Читать книгу Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach - Страница 11

8

Оглавление

Brenda loop deur die winkelsentrum, reguit na die babawinkel. Sy hoop dis nog waar sy dit onthou, want sy kom maar selde hier. Dit was laas naby die supermark.

Ja, daar is die winkel nog. Voordat sy dit bereik, sien sy dat daar nou ’n klereboetiek langsaan is. Sy het in Londen kwaliteitklere en -skoene gekoop en het geen behoefte daaraan nie.

You-nique, vir die smaakvolle vrou, lees sy bo die ingang. Watter vreemde naam. Seker veronderstel om oulik en funky te wees. ’n Baie mooi jas aan ’n winkelpop in die venster trek haar aandag. Sy kyk ’n oomblik daarna. Sy behoort nou al gewoond te raak aan genoeg geld hê – aan die besef dat sy dinge kan bekostig. Dat sy nie meer elke sent hoef om te draai nie.

Maar ou gewoontes sterf stadig. Elke keer as sy in haar splinternuwe motor klim, kry sy weer die vrees dat sy dit nie kan bekostig nie. Elke keer kan sy haarself egter gerusstel en dit van voor af geniet. Skigtige Saartjie is nou net ’n versiering voor haar deur.

Wag, sy koop eers die babagoed, dan kan sy besluit of sy die jas wil hê.

“Môre,” groet sy die winkelassistent, ’n moederlike, oorgewig vrou. “Ek wil ’n klomp goed koop.”

“O, verwag u ’n baba?” vra die vrou vriendelik. Brenda sien hoe haar oë na haar kaal ringvinger gaan.

“Nee, dis vir ander mense. Kom ons begin by weggooidoeke, en daarna kyk ons na kleertjies en beddegoed.”

Brenda koop en koop en die assistent loop oor van vriendelikheid. Toe sy met haar kredietkaart betaal, kyk die vrou na die naam.

“O, u is ’n dokter. Is u ’n mediese dokter?”

“Ja, ek is tans by Tygerberg-hospitaal. Ek spesialiseer in ginekologie en verloskunde.”

Die vrou kyk haar verbaas aan. “Werklik? Tik my om met ’n veer. U lyk meer soos ’n model – lank en skraal, en so mooi. En boonop lyk u nie ’n dag ouer as twintig nie.”

Brenda is half verleë, maar sy lag. “Nee wat, ek is al diep in die twintig.”

“Het u familie wat ’n baba gaan hê?” vra die assistent nuuskierig.

“Nee, dié goed is vir pasiënte.”

Die vrou lyk uit die veld geslaan. “Koop u tog nie hierdie klomp duur goed vir pasiënte nie?”

“Ja. Daar is baie behoeftiges wat inkom. Dit gee my plesier om iets vir hulle te doen behalwe opereer en babas vang.”

Die vrou se oë is groot. “Nou toe nou. Dis die eerste keer dat ek hoor ’n dokter koop vir haar pasiënte babagoed.” Glimlaggend skud sy haar kop. “Ek kan net tot die gevolgtrekking kom dat u ’n baie goeie hart het.”

“Ag nee, nie beter as die deursnee-dokter nie.”

Die vrou skryf die besonderhede af. “Sjoe, en dis byna tweeduisend rand se goed.”

Brenda glimlag. “Dis een van die beste uitgawes wat ek nog aangegaan het.”

Terwyl die vrou die pakkies toedraai, sê sy: “Ek gaan hierdie vir my vriendinne vertel. Hulle sal verstom wees. Dis so ’n mooi gebaar.”

Brenda knik maar net. Sy is besig om te besluit watter van die baby-grows vir Beryl se piepklein dogtertjie sal pas. Klein Brenda. Haar hart word sommer warm as sy aan haar naamgenootjie dink. Hierdie vrolike geletjie met die kolle, besluit sy. Dis so fraai.

Toe sy met die twee groot pakke uitloop, huiwer sy weer voor die boetiekvenster met die jas.

“Jy sal stunning lyk in daardie jas. Dis net die regte styl en kleur vir jou. Die grysblou sal jou oë se kleur mooi beklemtoon.”

Verbaas kyk sy op en herken vir Maureen Naudé, van alle mense.

“E … ja, dis mooi.”

“Kom in en pas aan. As jy nie daarvan hou nie, hoef jy dit mos nie te koop nie.”

Brenda kan nie weier nie en sy gaan in.

“Sit jou pakkasies hier langs die toonbank neer,” sê Maureen. Sy trek dadelik die jas van die winkelpop af en hou dit oop sodat Brenda haar arms in die moue kan steek.

“Kyk in daardie spieël. Is dit nie absoluut jý nie? Dis juis nou besig om vinnig koud te word.”

