Читать книгу Die goudbaronne - Lerina Erasmus - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Die Januarie-son bak bitsig op die krieketveld neer. Meedoënloos trek dit sweet uit die witgeklede krieketspelers wat al ure lank in ’n verbete stryd gewikkel is. Jutta’s Rand se span, wat as een van Johannesburg se beste mynspanne beskou word, begin hul aanhangers stadigaan teleurstel. Hier teen die laatmiddag wil hul spel maar net nie op dreef kom nie. Boonop is twee van hul beste kêrels tydens die voorlaaste boulbeurt uitgevang. Roy Scott, die een wat nou die veld verlaat, is die span se topkolwer. Hy is hopeloos onkant gevang deur ’n goëlbal van die opposisie. Vir die aanhangers van Jutta’s Rand, Deborah inkluis, lyk dit of ’n oorwinning nou heeltemal buite hul bereik is. Hulle benodig ses lopies van die laaste vyf balle voor die einde van die spel. Die Jutta’s Rand-aanhangers wat om Deborah geskaar sit, is nou besonder stil, veral in teenstelling met die uitbundige toejuiging wat opklink uit die geledere van Gold Fields se manne.

Langs haar skud Rheed sy kop. “Net ’n wonderwerk kan ons nou nog red,” mompel hy. “Al ons beste manne is uit!”

Deborah knik, maar die blote gedagte dat Gold Fields aan die einde van die wedstryd gaan wegloop met die Mannheim-trofee, wat Deborah ter nagedagtenis aan haar skoonpa geskenk het, laat haar inderdaad vurig wens vir ’n wonderwerk. Sy bestudeer die program met hernude aandag. Nou hang alles van kolwer nommer elf af. Beleefde applous klink op toe die speler sy verskyning maak, ’n lenige blonde kêrel, met krieketkolf in die hand. Loslittig begin hy oor die veld draf. Deborah sug en leun verslae terug, want nou is sy nóg meer gekwel.

Kurt het haar gesê dat hy die span se reserwe is. Sy het toe nie veel aandag daaraan gegee nie, maar dat hy nou as Jutta’s se laaste hoop opdraf, is ’n groot fout. Hy is nie opgewasse vir so ’n taak nie. Sy weet wel dat haar kind ’n goeie atleet is, maar sy weet nie eens of hy ooit vantevore krieket gespeel het nie. Hoe op aarde sal hy sy man kan staan teen die gesoute Goldfielders wat nog altyd hul sterkste kompetisie was? Daarby vermoed sy dat Kurt op die oomblik bra onfiks is. Sy het hom die laaste tyd min kans gegee om aan sport deel te neem, want hulle was van die oggend tot die aand aan die gang met mynskaginspeksies.

Spanning begin opbou en die toeskouers om haar verstil. Alle oë is vol afwagting op jong Mannheim gevestig. Hy neem sy plek voor die paaltjies in. Selfs uit Gold Fields se geledere hoor mens nou geen geluid meer nie.

Kurt meet die afstand na die bouler, sy oë skrefies. Hy sal wraggies vandag sy storie moet ken. Sy ma sal hom dit nooit vergewe as die beker deur sy toedoen in die opposisie se kamp beland nie. In afwagting verstewig hy sy greep om sy krieketkolf, sy blik gespanne gevestig op die bouler. Hy het gehoor dat hierdie mannetjie, Henry Jones, Gold Fields se gevaarlikste speler is.

Jones gaan oor tot aksie. Met ’n atletiese beweging van onderlyf en bolyf swaai hy sy arm omhoog. Die bal skiet snel en sekuur uit sy hand en pyl blitsig op die jong kolwer af.

In ’n breukdeel van ’n sekonde besluit Kurt dat hy daardie bal nie gaan probeer kolf nie. Hy koes net betyds weg en die bal trek oor sy kop verby.

Van die paviljoen af weerklink ’n gekreun op onder Jutta’s se manne. Almal hou van jong Mannheim, hulle beskou hom amper as een van hulle, want hy’t voor hulle oë grootgeword en homself nog nooit aangestel omdat hy ’n Mannheim is nie. Maar dis duidelik: Van krieket weet die kêrel niks nie. Wat het die kaptein besiel om hom op dié kritieke oomblik in te stuur? word daar onderlangs gefluister.

