Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit - Страница 4

1

Оглавление

Eindelik bereik Jonathan Bergman die einde van sy reis. Die man wat deur sy vriende “Gulliver” genoem word, sien die dorp, geteister deur ’n kwaai suidoostewind afgewissel met reën, voor hom opdoem. Gulliver in Lilliput, dink hy gelate.

Hy probeer nie opsetlik bombasties wees nie, maar kan nie help om homself te bejammer nie. ’n Paar weke lank hier … hy kan nie sê hy sien erg daarna uit nie. Die dorp interesseer hom in geen verdere opsig as dat hy ’n taak het om hier af te handel nie. Die kwessie van moontlike familie het hy diep, baie diep in sy agterkop weggebêre.

Nou ja, hy moet seker bly wees dat Senior Nothnagel hom hiervoor uitgekies het. Hy kon netsowel een van die ander manne in die firma gestuur het. Hy, Jonathan, het ook nie gretig probeer lyk nie. Maar is dit so verkeerd om nuuskierig oor jou vergete familie te wees?

Hy sal maar probeer om nie sy baas se vertroue te beskaam nie. Hy sal vir Senior plesier. Hy sal dié nuwe stuk dorp uitlê sodat die ringkoppe en die wyses in die Isaacsdamse poorte hulle hande sal saamslaan. Hy sal ook nie omgee as die nuwe park na hom vernoem word nie. Die Jonathan Bergmanpark. Of net Gulliverpark. Maar of die spul dorpenaars die woordspeling gaan snap, is ’n ander vraag.

Hy dink vlugtig na oor die moontlike familie, ’n niggie van sy pa. Haar getroude van weet hy nie, hy was ook nog nie gebore toe die oom Koos vanaf die Bosveld Boland toe getrek het nie, na die dorpie Isaacsdam. Toe sy ma hom dit later jare vertel, was dit vir Jonathan ’n ver, vreemde, bekoorlike gedagte. “Isaacsdam in die Boland.” Sedertdien het hy self ’n Kapenaar geword, maar Isaacsdam is net te verafgeleë om te tel. Ja, hy het wel op ’n padkaart gekyk waar dit lê, en hy het ’n vreemde pluk aan sy hartsnare gevoel.

Hy sou dalk anders oor hierdie werksopdrag gevoel het as hy vir Jeannie kon saambring. Maar hieroor sou pappa Nothnagel jaloers waak. Ook maar swaar, dink Jonathan, as ’n mens se aanstaande skoonpa ook jou baas is.

Maar hierdie wind darem … Dis geen gewone, vlak wind nie. As hy moet raai, waai dit met ’n hoogte van minstens tien duisend meter.

Kyk ook net die swart wolke, die reën kan binnekort begin uitsak.

Die vooruitsig om ’n tyd lank hier in die klein dorp Isaacsdam te moet woon en werk, word elke oomblik minder aantreklik. As dit nog ’n skoon, oop dag met ’n roerende sonsondergang was – maar dis vroeg reeds skemer; ’n wilde, onherbergsame laatmiddag, vreemd kil vir hierdie tyd wat nog warm behoort te wees.

’n Ongekende verlatenheid dreig om oor hom toe te sak. Hy veg daarteen, veg … hy ken dit nie meer, hierdie soort gevoel nie. Nie sedert hy opgeneem is in die polsende, voortstuwende wêreld van die Nothnagels nie. Hy probeer vir Jeannie onthou, herinner hom half desperaat aan haar warm hande, die glans van haar glimlag. Die meisie oor wie hy gek is en wat in hom ’n ambisie laat ontwaak het waarvan hy tevore nie bewus was nie.

Sy het ’n soort eerlikheid wat in die begin vir hom amper skokkend was, maar wat hy later ook as sy eie begin aanneem het. “Sukses bring sukses,” reken sy. “En as jy nie tred hou nie, sak jy uit. As ’n mens vooruit wil kom in die lewe, is dit nou eenmaal so dat jy boontoe moet leef. Onthaal. Nie ondertoe nie, Gully.”

Mettertyd het hy ’n duidelike prentjie kon vorm van sy toekoms saam met Jeannie Nothnagel. Hulle sal woon in een van drie, hoogstens vier voorstede. Geen ander nie. As hulle “boontoe” wil leef en onthaal, soos Jeannie sê, sal ’n kleinburgerlike voorstad hulle strem.

Jonathan glimlag skewerig. Wonder wat Jeannie van Isaacsdam sal sê. Wie Isaac is of was, weet hy nie, en die dam sien hy nie. Maar miskien kry hy sy meisie nog so ver om te kom kyk hoe dit hier lyk. Sy spore sal immers in die toekoms hier bly lê.

