Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit - Страница 10
7
ОглавлениеBy Katrien Tosen se pa in die kamer sit Gileam Dormehl en gesels. Dis wonderlik om te sien wat ’n opwekkende krag hy oor die ouer man uitoefen. Die gesig wat lyk soos ’n kopbeen waaroor daar ’n vel getrek is en waarop daar twee oë geplak is, luister en lewe.
Tippie Tosen het onbeplan in hierdie winkelbesigheid beland. Op die plaas het hy uitgeboer, om dieselfde redes as gevolg waarvan hy in die winkel ook steeds ’n sukkelbestaan gevoer het. Toe sy vrou geleef het, was dit ’n ander saak. Sy het altyd geweet hoe om op haar beskeie manier die winkel op te kikker. ’n Besonderse dingetjie hier, ’n botteltjie vars heuning daar, groenboontjies uit die dorpstuin.
Wat Tippie self betref, het hy sy naam nie sommer verniet ontvang nie. Deur die jare het die naam aan hom geheg soos klitsgras, omdat hy so stadig is en altyd op die tippie opdaag of klaarkry.
Toe dit nou op die plaas heeltemal skeef loop, het Tippie hom voorgeneem om goedjies vanuit die pakkamer te verkoop, en later het hy dorp toe geskuif. Hom wysgemaak dat hy goed in ’n winkel sal vaar. Hy kan immers met syfers in sy kop werk sonder om dit ooit neer te skryf. Hy sou later moes besef (of dalk het dit nooit tot hom deurgedring nie) dat dit nie al kwalifikasie is wat jy in die sakewêreld benodig nie.
Met sy traagheid om te bestee, sy langsaamheid wat irriteer, sy idee dat reklame oneties is, kon hy maar nooit iewers kom nie. Dalk was sy strengheid met sy vrou net ’n simptoom van dieper frustrasie, dié van die verouderende man wat besef dat hy nooit sal uitblink nie. Dat wat hy nou is, omtrent al is wat hy ooit gaan kry.
Maar na hierdie Gileam Dormehl kan hy eindeloos luister, die vervalle lippe halfoop, die poele van sy oë wat deesdae altyd stagnant is, nou met ’n diep kolking in.
“Oom sien, so effens eenkant,” beduie Gileam. “Die mense moet kan sê: by Dormehldorp dit, en by Dormehldorp dat. O ja, kyk, ek het oom nie eers gesê dat ek dit Dormehldorp gaan noem nie. Dalk sê almal later sommer net DD. So alles bymekaar: garage, slaghuis, kafee, melkdepot, winkel en speelpark. En my huis. Dan sit ek ’n rigtingwyser op wat sê Dormehldorp. Wag, ek wys vir oom hoe ek dit gaan doen.”
Terwyl Gileam agteroorleun in sy stoel om in sy sakke na skryfgoed te soek, volg die ouer man se blik hom bewonderend. Vroeër, toe Gileam se vrou nog geleef het, het hulle altyd in die kerk net voor die Tosens gesit. Dan het Tippie Tosen hom verwonder aan die man se breë, bruin nek, aan sy bulderende sang, sy streng blik na die twee kinders, en die manier waarop hy kollektegeld uit sy sak haal en aan die gesin uitdeel. Hier was ’n man der manne. Een na wie toe almal gaan om raad of hulp. “Vra vir Gieljam,” is die leuse op Isaacsdam. Nie dat Gileam sy geld en gunste sommer links en regs uitdeel nie. Nee, hy vat sy prys daarop, maar jy weet waar jy met hom staan. As jy deur hom gehelp is, kan jy maar betaal. Dit sal die moeite werd wees.
Nooit het Tippie kon droom dat Gileam so nou betrokke sou raak by die Tosens nie. Na die man se vrou se dood, het hy vir Katrien begin raaksien. Maar Katrien had eers net oë vir die vreemde kêrel wat sy eenkeer saamgebring het, ene De Villiers. Na dié van die toneel af is het Gileam Dormehl, soos dit ’n goeie wenperd betaam, van agter af ingehaal.
