Читать книгу Die goudbaronne - Lerina Erasmus - Страница 5

Hoofstuk 2

Оглавление

Van die kruin van die Karlsberg-heuwel af het Karl ’n uitsig oor die wingerde en woude van Wene, wat nou kaal en triestig in die winter staan. Dis mooi, die landskap in sy winterse eenvoud. So sal hy dit waarskynlik nooit weer sien nie, dink hy, en sy oë soek hongerig na die bekende bakens. Die spirale van die Stephansdom se torings. Verder na regs, die koperbeslaande koepel van die Karlskirche. Die waterige son verskyn plotseling en baai die sagte plooie van die heuwels en valleie in ’n laaste goue lig. Die skoonheid daarvan ontroer hom, vul sy oë met trane. Of is dit die koue? Hy besef skielik dat hy klappertand van die ure wat hy hier in stilte gesit en kyk het. Iewers begin klokke te lui. Te vroeg vir ’n mis. Waarskynlik ’n troue, of ’n begrafnis.

Hy kom stram orent. Hy sal stadigaan koers moet kry. Sy besoek aan Freud is om vieruur. Sigmund het tyd ingeruim, afsprake verskuif, toe hy so skielik sy opwagting in Wene gemaak het. Hy durf hom nie laat wag nie.

Karl bereik die huis aan die buitewyke van die stad teen vieruur. Tipies van ’n Weense winterdag is dit reeds sterk skemer. Hy lig die klopper en Freud se huishoudster maak die deur oop. Sy deel hom beleef mee dat die Herr Doktor vertraag is.

“Hy sal wel spoedig hier wees, Herr Mannheim!” belowe sy kloekend, terwyl sy Karl se jas neem en hom begelei na ’n stoel naas ’n ornamentele wit porseleinstoof waarin die vuur helder brand.

Karl bedank haar vir die wyn en tuisgebakte weinbeisser wat sy op die tafeltjie neersit, tog is hy dankbaar toe die goedige maar praatsieke vrou hom uiteindelik alleen laat. Die selfondersoek voor die biegsessie, dink hy sinies, is altyd pynliker as die biegsessie self. Sal hy dit kan regkry in die beperkte tyd wat hom vergun is? Sy gewete was so lank toegesluit dat dit nie maklik gaan wees om daardie gesweiste grendels nou oop te breek nie.

Die staanhorlosie klingel melodieus die halfuur uit en ruk hom uit sy gedagtes. Hy hoor die voordeur oopgaan, daarna die huishoudster se stem. Dan herken hy dié van Freud, wat enkele oomblikke later sy verskyning maak. Dit moet koud wees buite en reën daarby, dink Karl, want Freud se wange het ’n rooi frisheid en daar glinster waterdruppels aan sy baard.

“Ek moes dringend kliniek toe,” maak hy verskoning terwyl hy sy hande eers verwarm by die porseleinstoof. “Maar ons tyd is nou ons eie. Die hele nag behoort aan jou, my vriend!” sê hy gul en neem oorkant Karl plaas. Hy skink vir homself ’n glas van die wyn.

Hy merk Karl se diep ongemak en begin gerusstellend te gesels oor plaaslike skindernuus. Stories doen die ronde oor Alma Mahler en die skilder Gustav Klimt, en Cosima Wagner is ook betrokke. Ménage à trois, so word daar geklets. Hoe skynheilig! Hy lag en borduur voort: “Wene se ou dun lagie van kuns en kultuur bly maar bolangs, my vriend. Ons gee voor ons is so gesofistikeer, maar onder dit versweer ons in die engheid van die Habsburgers se morele kodes. Ons gaan kerk toe en slaan met opgeslaande oë die kruis oor die bors, maar elke man, ryk of arm, het sy maîtresse. Sommige rykes het selfs meer as een handperdjie wat hulle aanhou! En hul dierbare vroutjies kyk maar anderpad, net soos hulle mans ook die oë sal sluit vir vroulief se nuutste affaire – solank sy dit net diskreet hou.” Hy sug. “Ek sê jou, my vriend, die geliefde Weense ‘Ring’ het in ’n rioolgat van seks en politieke intriges verander!”

