Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit - Страница 5
2
ОглавлениеJonathan Bergman kom te staan voor ’n besondere erkenning: hy het hom misgis. Dis nie ’n bekentenis wat hy graag of dikwels maak nie, selfs nie teenoor homself nie.
Nie meer nie. Sy latere lewe is gevestig en hy het genoeg selfvertroue opgebou om hom deur te loods. Sy ganse huidige lewe staan in die teken van “nie meer nie”. En byna onbewus verbeel hy hom dat ’n langer lys van “nie meer nie’s” hom baie goed te staan kom.
Dis een ding om diep in homself te erken dat hy hom deeglik misgis het met die meisie hier by Isaacsdam Kontantwinkel. Dis egter ’n ander storie om dit aan haar te erken, en hy is nie van plan om dit te doen nie.
Maar dat sy sy belangstelling prikkel, is nie altemit nie. Selfs toe die reën bedaar en die son onverwags deurbreek sodat sy die gaslamp in ’n damp van warm paraffien uitdoof, behou sy daardie ietwat onwerklike kwaliteit. Hy is reeds, behalwe sy drafstappie hotel toe, altesame ’n halfuur hier in die winkel en hy begin in die pad voel. Die waarheid is egter dat hy nie verblyf het nie. Noudat die weer bedaar het, begin klandisie hulle opwagting maak en met gemengde gevoelens luister hy na die alledaagse winkelpraatjies. Hy sou kon sê dis bourgeois, behalwe dat hy nou vermoed sy kan die woord meer korrek as hy uitspreek.
Maar koeitjies en kalfies, inderdaad; want hy word wys dat tant Susan Rooivlakte se grootmaakkoei verlede nag gekalf het, “… in die wind, my kind”. Hy hoor ook hoe oom Tommie ve’Reene toestemming kry om riete vir sy mandjievlegwerk te sny.
Wat vir Jonathan nogal opreg interesseer, is die nuwe kennis dat die meisie se naam Katrien is.
“Katrien …” begin hy toe hulle weer kortstondig alleen is. Hy moet immers so verlangs begin uitvind of sy hom kan beduie waar sy familie bly. Maar voorlopig gun sy hom nie die kans nie.
“Katrien vir ou klandisie,” lig sy hom katvriendelik in. “Juffrou Tosen vir alle nuwe klandisie en vreemde besoekers aan Lilliput.”
“O, ja, goed, jammer. Maar vir my kan jy gerus Jonathan noem,” wreek hy sy ongemak.
“Indien ons baie met mekaar te doen kry, sal ek dit oorweeg, intussen is u meneer Gul … Bergman.”
“Dis nou regtig nie meer snaaks nie. Nou, juffrou Tosen, ek het ’n probleem.”
“Die hotel is vol,” vryf sy in. “En o ja, die vonkproppe. Dalk het die wind hulle al drooggewaai. Het jy weer probeer aanskakel? Of wil jy hê ek moet daarna gaan kyk?”
“Ek het gevra of ek die motorhawe kan bel,” verwyt hy. Te laat dink hy daaraan dat hy mos van die hotel af kon probeer bel het, maar hy het ’n redelike bohaai daar gemaak toe dit blyk hulle is vol. Hy dink nie die bestuurder sou hom nog ’n guns wou bewys nie.
“Ek onthou dat jy gevra het. Maar om eerlik te wees, ek sou skaam kry om hulle vir so iets te ontbied. Toevallig is die eienaar daar ’n vriend van my, enne … aangesien jy nou so half onder my beskerming is …” Sy kyk na hom met … ja, waaragtig, met erbarming in haar oë. Oë wat, so sien hy nou in die beter lig, grys gespikkel is. Ook nie ongedeerde oë nie. Daar is ’n soort vergroeide droefheid in. Maar beskutte oë, wat nie verraai wat sy regtig voel nie.