In alle eerlikheid dink Tippie Tosen nie dat sy dogter op deeske aardbodem beter kan doen as om vir Gileam te vat nie. Kyk nou net na hierdie slim plan van hom. Te wonderlik op aarde. Katrien moet ook kom kyk. “Katrien …!”roep die opgetoë vader.
Sy kom. Sy het darem ’n winkelhulp, die Levink-seun wat in die helfte van die jaar uit die skool is omdat hy nie met Engels, wiskunde, biologie en houtwerk kon regkom nie.
“Die roepery,” sê Gileam. “Ek moet vir oom ’n klokkie aanlê winkel toe. As die deure nie almal oop is nie, kan Katrien mos nooit vir oom hoor roep nie.”
“Wil jy glo,” staar Tippie hom aan, blink van oog. “Katrien, kyk hierdie slim plan van Gieljam.” Nou moet Katrien mooi kyk na die Dormehldorp-storie en die plasing van die letters.
Sy glimlag. “Pa lyk so in sy skik, maar ek wil eers sien of Gileam sy storie deurkry.”
“Nou hoe dan so?” Tippie voel diep teleurgesteld omdat sy dogter sommer so ewe ’n emmer koue water oor Gileam se slim plan kom gooi.
“Gileam sê die uitlêg van die nuwe deel is glo nie so dat hy sy sin kan kry nie.”
“Ek het nie so gesê nie,” help Gileam haar geduldig reg.
“Nou hoe het jy dan gesê?”
“Ek het gesê daai mannetjie sê so.”
“Nou kom dit nie maar op dieselfde neer nie?”
“Aikôna. Nie as my naam Gileam Dormehl is nie.”
“Maar wat kan jy tog doen?”
“Ek gaan hoog op met die mense praat. Ek was al by die dorpsraad en hulle klink ingenome met my plan. Dis tog vir die dorp se beswil.”
“Jy moes eerder daaroor gepraat het.”
“Jy weet hoe dit was, met die siekte en dood en alles.”
“Maar, Gileam, ek kan eenvoudig nie insien waarom jy nie tevrede kan wees met ’n kleiner terrein reg in die middel van die nuwe sakesentrum nie.”
“Kyk, Katrien, oom Tippie, ’n mens moet iets nastrewe.”
“Te veel strewe bring dalk net dwaling,” wys Katrien hom tereg.
“Huh? Oom Tippie? Hoor dan nou oom se meisiekind. Is dit nie so dat ’n mens iets moet hê wat hy nastrewe nie, oom?”
“Ja,” stem Tippie begeesterd saam, en die yl haartjies lê plat en natgesweet van opwinding teen sy skedel. “Dit is so, Katrien, my kind. Die mens moet iets hê wat hy nastrewe.”
Net so asof my stomme pa ooit iets nagestrewe het, dink Katrien spytig toe sy uitgaan om vir die twee mans koffie te maak.
Sy skrik half toe Gileam ’n rukkie ná haar in die kombuis verskyn en die middeldeur toedruk. Hy doen dit so doelbewus.
“En nou?” wil sy half glimlaggend, half onrustig weet.
“Jy weet ek is ’n boerseun wat my sake graag vroeg in die môre afhandel.”
“Sake?” Sy draai die gasstofie se vlam groter oop as wat nodig is.
Toe vat breë bruin hande hare van agter af vas, sy arms om haar lyf. Haar hart klop verstikkend. Gileam Dormehl het haar nog nooit so aangeraak nie. Hy is van die ou skool, gesteld op sy naam, op routyd na ’n dood. Sy nabyheid ontsenu haar heeltemal.
Wanneer het ’n man laas so aan haar geraak? Dit was Kirsten, onmiddellik voor sy verdrinking. Of verdwyning. Die betekenis bly dieselfde.
Maar selfs die gedagte aan Kirsten kan nie vanmôre die nabyheid van Gileam besweer nie. Is die mens dan tog ’n wese wat onvoorwaardelik met verloop van tyd genees? Enkele dae gelede nog was sy skoon siek van ellende, toe die aankoms van Jonathan Bergman met sy opgeslaande kraag uit die reën haar so ontstel het.
“Gileam?” vra sy, maar haar stem is so hees en sag dat die geluid van die gasvlam dit oorweldig.