Hy moet iewers aankom, onderdak kom, want die reën kom reeds die wind afwissel. Hy sal in die motor vasgekeer sit. Alles rondom word digter, skemerder, ondeursigtig. Dis asof dit binnetoe slaan … hart toe, ingewande toe. ’n Eensaamheid draai op sy maag.

Hy ry vinniger, asof hy onder dit alles wil uitry in die rigting van ’n kalmer oord. Verder regs, berge se kant toe, moes dit alreeds heelwat gereën het, want hy kom onverwags af op ’n knikkie in die teerpad waar ’n sterkerige stroompie water vloei. Onbesuis jaag hy daardeur sodat die water in alle rigtings spat. Dit bied onsekere verligting. Maar eis ook ’n tol, want dis nie hoe lank nie of die motor begin ruk. Deksels, dit moet iets te doen hê met die water waardeur hy gejaag het. Dis sy achilleshiel dat hy van ’n motorkar se binneste net mooi niks weet nie. Hy gaan van die standpunt uit dat daar mense is wat betaal word om dié soort werk te doen, wat bereid is om hulle teen betaling vuil te smeer.

Dis net soms deksels ongemaklik. Veral as ’n ou strand op ’n plekkie soos Isaacsdam in die aanslag van die reën en die swart stormwind. Hy is nou reg in die breë hoofstraat, en met ’n geruk en gesukkel vorder hy nog etlike meter voordat die motor vrek. Daar is kwalik tyd om dit effens uit die straat weg te swaai. Die een reënveër moet ook gestel word, dit los ’n strepie water reg voor die bestuurder.

Vernederd en vies klim hy uit en slaan sy baadjiekraag op teen die swiepende aanslag van die reën. Met lang treë vlug hy die eerste die beste skuiling binne. Dis Isaacsdam Kontantwinkel, te oordeel aan die geverfde letters teen die verweerde uithangbord. ’n Groot akkerboom oorkoepel die nederige gebou en, ofskoon die wind in die takke hoogty vier, is dit hier onder meteens stil en beskermd. Teen die geslote houtdeur is ’n wit nota met wondergom vasgesit: Kom binne asseblief.

“Dankie,” sê hy beleef teen die betrokke lug in, en maak die deur oop. Binne bly hy enkele oomblikke staan om tot homself te kom. Dit is asof hy ’n ander, ’n skemer, ’n geesteswêreld betree het. ’n Gaslamp brand op die toonbank en in die lig daarvan sit ’n meisie en brei. Rondom haar skemer die belaaide rakke op. Kragonderbreking? wonder hy. Dalk ’n boomtak op ’n kabel.

Jonathan kry ’n vergete mengelreuk in sy neus. Tabak, graan, materiale na hulle soorte: lap, blik, plastiek. Die soortgelyke winkeltjie uit sy kinderdae spring in sy geheue op, al het hy dit so deeglik probeer ontwortel. Dit was maar een van die plekke waar sy ouers goedkoop huurverblyf gevind het. Eintlik sy ma, seker. Sy pa sou nie soveel inisiatief neem nie.

Die meisie staan gedienstig op toe hy binnekom. Asof sy ’n skrobbering verwag. Seker bang om haar joppie te verloor. Die stuk breiwerk het sy versigtig eenkant neergesit. Sy moet uit die ark kom, om by die werk te sit en brei. Geen hoër aspirasies nie … Dis moeilik om te glo. Wonder wat Jeannie hiervan sal sê.

“Het julle nie elektrisiteit hier op Isaacsdam nie?” grap hy. Indien dit so was, sou hy sy beplanning in ’n ander lig moes benader.

“Beroemde eerste woorde,” sê die meisie. Dus is sy nie heeltemal ’n uil nie. Haar stem was ook nogal skerp.

“Wel, dit sou nie te snaaks wees nie. Alles hier is agter die tyd.”

“Anglisisme,” wys sy hom tereg, haar stem steeds skerperig. “Isaacsdam het elektrisiteit,” vervolg sy dan. “Maar die winkel se bedrading moet aandag kry. So, ons gebruik gas en paraffien waar nodig. Tevrede?”

“As julle tevrede is met so ’n primitiewe toestand, hoekom sal ek kla?” Hy beduie met kop en een skouer algemeen in die rondte. Hy wou “juffrou” byvoeg, maar weet nie of sy dalk “mevrou” is nie. Hy wil nie na haar vingers staar nie.

