Читать книгу Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach - Страница 10
7
ОглавлениеBrenda word wakker toe dit helder lig in haar kamer is. Vir ’n paar oomblikke lê sy stil en onthou wat die vorige aand gebeur het.
Charl was hier. Hy het haar huis toe gebring, versorg en in die bed gesit. Hy het vir haar kos gemaak en saamgeëet. Toe het hy verdwyn.
Sy het gedroom hy soen haar …
Haar hart is sommer oorstuur as sy aan alles terugdink. Wat sou van haar geword het as hy nie daar by haar gevrekte motortjie opgedaag het nie? Hy is soos haar beskermengel. Sy glimlag toe sy dink aan al die kere dat hy haar bygestaan het en vryf oor die duvet. Net hier het hy gesit.
Gelukkig voel sy nou uitgerus en sommer weer lus vir die lewe. Sy spring op en loop kaalvoet kombuis toe om koffie te maak. Sy gaan staan verbaas. Die koffie, die beker, suiker en lepel is alles mooi op ’n skinkbord uitgesit. Charl moet opgewas het, want daar lê nie ’n krummel nie. Sy maak die yskas oop om melk vir die koffie uit te haal, en daar sien sy die twee broodjies, netjies toegedraai.
Sy lag en skud haar kop. Hy is soos die goeie fee wat in die nag kom, alles skoonmaak en dan kos maak ook. Hoe dierbaar van hom. As sy haar eerste koffie inhet, sal sy die broodjies eet, want nou is sy lekker honger.
Daarna gaan sy in ’n warm bad lê en haarself skoon skrop van die vorige vyf-en-twintig uur se ontbering.
Sy onthou skielik dat sy gestrand is. Arme Skigtige Saartjie het gekalf en staan nutteloos by die hospitaal. Hemel, op wie kan sy haar nou beroep? Sy kan nie weer vir Charl lastig val nie. Dit sal darem ’n baie slegte indruk skep.
Dalk moet sy vir Lisa by die huis bel en vra of hulle kan help. Sy wil nie ’n laspos van haarself maak nie, maar dis ’n noodgeval.
Sy glimlag wrang. Haar hele lewe is tans van noodgevalle aanmekaargesit. Dis ingeryg, soos die krale aan ’n snoer.
Skoon gebad, hare gewas en pas klaar aangetrek, staan sy in haar sitkamer en hoor buite ’n voertuig stilhou. Sy gaan kyk en haar mond val oop van verbasing.
Daar staan ’n rooi insleeptrokkie met die naam Wayne Insleepdiens op die deur. En daar staan Skigtige Saartjie.
Sy kan net dink dat Charl dit moet gereël het. Vinnig draf sy uit. ’n Man is besig om Saartjie los te katrol en die ketting met die haak te verwyder.
“Wayne, ek neem aan dis jou naam …”
“Ja, Wayne Oberholzer, dokter.”
Sy steek haar hand uit, al merk sy dat sy hand vuil en vol ghries is. “Brenda Wiechers. Baie dankie hiervoor. Wie het jou laat kom?”
Hy vee eers sy hand aan sy rooi oorpak af voordat hy haar hand neem. “Dokter Naudé, die ginekoloog.”
Nes sy gedink het. Sy is diep in die skuld by Charl.
“Wat kos dit, Wayne? Ek betaal sommer nou. Laat ek net my tjekboek gaan haal.”
“Dok, nee wat, dokter Naudé het klaar gebetaal.”
Sy byt op haar lip. “Dan moet ek hom terugbetaal. Ek kan nie dat hy hiervoor betaal nie. Hoeveel het dit gekos?”
Hy grinnik. “Nee, ek meen eintlik dat hy my klaar betaal het toe my vrou gekraam het. Ek kon nie dadelik betaal nie, toe gee hy my sommer afslag en wag dat ek bietjie-bietjie betaal. Dis ’n man uit een stuk daai. Ek was toevallig naby die hospitaal toe hy bel en dit was sommer woerts-warts. Dok moenie worry nie. Anderdag as jy my weer nodig het, kan jy betaal.”
Hy kyk meewarig na Saartjie, wat dapper en goudgeel in die sonlig staan asof sy nooit vir Brenda in die steek gelaat het nie. “Hierie klein tjorrie is oor die muur. Dok kan gerus ’n ander kar koop.”
“Ja, ek moet. Die tyd het nou aangebreek. Maar intussen moet ek wiele hê. O genade, die battery is seker pap.”
