Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit - Страница 9

6

Оглавление

Jonathan vind genoeg om hom mee besig te hou. Maar uur na uur se ontwerp- en tekenwerk is nie voldoende om sy gemoed volkome te beset nie. Soms voel dit of sy gedagtes deur ’n wag-’n-bietjie-bos hinkepink. Hy het so vasberade hierheen gekom, so oortuig van sy taak, sy vermoëns, sy onaantasbaarheid. Maar meteens is die nate van sy weerbaarheid losgetorring.

Daardie foto’s … hy moes liewer nie daarna gekyk het nie. Maar hy kon dit nie langer ontwyk nie. Malie het al sedert sy aankoms aangehou om dit vir hom te wys. Gisteraand toe hy van Katrien af kom, moes hy allerhande jakkalsdraaie gooi.

Hy is ook uitermate omgekrap oor daardie lang, peinsende, veelseggende blik wat hy van Koos Coetzee ontvang het. Hy wonder nou nog hoeveel van sy knellende gedagtes daar presies op sy gesig weerspieël was. Knellend, ja, en onverwags vermenigvuldig. Maar uit hulle almal staan een uit met besondere skerpte. Dit pynig hom dag en nag. Die herinnering aan sy ma met haar verbleikte, vormlose rok langs ’n noodverblyf, bly soos ’n weerhaakdoring steek … uitruk kan dit nie sonder letsels nie. Hoe hulle daar langs die pad gestaan het en opgelaai is. Hoe sy hom dopgehou het sodat hy nie met vuilerige hande aan die chroom en leer vat nie.

Hy kan dit nie vergeet nie. Namate hy dringender onthou, onthou hy ook met nuwe insig die woorde van Katrien Tosen: “Wat doen ’n mens as jy nie kan vergeet nie?”

Jonathan besef dat dit vir hom binne een nag te nou geword het by die Coetzees. Maar toe hy, tussen die beginwerksaamhede deur, by die hotel inloer, is die reaksie nie waffers nie. Die eienaar is besiger met sleutels en personeel as wat hy erg in die besoeker het, totdat Jonathan onvermydelik moet besef dat die lug nie te skoon tussen hulle is nie.

Hy probeer onthou wat hy alles met sy aankoms gesê het, toe hy teenspoed met sy motor gehad het en in die reën die hotel moes invaar. Hy weet dat hy die woord “ellendig” gebruik het, en “onder peil”, en gevra het waar hy die bestuurder kan spreek, net om te hoor dat dit die uwe is met wie hy praat.

Hy is verbaas dat Gileam Dormehl hom nie ’n tweede keer op een dag pla nie. Dalk maak die man skietgoed bymekaar. Of dalk lek hy sy wonde by Katrien Tosen. Die gedagte aan haar maak opnuut iets in hom wakker, tussen wrewel en belangstelling. Hy weet nie hoe hy dit met haar het nie. Maar wanneer hy aan haar dink, forseer hy sy gedagtes na Jeannie. Hy bedwing sy drang om laasgenoemde te bel tot ’n dag of wat na sy aankoms. Toe raak die behoefte om haar stem te hoor hom baas.

Hy skakel haar van sy tydelike kantoor af.

Met teleurstelling verneem hy van die skakelbordmeisie dat Jeannie nog nie op kantoor is nie. Wrokkig dink hy: Sy is en bly ten slotte ’n rykmanskind. Kom en gaan soos en wanneer sy wil, ofskoon sy haar daarop beroem dat sy ’n gedissiplineerde brein het. Hy weet sy gramskap spruit uit teleurstelling. Hy wou net haar stem hoor, wou met opwinding die bekende warmte vermoed onder die koel oppervlak. Hy wou Katrien Tosen se beeld verdring.

“Wou u met meneer Nothnagel praat? Senior en Junior is al twee hier.” Dis reg, Junior sou uit Johannesburg arriveer.

“Nee, dankie. Daar is nog niks wat ek hulle kan vertel nie. Dis Bergman hier.” Een van die nuweriges, sy ken nog nie stemme uit mekaar nie.

“Ohoo,” sê sy betekenisvol. Dan weet sy darem van die romanse met die baas se dogter.

