Читать книгу Die goudbaronne - Lerina Erasmus - Страница 8
Hoofstuk 5
ОглавлениеDie kerkowerhede het ’n goeie twee dekades gelede die besluit geneem om vader John Xavier ná sy sestigste verjaardag hok te slaan. Die geweldige pas waarteen die ou man volgehou het om sy uitgebreide praktyk te bedien, moes volgens hulle ter wille van sy ouderdom ingekort word. Vader John het egter gereeld daarin geslaag om die “goeie mense”, soos hy die owerhede genoem het, te systap.
In sy vyf-en-sewentigste lewensjaar is daar toe opnuut geprobeer om die ou priester se veeleisende werkslas in te kort. Hulle het hom die gesogte amp van stadsbiskop aangebied, maar tot almal se konsternasie het die koppige ou man ná ’n week van afsondering sy bedanking by die uittredende biskop ingedien, met die verskoning dat hy ná afbidding nie sy weg oopgesien het nie. Hy het hom onwaardig gevoel vir so ’n belangrike amp. Geen verdere argumente kon hom van sy besluit laat afsien nie. Van toe af gaan vader John maar net soos tevore voort met sy rondes onder die armes in die haglike plakkerskampe om Johannesburg. Onder sy mense, soos hy sy pasiënte genoem het, het die priester met sy mankoliekige perdekarretjie die titel “vadertjie van die armes” verwerf.
So het hy voortgegaan tot 1909, toe die perdesiekte hom van sy vier getroue ou karperde beroof het. Die owerhede het van verligting gesug. Sonder sy perde was die ou kêrel nou letterlik gekniehalter en sou hy verplig wees om rustiger te leef. Hulle is wreed ontnugter, want hy was slegs een week sonder vervoer voordat ’n perdlose rytuig voor die abdy ingetrek het, ’n Ford, ’n Model-T, wat almal herken het as een van die vele rytuie van die skatryk Kit Malloy.
Vader John het die rytuig gesien as ’n gebedsverhoring – so kon hy nou ook baie vinniger sy talle rondes doen. Ongelukkig het die byderwetse voertuig met sy verbysterende spoed ook sy nadeel gehad. Op die ouderdom van nege-en-sewentig moes vader John aan die owerhede erken dat hy nie in staat is om die voertuig te bestuur nie. Hulle was daarom verplig om broer Andrew, die nuwe priestertjie uit Manchester, te vra om sy bestuurder te word.
Hoewel vader John seker dankbaar moes wees, het hy tog dikwels die salwende afsondering gemis van toe hy alleen op sy perdekarretjie was met net sy getroue ou rosse as kamerade. Hy het daarby ook maar baie goed geweet dat broer Andrew deur die ab aangesê is om ’n wakende oog oor hom te hou sodat hy hom nie te veel vermoei nie. Dit het vader John gegrief dat die klein haantjie hom berispe oor sy lang werksure en kan besluit of daar in die nag uitgegaan sal word of nie.
Presies soos nou, dink vader John geïrriteer, terwyl hy luister na die jongeling se relaas oor waarom hy hom nie gaan toelaat om die besoeker te sien wat op hom wag nie. Hy onderdruk sy eie krapperigheid en onderbreek die jong priester kalm.
“Dit sou uiters onbeskof van ons wees as ons nou weier om haar te sien, broer Andrew, sy wag al so lank.”
“Ek het reeds verduidelik dat u ’n baie vermoeiende dag gehad het, vader. Mevrou Mannheim sal sekerlik verstaan.”
“Dit betwyfel ek ten sterkste, my vriend. Jy sal nog leer dat niemand Deborah Mannheim laat wag nie.” Die ouer man kom stram orent. “Sy is ’n goeie mens en ’n waardevolle beskermvrou van die kerk. Daarby het Deborah nog altyd ’n oop hart en beursie vir my mense gehad. Dit sal nie deug om haar die harnas in te jaag nie.”
Broer Andrew maak sy mond oop om die ou priester te weerspreek, maar ’n ferm handgebaar laat hom anders besluit.
Die ou man praat, en daar is gesag in sy stem. “Broer, moenie dat ons nou verder daaroor stry nie! Gaan sê haar dat ek haar sal sien en begelei haar na die boonste sitkamer. Ek wil net gou was, dan kom ek onmiddellik soontoe.”
In haar ongeduld loop Deborah nou vir die soveelste keer heen en weer in die beknopte ruimte van vader John se sitkamertjie. In werklikheid is dit skaars meer as ’n sel met boekrakke waarop baie ou doktersboeke pryk. Daar is ’n lessenaar, ’n stoel, en vir besoekers ’n enkele gehawende houtbankie wat waarskynlik in die vorige eeu deur ’n priester uitgekerf is. ’n Geraamde negentiende-eeuse afdruk van Christus aan die kruis is al toegewing tot versiering in die vertrek.
Sy draai weg van die prent en loop na die smal venster wat haar ’n uitsig gee op die binneplein van die abdy. Daarvandaan sien sy hom in aantog, vader John Xavier. In die lig van die binnehof se lampe vertoon sy hare wit soos sneeu, maar eintlik is dit net sy grysheid wat die ou man se ouderdom verraai. Sy haastige tred en houding is nog net so fier soos toe sy hom meer as twintig jaar gelede vir die eerste keer ontmoet het. Teen wil en dank wel daar toegeneentheid teenoor hom by haar op. Was hy dan nie tog ook maar háár biegvader en vriend oor die jare nie? Knorrig stoot sy die versagtende gedagtes opsy; met die gesprek wat voorlê, is daar min ruimte vir enige simpatie of deernis.
Enkele oomblikke later kom vader John die vertrek binne. Hy glimlag breed vir Deborah, maar vind geen weerklank by haar nie. Hy ignoreer dit en stap nader.
“Dit spyt my dat jy so lank moes wag, Deborah, maar ons het so pas aangekom.”
“Ek weet, ek het julle sien stilhou. Daardie verwaande jong assistentjie van u het ook nie geaarsel om my te sê dat dit buite die kwessie is om u te sien nie.”
Vader John sug en haal sy skouers op. “Jeugdige entoesiasme. Hy is my onoffisiële oppasser, moet hom dit nie verkwalik nie.” Hy beduie na die onaansienlike bankie. “Sit, asseblief! Ek sal broer Andrew vra om vir ons tee te –”
“Nee!” Haar skerp reaksie en die kilheid op haar gesig laat die woorde op sy lippe stol. Sy tree nader aan hom. “Laat ons asseblief nie verder tyd verspil nie, vader. Ek glo u weet waarskynlik waarom ek hier is?”