Brenda kyk in die spieël. Ja, dis werklik nogal vleiend. Sy kyk na die prys.

“Dis nie goedkoop nie.” En sy het dit nie nodig nie, sy hét ’n goeie jas, dis net mooi.

“Kwaliteit is nooit goedkoop nie,” verseker Maureen haar met ’n beterweterige snuifie.

Toe kry sy ’n eienaardige uitdrukking op haar gesig. “Ken ek jou nie van iewers af nie?”

Brenda glimlag en antwoord kalm: “Ja, ons het al ontmoet. U is mevrou Naudé. Ek is Brenda Wiechers. Toe ek ’n finalejaarstudent was, het ek saam met Thomas Naudé na ’n partytjie by sy ouerhuis in Welgemoed gegaan en u daar ontmoet. Ek het nie gedink u herken my nie, want dit was lank gelede.”

Dis asof die lug skielik ysig word. Maureen Naudé se glimlag verdwyn asof dit van haar gesig afgevee word.

“Ja, nou onthou ek. Jy was daardie student … die een wat glo so slim was. Wat die prys as die beste student sou kry, en toe het jy.”

Brenda knik net.

“Hmm.” Die vrou staan met haar vinger teen haar ken, een hand op haar heup en haar oë vernou.

Brenda raak skoon ongemaklik, maar sy hou haar luiters. “Ek dink ek sal die jas koop, want dis regtig mooi. ’n Mens sien nie aldag so iets nie.”

Maureen Naudé reageer egter nie. Sy staar nog steeds.

“Ja, die mooi student wat slim was. Nou is jy natuurlik ’n dokter. Waar werk jy?”

Brenda weet sy gaan nie van die antwoord hou nie, maar jok kan sy tog nie. “Ek is ’n kliniese assistent by Tygerberg.”

“O, en waarin wil jy spesialiseer, as ek mag vra?”

Brenda skraap haar keel. “Ginekologie en Verloskunde.”

Die vrou se oë raak skoon venynig, kom sy met ’n skok agter.

“Ag so? Moet ek aanvaar dat jy soms my man daar teëkom? Hy is mos so bereid om sy tyd en dienste aan die opleiding van studente te wy. Asof sy praktyk hom nie besig genoeg hou nie.”

Sy laat “dienste” baie verdag klink, asof hy die lyflike ook vir die studente sou aanbied, dink Brenda vies.

“Dokter Charl Naudé?” vra sy. “Ja, hy is soms op roep. Ons almal maak van sy kundige bystand gebruik.”

Die vrou maak ’n minagtende geluid. “O, ek kan dink hy sal jou graag bystaan. Hy is mos versot op mooi vroumense. Raak skoon oorhoops.”

Brenda vererg haar liederlik. “Wat insinueer u, mevrou? As ek iets met dokter Naudé te doen het, is dit bloot op ’n professionele vlak.”

Sy is egter nie meer seker of dit honderd persent waar is nie …

“Ek behoort te weet waarvan ek praat as ek sê dat my man maar lief is vir vroumense,” sê Maureen Naudé so snedig en venynig dat Brenda stokstyf word. “Hy is ’n regte dyed-in-the-wool Naudé. Hulle loop mos maar almal rond. Van die oupa tot by die kleinseun. Loop maar lig vir hom, as jy weet wat goed is vir jou. Ken jy die ou grappie: gryp, rape and escape?”

Brenda voel hoe die bloed haar gesig verlaat, en sy klem haar hande langs haar sye soos sy haar humeur moet beteuel.

“Ek dink dis ’n uiters onsmaaklike grappie en ’n afstootlike bewering. U man is baie professioneel en almal wat met hom te doene kry, het groot agting vir hom. Hy het juis die reputasie dat hy nié by die vrouens aanlê nie.”

Maureen gee ’n hoonlag wat deur Brenda se murg sny.

“Wel, wel. The lady protesteth too much. Jy ken hom seker nog nie goed genoeg nie. Sy ongetroude ontvangsdame, ’n bogsnuiter wat haar sexy hou, is swanger. Almal gis en wonder oor die vaderskap, en ék moet my kop oplig en almal in die gesig kyk. Moenie vir jou dom en onskuldig hou nie. Ek onthou hoe jy vir my man gekyk het toe jy hom ontmoet het. Soos almal wat –”

Brenda het genoeg gehad. “Mevrou Naudé! Ek wil geen verdere woord hoor nie. U aantygings is verregaande en beledigend. Hou maar u jas.” Sy stroop dit af en druk dit in die vrou se hande.

