Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit - Страница 12

9

Оглавление

“A, Jeannie. Kry vir jou die lekkerste stoel, hartjie.”

Haar pa beduie na die gemaklike stoel met die uitsig. Jeannie Nothnagel gehoorsaam. Sy het nie nodig om in haar pa se kantoor rond te kyk om elke besonderheid daarvan in te neem nie. Dis op haar aandrang en onder haar leiding dat dit so mooi luuks ingerig is. As dit van haar pa afgehang het, sou dit bar gebly het.

Ten spyte van toenemende sukses, verkies hy nog steeds ’n basiese lewe. Sy en haar broer is heel anders ingestel, en sy reken dis sy en Junior wat kleur aan hulle lewe gee.

Dis nie dat Senior die gawe van geld versmaai nie. Hy kan groot dink, vooruit dink, groot bestee. Maar hy verpes enige kunsmatigheid. Sy is bly vir die teenwig wat dit in haar lewe gevorm het. Dis miskien as gevolg hiervan dat sy ’n gemakliker houding teenoor rykdom ontwikkel het, anders as byvoorbeeld haar ma, wat reeds uit die huiskring gewyk het. Uitgegooi, as ’t ware. Sy sou met haar avontuurtjie nog kon loskom, as sy meer diskreet was.

“Wat is dit, Pa?” wil sy ietwat ongeïnteresseerd weet. Sy het nog nooit haar hele hart in Nothnagel en Vennote gesit nie. Sy het hoër aspirasies. En solank sy hier bly, sal haar pa haar nie toelaat om ’n noemenswaardige sê te hê nie. Sy wil uitgaan in die groot sakewêreld, waar daar nie ’n plafon bo jou kop is nie.

Dis die konflik in Jeannie Nothnagel se lewe: dat sy voltyds sakevrou wil word, maar ook met Jonathan Bergman wil trou en huis opsit. Dat laasgenoemde ’n remskoen vir eersgenoemde sal wees, besef sy terdeë. En sy het hierdie kwessie nog nooit volkome uitgesorteer in haar gemoed nie.

“Het jy al iets van Jonathan gehoor?” vra haar pa.

Dit bring onmiddellik ’n tikkie styfheid in haar ruggraat. Sedert haar lewe gekruis het met die van Jonathan Bergman, wag sy al op ’n openbaring van haar pa se kant af, want hy het nog nooit volkome verraai hoedat hy hieroor voel nie. Sy weet wel dat hy Jonathan se talente en moontlikhede hoog aanslaan en dat hy hom as toekomstige vennoot sien.

“Hy het gebel,” sê sy neutraal.

“Het hy van enige probleme gepraat?” Verbeel sy haar maar dat haar pa heftiger bry as hy oor Jonathan praat?

“Nee. Gesê hy vorder goed, hy is haastig om terug te kom, en die weer is mooi na die suidooster eers verskriklik gewaai het. Hoekom vra Pa?”

“Daar het ’n Dormehl hiernatoe gebel.”

Jeannie frons oor die naam wat in sy bry na hondekos klink: Dogmeel. Met ’n geduldige glimlaggie skryf hy dit vir haar neer.

“O, Dormehl,” snap sy. “Van Isaacsdam af?”

“Ja. Hy’t ’n lang storie oor ’n projek wat hy daar wil uitvoer. Jonathan kan of wil hom glo nie help nie.”

“Dan is dit stellig nie die moeite werd nie. Johathan weet wat hy doen.”

“Dit kwel my nie. As die man nie ’n waterdigte saak het nie, sal ons dit eenvoudig uitgooi. Dis moeilik oor die foon, mens moet self daar staan. Ek wil hê jy moet na Isaacsdam toe gaan, Jeannie. Ek sal vir jou ’n bestuurder gee.”

Die styfheid in Jeannie se ruggraat neem toe. Alles is nie heeltemal pluis nie. As haar pa se bry so ekstra swaar word, is dit van suiwer erns. Dan vorm dit amper ’n soort versperring tussen jou en hom, asof kommunikasie moeisamer kom.