Hy wentel haar na hom toe en hulle liggame raak aan mekaar. ’n Gevoel van swaar opwinding vloei deur haar, soos wanneer dik pap in ’n ysterpot prut. Absurde beeld, maar dis omdat Gileam so aards is, so uit die bodem gevat. Maar haar gevoel kan sy nie onvoorwaardelik as ekstase beskryf nie. Daar is ook iets van teensin in, soos die aanmaning van ’n komende ongesteldheid.
“Die ketel …” ontsnap sy. “Laat ek net die ketel op die vlam sit, Gileam.” Met die klein uitvlug, haar rug na hom, wonder sy hoe sy dan gedink het. Gileam is ’n man, ’n gesonde man, wat boonop aan die lyf van ’n vrou gewoond was.
Toe sy Bergman in sy tydelike kantoor gaan sien het, het hy te kenne gegee dat haar en Gileam se troue aanvaar word. Bergman het beslis heel gou die kleindorpse mentaliteit gesnap en begin beoefen. Hy het verniet so vol wind, letterlik en figuurlik, hier aangekom.
Maar dis nie nou ’n tyd om aan hom te dink nie. Gileam is steeds naby haar. Sy voel sy asem teen haar nek.
“Bang, hm?”
Sy knik. Waarom nie eerlik wees nie?
“Vir my? Of vir jouself?”
“Ek weet nie, Gileam. Dalk al twee.”
“Dis ’n goeie teken. Ek is tevrede.”
“Laat dit eers so bly, asseblief,” soek sy grasie.
“Ek het jou al baie tyd gegee. Of hoop jy nog?”
“Nee, nee, jy weet tog … Ek bedoel, die keerdatum van die hofbevel is al verby. Ek weet hy kan nie lewe nie.”
Die wat nog tot op die laaste hoop behou, dink sy, is gewoonlik die ouers. Maar dit is Kirsten se pa self wat gevra het dat die hof sy seun dood verklaar. Hulle moes uitvind geen hof kan verklaar dat hy dood is nie, maar wel dat hy waarskynlik dood is. Geen mens kan onbepaald bly hoop nie; veral nie as die bewyse berghoog lê nie, of seediep, dan.
In die stukke wat by die hof ingedien is, het sy vriend wat hom heel laaste gesien het, die nodige verklaar. Wat ’n tragiese ironie dat hierdie vriend later self ook ’n waterdood moes sterf. Saam het hy en Kirsten die branders aanbid, en een na die ander is hulle deur hierdie liefde opgeëis.
En selfs al sou Kirsten soos ’n Lasarus weer by haar aankom, sal sy hom neem? Eintlik het sy te swaar oor hom gekry. So ’n leed kan nie net summier nietig verklaar word nie.
Op hierdie punt stok haar gedagtes altyd volkome. Sy het nooit weer daardie briefie van die meisie gelees nie. Net die een keer nadat sy dit in die pos ontvang het. Nogtans het sy altyd geweet dat sy dit weer sal lees. Miskien is dit nou die tyd. Al is dit net om die herinnering aan Kirsten met mening te knou. Sy kan nie so voortgaan, in die verlede bly leef nie. Die lewe rol aan. Hier staan Gileam by haar en hy bied haar krag en liefde en veiligheid.
“Ek sê jou wat, Katrien. Kom eet vanaand by my. Ek voel nog altyd dat Lourens en Tala jou te swak ken. Tala kan vanaand kook. Sal jy kom?”
“Goed, Gileam, dankie. Wat bring ek saam?”
“Net jouself.” Verheug druk hy haar teen hom vas, net ’n oomblik, maar sy bly die aanraking onthou as dwingend. Sy was nog nooit voorheen bereid om na sy huis toe te gaan nie, en hy was ook maar suinig met sy uitnodigings. Mense kan so maklik iets aangryp en verdraai. Maar eintlik is dit belaglik. Sy opgroeiende kinders is daar.
Hoe moet sy hulle andersins beter leer ken? Hoe moet sy ooit tot ’n besluit kom, as dinge tussen hulle maar net by oppervlakkige geselsies bly? Of sy uitsien na die aand, weet sy nie. Sy durf haar dit nie afvra nie.