“Jy moet seker dink dat ek onbeholpe is,” verweer hy. “Dis nie dit nie. Ek beskou dit net so: Die dinge wat ek kan doen, kan enigiemand anders nie sommer doen nie. Ek was op universiteit daarvoor.”
“Inderdaad?” Sy veins verbasing, maar hy laat hom nie van stryk bring nie.
“Ja, net so,” sê hy nadruklik. “En ek laat leef ook. Ek is nie te suinig om te betaal vir dienste van ’n ander ou wat … wat …”
“Wat niks beters kan doen nie,” voltooi sy soet. Dan voeg sy guitig daaraan toe: “Dit moet Gileam tog hoor. Dit is my vriend wat die garage het.”
Jonathan is nie ernstig van plan om verder uit te vind wie die danige Gileam is nie, behalwe om te wonder of die trui vir hom is. Hy wil liefs herberg vind. Dis naby vyfuur, hy is moeg en lus vir ’n lekker ete en bad.
“Soos jy geraai het, was die hotel toe vol,” erken hy teenoor Katrien Tosen. “En moet asseblief nie sê ‘ek het jou mos gesê’ nie. Help my liewer dink waar ek losies kan kry. Hier iewers woon mense wat … wel, so verlangs familie van my is.” Hy sou dit nie graag wou erken nie, maar sy verleentheid maak dit nodig.
Sy skud haar kop. “Ek glo nie. Jou familie sou hulle nie hierlangs gevestig het nie, meneer. Ons leef maar eenvoudig.”
Nou weet hy vir seker dat sy die draak met hom steek en dat hy daartoe aanleiding gegee het deur sy grootdoenerigheid. Hy wil haar graag oortuig dat hy nie regtig dink Isaacsdam is te eenvoudig vir sy familie nie. “Luister,” sê hy, “ek jok nie vir jou nie. Hulle het hierheen getrek. Ek het die oom se van vergeet, hy is getroud met ’n niggie van my … my pa. Haar van was ook Bergman,” gee hy prys. Sal hy bitter spyt daaroor kry?
“Coetzee,” sê sy gladweg. “Malie en Koos Coetzee.”
“Ek … ja, dis moontlik. Ek dink so.”
Sy bekyk hom aandagtig. “Is jy seker dis jou familie?”
Hy begin besef wat hy aangevang het. “Dit was voor my tyd. Dit kan wees dat ek ’n fout maak. Jy weet hoe dit is: ’n Mens sterf af.”
“Ek wil sê, hierdie oom Koos het net een klagte sedert hy destyds van die Bosveld af hierheen getrek het, en dis dat hy hier nie sulke lekker mampoer kan stook nie. Die perskes is nie dieselfde kwaliteit nie.”
Spot sy weer eens? Hy staar haar aan. “Ek sê jou ek kan ’n fout maak,” probeer hy sy dwaasheid uit die weg ruim.
“Jy kan altyd gaan seker maak.”
“Waar bly hulle?” Hy hou sy stem maar so ’n bietjie onderlangs, want hy was lank laas so onseker van die grond waarop hy staan.
“Ek sal jou beduie. Kom staan net buite.”
Sy beduie vir hom. Hy kry die geur van haar hare. Die tanende son baai die skoongewaaide, skoongewaste dorpie in dik geel lig.
“Kyk nou eers hoe jou motor se lyf voel,” raai sy aan. Sy klink darem nie meer so onvriendelik nie.
Die motor vat.
Jonathan kan nie verstaan waarom hy half teleurgesteld voel nie. “Dankie vir al jou moeite,” sê hy.
“Plesier. Kom maar weer as jy nie regkom nie, dan gooi ons ’n matras in die stoorkamer oop.”
