Читать книгу Die goudbaronne - Lerina Erasmus - Страница 14

Hoofstuk 11

Оглавление

Saterdagmiddag maak Kurt vroeër as gewoonlik by die myne klaar. Hy stort sommer daar en trek sy tennisklere aan. Hy het sy ma die vorige aand gewaarsku dat hy na ’n tennispartytjie uitgenooi is. Deborah het heel ingenome gelyk met die idee, en sy het hom selfs aangesê om haar tweede motor te gebruik, ’n aanbod wat hy gretig aanvaar het.

Flink ry hy verby die nuwe aanleg na die hoofpad en draai dan die wiele in die stad se rigting. Kurt geniet dit om die vaartbelynde voertuig te hanteer en hy bestuur goed. Sodra hy klaar is met sy studies, sal hy vir hom ook ’n ryding aanskaf, dink hy. Hy het al klaar in sy kop op ’n Italiaanse motor besluit, ene waaroor daar heelwat in die koerante geskryf word.

Hy voel skielik uitgelate. Hy sien uit na vanmiddag, hy het oefening nodig en daarby hou hy van Charlie Thompson, die jong man wat hom gevra het om sy tennismaat te wees in die dubbelspel. Thompson en hy was saam op skool gewees en later ook op universiteit, maar toe het Charlie medies gaan studeer, en dit het hom die meeste van die tyd in die Kaap gehou. Ten spyte daarvan het hulle kontak behou. ’n Gawe ou, dink Kurt, en daarby ’n staatmaker op die tennisbaan. Sy gedagtes dwaal af na die res van die geselskap wat daar sal wees. Eerstens is daar die rooikop Le Grange-tweeling van Pallinghurst, twee onnutsige maar goeie kêrels. Albei word as bankiers opgelei, sodat hulle eendag in hul pa se spore kan trap. Dié besit twee van die vernaamste banke in die stad. Dan is daar Ted Barlow, ’n meganiese ingenieur, wie se pa jare gelede ’n fabriek opgerig het. Ted sal een van die dae moet regstaan om by hom oor te neem, dink Kurt. Ook ’n gawe ou, entoesiasties, met groot planne vir die toekoms.

Dan is daar die meisies. Kurt trek sy mond skeef. Met die meisies wat gewoonlik teenwoordig is, is dit ’n ander storie. Hy kan skaars aan twee dink wat hom nie grensloos irriteer nie. Lillian Green-Fiddian, hul gasvrou vandag, is seker nie te sleg nie, alhoewel ’n bietjie te mollig na sy smaak. Hy vermoed sy het ’n ogie op hom en dit maak hom kriewelrig. Dan is daar die Albu-susters: albei baie mooi, maar hulle praat aanhoudend oor klere en partytjies. Is dit nie die geval met byna al die jong meisies van Johannesburg nie? wonder hy. Hierdie rykmansbende wat hulle vermaak deur voortdurend van een partytjie na ’n ander te fladder, op soek na iets nuuts, iets opwindends. In die betreklike klein sosiale kring van die stad se bevoorregte kinders raak dit ook maar bra vervelig.

In die buitewyke van Berea kies hy met opset die straat wat verby die tans verwaarloosde landgoed van Barney Barnato loop. Deur die mooi ou gietysterhekke is die groot herehuis tussen die bome sigbaar. Ná sy dood – sy ma sê daar was heelwat bespiegeling of Barnato oorboord gespring het, of van die dek van die Queen Mary afgestamp is – het sy neef wat die landgoed geërf het, ’n woning in Parktown bekom, ’n buurt met ’n hoër status as Berea. Dis duidelik hy het nie veel erg aan sy erflating nie, daarom dat dit nou so sleg lyk. As hy kon, sou hy dit gekoop het, dink Kurt. Die herehuis is gebou in die middel van ’n park van oor die vyf hektaar. Die grond alleen behoort uiters waardevol vir toekomstige ontwikkeling te wees.

Hy ry teen die steil heuwel op. Wanneer hy bo kom, op die kruin, sal ou Parktown onder hom lê, dink hy trots. Dis altyd so. Die Kaap het nou wel sy bekoring, maar op ’n helder dag soos dié voel hy hom een met sy geboortestad. Hy is murg en been ’n Johannesburger, die hartklop van die plek pols deur sy are, al is sommige van die inwoners so aanstellerig …

Kurt en Charlie Thompson het saam hul opposisie kafgedraf, totdat hulle teen vieruur die middag teen die ander wenpaar te staan gekom het, die gedugte tweelingbroers van Pallinghurst, bekend vir hul stamina en geweldige dryfhoue. Te oordeel na die applous, is Bruce en Liam duidelik ook die toeskouers se gunstelinge. Al die ander spelers drom nou om die baan saam om na die laaste wedstryd te kyk.

Nadat hulle net-net een uit twee stelle gewen het, is dit vir Kurt duidelik waarom die weddenskappe ten gunste van die tweeling was. Hulle sal vandag alles moet uithaal as hulle die twee rooikoppe wil klop.

Kurt se afslaan word flink deur Bruce ontvang, en sy broer is ewe vinnig gereed by die net om Charlie se terughou te keer. Die vier manne is nou in ’n verbete stryd gewikkel – die bal raak skaars grond.

Alle aandag is op die baan gevestig en niemand sien die swierige motor raak wat naby die tennispaviljoen stilhou nie. Ook nie vir Vickey Malloy, slank soos ’n bosnimf en geklee in haar gewaagde Chanel-tennisuitrusting, wat te voorskyn tree nie.

