Читать книгу Die goudbaronne - Lerina Erasmus - Страница 13
Hoofstuk 10
ОглавлениеKit kyk geamuseer na sy dogter. Soos ’n uitgelate skoenlapper dartel sy tussen die chaos van die ses halfuitgepakte kajuitkoffers rond, op soek na geskenke. Parys het duidelik sy merk op Vickey gelaat, want sy kind het beslis ’n Franse sofistikasie ontwikkel. Sy het in ’n selfversekerde jong dame ontluik. Die hoop presente wat sy uit die kajuitkoffers opgediep het, lê al in ’n berg op haar bed opgestapel. Sy het nie een van hul werknemers vergeet nie, so het sy hom op pad terug van die stasie meegedeel. Sy voeg die laaste pakkie by die hoop en ’n helder laggie borrel uit haar keel.
“Voilà! Almal hier behalwe joune, Pappa, dit kry jy eers vanaand.” Sy slaan spontaan haar arms om sy lenige lyf. “Mon cher … my liefste, liefste Pappa. Ek is so bly om terug te wees!”
Kit lag, diep gelukkig om weer sy lieflingskind by hom te hê. Van onder in die huis klink die geklingel van die teeklokkie. “Komaan!” beveel hy. “Rosie het drie weke en drie dae lank gebak vir jou tuiskoms. Ons mag haar groot oomblik nie bederf nie.”
Vickey neem haar pa se arm en lag rinkelend. “Oe-la-la, mon cher Papa, en wat van my figuur?”
Hulle verlaat die deurmekaar kamer en loop ingehaak in die galery af tot by die trap. In haar opwinding babbel Vickey onverpoos voort. “Onthou Pappa daardie donkeroog-modéliste, Coco Chanel?”
Kit frons effens en skud dan sy kop.
“Skaam jou, Paps!” Sy piets Kit se hand liggies. “Sy was baie erg oor jou. Onthou jy nie die afskeidsbal in Deux-Villes nie? Julle het tog ’n hele paar keer gedans.”
Kit onthou die dame met haar uitdagende opmerkings baie goed. Hy onthou ook dat sy hom geamuseer het, maar sy was gou vergete, nes al die ander demoiselles in die entourage van comte Henri du Valois.
“Wat van haar?” vra hy gemaak belangstellend, terwyl hulle ingehaak die trap afstap.
“Sy maak nou opslae in die modewêreld van Parys, Pappa. Sy is revolusionêr, uiters risqué, maar sy het die stad verower en flankeer ook nou met teaterontwerp. Diaghilef, die impresario, is een van haar kliënte. Tesame het hulle die mees gewaagde balletuitvoering op die planke gebring. Haar stelle en kostuums het die hele Parys tot in hul grein geskok!”
“Goeiste,” lag Kit, “dan moet dit die sondeval self gewees het.” Die Franse se oënskynlike gebrek aan morele waardes het hom nog altyd geamuseer.
“O, ek was mal daaroor! En ek is gek oor haar klere,” verklaar sy dogter onomwonde. “Dis gemaklik en prakties, en dis bedoel vir die twintigste eeu. Korsette en opsmuksels is dood, Pappa, so dood soos ’n dodo. Dis die slanker lyn wat tel.” Sy lag skertsend. “Rosie mag my onder geen omstandighede vet voer nie, anders pas helfte van my uitrustings my nie!”
Kit druk haar liefdevol. “Dra dan liewer die ander helfte, want na jou beskrywing klink dit vir my asof jy die stomme Johannesburg totaal gaan ontwrig.”
Sy leun oor en soen hom op die kakebeen. “O nee, mon cher Papa! Jy sal sien, ná hierdie vakansie gaan almal my naboots – wag maar net.”
Die teetafel is swaar belaai met Vickey se geliefde disse. Kit luister met genoegdoening na wat sy dogter te sê het oor haar verblyf in die Franse hoofstad. Die lewe is so opwindend wanneer jy jonk is, mymer hy. Elke oomblik is ’n avontuur.
“Pappa? Wat dink jy daarvan?” Sy kind se stem onderbreek skielik sy gedagtes. Sy merk die verwarring op haar pa se gesig. “Sies!” pruil sy, gemaak vies. “Jy luister nie eens nie, Paps!”
Kit sit sy hand oor hare. “Vergewe my. As mens so lank alleen leef, loop jou gedagtes sommer vanself ’n eie koers. Slegte gewoonte. Wat het jy gesê?”
“Dat professor Bonnard dink dat ek teen die einde van volgende semester al ’n klein uitvoering mag gee … as solis!”
“En? Hoe voel jy daaroor?”
Sy frons effens. “Opgewonde, natuurlik, Pappa, maar ook bang. Ek sou verlede jaar oorstelp gewees het bloot oor so ’n moontlikheid, maar nou voel ek onseker. Sê nou net ek kom nie die mas op nie? En die kritici –”
“As ek jou so hoor praat, het ek sommer lus om jou hier te hou! Want as dit die resultaat is van daardie peperduur skool, dan is dit geldmors,” grom Kit. “Onthou, jy het jou talent van jou ma geërf, en sy was ver bo gemiddeld begaafd.”
Sy kyk hom verbaas aan. “Pappa, jy weet nie eens hoe –”
“Natuurlik weet ek.” Hy glimlag triomfantlik. “Kit Malloy se dogter is altyd die beste! Daarom kry sy net die beste, want sy verdien dit.”
