerina Erasmus - Страница 7
Hoofstuk 4
ОглавлениеDie oomblik toe Heinrich sy kop deur die treinvenster steek, sien hy sy neef op die perron raak. Hy lag, want dis moeilik om die lenige, blonde man ooit mis te kyk, selfs in so ’n samedromming van mense. Hy waai uitbundig om Kurt se aandag te trek. “Kurt is hier om ons te kom haal!” roep hy. Karl knik en kom futloos orent. Hy volg Heinrich gedweë na die treinwa se deur en klim saam met die ander passasiers uit.
Moses stuur die motor vaardig deur die druk stasieverkeer. Agterin die motor sit die drie manlike lede van die Mannheim-familie. Eienaardig, dink Moses, die wit manne is so anders. Hulle gaan vir ’n lang tyd weg, ver oor baie waters, dan kom hulle terug en hulle groet mekaar skaars. Hy hou die drie afsydige mans in sy truspieël dop. Meneer Karl lyk of hy siek is, te siek om te praat. Dan is daar meneer Heinrich, ook hy lyk asof hy na ’n begrafnis gaan. Net meneer Kurt lyk soos altyd, en dis ook hy wat eerste ’n praatjie probeer aanknoop.
Kurt is geskok oor die opvallende agteruitgang in sy pa se voorkoms. Hy het niks laat merk nie – dit sou swak etiket wees, en buitendien, hy en sy pa het nooit juis op intieme voet verkeer nie. Hy probeer nou om ’n bolangse gesprek aan te knoop, en rig sy vrae aan Heinrich: Hoe was hul reis? Is Europa nog in die kloue van sy koudste winter? Die koerant het daaroor berig. Vrae en antwoorde, maar dan droog die gesprek ook op. Kurt en Heinrich loer ongemaklik na mekaar, albei erg bewus van Karl se melancholiese stemming. Hulle kyk na mekaar – hulle sal later daaroor praat, wanneer hulle alleen is.
By Mannheims Ruhe word hulle rytuig ingewag deur die huis se verwelkomingskomitee. Sam, buite homself van vreugde om sy geliefde seur Karl weer tuis te hê, het die huispersoneel in twee rye voor die trap opgestel om die meester van die huis terug te verwelkom. Sedert die telegram uit Durban aangekom het, was dit of die ou butler weer nuwe veerkrag gekry het. Die huis was dan ook ’n volle drie dae lank in rep en roer soos daar skoongemaak is en voorbereidings getref is vir sy seur Karl se koms.
Kurt en Heinrich moet dus noodgedwonge deur die swaar middagete sit, en hulle kry eers heelwat later die middag kans om na die tuin te ontsnap. Outomaties kry hulle koers na die onderste gedeelte van die bos, daar waar hulle as seuns soms skelm gesit en rook het.
Dis eers toe hulle verby die koetshuis gestap het en heeltemal uit sig van die huis is dat Kurt begin praat.
“Ek moet bieg dat ek Ma gisteraand eers van jou planne vertel het. Die laaste paar weke was kwaai ontwrig gewees.” Hy loer vir Heinrich en sug. “Nee, ek lieg. Ek het die regte oomblik gesoek, en daardie oomblik het net nooit aangebreek nie. Selfs gisteraand was nie juis die beste tyd daarvoor nie, want sy was te gespanne omdat Pa terugkom. Verdomp, Heinrich! Waarom dink jy het daardie twee ooit getrou? Hulle is so onpaar soos twee linkervoete!”
Heinrich glimlag en haal sy skouers op. Daar is niks te sê oor Kurt en Deborah se vreemde verhouding nie. Dit het hulle albei jare gelede al besef. “Ek neem dan aan sy was nie juis oorstelp deur die idee nie?” vra hy stil.
Kurt knik kortaf. “Wat het jy verwag?” Hy tik op sy baadjiesak en haal ’n sigaretkoker uit. “Hier, kry een … of verbied jou nuwe orde jou dit?”
Heinrich grinnik en aanvaar gretig die sigaret. Hy buig nader sodat Kurt dit vir hom kan aansteek. “G’n verbod daarop nie, maar dit gaan skaars bekostigbaar wees op die inkomste van ’n lekebroer,” merk hy spottend op.