Vickey het aansienlik meer van ’n ophef by haar aankoms verwag. Sy leun ’n oomblik teen die motor se oop deur en frons. Al die gaste staan met hul rûe na haar gekeer saamgedrom om die tennisbaan, van waar sy geluide soos geweerskote hoor klap soos die bal heen en weer woerts. ’n Juigkreet klink vanuit die toeskouers op: “Mooi skoot, Charlie!”

Half ergerlik maak Vickey die deur toe. Sy stap stilletjies nader. Nie dat dit enige verskil sou maak nie, dink sy afgehaal, want die tenniswedstryd op die baan verg blykbaar almal se volle aandag. Sy gaan staan op ’n afstand teen die skuins heuwel van die tennispaviljoen, van waar sy ’n beter uitsig het oor die vier natgeswete spelers wat mekaar nie ’n duim se grasie gee nie. Die tweeling ken sy, en sy eien Charlie Thompson met sy vaal hare en stomperige neus. Maar die man wat haar nuuskierigheid prikkel, is Charlie se tennismaat. Hóm het sy nog nie vantevore gesien nie, en wat sy nou sien, hou sy van! Witblonde hare wat skerp afsteek teen ’n bruingebrande vel; skraal maar tegelyk gespierd, en lenig daarby. Amper so lank soos haar pa, en hy beweeg met die ratsheid van ’n windhond. Wie sou hy wees? wonder Vickey met ’n gevoel van opwinding. Die jong mans met wie sy die afgelope twee weke te doen gekry het, was aan die begin wel nie te sleg nie, maar geleidelik het hulle haar begin verveel. Almal is so eenders. Daarby praat hulle almal oor presies dieselfde dinge en lag hulle oor dieselfde grappe, en almal gaan na almal se partytjies toe.

Sy sug. In vergelyking met Parys is Johannesburg tog nog maar net ’n dorpie. Sy bepaal weer haar aandag by die vinnige spel op die baan. Die blonde man storm in en slaan ’n lae handrug, net buite die bereik van Liam le Grange, wat ’n luide uitroep van frustrasie gee.

“Lemoensap, juffrou Malloy?” vra ’n beleefde stem agter haar. Vickey draai om. Dis Denis, die Skotse butler wat die Green-Fiddians uit Londen met hulle saamgebring het. Sy glimlag.

“Ek sou ’n glasie sjampanje verkies.”

Hy kyk haar geskok aan. “Dit spyt my, juffrou,” antwoord hy haar styf, “maar in hierdie huis word daar nie sterk drank gebruik nie.”

“Nie?” Vickey se oë rek wyd van verbasing. “Nooit nie? Nie eens sjampanje nie?”

“Nooit nie. Nie eens sjampanje nie,” bevestig hy ferm. Weereens hou hy die silwerskinkbord met die lemoensap na haar uit. Verslae neem sy ’n glasie en glimlag flou vir hom. Hy wil wegloop om die ander spelers om die baan te bedien, maar sy keer hom haastig.

“Wie speel teen die Le Grange-tweeling?” vra sy onskuldig.

“Meneer Charles Thompson en meneer Kurt Mannheim.”

Sy knik en hy loop die heuweltjie af na die omstanders om die baan.

Die naam sing deur Vickey se kop: Kurt Mannheim! Natuurlik, nou herken sy die trekke. Laas toe sy hom gesien het, was hy omtrent tien of elf jaar oud en sy hare was wit verbleik ná hul lang, wonderlike dae op die strand. Toe al kon hy soos ’n windhond hardloop. Heinrich en Kurt … maar Kurt was altyd die leier. Hy was haar gunstelingspeelmaat. Maar Kurt het intussen ’n man geword, en wat ’n man is hy nie! Die dag kry skielik nuwe betekenis vir Vickey. Sy kyk na die glasie lemoensap in haar hand en slaan dit haastig weg.

“Jig!” mompel sy, want die vloeistof is lou. Skielik begin ’n onhebbelike idee in haar kop vorm aanneem: Manne wat so ’n uitputtende wedstryd speel – en dit in hierdie versengende hitte – gaan sekerlik dors wees daarna. Hulle sal ongetwyfeld iets sterker en kouer soek as louwarm lemoensap ná so ’n spel. Wat kan ’n moeë man meer beïndruk as ’n yskoue bier? Of selfs ’n glasie sjampanje?

Haastig sit sy haar leë glas op die kweek neer en stap vinnig terug na haar pa se motor. Sy moet gou maak, sy hoop net nie hulle speel klaar voordat sy met die proviand uit Balgray se koelkaste terugkeer nie. Haar pa is gelukkig nie daar nie, anders sou sy moes verduidelik. Hy kan soms so outyds wees in sy sienswyses oor wat goeie maniere uitmaak.

Vickey lag opgewonde toe sy die motor deur die sierlike hekke van die Green-Fiddians stuur. Van een ding is sy seker: As haar tydsberekening goed is, sal sy met haar terugkoms al die mans se aandag op haar hê!

Hulle is al ’n goeie veertig minute besig met die derde stel voordat Kurt en Charlie werklik ’n goeie deurbraak maak, en dis nadat Bruce sy tweede dryfhou net-net te kort mik en die bal teen die net laat beland. Dit gee hulle ’n geringe voorsprong wat hulle nuwe moed gee. Met hernude energie dryf hulle hou ná hou na die tweeling, wat op hul beurt kwaai moet rondspring om hierdie onverwagte aanval te probeer afweer. Dis asof Kurt en Charlie hul taktiek agtergekom het en nou hul eie slenterstreke teen hulle begin uithaal. Die twee is oral op die baan, rakette oorgehaal om selfs die onmoontlikste hou te ontvang, net om dit weer met mening terug te slaan.