“Ag, ek laai hom vir jou. Tjop-tjop. No worries. Mahala en verniet.”
“Dan gaan maak ek solank vir ons tee. Of wil jy liewers koffie hê?’
“So ’n ou boeretrosie sal die keel lekker natmaak, thanks.”
Kort voor lank kom Brenda uit met die skinkbord en sit dit op die grasperkie neer. Hulle sit net daar en drink. Gelukkig dat sy winkelkoekies het, Eet-sum-mor. Bak is nie juis haar sterk punt nie.
Wayne drink met smaak en verslind al die koekies. Toe help sy hom om weer lewe in Saartjie te skok.
“Oukei, sy’s goed vir ’n trip na die naaste garage,” grap hy.
Sy bedank hom hartlik en voor hy wegry, leun hy by sy oop venster uit en grinnik.
“Ek het wragtig nie geweet hulle maak deesdae sulke mooi dokters nie. Dit was nou net ’n plesier. Dok moet mooi ry.” Hy gee ’n fluit en trek weg.
Brenda kan net lag toe hy om die draai verdwyn.
Sy neem die skinkbord en sien dat van die bure na haar kyk. Hulle het natuurlik die hele petalje dopgehou en dink ongetwyfeld sy is ’n vreeslike flentergat-buurvrou. Sy groet vriendelik en vlug met blosende wange die huis in.
Sy moet dadelik vir Charl skakel en dankie sê. Sy het sy spreekkamer se nommer.
“Dokters Naudé, Visser en Benade,” antwoord ’n vriendelike vrouestem.
“Goeiemôre, dis dokter Brenda Wiechers. Is dit moontlik om met dokter Naudé te praat?”
Dit klink darem formeel as sy haar titel gebruik. Sy wil nie hê hulle moet dink sy maak ’n persoonlike oproep nie.
“Waaroor gaan dit, dokter?”
“Oor ’n pasiënt.” Dis nie heeltemal jok nie, vertel sy haarself, want die pasiënt is Skigtige Saartjie.
“Dokter Naudé is net besig met ’n oproep. Wil u aanhou of sal ons u terugskakel?”
“Ek moet uitgaan … Nee, ek hou nog ’n rukkie aan, dankie.”
Strelende Mozart-musiek begin in haar ore speel en sy neurie saam, want dis ’n bekende simfonie.
“Hallo,” onderbreek die diep, bekende stem haar. “Charl Naudé hier.”
“Charl, dis Brenda.”
“Brenda! Is jy weer heel en uitgerus? Jy was darem lamlendig gisteraand, arme ding. Jy het seker nie gedink jy gaan jou as afwerk by Tygerberg nie, of hoe?”
“Ek en Saartjie is albei nog heel. Baie dankie vir jou hulp gisteraand, en dat jy Wayne se insleepdiens gereël het om Saartjie ook te red. Ek weet regtig nie wat ek sonder jou hulp sou gedoen het nie.”
Hy lag, en dis vir haar die mooiste geluid. “Dis sommer niks. Maar jy kan nie met daardie ou dingetjie ry nie. Sy’s poegaai.”
“Wayne het die battery vir my gelaai. Ek is vreeslik sentimenteel oor Saartjie, maar Rolf het lankal vir my gepreek dat ek ’n nuwe motor moet koop.”
“Hy’s heeltemal reg. Dis gevaarlik as sy jou in die steek laat. En sy het geen inruilwaarde nie.”
“Nee, maar ek gaan haar nie verkoop nie. Sy kan ’n tuinversiering word, soos party mense dwergies en feetjies in die tuin vertoon.”
Hy lag weer. “Hoe lank gaan jy intussen met haar ry? Dis ’n waagstuk, hoor.”
“Ek het gedink ek ry sommer vanoggend garage toe en kry ’n motor. Rolf sal verlig wees as ek dit nie langer uitstel nie.”
“Wat beoog jy om aan te skaf?”
Sy blaas haar asem hoorbaar uit. “Wel, ek het nog altyd gedroom oor die nuwe Volksie. Ek hou maar by die produk. Maar ek weet die New Beetle Highline is duur …”
“Ja, hy is ’n entjie oor tweehonderd duisend. Die deposito is nogal groterig. Hoekom dink jy nie aan bruikhuur nie? Die paaiemente per maand is minder as wanneer jy koop, en jy betaal nie ’n deposito nie. Vir jou eerste groot motoraankoop is dit dalk makliker. Daarna kan jy koop, as jy meer gevestig in jou beroep is en jou salaris is hoër.”