“Jo-hoo. Sê asseblief net vir haar ek het gebel. Hier is my nommer …”

“Enigiets vir die liefde. Sê maar, ek skryf.”

Hy lees dit af. “Hou julle nog die kantoorpartytjie?”

“Juffrou Nothnagel het gevra dit moet uitgestel word tot u terugkom.”

Dit verheug hom grootliks. Om te dink Jeannie doen so ’n ingrypende voorstel ter wille van hom. Haar pa en broer se verjaarsdae is taamlik naby mekaar, en elke jaar word ’n partytjie naby een of ander van die datums gehou.

Andersyds voel hy skuldig nadat hy die gesprek beëindig het. Die Nothnagels hou nie van familiariteit met die personeel nie. Vriendelikheid, ja, dit kan hulle bekostig. Maar vriendskap is peperduur in hulle oë. Senior vaar beter as sy kinders in die verhouding met sy werknemers; hy het nog nie vergeet dat daar ’n vroeër fase in sy lewe was toe hy self moes meet en pas nie.

Sy kinders is fyner geteel, by wyse van spreke. As ’n mens aan Jeannie dink, dink jy ook onwillekeurig aan die verhaal van die prinses wat deur twintig matrasse heen die hinderlike bult van ’n ertjiepit gevoel het. Met verlange dink Jonathan aan haar sterk, donker fynheid, haar vroulike krag, haar lieflike lis. Dis nie dat sy ’n modepop, ’n ondraaglike Juffrou Rykdom is nie. Soms loop sy ook maar net soos dit kom. Soos sy sê: “Net die armes hoef aan te trek.” Maar as jy mooi kyk, sal selfs die sloffieklere ’n sekere etiket hê.

Hy kan nie verwag dat sy sal verstaan nie. Soos ’n prinses altyd van die blou bloed in haar are weet, al gaan sy in vodde geklee, so dra Jeannie Nothnagel altyd die wete van haar uitgesoektheid met haar mee. Maar hy, Jonathan Bergman, wat by die agterdeur ingekom het en per guns in die voorkamer gehou word, trek liewer bo verdenking aan.

Hy wonder dikwels of Jeannie in hom glo. Hy wonder of sy oor hom wonder. Of sy oor hom wakker lê, soos hy dikwels oor haar. In ’n sin is hulle ontstellende mense. Toe dit blyk dat die verhouding met Jeannie ernstig raak, het Senior vir Jonathan ingeroep. Die onderhoud was pynlik, maar sonder ontwyking van die kant van die ouer man. “Dit lyk my dit raak nou ernstig met jou en Jeannie, Jonathan,” het hy weggeval, in sy fors stem met die bry.

“Ons hou baie van mekaar, meneer Senior.” Dis maar soos hy in die omgang genoem word. “Gee u om?”

“As jy haar guns verwerf het, is dit seker reg.” Kripties, soos hy is. Maar dit was duidelik dat hy meer as dit te sê gehad het.

Dit kom toe ook. “Jeannie is my enigste dogter. Eintlik my enigste vroumens. Vandat ek en my vrou geskei is, is ek en Junior nog meer geheg aan Jeannie. Sy het gekies om by my te bly, in plaas van by haar ma. Verstaan?”

“Daardie deel verstaan ek. Maar u klink nie oortuig, of sal ek sê, ingenome nie. As ek haar guns verwerf het soos u sê, is dit nie vanselfsprekend dat ek haar pa s’n ook verwerf het nie.”

“Ek dink jy’s orraait genoeg. Veral as jy by die firma bly, kan daar baie van jou kom. Maar ek wil nie vandag oor die verre toekoms praat nie. Liewer oor die praktiese sy van julle uitganery. Dan wil ek nou dadelik sê: ek hou niks van hierdie deesdae se sogenaamde ‘vrye liefde’ nie.”

Senior Nothnagel het afrekenend bo-oor sy bril geloer. Soos hy ernstiger word, het sy bry swaarder geword. Byna hinderlik betekenisvol. Dis hoe sy onderhoriges sy bui leer toets het.