Jones maak gereed vir sy tweede aflewering. Weer die kenmerkende kontorsies, toe skiet die bal los en trek oor die veld. Dié keer tref Mannheim dit darem so skuinserig. Gold Fields se veldwerkers maak korte mette daarmee en Kurt kry nie kans om eens ’n enkele lopie aan te teken nie.

Dis verby, dink Deborah gelate, teleurgesteld in haar span, ja, maar veral teleurgesteld in haar seun. Kurt behoort beter te geweet het as om hom te laat ompraat om as reserwe vir die span op te tree. Met ’n sinkende gevoel kyk sy hoe hy hom nou vir die derde aflewering gereed maak. Weer kom die bouler in posisie en stuur die bal netjies paaltjies toe. ’n Paar oomblikke lank lyk dit of hulle uitmekaar gaan spat, maar die bal tref Kurt se beenskut. Die Jutta’s Rand-aanhangers sit versteen – dis die einde, wat hulle betref.

Protes klink luidkeels en triomfantlik uit Gold Fields se kamp op. Appelleer! Appelleer! Dit is ’n geval van been voor paaltjie! Alle oë draai afwagtend na die skeidsregter, maar die man gee geen aanduiding dat hy gesien het dat die beenskut in die pad was nie. Hy beduie met die hand dat die spel moet voortgaan. Om hulle mor Goldfields se manne, maar nie ’n geluid is hoorbaar om Deborah en Rheed nie, dis duidelik dat hulle hoop opgegee het.

Weereens neem die twee manne stelling in teenoor mekaar. Kurt lyk verbasend ontspanne, dink Deborah onthuts. Hy behoort immers te weet dat hy hulle laaste kans nou feitlik vir goed bederf het.

Kurt, wat die bouler se tegniek teen dié tyd goed opgesom het, weet dat Jones met die volgende bal alles gaan uithaal, maar dié keer is hy gereed vir enige aanslag.

Die bal skiet los uit die bouler se hand en Jutta’s Rand se ondersteuners se moed sak verder. Daardie bal wat so sekuur op die paaltjies afstuur, is ’n doodhou vir so ’n jong mannetjie. Maar toe gebeur dit: Kurt Mannheim se kolf maak met ’n harde klapgeluid kontak met die bal! Die bal word ’n verskietende ster wat hoog en ver oor die veld seil.

Die Jutta’s Rand-aanhangers spring orent in hul opgewondenheid, hul oë vasgenael op jong Mannheim. Dié het begin hardloop. Hy storm oor die kolfbaan en teken ’n enkele lopie aan voordat hy vassteek, want nou is daar geen lopies meer nodig nie. Die bal het ver buite die veld beland, ’n ses. Deborah se knaap het wragtig ’n volbloedses aangeteken! Dit maak Jutta’s die onbetwiste oorwinnaars van die dag. Juigend kom hulle op die been: Die beker kom terug na Jutta’s waar dit hoort. Jutta’s het gewen!

Die dalende son laat die krieketspelers se skadu’s lank uitrek waar hulle ná afloop van die wedstryd nog in hul euforie op die veld ronddwaal.

Deborah se deftige swart motor ry stadig deur die hekke van Wanderers, nog steeds omring deur ’n jubelende skare entoesiaste wat ’n laaste maal die held van die dag wil vereer.

Kurt grinnik verleë, waai en draai dan die motorvenster hoër op. Ter wille van sy ma het hy die manne se uitnodiging om die oorwinning met ’n paar biere te gaan vier, van die hand gewys. Hy wens opreg dat Heinrich al terug was! Selfs sy pa, Karl, se teenwoordigheid sou gehelp het om hom tydens die vakansie so ’n bietjie van ’n blaaskans te gun, om nie gedurig te voel dat hy aan sy ma moet dink nie.

Sedert sy aankoms uit Stellenbosch gaan dit so, en dis slegs wanneer hy tussen die myners is dat hy kans kry om onder haar oë uit te kom – en dan ook nie altyd nie. Hy behoort hom seker te skaam, dink hy. Sy ma is uitgehonger vir geselskap. Volgende jaar, ná hy sy graad ontvang het, sal hy deel word van die Mannheims se myne en sakebelange. Dinge behoort dan beter te gaan, meer normaal te word … so hoop hy, altans.

“Vanmiddag het ek regtig gewens dat jou oupa Kurt jou kon gesien het,” onderbreek Deborah sy gedagtegang. Sy neem haar seun se hand in hare. “Jy het die myners groot eer aangedoen, my seun!”

