Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit - Страница 8

5

Оглавление

In die grys môrelig het Jonathan Bergman sy strategie lê en beplan. Hy sal vandag onvermydelik met Gileam Dormehl te kampe hê. Al raad is om hom aanvanklik te ontwyk; op die lange duur sal dit wel onmoontlik wees in ’n plekkie soos Isaacsdam.

Hy sal maar vroeg-vroeg sy riete roer, sê byvoorbeeld sesuur. Dormehl sal ’n vroegopstaner wees, maar hy sal ten minste nie die stadsjapie so vroeg in aksie verwag nie. Om saam met die hoenders van die nagstellasie af te spring, is skynbaar een van die erkende deugde hierlangs. Ook die Coetzees se huishouding het reeds douvoordag begin roer, toe die klein varkies op die agterstoep soos mensies aangespreek en gepamperlang is.

Dis so anders in sy gewone lewe. Laat uit saans, swaar uit die bed soggens. As jy onder die Nothnagels se vlerk is, moet jy maar soos hulle piep. Vanoggend voel hulle vir hom na verre, vreemde mense. Selfs Jeannie … daar is altyd ’n koors in hom ter wille van haar. As hy haar ’n tydjie nie gesien het nie, skyn alles tussen hulle vervlietend en onseker te wees, en verlang hy opnuut na die sekerheid van haar nabyheid. Sy is soos ’n droom wat jy net nie kan vasvat wanneer jy wakker word nie.

Hy moet haar skakel, een of ander tyd vandag. Hy wil nie hier uit die huis uit bel nie, sal maar sien as hy eers by sy werkplek nesgeskop het. Daar is ’n tydelike kantoor vir hom gereël.

Hy wil ook weer hotel toe gaan. Daar moet tog iewers ’n plekkie wees. Hy wonder of die eienaar hom nie net snaaks hou nie. Die vreemdeling uit die stad het dalk te haastig in sy keel afgeklim.

Beswaard trek Jonathan aan. By gebrek aan ’n stortbad, waarop hy versot is omdat dit hom na behore opkikker, het hy gisteraand ’n koel bad geneem. Hier is nie warm water in die badkamer nie. Hy wonder wat Jeannie sal sê – ook as sy weet dat hy, sedert sy aankoms hier, nog nie eers een drankie geneem het nie. Sy sal sê: “Gully, is dit ’n uitdrogingskursus, of wat?” Die ete gisteraand moes maar so droog-droog afgaan, te midde van mampoerpraatjies. Daar is glo ’n bottel deeglik verouderde voggies iewers, maar dit kan waarskynlik nie op ’n vreemdeling gemors word nie.

Daar woel ’n onrus in sy gemoed. Koos en veral Malie Coetzee is kriewelrig. Sy vra knaend uit na familie en verlede, terwyl Koos hom stip dophou. Hy het blindweg dieselfde paadjie binnegestrompel as met die Nothnagels en vertel dat hy geen familie het nie. As Katrien Tosen nou net nie … Wat het hom besiel? Watter geheime krag was daar in haar, om ’n bekentenis uit hom te kry sonder dat sy gevra het? Sonder dat sy wou weet?

Of is dit juis die rede: dat die dinge wat lankal in hom woel, uitgebars het juis teenoor ’n vreemde? Soos die barbier van koning Midas, wat sy geheim in ’n put gefluister het; en toe daar ’n rietbos oor groei, het die riete knaend in die wind gefluister oor die eselsore van koning Midas. Goeiste, mog hier nooit so ’n rietbos op Isaacsdam woeker om Jonathan Bergman se armsalige geheimpies te verklap nie.

Katrien Tosen het gelukkig gisteraand belowe om te swyg.

Met ’n belofte aan Malie Coetzee om terug te kom vir laat ontbyt, ry Jonathan daar weg. As hy net eers die terrein self besigtig het, sal hy grond onder sy voete hê om Dormehl te konfronteer.

Die logiese pad na die westekant van die dorp is met die hoofstraat langs. Dit bring mee dat Jonathan weer voor Isaacsdam Kontantwinkel verby moet ry. Dit sal seker nog dig toegesluit wees, besluit hy. Hy kyk met aandag na die huis teenaan die winkel, ontdek dan tot sy verrassing dat Katrien Tosen voor ’n oop venster staan. Of sy hom gesien of geëien het, is moeilik om te sê, maar sy draai weg voordat hy nog kan dink om te reageer.