Jeannie dink anders daaroor, het Jonathan amper in sy dwaasheid gesê, maar hom gelukkig besin. Hy weet wat die mense sê: dat Senior sy vrou deur sy onbuigsaamheid verloor het. Hy het haar op ’n avontuurtjie betrap en, hoewel sy nie van hom wou weggaan nie, wou hy haar nie vergewe nie.

“Daarom wil ek vir jou sê: Trou liewer met mekaar as dat julle die kat agter my rug in die donker knyp. Jeannie aard na haar ma, die bloed is maar warm. Ek hoop jy kan probeer kophou. As jy nie kan nie, kom praat met my oor ’n trouery.” Dat sy eie wettige huwelik geen waarborg teen ontrou was nie, vergeet Senior gerieflik.

Teen sy aard in het terglus vir Jonathan beetgepak. “Sê nou dis in die middel van die nag, meneer Senior? Kan ons u dan maar kom wakker maak?”

Senior het suur geglimlag. “Bewaar jou siel as jy sports maak met my opvattinge. Ek het groot planne met jou in die firma – maar nie ten koste van my eie gemoedsrus of my dogter se welsyn nie. Jy mors nie met haar rond nie.”

Hy het gewonder of hy Jeannie van die gesprek moet vertel, en ten slotte daarteen besluit. Gelukkig het Senior se waarskuwing vroeg genoeg gekom, voordat hy en Jeannie voluit in “vgye liefde” beland het. Hy het baie skroom gehad om eers te oorwin: die baas se dogter … en dat sy van hom hou. Hy het besluit hy sal dan maar “pgobeeg kophou”, wat sal beteken hy moet minder dikwels alleen met haar wees. Intieme situasies vermy. Hy is beslis nie van plan om sy toekoms by Nothnagel en Vennote sommerso in die wind te strooi in ruil vir die plesier wat Senior se vertoondogter hom kan en wil bied nie.

Dis nie nodig dat hy en Jeannie langer so voortgaan, op gesteelde tydjies teer nie. Hy moet met haar kan trou. Senior het feitlik reeds die opdrag sowel as die toestemming gegee. In sy diepste hart het hy miskien groter drome vir sy dogter gekoester, maar hy het self ’n mislukte huwelik op sy kerfstok en sal sekerlik nie van Jeannie verwag om ter wille van sy mislukking haar keuse prys te gee nie.

Waarom huiwer hy dan om die vraag te vra? Is dit bloot ’n kwessie van eer, dat hy wil wag tot Senior ’n vennoot van hom maak sodat hy nie as hansie-my-kneg in die familie instap nie? Of twyfel hy aan homself? Miskien nie sonder rede nie. Hy het nie oop kaarte met die Nothnagels gespeel nie. Hulle glo sy storie dat hy sonder familie is. Dalk dink Senior dat hy, sonder familiebande, ook noodwendig sonder morele bande sal wees, daarom dat hy so sterk laer trek rondom sy dogter.

Noudat Jonathan sy probleme by Nothnagel en Vennote op ’n afstand sien, besef hy dat dit eintlik groot is. Hy het ’n meisie van wie hy nie sy hande kan afhou nie, en sy het ’n pa wat letterlik beveel dat hy sy hande tuis hou. Kom hulle ooit agter dat hy oor sy familie gelieg het, steek Senior hom stellig in die pad. Nie oor die familie nie, maar oor die leuen. Hy’s nie ’n outoppie wat met hom laat mors nie. En vind hulle nie uit nie, wat ’n lewe sal dit wees om nooit volkome jouself te kan wees nie? Selfs in die dieptes van Jeannie se arms sal hy hierdie gespletenheid van hart behou.

En nou, sy onbesonnenheid om teenoor Katrien Tosen iets van sy Isaacsdamse familie te laat glip. Dit word ’n tartende refrein in sy gemoed: Katrien weet. Hoe vas staan haar belofte om niks te sê nie? Kan Dormehl se aard en arms haar laat vermurwe? En as hy self nie ’n oop pad loop nie, durf hy dit van ander verwag?

Hy is stomverbaas toe die einste Katrien Tosen hom die tweede oggend op kantoor kom sien. Hy kan maar net dink, en dis sy eerste gedagte, dat dit iets in verband met Gileam Dormehl en die rusie oor die standplaas moet wees.