“Jy gee my idees … Genade! Ek is so jammer. Jy is besig en ek mors jou tyd oor die foon.”
“Nee, jy mors nie my tyd nie. Wil jy hê ek moet jou garage toe neem en die verkoopsman ’n bietjie boelie?”
“Ek … weet nie. Ek kan vir Rolf vra.”
Hoe kan sy verwag dat Charl Naudé, die getroude dokter, haar soos ’n man of kêrel ondersteun? En sy praktyk is seker boonop baie besig.
“Nee wat, dan moet hy alles los en al die pad van Stellenbosch af hierheen kom. Ek kan jou vanmiddag hier na Voortrekkerweg neem. Dis ’n uur of wat in en uit. Ek sal jou daar los sodat jy jou dinge kan reël, en dan kan die garage se mense jou tuis besorg.”
Sy ís verleë, en sy het geen ondervinding van motor koop nie.
“As jy regtig dink jy kan ’n paar minute vir my afknyp, sal ek dit vreeslik waardeer as jy my in die geheimenisse van die motorwêreld kan gaan inlyf.”
“Met plesier. Ek maak net gou met twee pasiënte klaar. Dan sien ek jou oor sowat ’n uur. Reg so?”
“Ja, baie dankie.”
Sy steek dalk nou haar kop in ’n bynes, maar dis weer eens ’n noodgeval. Hy is so behulpsaam, en sy kan net hoop dat dit alles onskuldig is. Dat hy geen bybedoelings het nie.
Vir wie probeer jy kul? kla haar gewete haar aan. As daar ooit iemand op hierdie aardbol was wie se bybedoelings sy nie maklik sou kon verwerp nie, is dit hy.
Charl trek met sy groot, blink Mercedes by die parkeerplek voor die vertoonlokaal in.
“Dis seker beter om nie flentergat hier aan te kom nie, anders het hulle nie respek vir jou nie. Of hulle dink jy is te arm om hulle motors te bekostig,” merk sy wrang op.
“Jou dokterstatus sal deure en rekeninge oopmaak. Jy sal verbaas wees hoe ontvanklik dit mense maak. Toe ek begin het om my eie brood te verdien, het dit my regtig opgeval. Dis nie grootpraat nie, net ’n feit. Hulle aanvaar jy kan betaal.”
Hulle stap by die vertoonlokaal met die blink vloere en nog blinker motors in. ’n Jong, funky geklede verkoopsman wat van oor tot oor grinnik, kom letterlik op Brenda afgestorm.
“Waarmee kan ek vandag help?” vra hy gul en kyk haar waarderend aan. “Ek veronderstel dis ’n tweede motor wat julle soek, vir mevrou?”
“Nee, dis vir dokter Wiechers. En sy is nie my vrou nie, net ’n kollega.”
Brenda se blik het op ’n swart Beetle geval wat lyk asof hy vir haar wink.
“Ek soek ’n betroubare motor. Daardie enetjie is nogal opvallend,” sê sy.
Die verkoopsman lyk asof hy sy hande teen mekaar wil vryf. Hy is skoon oorhoops, so vriendelik is hy.
“Ja, dokter, ons het net die regte soort ding vir iemand professioneel soos u,” vlei hy.
Sy kyk egter nie na hom nie, maar stap nader aan die motor.
“Dis ’n oulike klein Kewer dié,” sê hy en maak vir haar die bestuurder se deur oop.
Sy buk en ruik leer. Die binnekant is so mooi dat sy meegevoer is.
“Klim in en kry die gevoel van die motor se kwaliteit, dokter.”
Sy klim agter die stuurwiel in en plaas haar hande daarop. Hoe lekker voel dit nie. Sy kyk om na Charl wat glimlaggend daar staan, hande in die sakke.
Hy geniet haar oë wat skitter en die kwalik verskuilde opgewondenheid. Hoe mooi is sy nie. En hoe onbedorwe. Dis regtig vir haar ’n nuwe ervaring, en dit herinner hom aan die eerste motor wat hy self kon koop. Watter besitterstrots het dit hom nie gegee nie. Nou is ’n nuwe, kragtige, luukse motor ’n noodsaaklikheid, nie bloot meer ’n plesier nie.
Die verkoopsman is op sy stukke en Charl vermoed dis nie net omdat hy gretig is om te verkoop nie, maar omdat die mooi dokter hom omgeboul het.
