Читать книгу Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach - Страница 4

1

Оглавление

Brenda Wiechers teug aan haar slegterige kafeteria-koffie en raak al meer geïrriteerd. Die vier manstudente by die tafel naby hulle is duidelik besig om haar te bespreek, want hulle grinnik, praat sag en bekyk haar kort-kort onderlangs. Thomas Naudé, die aantreklikste, is natuurlik die voorbok.

Sy maak of sy niks agterkom nie, maar dink wrokkig dat mans soos hy – ryk, bedorwe eerstespan-rugbyspeler met geen tekort aan meisies nie – altyd aanhangers het om mee rond te loop. Moet hy altyd so afstootlik arrogant wees? In haar eerste jaar het hy byna haar voete onder haar uitgeslaan, maar gou het sy hom vir ’n regte klein pierewaaier uitgekyk. Sy is lugtig vir mans oor die algemeen, maar veral vir sy soort. Dure ervaring het haar geleer dat hulle gans te gou vatterig kan raak. Dis asof hulle dink dit kom hulle toe.

“En as jy so frons, waaraan dink jy?” vra haar vriend Eben.

“Moenie nou kyk nie, maar dit lyk asof ek vanoggend ’n bron van vermaak vir Thomas Naudé en sy sidekicks is.”

Eben loer diskreet. “Ja, hulle voer iets in die mou. Jare lank al word hulle gefassineer deur ons twee, die gay en die ysprinses. Ek het al gehoor ons is die sogenaamde gruesome twosome, maar dit kom natuurlik van ’n kat af wat eintlik op jou jaloers is. Die rede hoekom Thomas en sy trawante nog nooit vir ons moeg geword het nie, is oor jy so mooi is – jy weet, daardie voshare en groot blou oge. En tog so onbereikbaar. Thomas kan dit glad nie handle nie, want die meisies val mos op ’n streep vir hom. Hy het al die inhoud van die koshuise behoorlik deurgedraf.” Hy grinnik ondeund. “Dit maak hom mal dat jy altyd saam met my rondloop en hom ignoreer.”

“Gmf.”

“Jy is anyway te slim vir hom, my skat. Al waarin hy ooit goed gedoen het, is bedside manners. En dít kultiveer hy met die doel om vroumense se voete onder hulle uit te slaan.”

Brenda glimlag geamuseerd. Skielik dink sy aan haar eerste kennismaking met Eben, toe hulle langs mekaar in die tweedejaarklas, hulle eerste jaar by die mediese fakulteit op Tygerberg, gesit het.

“Jy is veilig by my, want ek is gay,” het hy gerym, en dit het haar hardop laat lag sodat mense omgedraai het om na haar te kyk. Sedertdien is hy haar beste vriend deur dik en dun.

“Oeps, die pierewaaier storm reg op jou af,” fluister Eben met sy wenkbroue gelig. “Hy is nog nie moeg geprobeer nie.”

Sy sit haar koppie neer en kyk op. Thomas is beslis op pad na haar toe, met ’n breë glimlag op sy gesig.

“Hallo, Brenda … en Eben.”

Sonder om sy glimlag te beantwoord, groet sy stug terug. Hy lyk egter geensins afgesit nie.

“Ek het iets om jou te vra. My broer het so pas ortopeed geword en ons hou ’n partytjie om dit te vier. Wil jy my nie Saterdagaand daarheen vergesel nie? Dis by ons huis. My trotse ouers beplan ’n groot makietie – markiestent en spyseniers, die works.”

Brenda kyk verbaas na hom. “Maar jy het tog ’n meisie? Neem eerder vir haar.”

Die jongste een waarvan sy bewus is, is Mattie Vermaak, blond en wulps. Sy meisies val gewoonlik in so ’n kategorie.

“O nee, ek is tans tussen meisies.” Hy grinnik. “Hoe lyk dit?”