Dis egter nie dit nie. In elk geval nie uit die staanspoor nie. Dis ’n helder môre, met die wind na dae eindelik stil. “Dis ’n verrassing,” sê hy toe Katrien na ’n ligte klop en sy “Binne”-roep inkom. Die woorde klink lomp. Sy weet tog dat dit nie eintlik is wat hy wou gesê het nie. Hy sou eerder moes vra: Jy? Wat soek jy hier? Het Gileam jou gestuur?

“Wil jy sit, juffrou Tosen?”

“Dankie, maar ek bly nie lank nie. Jy lyk verstrik in die werk. Nie gedink Lilliput kan ook komplikasies hê nie?”

“Dit voel vir my glad nie meer na Lilliput nie,” erken hy.

“Hm. Dan is ek ook nie meer ‘juffrou Tosen’ nie, hoor.”

“Dankie, Katrien. En jy weet ek is Jonathan.”

“Ek dag ‘Gulliver’ vir jou vriende.”

“Moet my liewer nie so noem nie. Dit het sekere assosiasies. Kom ons skep ’n nuwe assosiasie.”

“’n Winderige somer in Isaacsdam, nie waar nie?”

“Nie te sleg as jy deel is daarvan nie,” vlei hy so ligweg. Senior Nothnagel het darem nog nie ’n muis van hom gemaak nie. Man is hy, en man sal hy bly.

“Dankie. Jy sal maak dat ek jou verdedig as die ander Lilliputters jou op jou rug aan jou hare wil vasbind.”

“Soos Gileam, nie waar nie? Dan het jy oor hom gekom.”

“Later, miskien. Intussen: Wat hét daar eintlik tussen julle gebeur? Hy wil jou teer en veer.”

“Met alle respek vir jou gevoelens, Katrien, ek dood nie oor hom nie en ja, goed, ek weet dis wederkerig.”

“Ek verwag ook nie dat jy sal nie. Hy’s eintlik ’n diamant. En ’n diamant kan nie deur ’n klomp mense besit word nie.”

“Ek dink jy verhef hom bo verdienste, maar toe maar. Is hy, ek bedoel, is julle privaat verloof, gaan julle trou?” ’n Ring dra sy nie.

“Nie wat ek van weet nie.”

“Verskoon as ek voortvarend is, maar ek het die idee gekry dat dit algemeen aanvaar word.”

“Gileam beteken oneindig baie vir my,” ontwyk sy.

“Hm. Maar jy het ook gesê daar is dinge wat jy nie kan vergeet nie, as ek reg onthou.”

“Ek weet nie waarom ek dit vir jou gesê het nie.”

“Dieselfde vraag kwel my – waarom ek sekere dinge vir jou gesê het. Dalk het ons veilig gevoel met mekaar se vreemdheid.”

“Ag, ek weet nie. Maar dit is so dat daar iets ekstra tragies in my lewe gebeur het, waaroor ons nie nou hoef te praat nie. Kom ons praat liewer oor jou kwelling; dis waarom ek gekom het.”

Daar kom ’n krieweling van onrus in hom op. “Laat ek hoor?”

“Ag, dis dalk sommer niks. Maar oom Koos Coetzee was vanoggend by my in die winkel en het indringend oor jou uitgevra. Oor waarom ek jou juis na hulle toe gestuur het. Jy sien, dit is helaas so dat die tante slordig is, en niemand sal sommer ’n loseerder soontoe aanbeveel nie. Ek het maar vir hom gesê ek weet dat tant Malie ’n ruim hart het.”

“O, ek … dankie, maar …” Hy spartel reddeloos rond om ’n verklarende woord te vind, maar dit ontwyk hom.

“Jy moet verstaan dat dit baie moeilik is. Ek weet nie of jy dalk iets wegsteek, of waarom jy so geheimsinnig optree nie. Word jy gesoek?”

“Deur die gereg, byvoorbeeld? Vaderdank, nee.” Skynbaar was dit sy oorlede pa se terrein.

“Hy het skynbaar nie helderheid oor wat jou van is nie.”

“Ja, dalk het ek my nie alte duidelik voorgestel nie.”

“Ek het ook maar gesê ek is nie seker nie. Maar hy kan maklik genoeg uitvind as hy regtig wil, of hoe?”