Dit hinder hom. Was sy hoeka besig om weg te draai van die venster af, of het sy dit gedoen toe sy hom gewaar? Was sy vir Dormehl op die uitkyk, so vroeg? Kan hy haar vertrou? Miskien is hy oordrewe besorg. Die feit dat hy ’n wit leuen oor sy familie aan die Nothnagels vertel het, kan tog nie so ingrypend wees nie, en hoef nie noodwendig gevolge vir hom te hê nie.

Toe Jonathan die buitewyke van die dorp bereik en die terrein voor hom sien lê waar die ontwikkeling beplan word, kry hy ’n onaangename gevoel op die krop van sy maag: oop en bloot, net-net aangeraak deur die oggendson, staan daar ’n breë nuwe bakkie in die veld, met die vol postuur van Gileam Dormehl langsaan.

Vervlaks, dink Jonathan. Hoe naïef was ek om te dink die man sal nie my bewegings voorsien nie. Verbete besluit hy om hom te beroep op sy firma en die dorpsraad. Daar is immers reeds ’n rits onderhandelinge agter die rug. Die landmeters en tekenaars het al ’n groot stuk werk gedoen.

Dit moet Dormehl weet, as sy idees botsend is, moet hy dit eenvoudig laat vaar. En dat dit wel botsend sal wees, voel Jonathan so aan sy klere. Die man het ’n botsende persoonlikheid. Hy mag wel ’n man van invloed hier wees, maar in die wêreld van die Nothnagels sal hy maar ’n ou klein vissie wees.

Sonder alternatief hou Jonathan langs die bakkie stil. Die wind gryp hom toe hy uitklim.

“Môre,” sê Dormehl joviaal. “Ek kry respek vir ’n stadsjapie wat al sesuur op die jop is.”

“Is dit vroeg?” vra Jonathan so ewe, maar innerlik trots.

“Ek het jou nie nou al hier verwag nie. Vir my is dit al tyd vir my derde koppie koffie. Dié gaan ek netnou by Katrien drink.”

Hoekom op aarde moet ek daarvan kennis neem? wonder Jonathan. Probeer hy my herinner om van Katrien af weg te bly? Ek is tog nie van plan om in sy slaai te krap nie.

Goed en wel, die vorige dag was hy bereid en selfs gretig, in sy toestand van vreemdheid, om ’n afspraak met haar te maak, maar desperaat is hy geensins nie.

“Ek het maar net ’n vinnige oog hier kom gooi,” probeer hy van Dormehl ontslae raak. “My groot werk is op kantoor. Teken en nogmaals teken. Dis ’n groot stuk werk.”

Maar Dormehl laat hom nie afskud nie. Nie nou al nie. “Jy wil seker graag sien waar ek van plan is om my penne in te slaan,” gesels hy. “Daar oorkant, nè. Ver regs. Net duskant die groen van die spruit.”

“Spruit? Is dit nie ’n rivier nie?”

“Net na werklike groot reëns in die opvanggebied. Dis daar waar ek my lushof gaan opbou. Op die koppie gaan my woonhuis wees. En al die ander dinge kom rondom. Die winkel … ag, Katrien noem dit haar nuwe winkel en ek laat haar maar begaan. Dit sal tog ons s’n saam wees …”

“Meneer Dormehl, ek wil nie graag koue water op jou planne gooi nie, maar ’n sakesentrum moet darem sentraal wees. En na my beste wete is daardie area te naby die rivier.”

“Maar man, Isaacsdam het nog nooit volgens ’n plan ontwikkel nie. Die ou voorboere het hulle gevestig waar hulle wil. Dis eintlik belaglik dat ’n pennelekker van wie-weet-waar moet kom vasstel waar ek en Piet en Klaas moet bou.”

“Dis nie so eenvoudig nie,” meen Jonathan, klaar deeglik vies. Die wyse waarop Dormehl met sy een voet op ’n klip trap, laat hom dink aan die spreekwoordelike haan op die mishoop. “Julle dorpsraad het ons ingeroep as konsultante en dis die hele storie. Die landmeters en tekenaars …”

“Ag …” sê Dormehl. “Wat verhinder my om buitendien daar te bou?”

