Читать книгу Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach - Страница 14

11

Оглавление

Brenda kyk na die mooi jong vrou wat pas ingebring is kraamkamer toe. Sy lê met haar blonde hare oor die kussing uitgesprei en lyk asof sy geduldig wag.

“Weet dokter wie sy is?” fluister suster Hendriks en rol haar oë teatraal.

“Nee, laat ek na haar kaart kyk.”

“Sy is dokter Charl Naudé se … pasiënt. Hy dring aan om self die keisersnit te doen. Die baba lê dwars en hy wil glo nie kanse vat nie.”

Brenda trek haar asem verbaas in. Kan hierdie jong vrou Charl se swanger ontvangsdame wees? Die een waaroor Maureen so gekyf het?

Charl verskyn meteens in die deur, baie professioneel en waardig. Die toonbeeld van die suksesvolle spesialis. “Julle kan die pasiënt maar voorlopig aan my oorlaat. Ek sal opereer,” sê hy.

Brenda onderskep suster Hendriks se betekenisvolle blik en hou haar gesig uitdrukkingloos, al kry sy ’n hol kol op haar maag.

“Nou goed,” stem sy in. Met die omdraai sien sy dat hy die vrou se pols neem en sag met haar praat. Die vrou kyk met vertroue op na hom. Meer as vertroue. Dit lyk amper soos aanbidding, en dis aaklig om te aanskou.

Brenda het hom lank laas gesien en sy het na hom verlang, maar die toneel wat voor haar afspeel, gee haar ’n wrang smaak in die mond.

Hy is darem uitermate besorg. Het die arme meisie op hom verlief geraak, haarself beskikbaar gestel, en toe kon of wou hy dit nie weerstaan nie? Waarom, as die meisie by ’n ginekoloog gewerk het en tog van sulke dinge weet, het sy nie voorbehoedmiddels gebruik nie? Sy kon seker ’n aborsie ondergaan het, maar sy het duidelik nie daardie opsie gekies nie.

Sou dit te skielik gebeur het? Was daar verleiding of dwang? Die botsende, kwetsende vrae en agterdog maal en kolk in haar brein. Sy voel siek as sy aan al die moontlikhede dink.

Die vraag bly: wie is verantwoordelik vir die meisie se toestand?

Meteens besef sy dat sy na hulle staan en kyk asof sy aan die vloer vasgeplak is. Charl kyk reguit en vraend na haar, en hy is óf skaamteloos óf onskuldig, want sy sien geen skuldgevoel in die grysblou dieptes van sy oë skuil nie.

Vinnig beweeg Brenda aan na die volgende pasiënt, maar haar bene voel bewerig. Die venynige Maureen het dit reggekry om die saadjie van twyfel by haar te saai. Toe kom gee suster Hendriks dit water.

Charl sien haar gaan en probeer uiterlik ’n ongeërgde, professionele houding handhaaf. Innerlik is hy baie ontsteld.

Sy het so geskok, so afkeurend gelyk. En … seergemaak. Dit maak hom ook seer.

Sy het natuurlik uitgevind dat Celeste vir hom gewerk het en nou maak sy gevolgtrekkings. Hy glo nie dat sy vir Maureen gesê het sy wil hom hê nie, maar hy glo wel dat Maureen hom goed agter sy rug beswadder het om Brenda af te skrik. En die saad het blykbaar op vrugbare grond geval.

Al is daar iemand anders in haar lewe, is die besondere aantrekking en band tussen hulle twee tog onmiskenbaar. Het hy gehoop dat iets nog tussen hulle sal kan ontstaan. Elke keer as hy haar sien, besef hy dat sy een in ’n miljoen is. Dat sy die soort vrou is aan wie hy homself maklik en met vertroue sal kan verbind.

Daar is niks tussen hulle wat hom die geleentheid gee om na haar te gaan en sommer uit die bloute te sê hy is nie die pa van Celeste se kind nie. Wat sal sy van hom dink as hy dit doen? Nee, sy sal self die waarheid moet uitvind.

Aan die ander kant: as sy ook sommer die ergste van hom wil glo, beteken dit sy vertrou hom nie. Of sy is net so agterdogtig van geaardheid soos Maureen.

Brenda weet presies wanneer die blonde pasiënt by die operasiesaal ingestoot word, want sy gedra haar soos ’n loervink. Nuuskierigheid oorheers skaamte en trek haar soos ’n magneet. Charl het nie met haar oor die pasiënt gepraat nie, al is sy die kliniese beampte aan diens. Dit is ongeoorloof, maar sy laat hom begaan. Dalk is dit vir hom ’n groot verleentheid, maar hy het nogtans ’n pligsbesef en besorgdheid omdat die saak so persoonlik is.