“Ja, hy kan.” Hy speel met ’n pen, maar die spanning lê soos ’n harde kabel onder die oppervlakte. “Dit klink seker vir jou na onnodige geheimhouding oor niks.”

“Nee, ek aanvaar volkome dat jy jou redes moet hê. Bietjie eiewaan of so. Ek vat jou woord dat jy geen voortvlugtige is nie. Maar dat jy wel vir iets vlug …” Sy roer haar skouers.

Hy kan net in magteloosheid luister.

Sy praat eerste verder: “Hoekom gun jy hulle nie die vreugde van ’n familiekind nie? Hulle het eintlik niemand nie. Hulle lewe taamlik eksentriek en word nie maklik begryp nie. Hulle moet bitter eensaam wees. Oom Mampoer en tante Varkie.”

“En dan reken jy nog ek moet my met hulle vereenselwig?” vra hy opeens galsterig.

“Dit is dan soos ek dink,” sê sy. “Jy is bo hulle verhewe.”

“En is Isaacsdam nie ook nie? Jy erken hulle word nie in die dorp aanvaar nie.”

“Hulle is niemand hier se familie nie,” kap sy terug.

Ek het genoeg hiervan gehad, roep sy ganse wese uit, maar hy pers sy lippe verbete op mekaar vas.

Dit lyk of sy wil afskeid neem. Sy ontkruis haar bene en verskuif op die stoel. “Ek wou dit maar net noem, dat jy kan weet ek het my belofte gehou as …”

“As my afkoms uitlek?” bars hy uit met ’n drif wat nie langer wil binne bly nie. “As my ganse bestaan geruïneer word?” Laat sy dit hoor, laat iemand dit uiteindelik hoor. Laat dit dan boemerang, laat sy buitentoe praat, laat alles tevergeefs wees … sy huisverlating toe hy eintlik nog deur ’n moeder moes toegemaak word saans, sy ontberinge as verbete student toe ’n grapjas vir hom gesê het: “Lyk my jy het ook net een paar skoene.” Toe hy wel net een paar skoene gehad het, maar altyd blink gepoets.

En Jeannie, wat van Jeannie?

“Sjjjj …” maan Katrien Tosen. Sy blik deur toe om vas te stel of dit toe is. “Ek voel ek moet jou waarsku, Jonathan, dat jy al weer besig is om dinge uit te lap waaroor jy gou spyt sal wees. Swyg liewer. Ek wil nie hoor nie. Ons is niks van mekaar nie. En ons het maar almal ons pynlike geheimpies.”

Skaamkwaad staar hy voor hom op sy tekeninge vas, sy asem swaar van ontstemming. Waar is sy swaar verworwe onbewoënheid, die gesig en stem wat niks verklap nie? Is hy besig om van sy trollie af te raak? Is dit hoe graag hy vir Jeannie Nothnagel wil hê, en ’n vennootskap met haar pa, dat hy innerlik verskeurd raak daaroor? Of is dit ’n bars wat verder deurloop? Hy het homself tog altyd nog gelukgewens met sy prestasie, sy suksesvolle wegbreek van ’n uitsiglose verlede.

En nou, nou begin hy saam met Malie Coetzee wonder of Dirkie van oorle’ Janmaans nog leef, en hy blaker sy laste uit voor ’n so te sê vreemde meisie wie se spesiale vriend hom reeds erg in die harnas gejaag het.

Katrien Tosen het opgestaan. “Wat doen jy daar?” vra sy skynbaar geïnteresseerd, en beduie met die kop na sy lessenaar.

Hy wil haar daarvan verdink dat sy hom probeer paai, selfs vir Dormehl kom spioeneer, maar het geen bewyse nie. “Dis maar baie tekenwerk,” verduidelik hy redelik stug. “Oor en oor.”

“Hm. Jy het my nog nie gesê wat dit met jou en Gileam is nie.”

“Hy wil bou op ’n plek wat heeltemal buite die beplanning val.”

“Is dit onmoontlik? Ek en hy het die plek saam uitgesoek.”

“Dis ongelukkig buite die kwessie. Ek het seker gemaak. Ek kan vir jou verduidelik as jy wil.”