Hy kyk haar ’n rukkie in stilte aan, dan knik hy en stap om sy lessenaar en neem plaas op sy hoërugstoel. Hy beduie weer na die bankie. “Sit, asseblief, so sal ons mekaar tog rustiger kan aanhoor.”
Deborah huiwer ’n paar oomblikke voor sy gehoorsaam, en dan ook maar duidelik teësinnig.
“Dit gaan om Heinrich, nie waar nie?” verbreek vader John die ongemaklike stilte. “Dit is waarom jy gekom het.”
Sy knik kortaf. “Oor baie jare heen was u vir my ’n vriend. Meer as dit. Ek het u gerespekteer as ’n soort vader, ’n mens met integriteit. Waarom het u my in Heinrich se geval in die rug gesteek?”
“Dit is die laaste ding wat ek ooit sou doen, Deborah. Jy behoort dit te weet.”
“Ek het Heinrich aan u toevertrou, maar u het my vertroue misbruik. Toe hy ’n vatbare seun was, het u hom oor die jare bearbei, hom dit ingeprent om priester te word, en dit terwyl u maar te goed weet waar sy verpligting lê.”
“Die mens wik, maar God –”
“Moenie op my asem mors met clichés nie!” voeg sy hom bitsig toe. “Kan u ontken dat u die een was wat my broer beïnvloed het om –”
“Ja!” roep hy ferm uit. “Ja, ek ontken dit! Nie ek of enigiemand het hom ingepraat nie. Geen mens kan ’n jongeling oorreed om selibaatskap te kies bo dit wat die sekulêre lewe ’n man kan bied nie. Dit kom van Bo, Deborah, dit moet jy aanvaar. Van sy sestiende jaar af al was dit jou broer se begeerte. Het jy nooit agtergekom dat hy as kind buitengewoon was nie?”
“Bog! Hy was ’n doodnormale seuntjie, tot u hom begin indoktrineer het. Is dit nie julle leuse nie? Gee my ’n kind tot sy sewende jaar en sy lewe behoort aan die Kerk.”
“Dit was ’n goeie tweehonderd jaar gelede die standpunt van die Jesuïete-orde, ja, en sonder begrip en buite verband aangehaal, het dit ’n sinistere klank. Ons leef nou in die twintigste eeu, en jy behoort self te weet dat ek nie ’n wafferse pedagoog is nie, daarby ook maar ’n vrotsige prediker. Ek is ’n geneesheer, ’n veldwerker wat nooit sou droom om iemand oor so ’n groot besluit te probeer beïnvloed nie.”
“Maar in die geval van my broer was dit anders … die ‘buitengewone kind’,” haal sy hom spottend aan. “Die versoeking kon u dié keer nie weerstaan nie. Dink u werklik dat ek net so sou kopgee? Toelaat dat Heinrich sy lewe vermors? Dat hy ingetou word deur die een of ander motgevrete priesterorde?”
“Die bisdom van Winchester word beskou as een van die beste ordes en die Moederkerk reken hulle hoog. Jy moet weet dat hulle wêreldwye respek –”
“Dit skeel my nie ’n duit nie! Verstaan my mooi, vader, my broer se toekoms lê op Sorgenfrei! Dit is syne, sy grond, en dit is sy heilige plig om daarna om te sien. Dis erfgrond, magtig, wat vir sy nageslag bewaar moet word!”
“Ek het medelye met jou woede en jou teleurstelling,” sê vader John met soveel opregtheid dat dit Deborah ontstem en opnuut driftig maak.
“Mý teleurstelling? Daar maak u ’n fout, vader John, want dis u wat u tyd op die verkeerde man verkwis het. Vergeet maar van my broer as ’n kerklike!” snou sy hom toe.
“Dit moet jy maar liewer aan God self sê, my dogter,” antwoord hy haar kalm. “Hy is die een wat die begeerte by Heinrich laat posvat het. Tien jaar lank het hy die boodskap van daardie roepstem probeer peil, hy het dit selfs probeer teëstaan ter wille van jou en jou ideale, maar die wil van God is wonderbaarlik sterk, dit weet ons ook uit die lewe van die Heiliges wat –”
“Heiliges?” Sy lag spottend. “Sleep u hulle nou ook by? Geloofshisterie is nie iets wat ek ooit met u vereenselwig het nie.”
Vader John betrag haar ’n lang ruk in stilte. “Die waarheid,” verklaar hy uiteindelik, “het nie ruimte om geloofshisterie te huisves nie.”
“Waarheid? Sê liewer kerklike doktrines wat u probeer versuiker, verdraai, net om u aandadigheid te motiveer.”
Ergerlikheid laat vader John se verweerde wange verkleur. Hy dwing sy effe geboë skouers agteroor en kyk haar streng aan.
“As ’n sondaar het ek baie foute, maar van oneerlikheid durf jy my nie beskuldig nie!”
Deborah hys haar orent en troon oor die man agter die lessenaar. “Ontken u dat u die een is wat die eerste voorspraak vir hom gemaak het by die danige bisdom waarin hy aanvaar is?”
“Nee, ek ontken dit nie, maar dit was eers verlede Desember. Dit het vyf jaar se oorreding van sy kant gekos voordat ek die eerste brief geskryf het – en terloops, jy oorskat my invloedsfeer. My stem, ’n stem uit Suider-Afrika, het min invloed daar. Jou broer was die een wat hulle beïndruk het, nie net as student nie, maar ook as mens.” Hy sug. “Deborah, probeer tog verstaan, Heinrich is verkies bo baie ander. Dis nie net vir hom nie, maar ook vir jou en die familie ’n groot eer.”
“Heuningsmeerdery werk nie met my nie, vader,” knip sy hom kort. “Sal ek u sê wat waarskynlik die meeste in sy guns getel het? Dat hy Heinrich Mannheim, ’n vermoënde jong man, is, ’n jong man uit een van die Rand se magtigste mynfamilies. Sê my, het u dit verswyg, vader John? Was dit werklik net sy geestelike verhewenheid en sy –”
“Ek het niks verswyg nie.”
“Bravo!” Sy klap haar hande spottend. “Nou begin ons vordering te maak.”
Hy kyk haar stil aan, ’n stilte wat haar onder die indruk bring dat sy hom in ’n hoek gedryf het, dat sy swye ’n soort erkenning is. Triomfantlik speel sy haar troefkaart: “Ek sal u sê hoe ons kan toets hoeveel waarde daar geheg kan word aan my broer se danige geestelike kwaliteite. U sien, as Heinrich besluit om sy rug te keer op die familie, sy erfplaas versaak vir ’n priesterorde, dan is hy wat my betref so goed as dood. Dan verdien hy nie meer wat die familie hom kan bied nie, en sal ek persoonlik sy naam uit ons familieregister skrap.”