Kurt glimlag ongemaklik. Deborah prys mens nie ligtelik nie. Van meet af aan het Deborah dit aan hom en Heinrich duidelik gemaak dat sy net die beste van hulle verwag. Dit was eenvoudig die standaard wat sy vir haarself gestel het. Hy maak sy hand sagkens uit hare los en grinnik verleë.

“Hokaai, Ma. So waffers was dit nou ook nie. Mens is partymaal maar net gelukkig.”

“Bog!” roep sy skerp uit. “Geluk begunstig net dié wat hul kanse en hul verstand gebruik.”

Kurt haal sy skouers op. Dit is nog ’n cliché wat vir haar ’n lewensbeskouing geword het. Hy hoor dit al vandat hy kan onthou.

Deborah voel dadelik Kurt se irritasie aan. Sy besluit om die onderwerp te verander.

“Jou pa,” sê sy byna lighartig, “was lank gelede ’n uithaler-polospeler, weet jy. Karl sou internasionaal kon deelgeneem het as hy hom daarop toegespits het. Het jy nog nooit trek gehad daarvoor nie?”

Hy lag. “Dis vir die niksdoeners, Ma, en dis te elitisties vir ons stomme studente. Dit kos te baie.”

“Dis nie ’n probleem nie. As jy sou wou, dan –”

“Nee, Ma. Nee!”

“Ons kan lesse –”

“Dankie, maar ek … ek kan tog nie op my eie ’n span wees nie. En ek ken die spel, Ma. Een keer, lank terug – ek was nog klein – toe het iemand my touwys gemaak. Ek was toe nogal dol daaroor …” Hy haal sy skouers op, maar praat nie verder nie. Hy sal sy ma die besonderhede van daardie polosessies spaar, want Kit Malloy se naam is jare lank al vir hom en Heinrich verbode.

Eienaardig hoe helder die herinnering aan daardie sondeurdrenkte dae hom nou nog bybly. Dit was die vakansietye toe hy en Heinrich by die Malloys gebly het. Hulle drie – hy, Heinrich en Vickey – was ’n onafskeidbare driemanskap. Drie strandlopertjies, wat elke dag nuwe avonture en wondere ontdek het. Kit Malloy was sy en Heinrich se held. Daarby was hy die eienaar van ’n stal vol perde wat altyd tot hulle beskikking was. Dit was Kit wat hom en Heinrich geleer het hoe om polo te speel, en hulle het saam eindelose ure van pret gehad op sy strandplaas naby Houtbaai.

Dit was so lank terug, nog voor die oorlog … Sou die Malloys nog in Johannesburg woon? Kit Malloy het ’n wêreldburger geword. Mens lees gereeld oor hom in koerante. Hy is fabelagtig ryk, ’n gesogte vrygesel wat glo eksotiese plekke besoek en bergpieke oorwin. Hy het Kilimandjaro geklim, hy het glo ook die Amasonerivier bevaar, of so berig die koerante. Tog word daar nooit enige melding van sy dogter gemaak nie. Waar sou Vickey wees? Sy was ’n dapper, onverskrokke maat, maar ná die oorlog het sy ma alle kontak tussen die twee families verbied.

“Jy is diep ingedagte.” Sy ma kyk hom onderlangs aan met ’n tergende uitdrukking. “Moontlike muisneste?” probeer sy uitvis.

Kurt lag hard. “Muisneste! Vir wie en wat? Ma gee my dan geen tyd daarvoor nie! Sedert my aankoms in November kry ek skaars tyd vir ’n potjie tennis, so waar sal ek ’n muisnes optel?”

Deborah knik boetvaardig. “Was ek so ’n tiran? Dan vra ek om verskoning. Ek het jou te veel laat inspan.”

Haar seun sit sy arm om haar skouer en lag goedig. “Toemaar, Ma, ek was selde meer in my element. Ma behoort dit te weet.”

Deborah glimlag. “Ek is bly om dit te hoor. Want dit sal ’n ideaal verwesenlik, een wat ek al so baie jare koester, om jou aan my sy te hê wanneer jy klaar gestudeer het. Maar eers gaan jy kennis maak met die oorsese vertakkings en daarna gaan ons Mannheim Enterprises uitbou. Met jou kennis en jeugdige energie staan daar niks in ons pad nie. Wenners, dit is wat ek en jy gaan wees!”

“Wanneer laas het Mamma tyding gehad van Pa?” verander Kurt die gesprek.