Skynbaar ongeërg staan sy van haar stoel af op en gaan venster toe. Met haar rug na haar pa voel sy veiliger. Hy het ’n onfeilbare aanvoeling van situasies, soos ’n goeie waghond. “Wat moet ek daar gaan doen?”

“Ek wil hê jy moet alles saam met Jonathan deurkyk. Jy wil tog seker ook graag vir hom gaan kuier?”

Sy draai stadig om, sodat die stadsverkeer daar buite, byna klankloos deur die doeltreffende ruitglas, ook meteens vir haar onsigbaar word. “Dus gaan dit om Jonathan. Wat van hom?” Haar pa is dan juis so versigtig om vir haar en Jonathan nie saam af te sonder nie.

Senior besluit skynbaar om oop kaarte met sy dogter te speel. “Die man wat gebel het, die Dormehl; hy het dinge gepraat. Hy sê hy vind dit nie moontlik om te onderhandel met ’n persoon sonder integriteit nie.” Met die uitspreek van “integriteit” sukkel Senior altyd ’n goeie skootjie. Maar vandag bry hy ernstig daaroor heen. “Hy sê Jonathan is daar by familie tuis. Sy oom was ’n mampoerstoker van die voorste water.”

“’n Wat, Pa?” Die skrik veg om opperhand in Jeannie Nothnagel se gemoed, maar vir eers is die ontydige laglus groter.

Hy skryf die woord vir haar neer: mampoerstoker. “En sy pa was ’n skelm. Dit het Dormehl gesê, wie hy ook al is.”

“’n Kwaadstokeg,” bry sy onbewus haar pa na. Maar sy skrik tog. Sy wag lankal op hierdie breekspul. Van die mampoer het sy nie geweet nie, maar die suggestie dat Jonathan se pa ’n skelm is of was (want Jonathan beweer hulle is dood), dit onthou sy. Die medeskolier uit Jonathan se verlede, ’n ventjie wat Jeannie een aand by ’n sosiale funksie ontmoet het. ’n Mislike klein parvenu. Nadat hy Jonathan op ’n afstand geëien en die dinge aangaande hom uitgelap het, het hy uitgevind dat Jeannie by Jonathan betrokke is. Toe skrik hy danig, en hy het nie die moed gehad om na Jonathan toe te gaan en sy hand te skud nie. Hy het daarna ook ongemerk verdwyn.

Sy het lank in haarself geworstel met die nuwe inligting. Dat Jonathan ’n kerkmuis was wat alle bande met sy ouers gebreek en homself laat leer het. Sy skelm pa, meermale voor die tronkdeur omgedraai. Dis waar, Jonathan se familiestorie was nog altyd vaag. Dis moeilik om iemand te bly liefhê terwyl jy weet dat hy die waarheid vir jou verbloem. Haar pa sal dit nog moeiliker verwerk. Hy sal ’n werknemer wat hom teleurstel sommer in die pad steek. Talent moedig hy aan, maar swakheid duld hy nie.

Hy het nog altyd hoë agting gehad vir Jonathan se dryfkrag; dat hy sonder familie, soos hy beweer, met ’n beurs en lening gestudeer het. Eersgenoemde het hy ontvang op grond van verdienstelikheid. Hy het ’n puik brein. Daar is net ’n tekortkoming in sy persoonlikheid wat hom daarvan weerhou om alles te gee, so besef Jeannie wat die naaste aan hom beweeg. Nie heeltemal oop kaarte met jou speel nie. Sedert sy weet wat dit is, naamlik herkoms, het sy daarmee versoen probeer raak. Sy het die man immers lief. En haar eie ma het teleurgestel.

Nou verwag haar pa dat sy moet afsit soontoe en ’n yslike bohaai gaan opskop, wat anders? ’n Plaaslike laspos die hoof moet bied? Jonathan beskerm? Of hoop hy dat haar reis Isaacsdam toe ’n wig tussen haar en Jonathan kan indryf? Dit voel opeens of sy haar pa haat. Julle ken hom nie soos ek nie, het haar versmaaide ma gesê voordat sy die huis verlaat het.

“Ek is jammer. Pa. Maar ek kan nie sien hoekom ek moet gaan nie.”