As sy reaksie op haar dreigement verwag het, word sy teleurgestel, want vader John kyk haar steeds net in stilte aan. Dit spoor haar opnuut aan om hom verder uit te lok. “Heinrich beskik wel oor ’n fortuin in beleggings wat ek vir hom gemaak het vir sy toekoms, maar as dít die toekoms is wat hy kies, bly ek in beheer daarvan tot ék besluit of hy sy eie sake goed genoeg kan bestuur. Tot dan kry hy nie ’n pennie van my nie!” Sy glimlag seëvierend. “Sal ons hierdie uitgelese priesterorde van u voor so ’n toets stel, vader John? Sal hulle my broer nog met ope arms verwelkom as hy terugkeer na Brittanje as ’n brandarm bedelaar?”
Vader John, wat Deborah tot dusver in swyende ongeloof aangehoor het, ervaar ’n siek gevoel van ontnugtering. Eenmaal, lank gelede, het hy Deborah as sy protégée beskou. Sy was ’n mooi, intelligente jong vrou, vol waagmoed. Hoe het daardie vrou geword wat sy nou is? Maar dit is nou skaars ter sake, dink hy, sy het die Kerk beledig en dit durf hy nie toelaat nie.
Sy groot hande klamp om die leunings van sy stoel en hy hys hom orent. Vir die eerste maal troef sy blik haar genadeloos. Nou is daar geen toegeneentheid in sy oë meer nie.
“Nooit sou ek geglo het dat ek jou ooit sou bejammer nie, Deborah Mannheim, maar vandag is dit so. Ek voel jammer vir jou, ook bekommerd dat jy geestelik bankrot geraak het. Soos ’n vlieg sit jy vasgevang in die web van jou eie belangrikheid, jou besittings. Die Huis van Mannheim het jou god geword en dit het jou afgedwing tot die vlak van ’n goedkoop gierigaard. Dink jy werklik, vrou, dat jy God kan omkoop met geld? Weet jy dan nie dat die wil van God onverhandelbaar is nie? So is dit ook met sy Kerk. Jou broer is gekies uit negentig kandidate van oor die hele Europa, hy is aanvaar vir dit wat hy is. Hulle het vir Heinrich Mannheim aanvaar – nie sy fortuin nie. Tot jy dit verstaan, het ons niks meer vir mekaar te sê nie.” Die hand wat haar die deur wys, laat geen twyfel dat hy haar ontslaan nie.
Deborah voel soos ’n kind wat ’n skrobbering toegedien is. Sy draai om en begin loop, maar sy stem agter haar laat haar vassteek.
“Jy beskik oor die lewens van baie. Duisende mynwerkers sien na jou op vir hulle daaglikse brood. Dit maak jou magtig as mens, maar moet jouself nie mislei nie, Deborah, jy is en bly maar nog net ’n sterflike skepsel. Indien jy so dwaas sou wees om die hand van God te probeer buig, sal jy ongeluk op jou en jou huis neerbring. Dus – dink baie goed daaroor na!”
Sy kyk nie om nie, maar sy weet dat hy daar staan – ’n ou man, ja, maar ’n trotse figuur, geklee in sy eenvoudige swart toga. ’n Profeet, een wat dit waag om haar te verdoem. Sy wil hom nie weer sien nie, sy wil niks meer van hom weet nie. Sy ruk die deur driftig oop en verlaat die vertrek.
Die kerkklok kondig die einde van die aandmis aan en weergalm in haar ore soos die tamboerslae van haar eie hart. Haar woede maak haar duiselig. Sy pluk die motor se deur oop nog voordat Basjan kans kry om dit vir haar te doen en klim in.
“Maak toe die deur en ry!” beveel sy hom skerp. “Wat staan jy my daar en aangaap!”
Basjan gehoorsaam. Hy stuur die motor swygend deur die aandverkeer en wonder oor mevrou wat so buite haarself uit ’n kerk kan kom. Nog nooit tevore in al die jare wat hy haar bestuurder was, het mevrou op hom geskreeu soos wat sy daar by die kerk gedoen het nie. Hy loer vir haar in die truspieël, maar kan haar gesig nie uitmaak nie, want sy het tot in die diepste skadu’s ingeskuif. In stilte neem hy haar terug na die groot huis op die kruin. Vanaand is dit soos ’n Kersboom verlig, want al die mense is weer terug. Waarom is mevrou dan só soos sy nou is, en nie bly soos sy behoort te wees nie?
“Deborah?” hoor sy Heinrich se stem agter die deur van haar studeerkamer. Deborah ignoreer dit. Daar is geen sin daarin om nou met hom te praat nie, daarvoor lê haar woede ná die besoek aan vader John haar nog te swaar op die krop.
Weereens klink die sagte geklop op. “Deborah!” Die dringendheid in haar broer se stem laat haar besef dat hy haar nie in vrede gaan laat nie.
“Kom in,” beveel sy uiteindelik kortaf.
Heinrich maak die deur oop, maar huiwer ’n paar oomblikke op die drumpel. Deborah merk die onsekerheid op sy jong gesig en wil-wil vermurwe. Hoe kan mens lank kwaad bly vir Heinrich? Daar is so ’n helderheid in hom. Heinrich ken geen bedrog nie, so was dit van kleins af, maar dis asof sy dit nou vir die eerste keer besef. Was sy al die jare miskien tog blind vir haar broer se besonderse kwaliteite? Miskien wóú sy dit nie in hom herken nie?
Heinrich staan steeds in die deur. Hy vind sy stem. “Ek kom van die kerk af,” sê hy stil. “Vader John het my gesê dat jy by hom was …”
Heinrich se moed sak, want Deborah se gesig verkil by die blote noem van sy mentor se naam. Nou ja, dan is dit ook tot daarnatoe, besluit hy. Die saak moet tot ’n punt kom, want dit hang soos ’n wolk oor die huis en beïnvloed hulle almal. Die vorige aand was sy nie aan tafel nie en Karl, wat wel teenwoordig was, het smoordronk geraak. Hoewel Kurt voorgee dat sy pa se doen en late hom nie skeel nie, weet Heinrich dat dit Kurt diep verneder het, ook dat Deborah se afwesigheid hom omgekrap het. Daarom moet hy en Deborah die kwessie nou finaal uitklaar.
“Wil jy inkom, of wil jy buite bly?” vra Deborah kortaf.
Heinrich glimlag verleë en tree oor die drumpel. Hy stap oor die kosbare Persiese tapyte na die antieke lessenaar waaroor oupa Kurt steeds vanuit sy skildery waak. Sonder om op ’n uitnodiging te wag, gaan sit hy in die stoel teenoor haar. Hy kies sy woorde versigtig.