Na dié relaas swyg Freud. Hy drink ’n diep teug van die rooiwyn en verskuif sy metaalraambril waardeur hy nou stip na Karl kyk. “Dit is nie die rede waarom jy hier is nie, om my geklets oor die Wiener Gesellschaft aan te hoor nie.”

Karl knik. Hy glimlag flouerig, maar voel hoe die bloed benoud in sy slape begin klop. Sy gedagtes stol. Hoe om te begin!

Freud merk Karl se spanning. Die lang, bleek hand wat voortdurend deur sy blonde kuif hark. Nes hy, behoort Karl al teen dié tyd minstens skimmelgrys te wees, maar die blonde hare het nog nie verbleik nie. Hy besef skielik dat Karl waarskynlik sy hare kleur. Dit amuseer hom tot ’n mate, maar maak hom ook treurig. Die man heg soveel waarde aan skoonheid, die volmaakte, dat hy homself nooit sal kan aanvaar nie. Karl se komplekse persoonlikheid boei hom nog altyd. Hy maak homself gemakliker in die stoel, dan begin hy om Karl versigtig uit te lok.

“Vandat jy gisteraand hier aangekom het, is ek bewus van jou ongemak. Meer as dit. ’n Soort angs?”

“My talent as akteur laat my duidelik in die steek.” Karl lag vreugdeloos. Hy kyk weg, dan na bo, na die koepelvormige glasplafon, waar Art Nouveau-lelies in die gebrandskilderde glas bleek blom in die wegsterwende daglig. Sint Josefslelies, sy geliefde blom. Deborah haat die blomme, hulle herinner haar aan die dood, sê sy. Vandag is hulle ’n gepaste simbool vir Karl Mannheim se uittog. Hoe geyk. Selfs sy digterlike talent het nou versink in die moeras van gemiddeldheid, dink hy wrang. Maar dit gee hom minstens die moed om so saaklik moontlik weg te val.

“Ek was my hele lewe lank ’n miserabele Katoliek. Die beoefening van geloof en die nastrewing van die hiernamaals laat my koud. Die afgelope ruk het ek gewens dat dit anders was. Dat ek kon glo. Dat ek byvoorbeeld verligting kon vind in die sakrament van belydenis, want dan sou ek jou waarskynlik nie daarmee kom belas het nie.”

“Dan is ek dankbaar daarvoor, anders was jy nie hier nie! Dit is altyd goed om jou te sien, Karl.”

“Werklik?”

Karl se sinisme is te oordrewe om Freud te fop. Hy lees die rou onsekerheid in die gesig van die man oorkant hom. Dit herinner hom aan ’n kind wat om begrip pleit. Hy sê egter niks nie.

Uit die verte klink die klokkespel van die Maria am Gestade Kirche op, wat die aandmis aankondig. Karl luister totdat die laaste klokslag weggesterf het.

“Destyds, tydens ons eerste ontmoeting, het jy my uitgevra oor die Anglo-Boereoorlog.” Hy verskuif die stomp van sy geamputeerde arm. “Toe het ek dit as rede aangevoer vir my mislukte selfmoordpogings. Dat ek nie kon vrede maak met my geskende liggaam nie … Dit was net deels waar.”

Freud knik, hy het dit al lank vermoed, maar Karl het oor die jare altyd van die saak af weggeskram.

“Hulle het my in die hospitaal die laaste sakrament toegedien. Ek was diep bewusteloos. Waarskynlik sou ek ook die gees gegee het as dit nie vir een van die laaste besoekers was nie. ’n Mede-offisier, luitenant Jimmy Bean, het my ’n paar dae voor my selfmoordpoging die tyding gebring dat Deborah omgekom het. Dit was die sneller gewees, daardie tyding. Dit het my finaal laat besluit om ’n einde aan alles te maak. Maar ironies genoeg was dit toe ook luitenant Bean se stem wat, toe hy afskeid kom neem het, tot my benewelde brein deurgedring het om my mee te deel dat my vrou leef en op pad is na Lydenburg.