Die laaste stelpunt is nou op die spel, en steeds wil nie een van die manne bes gee nie. Maar toe maak Liam ’n fout. Hy moker sy laaste afslaan laag oor die net in ’n poging om Kurt uit te oorlê. Tot sy ontnugtering skiet die vent soos blits oor die baan en tik die bal met ’n delikate handrughou sodat dit weer net oorkant die net grondvat, ver buite Bruce se bereik. Daarmee wen Kurt en Charlie die wedstryd.

Onder luide toejuiging skud die moeë spelers blad. Liam klop Kurt op sy skouer. “Magtig, man,” hyg hy, “jy’t ons voos gespeel! Dis die eerste keer in ’n lang ruk. Jy kan gerus by ons klub aansluit.”

Kurt lag. “Ek is self pootuit. ’n Lang, yskoue bier sal nou goed afgaan!”

Die ander drie spelers, wat intussen vooruit gestap het, hoor wat hy sê en bars uit van die lag. Hulle wag Kurt in by die tennisbaan se hek. Hy kyk hulle onbegrypend aan.

“Droom maar oor jou biertjie, my maat. Alkohol sal jy aan huis van die Green-Fiddians nie kry nie!”

’n Groot blinkswart motor kom met ’n vrolike getoeter tot stilstand op die halfmaanpad kort anderkant die baan. Uit die motor klim ’n donkerkopmeisie. Sy gooi laggend haar arms omhoog en waai vir hulle.

“Ek bring nektar vir die oorwinnaars!” Sy duik terug in die motor en kom te voorskyn met ’n bottel sjampanje in die een hand en ’n bottel koue bier in die ander. “En lafenis vir die moeë verloorders!” roep sy uit.

’n Goedkeurende kreet bars uit die monde van die vier tam spelers. “Hoera! Vickey Malloy tot ons redding!” roep Charlie uit.

Kurt staar verdwaas na die mooi jong vrou. Vickey Malloy? Victoria … Kan dit werklik sy wees? Sy rabbedoemaatjie van destyds, die meisie met die windverwaaide krulle, kan dit sy wees?

Al wat ’n man is, begin nou op die sjarmante wese afpyl. “Komaan, maat,” pomp Liam hom in die ribbes, “die gode het jou versugting gehoor! Kit Malloy se dogter bied altyd die beste drank in die dorp aan.”

“Hoe dan anders,” lag Charlie. “Haar pa was dan die kroegkoning in die ou dae, so sê my ouers!”

Kurt stap saam met hulle na die samedromming om die motor, maar hy voel vreemd, anders, asof iets met hom gebeur het … Wát weet hy nie, hy weet net dat dit te make het met sy verbystering oor die metamorfose van die meisietjie uit sy jeugjare. Haar onverwagse verskyning, so uit die bloute uit, het hom soos ’n weerligstraal getref.

Toe hulle nader aan die motor kom, hoor hy Lillian Green-Fiddian ontsteld uitroep: “Dit word nie gedoen nie, Victoria Malloy! Dis uiters swak smaak. Hoe durf jy drank op my ouers se eiendom bring?”

Kurt se lengte bevoordeel hom, hy sien hoe Vickey omdraai en liefies vir Lilian glimlag.

“Dis net vir ’n kort rukkie, Lilly. Eintlik wou ek julle almal net kom sê het.” Sy spring rats in die motor. “Komaan, volg my! Die kroeg is in die straat onder die twee eike net regs van die uitgang.” Haar klokhelder lag klink op en sy trek weg op die hoefysterpad wat laer af uitmond in die straat. Die gaste storm uitbundig agterna. Net Kurt bly agter, hy en Lillian, wat die motor en haar renegaatgaste in woede agterna staar. Kurt het ook lus om pad te gee, maar daar is iets so verlate aan Lilly dat hy dit nie oor sy hart kry nie. Haar mollige skouertjies beweeg sidderend. Hiperventilasie, vermoed hy. Kurt vermurwe en stap na haar toe.

Sy swaai om, en daar is trane van woede in haar oë. “Wat wag jy, Kurt Mannheim! Hoekom hardloop jy nie ook agter haar aan nie.”

“Want ek het nie lus nie,” lieg hy vlot en glimlag vir haar. “Ek sal graag ’n glas koue water uit jou hande wou hê, Lilly, en daarna kan ek aan niks lekkerder dink as ’n yskoue stort nie!”

Sy kyk hom ongelowig aan en sien hy spot nie met haar nie. Die blyheid op haar ronde gesiggie laat hom besluit dat dit die opoffer van ’n koue bier werd was.

Hy hou sy arm na haar uit. “Sou u bereid wees om deur ’n sweterige man begelei te word?”

Lillian aanvaar die arm gretig en probeer uitasem vergoed. “Ons kan yskoue gemmerbier drink, of pons, miskien. Mamma se resep kom uit Skotland, dis heerlik en so gesond. O, meneer Mannheim, jy het wonderlik gespeel! Ek het geweet jy sou wen, maar ek het tog maar my duime die hele tyd vir jou vasgehou. Ek is so bly, so bly jy het gewen!”

Om Vickey is almal vol kwinkslae en die geluid van klappende sjampanjeproppe klink op. Die vonkelende vloeistof word argeloos in fyn kristalglasies gestort. Vickey lag vrolik en maak gevatte en soms riskante aanmerkings. Al wat man is, hang aan haar lippe. Dis wat sy wou hê, maar sy is siek van teleurstelling. Hy is nie hier nie, al die ander het haar gevolg, net Kurt Mannheim nie. Hoekom nie? Dit was juis om sy ontwil dat sy al die moeite gedoen het. Hoe durf hy haar so ignoreer? Om haar word daar feesgevier met haar pa se drank, sy motor het ’n straatkroeg geword, maar sy het nou belangstelling verloor. Sy probeer haar ongemerk van die groep onttrek, maar dis nie so maklik nie.