Maar tydens die etensuur, toe die winkeldeur volgens algemene gebruik gesluit is en Tippie Tosen na ’n ligte ete indommel, maak Katrien haar kamerdeur agter haar toe. Sy steek haar hand diep in die boonste laai van haar klerekas en haal die koevert te voorskyn. Geen geparfumeerde dosie met lintstrikkie nie, maar ’n gewone vaal koevert waarin een of ander stuk korrespondensie was. Daarin is die twee koerantberiggies: een oor Kirsten se verdrinking, die ander, meer as ’n jaar later, van die hofverklaring.
En dan, die derde stuk. Die briefie van die meisie. Na al die maande vou Katrien die enkele velletjie weer oop. Sy het dit ontvang nadat die eerste koerantberig verskyn het. Die gevoel van daardie skok, daardie smart, leef weer kragtig in haar op. Enersyds was daar die ellende oor Kirsten, en die verwyt dat sy nie daardie dag saam met hom en die vriend strand toe is nie. Hy het gesê hy het behoefte daaraan dat sy saamgaan. Hy het vreemd afgetrokke gelyk, sy blik dwalend.
Sy het nie. Daar was studente wat sou kom. Dit was immers die begin van die jaar, ’n mens moet skouer aan die wiel sit. Dit het haar gehinder dat hy so maklik erns met ’n saak verloor. En hulle het tog veel gehad van mekaar die vakansie, die eerste deel waarvan hy saam met haar Isaacsdam toe was.
’n Vinnige romanse was dit. Onverstaanbaar vir die ouer garde, want die vorige vakansie was daar nog g’n so iets nie. En sy studentehumor het ’n bietjie oor hulle koppe heen gegaan. “Maerlant en Boutens” vir ’n vet en ’n maer persoon is verlore op mense wat nie die Nederlandse digkuns ken nie. Ook Kirsten se gevatte stukkies Shakespeare, met sy eie vertaling van “Willem Wikkelspies”.
En dat “die mannetjie wat in Desember saam met Katrien hier was” toe ’n paar maande later verdrink het, was abstrakte kennis. Dat “Katrientjie baie hartseer is” was ’n bietjie meer konkreet, want sy het opgehou om “les te gee” by die universiteit en het hier op Isaacsdam kom inval agter die winkeltoonbank en by ou Tosen se siekbed. Nou het sy meer bereikbaar geword vir hulle, en kon hulle die hand na haar uitsteek in troos, noudat sy vir hulle suiker afgemeet en spesiale dinge by die reisigers bestel het.
Hulle troos was nie altyd teer en veelwoordig nie, maar eg vanweë die grondige aardsheid daarvan: ’n eetdingetjie, ’n skaapnek, ’n gemoedelike grappie voor die toonbank oor die Boer, die Engelsman en die Jood.
En tussen hulle was daar Gileam, wat haar nog die beste troos gebied het deur die voorbeeld van sy daadkrag. As hy ’n matroos op ’n seilskip was, sou hy die oseane oopgeklief het met sy volharding en sy dryfkrag. As die wind nie wou waai nie, sou hy self die boot aanblaas met sy klipharde stem. Of as hy, meer plaaslik gesproke, ’n windpomp was, sou al die damme oorgeloop het.
Uiteindelik, nadat sy ’n tyd daarmee in haar hande gesit het, vou Katrien die briefie van die meisie oop. Dit is na die universiteit toe gestuur en is in haar hokkie geplaas. Daar staan nie veel, nie in woorde nie. Maar in draagkrag beslaan dit boeke vol. Die styl is nie verfynd of die woorde geskool nie. Maar wat daar wil staan, staan daar:
Beste dame
Ek sien die koerant sê jy en Kirsten was van plan om verloof te raak voor die ongeluk gebeur het, en die koerantmanne het jou gaan sien en alles. Nou wil ek net sê, ek dink Kirsten het hom aspris in die branders gegooi, want wat maak ’n man as hy twee meisies het en hy wil aan die grênd een verloof raak en die ander een het hy in die moeilikheid? Ons ouers is vriende en sy pa en my pa sou hom doodmaak as hy nie met my trou nie. Die hemel alleen weet wat nou van my moet word, maar dis jou naam wat in die koerant is. My pa en ma sê hulle sal my nie verstoot nie, maar my ma hou aan met sug dat trane haar brood is. Ek hoop jy is nou tevrede. Janie Wilken.