Hy voel vies oor sy taalblaps. Sy sal haar wat verbeel. O, wag tot Jeannie hiervan hoor. Hy en sy sal lekker oor sy Isaacdamse ondervindinge giggel.

Om een of ander rede besluit die vroumens dat hy ’n deeglike antwoord waardig is. Sy leun effens vooroor op haar arms. Hy gewaar ’n glansie op haar lippe, wat vol en goed gevorm is. Haar oë is grys, met spikkels. As sy praat, verskyn daar twee klein, regop kepies langs elke mondhoek. “Ons beoog ’n nuwe perseel en gebou in die nuwe uitbreiding,” sê sy. “Wou nooit juis hier geld bestee nie, sien? Kan ek help met iets?”

“Ja … e … ja,” sê Jonathan, wat hom daarop betrap dat hy na die kepies langs haar mond staar. “My motor het hier buite gaan staan. Laat ek my eers voorstel: Ek is die man wat daardie nuwe uitbreiding waarvan jy nou gepraat het, kom beplan.”

’n Liefliker aanknoping kon hy nie kry om haar op haar neus te laat kyk nie. Hy wag, maar sy slaan nie flou neer nie. “Nou toe nou,” sê sy net redelik ongeïnteresseerd.

“Ek is Jonathan Bergman. Gulliver vir my vriende, of sommer net Gully. Jy het miskien al gehoor van Gulliver in Lilliput?”

“Miskien,” gee sy afsydig toe.

“Nou ja, dis mos oorspronklik geskryf deur ene Jonathan Swift. Dis ook my voornaam: Jonathan. En die mensies in Lilliput het vir Gulliver ‘Man Mountain’ genoem. Bergman.”

“Ek verstaan nou nie mooi nie,” sê die meisie en leun verder op haar gekruiste arms na hom toe oor. Hy probeer sy blik weghou van haar rok se hals. Nie te laag nie, maar juis boeiend oor wat dit nié wys nie. Nogtans kry hy nie die gevoel dat sy probeer uitlok nie. Dis toevallig dat haar roomgeel rok so sag teen haar sleutelbene lê.

“Wat verstaan jy nie?” vra Jonathan.

“Is Lilliput ’n regte plek? En was jy self daar?”

“Nee, wel …” Hy haal sy skouers op. “Vergeet die hele storie. Dit kom net daarop neer dat my bynaam ’n woordspeling is. So iets.”

Sy troetel ’n fronsie asof sy steeds nie verstaan nie. Sy laat hom kriewelrig voel. Hy ken nie meer eenvoudig denkende mense nie. En hy is nie van plan om onbepaald te staan en redekawel nie.

“Kan ek hiervandaan ’n motorhawe bel, voor hulle toemaak, asseblief?”

“Wat makeer die kar?” vra sy ongeraak en haar blik dwaal in die rigting van die breiwerk. Hy vermoed syfers en patroonsteke in haar kykers, en dit maak hom selfs vieser vir die lewe as wat hy tot dusver vanmiddag was.

“Ek het deur ’n plas gery, en ek dink dit het daarmee te doen.”

“Ek weet presies waar,” besluit sy as skynbare kenner van die omgewing. “Dis nie ’n plas nie maar ’n stroompie, en dit loop vandag redelik sterk. Ek dink jou vonkproppe het nat geword, meneer Gulliver.”

“Maar ek is nie Gull …” Dan besef hy dat sy waarskynlik die draak met hom steek. “Die vonkproppe?” eggo hy.

“Ja, of die vonkverdeler. Vat sommer jou sakdoek en droog die vonkproppe af, en kyk of dit nie help nie. Of ek kan vir jou ’n lekker absorberende lap uit die waskamer gee.”

Toe hy haar aanstaar, is dit haar beurt om te verduidelik: “Daai porseleinerige goedjies wat skuins bo-op die enjin in ’n ry sit.”

“Ja, dit weet ek darem,” sê hy geraak. “Maar as jy van ’n vloerlap praat, ek gebruik liewer my sakdoek.”

“Nes jy wil.” Sy steek haar hand na die stuk breiwerk uit, en vra ewe onskuldig: “Weet jy hoe om die enjinkap oop te maak?”

“Natuurlik weet ek, maar die reën …” ontwyk hy. Die waarheid is dat hy nie weet nie.

“Ja, is die weer nie sleg nie?” beaam sy. “Vir ’n buitestander, bedoel ek.” Haar ligbruin skouerlengte hare roer terwyl sy haar kop spytig skud. Haar breinaalde begin klik.

“Miskien moet ek tog maar die motorhawe bel. Die firma betaal.”

“Nes meneer Gulliver wil.”