Vickey lag en skud haar kop. “Ek wens Pappa wil my dit elke dag sê! Hoekom kom woon jy nie liewer in Parys nie? Die yslike ou huis in Rue St. Honoré is so leeg sonder jou.” Sy pruil weer. “Dis glad nie pret om daar te wees wanneer jy weg is nie.”
Kit haal sy skouers op en sug. “Dit sou selfsugtig van my wees, Vickey. Mens gee nie jou kind vryheid en boer dan in haar agterplaas nie. Afgesien daarvan moes ek laas terugkom om die fabriek aan die gang te kry. Vervaardiging was vir my ’n nuutjie, en glo my, dis ’n senutergende besigheid! Dit het my soveel tyd gekos net om dit van die grond af te kry, en die koste van meganisering was astronomies.”
“Maar Pappa, jy het dan verlede maand geskryf dat jy dit teen ’n groot wins verkoop het.”
Kit grinnik en knik. “Dit was eerder ’n oorname deur die kompetisie om ons uit hulle mark te kry.” Weer lag hy sag. “Maar dit was uiters winsgewend, die bod was so hoog dat nie ek of Henri dit van die hand kon wys nie. Maar ek moet jou sê, dit was moeilik om die transaksie so ver te bring. Die risikofaktor was hoog.” Die ou, skewe glimlag flits oor sy gesig. “Maar die saak is nou uiteindelik afgehandel.”
Vickey frons. “Hoekom doen jy dit, Pappa? Altyd risiko’s, altyd gevare en uitdagings, en sodra jy kry wat jy wil hê, raak jy daarvan ontslae. Hoekom? Dit gaan tog nie oor die geld nie?”
Kit sit ’n paar oomblikke en dink, dan skud hy sy kop. “Nee, daar het jy gelyk. Ek is seker maar ’n soort avonturier. Solank die opwinding van ’n nuwe uitdaging daar is, dan is my siel ook daarin, maar sodra ek aan die wenkant is, verloor ek belangstelling, soek ek na iets nuuts. Weet jy, ek oorweeg dit om Nepal toe te gaan, na die Himalaja, Everest toe … geen Westerling kon daardie berg nog ooit –”
“Nee, Pappa, jy gaan nie! Ek verbied jou!” Die opregte ontsteltenis op Vickey se gesig laat Kit gerusstellend glimlag.
“Sommer net ’n idee, juffie,” paai hy goedig.
Vickey kyk hom onseker aan, dan leun sy maar teen sy skouer. “Ek haat dit as Pappa na al daardie gevaarlike plekke gaan. Kom liewer Parys toe.” Sy sit opgewonde orent. “Dit sal my selfvertroue só ’n hupstoot gee as my liewe pappa kan by wees. Dink net, my eerste opvoering! Ag toe, Pappa!”
Hy haal sy skouers op. “Dis nog te lank vooruit om te kan besluit.” Hy knipoog. “Miskien is jy nie eens meer daar nie. Miskien beroof ’n oulike Johannesburger jou hierdie somer van jou hart. Ai, juffie, dit sal goed wees om jou hier te kan hou!”
Vickey kyk hom ’n paar oomblikke in ongeloof aan, dan skater sy. “Hier? Mon Dieu! Sien jy my as ’n Johannesburgse huisvroutjie, Pappa? Dink jy werklik ek sou ooit kon inskakel in hierdie kleinburgerlike gemeenskap?”
“Genugtig!” roep Kit gemaak geskok uit. “Die jonge mademoiselle Malloy het ’n nare klein snob geword.”
“Pappa, nee, ek bedoel dit nie so nie,” Vickey skud haar kop, haar gesig skielik ernstig. “Ek is jammer, ek weet dit moet aaklig en pretensieus geklink het, maar ek sal nie hier kan inpas nie. Veral nie in die sleurbestaan van iemand wat niks anders het om te doen as om na haar man en kinders om te sien nie – en dit sonder musiek. Ek kan tog nie daarsonder leef nie, Pappa. Hier is niks nie. Ek bedoel – hier’s geen musiek nie!”
“Ambisieus, nè? Ooit gedink dat arme Johannesburg ook behoefte het aan so iets? Jy kan hier musiek maak en ons arme drommels kan na jou kom luister,” betig Kit haar ligweg.
Maar sy skud haar kop ferm. “Jy praat nou loutere snert, Pappa, en jy weet dit. Dis net, ek – dis nie net ambisie nie, dis iets wat jou aandryf sonder dat jy ’n sê daaroor het.” Sy glimlag. “Miskien aard ek na jou, Pappa, of hoe? Jy moet jou voortdurende uitdagings beproef. Kit Malloy wil mos alles hê – of dan niks nie!”
Kit glimlag skeef en knik dan toegeeflik. “Goed, ek gee jou gelyk.” Hy kom orent. “Nou toe, gaan sien om na jou uitpakkery en rus so ’n bietjie. Ek moet ’n paar dinge gaan afhandel in die dorp. En onthou, vanaand neem ek jou uit na die Carlton. Die kos daar is uitmuntend.”
“H’m, ek kan nie wag nie …” antwoord sy half ingedagte, want haar aandag is by die stapel uitnodigingskaartjies wat sy op die buffet gesien het. Kit merk dit en gaan tel die koevertjies op. Hy kom terug en bring hulle vir haar.
“Ek kan sien dat ek in die tou sal moet staan om my eie dogter te mag uitneem. Nou toe, juffie,” hy sit die stapel voor haar neer. “Jy kan nou maar besluit wie se hart jy eerste gaan breek!”