John Crawford se arm glip besitlik om haar. “En nou? Waar gaan jy heen, mooiste?”

Sy wurm haar behendig uit sy greep. “Niks met jou te doen nie, lelikste!” Sy versuiker die stekie met ’n glimlag en spreek dan die ander aan. “Geniet julle, julle kan klaarmaak wat hier is.” Sy beduie na die Green-Fiddian-huis. “Ek gaan met Lillian vrede maak.” ’n Koor van protes klink op, maar Vickey swaai om en hardloop vlug soos ’n bokkie na die hek en draf teen die geplaveide pad na bo.

Waar sou Lillian wees? Waar sy is, sal Kurt Mannheim ook wees … of sou hy huis toe gegaan het? Nee, sy het al twee ingange dopgehou en geen voertuig is daardeur nie, so hy moet nog daar wees. Naby die tennispaviljoen hoor sy stemme. Sy gaan staan. Haar hart klop vinniger en sy voel uitasem, amper benoud, nie van die hardloop nie, maar omdat sy Kurt se stem herken. Hy vertel Lillian iets, en haar verspotte giggellaggie is nou ook duidelik hoorbaar. Vickey trek diep asem in en klim dan vasbeslote teen die grashelling op.

Hulle sien haar nie voordat sy tussen die ingangspilare uitstap nie. Albei raak stil. Vickey voel ongewoon verbouereerd en steek vas. Wat moet sy sê? Seker dat sy jammer is, maar sy is eintlik nie. Tog, sy was seker op ’n manier onbeleef. Sy glimlag boetvaardig vir Lillian, maar dié staar haar met openlike nyd aan.

“Jy is nie meer welkom hier nie, juffrou Malloy,” sê sy kil.

Vir Kurt lyk Vickey skielik weer soos die klein dogtertjie van destyds, en net soos toe voel hy weer ’n oorweldigende begeerte om haar te beskerm.

“Ek het gekom om verskoning te vra, Lillian. Dit was onverantwoordelik. Ek het ’n skielike bevlieging gekry. Dit was simpel van my, ek weet, maar ek het dit nie sleg bedoel nie …” Sy weet nie eintlik wat om nog by te voeg nie.

Van onder klink die res van die partytjiegangers se stemme op, hulle moet op pad terug wees. Dit bied haar ’n uitweg. “Daar was geen … daar is nie kwaad gedoen nie,” stamel sy. “Ons het net ’n glasie of wat daar onder gedrink. Almal is nou aan die terugkom en –”

“Net soos jy, kan hulle ook nou maar oppak en ry!” snou Lillian haar bitsig toe.

Kurt, wat tot dusver in stilte geluister het, tree tussenbeide. “Dis darem straf, Lilly. Die ander manne gaan my kwalik neem omdat ek ’n selfsugtige vraat is!” Hy beduie na die oorlaaide tafels waarop die eetgoed uitgestal is. “Almal weet watter wondere uit julle kombuis kom, dit sal wreed wees om jou ander gaste daarvan te beroof. Jou ma sal ook teleurgesteld wees.”

“Wel …” Lillian huiwer onseker. Om Kurt Mannheim net vir haarself te hê was ’n bonus waarop sy glad nie kon reken nie. Maar weereens het Victoria Malloy – wat alreeds al die hubare mans betower het – gekom en haar idille bederf. Aan die ander kant wil sy darem nie kleinsielig voorkom nie, veral nie voor Kurt Mannheim nie.

“Nou goed dan,” brom sy stuurs, “ek aanvaar jou verskoning.”

Vickey beloon haar dadelik met ’n stralende glimlag wat ook vir Kurt insluit. “Dankie! Dis grootmoedig van jou. En ek is werklik verlig daaroor.”

Vickey kom nader en steek haar hand uit na Kurt. “Hallo! Hoe gaan dit, Kurt? Jy onthou my darem seker nog?”

Hy knik. “Natuurlik,” antwoord hy en staan op. Hy neem haar hand en skud dit formeel, asof hulle vreemdelinge is. “Aangename weersiens.” Hy los haar hand en draai na Lillian. “Ek sal in die pad moet val. Dankie, dit was ’n lekker dag.”

Lillian wil nog protesteer, maar die res van die partytjie swerm al om die tennispaviljoen. Die langste van die rooikoptweeling bars eerste te voorskyn tussen die twee pilare deur.

“Lill, my dier!” roep hy bulderend uit. “Jy is nie vir ou Bruce kwaad nie, is jy? Die man was net dors.” Hy grinnik vir Kurt. “Veral nadat hierdie lummel ons so van ons eer gestroop het.” Hy kry Lillian om die lyf beet en swaai haar in die rondte. “Maar nou is ek rasend honger.” Hy fluit van verbasing oor die oorlaaide tafels. “Jinne, kyk net wat het ons! Weereens ’n beroemde Green-Fiddian-fees!”

Lillian se beker loop oor, want skielik is sy die middelpunt van belangstelling. Haar partytjie is ’n reusesukses. Die oefening het gesorg vir ’n gesonde aptyt by almal, net soos die drankies uit die Malloy-kelders alle inhibisies laat verdwyn het. Alle geskille word skielik vergeet. Om die tafels drom die partytjiegangers soos ’n swerm sprinkane. Hulle is jonk en het nie ’n sorg ter wêreld nie. Die toekoms behoort immers aan hulle.

Kurt het gedink dat hy onopgemerk die tennispaviljoen verlaat het, maar hy het hom misgis. Toe hy sy hand uitsteek om die motordeur oop te maak, hoor hy haar ’n entjie agter hom.

“Wag, voor jy ry!” Hy draai om en sien Vickey aangehardloop kom, haar hare nou los en in wonderlike wanorde. “Ek … ek …” Sy is effens uitasem. “Ek wou net sê, ek sou jou graag … graag w-weer wou sien,” stamel sy.