“Bergman,” help hy hierdie keer reg. Hoekom klink sy stem amper so half bedelend, asof hy van haar septer afhanklik is?

“O, ek is nou so deurmekaar met al die name,” bieg sy kastig. Hy weet nou dat sy spot. “Ek hoop namens jou die weer verbeter. Besigheid is ook maar swak as die weer so is,” vertel sy.

“Besigheid is seker buitendien nie waffers hier op Isaacsdam nie,” gesels hy terug. Op ’n manier is dit nogal nie sleg om hier te staan nie, en hy het sy enkels gekruis terwyl hy met een elmboog op die toonbank leun. Met die wind ’n inferno buite en die reën wat bo die dorpie dreig, is hier ’n klein poeletjie stilte. En sy brei so rustig. Dit is ’n groot stuk breiwerk, loodgrys, met ’n kabeltjie. Nie die tipe trui wat hy sou kies nie. Sou dit ook nie te koop kon kry nie. Dis seker vir haar man of kêrel vir die komende winter.

Sy is ’n mooi mens … as sy nou net Jeannie se skerpheid van gees kon hê. Hy is bederf deur Jeannie Nothnagel se skerp intellek, haar aansien en vernuf.

“Ag, ek is maar net hier op my kolletjie van die aardbol besig,” antwoord die meisie. “Ek kan nie die hele dorp red nie.” Haar hand beweeg met die reëlmaat van ’n pendulum soos sy telkens die wol oor die naald se punt skuif. Sy sal met toe oë kan brei. Eintlik is dit seker ’n kuns op sigself, hoewel volgens hom ’n uitgediende kuns.

“Vertel my van Isaacsdam,” versoek hy. Terwyl hy wag dat sy die foon aanbied, kan hy netsowel die tyd verwyl. Om die motorhawe se hulp in te roep vir ’n foutjie wat sy so vanselfsprekend laat klink, druis in teen sy manlike grein. Daarenteen het hy geensins lus om in die wind te gaan staan en peuter terwyl sy hom bespied nie. Die firma betaal hom nie daarvoor nie, selfs al kry hy vir Jeannie op die koop toe.

“O, Isaacsdam?” Sy spreek die woord so vergenoegd uit asof die aarde juis hier begin en ophou. “Ons gaan tienuur slaap en staan sesuur op, selfs naweke. Ons doen alles saam met die hoenders, dan kan ons nie verkeerd gaan nie. Almal het nog nie televisie nie en ons gesels saans oor en weer. Die paar jongmense wat ons het, weet darem van disko’s, en die oues gaan Kaap toe vir hulle operasies.”

“Dis nie wat ek wou weet nie,” antwoord hy suurderig, omdat hy steeds vermoed sy is met hom die draak aan ’t steek. Dalk is sy skerper as wat sy hom toelaat om agter te kom.

“Wat dan?” wil sy ongestoord weet. Hy sien die blink van haar oë en haar hare, vlugtig in die sagte gloed van die gaslamp. Die geklik van die breinaalde is hipnoties, hy moet keer dat hy nie staar nie.

Vermoed hy ’n glinstering in daardie oë? Sy sal sowaar haar moses teenkom as sy met hom probeer gekskeer. Hy glo nie sy is gaar gebak genoeg om daarin te slaag nie. Hy het taai grootgeword, al vermoed min mense dit. Eintlik is hy die enigste wat weet.

“Die uitlêg,” sê hy met klem. “Die … wel, die topografie. Sou hier ’n aanlegskema wees?”

“Aanlegskema?” Nou is haar oë groot en rond, bodemloos. “Jy bedoel iets soos ’n … besproeiingskema?”

Jonathan Bergman glimlag … net effens, en net met sy een mondhoek. Hy het ondervind dat hierdie glimlaggie van hom selfs die wêreldwyse Jeannie kan ontsenu.

“Waar is die hotel?” vra hy in plaas van om te antwoord op haar oningeligte vraag. Dalk kan hy sommer soontoe loop. Dis baie waarskynlik. Die sakedeel is redelik kompak, so lei hy af.

“Sommer hier naby.” Haar een los hand beduie hoeks en haaks. “Maar het u plek bespreek, meneer Gulli … Bergman?”

“Dis tog seker nie nodig nie? Dit lê te ver van die grootpad af vir toerisme? En in die middel van die week?”

“Mens weet nooit,” maan sy kopskuddend. “Hier is ’n landbou-ding aan die gang en die dorp is bra vol.”