“Wil jy hom dan maar laat wegkom met sulke nonsies?”

Sy weet nie of hy van Jonathan praat, of van “Dogmeel” nie. Dalk wil sy nie weet nie. “Laat Jonathan sy werk daar anderkant klaarmaak. As hy terugkom, kan Pa alles by hom hoor.”

“Ek gaan nie tot dan wag nie. As Jonathan speletjies met my gespeel het, hoe kan ek hom vertrou? Dis ’n duur les wat jou ma geleer het: Mens moet my nie belieg nie.”

“Los nou maar vir Ma uit,” keer sy magteloos.

“Goed. Maar hierdie meneer Bergman sal moet verduidelik. As hy verdag is, gaan ek jou belet om enigiets verder met hom te doen te hê. En as hy nog by Nothnagels wil werk, sal hy heel onder moet begin.”

“Met sy talent en ondervinding? Pa is baie onrealisties. Pa weet self wat hy vir die firma werd is.”

“Of onder begin, of padgee.” Senior se oë is hard soos klip.

Jeannie Nothnagel maak die klein beweging wat sy soms maak, net soms, wanneer sy finaal en koppig besluit het oor ’n beginselsaak. Dit is hoe sy haar eie motor gekry het, dit is hoe sy verlede jaar saam met haar ma oorsee gegaan het, en dis hoe sy Senior se kantoor gemoderniseer gekry het.

“As Jonathan Bergman trap, dan trap ek saam met hom,” sê sy.

“Wat?” vra Senior. Hy het wel deeglik kennis geneem, nie sonder verontrusting nie, van die swaaitjie van haar kop. Dis hoe sy haar eie motor gekry het, hoe sy verlede jaar saam met die flerrie van ’n gewese vrou van hom oorsee gaan jakker het, en dis hoe sy sy kantoor in ’n vertoonlokaal omskep het.

Dit bring hom tot besinning. Die blinde woede wat hy vir Bergman voel en wat hy ten alle koste onderdruk het, prut soos ’n vulkaan in hom. Maar daar ontwaak ook ’n groot bedugtheid in hom.

Senior is ’n man wat al erg verloor het. Hy het die flerrie van ’n vrou van hom liefgehad, en soms kreun hy nog in die nagte van verlange na haar. Dis ’n swaar erkenning vir Senior, maar hy erken aan homself, ook net aan homself, dat hy haar dalk nog ’n kans moes gegee het ná haar affair. Sover hy kan vasstel, het daardie romanse in elk geval doodgeloop.

Eerdat hy vir Jeannie ook verloor, behoort hy liewer nog een kans aan Bergman te gee. Dat Bergman ’n verlede het, is niks. Hy het ook ’n goeie kop en hy het visie, dis dinge wat tel. Maar dat hy gelieg het … O, wee. Die Dormehl klink na een hele mister, maar nie ’n onnosel nie. Dat hy gemeen is, is nie altemit nie. Maar Senior werk liewer met gemene mense as met leuenaars. ’n Gemene man kan jy stilmaak, maar ’n leuenaar glip soos ’n paling uit jou hande.

Hy dink na, terwyl sy vingers op die lessenaar se blad trommel. “Ek wil in ieder geval hê jy moet na Jonathan toe gaan. Sê vir hom ek gee hom nog een kans. Net een.”

“Waarom ontbied Pa hom nie net nie? Moet ek nou die boendoes invaar …”

“Kom hy hier, het hy weer allerhande slimstories. Ek wil hom daar vastrek. By sy mense, as dit kan. Sy familie.”

“En wat van dié Dormehl? Dis tog seker vir Pa duidelik dat hy Jonathan swartsmeer om sy eie saak te bevorder.”

“Jonathan ken sy werk,” sê Senior. Die persoonlike aggressie wyk voor aangebore sakesin. “As hy dink dié Dormehl het nie ’n saak nie, dan het hy nie ’n saak nie. Ek sal agter Jonathan staan. Anders moet daardie vervlakste dorpsraad vir hulle ander konsultante kry. Ons kan nie toelaat dat elke Jan Rap en sy maat vir ons voorsê waar hy ’n stoep of ’n stellasie wil bou nie.”