’n Klein fronsie verskyn tussen haar wenkbroue. “Nee dankie, Thomas. Volgende week is die eindeksamen. Hierdie naweek wil ek rustig wees.”

“Ag toe, chill ’n bietjie. Jy werk gans te hard. Ken jy die ou spreekwoord dat all work and no play makes Jill a dull girl?”

“Dan is ek verbaas dat jy so ’n dull girl wil uitneem,” merk sy droog op.

Sy nooi hom nie om te sit nie. Vaagweg is sy bewus daarvan dat mense na hulle kyk, want hy praat hard en dit trek aandag. Waarom het hy haar nie eenkant gekry en gevra nie? Hy maak dit so publiek, dink sy vies.

“Ek gee jou tot vanmiddag om te besluit, dan vra ek weer.”

Met dié woorde draai hy om en loop terug na sy tafel met grinnikende vriende.

“Kan jy dit glo?” mompel sy.

“Wel, my skat, dis dalk jou geleentheid om te sien how the other half lives,” spot Eben. “Die Naudés bly in ’n paleis teen Welgemoedrand. Die pa is ’n ortopeed, die ma ’n narkotiseur, en nou het die broer so pas ’n ortopeed geword. Hulle rol in die geld, soos jy weet. Thomassie ry mos al sedert sy eerste jaar op varsity sportmotors. Dalk inspireer hulle jou om ook eendag geld te maak.”

Brenda trek vir hom ’n gesig. “Ek wil my medemens dien, nie net geld maak nie.”

“Ag, jy weet ek terg maar net. Ek wil ook my medemens dien, maar ek word liewers eendag ’n patoloog, waar ek nie veel fisieke kontak met mense hoef te hê nie. Ek wil nie aldag en gedurig in hulle fondamente intuur nie.” Hy ril teatraal.

“Jy’s verspot, my vriend. Ons is mos al gewoond daaraan. ’n Mens kyk bloot met kliniese belangstelling daarna.”

“Poef. Jou kop staan ginekologie toe, want dan hoef jy nie met manlike pasiënte te werk nie – erken maar dis waar.”

“Ag nee, Eben, dis nou verregaande om dít te beweer. Ek dink maar net dis wonderlik as babas gebore word, en ek wil help om dit te laat gebeur.”

Hy snuif kastig beterweterig. “Dis ook maar goed so, want die manspasiënte sal net met jou lol. Jy het reeds al jou dae om hulle van jou lyf af te hou.”

Gemaak kwaai gluur sy hom aan. “Jy kan darem oordryf!”

Haar gedagtes gaan na die storie van die ontmoeting tussen haar verpleegster-ma en die aantreklike pasiënt wat haar pa geword het. Die huwelik het darem tien jaar gehou, voordat hy met ’n ander vrou weggeloop het. Lank genoeg vir haar broer Rolf en haar om gebore te word. Hulle ma het pas aan haar geboorte geskenk toe hy uit hulle lewens verdwyn het, en Rolf was amper tien. En hulle moes met hulle ma se verbittering saamleef.

“’n Mooi man is almal se man,” het haar ma haar altyd gewaarsku. “Moenie vir die uiterlike gaan nie. Maak seker dat hy ordentlik van inbors is.”

“Gaan jy nou die uitnodiging na die Naudés aanvaar?” pols Eben haar.

Sy huiwer eers, maar dan knik sy. “Ja, ek begin dink ek moet. Uit blote nuuskierigheid om te sien how the other half lives, soos jy sê. Ek sal jou alles kom vertel.”

Hy grinnik breed. “Ditsem! Sorg dat jy Saterdagaand stunning lyk. Vir jou is dit nie moeilik nie.”

Gelukkig het sy darem ’n bietjie spaargeld en kan sy vir haar ’n rok vir die geleentheid aanskaf. Deur die jare het sy met beurse gestudeer en haar broer het met sakgeld gehelp. Sy twyfel nie dat die geleentheid by die Naudés baie deftig gaan wees nie. Sy het die afgelope tyd baie hard gewerk om voor te berei vir die eindeksamen, en sy kan haarself gerus met iets moois beloon.