“Haha, dankie.” Manlik manierlik klim hy weer uit om haar tot by die deur te vergesel. En nie net vanweë maniere nie, maar ook omdat hy skielik ’n innerlike oorwinning behaal het. Waarom sal hy stry dat sy vir hom interessant is? Behalwe dat sy ’n paar woorde Frans kan praat, en nog voor sy dit gedoen het? Dit wil lyk of sy enkellopend is, en hy moet in elk geval ’n tyd lank hier bly. Minstens ’n paar weke, want hy is alleen met die klomp werk. En dis ver om naweke stad toe te ry vir afleiding. As hy nou hier ’n afleidinkie kan kry, net onskuldig genoeg, waarom sal hy dit in die wind slaan? Goeie geselskap?
“Ek voel ek moet jou vergoed vir jou moeite,” sê hy by die houtdeur. “Wat doen jy vanaand?”
“O, ek is iemand wat altyd besig is,” antwoord sy en hy wil hom verbeel dat daar ’n klein laggie net onder die oppervlak van haar stem lê.
“Ek praat nie van werk nie.” Haar mate van weerstand maak die man in hom wakker. “Ek praat van afleiding.”
“In hierdie stadium van ’n mens se lewe het jy reeds besluit oor jou afleiding,” sê Katrien Tosen. Daar het ’n kilte in haar stem gesluip.
“’n Mens kan in ’n groef raak,” probeer hy vir haar besluit. “Dan het jy iemand nodig om jou daar uit te help.”
“Ek hoop ek verstaan jou verkeerd,” sê sy nou beslis vyandig. “En as ek uit my groef wou kom, sou ek netnou die aanbod aangeneem het om weer Frans te gaan doseer. By my alma mater. Universitéit, jy weet?” Dit klink soos ’n teregwysing eerder as grootpraat.
Hy voel bitterlik afgehaal. Hy kon immers so iets vermoed het. Maar die wete dat sy nie sommer enigeen is nie, maak hom meer vasberade om die groen lig vir haar vriendskap te kry. Hy is gewoond om enige middel aan te wend om sy beeld te poets, en hy is nie skaam om dit te erken nie. “Ons kan tog darem vir mekaar interessante geselskap bied,” beraam hy gesellig.
“Wie sê vir jou ek het nie genoeg interessante geselskap nie? Doen jou die guns en hou op om jou kosbare tyd te mors.”
Hy staar haar ongelowig aan. Haar stem was koud en so ook haar blik. As ’n mens se oë kon verwond en laat sneuwel, sou hare dit sekerlik nou aan hom gedoen het.
“Ek … maar …” Hy stotter oorbluf. “Ek wou maar net vriendelik wees. Ek …”
“Jy kom hier aan met jou ego so groot soos ’n skoolsaal, en jy verwag ek moet swymel? Ry nou liewer, meneer. Dalk verdra jou familie jou beter, eie bloed verstaan mekaar.”
Sy jaag my sowaar weg, dink hy met groeiende boosheid. Sy, dieselfde enetjie wat oor koeitjies en kalfies en rietmandjies oor die toonbank geklets het, kabeltjies gebrei het, jaag my weg.
Dit voel vir hom kompleet asof hy onwetend iewers groot gesondig het. Sommer skielik het sy yskoud geword, vernietigender as die wind en weer. Hy moet veg teen ’n byna vergete gevoel van minderwaardigheid. Dat hy nie goed genoeg is nie.
Hy durf nie terugval in daardie vergete toestand nie. Hy moet hom handhaaf, dit behou wat hy swaar verwerf het. Hy moet haar terug antwoord, op haar plek sit. Maar dis asof hy aanvoel dat sy buite haarself handel, dat sy aangedryf word deur ’n onbekende motivering wat sterker as sy self is. Is dit nie ook maar die storie van sy eie lewe nie?
“Jy word skielik onvriendelik,” prewel hy uiteindelik net.
“Gelukkig is ek nie van jou opinie afhanklik nie. En net ingeval jy iets nodig kry, daar is wel ’n ander winkel laer af in die hoofstraat, waar die mense dalk vriendeliker met jou sal wees.”