As hy vir Jonathan by my in die moeilikheid wou kry, dink Senior (in sy gedagtes bry hy nooit), het Dormehl in sy doel geslaag. Maar daarmee sal ek self verder werk, ek het nie ’n plattelandse woekeraar nodig nie. Dan onthou hy iets anders, en hy kyk direk na Jeannie: “Hy het ook gesê Jonathan tree nie professioneel op nie, hy probeer in anderman se slaai krap.”

Nou skrik Jeannie. Hy sien haar oë soos vlaggies oopskiet. “En Pa noem dit so terloops? Kan Pa nie sien wat aangaan nie? Dormehl se meisie of vrou hou van Jonathan, en daarom probeer Dormehl hom daar wegkry.”

“So jy sal gaan?” knor Nothnagel tevrede. Hoekom het hy hierdie argument nie eerste aangewend nie? Hy het nogal groot vertroue in sy dogter se bedingingsvermoë. “Wie wil jy hê moet jou vat?”

“Los tog die chauffeur, pa. Hulle wil heelpad praatjies maak, want hulle beskou hulle as deel van die familie. Ek ry alleen. Gee my net ’n sterk motor.”

“En hy moenie weet jy kom nie.” Senior trek vreeslik baie peil op die verrassingsaspek in enige saak onder die son. As jou opponent niks van jou kant af verwag nie, het hy nie ’n kans om met die duiwel oorleg te pleeg oor sy verdediging nie. Dis hoe hy ook sy vrou en haar skelmpie betrap het.

Dan haal hy diep asem en speel sy troefkaart: “Dié Dormehl wou te kenne gee Jonathan doen hom voor as Nothnagel. Dit laat my dink. As Jonathan ná julle troue Nothnagel wil word, is dit ’n paar vlieë met een klap. Ek vergewe hom sy blapsies. Hy bind jou sterker aan die firma, want jy en jou broer is op die lang termyn te onstabiel. En, derdens, hy raak ontslae van sy skynbaar ongewenste naam.”

“Jonathan Bergman … Pa versoek dat hy Nothnagel word?” vra Jeannie verbyster.

“Eintlik eis ek dit,” besluit Senior ferm.

Malie Coetzee loop vir Gileam Dormehl in die poskantoor raak. “Gieljam, kom hoor tog hierso.” Sy lei hom om die hoekie. As sy fluister, trek dit deur merg en been. Sy moet liewer maar probeer om saggies hardop te praat as dat sy so hardop saggies praat.

Gileam moet afbuk, anders kan hy opsluit nie hoor nie. So reken tant Malie, en sy rem hom aan ’n mou. “Gieljam, jy moet tog vir niemand sê wat ek jou anderdag gesê het nie … jy weet mos, eergister toe … by die koöperasie, onthou jy, toe die oom gevra het ek moet vir die gaasdeur ’n werweltjie soek. Ten minste, nie ’n werweltjie nie, ’n grendeltjie. Toe ek vir jou gesê het van die Bergman, dat hy so sterk lyk soos my oorlede neef Janmaans, die een wat so baie in die moeilikheid was. Dit was net oor sy senuwees, ek het jou seker nie gesê nie. Ek het vir jou gesê ek is seker hierdie Jonathan is sy seun, want bloed roep bloed en waarom kom hy juis na ons huis vir losies?”

“Ek onthou, tannie Varkie,” sê Gileam vol lag. As sy maar weet watter groot guns sy hom gedoen het.

“Nou ja, ek vra jou nou vanmôre om met niemand daaroor te praat nie. Die oom het amper my kop afgebyt. Hy sê ek dryf die man onder ons dak uit as ek so aanhou.”

“Ek belowe vir tannie dat ek van hierdie oomblik af met niemand daaroor sal praat nie,” belowe Gileam plegtig.

“Dankie, Gieljam. Maar kan jy dink, tot die van, dieselfde. Bergman. Hy sê hy’t g’n familie nie. Maar ek sê jou, daar is iets. Dis so bestem. Die oom wil my nie glo nie, maar hulle sal my nog almal askies vra.”