“Ek is seker daardie perseel val binne die vyftig-jaar-vloedlyn.”

“Teorie, teorie.”

“Dis ’n term. Jy durf nie binne daardie lyn ontwikkel nie.”

“My liewe Berg, dink jy ek is toekop?” Soos Jonathan, begin Dormehl ook opsigtelik warm word. “Of ’n man wat nie grond ken nie? Magtig, man, ek spruit uit die grond, die grond het my gemaak. As ek reken ek sal in die turf kan bou, dan sal ek kan. Ek sal peilers sink tot op die rotsformasie. Met gate vol beton sal ek vir jou ’n fondament maak wat bly staan tot die hingste vul.”

“Meneer Dormehl, op Isaacsdam kan jy ’n grootkop wees. Maar wat my betref, staan jy buite hierdie beplanning. Verstaan?” Dit is Jonathan se geheime krag: dat hy sy gevoelens geleer wegsteek het, dat hy koel en kalm kan voorkom al kook hy innerlik. “Die besighede moet sentraal wees,” herhaal hy. “Jy kan vir jou ’n besigheidserf kry waar jy ’n keuse gegee word. Jy moet verstaan daar is verskillende soorte standplase: vir besigheid, vir woon, vir woonstelle. As jy wil teenstribbel, gaan na jou dorpsraad toe. Wat my betref, ek doen my werk.”

“Kyk, Berg, as ek wil, kan ek soos handomkeer op die dorpsraad kom. Ek sou lankal burgemeester kon wees. Het net nie belang gestel tot dusver nie. Te besig met alles, toe my vrou se siekte en dood. Maar ek wil net hê jy moet verstaan dat die dorpsraad nie vir my ’n gogga is nie. En ook nie jou ou firmatjie nie.”

Jonathan wonder wat Nothnagel en Vennote hiervan sal dink. Dis om oor te lag. Die wete van die man se vrou, haar siekte en dood, laat hom darem ’n bietjie nadink. Nou weet ’n mens ten minste meer van hom. Dus is hy vry om sy flikkers vir Katrien Tosen te gooi.

“Meneer Dormehl,” sê hy styf en spyt dat hy sy humeur so totaal verloor het, “jy sal my nou verskoon. Ek wil iets gaan eet en aan die gang kom. Daar is baie werk op kantoor.”

“Leun op die geleerdheid, nè? Maar moenie die ondervinding geringskat nie, ou maat.”

“Jou geringskattende houding gaan jou nêrens bring nie. Jy het ongevraag begin inmeng met dinge waarvoor jy opsigtelik nie bevoeg is nie. Waarom gaan jy nie op ’n eiland bly nie, dan kan jy bou soos jy wil.”

“Ek glo nie Katrien sal wil saamgaan nie,” tempteer die man hom.

“En hou op om daardie meisie in my keel te probeer afdruk. Ek snap darem seker teen hierdie tyd dat julle nooi en kêrel is, en ek het geen begeerte om in jou slaai te krap nie. Ek het iets beters tuis.”

“Jy is glad te gou op die verdediging, Berg. Niemand het gedink jy wil in my slaai krap nie. Nie meer nie, ek het jou mos gisteraand gewaarsku. Ek praat maar net baie van Katrien omdat … wel, waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Daarom verstaan jy sekerlik ook: Daardie standplaas, ek en sy het dit saam-saam met die oog gemerk. Die ou winkel in die dorp gaan sy vir ’n rokwinkel inrig, en die supermark kom dan hier. Met groot parkeerplek, sien. Jy sal met jou motor sommer teen die ingang kan stilhou. En ’n speelparkie langsaan waar die kindertjies onder toesig kan besig bly solank die ouers inkopies doen. En die woonhuis so op die koppie langsaan. Die huis waar ek en Katrien gaan woon.”

“Romanties,” sê Jonathan sarkasties. “Dis baie jammer dat dit prakties onuitvoerbaar is.”

“Ek het al klaar ’n paar bome daar geplant,” sê Dormehl saaklik. “Treurwilgers. Pragtig in ’n tuin. En in die winter laat dit soveel son deur as wat jy wil hê. In die somer koelte genoeg.”