Dis ’n oorblufte Jonathan wat in sy motor klim en volgens Katrien Tosen se aanwysings die huis van sy familie soek. Sy moet ’n gesplete persoonlikheid hê, die mens. Of het hy iets gesê of gedoen wat haar omgekrap het? Hy verlang ineens na Jeannie, na haar verbete doelgerigtheid, haar weet-wat-sy-wil-hê-en-dit-sê-ook. Sy kan so hard wees dat jy haar, by wyse van spreke, met ’n koubeitel nie kan vermurwe nie; veral wanneer sy vermoed dat iets of iemand in haar pad na sukses wil staan. Ander kere weer, kan sy word soos murg of dons; dierbaar, sodat dit voel hy kan sterf van pure aandoening net vir haar.
Sy is ’n meisie uit die boonste rakke. Vir wat sal hy ongelukkig voel oor ’n meisietjie wat mieliemeel en veters verkoop en toevallig kan sê: Bonjour, monsieur? Universiteit; wat sê dit as jy dit nie opvolg, jou geleerdheid gestand doen nie?
Hmf. Maar “hmf” is nie die uiteindelike slotsom wat in sy kop heers nie. Terwyl hy deur die laatmiddagstraat ry, besluit hy dat hy tog uitermate afgehaal voel oor Katrien Tosen se optrede. Hy is baie lus en verkla haar by haar baas. Sy ontmoedig klandisie.
Maar sy was vriendelik en spontaan met die ander wat daar ingekom het. Hulle was eie met haar, asof sy iets huishoudeliks is. Iets soos die kraak van ’n yskas se deur, of ’n pepermentjie op ’n lang reis. En vir hom jaag sy koelbloedig weg nadat sy eers hoe lank kat en muis met hom gespeel het.
Sy het in elk geval die pad goed beduie. Nadat hy die hoofstraat verlaat en regs op gery het in ’n kleiner woonstraat, sien hy alreeds die huis met die groen verandapale.
Die uitskiet van Jonathan se linkervoet na die rempedaal is byna outomaties. Eers nadat hy dit besef en hom besin het om wel verder te ry tot reg voor die huis, kom hy agter dat sy hande te styf om die stuurwiel geklem is.
Ek wou remme aanslaan, besef hy. Ek wou omdraai, kop uittrek. Dis die groot rede waarom ek so teensinnig was om na Isaacsdam te kom: my familie. Ek was bang dat die bloedbande my sou trek, terug sou trek in die maalkring. En juis ook dit was die groot aansporing.
Met ’n ligte, klam sweet op sy voorkop, hou hy stil voor die huis met die groen verandapale. ’n Regte kleindorpse huis, sommer teenaan die straat. ’n Stoep vir koffie drink en los geselsies. Hy kyk of hy nie iewers by ’n straatkantste venster ’n gordyn sien roer nie, maar alles bly roerloos.
As hy op die stoep staan en huiwer voordat hy aan die ietwat uitgedorde houtvoordeur klop, kyk hy vir laas om hom rond. Asof ek ’n gevangenis binnegaan, dink hy vlietend en probeer hom onder beheer kry.
’n Voorneme vat vinnig pos: hy gaan nie regtig sê wie hy is nie. Nie sommer nie. Eers kyk. Net kyk. Op die kaal stoepie staan rye potplante in geverfde blikke op enige denkbare soort staander rond. Die verlate stoepie word opeens die toonbeeld van allerverlatenheid.
Die dekselse ou hotelletjie. Deksels, deksels. Hoop maar daar gaan ’n kamer oop oor ’n dag of wat. Dat ’n samelewing so baar kan wees, en nog tevrede. Hy klop en wag. Wag op die geskuif en gekraak van vloerplanke wat noodwendig moet volg. Dit duur nogtans ’n tydjie. Toe die deur van binne oopgemaak word, het hy ’n geringe voorsprong. Hy kan die tantetjie beskou voor sy hom kan beskou.