Gileam Dormehl voel plesierig toe hy van Malie Coetzee af wegstap. Sy belofte aan haar sal hy hou. Hy sal van vandag af met niemand praat nie. Hy het trouens gister reeds Bergman se hoofkantoor gebel en met die grootbaas self gepraat. Ou renoster … geklink hy klim in die telefoon in: “Meneeg Dogmehl, Beggman is die man met wie jy oog jou plannetjies moet pgaat.”

Plannetjies. Gmf. Die ou knol het op sy neus gekyk toe hy ’n bietjie ingelig word oor “Beggman”.

Die oomblik toe Malie Coetzee, ’n paar dae gelede, gestaan en tjommel het oor Bergman en bloed en familie, het dit Gileam getref met ’n onontwykbare helderheid: Natuurlik is dit so. Sy dra die saak so op die hart dat sy selfs ’n foto of wat uit haar handsak gehaal het om vir hom te wys.

Ja, Gileam kon meteens verstaan: die man se ontwyking, die onduidelike mompeling van sy naam, die feit dat hy juis by die Coetzees tuisgaan. Natuurlik is dit sy familie. Toe hy hulle nodig gehad het, wis hy wel om by hulle aan te klop. Maar hy wil nie met hulle geïdentifiseer word nie. Natuurlik nie. Wie sal wil erken dat hy die seun van ’n aartsskelm is? Veral as jy ’n sitkamerheertjie is en as jou digte bos hare en jou baadjiepunte so windmakerig in die wind swaai.

Wat hom te doen staan, het duidelik voor Gileam oopgevou. Die dwarsboming van sy groot planne is vir hom een van die grootste frustrasies waarteen hy nog te staan gekom het. Hy kan dié Bergman gerus uit sy pad uit vee.

Die mense van Isaacsdam ken vir Gileam; hy beroem hom daarop dat hy ’n geliefde vriend is, maar ’n klipsteenharde vyand. En as sy hardheid nog met hardheid begroet word, is hy die duiwel vanself in sy lis. Nie gemeenheid nie, o, nee. Gileam Dormehl is nie gemeen nie, dit glo hy vir geen oomblik nie. Hy is net waaksaam, listig en vasbeslote. Hy het geslaag in sy doel om aandag op hoogstaande vlak te verkry en nou kan Bergman maar in sy eie vet braai. Gileam is die eerste een om met ’n groot glimlag te erken hoe hy te werk gegaan het. Hy was nie agteraf nie, net slim.

Die stigting van Dormehldorp is ’n fassinerende gedagte, en een wat by die dag in omvang groei. Dit sal ’n soort brug vorm tussen die dorp en Uitsig, een van sy plase wat aan die munisipale grond grens. Reeds voor sy vrou, Noekie, se dood, het Gileam begin planne beraam. Maar Noekie kon nooit vlamvat vir enige projek buite haar kombuis, haar huis, haar twee kinders, die klein horison van haar ingekringde bestaantjie nie. Op ’n manier het hy haar liefgehad. ’n Man se vrou is tog jou vrou.

Maar sedert haar dood het dit vir hom gevoel of hy met vleuels kon uitstyg tot ongekende hoogtes. Soveel te meer sedert Katrien Tosen sy aandag getrek het. Sedertdien het sy planne sinoniem geword met Katrien. Dit voel vir hom asof alles tussen hulle twee skipbreuk sal ly as sy planne vir Dormehldorp skipbreuk ly. As hy so dink, gryp hy maar weer na pen en papier, en stel planne op. Of gryp sy ryding en gaan na Katrien toe.

Daar by die winkel is altyd wat. Mense, geselsies, koffie. Dikwels kry die klandisie ook sommer koffie. Katrien het dit net om mense na haar te trek. Sonder ’n lawaai of gepratery, sonder dat sy drukte hoef te maak of iemand met soveel as ’n vinger nader hoef te wink. Sy sê vir hom dat hulle haar weer soek by die universiteit. Met mag en hals sal hy dit probeer verhoed. Dit sal haar buite sy bereik plaas.