“Deborah, ek weet dat ek jou teleurgestel het. Ek weet ook dat jy vader John blameer, maar hy is waarlik nie –”
“So? Het julle twee jou suster, die genadelose materialis, bespreek? Ek hoop hy het jou ook gesê wat ek beoog as jy voortgaan met hierdie onsinnigheid.” Die woorde skiet venynig uit haar mond.
Heinrich sit baie stil, sy oë neergeslaan. Toe hy haar uiteindelik in die oë kyk, merk Deborah geen vrees in sy blik nie.
“Nee,” antwoord hy stil. “Hy het net gesê dat jy daar was, dat julle lank gepraat het. Hy het niks oor julle gesprek uitgelaat nie, maar ek vermoed julle was in ’n argument betrokke. Hy het diep ongelukkig gelyk. Hy is ’n ou man wat jou –”
“Ja! ’n Seniele ou man is wat hy geword het. Hulle moes hom lankal gedwing het om af te tree!”
“Jy bedoel nie regtig wat jy sê nie, sus!” pleit Heinrich. “Ek is die een om te blameer, moenie hom die skuld –”
“Heinrich! Genoeg is genoeg! Ek is keelvol vir die hele onsmaaklike debakel. Ek neem vader John kwalik dat hy jou oor die jare geïndoktrineer het. Ek het nooit vermoed dat die –”
“Jy beskuldig hom valslik!”
“Moet my nie in die rede val nie! Ek kan nie meer aan jou voorskryf nie, so jy is die een wat die keuse moet maak, Heinrich. Óf jy kom tot jou sinne, óf ek sluit jou uit die familie uit.”
“Dit is waarom ek nou met jou wou kom praat het. Ek voel skuldig dat my besluit die oorsaak was van al hierdie onaangenaamheid, daarom sal dit beter wees as ek padgee. Ek het met die ab gepraat, hulle sal vir my plek inruim in die abdy.”
“Dreig jy my?” vra sy met ingehoue woede, maar dan lag sy skor. “Soos ’n klein seuntjie wat dreig om weg te loop as hy nie sy sin kry nie.”
“Nee, allermins, maar –”
“Loop dan as jy wil loop! Trap! Maar weet net dat ek Mannheims Ruhe se hekke dan finaal agter jou sal toemaak.”
“O nè?” kom dit lui van die deur af. Karl slenter die vertrek binne. Aan die kleur van sy wange kan hulle sien dat hy nie heeltemal nugter is nie. Ten spyte daarvan glinster sy oë soos twee glimmende saffiere in sy afgetakelde gesig.
Karl lag saggies en gaan leun teen die lessenaar. “Hoe melodramaties, my liewe Deborah,” sê hy spottend. Hy boots haar na: “Hekke wat finaal agter jou sal toemaak? Ai tog, sulke bedompige Victoriaanse sienings! Weet jy nie dit het alles saam met daardie ou suurknol van ’n koningin uitgesterf nie?”
“Karl, jy het niks hier te make nie, verlaat asseblief –”
“Verlaat Pa se studeerkamer? Pa se huis? Óns huis, my geliefde vrou, moet dit nie vergeet nie!” Deborah se blik verskroei Karl, maar hy keer sy rug op haar. Hy sit sy hand op Heinrich se skouer. “Kyk, swaertjie,” sê hy, “moenie dat hierdie vrou jou intimideer nie. Die huis is myne ook, en al is ek bloot ’n miserabele skaduwee van ’n man, kan ek darem nog ’n voet neersit.”
“Karl, ek vra jou om ons alleen te laat!” roep Deborah woedend uit.
Karl glimlag honend, asof sy vrou se uitdrukking hom amuseer, maar in werklikheid sweet hy, en sy hart tamboer benoud in sy borskas. Hoe pynlik bewus is hy op hierdie oomblik van sy eie gevoel van minderwaardigheid teenoor hierdie formidabele blonde vrou. Maar hy mag niks laat merk nie, want dis wat sy wil hê, ’n teken van swakheid. Daarna is dit verby, dan verslind sy ’n mens. Met sy rug steeds na haar gekeer, stap hy ligvoets om Heinrich. Jy is op ’n verhoog, dis ’n teater, Karl Mannheim, maan hy homself, hou moed. Jy speel bloot ’n rol, almal in hierdie muwwe vertrek speel maar net rolle. Net hy weet dit egter, hy is die dramaturg, hulle sy pionne. ’n Bitter lag borrel skielik uit sy keel.
Broer en suster kyk ongemaklik na hom, dan na mekaar. Karl is duidelik nie homself nie. So skielik as wat dit begin het, net so skielik hou sy gelag op.
Karl pen vir Heinrich met sy een arm teen die stoel vas. Hy praat saggies, intens. “Onthou net dit: Solank ék hier is, sal niemand die hekke agter jou sluit nie.” In sy verbeelding word Karl, die akteur, Lodewyk XIV. Met ’n koninklike gebaar raak hy Heinrich se kop aan, asof hy hom salf, daarna trek sy hand die kruisteken daaroor. Hy lag weer en verklaar dan spottend: “Enchanté! Ek hou nogal van die idee. ’n Novisepriester in my huis. Sê my, vader, sal jy my siel in jou gebede onthou wanneer ek die emmer skop?”
“Ek het genoeg gehad!” Deborah staan op, haar gesig spierwit van opgekropte drif, haar donker oë vlam minagtend. Sy sou hom maklik kon haat! Karl, haar sogenaamde man, aan wie sy deur daardie onbesonne huwelik nou al soveel jare lank geketting is. Maar hierdie Karl is benede haat, daarvoor het hy te pateties geword.
“Jy is dronk,” sê sy toonloos. “Ek het dit nog altyd van die kinders probeer weghou, jou beeld probeer beskerm, maar nou is dit ook daarmee heen, want jy het nie meer ’n greintjie selfrespek oor nie.”
Heinrich besef met toenemende ongemak dat die twee mense saam met wie hy in die studeerkamer ingehok is, op die punt staan om mekaar te vernietig. Sy suster slaan weer met die wreedheid van ’n jagdier op Karl toe, haar stem steeds toonloos, minagtend.
“Ek wens jy kan jouself sien soos ek jou sien, Karl, ’n armsalige dronklap! Nee, nog beter: ’n mislukte dronklap, een met ’n af arm. Foeitog! Dis al waarop jy teer, twaalf jaar lank al, sedert die oorlog verby is, want Karl Mannheim is mos die enigste wat ooit vermink is! Ha!” lag sy honend. “Wat sou jy doen as jou arm nog daar was? Watter verskoning sou jy dan kon aanvoer vir jou hopeloosheid as mens en as man? Man? O nee, ’n man is jy nie, jy is die naam nie waardig nie!” Met afsku tree sy weg van hom. “Jou selfbejammering vreet jou op. Daar is ander wat veel meer verloor het as jy, Karl!”