Die speserygeur van tabak meng met die vogtige reuke van die bos terwyl hulle in stilte voortslenter. Op die onderste terras bereik hulle die toringrotse wat ver uitsteek oor ’n ruwe rotsplaat. Kleintyd was hierdie formasie vir hulle enorm, ’n magiese grot waarin hulle as seerowers hul buit kon versteek. Maar volwassenheid laat krimp die fantasieë van jou kindertyd, dink Heinrich half treurig terwyl hy en Kurt hulle net soos destyds in hul towergrot tuismaak.
“Ek kan skaars onthou wanneer ek laas hier was,” merk Kurt effe afgetrokke op, amper asof hy Heinrich se gedagtes lees. “Dit voel nou half vreemd.”
“Ons was maar nog twee kannetjies, dis ons wat verander het,” herinner Heinrich hom. Hulle rook ’n ruk in stilte.
“Was sy omgekrap? Ná jy haar van my gesê het?” vra Heinrich uiteindelik.
“Ja, sy was, maar sy het dit probeer afmaak as ’n lawwe gier. Jy gaan haar nie maklik oorhaal nie. Maar jy is ses-en-twintig, Heinrich, sy kan jou nie terughou nie en sy weet dit.”
“As dit daaroor gegaan het, sou ek nie die moeite gedoen het om terug te kom nie. Nee, wat ek van haar vra, is haar seën op wat ek die graagste wil doen met my lewe –”
“Wel, maat, miskien kry varke vlerke.” Kurt haal sy skouers op. “Ek sou wraggies niks daarop verwed as ek jy was nie.” Hy druk sy sigaret dood en verander die gesprek. “Wat de joos dink jy gaan met Pa aan? Hy lyk soos ’n wandelende lyk! Is hy siek?”
“Hy ontken dat hy iets makeer. Hy sê die dokters kry nie fout met hom nie. Voor ons uit Le Havre vertrek het, was hy wel ’n paar dae in Wene, glo by ’n doktersvriend van hom, en toe hy terugkom, was hy meer soos die ou Karl wat ek geken het.”
“Hy drink veel meer as die laaste keer, drink net en eet skaars,” merk Kurt fronsend op.
Heinrich knik. “Ek het ’n vermoede dat dit meer is as dit,” sê hy stil.
“Wat bedoel jy?” vra Kurt onthuts.
“Morfien …”
Daar is ’n skielike, ongemaklike stilte, dan lag Kurt ongelowig. Hy skud sy kop. “Nogal ’n donker getuigskrif vir ’n man se pa, weet jy!”
“Moet hom nie veroordeel nie, Kurt. Hy is ’n bitter ongelukkige mens.”
“So? En wie se skuld is dit? Mamma s’n? Ons s’n? Hy was die een wat verkies het om al die jare sy eie pad te loop. Hy’t nie ’n duiwel omgegee vir enigeen van ons nie.”
Heinrich weerspreek Kurt nie – hy kan skaars. Dis maar beter om sy simpatie vir Karl geheim te hou, dink hy. Hy voel al jare lank jammer vir Karl, want hy het gesien hoe die man besig is om uit te rafel en hoe niemand blykbaar omgee nie. Hy neem nog ’n sigaret uit die blikkie wat Kurt na hom uithou.
“Op Sorgenfrei, nog voor ek Europa toe is, het ek heelwat kans gehad om met die ou plaasmense te praat, die paar van hulle wat nog my ma en pa kon onthou.” Heinrich tik die as van sy sigaret af. “Weet jy, nie een van hulle het ’n enkele goeie woord te sê gehad oor my pa nie. Deborah en Ma-Fytjie, wat nooit oor hom wou praat nie, het my nogtans ’n soort verheerlikte beeld laat kry van John Digby, maar die ou Sorgenfreiers was nie gesofistikeer genoeg om te lieg nie, en hulle het ’n opperste brasser en ’n dobbelaar aan my voorgestel, deur wie se toedoen die plaas onder die familie uit verkoop is. Daardie laaste week, kort voor ek weg is Europa toe, het ek jou ma daaroor uitgevra. Sy was duidelik ongemaklik, maar uiteindelik het sy erken dat die ou mense die waarheid gepraat het, ook dat hy my ma verlaat het toe sy swanger was met my. Kan jy dit glo, hy’t boonop verdwyn met die laaste van die familie se juwele. Weke later het hulle sy oorskot langs die ou Pretoria-pad gevind. Hy is vermoor, volgens Deborah. Sy’t ook erken dat hy toegegooi is saam met ander in ’n bedelaarsgraf. Sy het geen benul van waar hy lê nie.” Hy glimlag begrypend vir Kurt. “So my pa was ook nou nie juis ’n merkwaardige karakter nie!”