“Soos ek gesê het voordat ons so wreed onderbreek is: ons moet solank ons toekoms beplan,” gesels Eben. “Eers ons huisdokter-opleiding, en na ons Zuma-jaar kan ons Londen toe gaan en by een van die groot hospitale soos Guy’s gaan werk. Of die Wellington-hospitaal, lekker naby Lords, die krieketveld. Hulle betaal uitstekend, en ’n mens woon daar in by hulle dokterskwartiere. So kan jy spaar en reis en dalk nog ’n motor ook aanskaf. Terwyl my broer nog vir ’n paar jaar diplomaat daar gaan wees, moet ons die geleentheid benut. Skep terwyl dit pap reën. Na Londen stuur hulle hom dalk Mogadisjoe toe, of so ’n gat-plek.”

“Klink goed.”

Sy en Eben beplan al lank aan hulle toekoms. Sy wil so graag haar broer vir sy vrygewigheid vergoed. Na haar ma se dood toe sy in matriek was, het hy die rol van voog oorgeneem. Aan hom en Lisa, sy vrou, is sy oneindig dank verskuldig vir hulle liefde en onderskraging. Tydens die semesters het sy in die koshuis ingewoon, maar die meeste naweke en vakansies het sy by hulle op Stellenbosch gebly. In hulle huis het sy haar eie kamer, en Rolf het vir haar sy ou Volksie, Skigtige Saartjie, gegee waarmee sy sedert haar tweede jaar ry.

Eersdaags is sy nie meer ’n student nie. Sy gaan ’n geneesheer wees: dokter Brenda Wiechers. Al kry sy dit nie reg om eendag te spesialiseer nie, kan sy haarself uiteindelik onderhou en die vreugde van onafhanklikheid ervaar. Die vooruitsig gee haar trillings van lekkerkry.

Brenda is bewus daarvan dat hulle aangegaap word toe Thomas haar in ’n blinknuwe viertrek by die koshuis kom haal.

“Jy lyk sommer blerrie mooi,” komplimenteer hy haar toe hulle by die voordeur uitstap, en hy sit ’n hand op haar rug.

“Dankie.”

Sy het ’n eenvoudige dog figuurvleiende swart rokkie by ’n winkel in Tygervallei raakgeloop, en bypassende sandale en ’n handsakkie gekry om dit af te rond. ’n Vriendin, wat baie beïndruk was dat sy ’n afspraak met die verruklike Thomas Naudé het, het vir haar goue oorringe geleen.

“Jy lyk opvreetlik,” het sy half afgunstig geskerts. “Ek hoop daardie wolf vreet jou nie regtig op nie.”

Hy lyk natuurlik so aantreklik dat die meisies hom móét raaksien, en hy groet links en regs voordat hulle die motor bereik en hy vir haar die deur oophou. Dié is so hoog dat dit voel asof sy in ’n bus klim, en sy is bewus daarvan dat die rok opskuif en meer been vertoon as waarmee sy gemaklik voel.

Toe hulle die hoogtes van Welgemoed bereik, verstom sy haar aan die groot huise. Sy en haar ma het onder in Bellville gewoon en nooit in dié geweste gekom nie. Haar mond hang letterlik oop toe hulle deur ’n gegote ysterhek na ’n groot wit huis met Griekse pilare by die ingang ry. Twee mans wys parkeerplekke aan en daar is talle duur, blink voertuie geparkeer. Thomas wuif vir die mans en ry verby, na ’n parkeerplek langs die huis.

Brenda sien deftig geklede mense na die voordeur stap en is meteens senuagtig. Aan hierdie rykmanswêreld is sy nie gewoond nie, maar sy sal moet maak asof dit haar nie verbouereer nie.