Sy is so ontnugter. So bitter teleurgesteld. Sy het regtig gedink hy is verhewe bo die sondes wat ander mans pleeg. Hoe kon sy so goedgelowig en onnosel gewees het? As jy liefhet, stel jy jou aan die vreeslikste teleurstelling en pyn bloot, kom sy nou agter.

Sy voel asof sy van binne bloei, maar uiterlik sien geen mens dit nie. Uiterlik is sy die koel en kalm dokter Wiechers.

Die ergste van alles is dat sy dit as verraad ervaar, maar dis nie regtig verraad nie. Charl het geen beloftes aan haar gemaak nie. Hulle het nie eens ’n verhouding aangeknoop nie. En tog …

Suster Hendriks is die een wat haar na die operasie kom vertel dat die vrou ’n pragtige seuntjie het. Brenda knik net en hou haar met ander dinge besig, sodat niemand moet sien hoe vergruis sy voel nie.

Lang dae van harde werk gaan verby. Brenda sien glad nie vir Charl nie, en sy hoor naderhand by die ander personeel dat hy oorsee is. Die pyn van ontnugtering wil egter nie vervaag nie.

Dis weer tyd om haar voorraad babagoed by die winkel in Tygervallei te gaan aanvul, maar sy wil nie weer in Maureen Naudé vasloop nie. Sy gebruik ’n ander ingang sodat sy die babawinkel van die ander kant af kan bereik, sonder om by You-nique verby te stap.

Toe sy die babawinkel binnegaan, verstar sy egter van skok. Die jong vrou vir wie Charl so partydig behandel het, is daar, besig om heelwat te koop. Die hele toonbank lê vol goed.

Brenda wil eers vlug, maar die winkelassistent, wat haar as ’n goeie klant beskou, wuif vir haar.

“Hallo, dokter Wiechers. Ek is nou-nou by u. Kyk maar rond en soek uit. Ons het die oulikste baby-grows ingekry.”

Brenda kyk kastig daarna, maar die jong vrou trek haar aandag soos ’n afgrond iemand met hoogtevrees trek. Sy is behoorlik opgesmuk, en die slapende baba lê in ’n kinderwaentjie langs haar. Brenda het ’n oorweldigende begeerte om te sien hoe die baba lyk en sy staan só dat sy kan loer, maar sy kry dit nie reg om meer as die mussie raak te sien nie.

“Dis ’n plesier om ’n klant met onbeperkte krediet te bedien. Haar man laat haar koop soveel soos sy wil.” Die verkoopsdame knipoog vir Brenda, wat ’n glimlag op haar lippe dwing.

“Ja, hy is minstens vrygewig,” hoor sy die jong vrou sê. “Hy het ook vir my die mooiste dorpshuis in Durbanville gekoop en gemeubileer. Ek kom graag na Tygervallei, want ek koop graag.” Sy giggel. “Buitendien slaap die kleintjie lekkerder as hy so rondgestoot word.”

Sy klink ingenome, en tog is daar iets in haar stem wat nie oortuig nie. Brenda tel ’n paar babasokkies op, maar sy sien dit skaars soos sy haar rukkende hart in bedwang probeer kry.

“Dokter Wiechers is ook ’n ginekoloog,” gesels die verkoopsdame.

Die jong vrou draai om en glimlag. “Regtig?”

“In wording,” reageer Brenda styf.

“O, leer jy nog?”

“Ja, by Tygerberg.” Sy wil nie praat nie, maar sy kan nie wegkom nie.

“O, dan ken jy seker vir dokter Charl Naudé. Hy werk baie daar.”

Brenda se gesig voel stram. “Ja, ek ken hom.” En vir jou, wil sy byvoeg.

“Ek kan sweer ek het jou al gesien. Ek het my baba daar gehad, weet jy?”

“Miskien het jy my in die gang gesien.”

“Ja, miskien. Daar is ook so baie mense wat heen en weer loop en in- en uitgaan. Hulle kom in massas om ’n mens te bekyk. Dis so geweldig besig.”

Haar groot, oorgegrimeerde blou oë kyk Brenda ondersoekend aan en Brenda moet met wilskrag haar gesig uitdrukkingloos hou.

“Hulle moet saalrondes doen. Dis ’n opleidingshospitaal en die dokters bespreek die gevalle met die studente.”

“Ek het soos ’n uitstalpop gevoel.”

“Ek kan later terugkom,” stel Brenda voor, want sy wil nou net wegkom.