Wat hy haar kan bied, moet hy haar haastig bied. Hy sal vir haar in Dormehldorp ’n huis bou soos wat Isaacsdam nie ken nie. Tot ’n binnenshuise swembad. In die winter maak hulle die water warm. En plante daar rondom; jy moet die plante en die grond en water ruik as jy inkom.

En Katrien daar in die water soos ’n nimf. Katrien aan sy tafel, in sy arms, in sy bed. Hy het nog nooit so oor ’n vrou gevoel, selfs nie oor Noekie nie. Die passie wat hy vir haar gevoel het, is soos ’n kersvlam teen hierdie vuur.

Dit alles wil hy deurdryf, langs watter weg ook. Hy sal Bergman en nog baie ander berge en manne hiervoor onderstebo loop. Soos ’n aar wat onder die vel swel vanweë ’n obstruksie, so swel daar ’n spanning in hom oor hierdie Bergman.

Katrien … sy is nie onbewus van die man nie. Nou die aand by sy huis het sy hom kwalik geneem omdat hy Bergman weggestuur het. Sy het gesê dis onbeleef. Vreemd dat dit hom moet kwel. Geen kritiek kon hom nog ooit kwel nie. Maar ten opsigte van Katrien is hy kwesbaar.

En daarna was Katrien ingedagte, half luisterend, asof sy wag op die terugkerende voetstappe van die vent. Die ete het in swye geskied, en daarna wou sy huis toe. Sy voorneme om die jawoord te kry, het misluk. Sy was net nie vir teerheid beskikbaar nie.

Van die poskantoor af, nadat hy met tant Malie Coetzee gepraat het, klim Gileam in sy bakkie en ry na die Tosens se winkel. Hy kry net vir Martiens Levink daar. “Waar’s Katrien?” vra hy vir die dowwerige maar gewillige seun.

“Die tannie voel nie lekker nie, oom Gieljam.” Hy rek die “tannie” op ’n eienaardige manier. “Sy’t gesê ek moet maar toesluit as dit tyd is. Hier’s ook nie juis mense nie. Ek dink … ek bedoel, ek weet die tannie het ’n brief gekry vandag.” Die laaste woorde is betekenisvol, sodat Gileam liggies frons.

“Jy moet ophou vir haar ‘tannie’ sê, jong. Sy’s g’n tien jaar ouer as jy nie.”

“Nou hoe moet ek dan sê, oom Gieljam?” teem die seun.

“Sê sommer net ‘ja-m’ en ‘nee-m’ tot jy kan sê ‘mevrou Dormehl’.”

“Oom?” sê Martiens, verbysterd van onbegrip.

“Ja, toe maar, jong. Ek gaan deur na haar toe, hoor.”

“Ja-m.”

Met hoed in die hand loop Gileam op sy tone deur die huis. Dit sê veel vir hom, vir wie ’n mens altyd op ’n afstand kan hoor loop, praat, asemhaal. Hy loer by die ouman in, maar dié slaap. Gelukkig ook maar, die ou drelkous. Dis nog ’n ding. Wat maak ’n mens met ou Tippie as alles volgens plan verloop? Hom in ’n tehuis sit? Anders ’n oppasser huur om hom hier in die ou huis op te pas. Dalk gaan hy voor die tyd heen. Na ’n beroerte verwag ’n mens maar dikwels ’n verdere, dalk noodlottige aanval. Gileam reken nie dat hy ongevoelig is nie. Hy is net ’n natuurmens, en hy weet dat die natuur homself van swakhede skoonmaak.

Voor Katrien se halfoop kamerdeur huiwer hy. Hy weet dat hy nou haar privaatheid oortree, maar daar is nie omdraaikans nie. Hy sien haar in ’n ou leunstoel sitlê, maar sy staar in die niet. Dit lyk werklik of sy nie eers van hom bewus is nie.

Hy tik liggies teen die deur.

“Katrientjie?” ’n Onbekende skroomvalligheid oormeester hom.

“Kom maar in, Gileam.” Dan weet sy hy is hier, maar haar blik bly nog leeg in die niet gevestig.

