Читать книгу Israel reeks: Omnibus 1 - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 12
Sewe
ОглавлениеMarc word die volgende oggend wakker van ’n gepraat. Hy kyk op sy polshorlosie en sien dat dit net ná halfagt is; dus draai hy summier om om verder te slaap. Maar toe hoor hy dat dit Ruwth se stem is en dat sy huil. Sonder om ’n oomblik te huiwer, klim hy uit die bed, trek vinnig ’n sweetpak aan en gaan woonkamer toe.
Dis Ofer wat by Ruwth in die woonkamer is. Hy het sy ma in sy arms en hy wieg haar liggies heen en weer. Sy huil snikkend soos ’n kind teen sy bors. Marc sien dat sy nog haar kamerjas aanhet. Hy bly onseker in die ingang tot die woonkamer staan. Ná ’n paar oomblikke sê Ofer, wat hom opgemerk het, sag: “Kom maar in, Marc.”
Marc gaan stadig binne en Ruwth draai om na hom toe. Sy hou die een hand oor haar mond en neus, haar oë is rooi gehuil.
“Kom, Mamma, gaan sit nou eers.” Ofer help haar versigtig tot by die rusbank. Hy gaan langs haar sit, sy arm om haar skouers, voordat hy hom tot Marc wend.
“Marc,” sê hy, “daar was gisteraand weer ’n selfmoordbomaanval. By ’n Pesach-seder in Netanya. Dieselfde tyd wat ons dit gevier het. Ruwth se twee beste vriende, bejaarde mense, het albei omgekom. Ek het haar kom sê voordat sy dit dalk oor die nuus hoor.”
“In ’n privaat huis?” vra Marc geskok, terwyl hy die vorige aand se byeenkoms voor hom sien afspeel.
“Nee. In die Park Hotel in Netanya. Daar was meer as twee honderd mense bymekaar, familie en vriende om die seder te vier. Heelwat ouer mense, maar ook kinders en babas.” Hy kyk na sy ma en sy bly haar kop skud. “Altesaam een en twintig mense is op die plek dood en meer as honderd en sewentig beseer. Party is kritiek. Hulle verwag ’n hele paar sal dit nie oorleef nie.”
“Sou dit gebeur het toe daardie verskriklike storm oor die stad getrek het?”
Ofer dink ’n oomblik na. “Ek dink so.”
Marc ril en trek sy baadjie koulik om sy keel toe. “Hoe het dit dan gebeur?”
“Die mensbom het blykbaar die hotel met ’n dik jas aan binnegestap. Maar buite het dit gehael en gereën en dit was baie koud sodat niemand die jas snaaks gevind het nie. Toe hy sien sy pad is oop na die eetsaal toe, het hy eenvoudig soontoe gehardloop en homself in die middel van die vertrek laat ontplof voordat iemand hom kon keer. Sha’ul en Rachel is op slag dood. Hulle was albei diep in die sewentig. Sha’ul was ’n oorlewende van Auschwitz.” Ruwth het weer sag begin huil. “Mamma ken hulle al van Amerika af, hulle het twee jaar voor haar aliyah gemaak. Uitgekom Israel toe.”
“Het jy gehoor of Aharon en Miryam veilig is, Ofer, en die kleinkinders?”
“Hulle name was nie vanoggend onder die lys slagoffers nie. Ek weet nie of hulle onder die beseerdes is nie. Hulle het nog nie ’n volledige lys van die beseerdes gegee nie.”
“Ek wil na hulle toe gaan.”
“Natuurlik, Mamma. Ek sal jou vanmiddag soontoe neem.”
“Skakel die televisie aan dat ons kan sien of hulle nog besonderhede van die beseerdes het.”
Ofer aarsel. “Die beeldmateriaal is baie traumaties, Mamma.”
Maar sy skud haar kop. “Dit kan nie erger wees as wat dit vir hulle moes gewees het nie.”
Sy maak haar oë toe. “By ’n Pesach … Waartoe het dit nou gekom, o Adonai?”
Beeldmateriaal wat op die skerm verskyn, tref hulle met ongenadige felheid. Die totaal verwoeste eetsaal, mense wat besig is om, wat lyk soos liters bloed, met swabbers op te vee, gebedeboeke wat oor die vloer en tafels gestrooi lê, dryf in die bloed en water. Hulle sien hoe een van die werkers twee leë kinderwaentjies verskuif om die plasse bloed daaronder te dweil. Marc knyp sy oë instinktief toe.
“Ek gaan dit afskakel, Mamma …!”
“Wag, daar kom nou ’n lys van dooies en beseerdes.”
Marc luister hoe sy die name van die slagoffers hees aflees. By die name van haar twee vriende breek haar stem.
“Sha’ul was byna tagtig,” sê sy ná ’n oomblik.
“Mamma …”
“Wag, ja, kyk daar is twee van die kleinkinders se name onder die beseerdes. Ofer, ek wil Netanya toe gaan.”
“Ons gaan, Mamma. Ek wil net eers dat jy iets eet en drink.”
“Soveel Joodse bloed by Pesach, Elohim Tzva’ot!”