Thomas se ouers en broer staan in die helder verligte portaal om die mense te verwelkom, en Brenda is oorbewus van ’n baie mooi en smaakvolle interieur, gaste wat lyk asof hulle uit die sosiale blaaie van ’n glanstydskrif ontsnap het, en die formidabele drie mense wat haar aankyk. Die pa en broer is, soos Thomas, in donker aanddrag. Die ma is in ’n grys skepping wat by haar witgrys hare pas, en sy blits behoorlik van die diamante. Die broer, wat haar stip en takserend aankyk, is ’n ouer en minder aantreklike weergawe van Thomas.

Brenda sluk haar senuagtigheid en glimlag.

“Dis nou Brenda Wiechers,” stel Thomas haar voor. “My pa, ma en Arnold, die main Mac van die aand.”

“Aangename kennis,” sê Brenda en skud al drie se hande.

Hulle is vriendelik, maar sy besef hulle kyk krities na haar. Natuurlik wil sy ouers net die beste vir hulle seun hê, en sy lyk seker nie ryk genoeg nie.

“So, jy is die slim meisie in die klas,” merk die ma op.

“O, waar hoor Dokter so iets?”

“Almal praat daarvan, en die mans is jaloers, my skat. Ons soort vroue jaag hulle die skrik op die lyf.”

Die vrou het darem ’n sin vir humor, dink Brenda.

“Geluk met jou prestasie,” sê sy vir Arnold Naudé. “Dit kom net na jare se swoeg en sweet.”

“Inderdaad. Dankie. Ek is bly ek het uiteindelik tot hier gekom. Nou gaan ek saam met julle by die gradeplegtigheid gekap word. Ons ouers dink dis great dat ek en Thomas saam graad vang.”

“Kom, ek gaan kry vir jou iets te drinke,” sê Thomas en lei Brenda in die enorme sitkamer in, waar mense in groepe staan en gesels. Eenkant gewaar sy ’n kroeg waar besige kroegmanne in uniform drankies skink.

“Wag net hier, ek gaan haal gou. Wat drink jy?”

“’n Glas witwyn sal lekker wees, dankie.”

Hy is net weg, en sy staan selfbewus alleen, toe sy agterkom dat ’n lang, donker man vir haar kyk. Hy staan in ’n groep, met langs hom ’n mooi blondine wat sy arm besitlik vashou. Brenda wil wegkyk, maar sy kan nie. Dis asof die man haar toor. Nie net is hy besonder aantreklik nie, maar hy het ’n aura wat sy van hier af kan aanvoel. Sy skouers is hoekig breed en sy houding fier. In sy aandpak is hy asemrowend. Sy skeur haar blik weg met die eienaardigste sensasie van warmte in haar lyf en draai haar rug op hulle.

“Jy is Thomas se date vir die aand, nie waar nie?” hoor sy oomblikke later ’n diep stem langs haar vra. Sy draai om.

Vir ’n sekonde of twee kan sy nie praat nie, want dis die aantreklike donker man wat nader gekom het. Sy moet opkyk na hom, want hy is heelwat langer as sy, en sy registreer dat hy die mooiste grysblou oë met pikswart wimpers en wenkbroue het. Sy vel is soel en sy mond ferm bo ’n taamlik prominente ken. Hy is duidelik familie van Thomas, maar seker so tien jaar ouer.

“E … ja. Ek is Brenda Wiechers.”

Hy steek ’n groot hand uit wat hare warm omvou, en dit voel skielik asof skokgolwe in haar arm optrek.

“Aangename kennis. Ek is Charl Naudé, Thomas se oom. Hy los jou net hier en jy ken niemand nie. Kom sluit by ons aan.”

“Dankie.” Gehoorsaam loop sy saam na die groep. Sy word voorgestel aan ’n klomp dokters, wie se name by die een oor ingaan en by die ander een uit.

“My vrou, Maureen,” stel hy die mooi blondine voor. “Brenda Wiechers wat julle hier sien, is blykbaar ’n vreeslike vangs, want Thomas beweer sy weier alle uitnodigings. Miskien is daardie outjies by die mediese skool nog te onvolwasse vir haar.”