Deborah frons en antwoord dan ontwykend. “Niks sedert sy vertrek nie. Nie dat dit my juis verbaas nie, hy het ’n swak korrespondent geword. Hy’s op die oomblik in Parys saam met Heinrich. Hy sal seker laat dié maand of vroeg Februarie tuis wees, betyds vir sy verjaardag. Dis soos hy maar altyd maak.” Sy ma se stemtoon is afsydig wanneer sy oor sy pa praat.

Maar dis verstaanbaar, dink hy. Ook vir hom het Karl oor die jare nog altyd ietwat van ’n vreemdeling gebly. Daar was nooit juis ’n band tussen hulle nie, miskien omdat sy pa voortdurend op reis was. As kind het dit hom soms gepla, maar nou skeel dit hom min.

“Daar het wel vandag vir jou pos gekom,” onderbreek sy ma se stem weer sy gedagtegang. “Nogal uit Londen. Ek glo dis van Heinrich, ek het sy handskrif herken.”

Hy weet dat sy brand om enige nuus te hoor van haar halfbroertjie wat soos ’n kind in haar huis grootgeword het. “Dankie, Ma,” sê hy. Hy sal die brief eers lees en dan dele aan haar voorlees, besluit hy.

Op die kruin van Parktown se heuwel troon die Mannheim-vesting oor die stad. Die laaste sonlig straal teen die loodglasvensters en laat dit skitterend blink, soos juwele.

Toe die motor by die onderste hek indraai, tik Deborah teen die glasafskorting wat hulle van die chauffeur skei. Sy sê hom aan om by die ou koetshuis stil te hou. “Ek wil jou iets wys,” sê sy geheimsinnig terwyl hulle uit die motor klim, en beduie dat Kurt haar moet volg.

Hulle stap tot by die swaar houtdeure van die ou koetshuis. “Maak oop,” sê sy, en tree eerste na binne. Dan skakel sy die lig aan.

Kurt steek verstom vas. Die lig glim helder op ’n windmakerige klein motor. Hy herken onmiddellik die nuutste Benz, omdat dit die droom is van elke byderwetse man. Dis op die punt van sy tong om te vra of dit vir hom bedoel is, maar hy word gou genoeg ontnugter.

“Dis jou pa se verjaardaggeskenk. Ek het dit spesiaal vir hom laat aanpas, toe ek laas in Duitsland was. Hy sal dit met sy een hand kan bestuur. Sien jy? Die slinger is hier in die kajuit aan die linkerkant ingebou, sodat hy nie hoef uit te spring om dit te draai voordat die motor op dreef kom nie.”

“Wil Pa so iets hê?” vra Kurt ongelowig. “Ek kan my skaars indink dat hy enigsins belang sal stel om ’n motor te leer bestuur.”

“O, hy sal. Sam het klaar geleer om dit te hanteer. Hy sal Karl touwys maak. Miskien sal dit hom ’n nuwe belangstelling gee.” Sy sug. “Jou pa was so terneergedruk voordat hy weg is. ’n Nuwe speelding sal hom goed doen.” Sy het te veel gesê, dink Deborah ergerlik. Sy het tog nog altyd probeer om haar miserabele huwelikslewe vir die kinders weg te steek.

Gemaak opgewek haak sy nou by Kurt in. “Die dag wat jy jou graad as juris ontvang, kan jy jou eie motor uitsoek. H’m? Dis ’n belofte.” Sy lei hom terug na die deur en skakel weer die lig af voor hulle na buite stap. “Vanaand gaan ons Jutta’s Rand se oorwinning behoorlik vier met een van jou oupa se kosbare ou bottels sjampanje! Dan moet jy my alles vertel wat Heinrich skryf. O, ek wens so dat hy ook vanaand hier by ons was!”

Sam hang die swart aandbaadjie aan die hangkas se deur. Hy hoor die badkamerdeur oopgaan en draai om. Dis jong Kurt. Hy het die jong man lief soos wat hy Karl altyd liefgehad het … En tog, Karl sal altyd die eerste plek in sy hart hê. Met diep kommer wonder hy hoe dit nou met sy geliefde seur gaan daar ver oor die water. Voordat hy weg is, was dit vir Sam asof sy seur Karl sy siel binnetoe gedraai het, en selfs vir hom, sy eie ou Sam, was daar g’n venster na daai donker binnekamer nie. Hy wou met hom praat daaroor, maar seur Karl het hom nooit kans gegee nie.