“Wat my betref, is die saak afgehandel,” sê Jonathan. “Totsiens, Dormehl.”

Hy swaai terstond om en klim in sy motor. Dink, terwyl hy wegry: Dit lyk of ek die aftog blaas. Maar so ’n weerbarstige, eiegeregtige optrede is genoeg om enigeen de vieste in te maak. As Katrien Tosen genoeë daarmee wil neem, is dit haar saak.

Omgekrap ry Jonathan terug deur Isaacsdam. Hy weerhou hom daarvan om weer in die rigting van Katrien Tosen se huis te kyk. Sy kan regtig ook gaan doppies blaas, sy met die kepies langs die mondhoeke. Tien teen een is dit sy wat vir Dormehl gewaarsku het dat hy op pad is. Dalk is dit die rede waarom sy so haastig van die venster weggedraai het, om hom gou te gaan bel. Die twee is danig kop in een mus.

Hy voel nietemin teleurgesteld. Dat ’n meisie soos sy oopoog verstrik kan raak met een soos die Gileam Dormehl. ’n Wewenaar, daarby. Sy kan tog seker ’n jongman kies wat haar portuur is. Dalk was daar so ene. Daar is mos glo dinge wat sy nie kan vergeet nie. Hy wonder nogal wat dit kan wees.

Malie Coetzee het haar offensief mooi beplan. Sy moet die onwillige vreemdeling sover kry om sy familie te ontrafel tot op ’n punt waar daar gemeenskaplike bande is. Hier op Isaacsdam is dit selfs belangrik wie ’n klein varkie of hond se vaar is. Hoe kan sy dan nie begaan wees om te weet of Janmaans Bergman voorfamilie van hierdie mannetjie is nie? Goed, Janmaans was skelm, maar hy was so aanvallig, almal moes hom eenvoudig vertrou. Nou is hy lank ook nie meer daar nie. Die dood het ’n manier om ’n mens se agtergeblewe skuld op ’n manier te betaal.

Later dink almal dat die oorledene sommer net ongelukkig was, of aan sy senuwees gely het, en nog later het hy amper ’n stralekransie om. Wie is die mens om te oordeel? Dalk sit Janmaans vandag op die regte plek, terwyl menigeen wat hom voordoen as ’n vroom mens eintlik na die verdoemenis op pad is.

So redeneer Malie prewelend terwyl sy op die agterstoep kos verskaf aan die sewentien varkies, honde, katte en kuikens. Kinders, snaaks genoeg, was daar nooit, en dit terwyl sy so lief vir lewendige goedjies is. Seker ook maar die wil van Bo, anders was menige rondloperdier ’n tuiste kwyt. G’n wonder sy word “tannie Varkie” genoem nie, eintlik ’n pluimpie. Snaaks, alles en almal wat nie ’n hawe het nie, kom maar altyd na Malie Coetzee toe. Soos die vreemde man ook gister. Dit troos darem. Want sy weet dat sy as ’n onsindelike mens beskou word. Dit is reeds die geval vir die volle twintig jaar dat hulle hier woon. Op die plaas naby die Bosveld was dit anders. Dit was ’n groot boerehuis, met plek en plek en nogmaals plek. Hier moet wasgoed en skottelgoed maar partykeer deurmekaar loop, dit spreek tog vanself.

Soms het dit maar rof gegaan in die vorige huishouding, daarbo in die Bosveld, want ’n boerdery loop sy eie stryk. Maar hulle was bekend in die omgewing en mense het respek vir hulle gehad. Koos se stookketel het vir hom naam gemaak. Hier word jy op jou baadjie getakseer. Nee kyk, die Booslanders soos Koos hulle noem, is ’n hoogmoedige ou spul.

Een van die voorvroue hier het glo eendag gesê sy hoop nie sy word ooit vir ete uitgenooi na die Coetzees nie, want die kakkerlakke eet uit die vlieë se bak en die vlieë eet uit die diere se bak en die diere eet uit die mense se bak. Dit was ’n sware slag vir Malie, wat tog te lief is vir kosgee. Dit heel die seer, daardie gedurige seer van die wete dat jou geslag saam met jou sal uitsterf. Ja, dis helend as jy kos voorsit aan mense, en hulle eet en lag en geniet, en jy bou hulle liggame sodat jy ten minste aan een of ander vorm van voortbestaan deel het.