Haar stem is kil, en haar woorde tref Karl soos vuishoue. In sy verbeelding sien hy hoe elkeen van hulle inwendig bloed trek, wonde wat soos fonteine in sy ingewande opstu en dan wegborrel in ’n rivier van pyn.
Stadig draai hy na haar toe. Vir die eerste keer in ’n lang ruk sien Deborah weer emosie op Karl se gesig. Hy haat haar, besef sy. Dit wys onverbloem op sy gesig, sy blik is koud, moorddadig op haar gevestig. Dit verbaas haar, maar raak haar nie werklik nie. Waarom sou dit? Wat hy vir haar voel, maak al jare lank nie meer vir haar saak nie. Sy gee nie ’n duim bes toe hy met afgemete treë na haar loop nie.
Karl kom voor Deborah tot stilstand. Iewers waarsku die stem van rede hom dat hy hom moet inhou, dat hy die woorde wat reeds tot vlymskerp dolke op sy tong geslyp lê, moet terugsluk, want dit gaan die laaste flenters van hul reeds wankel verhouding vir goed vergruis. Hy besef dit, maar hy kan homself nie meer keer nie. Miskien sal dit vir albei ’n verlossing wees om los te spat uit die Gordiaanse knoop waarin hulle lewenslank saamgesnoer was.
Sy gesig verraai niks van hierdie botsende emosies nie. Hy betrag haar ’n paar oomblikke met duidelike minagting. Toe hy praat, is sy stem stil, so stil, minder as die ruising van ’n windjie deur verdorde blare, die sagte geritsel van ’n slang deur gras.
“Daar is jy sekerlik wéér reg, my liewe vrou. Wat is die verlies van ’n arm in vergelyking met wat jou oorgekom het?” Hy draai effens, sodat hy Heinrich ook kan betrek. “Verkragting! Ja, het jy dit geweet, Heinrich? Weet jy dat ’n hele korps verkenners jou formidabele suster deurgedraf het?”
Deborah snak na haar asem, die laaste druppel bloed dreineer uit haar bleek gesig. “Dis ’n leuen!” prewel sy, haar lippe stram van skok. “Hoe durf jy!”
Hy lag saggies, spottend. “’n Leuen? Gedink ek het nie geweet nie? Stories versprei, my liewe vrou. Daar was baie bespiegelinge, mense wat vrae gevra het toe die een ná die ander van die Rimington Tigers so gewelddadig omgekom het. Sê my, was dit jou minnaar? Dit wás mos Kit Malloy se werk, nè? Mense het nogal gepraat … soveel stories, soveel gerugte.”
Karl voel lighoofdig noudat die woorde uit is, hy voel ’n triomfantlike dronkheid. Hy het haar gekwets, tot op die nerf. Daar loop nou bloed. Net soos sy hom al soveel male vergruis het, staan sy nou ook daar, weerloos en naak in haar pyn. O, dit voel goed. Here, dit voel so goed om een maal oor Deborah die oorhand te hê!
’n Eienaardige laggie borrel skielik uit sy keel. “Snaaks, ons het nooit daaroor gepraat nie, prinses. Miskien het jy … ek wonder, miskien het jy dit selfs geniet? Want dit is soos jy sê, ek was nog nooit veel van ’n man vir jou nie.”
“Karl, asseblief!” soebat Heinrich, nou heeltemal verbouereerd.
Maar nie een van hulle hoor hom nie, want man en vrou is so ineengestrengel deur die haat van soveel jare. En nie een kom agter dat Heinrich uiteindelik stil-stil die aftog blaas nie.
Uiteindelik kan Deborah weer praat, maar haar stem klink vir haar soos dié van ’n vreemdeling. “Jy het my lank gelede misbruik, Karl. Ek kon jou dit vergewe. Baie van jou dinge het ek oor die jare oorgesien, jou onbetroubaarheid, jou flankeerdery, jou swakheid en jou monumentale selfsug. Vir alles het ek ’n verskoning probeer vind, maar dit wat jy nou hier aan my gedoen het – en dit voor Heinrich – is onvergeeflik.” Sy tree agtertoe, weg van hom. “Jy walg my! Ek sal naar word as ek een oomblik langer in jou gesig moet vaskyk!” Sonder ’n verdere woord loop sy by die vertrek uit.
Soos ’n oop, kloppende wond tamboer die besef in Karl se brein dat alles verby is. Sy drif verlaat hom soos wind wat skielik uit ’n ballon gelaat word. Sweet pêrel op sy voorkop, en byna onmiddellik is sy hele gesig blink en nat. Morfien. Dis altyd so wanneer hy dit gebruik. Maar tog gee dit hom ook moed, daarsonder kom hy nie meer deur nie. ’n Loodswaar moegheid oorweldig hom en dwing hom om te gaan sit. Hy kyk op en sien in die laaste suinige lig wat flou deur die venster sypel die skildery van sy pa wat verwytend na hom staar. Dis asof die ou man weereens wil uitroep: Het ek jou nie altyd gesê dat jy ’n misbaksel is nie, Karl … dit is wat jy is, jou ma se kind, ’n swakkeling!
“Vuilgoed!” fluister Karl. “Jou siek, gemene ou reptiel!” Hy haat hom! Haat haar! Hoe haat hy haar nie. Sy asemhaling versnel. Hy haat haar genoeg om … om haar … Hy prewel, bewus van die sweet wat op hom uitslaan. Hy sit baie stil, want plotseling tower sy verbeelding ’n tafereel op. Hy sien dit soos ’n visioen: Hulle is saam, hy en Deborah, saam vir ’n laaste maal. Sy hart klop oorverdowend, dis die morfien … Nee, nee, dis ekstase, beter as seks! Karl glimlag, hy kyk triomfantlik op na ou Kurt Mannheim se afbeelding en spreek die woorde uit wat sy gedagtes vul. “Ek haat haar … soveel, Pa, dat ek haar … dat ek haar gaan doodmaak!”
Karl voel skielik verwese. Hy is te moeg om op te staan, daarom laat sak hy maar sy kop op sy arms … en ’n bedwelmende loomheid suig hom onverbiddelik in ’n wit stroom in, diep, vertroostend. Dit keer dat hy, soos toe hy nog ’n kind was, huilend aan die slaap raak.