Hy glimlag en haal sy skouers op. “Ja, wel, dis seker onvermydelik, die stad is maar klein, ons sal sekerlik weer ontmoet.”

“Dis nie wat ek bedoel het nie … ek bedoel … ek sou graag met jou wou praat. Ons was tog vriende, ek wil weet hoe dit gaan, wat jy doen, hoe dit met Heinrich gaan, waar hy is …”

“Op die oomblik nog in Londen …” Hy vertel haar vlugtig dat Heinrich hom tot die Kerk verbind het. “In sy laaste brief het hy geskryf dat hy volgende jaar na ’n orde in Parys gestuur sal word, daarna die Vatikaan.”

“Parys? Dis wonderlik! Dan sal ek hom daar sien wanneer ek teruggaan. Dis waar ek musiek studeer, aan die École Normale de Musique de Paris.” Sy glimlag stralend vir hom. “Nou moet jy ook net soontoe kom, dan is ons driemanskap weer heel!”

Kurt kyk haar op ’n vreemde manier aan, amper asof hy iets wil sê maar hom dan bedink. Hy maak die kar se deur oop en sit sy raketsak binne op die sitplek, sonder om van haar af weg te kyk. “Net jammer ons is nie meer kinders soos destyds nie,” sê hy stil.

“Maak dit saak? Verander dit ons vriendskap?” vra sy fronsend.

Hy haal sy skouers op. “Dit was lank terug, dinge is nie meer soos dit was nie.” Hy voel ellendig, want hy kan duidelik sien dat hy haar gekwets het. Dit was nie sy bedoeling nie, maar dis asof alles wat hy sê, verkeerd bly uitkom. “Ek moet gaan,” voeg hy stug by. “Dit was goed om jou weer te sien.”

Hy keer sy rug op haar en loop na die neus van die voertuig waar hy die slinger ’n paar aggressiewe draaie gee. Hy spring vinnig in en maak die rem los. Die motor brul toe hy die petrolpedaal trap. Vickey tree verslae terug en kyk hoe hy wegry.

* * *

“Ek verstaan van Simson jy het ons kelder vanmiddag besoek?” vra Kit, gemaak streng.

Vickey loer vir haar pa oor die bord kos waaraan sy lusteloos peusel.

“As ek mag vra, wat was die geleentheid?”

Vickey trek ’n skewe mondjie. “Dit was net ’n paar bottels, ek het nie gedink Pappa sal omgee nie.”

“Dit gaan nie oor die omgee nie, ek vra –”

“Dit was ’n gier, Paps, dit was warm, ons het tennis gespeel, en … ’m … ons was dors.”

“O?” Kit se wenkbroue skiet omhoog. Sy dogter se ontegemoetkomende antwoorde maak hom agterdogtig. “Tennis, sê jy? En waar het julle tennis gespeel?”

Vickey sug. Hoekom moet hy nou so uitvraerig wees? Sy sien dat hy haar afwagtend aankyk. Sy sal hom maar moet vertel.

“Dit was by Lillian Green-Fiddian se huis,” antwoord sy langtand.

’n Lig gaan vir Kit op. Sy kind het bottels drank aangebring by die huis van daardie geswore afskaffers. “Dit was nie ’n baie taktvolle ding om te doen nie, Victoria!”

“Ek weet, Pappa,” antwoord sy bedees, “en ek hét Lillian om verskoning gevra. Ag, Pappa, dit was net ’n paar bottels, en dit was nie op hul grond nie.”

Kit se verergdheid verdwyn. Hy kon nog nooit lank vir sy meisietjie kwaad bly nie.

“Nou ja toe, ek hoop dit was darem die moeite werd?”

Sy glimlag, maar antwoord nie haar pa nie. Sy sit haar mes en vurk netjies neer. “Simson, kan jy dit wegneem, asseblief? Ek is regtig versadig.”

Simson beveel met ’n knik van sy kop dat die tafelmeisie die bord moet verwyder.

“Ons sal maar op die stoep koffie drink, Simson,” sê Kit. Hy skuif sy stoel terug en staan van die tafel af op.

Die aand is balsemend ná die dag se hitte. Onder hulle flonker die duisende liggies van die stad. Vickey kyk na die rooi kooltjie van haar pa se sigaar. Die rook daarvan is ryk en geurig. Sy sou ook graag een wou rook. In Parys het haar kavaliers haar dikwels ’n sigaar aangebied, en baie van die meisies daar het gerook. Sy wil nie pal rook nie, dink sy, maar nou sou dit nogal lekker gewees het … ’n Sug ontglip haar lippe.

“En nou? Waar val daardie sug uit?” Kit se stem is warm vanuit die donkerte.

Sy lag saggies en sê maar niks nie. In stilte sit die twee op die stoep, elkeen met sy eie gedagtes besig. Naderhand skud Vickey haar kop.

“Pappa, kan Pappa onthou toe ek nog klein was en ons op die strandplaas in Houtbaai gewoon het, toe het Heinrich en Kurt ons elke vakansie besoek?”

“Ja, ek onthou dit goed. Hoekom?”

“Sommer maar. Ek dink partykeer aan hulle …” Weereens volg ’n stiltetjie. “Maar Pappa, ná ons terug was in Johannesburg, waarom het Pappa my verbied om hulle te sien?”

Dis nou Kit se beurt om lank te swyg. “Dis so lank terug, waarom dit nou ophaal?” vra hy uiteindelik.

“Dis net omdat … Pappa, ek het Kurt Mannheim vanmiddag weer gesien,” kom die antwoord.