Sy kan nie gou genoeg uitkom nie en terwyl sy loop, sien sy niks en niemand om haar raak nie. Op die krop van haar maag het sy ’n aaklige sensasie. Die vrou is so venynig, so kwaadwillig en haatdraend. Dís hoe jaloesie lyk, en dis baie lelik.

Brenda kan nie glo dat die man wat so ’n gunstige indruk op haar gemaak het ’n verleier en ’n skurk kan wees nie. Sy voel skoon siek.

Die geld wat sy op die jas sou uitgegee het, sal sy nou aanwend om mooi nagklere vir mense soos Beryl te koop.

Charl sien hoe Brenda met haar nuwe motor by die parkeerplek intrek. Hy hou haar dop. Die deur gaan oop en daar kom een lang, welgevormde been uit. Sy neem haar jas en sak van die passasiersitplek, klim uit en sluit.

Sowaar, sy trek hom soos ’n magneet. Maar hy is reeds in soveel moeilikheid dat hy haar liefs moet vermy. Hy het nog nie weer met haar gepraat sedert sy die dag die motor aangeskaf het nie.

Sy het hom gesien. Nou sal hy moet gaan groet. Hy klim uit en wuif vir haar.

“Gee die nuwe Beetle vir jou miles of smiles, dokter Wiechers?” vra hy tergend.

“Absoluut. Dis soos ’n droom, dankie. Nou weet ek waarom mans so mal is oor motors. ’n Mens kan verslaaf raak.”

Sy maak grappies en tog voel hy aan dat iets nie heeltemal pluis is nie. Daar is ’n terughoudendheid by haar. Sy vermy sy oë. Sou sy dink dat hy by haar begin aanlê? Dat hy haar probeer sag maak met sy hulp en aandag?

Hy sal hom maar versigtig moet onttrek, anders kry sy die verkeerde indruk van hom. En as daar een mens op hierdie aarde is wie se agting hy nie wil verloor nie, is dit hare.

Hulle moet saam loop tot by die ingang en dit voel vir Brenda asof almal wat verbykom na hulle kyk. Het sy vrou rede om hom so te wantrou? Hy trek vroue se aandag so ver soos hy gaan, maar is hy sterk genoeg om al die bewondering te hanteer en te weerstaan?

Hulle kom by die deur en hy laat haar eerste inloop. “Nou ja, lekker werk,” groet hy vriendelik. “Verskoon my, ek moet eers een van die professore gaan sien.”

“Totsiens, Charl.”

Koel en kalm. Daar is beslis iets fout. Sou sy gehoor het van Celeste? Wie sou haar vertel het? Dis nie algemene kennis nie. Hy hoop altans nie so nie.

Hy wag totdat sy weg is voordat hy die hyser neem. Hy wil nie regtig iemand anders gaan sien nie, maar hy wil ook nie saam met haar by die ginekologie-afdeling aankom nie.

Terwyl hulle die saalronde doen en gevalle bespreek, sien Brenda dat Charl in die groep is, maar hy hou sy afstand. Het die man ’n skuldige gewete en nou is hy afsydig? wonder sy. Sy voel vreemd seergemaak.

Hy vra haar ’n paar uiters moeilike vrae. Elke keer as hulle saalrondes het, doen hy dit. Vandag moet sy die prosedure verduidelik wat sy die vorige dag by ’n problematiese bevalling gevolg het en hy luister met ’n stroewe gesig. Toe help hy haar reg. Sy voel gebelg en verneder. Dit was so onnodig. Dis asof hy vir haar die boodskap wou gee dat sy haar nie moet verbeel sy het sy witbroodjie geword nie.

Toe hulle by Beryl Arendse se bed kom, wink Beryl haar met ’n krom vinger nader. “Dankie, dokter. Nou lyk ek mooi in my nuwe nightie. Hulle kan maar kyk, ek is nie skaam nie.”

Brenda kry trane in haar oë wat sy vinnig moet wegknipper. Sy plaas ’n vinger op haar lippe om vir die meisie te wys om dit nie uit te lap nie en kyk sameswerend na haar. Beryl giggel en sit haar vinger ook teen haar lippe.

Die span bespreek die pasiënt se simptome en die verloop van die geboorte. Toe hulle wegdraai, gryp Beryl weer Brenda se hand.

“Lyk my jy hou van dié dokter,” hoor Brenda Charl lakoniek agter haar opmerk.

“O ja, dokter, maar ek hou van jou ook,” giggel Beryl en los Brenda se hand.

Hulle loop weg en Brenda knipoog oor haar skouer vir Beryl.

“Jy het die gawe om mense lief te maak vir jou,” merk Charl droog op. “Dis seker ’n goeie eienskap.” Voordat Brenda kan reageer, loop hy vinniger om by die groep aan te sluit. Daarna kyk hy nie weer na haar nie, al hou sy hom diskreet dop.

