Читать книгу Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach - Страница 7

4

Оглавление

Na vier maande in Engeland begin Brenda se kop al meer terugstaan na Suid-Afrika.

Sy het met en sonder Eben weer ’n paar keer by Hedding Manor gaan kuier, waar Kevin vir haar perdrylesse gegee het. Dit het sy darem geniet. Sy familie het heelwat teenoor haar ontdooi, maar hy het in haar grootste probleem ontaard. Duidelik is hy dolverlief op haar, en hy lê haar gedurig by die hospitaal voor.

“Hy versmoor my,” kla sy gereeld by Eben, want sy het nog nooit so ’n knaende bewonderaar gehad nie.

Sy gaan haal eendag haar pos en sien dat een brief van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde kom. Met opgehoue asem skeur sy dit net daar oop en lees. Soos sy vermoed het, kom dit van die hoof van die departement Ginekologie en Verloskunde, professor Peet Aucamp, wat altyd haar gunstelingdosent was.

Beste Brenda

Dankie vir jou aansoek om by hierdie departement te spesialiseer. Ek sien my destydse aanmoediging aan die beste student wat ek in jare gehad het, het nie verlore gegaan nie. Ek het die superintendent van die hospitaal reeds van jou voorneme in kennis gestel.

Die proses in ’n neutedop: Kom terug en werk as kliniese assistent in ons departement, waar jy ook ’n salaris sal verdien. Jy sal egter eers voor ’n keurkomitee bestaande uit onder andere ekself en die superintendent moet verskyn. Jy sal ook ’n eksamen moet aflê, maar daar voorsien ek dat jy met vlieënde vaandels sal slaag. Soos jy weet, bestaan die kursus uit heelwat praktiese opleiding – saalrondes en bespreking van gevallestudies – saam met die nodige seminare en werkstukke. By die tydskrifbesprekings sal jy jou beurt kry om oorspronklike navorsing voor te dra. Jy sal met my en ander dosente sowel as konsultant-ginekoloë uit buitepraktyke saamwerk. Dit gaan vier jaar se harde werk verg, maar jy sal nooit spyt wees nie.

Ek hoop om gou van jou te hoor. Laat my weet wanneer jy beoog om te kom. Kompetisie is natuurlik kwaai vir dié poste, maar jy was ’n uitstaande en toegewyde student, wat waardevolle ginekologie-ondervinding in Engeland opgedoen het. Daarom verstout ek my om jou hoop op ’n suksesvolle aansoek te gee.

Vriendelike groete

Prof. Peet Aucamp

Brenda gee ’n gilletjie en voel asof sy kan bokspring. Dit klink so aanmoedigend!

“Haai, wat het oor jou lewer geloop?” hoor sy Eben se stem agter haar.

Sy draai om en val hom om die hals. “Ek het ’n brief van prof Aucamp ontvang! Ek het jou mos gesê ek doen aansoek om in ginekologie en verloskunde te spesialiseer. Hy jaag my nogal aan, en hy laat dit klink asof ek maklik aanvaar sal word.”

Eben lyk egter nie baie bly nie. “Wil jy regtig nou al gaan? Jy is nog nie eens ’n jaar hier nie, en jy verdien ’n beter salaris as wat jy daar sal verdien. Ek dag ons gaan twee jaar lank bly.”

Brenda vou die brief op en steek dit terug in die koevert.

“Nee, ek is regtig jammer, maar ek is haastig om te kwalifiseer. En buitendien moet ek wegkom van Kevin af. Hy skimp al glad dat ons moet trou, en vir daardie stiff upper lip-familie sien ek nie kans nie.”

Sy sal dit nooit uitlap nie, maar die enigste man wat haar al ooit laat voel het dat trou dalk nie onmoontlik is nie, is die verkeerde een: Charl Naudé. ’n Man met ’n vrou en issues.

In die hospitaalgang die volgende dag loop sy vir Thomas raak.

“Wat hoor ek van jou?” vra hy.