As Vickey in die donkerte kon gesien het, sou sy gemerk het hoe haar pa se gesig verstrak, dat hy sy oë in ’n skietgebed sluit. Wat sy wel merk, is dat die rooi kool van sy sigaar helderder brand soos hy diep daaraan teug, voordat hy dit met mening in die asbak dooddruk.

“Ja, ek weet hy is terug in die stad,” antwoord hy ontwykend. “Hy’t na sy ma kom omsien. Sy’t ’n ongeluk gehad.” Weer ’n stilte, totdat Kit keel skoonmaak. “Victoria, jy kan jou flikkers gooi by al wat ’n man is in Johannesburg, maar ek waarsku jou, los liewer vir Kurt Mannheim in vrede, hy is nie vir jou bestem nie.”

“Waarom nie? Ek praat ook nie van flikkers gooi nie, dis net dat ek belangstel. Ons was beste maats destyds, Pappa, wat is daarmee verkeerd as ek weer wil vriende maak?”

“Vergeet daarvan!” kom die streng bevel.

Sy kyk die donker vorm van haar pa geïrriteer aan, maar besluit dan om haar tegniek te verander. “Hoekom is Pappa so ’n ou brombeer vanaand?” vra sy met ’n helder laggie. Sy staan op en vly haar neer op Kit se skoot, net soos toe sy nog ’n dogtertjie was, en haar hand liefkoos saggies haar pa se wang. “Pappa, jy het my nog nooit tevore so kortaf geantwoord nie,” sê sy verwytend. “Gee my minstens een goeie rede.”

Hy sit ’n paar oomblikke roerloos, dan lig hy haar beslis van sy skoot af en kom orent. Hy trek ’n vuurhoutjie teen die ronde gietystertafel. Die vlam verlig momenteel sy gebeitelde profiel. Hy lig die lampglas van die koperstaanlamp en hou die vlam teen die pit. Sissend begin dit brand, die lig is onverwags helder. Hy sit die lampglas versigtig terug en draai om na haar.

“Ek is nie die een wat die verbod geplaas het op julle kinders se vriendskap nie. Maar Deborah Mannheim, Kurt se ma, het – wel, kom ons sê maar net daar is gramskap tussen ons. My naam en alles wat na aan my is, het vir haar ’n skeldwoord geword.”

“Waarom?” vra sy kind verbaas. “Wat het Pappa gedoen om so iets –”

“Oorlog verander mense,” val hy haar in die rede. “Wat gebeur het, kan nie ongedaan gemaak word nie. Ek probeer keer dat jy nie nou ook seerkry nie.” Hy sit sy hande op haar skouers, sy gesig ernstig. “Ek waarsku jou, Vickey, bly uit jong Mannheim se pad uit. Hy is die appel van sy ma se oog, sy sal hom beswaarlik wil deel met enige meisie, wat nog te sê die dogter van haar aartsvyand Kit Malloy!”

Die bitterheid in sy stem laat Vickey skrik. Sy tree terug, maar lag dan. “Pappa is seker nie ernstig nie? Dis so outyds, ’n soort bloedvete tussen families.”

“Ek het niks meer daaroor te sê nie,” antwoord hy kortaf. “Ek hoop jy gaan nie my wense verontagsaam nie, Victoria, want jy is vir my kosbaar. Jy is al wat ek het, en daarom gaan ek nie toelaat dat jy seerkry nie. En glo my, my kind, dit is wat gaan gebeur as jy te doen kry met die Mannheims. Hulle donker siele teer op ongeluk.”

“Maar Pappa –”

“Genoeg! Ons het heeltemal genoeg oor hulle gepraat.” Hy glimlag versagtend. “Gaan speel vir ons iets, toe. Ek het ’n behoefte aan musiek vanaand.”

Vickey besef aan die onverbiddelike trek op haar pa se gesig dat die onderwerp vir eers afgehandel is en sy knik gemaak gedweë. Maar later, terwyl haar vingers vlug oor die klawers dans, herroep sy Kurt se beeld soos sy hom vanmiddag vir die eerste keer in baie jare weer gesien het … Iewers in haar ou foto-albums moet daar nog foto’s van hom wees, sy sal hulle vanaand nog deurblaai.

Sy glimlag, want hoe anders sien hy nou daar uit! Hy het ’n sonnige glimlag wat sy hele gesig verhelder, dit het sy gesien toe hy sit en skerts het met Lillian … As sy, Vickey, net die ontvanger van daardie helder glimlag kon wees! Waarom was hy so afsydig? Geen man was nog ooit afsydig teenoor haar nie, dit maak haar tegelyk ergerlik en nuuskierig. Sy sal versigtig te werk moet gaan, maar meer wil sy beslis oor hom te wete kom. Sy wil – nee, sy gáán – hom weer ontmoet, en nóg haar pa nóg Deborah Mannheim gaan haar daarvan weerhou.

Ek het Vickey Malloy weer gesien … skryf Kurt in sy brief aan Heinrich, maar dan stol sy hand op die papier. Hy wil die nuus met Heinrich deel dat hulle mekaar ná al die jare weer ontmoet het, maar hy weet nie wat hy oor haar moet sê nie. Sy het so ’n – hoe kan hy dit beskryf? – ’n vreemde invloed op hom. Hy en Heinrich het min geheime vir mekaar, maar selfs aan hom kan hy nie openbaar dat sy sedert daardie eerste Saterdagmiddag wat hy haar by die Green-Fiddians raakgeloop het, selde uit sy gedagtes was nie. Haar beeld spook by hom: Tydig en ontydig kom die meisietjie met die windverwaaide krulle in sy gedagtes te voorskyn. Haar gekwetste uitdrukking beskuldig hom van uiterste onbeskoftheid, en elke keer verwens Kurt homself daarvoor. Hy kan nie onthou dat hy ooit vantevore so oorstuur geraak het in ’n meisie se teenwoordigheid nie. Hy moes tog maar net hoflik verskoning gemaak het, maar op daardie oomblik was dit of sy kop vasslaan.