“Kan jy dit glo, Sigmund? Daardie flenter berig het my laat besluit dat ek wíl lewe. ’n Week later het sy haar opwagting gemaak. En ek het begin glo, selfs begin hoop, dat sy my liefhet. Gek wat ek was! Hulle sê desperaatheid dryf mense tot moord …” Hy sug, leun vorentoe, druk op die armleuning en staan dan effe moeisaam op. By die kaggel haal hy ’n sigaret uit sy sigarethouer en steek dit aan voordat hy weer na Freud terugdraai.

“En my vrou? Sy het ongeduldig gewag dat ek gesond genoeg moet word sodat sy my kon verlaat om in die arms van Kit Malloy te val. Hy was die man wat sy liefgehad het. Ek het hom daarvoor gehaat. Hy het my reddingstou bedreig. Daarom het ek besluit om te veg. Selfs deur vuil te speel. So het ek waarskynlik drie mense se lewens verongeluk.” Karl stryk weer senuagtig met sy vingers deur sy hare en hy lyk skielik moeg en verward.

Freud kom orent. By die ronde tafel skink hy vir Karl ’n glas klaret. Stilswyend sit hy die glas langs Karl neer en bekyk die ongelukkige man ’n ruk lank.

“Jy moes my lankal hiervan gesê het,” raas hy saggies. “Ek glo die jare het die hele aangeleentheid opgeblaas en dit groter gemaak in jou geheue.”

Karl kyk hom uitdrukkingloos aan, dan gee hy Freud toonloos gelyk. “Ja, jy is reg. Ek het dit probeer toeskroei, maar dit het nie gewerk nie. Alles het net hewiger geword, die senuweepunte net rouer …” Hy lag gespanne. “Jy sien, Sigmund, ek het my gewete ontdek!”

’n Swaar stilte heers in die kamer. Die twee mans se roerlose, donker gestaltes word slegs verlig deur die gloed uit die porseleinstoof, want dit is nou nag buite die koepeldak se vensters, waarin die lelies verdof het.

“Vertel my daarvan?” por Freud Karl sag aan.

“Ek het jou destyds vertel dat my vrou tydens daardie noodlottige tog na Lydenburg in ’n konsentrasiekamp beland het en dat dit Malloy was wat haar daar gaan uithaal het.”

“Ja, ek herinner my.”

“Die ontbering en vernedering wat sy moes deurmaak, het haar nie ongedeerd gelaat nie. Jare lank het sy alles wat Brits is gehaat, en ek het dit uitgebuit om haar teen Malloy op te maak. Ek het hom ’n teiken gemaak wat sy kon verafsku. Hulle noem dit karaktermoord, nie waar nie?”

“Ek vrees ek verstaan nie, “ gooi Freud wal. “Was hy nie die man wat sy liefgehad het nie? Sy het hom bo jou verkies, het sy nie? Dit was selfverdediging, al het die man haar uit die kamp bevry.”

Karl lag saggies. “Jy bied my ’n uitweg, vriend. Nee, dis te genadig vir ’n biegvader.” Hy skud sy kop. “Jy sien, Deborah was kwesbaar ná wat sy deurgemaak het. Dit was maklik om daardie eerste duiwelsaad te saai, haar agterdogtig te maak. Malloy het ’n permit gehad wat persoonlik deur lord Kitchener onderteken is. Kitchener, daardie ongenaakbare militaris, sou geen gewone man die kans gegee het om so na aan hom te kom tensy daar ’n verband was nie, of tensy hy in die skuld was by Malloy.”

“En sy het dit geglo?” roep Freud verwonderd uit.