“Dat ek teruggaan na Suid-Afrika?”

“Ja. Moet jy nie eerder jou kop laat lees nie?”

Sy vervies haar. “Ek het my redes, en dis nie net die slegte weer in Engeland nie.”

“Jy bedoel voordat iemand jou probeer kansel toe sleep?”

Sy kyk hom agterdogtig aan. “Waar kom jy daaraan?”

Hy grinnik. “Die een oor wie geskinder word, is altyd die laaste een om te hoor. Almal praat van hoe omgeboul die arme Kevin Wakefield is. En ek het oë in my kop. Hy is so erg oor jou dat ek te bang is om jou te date.”

Sy sug. “Wel, dit raak nou lastig. Dit was nog altyd my droom om ’n ginekoloog te word, daarom is ek vir seker nie van plan om te trou nie. Veral nie met ’n pukka-Engelsman wat ek nie liefhet nie.”

“Sjym, arme ou. Ek het ook al gewonder of ek nie moet teruggaan nie. Die vleispotte van Egipte is wel geil hier, maar hier is ’n doktertjie wat net so hard probeer om haar kloue in my te slaan. Netnou sê sy sy’s verwagtend en ek is die pa en dan sit ek in die dinges.”

Brenda kyk met afkeer na sy mooi gesig, wat skielik nie meer vir haar so mooi is nie. Watter selfsugtige vent is hy nie. Gebruik die meisies, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir hulle gevoelens of die uitkoms van sy verhoudings nie. Sy wonder of hy weet watse ongure reputasie hy al by die hospitaal gekry het.

“Wil jy ook gaan spesialiseer?” vra sy koel.

“Die familie verwag dit natuurlik van my. Dis mos ons tradisie. Dis nie goed genoeg om ’n GP te wees nie.”

Sy dink aan haar broer wat ’n algemene praktisyn en geliefd by sy pasiënte is, en sy is sommer geïrriteerd.

“Maar wíl jy spesialiseer?” vra sy kil. “Is dit vir jou ’n roeping?”

Hy gryns. “Geneeskunde was nog nooit vir my ’n roeping nie; ek het dit gedoen omdat dit van my verwag is. Maar selfs my oom Charl sien my as ’n ginekoloog. Ek moet hom seker nie teleurstel nie.”

“Nee, seker nie.”

“Ek sou veel eerder professionele rugby wou speel. Maar nou ja, dit kan nie. Wanneer beplan jy om te vertrek?”

“Oor ’n maand, want ek moet kennis gee.”

“Ons moet darem gaan uiteet voordat jy vertrek.”

Brenda is teësinnig om saam met hom gesien te word, netnou dink almal sy is een van sy verowerdes. Maar sy kan nie onbeskof wees nie.

“Goed, die een of ander tyd,” stem sy vaag in. “Wag, ek moet draf. Sien jou weer.”

Toe sy wegloop, hoor sy hom agterna sê: “Kevin Wakefield het darem goeie smaak.”

Sy is verstom oor die kompliment, maar sy draai nie om om dit te erken nie.

Die volgende oggend keer Thomas haar by die ingang van die ginekologiese afdeling voor.

“Kom eet vanaand saam met my. Hier is ’n lekker restaurant in Kensington, naby Harrods. Indonesiese cuisine. Hou jy van Oosterse kos?”

“Ja.” Sy het die aand niks vas aan nie, al het Kevin geskimp dat hy ’n draai wil maak. Op ’n ingewing besluit sy om tog saam met Thomas te gaan, hoofsaaklik om Kevin te vermy.

“Ja, jy hou van die kos of ja, jy wil saamkom?” vra hy spottend.

“Albei. Jy weet waar ek bly. Kom haal my so teen sewe-uur.”

“Met my Rolls Royce. Sien jou dan, dokter Wiechers.”

Maak sy nou ’n groot fout deur eerder saam met hom as met Kevin uit te gaan? wonder Brenda toe hy wegstap. Uit die vet in die vuur?