Elke keer wat hy haar daarna teëgekom het, was hy van plan om om verskoning te vra. Maar hy het nooit die kans gekry nie, want Vickey Malloy was altyd omring deur ’n kring bewonderaars. Sy was gevat, sy het almal laat skaterlag met haar kwinkslae. Dan het sy hulle weer betower met haar anekdotes oor Parys. Ook dít het Kurt omgekrap, want dit het hom soos ’n jafel laat voel. Die res van die stad se rykmanskinders was almal al oorsee, net hy nie. Daar was nooit tyd daarvoor gewees nie, vakansies was hy óf op Sorgenfrei óf het hy saam met sy ma ingeval by die myne. En enkele kere was hulle by sy oupa se huis in Muizenberg in die Kaap, maar dit was selde.

Dit het hom nog nooit voorheen gepla nie, maar nou, in die geselskap van iemand soos Vickey, wens hy dat hy soos die ander ook geweet het waarvan sy praat. As hy net soms ook ’n eie bydrae kon maak. Maar hy sit gewoonlik daar met ’n mond vol tande en verbeel hom sy voete en hande word by die sekonde groter en meer opvallend. Hy weet dit is onredelik, maar in sy ongemak gedra hy hom al hoe meer soos die een of ander bot bul, en boonop een wat Vickey Malloy nou so ver as moontlik probeer vermy. Hy sug en skryf verder. Sy het verander, Heinrich, sy is vol Parysmaniertjies …

Maar is dit rêrig waar? wonder hy. Sy is gevat en wêreldwys, en daarby baie sjarmant, maar hy is oortuig daarvan dat die ou Vickey nog iewers daar binne is. Hy sien in sy gedagtes hoe sy die vorige aand gelyk het, geklee in ’n goudgeel rok van organdie wat elke lyn en kurwe van haar liggaam geliefkoos het. Sy het hom aan ’n eksotiese orgidee laat dink. Net een maal het daardie besonderse blou oë kortliks op hom gerus, en sy beloning was maar net ’n afwesige glimlag, asof sy hom nie ken nie. Daarna was al haar aandag weer op die ander toegespits wat geneul het dat sy klavier moes speel. Sy hét toe: eers ’n vrolike ragtime-deuntjie van Scott Joplin wat almal geken het, daarna iets van Liszt.

Kurt het haar op ’n afstand bly dophou, en teen sy sin was hy betower deur die klein mensie wat met soveel vuur speel, wat sulke betowerende klanke uit die swart en wit klawers kon lok. Hy wou hê dat sy vir ewig moes aanhou, maar stadig het hy bewus geword daarvan dat sy in ’n ander wêreld was, een waarin hy skaars kon hoop om ooit te deel.

So ongemerk as moontlik het hy padgegee, want die aand het sy smaak verloor, en hy het teruggekom huis toe. Sy ma wou weet waar hy was, ’n onskuldige vraag, maar hy het haar ongewoon kortaf geantwoord en gaan slaap. Dwarsdeur die nag was sy by hom soos hy haar voor die groot vleuelklavier gesien het: in haar songeel tabberd, gebaai in die bewondering van al haar bewonderaars wat maar net nie genoeg kon kry nie.

Kurt frons. Hy wens hy het liewers nie aan Heinrich genoem dat hy haar gesien het nie. ’n Oomblik oorweeg hy dit om die brief op te skeur, maar dan voeg hy uiteindelik by: Wag, miskien is ek onregverdig. Ek is bloot boertig en agteraf. Sy is baie mooi, Heinrich. Nee, mooier as mooi. Ek kan nie onthou dat ek of jy ooit op só ’n manier aan haar gedink nie, want sy was mos een van ons. Maar nou is dit anders. Sy het iemand anders geword, iemand wat ek nie ken nie, en ek wens ek kon die jare oorbrug en die nuwe Vickey Malloy opnuut leer ken.

Vickey se vingers meet die oktawe sonder dat sy daaraan dink, asof hulle oë van hul eie het. Soms, wanneer sy soos nou vir haar pa speel, bied die klavier vir haar ontvlugting. Sedert daardie Saterdagmiddag toe sy Kurt die eerste keer weer gesien en sy Kit oor hom uitgevra het, weet sy dat haar pa ’n oog op haar hou. Hy mag dink dat sy oënskynlik onskuldige vrae haar flous, maar sy ken hom goed genoeg om te weet dat daar meer agter sit.

Sy frons. Nie dat hy rede tot enige kommer het nie, want Kurt Mannheim vermy haar asof sy die een of ander plaag het. Al haar plannetjies het op niks uitgeloop nie. Sy het uit haar pad gegaan om deur die vriendekring ontmoetings met hom te bewerkstellig, maar afgesien van ’n kopknik van sy kant, ’n paar woorde hier en daar, was daar geen toenadering nie. Haar idees om toevallige ontmoetings te beding is vinnig aan die opdroog.

Waar ontmoet mens ’n man soos hy in Johannesburg? wonder sy desperaat. Hy is die meeste van die tyd doenig op die myne, en sy het geen idee waar en met wie hy sy vrye tyd deurbring nie. As sy geweet het, sou dit makliker gewees het. Sy het dit al oorweeg om hom voor te lê wanneer hy van sy werk af terugkeer stad toe, om haar motorband af te blaas of so iets, net om hom te dwing om haar te help. Maar die Mannheims het nege myne. Hoe moet sy weet uit watter rigting hy gaan kom? Sy het so gehoop dat hy gisteraand met haar sou praat, want sy het gesien dat hy na haar gekyk het en sy wou glo dat sy iets in sy blik gelees het, maar dit lyk of sy verkeerd was.