Sy is kort en vol, ’n regte meelslopie, effens weggeknyp by die middellyf, hoewel die kepie skaars sigbaar is onder die regaf rok. Dis net die voorskoot wat dit aandui. Hy sien daar sit stukkies deeg aan die voorskoot vas.
“Goeiemiddag,” sê Jonathan. Hy wil voortgaan, voel reeds hoe die woorde in sy keel vorm om te verklaar dat hy losies soek en dat hy die man is wat die nuwe deel van Isaacsdam …
Maar die verduideliking is nie nodig nie. Na enkele oomblikke van aanskoue sien hy die ontsteltenis in die vrou se oë opspring en sy slaan haar hand voor haar mond. “Genade,” snak sy. “Sien ek ’n gees, of sien ek nie ’n gees nie?”
Jonathan voel lus om holrug te trek en agter hom te kyk. Die koeëlronde ogies en verskrikte haartjies laat ’n mens inderdaad aan ’n kerkhof dink. “Is dit oorlede Janmaans, of is dit nie oorlede Janmaans nie?” wil sy weet. “Daai deurskynende bloue oë.”
Toe weet Jonathan hoe groot die fout is wat hy begaan het. Hy het hom as ’t ware self uitgelewer, soos ’n misdadiger. Die halfvergete naam van sy pa slaan hom reg op die maag. “Ek lyk seker na iemand anders,” sê hy vinnig, geoefen. “Ek is eintlik ’n besoeker wat in die nood is, soek ’n paar dae losies. Die juffrou by die winkel het my die pad hierheen beduie.”
Sulke versuikerde stellings het deur die jare makliker en makliker begin kom.
“O, Katrientjie?” sê die vrou. “Katrientjie weet hier’s altyd plek vir nog.” As sy ’n kat was, sou die tantevroutjie nou gespin het. “Werk meneer darem?” Die vermoedens het nog glad nie uit die ronde ogies gewyk nie.
Is dit ’n skimp dat sy pa leeggelê het? wonder hy sensitief. Maar haar vraag plaas ook die grond terug onder sy voete. “Mevrou, my firma het my hiernatoe gestuur om die nuwe stuk dorp te kom uitlê. Dis ’n groot taak, ’n … ’n belangrike taak.”
“Nee, maar dit sal ek glo. Ek sien maar wat dit is om net ’n rokspatroon op materiaal uit te lê, of ’n paar groentebeddings. Dis meet en pas en so al vort. En wat voer meneer die van?”
“E … Berg.” Dan mompel hy verder: “… van Nothnagels.” Dit behoort verwarrend genoeg te wees. Hy het reeds besluit dat hy sy volle naam moet verswyg. Sal Katrien Tosen dit uitlap? Hy moes haar eintlik versoek het om nie … maar sy was die laaste rukkie so onvriendelik. Malie Coetzee moet maar later dink dat sy net verkeerd gehoor het.
Maar bes moontlik is daar nie ’n “later” nie. Nie as dit van my afhang nie, besluit hy met ’n soort drif. Nee, as dit van hom afhang, sal hulle nie uitvind wie hy regtig is nie. Hy het hier beland uit werksnoodsaak en origens uit die koppigheid van sy bloed.
“Nou kom dan maar in.” Die feit dat hy deur Katrien Tosen “gestuur” is, is skynbaar ’n waarborg tot aanvaarding. Hy voel ’n bietjie beskaamd voor hierdie mildheid. Hy kan hom voorstel wat Jeannie van so ’n tipe mens sal sê: “Gully, ons moet van hulle ontslae raak. Ek ken hulle soort. Hulle katrol jou in met vrome goedheid, en op die ou end begin hulle jou melk.”