“Nee, daar het jy reg!” lag Kurt. “’n Gawe familie, is ons nie?” Hy deklameer melodramaties: “Die Mannheims van Mannheims Ruhe, waar die Victoriaanse geraamtes van gister ratelend heers in die ou kasarm van oupa Kurt!”
Heinrich lag, dan raak hy ernstig en staan op. “Ek dink ek moet so gou moontlik met Deborah praat.”
Kurt knik. “Dis nou ’n goeie tyd, terwyl Pa rus.” Hy staan ook op.
Heinrich huiwer nog ’n paar oomblikke, dan steek hy sy hand uit. “Gee my ’n vier en ’n vyf vir moed skep!”
Soos in hul kinderdae klap hy en Kurt hul hande teen mekaar in ’n geheime groet, dan lig Heinrich sy hand in saluut voor hy haastig teen die steil helling van die terras begin oploop.
John Digby het dieselfde digte swart hare as Heinrich gehad. Dit het sy gesig omraam soos die pels van ’n dier. Hoekom merk sy dit nou vir die eerste keer op? wonder Deborah. Hoekom herken sy nou vir die eerste keer ook Digby se trekke in haar broer se prominente neus? Die gene van sy pa … Maar Heinrich se oë, daardie helder silwergrys kykers, dié het hy van hul ma, Alisha, geërf.
Hoe lief het sy hierdie broer van haar nie! Soos gister onthou sy die wanhoopsnag van sy geboorte, die nag wat haar ma se lewe gekos het, en vir haar Heinrich gegee het, haar pasgebore broertjie na wie sy skielik moes omsien. Nou, ses-en-twintig jaar later, kom sê daardie selfde kind vir haar: Ek sal nie meer deel wees van hierdie familie nie, die Kerk word my enigste familie. Ek stel nie belang in die familieplaas nie, want my lewe lê by ’n priesterorde.
“Deborah?” dring haar broer se stem tot haar deur. “Sê jy dan niks nie?”
Deborah draai weg van hom en loop na die venster. Buite begin die skemer nou kleur en vorm uit te klad, alles word eenders en grys. Die personeel is daar, donker figure wat fakkels aansteek. Vreugdevure vir Heinrich en Karl se tuiskoms. Weer hoor sy hom haar naam noem, hoor sy hom pleit. Sy swaai om en loop na die muurskakelaar en skakel die ligte aan. Die skielike helderheid dwing hulle om hul oë te knip.
Sy lag. Dis ’n rinkelende, bros klank wat haar woede en teleurstelling moet versteek. “Nou kan ons mekaar minstens sien, want ek moet jou nou met nuwe oë bekyk. ’n Priester, nè? Hoe noem ek jou nou? Vader Heinrich?” Weer borrel die vreemde laggie oor haar lippe. Sy loop kopskuddend om haar lessenaar en neem haar plek in op die groot leerstoel.
Dis asof die stoel haar nuwe gesag gee, dink Heinrich. Onwillekeurig laat dit hom dink aan oupa Kurt, wat so dikwels in daardie selfde stoel gesit het.
“Jy’t my Heinrich laat doop, sus,” sê hy gelykmatig, “en vir julle sal ek altyd Heinrich bly.” Hy glimlag. “Maar ek moet nog ’n baie lang pad loop, minstens sewe jaar van studies voor enigeen my mag aanspreek as ’n priester.”
Deborah skud haar kop. “Ek kan my skaars so iets indink. Jy, ’n priester! Wat moet jy dra? ’n Lang swart gewaad?”
Hy kyk haar aan, sonder om ’n woord te sê.
Sy lag weer. “En daarby ’n growwe onderhemp gemaak van perdehare?”
“Nee, sus. Veel erger. Een gehekel uit die hardste klapperhaar uit jou mynkampong-matrasse. En daarby word ons almal voorsien van ’n dik sweep, om ons daagliks daarmee te kasty vir ons sondes!” Hy merk dat sy nabootsing van haar spottende stemtoon haar kwaad maak, maar sy glimlag steeds.
“Die blote idee is so gek, Heinrich, dat ek jou dokter toe sou gedwing het as jy jonger was. Jy wil alles opgee? Weet jy wat armoede is! Om as kerklike niks te mag besit nie!”