“Oom Sam, ek kan myself aantrek! Dis nie nodig dat oom –”

“Ek weet, seurtjie Kurt, maar dis nou maar hoe ek gewoond is. Ek het jou hemp en onderklere reeds op die bed uitgelê.”

Kurt trek die handdoek om sy lyf stewiger vas en sug innerlik, maar hy glimlag nietemin dankbaar. Die liewe ou man wil dit nou eenmaal nie aanvaar – of liewer, kán dit nie aanvaar – dat hulle in die twintigste eeu leef nie. Dat niemand meer ’n persoonlike kamerbediende se dienste gebruik nie. Hy sou vreeslik gespot word indien enige van sy vriende by Victoria Kollege moet weet dat sy klere steeds vir hom uitgelê word!

Sam se gesig verraai nie hoe oorbodig hy voel nie. In stilte kyk hy toe hoe Kurt sy hemp vaardig vasknoop. Hy moet dit seker aanvaar: Die nuwerwetse jong mense is anders. Sy tyd as jonkersman is uitgedien, dit besef hy daagliks al hoe meer.

“Oompie Sam,” sê Kurt skielik, “ek het ’n brief gekry van Heinrich.” Hy knoop haastig sy gulp vas en draai dan om na die swygsame ou man. “Die nuus daarin gaan my ma ontstel.”

Uit gewoonte haal Sam die aandpak se baadjie van die skouertjie af en hou dit op die korrekte manier uit sodat Kurt dit kan aantrek. “Hoekom dan, seurtjie Kurt, hy is nie siek nie?”

“Nee, allesbehalwe, en hy kom terug – maar net vir ’n kort rukkie, dan gaan hy vir goed weg.” Hy glip die baadjie aan en kyk Sam vas in die oë. “Heinrich gaan ’n priester word by die een of ander orde in Londen.”

Die uitdrukking op Sam se gesig verklik die ou man se onthutsing. “Maar wat van die plaas wat mevrou hom gegee het?”

“Hy wil dit nie hê nie, Sam. Al wat hy wil doen, is om ’n priester te word, soos vader John. Hy praat al lank daaroor, dis nie iets nuuts nie.”

“Haai!” Die plooie op Sam se gesig verdiep. “Dis soos jy sê, seurtjie Kurt, dit gaan mevrou aan die hart vat. Hoe kan hy net so wil wegloop?”

Kurt sug. “Dis wat hy die graagste wil doen en dis wat hom die gelukkigste sal maak. Tel dit dan nie?”

“En mevrou dan?” Sam skud sy kop beswaard. “Wat van háár gevoelens? Tel jou ma se geluk nie ook nie?” hou hy hardnekkig vol.

Dié gesprek gaan nêrens uitkom nie, besef Kurt. Hoekom is die ouer mense so seker hulle weet wat reg vir hulle kinders is? Voor hy en Heinrich nog kon loop, is daar al oor hul toekoms beslis. Watter reg het sy ma daartoe? Die rebelsheid wat hy voel, laat hom warm kry, skielik raak die stywe aandboordjie hinderlik.

Sam skud sy kop treurig, maar die neutrale masker glip weer oor sy gesig. Vir oulaas stryk sy hande oor die donker materiaal wat Kurt se skouers bedek om ’n laaste rafel of stoffie te verwyder. Toe stap hy styf en korrek, soos wat dit ’n butler van kaliber betaam, na die kamerdeur en maak dit oop. Maar toe Kurt wil uitstap, keer Sam hom skielik.

“Seurtjie Kurt,” sê hy angstig, “wanneer kom hy terug, jou pa? My seur Karl?”

“Heinrich skryf net dat hy hom in Parys gaan ontmoet, maar die brief is in Londen gepos en dis al wat daarin staan oor Pa.”

Sam knik stilswyend en volg Kurt na die trap, sy gedagtes vol kommer oor die siel van sy grootmaakseun. Hy wis daar’s dinge wat fout is met seur Karl en hy kan niks doen behalwe op sy knieë gaan nie … Ja, Sam Naudies, dink hy, jy weet jy is die enigste een in die huis wat nog uit jou hart uit vir Karl omgee. Hy sal bid, bid vir die dag dat hy Karl weer onder hande het en hom sal kan versorg … net soos vroeër.

Die goudbaronne

Подняться наверх