“Hierdie is die hedendaagse weergawe van die ou Volkswagen-kewer,” vertel hy. “Dis retro, met amper die oorspronklike vorm, net moderner en groter. Dis natuurlik baie beter toegerus as die oue. Dit het ’n viersilinder-enjin, vyfspoed-handrat of vierspoed-outomaties, lugsakke voor, vierwiel-skyfremme, opsionele satellietradio, outomatiese transmissie, CD-speler. Daar is ook ’n sesspoed, die satellietradio is vir alle modelle beskikbaar en …”
So gaan hy aan en Brenda luister. Sy toets alles. Maak alles oop en toe. Loer daarin en voel daaraan.
“Wil u met die karretjie gaan ry? Ek belowe u sal dadelik verlief raak,” koer die verkoopsman.
“Ek is klaar verlief,” sê sy dromerig. “Ek wil haar hê.”
Die verkoopsman is verstom. Charl onderdruk ’n grinnik. Die man het nie gedink hy gaan ooit ’n motor so maklik verkoop kry nie.
“E … is u seker?” vra hy, sy gesig ’n prentjie van blye verbasing.
“Ja. Ek is nie juis besluiteloos nie,” verseker Brenda hom. “Ek het my huiswerk oor dié motors gedoen en hierdie is presies wat ek wil hê.”
Sy klim weer in, skuif die sitplek vorentoe en agtertoe, en klim weer uit.
“Dis hoe ek van my vroue hou,” terg Charl. “Vreesloos, op alles voorbereid en allesbehalwe besluiteloos.”
Brenda bloos, maar probeer haar ten spyte van haar verleentheid ongeërg voordoen. “Ek dink nie mense wat doen wat ons doen, kan bekostig om besluiteloos te wees nie.”
“Ek neem aan jy kan van hier af self regkom?” vra hy. “My geboelie is nie nodig nie?”
“Nee, dis nie nodig nie. Dankie tot dusver, maar ek sal die verdere boeliewerk self doen.”
Hy lag, en vererger haar verleentheid toe hy haar ’n vinnige drukkie gee voor hy uitstap.
“Ek sien daarna uit om die nuwe Saartjie by die hospitaal te sien,” laat hy oor sy skouer hoor.
“Die nuwe Saartjie?” vra die verkoopsman nuuskierig.
“My vorige motor was die ou Saartjie. My studentemotor. Maar sy het finaal die handdoek ingegooi. Kan ons die papierwerk gaan afhandel, asseblief?”
“Onmiddellik. Met plesier. Ek wens ek het meer kliënte soos u gehad. Dit sal my werk aansienlik makliker maak, dokter.”
As hy breër glimlag, gaan sy mond heeltemal om sy kop, dink sy geamuseerd.
Brenda ry die eerste dag met haar nuwe motor hospitaal toe en geniet dit intens. Haar plesierigheid hou egter nie lank nie, want sy loop haar in ’n noodgeval vas.
“Hierdie enetjie is skaars tienderjarig en sy gaan kraam,” sê suster Steenkamp toe hulle die jong meisie op ’n trollie instoot en Brenda geroep word om haar dadelik te ondersoek.
Die meisie se oë is wyd gesper so verskrik is sy.
“Hallo, wat is jou naam?” vra Brenda met ’n sagte, gerusstellende stem.
“Beryl Arendse,” fluister die meisie. “Gaan ek die baba verloor? Ek het geval.”
“Nee wat, heel waarskynlik nie. Ek gaan jou ondersoek en dan gaan ek my beste vir jou doen.”
Sy kry die kind bitter jammer, want sy is nog so jonk en, buiten vir die groot buik, tenger. Kneusmerke aan haar arms en gesig maak Brenda agterdogtig. Sou iemand hierdie kind opsetlik seergemaak het? Mishandel het? Wag, sy moenie nou woedend word nie, die kind moet gerusgestel word.
“Waar het jy geval, Beryl?” vra sy.
“Ek … op die trappe,” fluister die meisie, maar sy maak nie oogkontak nie.
Brenda ondersoek haar. “Jy begin sametrekkings kry, en dit lyk my jou baba lê dwars. Ons gaan ’n keisersnit doen.”
“Moet julle my maag oopsny?” roep die meisie verskrik.
Brenda vat haar hand en druk dit. “Nee, ek gaan nie jou maag oopsny nie. Ek sny onderkant jou maag en dit sal ’n klein en netjiese snit wees. Moenie bang wees nie, baie vroue kry keisersnitte. En weet jy wat? Hulle sê daardie babas kom mooier uit, want hulle word nie gedruk nie.”