“Dankie, mevrou. Mens, maar dit was ’n wind en reën.” Gelukkig onthou hy dat ’n mens hier stellig oor die weer moet praat. Nog iets wat Jeannie verafsku, om oor koeitjies en kalfies en die weer te gesels. In die sakewêreld, so glo sy, is dit nie ’n kuns om dit te sê wat ander reeds weet nie. Dis eerder ’n kuns om dit wat ander nie weet nie, te verswyg. Sy is saam met haar broer die erfgename van haar pa se sakeryk en sy moet die dieper sielkunde daarvan leer verstaan. Sy is die Kaapse skakel, haar broer pendel tussen Kaapstad en Johannesburg.
“Ja,” sê die tante en wikkel voor hom uit soos ’n goeie eendjie. “Eintlik moet die noorwestewind die reën bring, bietjie later, in die winter. Maar as die sedoos saam met reën waai, is dit goed vir die oes, dit waai die klammigheid weg wat skimmel en roes veroorsaak.”
Hulle is dwarsdeur die beknopte huis, al met die gang langs, en uit op die toegeboude agterstoep. Al wat Jonathan onthou, is dat die huis redelik wanordelik is. “Koos,” sê die tante, “jy moenie skrik nie, hier het ’n vreemde man geklop, en hy lyk nes my oorlede neef Janmaans, ek skrik my amper morsdood toe ek oopmaak.”
“Watse vreemde man?” blaf die aangesprokene.
As Jonathan dieselfde onvoorwaardelike goedgunstigheid verwag het, slaan hy die bal ver mis. Die man gluur hom aan onder wenkbroue wat ’n eie taal van weerbarstigheid spreek. By hom sal ’n mens nie met nonsens loskom nie, dink hy met ’n mate van angs.
Koos Coetzee sit op ’n verweerde maar gerieflike ou motorkussing terwyl katte, kuikens en klein varkies rondom hom op die agterstoepie wemel. Noudat die gaasdeur oop is, glip ten minste een hoenderkuiken en een varkie binnetoe, vergesel van ’n paar hoopvolle laatsomervlieë.
“Hierdie man, Koos.” Sy skop werktuiglik met haar een voet sywaarts om die diere af te keer, maar die poging is nie suksesvol nie en sy laat dit vaar. Sy beduie na Jonathan skuins agter haar, trots asof sy hom self geproduseer het. “Lyk hy nie wesenlik soos my oorlede neef Janmaans nie? Die eerlike bloue oë.”
“Eerlik ja, hegge-hegge-heg.” ’n Kekkellaggie diep uit die bors. “’n Ander woord vir ‘skelm’.”
Jonathan voel hoe hy verstyf. Maar ek wou mos hierheen kom, dink hy met selfaanklag, wou my mos na al die jare wysmaak dat ek ’n familiemens wil sien. Het ek moedswillig nie seker gemaak dat my plek by die hotel bespreek is nie? In my kop gesien hoe ek knus en dierbaar by gerekende familiemense kuier, my oortuig dat almal nie soos “oorlede Janmaans” was nie?
Die vermoede dat hy straks ’n vreeslike fout, die fout van sy lewe, begaan het, begin hom ry. Hy behoort eintlik hier pad te gee, uit hierdie huis en sommer uit die dorp ook. ’n Kwaal ontwikkel, voorgee dat hy sy rug beseer het toe hy in die steeks kar se enjin moes krap, en vir Nothnagel so oorhaal om ’n ander ontwikkelaar te stuur. Hoe eerder, hoe beter. Maar Malie Coetzee is klaar besig om hom vas te spin in die web van haar welwillendheid.
“Skaam vir jou, Koos,” verwyt sy kortasem van ergernis. “Wat moet die man van ons dink? Skelm. Hmf. En hy ’n man wat gekom het om die dorp uit te lê? Maar kyk nou reg in sy gesig, Koos. Lyk hy nie soos Janmaans …”
“Ek wil liewer nie sien nie.” Na die eerste vinnige blik kyk Koos strak die agtertuin in. “Janmaans kan vandag in die graf wees met sy eerlike bloue oë, maar daardie skade aan die stookketel het my groot verlies besorg.” Dan kyk hy weer vlugtig terug, die blik onder die wenkbroue priemend: “En ek hét ’n liksens gehad, ingeval jy wonder.”