Maar sedert sy gehoor het wat daardie vrou gesê het, nooi sy nie meer uit nie. Dis egter ’n ander geval wanneer iemand aangeloop kom en losies vra. So, dan het Katrien hom gestuur. Katrien is nie vol fiemies nie; sy’t ook swaar gehad, die bittere teleurstelling van verlede jaar, ai. As ’n mens so swaar gehad het soos Katrien, is jy nie vol kleinlikhede nie. Nou nog ou Tosen se siekte ook, die ou korrelkop. Dit wys jou net, wat is die mens tog? Hy was so kwaai met sy oorlede vrou en so ontevrede toe Katrien weg is om te loop leer. Nou lê hy daar, hy kan sy kwas nie roer nie. En Katrien is die een wat hom moet versorg.

Dit sal nou net alles mooi en reg eindig as Katrien met Gieljam Dormehl trou. Hy sal haar ’n gerieflike lewe kan gee, na al haar swaar en hartseer. En hy wil glo vir haar ’n nuwe winkel bou soos wat jy nie agter elke bos uitskop nie. Dan sal hulle seker maar trou, want Katrien sal hom nooit so baie geld kan terugbetaal nie.

Maar die mense sê sy kan die vorige kêrel van haar nog nie vergeet nie. Hy was een keer hier saam met haar, so ’n pragtige seun, kompleet ’n prentjie uit ’n boek gesny. Maar mooier as hierdie nuwe mannetjie kan hy nie wees nie, met die bos donker hare soos Absalom. Dit lyk glad of hy belang stel in Koos se mampoerstories.

Maar Malie wil nie te veel oor daardie dae praat nie. Koos is ’n respektabele man wat nooit iemand sal verkul nie. Maar met sy mampoer het dalk meer as een mens in die verderf gestort. Stilletjies het hy tog maar verkoop – hoe sal sy as sy vrou nie weet nie? Dis ook maar eintlik die rede waarom hulle so ’n groot verandering gemaak het, hier na die Kolonie toe. As Koos nie weggekom het uit daardie wêreld nie, het hy dalk agter die tralies beland, en dalk saam met die jong neef Janmaans.

Ja, hulle praat so maklik van vandag se jongmense. Maar wat van Janmaans? Hy het hom net met slimstories uit die tronk gehou. Hy kon jou altyd sulke hartseer stories vertel oor hoe hy nou tot inkeer gekom het, met daardie mooie blou oë, net om jou weer van voor af te verkul. Toe sy wat Malie is, nie wou toesien hoedat hy op groot skaal mampoer verkoop vir Koos nie, toe sy gedreig het om polisie toe te gaan, en later die kraantjie oopgedraai het in die nag, het hy mos die stookketel gaan staan en beskadig.

Sy vrou Dirkie het hulle gesien, maar nie die kind wat later glo gekom het nie. Ag, maar Janmaans rus nou. En dalk was dit maar sy senuwees. Sy wonder waar sy vrou deesdae is en of sy ooit nog lewe. Die stomme Dirkie sou g’n vlieg enige kwaad aandoen nie, sy was so ’n sagte mens. Sy wil tog darem hê hierdie vreemde mannetjie moet ’n slag goed nadink. Sy het die foto’s opgediep om sy geheue mee te verfris. As hy kan weet waar Dirkie van Janmaans is, kan mens haar probeer opspoor en ’n ou briefie skryf. Dirkie sal tog so bly wees. Dalk kan sy selfs vir hulle hier op Isaacsdam kom kuier. As sy nog lewe, bygesê … want wat is die mens tog?

En so kom dit dat Jonathan, nog blaas-blaas van ontsteltenis na sy potjie met Gileam Dormehl, oor ontbyt met die een oog moet foto’s kyk. Hy is so haastig dat hy kan moordsteek. Hy wil op kantoor kom. Mens weet nooit of Dormehl dalk die hele dorpsraad op horings gaan neem nie. ’n Ingenieur is hier nie, maar hy wil met die tegniese assistent praat voordat Dormehl dalk … En tog brand sy hart om die foto’s te kyk.