“Hoesit dan, ou meisie?” Hy bly op ’n veilige afstand staan, soos altyd bedug vir praatjies, boonop onseker in hierdie situasie waar hy nie die hef in die hand het nie.

“Martiens Levink sê jy’t ’n brief gekry wat jou ontstel het. Is dit geldelike moeilikhede?” Hy neem ’n halwe tree nader, meer seker van homself. “Jy moet jou nie kwel nie. Alles sal nou gou verander. Ek is besig om Bergman uit die pad te kry. Ek het die dorpsraad op my hande, en ek het sy baas ook gebel.”

Waar sy op die punt was om hom van die brief te vertel – die brief wat, soos iets aansteekliks, daar eenkant op die wastafel met die marmerblad lê, weerhou Katrien haar daarvan toe hy Bergman se naam noem. “Jy het wat? En hoe bedoel jy, hom uit die pad kry?” onthou sy die een stukkie van sy mededeling wat haar dadelik as betekenisvol getref het.

“Net wat ek sê. Wat tannie Varkie my nou die dag vertel het, het my twee en twee bymekaar laat sit. Hy’s nie verniet so glibberig en ontwykend nie. As my vermoede reg is, is hy die seun van ’n skurk.”

Katrien kom orent in die stoel. Die doodsheid in haar blik word verplaas deur ’n ontsettende vermoede: “En jy het sy baas gebel om hom dit te sê?”

“Einste,” grinnik Gileam.

“Jy reken nie dis agteraf en onderduims nie?”

“En hy dan? Bergman self? Praat van agteraf en onderduims. Sy lyf hier kom rondswaai.”

“Jy het nie die reg gehad nie, Gileam.”

“Hoekom nie? As sy baas reeds alles van hom weet, het Bergman mos niks te vrese nie. As sy baas nie weet nie, wys dit net Bergman is ’n bedrieër, en dan’s dit tyd dat hy aan die pen ry. Reken, om só iemand uit te stuur Isaacsdam toe. Dan wil hy nog eerlike mense se planne in die wiele ry.”

Stadig staan Katrien op. Sy kom tot by hom. Haar spikkelgrys oë blits hier naby sy gesig. “Ek het altyd geweet jy kan mense uit die pad loop, Gileam,” sê sy. “Maar ek het nie gedink jy kan so laag wees nie. Om iemand agter sy rug te beswadder. Probeer ruïneer.”

“Ek? Waarvan praat jy, mens? Hy ruïneer homself,” stuif Gileam ook nou op. Hy is nie gewoond aan teenstand, veral wanneer dit van ’n vrou kom nie. Daarvoor was Noekie eens te onderdanig en gedwee. Selfs van Katrien sal hy dit nie duld nie. Sy moet liewer vroeg leer om sy leiding te respekteer.

“Jy weet waarvan ek praat. Trap hier uit, Gileam.”

“Jy jaag my weg?”

“Jy’t buitendien seker vergeet dis my slaapkamer hierdie.”

“Jy’t gesê ek kan inkom. Maar orraait, ek wag vir jou in die voorhuis.”

“Jy wag nêrens vir my nie. Jy’s ’n stukkendmaker. Jy het vir Noekie gebreek. Jy is jou kinders aan ’t breek met jou dominering. En vir wie almal nog? Nou vir Bergman ook. Is ek die volgende een? Nee, dankie.”

“Môre voel jy weer beter,” verseker hy haar. Net hy weet wat dit hom kos om so kalm te bly. O, hy durf ’n vrou met soveel vuur nie verloor nie. Solank haar vuur net nie syne probeer oortref nie.

“Hoe sal jý weet hoe ék môre sal voel, Gileam Dormehl?”

“Want ek weet jy is ontsteld oor ’n brief wat jy gekry het. En ek sê mos ek sal dit hanteer. Gee hier, ek sal die duurste prokureur kry.”

“Alles in die lewe gaan nie oor geld nie. So jy kan my nie met hierdie brief help nie, Gileam. Nie jy nie. Dis ’n brief om te sê dat Kirsten de Villiers nog lewe.”