“Toe maar, ek vat jou woord. Maar jy kan verwag dat Gileam daarmee sal woel.”

“Ek gee nie om vir hom nie. Maar jy, is jý teleurgesteld?”

“Jy weet hoe ’n mens is. Jy gryp vas aan ’n gedagte. Ek het my in daardie stukkie grond ingedink. Maar ek is seker dat ek my weer daaruit gedink sal kry.”

“Miskien kan jy vir Dormehl beïnvloed, sodat hy rede insien.”

“Ek wil nie. Dis so selde dat ’n mens sulke ontembare krag sien. Mense het oor die algemeen so huiwerig en bang vir aanstoot geword. Hy fassineer my.”

Jonathan dink aan die man Dormehl, en roep die beeld terug soos hy hom twee keer gesien het: die donker vag in die V van sy hemp, die onblusbare gloed in sy blik, die stuwende drif van sy oortuiging. En verwens hom.

“Dankie dat jy gekom het,” sê Jonathan lamlendig toe Katrien deur se kant toe staan. Asof ooreengekom, praat nie een weer ’n woord oor sy amperse uitbarsting nie.

“Ek hoop nie jy vind dit verspot nie, maar ek wou net nog sê: Die oom Coetzee, hy lyk nogal soos ’n hond wat kan aanhou rem as hy ’n puntjie beetkry. Hoekom gee jy nie liewer daar pad nie? Het jy al weer by die hotel probeer?”

“Ja. Vol. Of vol sover dit my aangaan. Ek was dalk ’n bietjie … hm, arrogant.”

“Wel, dis nie onmoontlik dat oom Coetzee … dat hy by die hotel kon inloer om te sê … Dit klink nou werklik vergesog, want hy hou nie eers van hotelle nie, hy glo die duiwel heers daar.”

“Praat maar, jy wil iets vir my sê.”

“Op Isaacsdam weet almal alles van mekaar. Daar in die winkel vanmôre het iemand gespot dat hy die oom by die hotel sien ingaan het. Ek het jou mos gesê: Hy en die tante sal baie in hulle skik wees om ’n afhanklike van een of ander aard te hê.”

“Jy bedoel dat hulle my so graag by hulle sal wil hou, dat hy selfs die hoteleienaar sal ompraat om my nie plek te gee nie?”

“Wie weet? Hou dit maar net in gedagte.”

“Met ander woorde, hy kan my naam by die hotel beswadder net om my daar weg te hou?”

“Dis nie wat ek gesê het nie. Of liewer, dis nie ek wat dit gesê het nie.”

“Soos dat ek ’n dronklap is, of skelm? Nie my rekenings sal betaal nie?” Die verskriklike moontlikheid verrys dat Koos Coetzee kan rondvertel hoe skelm sy vrou se neef Janmaans was.

Sy erken of ontken nie, doen net aan die hand: “Dit kan ’n kleiner prys wees om te erken hulle is jou familie – en toelaat dat hulle jou bederf.”

“Ek waardeer jou besorgdheid,” opper hy flouweg.

“Maar jy vind dit ongevraag?”

“Ek sal dit nie so sterk stel nie. Jy bedoel dit goed.”

“Maar jy dink tog dit gaan my nie aan nie.”

“Jy het sekerlik jou eie probleme.”

“Dat ek my oor iemand anders se probleme begin bekommer, is vir my ’n goeie teken. Dit was vir ’n lang tyd nie die geval nie.”

“Ek is bly as ek vir jou ’n medikament kan wees.”

“Spaar die sarkasme. Glo maar net dit was goed bedoel.”

Hy weet hy moet haar glo. Maar toe sy uit is en net die herinnering aan haar teenwoordigheid nog om hom talm, wonder hy reeds weer oor haar integriteit. Het sy tog vir Gileam Dormehl kom spioeneer? Hoekom wou sy weet wat op sy lessenaar aan die gang is?

En noudat sy nog ’n bietjie meer weet oor sy huiwering, sy afkeer van familie … besef sy watter gerieflike wapen sy vir Dormehl in die hand kan lê? Dis ’n ontstellende gedagte.

Maar ontstellender nog is die feit dat haar gesig daglank voor hom bly lewe.

Louisa du Toit Omnibus 9

Подняться наверх