Jonathan staar die man aan. Mampoer. Katrien Tosen het nie gejok nie, maar sy het dit soos ’n stigma laat klink. As die man ’n lisensie het, dis ’n ou bedryf wat by kultuurmuseums lewend gehou word. Maar hoe veg jy teen persepsies? Die volle implikasie van die middag se gebeure dring nou eers tot hom deur. Hy’t vir Katrien Tosen gesê die mense is sy familie. Wat het hom makeer? Dit was die vreemde middag, die sterk, hoë wind, die swiepende reënslag teen die verskemerde winkelvensters. En sy in die lig van die gaslamp, die hipnotiese roering van haar breinaalde.
Jeannie. Die Nothnagels. Hoe sal hulle dit opneem? Ook as ’n stigma? Het hy wat Jonathan Bergman is, hom na vele jare so veilig gewaan op die bergtoppie wat hy vir hom uitgesoek en moeitevol bestyg het, dat hy nalatig geword het?
’n Koors neem van hom besit. Hy moet Katrien Tosen gou weer sien en haar vra om nie te praat nie. Maar sy het hom weggejaag, onthou hy. Hy kom agter dat die huisheer hom nou voluit aangluur van onder die weerbarstige wenkbroue. Hy was te lank te stil, dit kan vir Koos Coetzee lyk of hy krities is.
Hy glimlag, probeer die mondhoektrekkie optower wat selfs vir Jeannie Nothnagel kan laat wonder en selfs ’n bietjie verlief maak. Maar die eindpoging voel vir hom meer na ’n senuweeplukkie. “Nou ja, meneer Coetzee, ek is jammer dat ek lyk soos die neef wat u skade aangedoen het,” maak hy flouerig verskoning. “Maar u laat my weer dink aan ’n ou wat in ’n film die rol van ’n veelwywer gespeel het.”
Hy wag op ’n uitbarsting, dus verbaas die reaksie hom. “Hegge-hegge-heg,” lag Koos Coetzee met ’n rommeling wat klink of dit diep uit sy maag kom. “Hoeveel?” Hy skop skuinsweg met ’n beskoende, kouslose voet, sodat die lastig skroppende hoenders wegspat. “Ek bedoel, vrouens? Ek het net een, en sy is ’n hele handvol.”
“Skaam vir jou, Koos. Wat moet die man van ons dink? Maar dis goed jy het vir hom gesê dat jy ’n liksens gehad het.”
“Vir meer as een vrou? Hegge-hegge-heg.”
“Vir die mampoer, bedoel ek. Toe jy in die Bosveld was.”
“Ja, die goeie ou Bosveld. Wat hierdie Bolanders … of sê sommer Booslanders, wat hulle van af mampoer weet, is gevaarlik. Kyk, as hy mos reg gemaak is, is hy meer vuur as vog. Jy moet hom …”
“Ja, toe nou maar, Koos. Die meneer is moeg. En die hotel was vol, sê hy, daar is nie plek vir ’n muis nie.”
“A nee, maar die duiwel se plek sal vol wees,” besluit Koos Coetzee. “Waar het jy al ooit ’n hotel met ’n goeie naam gesien?” Die wenkbroue roer-roer.
“G’n wonder nie, oom. Die duiwel het die beste stookketel van almal,” kan Jonathan die versoeking nie weerstaan nie. Die man sal hom tog nie glo dat ’n hotel ook en veral daar is vir eet en slaap nie.