“Nee, ek is amper op pad. Hou vas.” Die vrou draai na die ontvangsdame. “Sit dit als op rekening, seblief, Mabel, en dan stuur jy die goed tog huis toe. Ek gaan dit nie saampiekel nie, want ek wil gaan klere koop. Ek begin darem nou weer my figure terugkry. Jy het mos die adres.”

Brenda hou haar onderlangs dop. Sy is mooi, maar glad nie gesofistikeerd nie. Haar smaak is te kleurvol en sy het haar gesig en hare oordoen. Hoe kon ’n man wat so waardig en gesofistikeerd is, so oënskynlik uit die boonste rakke, vir so ’n vrou gegaan het? Mans is ook onverstaanbaar. Hulle word deur dié soort vrou aangetrek. Sy moet net ’n popgesiggie en ’n mooi lyfie hê. Trane brand agter haar ooglede en sy knip vinnig haar oë.

“Het jy mevrou Naudé se ou babatjie gesien?” vra die verkoopsdame.

Die van is soos ’n dolk in Brenda se hart. Dit bevestig dat Charl na sy egskeiding met haar getrou het. Dit voel asof sy vanmiddag in die vagevuur is. Sy skud net haar kop.

“Ag, kom kyk,” nooi mevrou Naudé. “Jy hou mos van babas.”

Brenda is verplig om nader te gaan. Die babatjie is in die mooiste blou kleertjies. Donker krulhaartjies loer onder sy mussie uit. Hy suig ’n fopspeen. Sy kan nie uitmaak of hy na Charl lyk nie, maar sulke klein babatjies, weet sy, lyk nog nie duidelik na die ouers nie.

“Hy is pragtig,” sê sy en verwens haar hees stem.

“Hy gaan nes sy pa lyk en dié is een van die mooiste mans op twee bene,” spog mevrou Naudé. “Sy naam is Nolan. Dis nie ’n familienaam nie, maar dis vir my mooi.”

Brenda voel asof sy kan uithardloop en bly hardloop, maar sy byt net op haar lip.

Gelukkig loop die vrou met haar baba uiteindelik. Brenda soek ’n klomp goed uit, maar dis heeltemal ontdaan van die gewone lekkerkry. Dit voel asof daar ’n virus in haar liggaam ingetrek het, so siek van ontsteltenis is sy.

Die verkoopsdame hou egter van skinder en sy is goed op dreef. “Weet jy, daardie vroutjie het amper ’n buite-egtelike kind gehad. Sy het mos getrou net voor sy gekraam het. Die man is darem goed vir haar met geld, maar dit klink nie vir my of hy baie by die huis is nie. Hy werk oorsee, en sy gaan nou maar in vir retail therapy. Ek ken haar al lank. Sy het arm grootgeword, en nou het sy behoorlik in die botter geval vandat sy met ’n dokter getroud is.”

Brenda is nie in staat om te praat nie. Sy betaal so gou sy kan en vlug by die winkel uit. Al wat sy nou wil doen, is om by die huis te kom en te huil waar niemand kan sien hoe sy ’n gek van haarself maak nie.

Sy het Charl Naudé lief en dís die beloning daarvoor: bitterheid en hartseer.

Die geskiedenis herhaal homself. Sy is maar net soos haar arme ma – binne-in die harde eierdop is hulle papsag.

Brenda se depressie word vererger toe Eben kom groet.

“Ek het jou maar min gesien; jy werk so hard,” kla hy. “En kyk hoe lyk jy! Amper uitgeteer, met hol oë. Ek is eintlik teësinnig om te gaan, want dit lyk my jy het oppas nodig.”

“Nee wat, ek werk maar net lang ure en vergeet om te eet. Daar is niks met my verkeerd nie.”

Niks fisiek nie, net geestelik, dink sy. ’n Mens kan van hartseer en verlies kwyn. Sy móét haar eenvoudig regruk.

“Ek sê jou wat: kom Europa toe in die Desembervakansie, dan gaan ski ons in Switserland of Oostenryk. Dit sal jou iets gee om na uit te sien.”

“O, dis ’n uitstekende idee. Ek sal darem ’n bietjie verlof kan neem.”

Hulle eet vir oulaas saam by die Italiaanse restaurantjie waar hulle al dikwels in die verlede geëet het.

“Dis nie net werk nie,” sê Eben terwyl hy spaghetti om sy vurk draai. “Ek ken jou te goed. Daar is iets wat jou pla. Wil jy jou ou pellie daarvan vertel? Is dit Kevin?”

Sy sluk eers wyn voordat sy antwoord. “Nee, dis nie Kevin nie, al kry ek hom jammer. Moenie bekommerd wees nie. Dis niks wat nie sal oorwaai nie.”