Karl huiwer voor hy antwoord. “Aanvanklik nie, haar dankbaarheid teenoor Malloy het alles oorskadu.” Hy grinnik wrang. “Maar ek het ’n paar troefkaarte gehad. Een aand in Kaapstad, pas ná my aankoms in Suid-Afrika as soldaat, het ek my by ’n ete gereël deur die heer van Khartoem bevind. Malloy is ook uitgenooi. Kitchener moet van hom gehou het, want hy het hom openlik uitgesonder, hom na sy studeerkamer begelei, en my nuuskierigheid het die oorhand gekry. Ek het gaan afluister. Ek kon nie alles hoor wat daar gesê is nie, maar wel dat Kitchener diep beïndruk was met Malloy. Hy het hom probeer oorreed om in sy diens te tree, as ’n soort konsultant, ’n middelman tussen hom en die Boere. Ek het Deborah daarvan vertel, en toe sy Malloy later daaroor troef, moes hy erken dat hy wel soms as Kitchener se tussenganger opgetree het. Dit het haar geruk, die erkenning direk uit sy mond uit. Die res … Die res was makliker.” Hy skuif ongemaklik in die leunstoel.

“Sy het geleidelik al my verdigsels begin sluk. Jy sien, ek het haar vertel dat die gesprek daardie aand by Kitchener se ete gewentel het om die beëindiging van die oorlog. Ek het haar ook gesê dat dit Malloy was wat Kitchener aangemoedig het om Roberts se konsentrasiekampe – soortgelyk aan wat die Spanjaarde in die Kubaanse opstand gebruik het – te versterk. Daarby het Kitchener die lewe van die vroue en kinders byna onleefbaar gemaak, en die mans het dit geweet.” Karl vestig sy blik in die vlamme, sku om Freud direk in die oë te kyk. “Ek het op ’n meesterlike manier daardie tafelgesprek herskryf. En ek het Kit Malloy die rol van die antagonis laat speel. Ek het Deborah laat glo dat hý eintlik die baasbrein was agter die helkampe waarin vroue en kinders soos vlieë omgekom het.” Karl sug. “Met haar grusame ervarings nog rou in haar gemoed, het sy van toe af al haar verbittering op Malloy toegespits.”

Freud teug ingedagte aan sy wyn, skud dan sy kop ongelowig. “Ek is steeds verbaas dat sy bereid was om die leuens te aanvaar, Karl. Sy is volgens jou hoogs intelligent.”

“Jy onderskat beslis my talent as akteur, Sigmund. Ek het jou al gesê dat ek op my oortuigendste is wanneer ek lieg – want jy sien, ek glo gewoonlik my eie leuens, en so word dit deel van my. Maar dit was nie al nie. Ek het uit ’n onverwagse oord ’n vennoot gekry: een van die kampkinders wat Deborah in ons huis ingeneem het.”

“Jy het my nog nooit daarvan vertel nie. Julle het dus oorlogswese ingeneem?”

“Deborah het,” antwoord Karl nors. “Sedertdien het ek begin reis, onthou? In 1903 het ons mekaar die eerste maal ontmoet.”

Freud knik sy kop en beduie dat Karl moet voortgaan.

“Die eerste was Bess. Bess Visser, ’n bot, ongemanierde skepsel wat Deborah uit jammerte daar aangesleep het. Sy het haar probeer opvoed, haar selfs later laat studeer. Onverwags – glo my, ek het nie daarvoor gesoek nie – het Bess haarself aan my begin opdring, tydig en ontydig. Ek het agtergekom dat sy ’n diepgewortelde jaloesie teenoor Deborah gekoester het, oor haar voorkoms, haar persoonlikheid, selfs haar besittings. Ek het my kans gesien, dit uitgebuit, Bess se sogenaamde trots – soos sy dit genoem het – uitgebuit, welwetende dat dit in werklikheid bloot gruwelike naywerigheid was.”

“Jy het ’n verhouding gehad met ’n kind?” vra Freud stil, sy oë nou onleesbaar agter sy bril.