Hy vind meteens niks om te antwoord nie – hy, wat nooit op sy mond geval is nie. “Verskoon my dan eers …” Hy beplan om te loop, maar hoor dan bo die gaslamp se ruising dié van die reën. Vervlaks, hy het skoon van die reën vergeet. Nie eers ’n reënjas of sambreel gebring nie. Hy’t ’n onlogiese, onuitgesproke verwagting gehad dat Isaacsdam sonder elemente is, so gemaak en so gelaat staan. ’n Soort innerlike ontkenning, dus, van die plek se werklike bestaan.

Koes-koes in die skuiling van geboue bereik hy die hotel, volgens die meisie se skrapse aanwysings. Dis eintlik net om die hoek. Hoe naby dit is, besef hy met dankbaarheid toe hy tien minute later, in reën wat steeds met mening uitsif, onverrigtersake terugkeer na Isaacsdam Kontantwinkel, waarbuite sy onkapabele motor staan. Hy voel hierdie keer soos ’n ou bekende toe hy die houtdeur oopstoot. Hy dag hy het hom verbeel dat dit so gesellig is hierbinne, so stil en koesterend. En tog is dit.

Maar die meisie is hierdie keer iewers oor die foon aan die praat. Jonathan wag, steeds de vieste in vir die eenvoudige plek wat een armsalige driesterhotelletjie het wat bowendien vol is.

Die gedagte wat hy honderd maal gekoester en honderd maal verwerp het, kom sterker in hom op: die niggie van sy pa wat glo hier woon. Sal hy op die ou end verplig wees om daar aan te klop vir herberg? Tot tyd en wyl daar dan plek is in die hotel, in elk geval. Is dit nie maar met die oog hierop dat hy sy sending aangevoor het, teenoor Senior Nothnagel genoem het dat hy bereid is om te kom nie?

Hy sou dit egter nie graag wou doen nie. Hy is nie eers familiebewus nie, wat nog te sê familievas. En hierdie familie sal hy nie op straat herken nie. Hy tob opnuut in ’n poging om hulle van te onthou. Wat het sy ma gesê? Hattingh? Van Zyl? Sowaar, hy’t geen benul nie. Hy sal die meisie vra, dalk weet sy. Sy tante-of-wat-ook-al se van was ook Bergman. Haar man is die aangetroude een. Dis al wat hy weet.

Die meisie het hom seker nie weer hoor inkom me, want sy praat lank. Hy hoor slegs haar stem, en skielik begin hy luister, geprikkel deur wat sy besig is om te sê: “Nee, regtig, moet dit nie van my verwag nie. Ek moet my pa nou help. Ek moet ou klandisie behou en nuwes wen, anders vou die plek. Ek wil uitbrei. Damesklere …”

Sy wag en luister, voordat sy verder praat. “Ek … eerlik, ek kan nie.” Die volgende oomblik voel Jonathan sy ruggraat verstyf. Hy ken presies drie terme in Frans, dalk vier: Bonjour, bon voyage, au revoir en monsieur. Hy weet nogtans hoe Frans klink, en sy het Frans gepraat. Hy kan die woorde nie in sy gedagtes sien nie, omdat hy dit nie verstaan het nie. Maar hy is opeens gewillig om die helfte van sy salaris te gee as hy kan weet wat sy gesê het, en met wie sy gepraat het.

Toe sy terugkom en half verbaas na sy herverskyning kyk, blik hy in die plafon en sy vingers trommel op die toonbank. “Ek het nie geweet ons praat Frans hierso nie,” mompel hy sonder om direk na haar te kyk. Hy vermoed dat hy iewers ’n groot oordeelsfout begaan het, en dit verwar hom dat hy nog nie die vinger ten volle daarop kan lê nie.

“Miskien,” sê sy kalm, “is dit net in die regtige Lilliput dat die inwoners geen Hollands, Latyns, Frans, Spaans of Italiaans kon verstaan nie.”

Sy loer na die breiwerk terwyl hy sonder taal staan. “Hotel vol?” sêvra sy net na ’n rukkie, en maak spytgeluidjies.

Hy voel lus om die stuk breiwerk te gryp en op die vloer te gooi sodat sy haar volle aandag aan hom en sy behoeftes kan gee.

“Maar miskien,” voeg sy betekenisvol daaraan toe, “kan daar met bombastiese vreemdelinge in Isaacsdam dieselfde gebeur as wat daar met Gulliver in Lilliput gebeur het: Hy kan aan sy pragtige dik hare op die grond vasgemaak word.”

Toe praat die meisie nie verder met Jonathan Bergman nie, en die geklater van die skuins reën teen die ruite, die lae gesuis van die gaslamp, word die enigste geluid tussen hulle.

Louisa du Toit Omnibus 9

Подняться наверх