Wel, sy sal hom net moet kortvat as hy te vrypostig raak.

“Jy lyk mooier as gewoonlik,” komplimenteer Thomas haar toe sy die aand vir hom die deur oopmaak.

“Jy ook,” grap sy. Hy dra ’n kasjmier-jas en lyk regtig aantreklik.

Hy neem haar elmboog toe hulle by die trappe afgaan, en buite lei hy haar na ’n splinternuwe MG-sportmotor.

“Ek het vir my ’n lekker Engelse karretjie aangeskaf,” sê hy kastig ongeërg, maar sy hoor die noot van trots in sy stem.

Die motor is so nuut dat dit nog na leer ruik.

Hy bestuur taamlik vinnig deur die druk verkeer. “Gaan jy nie vir jou ’n motor koop om saam huis toe te neem nie?”

Sy is sommer vies oor hy so taktloos is. Hy moet mos weet sy is nie so ryk soos hy nie.

“Ek het nog nie genoeg Engelse ponde verdien om dit te kan bekostig nie,” antwoord sy kil.

“Gaan jy in die Kaap vir jou ’n nuwe motor koop? Jy kan tog nie nog steeds met daardie studentetjorrie ry nie. Wat was sy naam nou weer?”

“Haar naam – Skigtige Saartjie. Dis die naam wat my broer Rolf haar gegee het, want sy was eers syne. En ja, ek gaan haar beslis weer ry. Sy staan tans by my broer se huis op Stellenbosch.”

Hy skud net laggend sy kop.

Die restaurant is besonder deftig, en Brenda is bly sy het moeite gedoen met haar voorkoms. Dat Thomas haar sommer na ’n eenvoudige plekkie sou neem, het sy nie verwag nie. Daarvoor is hy gans te bedorwe en geneig tot vertoon.

“Goeienaand, dokter,” groet die ontvangsdame asof sy hom goed ken. “Die gewone tafel?”

Haar oë gaan takserend oor Brenda, wat reguit terugkyk.

“Ja, die gewone,” verseker hy die meisie. Sy loop heupswaaiend voor hulle uit na ’n tafel vir twee in ’n skemer hoek.

“Kom ons drink vanaand sjampanje,” stel hy voor, en hy bestel ’n soort wat Brenda as baie duur herken.

“Wat vier ons?” vra sy.

Hy grinnik. “Dat ek dit uiteindelik reggekry het om jou te date.”

Sy trek ’n gesig. “Nie dat jy baie hard probeer het nie. Maar nou ja, jy was so besig om al die ander dokters en verpleegsters en fisio’s en wat ook al te date, dat jy nie tyd gehad het vir my nie.”

“Hel, ek is jammer.”

Sy vou haar servet oop en sprei dit oor haar skoot. “Moenie wees nie. Ek het jou glad nie gemis nie.”

Dit klink nou katterig en smalend, dink sy, maar hy soek daarvoor.

Die sjampanje word gebring en die kelner skink.

“Op die ginekoloog,” klink Thomas glase. “Ek twyfel nie dat jy een gaan word nie.”

“Dankie.”

Sy teug en kyk na die spyskaart. Thomas doen soveel moeite om sjarmant te wees en sy wantrou hom tog so. Sy bestel ’n dis wat nie te duur is nie, maar hy bestel die duurste ding op die spyskaart. Rykmanseun wat nooit spaarsamigheid en tekorte geken het nie, dink sy wrewelig.

“Ek gaan jou nou ’n geheim vertel, maar belowe jy sal nie vir jou gabba Eben of enigiemand anders vertel nie.”

Nuuskierig kyk sy oor die rand van haar glas na hom. “Belowe.”

“My oom Charl het gesê as ek nie vir jou gaan nie, is ek ’n blerrie fool.”

Sy voel hoe ’n blos teen haar wange optrek. Sy hoop maar hy sien dit nie in die halfdonker nie.

“Ons het nog nooit vir mekaar gegaan nie. Jy het my net daardie een slag gedate om ’n weddenskap te wen.”