Hy was duidelik nie beïndruk deur haar spel nie, want hy het soos ’n groot speld verdwyn nog voor sy klaar was. Ellendige man! Hoe durf hy haar so behandel asof … asof sy onsigbaar is? Dit is iets waaraan sy nie gewoond is nie. Sy voel skielik verskriklik bedroef en lus om te huil. Sy het gisteraand Liszt se bekende Liebestraum gespeel, en dit met haar hele hart. Is hy so ’n dom kluit dat hy niks daarin kon hoor nie? Sy wens sy het hom nooit gesien nie! Nee … nee, sy weet dis nie waar nie, want hoe meer hy haar op ’n afstand hou, hoe groter word haar verlange na hom. Nog nooit het ’n man so ’n effek op haar gehad nie. Dit stort haar tegelyk in die diepste wanhoop, en aan die ander kant dryf dit haar tot opwindende afwagting elke keer wanneer sy hom ’n vertrek sien binneloop. Dis ongelooflik! ’n Gevoel soos goeie sjampanje wat na haar kop gaan. Maar wat help dit haar? Net mooi niks. Sy wens hulle kon weggaan, see toe miskien, daar sal sy van hom kan vergeet. En tog … nee, Kurt Mannheim sal sy nooit weer uit haar hart en gedagtes kan verdryf nie, dit weet sy met dieselfde sekerheid as waarmee haar vingers die slotakkoorde van die sonate speel.

“Dankie, dit was mooi, my kind,” sê Kit waar hy in sy leunstoel sit.

Vickey sit roerloos met haar rug na hom gekeer, asof sy hom nie hoor nie. Hy weet daar is fout – selfs uit haar spel kon hy aflei dat haar gedagtes ver weg is van wat in hierdie kamer aangaan. Sy lieflingskind is nie gelukkig nie, dit weet hy maar te goed. Oor die laaste paar weke was dit of haar ou spontane sprankeling by die dag getaan het. Sy is geslote, ontwykend.

Maar sy kan hom nie flous nie, hy weet waaroor dit gaan. Jong Mannheim het ’n indruk gemaak op sy kind en hy het haar verbied om hom te sien. Het hy die reg daartoe gehad? Die kinders is jonk – sou dit nie veel beter gewees het as hy niks gesê het nie en die saak sy eie loop laat neem het? Sy Vickey was nog altyd wispelturig, miskien sou sy gou belangstelling verloor het en haar aandag verplaas het na iemand anders. Maar nou het Kurt Mannheim die verbode vrug geword. En dis gevaarlik …

Vickey staan van die klavier op en gaap teatraal. “Ek is nogal moeg. Seker gister se laat aand. Ek moet vroeg in die bed kom,” lieg sy vlot.

Kit knik. “Maak so. Dit was ’n bedrywige paar weke vir jou gewees en jy moet goed uitgerus wees voor môre se perdewedren.” Sy kyk hom skeef aan, maar Kit se gesig bly onskuldig. “Die jaarlikse Gold Cup-resies. Onthou jy dit nie? En die hindernisresies aan die einde?” Hy takseer haar op die oog af en skud dan sy kop met leedwese. “Tog jammer dat jou perdryery op die oomblik nie te waffers is nie, nè. Die stad se jongklomp gaan teen mekaar jaag. Elke mynhuis het ’n joggie wat ry, en ek dink maar net, as jy nou fiks genoeg was, kon jy Balgray se ruiter gewees het.”

“Bedoel Pappa dat die mynmagnate se kinders teen mekaar gaan meeding?”

Kit haal sy skouers op. “Ja, beslis, maar ook die kooplui se kinders. Louis Marks, Sammy Marks se seun, gaan blykbaar in die saal wees, en daardie Phillips-kêreltjie ook …”

Terwyl haar pa praat, kom ’n plan by Vickey op. Dis mos die kans waarop sy gewag het! Wie anders sal vir die Mannheims in die saal wees as Kurt? Dis ’n gulde geleentheid wat sy nie durf laat verbygaan nie.

Kit praat onverstoord voort oor die resies, maar hy moet sy lag streng inhou, want sy dogter se gesig het verhelder asof daar ’n kers iewers in haar vlamgevat het. Hy is bly hy het die ingewing gekry – hy kon dit nie verduur om sy meisiekind so ongelukkig te sien nie. Wat maak dit nou saak as twee jong mense mekaar ontmoet? Miskien is dit soos sy gesê het, miskien wil sy net met die jong man vriende wees.

“Ek het Amber Queen vir die resies uitgesonder, maar dis nou tot daarnatoe, net die families se –”

“Ek gáán Amber môre ry, Pappa!” roep sy beslis uit. “Ek is glad nie so uit oefening soos wat Pappa dink nie. In Parys was ek byna elke naweek op comte Henri se landgoed, en ons was gedurig op die perde.”

“Ek weet darem nie,” sê Kit kamtig beswaard. “Amber is ’n lewendige merrie en sy kan koppig wees. Sal jy haar in toom kan hou? Onthou, dinge is anders met so ’n hindernisresies. Perde raak sonder rede senuweeagtig en –”

“Pappa! Hoe kan jy my so onderskat? Jy is dan die een wat my leer ry het, en comte Henri sê altyd ek is in die saal gebore. Ek gaan Amber Queen vir Balgray ry, en ek gaan wen!”

Al Vickey se planne om vroeg te gaan slaap het blykbaar verdwyn, want sy storm dansend op haar pa af, kry hom om die lyf beet en dwing hom in ’n dolle danspassie in. “Ons gaan wen!” roep sy laggend uit. “Wen! Ons gaan wen, Pappa!”

Die goudbaronne

Подняться наверх