“Genugtig, Heinrich. Wat de duiwel skort met julle almal?” roep Kurt ongeduldig uit. “Jy kan nie net so uitloop nie – jy hoort hier, dis jou huis! Jy steur jou te veel aan Ma, môre sal sy daarmee vrede maak, jy moet haar net tyd gee.”
Heinrich knip sy tas toe en glimlag vir Kurt se besorgde gesig. Hy klop hom op die skouer. “Dis beter so. Oor drie dae vertrek ek in elk geval. As ek weg is, sal dinge weer normaliseer. Sê asseblief vir Deborah wanneer sy kalmer is dat ek nie weg is uit nukkerigheid nie, dis maar net omdat daar sake is wat ek nog moet afhandel met vader John.”
“Dit gaan haar net seerder maak, Heinrich. Sy sal wil hê dat jy jou laaste dae hier moet deurbring.”
“As sy wil, kan sy my by die kerk kom sien.”
Kurt kyk hom ’n paar oomblikke omgekrap aan. “Heinrich, dink aan … Nee, wag, ek sal jou gaan aflaai,” kapituleer hy.
“Nee, dan is jy laat vir ete. Ek sal vir Moses vra.”
“Sal ons mekaar sien voor jy weggaan?” vra Kurt nou opnuut onthuts.
“Natuurlik! Soveel kere as wat jy wil.” Heinrich lig sy tas op en probeer om te glimlag toe hy sy hand na Kurt uitsteek. “Gee my ’n goeie vier en vyf vir geluk, neef! Ek het dit nodig.” Hulle groet op hul tradisionele wyse, dan druk Kurt Heinrich teen sy bors vas.
“Ek weet dis jou roeping,” mompel hy gesmoord. “Ek weet dat jy nie anders kan nie, maar ek gaan jou mis, Heinrich! Magtig, hoe gaan ek jou nie mis nie!”
“En ek vir jou. Loop saam met my ondertoe en hou op om sentimenteel te wees, maat. Ek gaan in die kerk in, nie die leër nie!”
“Ek weet nie watter een die ergste is nie. Dit voel of ek my beste vriend aan iets … ’n ander lewe moet afstaan!”
Deborah wil verstik, verstik in die Januarie-nag se hitte wat soos ’n kombers oor die stad hang. Al dae lank hou Johannesburgers die suiderkim dop waar belowende wolke telkens in die laatmiddag begin opbou en weerlig snags in kettings uitslaan. Maar elke keer steek die nagwind op en verwaai die wolke. Dan breek die môre weer wreed en helderwarm aan, net soos gister en die dag vantevore.
Vannag is dit anders. Daar is geen nagwind nie, geen koelte nie, net die neerdrukkendheid en die stilte wat teen haar natgeswete slape klop.
Hulle is weg, almal behalwe Karl, wat sy roes lê en afslaap, dink Deborah. Sam het hom in ’n onkapabele toestand in haar studeerkamer gevind en hom toe in die bed gesit. Dis beter so, sy sou die man se teenwoordigheid skaars kon verduur nadat hy haar so voor Heinrich verneder het. Hoe het Karl daarvan te hore gekom? vra sy haarself vir die soveelste keer af. ’n Blos stoot koorsig in haar nek op. Haar behoud deur die jare was dat sy oortuig was dat niemand daarvan weet nie.
Twaalf jaar lank het sy die insident diep in haar geheue versteek, daarvan probeer vergeet, en soms wou sy glo sy het. Maar sy het geweet dat sy haarself flous, want jaarliks, altyd op die twaalfde Julie, het die aaklige herinnering teruggekeer asof dit gister was. Dan het sy weke lank nagmerries gehad oor daardie middag in ’n swartgebrande slagveld, toe kru barbare haar liggaam oor en oor onteer het. Ná daardie drome het sy altyd in ’n angssweet wakker geskrik, en huilend onthou van die pyn en vernedering. Ná so ’n droom kon sy nie weer slaap nie en het sy die nag deurgebring in ’n makabere nagwaak, en haar verwonder dat sy dit oorleef het. Teen dagbreek, wanneer kalmte en logika uiteindelik weer die nagmerries verdryf het, kon sy altyd vasklou aan die enkele sekerheid: Niemand weet daarvan nie.
Die enigstes wat destyds miskien iets vermoed het, was die vroue in die konsentrasiekamp wat hulle oor haar ontferm het. Maar so baie van hulle het omgekom in die kamp, sy het niemand van hulle ooit weer gesien nie. Dit is net Bess wat nog oor is … maar Bess was destyds te jonk om te weet wat met Deborah gebeur het. Die verkragters is ook almal dood. Dis asof ’n wraakgod onder hulle begin maai het. Afgesien van Breaker Morant en sy makker wat tereggestel is, het die res van hulle een ná die ander op ’n makabere manier gesterf. Destyds – dit was voor sy oortuig was van sy verraad – wou Deborah glo dat dit Kit Malloy was wat haar ontering gewreek het. Vanaand het Karl se uitlatings haar weer daaraan herinner. Die enigste ander mens wat daarvan geweet het, was Kit Malloy. Tog kan sy nie glo dat hy ooit so iets sou verklap nie, veral nie aan Karl nie. Maar sy was vantevore al verkeerd oor Kit Malloy …
Ver onder in die straat hoor sy die geluid van ’n naderende motor. Dis laat, ná twaalf al. Waarskynlik Kurt wat terugkom. Sou Heinrich alles wat Karl uitgelap het aan Kurt gaan staan en oorvertel het? Die jeug is wreed en onnadenkend, maar sy twyfel. Heinrich is te fyn ingestem op die gevoelens van ander om so iets te doen.
Die klank van die motor dreun nader vanuit die rylaan na die huis. Dit ís Kurt, dink sy. Skielik wens sy dat sy soos in die ou dae ondertoe sou kon gaan en hom inwag, om dan saam met hom en Heinrich ’n middernagfees te hou, te lag vir hulle jeugdige kwinkslae … Maar sy weet dat daardie dae iets van die verlede is. En beslis nie vanaand nie. Vanaand is sy in hierdie kamer ’n gevangene, ’n prisonier van haar eie skaamte en vernedering.
Bang dat hy sal kom nag sê as hy die lig in haar kamer sien brand, skakel sy dit haastig af en staan daarna roerloos in die donkerte en luister hoe die motor voor die stoep stilhou. Sy hoor sy voetstappe toe hy oor die keistene stap … dan by die kliptrap op. Vreemd hoe trek klank op so ’n stil nag.