Brenda bloos en is vies vir haarself dat sy so reageer.

“Nee wat, Thomas oordryf. Ek gaan darem soms met mans uit.”

Dit klink flou, maar Charl Naudé glimlag skeef en die ander lag.

“Trust ’n Naudé om deur die ys te breek,” spot Maureen. “Jy moet maar oppas vir die Naudé-mans. Hulle is die gevaarlikste wolwe op die planeet. Befoeterd ook, en eiewys.”

“Dis ’n wonder dat jy vir my kans gesien het as ek uit so ’n vreeslike genepoel kom,” sê haar man droog.

“A, hier is jy,” hoor Brenda Thomas se stem agter haar.

Hy gee haar glas wyn aan. “Ek sien jy het my gunsteling-oom ontmoet. Hy was ’n laatlam en is dus net tien jaar ouer as ek. Hy is ook een van die beste ginekoloë in die land.”

Brenda kyk nuuskierig na Charl Naudé en iewers lui ’n klokkie.

“Ek dink ek het al van u gehoor, dokter Naudé,” sê sy. “Ek is self van plan om ginekologie en verloskunde te doen. As ek eers klaar is met my Zuma-jaar, en nadat ek darem so een of twee jaar in Engeland gewerk het.”

Hy kyk skerp na haar. “Is jy opgewasse vir die lang ure en die druk? Jy lyk so … jonk en kwesbaar. Babas kom mos nie op bestelling nie, jy kan nie hulle tyd bepaal nie. Dis ’n dag-en-nag-werk.”

Brenda voel dadelik in die gesig gevat. Hierdie man onderskat haar. Hy is so bevooroordeeld soos die meeste mans.

“Ek is heeltemal sterk en vasberade genoeg,” reageer sy styf.

Sy glimlag is sowaar spottend, asof hy haar nie glo nie.

“Ek is ook van plan om in ginekologie en verloskunde te spesialiseer,” hoor sy Thomas sê, en sy draai haar oë weg van sy oom na hom.

“Hy wil net al die vroumense op hom verlief maak,” terg Maureen, en Thomas lyk gevlei.

Hy grinnik vir sy oom. “Dalk word ek eendag ’n vennoot van my oom Charl.”

Brenda let op dat die oom glad nie geamuseerd of inskiklik lyk nie.

“Jy sal jouself eers moet bewys,” is al wat hy sê.

“Kom ons mingle, my skat,” stel Maureen voor en hulle verlaat die groep.

Thomas neem Brenda se arm. “Kom ons gaan soek ons eie portuur op. Verskoon ons, mense.”

Dwarsdeur die aand, met sy sjampanje, toesprake, heerlike buffet-ete en massas mense, is Brenda bewus van die lang man wat so tussen die ander uitstaan. Hy praat nie weer met hulle nie, en dit lyk ook nie of hy ooit weer in hulle rigting kyk nie.

Brenda wonder of sy enigsins van hom hou. Hy is wel die aantreklikste man wat sy al ooit gesien het, en hy was aanvanklik bedagsaam. Maar hy het haar krities en met versluierde oë gestaan en dophou, asof hy wonder of sy goed genoeg is vir ’n Naudé. Toe hy haar “blykbaar ’n vreeslike vangs” genoem het, was hy sarkasties.

Thomas laai haar laataand by die koshuis af en bedank haar, maar hy maak nie weer ’n afspraak nie.

Sy het seker die toets by sy mense gedop, dink sy. Ag, nou ja, sy gee regtig nie om nie. Dis net ’n lekker storie om vir Eben te vertel.

“So ’n blikners! Ek sal hom teer en veer, en as hy nog nie genoeg gehad het nie, sal ek hom onderstebo aan sy toonnaels aan die naaste boomtak vasspyker,” blaas Eben.