Lank nadat sy ontslae geraak het van die verbysterde Gileam sit Katrien nog en staar na die brief van professor Andrews. Dan raak die aandrang te sterk en sy gaan nader om dit weer eens oop te vou. Sy wou dit nie teen haar lyf hê nie, daarom het sy dit netnou daar eenkant neergesit.

Ek hoop nie ek dien jou nou die skok van jou lewe toe nie, Katrien. Toe ek jou nou die dag bel, het ek nog niks geweet nie. Toe kom my vriend die registrateur vir my sê Kirsten de Villiers was by hom. Wou weet of, as hy weer inskryf, hy krediet sal kry vir die kursusse wat hy reeds voltooi het. Hy het glo verneem na jou, of jy weer vanjaar Frans doseer.

Daarom skryf ek nou dringend vir jou. Ek wil nie bel nie en ek wil ook nie hê jy moet dit oor ’n paar dae in die koerant lees nie. Verskoon dat ek voordeel probeer put uit hierdie skokkende gebeure, maar kan ons jou nou terug verwag in jou pos? Ons val nog baie rond, hoor, en jy weet mos ek wil graag so gou moontlik oorsee vertrek.

Die kamer is bedompig. Katrien kom agter dat haar hande sweet en die skryfpapier kreukel.

Kirsten is nie dood nie.

Geheueverlies, skryf professor Andrews. Sy kop teen ’n rots gestamp en iewers uitgespoel. Sy weet dis ’n leuen. Hy het opsetlik verdwyn om uit die moeilikheid met Janie Wilken te kom, en daarna terug te keer na haar, Katrien. Sodra die koerante met hom klaar is en die stof gaan lê het, sal hy weer toenadering soek. Sy weet dit onfeilbaar.

Dink hy werklik hulle kan die duisende skerwe van hulle planne weer las? Hulle sou trou; hy sou studeer en sy sou klasgee. En toe sien hy kans om soveel leed en smart te veroorsaak, willens en wetens, net om aan sy verantwoordelikhede te ontkom.

Sy voel lus om histeries te lag. Teruggaan na Kirsten? Oor haar dooie liggaam. Sy het te swaar hierdeur gekom. Soveel pyn kan nie reggestel word deur dit in trurat te gooi nie. Sy sal teruggaan om klas te gee, ja. Sy het nou geen herinneringe meer te vrese nie. Martiens Levink se ma is bereid om weer in te staan vir die versorging van haar pa. Die Levinks het ’n ekstra geldjie ook maar broodnodig. Hier raak die wêreld vir haar te klein. Sy moet wegkom van Gileam af, hy sal haar nie ’n oomblik met rus laat nie.

En tog het sy op die oomblik ’n groter probleem: Bergman. Hy reken teen hierdie tyd waarskynlik dat sy hom verraai het. Hoe kon Gileam doen wat hy gedoen het? Skep hy dan behae daarin om mense te breek, te vernietig? En om te dink dat sy amper self in die slagyster getrap het. Net so asof wyle Noekie Dormehl se lewe nie ’n groot genoeg les was nie; daardie bleek, siellose gesig.

Die wind … ag, genade, die wind het weer opgekom. Dit ruk aan die ruite en sug deur die akkerboom. Sy sal nou, voordat die nag met sy slapelose ure toesak, vir Bergman moet gaan opsoek en hoor of daar nog iets te redde is. Sy moet hom oortuig dat sy nie oor sy familie gepraat het nie, dat haar woord haar eer is.

Maar eers moet sy aandete maak en haar pa versorg. Die bekende take is vanaand meer as welkom, ’n terapie vir haar dolende gedagtes. Die skok oor Kirsten, die kommer oor Bergman. Terwyl sy doenig raak, word laasgenoemde kwessie oorheersend.

Katrien het nie ’n motor nie, en haar pa s’n is kapot. Toe sy teen skemer haar hare vasbind en die winderige strate te voet aandurf, is dit met een verterende dryfveer: om by Bergman te kom. Hy moet haar glo. Hy móét haar glo.

Louisa du Toit Omnibus 9

Подняться наверх