Dit was skynbaar ’n rondte in sy guns. Koos “hegge-heg” en bekyk die vreemde kêrel toe met meer aandag. “Ka’ wees,” besluit hy. “Dat hy soos Janmaans lyk. Maar dié was nie so ’n blinkstefaans nie. En hy was bietjie groter van lyf en growwer van aangesig.”
“Ons kan tog gerus vanaand foto’s soek …” begin sy vrou, maar word onderbreek deur ’n klop aan die voordeur.
“Kan jy glo … soveel mense op een dag,” besluit sy trots en eendjieloop weg van die mans af.
“Nou toe?” sê Koos Coetzee toe hulle alleen is.
“Oom?” Of moet hy dalk “meneer” sê? Hy weet nie waar hy met hierdie man staan nie.
“Wie’s jy nou eintlik? Jy kan vir Malie vet om die oë smeer, maar nie vir my nie. Ek meen, dat daar ’n sterk trek van Janmaans is …”
“So baie mense op die wêreld, oom,” mompel Jonathan. “Jy kry tipes gesigte, soos oom wat nes daardie filmster lyk.”
Maar ’n verdere verduideliking word hom gespaar deur die binnekoms van wyle Janmaans Bergman se niggie.
“Gileam,” sê sy met ’n mate van ontsag, asof die besoeker iemand watwonders is. “Vir die meneer. Hy wil die meneer sien.”
“Vir my?” vra Jonathan oorbluf. Die naam Gileam wil ’n klokkie lui, tot hy onthou dat Katrien Tosen hom genoem het. Haar vriend met die motorhawe. So, dan het sy reeds begin rondvertel, seker met smaak en geur, hoe hy hier aangekom het en skynbaar nie eers ’n motor se enjinkap kan oopmaak nie. Dalk het sy ook vertel hoe sy hom die pad gewys het. Wil haar kastige vriend hom met die motor kom help, of wil hy kompetisie bepaal en uitskakel?
Gileam blyk ’n fors, net duskant gesette, ook net duskant middeljarige, man te wees. Hy is buitengewoon sonbruin en steil hare neig oor sy voorkop. Daar is ’n effense stotter in sy stem wanneer hy praat. Maar met sy selfvertroue skort daar niks; ’n suksesvolle kleindorpse sakeman.
“Daar is twee dinge waaroor ek kom praat het, meneer … e …” sê hy in die redelik wanordelike sitkamer waar Malie Coetzee hulle alleen gelos het, met ontsag in haar bewegings.
Dus twyfel hy aan my naam, of Katrien het dit nie vir hom genoem nie, besef Jonathan met verligting. Dalk het sy die hele Gulliver-storie uitgelos, waaroor hy bly sal wees. Agterna gesien was hy werklik ’n bietjie bombasties.
“Berg van Nothnagels,” mompel Jonathan ’n bykans onhoorbare bekendstelling. “Praat maar.” Hy weet self nie meer of hy “Berg van Nothnagels” is, of Bergman nie.
“Dormehl. Gieljam Dormehl.” In die vervorming van sy eie naam plaas hy opsetlike argeloosheid. Nie minderwaardigheid nie, daarvoor is hy te seker van homself. Dis eerder asof hy wil sê: Ek kan dit bekostig om ’n bietjie eie eer in te boet, anders is ek te groot.
“Laat ek hoor,” sê Jonathan.
Die besoeker neem plaas op die randjie van die rusbank, nadat hy eers ’n hopie gestrykte wasgoed eenkant toe moes stoot. Hy sit breed en gemaklik, vooroor geleun, elmboë geboog en vuiste op die kniekoppe geplant. By die V van sy hals peul growwe vag soos klapperhaar uit, waarin Jonathan met ’n soort leedvermaak ’n paar grys spikkels vermoed.
“Twee dinge,” herhaal die besoeker asof hy die begripsvermoë van sy luisteraar nou nie juis waffers ag nie. “Die eerste is die uitleg van die nuwe dorpsdeel, en hoe jy dit moet aanpak. Die tweede is Katrien Tosen.”