Brenda lag. “Genade, maar dit klink verskriklik wreed. Wat het jy so erg teen Thomas? Hy het hom darem nou die aand soos ’n heer gedra. Wel, byna. Dit wil sê, hy het hom nie heeltemal soos ’n skarminkel gedra nie, al het hy geflankeer met al wat ’n vrou is. Hy kan homself net nie help nie. Dit was in elk geval die enigste keer dat ek ooit met hom sou uitgaan.”

Eben kyk haar simpatiek aan. “Moenie seergemaak voel nie, ou dier. Take it whence it comes.”

“Waarvan praat jy?”

Hy sug. “Daardie vabond het ’n weddenskap van honderd rand gewen. Die ouens in die kafeteria het gewed dat hy jou nie uitgevra sal kry nie.”

Brenda se mond val oop. Eers lag sy, maar toe droog dit op. Eintlik is dit glad nie snaaks nie, maar baie beledigend. En dit maak regtig seer, al wil sy dit nie erken nie.

“Die luis,” sê sy sag. “Ag, dit maak ook nie saak nie. Ek voel vere vir Thomas Naudé.”

En dit het haar darem die geleentheid gegee om sy ginekoloog-oom te ontmoet, dink sy. Vir die eerste keer in haar lewe kan sy ’n man nie uit haar gedagtes kry nie. Ag, dit sal wel mettertyd vervaag, troos sy haarself.

Tog het sy ’n voorgevoel dat sy professioneel weer met hierdie man te doene sal kry.

Brenda is effens gespanne by die gradeplegtigheid. Haar broer Rolf en sy vrou Lisa is in die gehoor, weet sy. Die studente staan egter in een lang ry, besig om togas en kappe te kry en mekaar geluk te wens. Eben se van is Brynard en hy is dus heel voor, terwyl sy alfabeties heel agter is tussen Poen Westra en Johan Weideman. Die Desember-son bak op hulle neer en die toga maak haar warm, maar sy gee nie om nie. Vandag is ’n groot triomf. Selfs nog groter as die eedafleggingsplegtigheid vroeër.

Toe hulle by die D.F. Malan-gedenksaal inloop, soek haar oë na Rolf en Lisa. Sy wuif vir hulle, en Rolf staan regop met sy kamera om haar af te neem.

By die sitplekke wat vir die eregaste bespreek is, sit ’n hele ry indrukwekkende Naudés. Hulle is natuurlik hier vir Thomas én Arnold. Een troon bo die ander uit – Charl Naudé. Aan sy sy is sy mooi blonde vrou. Verbeel sy haar of kyk hy na haar? Nee, dit kan nie wees nie. Hulle het net oë vir hulle twee familielede.

Toe sy egter by hulle verbystap, voel sy of sy aangestaar word en sy kyk om. Charl Naudé se oë is wel op haar. Hy knik en glimlag. Sy knik en glimlag terug, maar dis of haar hart nie heeltemal normaal wil klop nie. Sy skryf dit aan spanning toe.

Aan die einde van die plegtigheid is die prysuitdeling. Teen dié tyd weet Brenda dat sy die toekenning vir die beste student ontvang en dat Johan Weideman die prys vir die beste skripsie ontvang. Hulle word deur die beampte aangetree.

Brenda het trane in haar oë toe sy vorentoe geroep word en weer by die trappies opstap. In haar ore dawer die applous. Die rektor en die dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe wens haar geluk. Sy kyk een slag oor die see van gesigte voor haar en kameras flits.

As haar ma nog gelewe het, sou sy trots gewees het. Haar ma het haar van kleins af aangemoedig. Dit maak haar bewoë dat sy nie hier kan wees om in haar sukses te deel nie.

“Jy is skrander en jy sal nog die hoogste sport van die leer bereik,” het sy meer as een keer vir Brenda gesê.

Na die plegtigheid staan die mense buite op die gras rond. ’n Fotograaf van die universiteit en een van Die Burger kom Brenda by haar trotse familie afneem.