Hy grinnik verleë. “Ag, ja, maar dit was tog ’n goeie idee. En die aand was immers lekker, of hoe?”

Sy teug net aan haar sjampanje en reageer nie. “Jy het nog altyd gedink ek is ’n playboy, nè, Brenda?”

Sy sit haar glas neer, verbaas oor wat soos ’n aantyging klink.

“Jy het nog altyd gedink ek is ’n nerd, nè, Thomas?”

Hy kyk haar stip aan en sy gesig word ernstig. “Ja, ek het, maar jy was ook die mooiste meisie in die klas. En die koudste, afsydigste een. Die ouens was maar bang vir jou, weet jy?”

Sy lag. “Die ysprinses? Ek het gehoor daarvan. Gelukkig is dit darem nie die ysheks of die ysdraak nie. Jy het in elk geval nie in my belang gestel nie, want jy was so gewild onder al die ander meisies wat nie met ys omgewe was nie.”

“Die een wat weggekom het … die grootste vis,” mymer hy. “Die grootste uitdaging. Ek het my kanse verspeel, het ek nie?”

Brenda sit terug en gluur hom aan. “Probeer jy nou romanties wees, of dramaties, of met my speel, Thomas? Dis bietjie te laat daarvoor.”

Hy sug teatraal. “Dit ís te laat en jy gaan weg. My oom gaan my vra of ek gras onder my voete laat groei het, en ek sal ja moet sê. Dan noem hy my ’n blerrie fool en ’n loser.”

Verontwaardig kyk sy na hom. “Het jy my nou vanaand uitgenooi om jou oom te kan vertel jy het dit tog gedoen?”

“Nee, ek wou regtig –”

“Ja, klink dit vir my! Jou oom moet ook besef dat ek my nie via jou laat manipuleer nie. Dat ek nie vir my laat voorskryf met watter man ek moet uitgaan nie.” Haar stem raak al driftiger.

“Chill, Brenda. Ek maak net grappies.”

Hy sit sy hand oor hare, maar sy trek haar hand weg.

“Hier kom ons kos,” sê hy verlig.

Die vermetelheid van daardie Charl Naudé om sy pierewaaier-neef aan haar te wil afsmeer, dink sy ergerlik. Asof sy gevlei moet wees dat ’n Naudé in haar belang stel. Sy en Thomas pas geensins by mekaar nie. Sy moet dalk gevlei voel dat Charl Naudé dink sy is goed genoeg, maar sy is eerder kwaad.

As sy hom eendag weer sien, sal sy hom daaroor konfronteer.

Vir die res van die aand gesels hulle oppervlakkig oor die Engelse, Engeland en wat hulle al gesien het, en die mense met wie hulle saamwerk. Dit voel vir Brenda soos ’n wapenstilstand, maar die gesprek verloop darem vreedsaam en die kos is baie lekker.

Thomas bestel ’n tweede bottel sjampanje en drink twee keer vinniger as Brenda.

“Jy moet nagereg eet,” dring hy aan. “Anders is die aand te kort.”

“Ek het nie juis ’n soet tand nie. Ek verkies kaas en beskuitjies.”

Hy bestel vir hom nagereg en vir haar kaas en beskuitjies. En daarna dring hy aan op koffie, likeur vir haar en konjak vir hom.

Sy het lank laas soveel gedrink en begin taamlik lighoofdig voel. Thomas gesels soos ’n draai-orrel.

“My oom Charl se vrou is so jaloers op hom dat hy dit skaars meer kan uithou,” sê hy skielik, en sy wonder hoe hulle by dié onderwerp uitgekom het.

“Dit moet moeilik wees as hy ’n beroep het waar hy uitsluitlik met vrouepasiënte werk.”

“Jip. Maureen wil stuipe kry as hy laat kom of in die nag uitgeroep word. Sy beskuldig hom links en regs dat hy minnaresse het. Uit skone moedeloosheid het hy vir haar ’n boetiek in Tygervallei gekoop om haar besig te hou. Sy is nie ’n sakevrou se dinges nie, maar sy is darem nog nie bankrot nie.”