Ofer laai Marc by die Haas-Promenade af. Hy is op pad om Ruwth Netanya toe te neem. Hulle het intussen telefonies vasgestel dat een van die egpare wat omgekom het, se kleinkinders in ’n kritieke toestand in die hospitaal is. Die ander en een van die ouers, is lig beseer. Ruwth lyk bleek en klein in die dik jas wat sy aanhet.
“Asseblief, Marc, moenie kanse waag nie. Asseblief!”
Hy belowe haar. Ofer knik ook bevestigend. “Die stad is onveilig, wees asseblief op jou hoede vir enigiets. Selfs in die Ou Stad.”
Toe hy op die Promenade uitkom, het hy meteens ’n panoramiese uitsig oor Jerusalem en die Ou Stad. Dit het die afgelope paar uur opgehou reën en die stad lê in sagte sonlig gebaai. Maar die donker reënwolke hang steeds swaar na die westekant toe. Hy sien Rivkah onmiddellik. Sy staan met haar rug na hom oor die stad en uitkyk.
Hy hardloop tot by haar. “Rivkah!”
Sy draai vinnig om en hy vat albei haar hande spontaan vas. Hulle is koud en klein in syne, en vervul hom met eindelose deernis. Haar neus is rooi van die koue, haar gesig omraam deur die donker krulhare en die kap van haar swart jas.
“Chag sameach,” fluister sy sigbaar ontdaan deur sy warm nabyheid.
Die begeerte is groot om haar in sy arms toe te vou. Maar dis nog nie die tyd daarvoor nie.
“Chag sameach, Rivkah,” antwoord hy ontroer. “Dis verskriklik wat gisteraand gebeur het.”
Sy knik en haar oë vul stadig met trane. “Een van die meisies saam met my in die barak se suster …” Sy knyp haar oë ’n oomblik lank styf toe. “Sy het ’n baba van agtien maande.”
“Ruwth se twee beste vriende is ook albei dood. Hulle was bejaard en oorlewendes van die Holocaust.”
Sy skud haar kop. “Daar kom oorlog. Volskaalse oorlog. Ek kan nie glo dat Sharon dít sal duld nie. Nie ’n Pesach-moord nie.”
“En jy?” vra hy angstig, haar hande nog steeds in syne.
“Marc …” sy maak haar hande sag uit syne los, “ek is ’n soldaat. Maar elkeen in Israel is uitgelewer.”
Hulle staan ’n ruk oor die stad en uitkyk. Sy beduie vir hom waar wat geleë is.
“Luister,” sê sy toe sy klaar is, “ek wil hê jy moet weet, as ons hiervandaan padgee, gaan ons deur ’n deel van die Arabiese buurt stap. Dis nie heeltemal veilig nie.”
Hy dink aan Ruwth en Ofer se waarskuwing: “Ons is oral uitgelewer, het jy tog gesê.”
Sy glimlag en raak ligweg aan sy gesig. “Ek wil jou nie op my gewete hê nie.”
Hulle begin met die slingerpaadjie teen die heuwel afstap. Dit ruik na nat aarde en dennenaalde. Hier en daar is ’n glimp van rooi papawers, maar hulle is meesal nat en slap van die reën.
Toe hulle deur die Arabiese deel is en na die stadsmure se kant toe koers kry, sê sy: “Hier voor is ’n klein Joodse bistro, waarskynlik die enigste wat in die hele stad sal oop wees. Hulle maak altyd so teen laatmiddag op Shabbat oop en ons sal die heerlikste Shabbat-koek en -koffie daar te koop kry.”
Hy is meer as gewillig, want dit het weer liggies begin reën en die wind is bitter koud. Binne is dit knus warm en die koek inderdaad fantasties. Die stomende koffie bring hulle albei weer by.
“Hoe was jou seder?” vra sy.
“Ruwth en my oom en tante en twee neefs is almal Messiaans.”
Sy kyk verras op. “Ja?”
Hy knik. “My oom is selfs ’n Messiaanse pastor.”
“Dis interessant, maar dan was jou seder seker anders as ons s’n.”
Hy vertel haar en sy luister geïnteresseerd. Vra baie vrae waarvan hy die antwoorde nie ken nie. “En jy nou, jy wat ook ’n Jood is, glo jy dat hierdie Jesus, Yeshua, die beloofde Messias is?”
“Ek weet nie,” sê hy eerlik. “Ek is steeds besig om te probeer verstaan dat die God wat ek tot dusver in die skepping rondom my nog net vermoed het, die God van die Jode is, die God van Israel. Ek bedoel, in beginsel het ek natuurlik al daarvan gehoor, maar ek het dit nog nooit gewéét nie, in my hart, soos nou. Nou is Hy my God. Oor ek ’n Jood is. So, ek is nog besig om Hom te ontdek, in dit wat rondom my gebeur, hier. Eintlik het ek, om eerlik te wees moeite met hierdie Jesus, wat hulle Yeshua noem. Dat Hy geleef het en dat Hy ’n Jood was, betwyfel ek nie, ’n groot leermeester, ’n rabbi soos julle sê, ’n Jood, ja. Maar hoekom Hy eintlik deel van die hele opset moet wees, kan ek net nie begryp nie.”