“Daar is ander dinge wat meer –”
“Om mense om jou te hê,” knip sy hom kort, “gedurig om jou, wat jou geestelik en liggaamlik leeg tap!”
“Ek bid dat ek die genade sal ontvang om sonder voorbehoud aan sulkes te kan gee, soos vader John aan sy armes gee.”
Sy kyk hom uitdrukkingloos aan, maar haar geklemde hande verklik aan hom hoe gespanne sy is. Hy voel so ’n diep deernis teenoor haar dat hy byna lus voel om te huil.
“Sê my een ding, het vader John daarvan geweet? Van hierdie diepe sielsbegeerte van jou?” Die vraag is so saaklik gestel, dit lok hom in haar strik.
Hy knik. “Ja, reeds van my sestiende jaar af weet hy daarvan. Maar hy het daarop aangedring dat ek ouer moet wees en doodseker moet maak van my roeping. Dit was eers nou, ná die jare wat ek op Sorgenfrei was, dat ek hom kon oortuig van my erns. Eers toe het hy vir my begin voorbrand maak. Sonder vader John sou ek nie ’n kans gehad het nie. My orde is gesog omdat heelwat van hul studente verkies word as kandidate vir die Vatikaan, waar ons ons studies uiteindelik voltooi.”
“Watter studies?” vra sy gemaak geïnteresseer, en weereens mis Heinrich die kilheid in haar stem.
Hy begin opgewonde verduidelik. “Kerklike doktrine, sus, die statutêre aspekte en al die dogmas. As mens aan die einde van jou studies verkies word, word jy opgelei vir diens in die Vatikaan self. Sommige word diplomate van die Kerk. Dis hulle werk om die beleid van die Vatikaan uit te dra en te verdedig. Maar tensy jy uit die adel kom, en nog boonop briljant is, is dit amper onmoontlik om in aanmerking te kom vir so iets.”
“En dit is jou ideaal, om een van die uitverkorenes te word?”
Heinrich bloos, sy hand begin selfbewus oor sy neus te vee. Hy skud sy kop. “Dit sou arrogant van my wees om op so iets te hoop, sus. ’n Gewone ou soos ek, en boonop een uit Afrika, staan maar min kans. Nee, ek wil net doodgewoon mense dien, dis genoeg vir my.”
Deborah leun terug in haar stoel. Verbeel hy hom, of is daar ’n trek van triomf op haar gesig? Sy glimlag effens.
“Sulke gekunstelde minderwaardigheid!” sê sy snedig. “Is dit dan nie ook ’n sonde nie? Jy en vader John het dit sekerlik bespreek? Dis presies hoe hy sy elitistiese orde aan jou verkoop het. Jy, ’n briljante student en ’n jong man afkomstig uit ’n uitstekende Johannesburgse familie, jy staan waarskynlik ’n baie goeie kans.”
Heinrich lag, kopskuddend. “Nee, dis presies die teenoorgestelde! Hy het my gesê om geen hoop te vestig op my agtergrond nie. En ek vra om verskoning as ek by jou die indruk geskep het dat die orde elitisties is, sus! Nederigheid is te alle tye die wagwoord. ’n Jesuïete-priester mag nooit ’n hoër amp in die Kerk aanvaar nie, ek sal nooit ’n kardinaal of so iets mag word nie.”
Sy suster kyk hom stip aan. “Opoffering? Sonder bymotiewe? Hoe –”
Die deur word onverwags oopgemaak en Karl, reeds verklee vir aandete, kom die studeerkamer binne. Hy voel onmiddellik die gespanne atmosfeer tussen broer en suster aan.
“Wat het ons hier? ’n Intieme familiegesprek?” vra hy op sy ou dralende manier en gaan leun teen die marmerkaggelrak.
Heinrich merk dat Karl so staan dat die los gedeelte van die baadjie wat sy verminkte arm se stompie kamoefleer, buite hul sig is.
Karl glimlag. “Toe ek ná my rus opstaan, is die huis skielik so stil soos ’n grafkelder! Net Lenie was daar. Sy’t my gesê julle is hier.”
“Ons was op die punt om ons by jou aan te sluit,” lieg Deborah stug.
“Werklik?” Karl lig een wenkbrou spottend, dan kyk hy na Heinrich. “As ek dit nie mis het nie, het jy jou suster van jou besluit vertel?”