“Jy raak nou te famous vir ons gewone sterflinge,” spot Eben toe hy en sy ma, tant Gertie, by hulle aansluit. “Netnou is daar ’n talent scout hier en hy gryp jou vir die een of ander soapie. Mense vrek mos oor mediese stories.”

“Lawwe ding,” sê Brenda en soen hom en sy ma.

“Die Naudés is ’n gedugte clan,” merk Eben op. “Kyk daar hoe koek hulle om die twee broers saam. Ek skat Thomas het maar deurgeskraap, soos hy partytjie gehou het.”

Brenda kyk oor haar skouer en sien dat Charl Naudé in hulle rigting kyk. Dan kom hy sowaar nader. Sy hou asem op.

“Geluk met jou prestasie, dokter Wiechers,” sê hy en skud haar hand.

“Dankie.” Hoekom is hy tog so oorweldigend? Sy moet al haar wilskrag inspan om koel en kalm te lyk.

Hy draai na haar broer. “Rolf! Hoe gaan dit? Ek het jou jare laas gesien. Geluk met jou kleinsus se prestasie.”

“Hallo, Charl. Gaaf om jou ook te sien,” sê Rolf en skud sy hand.

Brenda kyk verbaas na hulle. “Julle ken mekaar?”

“Ons was saam in die voorgraadse klas,” verduidelik Rolf. “Dankie, Charl, ons is baie trots op haar. Sy het dit nie aldag maklik gehad nie. Ons ma is in Brenda se matriekjaar oorlede, maar sy het nogtans agt onderskeidings gekry en sy was boonop hoofmeisie van haar skool. Sy het nog altyd hard geleer.”

Charl Naudé draai terug na Brenda en sy sien onverwagte medelye in sy oë. “Jy het dus ten spyte van teëspoed jou ding gedoen. Dit maak jou prestasie des te groter.”

Sy haal haar skouers op. “My ma het my geleer om ambisie te hê.”

“Harde werk is nie genoeg nie,” antwoord hy. “Die breinkrag moet ook daar wees, en stamina. Daarsonder kan jy nie ’n geneesheer wees nie. Nou ja, geniet julle aand. Ons gaan ons manne se prestasies by die Mount Nelson vier.”

“Dankie, ons en Eben-hulle gaan Waterfront toe,” sê Brenda. “Geniet julle aand ook.”

Hulle sal natuurlik net die beste kies, dink sy, maar vanaand voel sy te lekker om om te gee. Sy kan haar egter nie daarvan weerhou om Charl Naudé agterna te kyk nie. So ’n man is gevaarlik. Vir alle vroue. Die soort waarteen haar ma haar altyd gewaarsku het.

Gelukkig is hy getroud en sal sy niks verder met hom te doen kry nie.

Charl Naudé het Brenda en haar groepie dadelik buite op die grasperk raakgesien en diskreet dopgehou. Die meisie, wat laas toe hy haar gesien het so ernstig voorgekom het, is vandag sprankelend en vrolik. Sy is werklik pragtig en daarby is sy skrander, duidelik iemand met ruggraat.

Sy nefie is mal om so ’n uitsonderlike meisie deur sy vingers te laat glip. Hy het haar wragtig net een keer uitgeneem. Miskien het sy nie in hom belang gestel nie. Sy is seker kieskeurig. Te ambisieus en ernstig vir Thomas, wat steeds daarop uit is om wild te kuier en die een meisie na die ander te beproef. Sy sal nie met haar laat mors nie, vermoed hy.

Hy vermoed ook dat sy ’n groot sukses van haar beroep sal maak, al lyk sy so tenger en grasieus soos ’n wildsbokkie. Daardie vasberade kennetjie en vreeslose, direkte kyk het hom nogal beïndruk. Onopgesmuk beeldskoon. Dit het natuurlik voor- en nadele …

Hartklop Omnibus 1

Подняться наверх