Ek hoop jy is nou tevrede. Woorde wat ’n weg gebrand het tot diep in die hart, waar dit nog steeds leed aandoen. Want onwetend sondig tog immers nie, so sê die spreekwoord. Kirsten het wel die naam van hierdie Janie genoem, maar nie in erns nie. Hy het gesê hulle vriendskap kon nog nooit op stryk kom nie. Tog het sy alle rede om te aanvaar dat die meisie nie in die briefie gelieg het nie. Wat kon sy daarby baat? Dit sou Kirsten nie terugbring nie. Sy het ook nie geld probeer eis, wat in elk geval nie sou werk nie.
Dis hierdie tweede, knellender ellende, wat Katrien maar alleen moes dra. Nie eers Gileam weet daarvan nie. Sy het nog nooit genoeg vertroue in enigeen gehad om dit oor te dra nie. Maar dit brand steeds in haar om te weet hoe dit dan moontlik was. Wanneer was Kirsten met die meisie doenig? Nadat hy vir ’n paar weke op Isaacsdam was, en daarvandaan na sy ouerhuis toe? Dan is dit niks minder as verraad nie. Teenoor haar, Katrien, was hy so oortuigend liefdevol en getrou. Sy glo nog onwrikbaar dat hy haar liefgehad het. Was Janie dus maar net die beskikbare een om ’n ledige tydjie tydens ’n laaste stuk vakansie te verdryf?
Katrien bêre die koevert weg en wonder waarom sy dit weer moes lees, waarom sy dit hoegenaamd bewaar. Is dit omdat sy vanaand by Gileam gaan eet en omdat sy verwag dat hy haar in ’n hoek sal dryf? Wou sy haar opnuut probeer oortuig dat Kirsten voete van klei gehad het? En haar by die hernude besef hiervan in ’n verbintenis met die sterke Gileam begewe?
Met tam hande pak sy die middagskof aan. Die stuk breiwerk word ongemaklik swaar om op te lig. Daar is origens nie genoeg te doen in die winkel om haar van ledigheid en frustrasie te vrywaar nie. Die nuwe winkelkompleks, soos Gileam dit sien, sal tog iets dinamies wees, iets wat bruis en stimuleer. Met hom wat die meeste van die laste dra, terwyl sy maar net besig kan wees met die opbou, die skeppende deel. ’n Toekoms, vas en geborge. Een van die vroue van Isaacsdam kan sy word, wat laggend in ’n bakkie klim met ’n kleintjie op die skoot, wat ’n groot ontbyt op tafel sit en ingelegde vrugte op die skou, wat heerlik lag voor die agterdeur en soms, net soms, met bepeinsing in die wintervuur staar.
Sy is vanmiddag ingedagte. Elke keer moet die Levink-seun haar aandag vra met ’n “tánie” dit en ’n “tánie” dat. Hy is o, so stadig, nes haar eie pa, maar dra tog alte gedienstig die inkope aan na die voertuie wat buite onder die akkerboom ingetrek staan.
Die mense van Isaacsdam gesels hier in die winkel nou oor ’n kokende nuwe onderwerp: die uitbreiding wes van die dorp. Bergman het met ’n groot genoeg fanfare hier saam met die wind aangedruis gekom sodat almal van hom sal weet. En nou, dink Katrien met ’n stil glimlag, het hy skielik ondergeduik. Iets moes gebeur het, nou of lankal, wat hom so onseker gemaak het. Want oortollige selfversekering dui meestal op onsekerheid.
Skynbaar iets met sy familie, soveel het hy te kenne gegee. Gesê sy toekoms kan geruïneer word, gepraat van herkoms wat kan uitlek. Sy weet ook nie wat sy woorde presies was nie. Hy het gesê dat hy dalk te veilig gevoel het in die vreemdheid teenoor haar, en dat hy toe iets gesê het wat hy nie moes nie.