Hy lyk vandag omgekrap. Iets het beslis oor sy lewer geloop. Sy is spyt dat sy kan vermoed wat dit is, want sy besef dat hierdie man besig is om haar lewe op sy kop te keer. Is dit hoe ’n mens voel as jy regtig lief word vir iemand? Asof die dag leeg en doelloos was as jy hom nie gesien het nie, al is jy hoe besig?

As sy na hom kyk, is dit asof ’n splinter haar hart binnedring. Dis seer. Dis bittersoet.

“Haai, Brenda, ek hoor jy ry graag perd,” sê Steve Mellon in die teekamer toe hulle na die saalronde tee drink.

“Ja. Ek gaan na ’n perdeplaas waar ek ’n perd leen. Dis baie lekker en ontspannend.”

“Kom ons gaan ry môre,” stel Steve voor. “Ek neem jou na ons plek, net buite die Paarl. Ons het genoeg perde.”

“Dankie, dit sal lekker wees.”

Dis nie die eerste keer dat hy haar uitvra sedert hulle in die departement ontmoet het nie, maar sy kan seker nie vir ewig nee sê nie. Dit klink buitendien aanloklik.

Charl loop by haar verby en by die deur uit sonder om te groet, en sy voel nogal seergemaak. Sy steek dit egter weg en gesels vrolik met Steve.

Brenda is al die hele dag aan diens, maar dis naby skofomruiltyd en sy wag net vir die volgende kliniese assistent om aan te meld. Sy lê op die bank in die teekamer om haar voete te laat rus, want sy het ure lank geopereer.

“Haai, dokter, hier is mense wat jou soek,” hoor sy een van die essies by die deur sê.

Sy sit regop, en toe val haar mond oop van verbasing.

“Wat op aarde doen julle twee hier?” kry sy dit uit.

“Ons kom jou verras, my skat.”

Sy vlieg op. “Eben, jou vabond! Kevin, hoekom het jy nie laat weet julle kom nie?”

Hy grinnik verleë. “Ons het op die nippertjie besluit om van ’n spesiale aanbod van British Airways gebruik te maak. Ons het gedink jy sal dalk bly wees om ons te sien.”

“Ek ís bly.”

Nie heeltemal nie. Sy is verheug om Eben te sien, maar Kevin? Hy is besig om haar met sy ou uitdrukking van passie te bekyk.

Eers omhels sy vir Eben en toe vir Kevin. Hy is nie tevrede met ’n drukkie en ’n soentjie nie. Hy gryp haar en soen haar behoorlik uitasem, sy arms knellend om haar lyf.

Toe sy mond hare los en sy na asem snak, sien sy oor sy skouer dat Charl in die deur staan en alles bekyk. Hy verdwyn onmiddellik weer. Sy kry die aakligste gevoel, maar sy moet dit wegsteek en maak asof sy straal van blydskap.

“Kevin bly by my en Ma,” sê Eben. “Ons sal so ’n week of twee hier wees. Ek gaan met die prof by Patologie gesels en kyk of hy my nie volgende jaar wil aanstel nie. Ek voel tog dis beter om die mense in die gesig te kom kyk en jou saak te stel. Dan staan jy ’n beter kans om in te kom. Buitendien verlang my arme ma haar dood na haar lieflingseuntjie. Ek gaan haar saam terugneem, dan kan sy by ouboet ook kuier.”

Kevin het langs Brenda kom staan en hy sit sy arm besitlik om haar lyf. Sy draai haar uit sy omhelsing los.

“Nie hier nie, asseblief, ek werk hier,” betig sy.

“Sorry. Ek is net só bly om jou te sien. Jy is mooier as ooit.”

“Wag julle twee asseblief vir my,” sê sy vinnig. “Ek wil net gaan kyk of die volgende dokter aan diens al opgedaag het.”

Sy haas haar uit. Hemel tog, dat Kevin sowaar kom kuier het. Sy wou juis van hom af wegkom. Wat nou? Hy moet net nie dink hy kan sommer sy vlerkslepery hervat nie. Veral noudat sy Charl beter leer ken het …

Charl het alles gesien, en sy gesig was nie juis vriendelik nie. Maar hy is in elk geval afsydig. Dalk moet sy eens en vir altyd besef dat hy nooit vir haar ’n proposisie kan wees nie. Kevin is ook nie een nie.

En Steve Mellon gedra hom ook asof hy meer as ’n blote vriend wil word.

Ag nee, sy beland al weer in ’n emosionele maalkolk, en sy wil nie.

Hartklop Omnibus 1

Подняться наверх