Hy kyk skewekop na haar en die spaghetti val van sy vurk af, terug in die bord.

“Dis daardie Charl Naudé, is dit nie?”

Brenda kyk verskrik na hom. Hoe op aarde kon hy dit raai as sy nog nooit met hom oor Charl gepraat het nie?

“Jy kyk my verniet aan soos ’n swaeltjie wat in ’n muur vasgevlieg het, my ou skattie. Die dag toe ons na Hampton Court gegaan het, het die elektrisiteit tussen julle gekraak. Ek is mos baie sensitief vir sulke goed.”

“Ag nee, jy het net ’n wakker verbeelding.”

“Ék is die wakker een, nie my verbeelding nie. Jy het ’n paar keer van hom gepraat en ek het vibes opgetel. Is die man nie geskei nie? Beteken dit nie dat hy beskikbaar is nie? Jy is te ernstig en intens van geaardheid om met ’n jong lat soos Kevin tevrede te wees. Daardie Charl Naudé is die regte soort man vir jou.”

“Stop tog, Eben! Die man is geskei, maar hy is byna onmiddellik weer getroud.”

Eben vergeet skoon om te eet. Hy gaap haar oopmond aan.

“Slaan my dood. Weer getroud? Weet jy met wie?”

Brenda kyk af, want sy kan nie haar naakte pyn so vir hom wys nie. “Met die vrou wat sy ontvangsdame was. Hulle … moes trou.”

“Wat? Hoekom moes hulle?”

“Ag, Eben, waarom moet mense trou? Omdat die vrou ’n baba verwag het!”

Hy vryf oor sy voorkop asof sy brein dit nie kan inneem nie.

Sy kyk hom stip aan. “Hy is ’n ginekoloog – as hy die kind nie wou gehad het nie, kon hy iets daaraan gedoen het, maar hy het nie. Hy wou altyd kinders gehad het, maar sy eksvrou wou nie. Toe maak hy ’n ander vrou swanger, skei van die eerste vrou en trou met die swanger vrou.”

Eben glimlag wrang. “Dit klink vir my gans te veel na die soort manewales wat ’n ou reekseggenoot soos koning Hendrik die Agtste aangevang het.”

Brenda sug. “Wel, die feite staan soos ’n paal bo water. Ek het haar in die hospitaal gesien, waar hy daarop aangedring het om self die keisersnit te doen sonder enigeen van ons se hulp. Daarna het ek haar in ’n winkel raakgeloop en sy was mevrou Naudé. Sy het nog so oor haar man en kind gespog.”

Eben druk sy vingers teen sy neusbrug asof hy pyn het. “What next? Ek kon sweer hy is gaande oor jou, en my aanvoeling is nooit verkeerd nie.”

“Dalk was hy tot my aangetrokke, maar dit was tydelik en vlietend van aard.”

Maar nie my gevoelens vir hom nie, dink sy bewoë.

Eben tel weer sy vurk op en steek-steek na die bord pasta. “My eetlus het nou sommer by die deur uitgewaai.” Hy kyk na Brenda. “Jóú gevoelens was nie vlietend nie, of hoe? Jy is nie iemand wat sommer vir ’n man val nie, en jy is ook nie oppervlakkig nie.”

Trane brand en prik haar ooglede. “Nee, my gevoelens was nie vlietend nie, maar ek sal oor die ding kom.”

Hy plaas sy hand oor hare. “My ou maatjie. Kom ons treur saam. Kevin se broer Stephen het vlietend in my lewe verskyn, en net so vinnig weer verdwyn.”

Brenda wil lag, en huil. Uiteindelik doen sy al twee saam en steek haar gesig in die servet weg.

Toe sy weer tot verhaal kom, sit Eben haar met ’n meewarige glimlag en betrag. “Ek het so gewens jy was nog daar. Jy is al mens by wie ek my arme ou hart kan uitstort.”

Hulle kyk mekaar met die simpatie van ’n ou, gevestigde vriendskap aan.

“Ek het darem goeie nuus ook,” sê hy. “Volgende jaar Januarie kom ek terug om te kyk of ek patologie kan doen. Dis nie meer so vreeslik lank nie, en intussen gaan ski ons.”

“Ek skep sommer moed,” grap sy, maar haar mond bewe.

“Kom jy môre saam lughawe toe? Jy moet darem vir my en Ma afsien, al wou jy nie vir Kevin afsien nie.”

Sy glimlag meewarig. “Daar is die wêreld se verskil tussen jou en Kevin. Ligjare se verskil, eintlik. Natuurlik kom ek julle afsien.”

Hartklop Omnibus 1

Подняться наверх