Sy wens sy kon hom gerusstel, vir hom sê dat sy nie sy onheil beoog nie. As Gileam ’n stryd met hom aan die gang het, is dit tog steeds nie iets wat sy persoon aantas nie. Nou ja, sy het vir hom ten slotte gesê dat elke mens maar sy pynlike geheimpies het, en so is dit. Sy sal haar nie met hom bemoei nie. Tog voer sy in haar gedagtes gedurig gesprekke met hom, is sy glad nie onbewus van sy teenwoordigheid hier op Isaacsdam nie. Iewers in haar agterkop bly sy knaend weet dat hy hier naby rond is, en dit laat haar nie onbewoë nie.
Dis soos wanneer sy as kind geweet het dat haar ouers die Kersgeskenke reeds gekoop het en dit iewers in die huis weggesteek hou. Aangesien jy die huis van hoek tot kant ken, weet jy eintlik waar dit is, en by geleentheid sien jy ’n veelkleurige punt van die geskenkpapier wys – maar jy hou jou dom en wag op die openbaring.
So, min of meer, voel sy oor die teenwoordigheid van Jonathan Bergman, die man wat sy in sekere sin kwalik ken, maar wat in ’n ander sin meer van hom laat ken het as waarvoor enigeen van hulle twee ryp was.
Martiens Levink willig in om die aand by haar pa te bly. ’n Pak toffies, puur verniet, is meer as wat hy ooit ontvang het vir so min inspanning. Op skool was dit ’n ander storie, worstel en sweet met ’n spul strafwerk as beloning. Maar hy bly graag by oom Tippie.
Katrien huiwer oor wat om aan te trek. Met Kirsten sou daar geen vraag eers wees nie. Vir hom sou sy steeds weet wat om aan te trek, jonk en ontspanne om by hom te pas. Maar vanaand liewer iets meer konserwatief. Asof sy bang is om die balans na een of ander kant toe te laat oorhel. Sy kies ’n sober romp en ’n bloese wat die toets van die tyd deurstaan het. Almal op Isaacsdam ken dit, niemand sal kan sê dat sy haar vir Gileam fyn uitvat nie.
Bril. Sy wil nugter en prakties lyk. Miskien ook ter wille van die twee kinders in hulle vroeë tienerjare. Sy wil nie na een of ander kant toe ’n vals beeld by hulle skep nie. ’n Oordrewe moederlike tipe is sy nie, maar ook geen vlinder of fortuinsoekster nie. Sy begeer dat hulle haar sal aanvaar soos sy is.
Die twee kinders aard, helaas, nie een juis na Gileam nie, maar eerder na hulle stil, sku moeder. Tog is hulle nie sonder talente nie. Tala het ’n goeie singstem, hoewel nog ongevorm. Lourens begelei haar soms met die kitaar as sy op dorpsbyeenkomste sing. Eenvoudige liedjies wat die toets van die tyd deurstaan het. Hoewel sy geen sterk verhoogpersoonlikheid het nie, is daar tog ’n vreemde patos in die stemmetjie wat nie altyd die hoogste noot bereik nie, maar nogtans ontroer.
Sy sal maar vanaand probeer om die twee kinders te laat optree. Dis nogal goed as mens ’n situasie van afsondering wil vermy.
Om te dink dat sy, Katrien Tosen, nou ’n vriendskap het met ’n wewenaar en pa van twee. Iets waarin Kirsten hom sou verkneukel. Hy kon van alles ’n grap maak; maar pittig, nooit verspot nie.
Soms is dit vir haar of Kirsten net hier langs haar sit, sy stem plaend in haar oor. Sy het hom omtrent veertien maande geken, waarvan hulle die laaste sowat vyf maande in ’n verhouding was. Dat hy weg is, is nog so onwerklik. As daar nog ’n begrafnis was. Maar niks. Nie eers ’n roudiens nie, omdat sy ouers aanvanklik nog wou bly glo dat hy leef. Sy het ook nooit enige van sy mense ontmoet nie. Alles en nog meer het vir hulle heerlik in die toekoms gelê.
Toe Gileam om sewe-uur aanklop, is dit om deur ’n verwese, afgetrokke meisie in ’n roomkleur bloese by die deur ontmoet te word.