Doelloos loop sy na die oop venster, al weet sy dat sy daar min verligting sal vind. Skielik voel sy oneindig verlore. ’n Groot hartseer sak oor haar toe, maar dié keer is sy dankbaar daaroor en vind sy uiteindelik ’n mate van verligting in die trane wat ongehinderd oor haar wange stroom in ’n oorweldigende ontlading van die verdriet wat sy so lank moes opkrop. Tog! Sy moet haar inhou, maan sy haarself. Kurt mag nie hoor nie! Sy sak op die sofa neer en druk haar traanbesmeerde gesig in die kussings.
Deur haar oorstelpte gemoed galm daar plotseling ’n ander hinderlike refrein, dié van vader John: Soos ’n vlieg sit jy vasgevang in die web van jou eie belangrikheid, jou besittings. Die Huis van Mannheim het jou god geword en dit het jou afgedwing tot die vlak van ’n goedkoop gierigaard …
Wat weet die ellendige ou priester? Hoe durf hy sy mening lig oor iets waarvan hy niks weet nie? Wat kan hy weet van die sieldodende jare waarin sy alleen besluite moes neem, wat weet hy van die vrees wat soos ’n rot aan jou knaag wanneer daar ondergronds ’n oorstroming is wat jou mynwerkers se lewens bedreig? Van haar onsekerheid wat sy beswaarlik kon versteek toe die laaste oproer onder die swart en wit myners uitgebreek het? Hoe kan hy, ’n selibate man, weet hoe sy as ma moes wroeg wanneer sy ’n siek kind noodgedwonge in ’n ander se sorg moes laat, omdat sy moet omsien na ’n mynskag wat toegeval het? Die ou man weet ook nie van haar knaende eensaamheid nie, haar frustrasies, hoe haar onvervulde liggaam deur die jare verraderlik bly smag het na die een man wat vir haar buite perke is. Hoe sou hy ooit kon weet van die man wat sy met alle mag probeer haat het, die man wat tydig en ontydig hom tuisgemaak het in haar gedagtes, wat haar in haar drome besoek, net om haar daarna skroeiend bewus te maak van haar leë bestaan sonder warmte of liefde. Sulke jammerlike, bar jare van eensaamheid … Sy moes tog teen dié tyd al daaraan gewoond geraak het. Maar nooit vantevore het sy so van God en mens verlate gevoel soos juis vanaand nie.
“Mamma?” ’n Onseker fluistering.
Haar seun moet die deur so saggies oopgemaak het dat sy dit nie gehoor het nie. Sy bly doodstil sit, wetende dat die hoë syleuning van die groot sofa haar verskuil. Kurt mag haar nie só sien nie, dink sy met opgehoue asem. Maar ná ’n rukkie hoor sy hom saggies nader kom. Roerloos wag sy hom in.
“Mamma?” vra hy besorg.
Sy wil hom antwoord maar sy kan nie, want die hartseer sit verstikkend opgebondel in haar keel. Sy voel die warmte van die sterk jong liggaam wat langs haar gaan sit.
“Mamma …” Sy hand reik uit, soek hare, streel daaroor, dis vreemd kalmerend.
Uiteindelik waag sy dit om haar kop te lig, maar sy vermy dit om na hom te kyk. “Dis niks, gaan slaap, dis laat,” fluister sy, haar stembande steeds opgeswel van die huil.
Kurt gee nie gehoor nie, maar bly net troostend oor haar hand streel.
Uiteindelik waag sy dit om na hom te kyk. Sy sien haar seun se gesig in die lig van die gang wat by die donker kamer inskyn. Hy kyk haar gekwel aan. Soos alle ander lede van sy geslag weet hy waarskynlik nie hoe om so ’n situasie te hanteer nie, dink sy. Dis seker erg vir hom, ’n huilende vrou, en veral omdat daardie vrou sy ma is. Die gedagte amuseer haar. Sy trek haarself orent en dwing ’n glimlag om haar mond.
“Alles is in orde, Kurt, dis sommer nostalgie. Miskien die ouderdom. Hulle sê my ’n mens raak so as jy ouer word.” Sy gee ’n skor laggie.
“Mamma is nie oud nie. Jy sal nooit oud word nie!”
Sy woorde is so opreg dat hulle haar diep raak. Sy glimlag dankbaar vir hom, die kind op wie die lewe nog geen letsel gelaat het nie. “Gaan slaap nou,” gebied sy hom weer saggies.
Kurt skud sy kop. Voor Deborah besef wat hy doen, omvou sy arms haar. Sonder om na haar protes te luister, staan hy op en druk hy haar styf en troostend teen sy bors aan. Hy wieg haar beskermend, asof sý nou die kind geword het.
Hoe goed is dit om so getroos te word, dink sy. Om veilig te voel in arms wat jou liefdevol vashou, die arms van iemand wat omgee, bloed van jou bloed. Haar seun, al wat sy in die lewe oorhet.
’n Lang ruk staan Kurt so met sy ma in sy arms. Hy probeer verward uitwerk wat die regte ding is om te sê of te doen. Nog nooit het hy sy ma so weerloos gesien nie. Dit wat hier gebeur het, was nie vir sy oë bedoel nie, besef hy. Sy is so onafhanklik en so trots, hy weet dat sy haar môre hieroor sal skaam. Daarom moet hy sy woorde nou baie versigtig kies, anders skulp sy toe. Soos sy nou is, is sy meer toegeneë, moontlik meer vatbaar vir dit wat hy wil bepleit – dat die vrede tussen haar en Heinrich herstel moet word voordat Heinrich vertrek.
Daarom wag Kurt geduldig op die regte oomblik, wag hy totdat die siddering wat so meedoënloos deur sy ma se liggaam stu, uiteindelik bedaar. Toe los hy haar, laat sy arms haar uiteindelik vry. Hy grinnik seunsagtig en soen haar op die voorkop, soos sy hulle altyd gegroet het.
“Is Ma lief vir my? Want ek is lief vir Ma,” speel hy die speletjie van sy kleintyd.
Dit is soos balsem vir haar gekneusde gemoed. Sy knik aangedaan. “Ek is lief vir jou,” prewel sy saggies. “Ek is baie lief vir jou. Jy is al wat ek het.”
Hy trek haar aan haar arm en dwing haar om weer langs hom op die sofa te kom sit. “Bog, Mamma!” sê hy ferm. Hy neem haar hand in syne en praat met ongewone erns. “Sal Mamma my kans gee om te praat voor Mamma my in die rede val?”
Sy knik.
Hy huiwer nog, dan sê hy: “Een nag op Sorgenfrei, lank terug, het ons drie, ek en Heinrich en Mamma, daar in die bakkrans teen Patryskop gesit en kyk hoe die maan oor die Lootsberg seil. Ek het gevoel of my hart wou bars van blyheid, want dit was vir my of die maan ook aan Sorgenfrei behoort het, die hele wêreld aan Sorgenfrei behoort het, want Sorgenfrei was toe vir my die middelpunt van die aarde.”