“Sy was ryp en so uitgehonger soos ’n straatbrak vir enige toenadering, begryp jy nie? Sy sou dit seker ook by die personeel gaan soek het, maar ek, Deborah se man, was die eerste prys. Sy wou Deborah daarmee bykom. Ek het haar gegee wat sy gevra het. In ruil daarvoor het sy Deborah met groot oortuiging vertel dat sy Kit, die man op die wit perd wat Deborah uit die kamp kom haal het, keer op keer weer in die kamp gesien het. Ook dat die nuwe aankomelinge veel te sê gehad het oor hom, dat dit altyd dieselfde was met die man: Eers het hy die vroue se vertroue gewen, en dan, kort daarna, het die Engelse toegeslaan. En Malloy was, volgens haar, voortdurend daar, om toe te sien hoe die Boeregesinne se kosbaarhede op sy wa gelaai word, as betaling vir sy verraad.” Karl laat sak sy kop en sit lank in stilte.

Uiteindelik sê hy gesmoord: “Bess se fantasie – of moet ek liewer sê, myne – het Deborah finaal teen Malloy laat draai.” Hy lag bitter. “Jy sien, my vrou het ’n swart-wit uitkyk. Vir haar is daar net reg of verkeerd. Dat ’n kind soos Bess so ’n gedugte leuenaar kon wees, sou nooit by haar opgekom het nie.”

Leeg en moeg leun hy terug. “Dit is dan al, Sigmund. Mea culpa, mea maxima culpa! Skenk my vergifnis, vader, want ek het gesondig en ek vrees die lewe, maar ook die dood … ja, die dood vrees ek ewe veel.”

“Waarom hierdie obsessie met die dood, Karl? Nie een van die baie dokters by wie jy was, het ’n terminale siekte gediagnoseer nie, dit het jy self vir my gesê.” Freud leun na vore en raak aan Karl se hand. “Laat my toe om vir jou ’n afspraak by die universiteit te reël. Asseblief, my vriend, ons leef in die twintigste eeu! Met die Röntgen-apparaat kan mens sonder twyfel –”

“Nee! Nee, nie dit nie!” roep Karl ontsteld uit. “Ek sal dit nie kan verduur as hulle wel ’n gewas vind nie,” verduidelik hy verleë. “Hoe noem julle sielkundige kwakke dit – psigosomaties? Dit is wat my probleme is. As ek met sekerheid weet, sal ek van my kop af raak.”

“Maar dit is juis jou onsekerheid wat jou so treiter,” sê Freud sag. “Al hierdie doodsgedagtes, hulle is waarskynlik totaal onnodig. Met sekerheid kan jy iets positiefs daaraan doen.”

“Wat? Wat kan enigiemand doen?” lag Karl. “Julle is nog nie so ver gevorder dat julle malheid uit ’n man se brein kan sny nie, of kan julle al?” Hy leun vorentoe en kyk die sielkundige vierkant in die oë. “Ek wil nie soos my ma word nie, verstaan jy? My God, Sigmund, dan kies ek liewer die dood! En as dit vir my lyk asof ek daarop afstuur, is selfmoord my enigste uitweg. Maar hierdie keer sal ek sorg dat ek nie misluk nie.”

“Selfmoord?”

Karl antwoord hom nie, maar leun stadig terug in sy stoel en staar in bot stilte na die vlamme wat in die porseleinstoof gloei. Toe maak hy sy keel skoon en kom traag orent. “Ek is moeg, my vriend,” sug hy. “Lewensmoeg. Weereens dankie vir jou gewillige oor.”

“Môre sal ons verder daaroor praat. Ná ’n goeie nagrus sal jy beter voel,” sê Freud.

Karl knik. Hy hoef hom mos nie nou te sê dat hy môre vroeg die trein gaan haal nie. Terug na Heinrich, na Parys. Daarna die lang bootvaart terug na Suid-Afrika … waar sý is. Sal hy die moed hê om dit wat hy aan Freud gebieg het, ook aan haar te bely? Sal dit enigiets ongedaan maak?

Die goudbaronne

Подняться наверх