Die oë wat na haar opkyk, is blink van die trane. Hoe gryp die kind tog haar hart aan, dink Brenda. Sy lyk ondervoed en daardie kneusplekke is ontstellend verdag.
“Gaan jy my selwers sny, dokter?”
“Ja, en ek sal baie versigtig wees. Voor jy weet waar jy is, is alles verby.”
Brenda druk weer die maer handjie en begin bevele gee dat daar vir die operasie voorberei moet word.
“Die kind is stokalleen,” merk die suster op toe Brenda later by die kraamkamer instap. “Haar ma het haar gebring en daar was geen pa van die kleintjie in sig nie. Hulle lyk maar brandarm.”
“Gelukkig was daar nie komplikasies nie en is die baba gesond,” antwoord Brenda. Sy moet vir die baba goedjies gaan aanskaf, besluit sy. Dis ’n piepklein ou dogtertjie wat haar hart heeltemal week maak. Kleertjies, sagte speelgoed, ’n kombersie. Dis die eerste keer dat sy werklik daaraan dink dat van die mense wat deur haar hande gaan behoeftig is. Voorheen het sy so gekonsentreer op die professionele sy – om ’n goeie dokter te wees en te probeer sorg dat ma en kind oorleef – dat die menslike sy van hulle lewens haar nie opgeval het nie.
Sy kry eintlik skaam vir haar ongevoeligheid. Iets is besig om die koue laag van ambisie en professionaliteit wat sy om haar laat vorm het, te smelt.
Sodra sy ’n dag vry het, besluit sy, gaan sy na ’n babawinkel en koop ’n voorraad goed aan wat sy aan haar behoeftige pasiënte kan uitdeel. Sy weet hoe dit voel om arm te wees en dinge nie te kan bekostig nie. Uit haar relatiewe oorvloed sal sy gee. Beryl sal nog ’n paar dae lank in die hospitaal wees, genoeg tyd om te gaan inkopies doen en die goed te bring.
Brenda gaan gou kyk hoe dit met haar nuutste pasiënt gaan. Sy lê in ’n hospitaaljurk en die baba slaap langsaan in ’n bababedjie.
“Hallo, jy,” groet sy. “Ek is bly jy en die baba lyk so goed.”
Maar sy jok en doen haar net vrolik voor, want dis twee patetiese mensies wat haar laat lus voel om te huil. Sy moet egter sterk wees. Hoe sal dit nou lyk as die dokter hier staan en grens?
“Ek is so bly dis ’n dogter, dokter,” sê Beryl skamerig. “Ek wou iets vra.”
“Vra gerus.” Sy neem Beryl se hand.
“Kan ek haar maar Brenda noem? Dokter se naam? Dis baie mooi, en dokter het haar in die wêreld help bring. Ek dag sy gaan dood.”
Nou kan Brenda die trane nie keer nie, al probeer sy hoe hard.
“Haai, dokter huil dan,” sê Beryl besorg.
“Ag, verskoon my, ek is sommer aangedaan.” Sy snuif kliphard en vee haar oë af. “Ek sal geëerd wees, Beryl. Sy sal vir my soos ’n peetkind voel.”
“’n Peetkind,” fluister Beryl verwonderd. “Dis mooi.”
Sy vee ook ’n traan af. “Het dokter iemand nodig om dokter se huis skoon te maak?”
“Ek doen dit sommer self.”
“Nee! Dokter is te besig. Ek sien mos hoe hard werk julle. Moet ek nie vir dokter kom help nie? My ma kan help om na Brenda …” sy giggel, “om na Brenda te kyk.”
Brenda huiwer, maar besef dan sy kan só ’n ogie oor ma en kind hou. Sy betaal haar, dan is daar ’n inkomste. Buitendien is sy dikwels te moeg om huis skoon te maak, en sy verwaarloos die tuintjie.
“As jy mooi gesond is, sal ek dit verwelkom,” stem sy in. “Die plek is nie groot nie, maar ek is nie die wêreld se beste huisvrou nie. Jy kan die tuintjie ook vir my versorg. Ons kan later oor al die detail praat. Die geld, die vervoer en so aan.”
Beryl is duidelik in haar noppies. “Ek sal goed wees vir dokter.”
En ek vir jou, en vir my klein naamgenoot, dink Brenda.
Sy druk die tenger handjie. “Ek moet al weer hardloop. Dis baie besig vandag en hulle gaan my soek. O, daar gaan my bleeper al klaar. Ons praat later weer.”