“Ek weet,” sê sy sag. “Toe ek jonk was, het ek ook dikwels so gevoel.”
“Ek was so trots, Mamma, ek wou bars van trots omdat dit ons grond was, ons plaas.” ’n Paar oomblikke bly hy stil, die herinnering helder in sy geestesoog. Hy kyk na sy ma en glimlag. “Later daardie nag, ná ons kerse uitgeblaas het, het ek en Heinrich soos altyd in die donker lê en gesels. Ek het hom vertel van die gevoel wat ek gehad het in die bakkrans. Ek dink ek het skuldig gevoel omdat ek altyd jaloers was op hom, juis oor Sorgenfrei, die plaas wat hy eendag sou erf.”
’n Skor lag ontglip Deborah se lippe. “Hoe ironies … As ek toe –”
Kurt hou sy hand op. “Ma het belowe om te luister!”
Sy knik en vou haar hande verskonend saam.
“Heinrich het my toe vir die eerste keer vertel dat dit vir hom anders is as vir my en Ma. Hy het gesê dat hy beswaard voel oor die idee dat hy eendag op Sorgenfrei moet boer. Ek onthou nog goed hy’t probeer spot oor sy vrese, hy het gesê: ‘Ná al die jare, selfs met Deborah as ons leermeester, is ek nog steeds nie ’n wafferse ruiter nie.’ En toe, Mamma, toe sê hy: ‘Ek is nie ’n boer nie, Kurt. Ek sal nooit een wees nie. Eendag sal dit jy wees wat na Sorgenfrei sal moet omsien.’”
Kurt vee die los haartjies wat uit haar streng chignon ontsnap het weg uit sy ma se gesig. “Vandat ek kan onthou, wou Heinrich ’n priester word, Mamma. Dit is nie ’n nuutjie nie. Dit was van daardie nag af dat ek in my hart geweet het dat Sorgenfrei eendag my deel gaan word, en dit het my bly en trots gemaak. Dis nes dit vir Mamma ook is, ons is van meet af aan Sorgenfreiers, Mamma, die plaas is in ons harte en saam kan ons dit beter maak. ’n Pronkplaas soos dit was toe oupa Heinrich daar geboer het.”
“En die myne? Mannheim Enterprises? Jou oupa Kurt het selfs nog voor jou geboorte –”
“Verduiwels, Ma!” roep Kurt ongeduldig uit. “Dis die twintigste eeu. Oupa Kurt is dood, waarom …” Hy sug. “Hoe kan julle ouer mense so wette neerlê, ’n patroon uitdruk waarin julle ons kinders se lewens wil dwing. Het ons dan nie die reg om eie besluite te neem nie?”
“Dwing? Kurt, het ek jou ooit in ’n rigting gedwing?” sê sy skor, beskaam oor die vrees wat in haar stem deurslaan.
“Nee, Mamma, nee …” Hy vou albei haar hande in syne toe. “Dit is wat ek vir Ma probeer sê: soos Sorgenfrei vir my belangrik is, net so belangrik is die myne vir my. Dis dan in my bloed, net soos dit in Mamma s’n is. Ons twee praat nog altyd dieselfde taal.” Sy jong gesig is vol entoesiasme. “Ek en Mamma gaan saamstaan, ons gaan ’n span maak soos min. Ma het self gesê – die dag ná die krieketwedstryd, onthou Ma? – dat ons ’n span gaan word wat niemand sal kan klop nie!”
Verwonderd staar Deborah haar seun aan. Sy woorde bring hoop vir die toekoms wat onlangs vir haar so donker gelyk het. Hoe wonderlik sal dit wees om haar kennis te deel met hierdie kind van haar, die een mens wat haar nooit sal verraai nie!
“Maar ek vra mooi, Mamma, moenie Heinrich op so ’n manier van ons laat weggaan nie. Ons drie is te na aan mekaar! Laat hom toe om sy roeping te volg. Hy het eintlik nie ’n keuse daarin nie, Mamma, want dis tussen hom en God.”
Sy kyk weg van hom en bly roerloos sit totdat hy uiteindelik half onseker sy hande van hare wegneem. Asof sy daarop gewag het, kom sy stadig orent. Sy loop styf van die lang sit na die middel van die vertrek. Haar hand vind ’n skakelaar. Die lig wat so skielik die donkerte verdryf, dwing hulle om hul oë teen die felheid te knip.
Sy bly staan met haar rug na hom gekeer. “Jy het ’n mondvol in so ’n kort rukkie gesê, Kurt. Te veel, miskien, vir so ’n laat nag. Laat my nou in vrede, asseblief?”
Die streng lyn van haar rug waarsku Kurt dat enige verdere toenadering van sy kant af haar privaatheid sal skend. Hy ken daardie ongenaakbare houding van sy ma maar te goed, daarom staan hy op en loop deur toe.
“Nag, Mamma. Maar nog net dit: Heinrich is Mamma se broer, maar ek en hy het saam grootgeword, en veral in die koshuis tydens en ná die oorlog het ons nader aan mekaar gegroei as bloedbroers. Hy voel vir my meer soos my tweeling as my oom. Moenie hom verder seermaak nie, want dan maak Ma my ook seer.” Die deur gaan met finaliteit agter hom toe nog voor sy kan omdraai.
Lank bly Deborah daar staan, haar oë steeds op die deur gerig. Toe loop sy na die rooshout-staanspieël. Met min belangstelling kyk sy na haar beeld. Sy sien ’n maer witkopvrou met ’n strak gesig, onverbiddelike oë, ’n vrou wat haar eie beeld agterdogtig bespied. Sy sug, draai weg en loop weer venster toe om lug te soek. Sy merk nou eers dat dit saggies begin reën het. Die klam, ryk reuk van die dorstige grond walm die vertrek binne. Dis soos die reuk van warm, vars gebakte plaasbrood …
Sy maak die venster so wyd oop as wat sy kan en trek diep teue van die reënlug in haar longe in. Met die koelte van die laatnag kom dan geleidelik ook aanvaarding. Môre is ’n nuwe dag, en met die vroeë oggendmis sal sy kerk toe gaan. Sy sal gaan vrede maak, eers met vader John en daarna met haar broer. Sy sal Heinrich sê dat sy hom nie sal teëstaan nie. Môreoggend vroeg sal sy hom haar seën gee. Dis goed, die uiteindelike bevryding wat berusting haar bring, dink sy.
Reëndruppeltjies val liggies op haar gesig, op haar lyf, op haar hande. Sy maak haar oë toe. Slaap … vannag sal sy slaap.