“Ja.” Heinrich staan op en glimlag verlig vir Deborah, wie se gesig nou half in skadu versteek is. “Ek was teëkanting te wagte, maar ek dink sy verstaan.” Hy kyk dankbaar na sy suster. “Dankie vir jou begrip, sus, ek waardeer dit.”
Deborah antwoord nie, maar lig net ’n hand wat beduie dat sy Heinrich ontslaan uit die vertrek. Die kilheid in haar oë en die harde trek om haar mond ontgaan nie vir Karl nie. Hy ken haar te goed om nie haar opgekropte drif te eien nie. Hy kyk bejammerend na Heinrich. Jong idioot! Sy het hom duidelik valslik gerusgestel. Hoe swak ken hy nie sy suster nie!
“Dis goed!” verklaar hy vrolik. “Dan kan ons mos gaan eet, ek is skielik rasend honger.”
“Goeiste, en ek moet nog gaan verklee! Verskoon my.” Heinrich haas hom by die kamer uit.
’n Swaar stilte daal neer oor die vertrek, en nie Karl of Deborah blyk by magte te wees om dit te verbreek nie. Dis eers toe hulle van onder uit die huis die laggende stemme van die twee jong mans hoor dat Karl praat.
“Sorgenfrei … jou erfgrond, waarvoor jy alles opgeoffer het … ek weet dit kom nie maklik nie, Deborah. Jy het drome gehad vir Heinrich.”
Deborah soek allermins simpatie, veral nie van Karl nie. Sy kom orent uit die leunstoel en glimlag, oënskynlik onaangeraak. “Daar is iets wat ek jou wil wys, Karl,” sê sy byna opgewek. “Sal jy saam met my afstap na die ou koetshuis?”
“Nou?” vra Karl verbaas. “Dis al donker.”
Deborah lag. “Skaars.” Sy haak by hom in en trek hom na die venster. Buite word die tuin saggies deur die gloed van tientalle fakkels en kerse verlig, soos ’n flikkerende sprokiesland. “Komaan, ons mag Sam nie teleurstel nie. Ons moet sy harde werk bewonder!”
Buite ruik die naglug na kruie, brandende kerse en die fakkels se rook. Sy aan sy loop hulle by die terras se trap af. Wat is dit waaroor Deborah so begeesterd praat? wonder Karl. Dit is waarskynlik ’n truuk om sy aandag af te lei van Heinrich. Sou sy weet dat hy hier is om vir hom voorspraak te doen? wonder Karl ongemaklik, terwyl hy met verdeelde aandag na sy vrou luister.
“Dis so aangepas dat mens dit van binne kan beheer en met een hand kan stuur. Sam is oortuig dat jy geen probleme daarmee sal hê nie.”
“Probleme?” vra Karl, nou nog meer uit die veld geslaan. Hy besef hy het nie die vaagste benul waaroor haar opgewondenheid gaan nie. Hulle kom voor die koetshuis tot stilstand. Deborah druk die swaar deur halfpad oop. Sy stap binne en wink hom om haar te volg. Dan skakel sy die ligte aan. Die Benz se glimmende silwer koplampe skitter blitsend onder die ligte.
Karl kyk sonder begrip na die vaartbelynde voertuig.
Hy besef nie dis vir hom nie, dink Deborah geamuseer. “Dis joune, Karl, dis jou verjaardaggeskenk! Kyk, mens kan die enjin van binne af aan die gang skop, en die stuurwiel hanteer jy volgens Sam met jou een hand en knie.”
Karl loop nader en inspekteer die blink, gladde bakwerk. Hy loer deur die venster na binne: Die motor se paneelbord is van donker rooshout, en die sagte sitplekke is oorgetrek in sy geliefde kleur, donkerblou. Seker seemsleer, vermoed hy. Meesterlike vakmanskap. Die volmaakte rytuig vir ’n jong dandy, miskien … Maar vir ’n eenarm-frats soos hy? Sou sy dit met opset gedoen het, om hom meer bewus te maak van sy gestremdheid?
Hy draai om en sien die onsekerheid en die afwagting op haar gesig. Dan skiet die gedagte hom te binne: Hierdie geskenk, hierdie vaartbelynde Benz wat Deborah vir hom gekoop het, dit is die oplossing waarna hy gesoek het gedurende die lang ure van hulle terugreis – ’n rytuig wat hom finaal na die ander kant sal vervoer!