“Foeitog.” Brenda probeer simpatiek klink.

“Die probleem is dat die vroumense regtig oor hom vrek, en sy weet dit.”

“O?” Sy kyk na hom met geligte wenkbroue en teug aan haar likeur. Sy kan glo dat vroue vir Charl sal val, maar sy sê dit nie.

“Wat meer is: Maureen wil nie kinders hê nie. Een van die dae is sy oor die muur en dan kan sy nie meer nie. Dis nie ’n kwessie van infertiliteit nie, daaraan kan hy iets probeer doen. Dis net dat sy weier.”

“Tragies,” mymer Brenda. “Wil hy baie graag kinders hê?”

“Ja, ek glo so. Dis ironies dat hy heeltyd ander mense se babas moet vang. Dis so … plaasvervangend.”

“Ja.”

Sou daar ’n vuurtjie wees waar ’n rokie trek? Loop Charl Naudé regtig rond? Sy wil dit nie van hom glo nie. En sy kry hom jammer. Hy lyk asof hy alles in oorvloed het, maar eintlik is daar ’n hartseer tekort in sy lewe.

Thomas betaal en hulle loop uit. Hy het sy arm om haar lyf en sy laat hom begaan, want sy wil nie ’n scène maak nie.

By die woonkwartiere parkeer hy en loop saam met haar op na haar woonstel, maar dié slag ontwyk sy daardie omhelsende arm.

Brenda skrik haar yskoud toe sy sien dat Kevin voor haar deur sit. Dit lyk asof hy lank gewag het.

“Wat op aarde doen jy hier?” vra sy.

Hy staan op, maar sy gesig is vertrek van woede. “Het jy tog nie saam met hierdie casanova uitgegaan nie?” vra hy bars. “En nou wil jy hom seker innooi?”

Brenda is snaarstyf gespanne en baie vies om haarself in dié situasie te bevind. Kevin gedra hom soos ’n jaloerse minnaar wat dink hy het besitreg op haar.

“Ons ken mekaar al jare lank en het net afskeid geneem,” sê sy kil.

“Watse afskeid?” vra hy met ’n stem wat van woede bewe.

“Sy gaan mos weg,” laat Thomas van hom hoor. “En wie dink jy is jy om my ’n casanova te noem?”

Die twee mans lyk asof hulle mekaar wil aanval en Thomas is groter en frisser as Kevin, wat Brenda bang maak.

“Gaan julle albei huis toe, asseblief,” beveel sy streng. “Nie een van julle kom in nie.”

Kevin probeer haar voorkeer toe sy die deur wil oopsluit. “Waarom gaan jy weg? Waarheen gaan jy?”

Sy druk by hom verby. “Ek gaan terug Suid-Afrika toe, oor ’n maand. Gee asseblief nou pad. Ek sal jou môre alles vertel.”

“Bye. Lekker baklei,” hoor sy Thomas sê, en hy verdwyn by die trappe af.

“Ek het lank vir jou gewag,” kla Kevin met ’n martelaarstem.

“Waarom? Jy het mos gesien ek is uit. Jy moes huis toe gegaan het.”

Sy hand sluit om haar boarm. “Jy skuld my ’n verduideliking. Waarom het jy met daardie vrouejagter uitgegaan?”

Sy sug ergerlik. “Los my, Kevin. Daar is geen rede waarom ek aan jou verantwoording moet doen nie. Gaan slaap nou. Ek is te moeg om jou vir koffie te nooi, en môre moet ek soos gewoonlik vroeg opstaan.”

Hy los haar en storm weg, by die trappe af. Brenda voel sleg oor die onderonsie, maar sy besitlikheid kan sy eenvoudig nie meer verduur nie. Sy gaan net môre kennis gee en haar plek op die vliegtuig terug Suid-Afrika toe bespreek.

Hartklop Omnibus 1

Подняться наверх