“Dis nou Janmaans, my neef, soos wie meneer so baie lyk.”

Jonathan kou aan die gebakte lewer en tuisgebakte brood en kyk tersluiks. Hy sou liewer teen die dak, muur of vloer wou vaskyk.

Maar hy voel ook gedwing om te kyk. Gelukkig is dit klein, dowwe foto’s, tipies van die kameras van daardie jare. Party is in kleur, maar vroeë kleur, reeds verdof. Dit maak dit minder ontstellend. Met geskoolde objektiwiteit kon hy skuins en vinnig kyk, en dink: Dit was my pa, ja. En daardie my ma. Die een van sy ma werk nie sag met hom nie. Die verwese vrouefiguur, vroegoud en verwaarloos, en langs haar steek die hoek van ’n platdakhuisie uit. Die een naby daardie winkeltjie, waar hy meermale iets moes gaan koop? Hy voel nog haar harde handjie teen syne as sy ’n bietjie los geld in sy palm sit. En hy moes altyd gou-gou loop. Hy het geweet dit beteken dat sy pa die geld in die hande kan kry vir ’n sopie.

’n Ontsettende pyn slaan deur Jonathan Bergman se gemoed. Hy gee die foto terug. Hy kou en kou die lewer, totdat dit melerig in sy mond voel. Daar is nie eers vrugtesap om dit mee af te sluk nie. Die koffie is nog nie geskink nie, daar staan dit in ’n erdeketel vol littekens.

’n Klein varkie loer by die deur, trippel ná ’n skrobbering fyntjies weg op pienk pootjies.

“Jy sien self hoe baie jy lyk op my oorlede neef Janmaans?” vra Malie Coetzee triomfantelik.

Hy kou die lewer, kou. “Tante-hulle het hom geken. Vir my lyk hy maar bra onbekend.”

“Ek sou tog so graag wou weet of sy vrou Dirkie nog lewe. Ons het so gehou van mekaar, maar met ons trekkery Kolonie toe destyds het ons heeltemal van mekaar af geraak. Sy het ook so baie moes rondtrek.”

“Ja, daar is maar min mense wat hulle hele lewe in een huis bly.” Hy waag dit nie om ’n enkele woord verder te sê nie. Maar die gestaltes bly op sy gemoed ingebrand. Veral sy ma. Dis hoe hy haar onthou: altyd kleurloos en vormloos geklee, omdat daar niks anders was nie.

Slegs een rok onthou hy van haar, en dit omdat sy dit op ’n beslissende dag in sy lewe aangehad het. Dit was die dag toe hy hom in sy hart voorgeneem het om die huis vir goed te verlaat sodra dit vir hom moontlik is.

Dit was ’n loodgrys rok. Nou weet hy waarom hy nie gehou het van die kleur wol waarmee Katrien Tosen aan ’t brei is nie. Daar was so ’n krulpatroontjie op die rok, soos blaarderige slangetjies of slangerige blaartjies, of gebuigde traandruppels. Hy weet nou dat dit paisley was, ’n klassieke patroon, ook volop. Jeannie het hom ’n baie smaakvolle paisley-das gegee, duur en smaakvol, en hy dra sorg om dit gereeld genoeg aan te sit.

Sy ma het die rok aangehad en hulle het langs die grootpad gestaan, hy en sy, en sy het duimgegooi. Hy was ’n opgeskote seun, sy skoolklere bleek gewas. Toe het die groot motor verbygeskiet, getwyfel, stilgehou, agteruitgery, hulle opgelaai. Binne was dit warm en groot en skoon, ’n hele wêreld gekondenseer tot hierdie kokon van algenoegsaamheid.

Dit was die dag toe hy, Jonathan Bergman, besluit het …

Hy word bewus van ’n stilte. Half verdwaas, soos ’n mol in daglig, kyk hy rond. Die tante is iewers heen. Aan die oorkant van die ontbyttafel sit Koos, klaar geëet, rustig en pyp rook.

En sy blik is ewe rustig, maar baie ontledend, op die jonger man gerig. Op hierdie oomblik weet Jonathan dat Koos Coetzee weet.

Louisa du Toit Omnibus 9

Подняться наверх