Hy glimlag vreugdeloos. “Dankie, dis ’n bedagsame geskenk.” Hy uiter ’n vreemde laggie. “’n Vuurwa,” deklameer hy, “die vuurwa van Hermes wat my na die son sal dra!”
Deborah glimlag opgetoë oor sy reaksie. “Wel, as dit jou digterlike siel weer aanwakker, was dit die moeite werd. Sal ons teruggaan? Die ander wag seker al op ons vir ete.”
Hulle loop op na die huis, elk verdiep in hul eie gedagtes. Hoër op, teen die heuwelkroon, skitter die verligte Mannheims Ruhe in al sy glorie. Die huis se mense is almal teenwoordig vanaand, dink Deborah met ’n gevoel van tevredenheid. Sy sal haar nie oor Heinrich bekommer nie, sy sal wel ’n manier vind om die priester-idee die nek in te slaan.
Hulle beweeg tussen Sam se brandende fakkels deur, tussen donkerte en lig, tot hulle uiteindelik die kortpad kies deur die onverligte berkebos. Die reuk van verrottende blare oorweldig skielik die swoel naglug. Dit herinner Karl aan die dood, maar – ja, ook aan liefde. Eenkeer, hoe lank gelede was dit nie, het hy en Deborah saam gelê op ’n bed van blare, só na aan mekaar … Nee! Nie daaraan dink nie! Hy moet hom afsny van sy gevoelens. Dit amputeer, soos hulle sy arm geamputeer het. Kan hy? Hy vrees daardie verskriklike alleenheid van die finale stap.
“Van wanneer af weet jy van Heinrich se besluit?” Haar stem sny deur sy gedagtes. Hy gaan staan en kyk stilswyend na haar.
“Karl?”
“Hy’t my in Parys gesê. Daarom het ek teruggekom.”
Die eenvoud van sy antwoord krap haar om. “O nè? Moet ek daaruit aflei dat jy hierdie malligheid steun?”
Karl sug. “Jy moet hom laat gaan, Deborah, hy is ernstig daaroor. Moenie hom probeer dwarsboom nie. Jy gaan hom dan vir goed verloor.”
Karl voel weer hoe ’n skielike benoudheid, byna soos ’n asma-aanval, hom wil verwurg. Selfs al kan hy haar gesig nie sien nie, is hy bewus van haar aggressie, dit omhul hom soos statiese elektrisiteit. ’n Paar oomblikke lank is hy onseker of hy by magte is om haar teë te staan.
“Het jy al daaraan gedink,” vra hy stil, “dat hy waaragtig ’n geroepene mag wees, Deborah?”
Sy lag spottend. “Luister na jou! Karl Mannheim, die agnostikus, bepleit geroepenheid? Moenie my laat lag nie!”
“Waarin ek glo, is my eie saak. Maar Heinrich is ’n sielsmens, hy is en was nog altyd so. Jy wil almal oor een kam skeer, hulle buig soos jy glo hulle moet wees. Elke mens het die reg om sy eie besluite te neem. Heinrich is ses-en-twintig, en hy –”
“Stop dit!” Sy is skielik siedend van woede, en dit is net met die uiterste inspanning dat sy haar stemtoon weer onder beheer bring. “Jou inmenging, wat Heinrich aanbetref, is ongevraag,” voeg sy hom yskoud toe. “In die verlede het jy jou skaars gesteur aan enige van die twee seuns se opvoeding. Ek het hulle grootgemaak, nie jy nie, so enige inspraak wat jy nou wil hê, is wat my betref onwelkom!”
Sy swaai om en begin driftig weg te loop, dan steek sy vas en snou hom vir oulaas toe: “Ek sal nie vanaand aan tafel wees nie. My eetlus is bederf.”
Hy hoor haar haastige voetstappe op die droë blare van die bos. Uiteindelik sien hy hoe sy die trap na die stoep opklim, steeds met dieselfde driftigheid waarmee sy weggestorm het.
Hy sug en begin stadig huis toe loop. Ook hy het geen aptyt meer nie, maar ter wille van Sam sal hy nie kan uitdraai nie, al verlang hy hoe vurig na die afsondering van sy slaapkamer. Sy kamer wat hy al soveel jare lank uitsluitlik met die skildery van sy ma, Jutta, deel.