Sy knik langsaam. “Jy weet waarskynlik dat die Jode in sy Naam geweldige vervolging deurgemaak het. Selfs die Nazi’s het sy naam gebruik …” Hy knik en onthou wat Ruwth vertel het.
Sy sit ’n rukkie ingedagte met haar teelepel en speel voordat sy verder praat. “Maar die naam Yeshua spreek my tog op ’n … onverklaarbare manier aan. Soos ek dit sien, moet sy naam eerder Yashua as Yeshua wees. Yah is dieselfde as HaShem, wat ‘die Naam’ beteken, en wat ons gebruik omdat ons die naam van die Ewige nie wil uitspreek nie. Shua kom van Hoshua, wat verlossing beteken. Yashua beteken dus letterlik: die verlossing van Yah. Dít spreek my aan. Ek stem nie heeltemal saam met my pa en ander rabbi’s se uitleg van Jesaja 53 nie. Hulle leer dat die lydende dienaar in daardie hoofstuk Am Ysra’el is, die volk van Israel. Veral omdat Israel so ’n geskiedenis van lyding het …”
“Wáárom word die Jode altyd vervolg? Ek kon dit nog nooit kleinkry nie!”
“Dis die Jode se ‘andersheid’. Veral in Europa het dit daartoe gelei dat hulle gesien word as die oorsaak van al die kwaad wat ander tref. Volgens die rabbi’s sal Israel se lyding uiteindelik tot die verlossing van al die nasies lei. Maar volgens my ly Israel as gevolg van sy eie sonde, van sy afvalligheid van HaShem, van sy afgodediens, en … en as ’n Ortodokse sê ek dit met eerbied: As ek in die B’rit Chadashah, die Nuwe Testament, lees – en ek doen dit – dan lyk die dood van Yeshua vir my baie na die beskrywing in Jesaja. Maar ek weet nie, ek weet nie. In die IDF is ook ’n hele klomp Messiane van die tweede geslag en ek luister na hulle en ek wonder of ons Ortodokses nie dalk HaMashiach misgekyk het nie.”
Hy kyk haar woordeloos verwonderd aan en sy glimlag flou. “Ek weet dit klink seker vir jou vreemd. En dit sal my vader bitterlik seermaak as hy moet hoor wat ek nou net vir jou gesê het.”
“Daar is soveel wat ek nie verstaan nie, Rivkah. Ek dink dis hoekom ek hier is.”
Sy frons. “Ek vind dit eienaardig dat ek met jou, ’n vreemdeling eintlik, hieroor kan praat. Maar …”
“Maar wat?”
“Toe ek daardie eerste dag by die Kotel jou tekeninge van die Jode gesien het, het dit vir my gevoel jy is anders.”
Hy wil haar sê in watter sin sy vir hom ook “anders” is, maar hy is bang vir die implikasies van die woorde wat by hom opkom en hy swyg liewer.
Hulle dwaal deur die Ou Stad, waar daar selfs in die Arabiese buurt min lewe is. Maak ’n draai by die Kotel, wat ná die skok van die vorige aand se seder-bomaanval feitlik verlate is. Dit reën weer swaar en dit het donker geword. Dus draai hulle terug na die Ou Stad.
“Ek het gedink aan ’n plek waar ons lekker kan eet,” sê sy. “Ek en Re’uven gaan dikwels daarheen.”
“Waar is dit?”
“Naby die Jaffa-poort in die Ou Stad. Dis ’n Arabiese restaurant.”
“Arabies?” vra hy verbaas. “Is dit oukei?”
“O ja, ons families en hulle s’n is al geslagte lank vriende. Nie alle Jode en Arabiere is vyande nie, hoor. Absoluut nie. Jood en Arabier het geslagte lank in Jerusalem langs mekaar gewoon.”
Sy bring hom tot by die restaurant en hulle buk dankbaar uit die koue, nat stegie na binne. Dis duidelik dat sy daar goed bekend is. Die hoflike Arabiese eienaar maak seker dat hulle ’n goeie tafel kry en Rivkah beduie vir Marc wat die geregte beteken. “Die Arabiere maak soms lekkerder kos as die Jode, hoor. Kruie en speserye. Heerlik!” Hulle bestel.
Sy vryf haar hande koulik en kyk in die feitlik verlate eetplek rond. “Die plek se naam is Abu Shanab, dit beteken ‘My oupa se snor’. Dit is baie bekend in Jerusalem.”
Solank hulle vir die kos wag, blaai sy tydsaam deur sy sketsboek. Hy hou haar gesig in die lig van die flikkerende kerse op die tafel dop. Hy verwonder hom hoe gemaklik sy omgaan met die tekeninge wat hy van haar gemaak het. Toe sy opkyk en sy oë op haar betrap, vra sy: “Jy is so verskriklik gevoelig, Marc, het jy al werklik liefgehad?”
Hulle kyk mekaar ’n rukkie stil aan voordat hy sê. “Een maal.”
“En?”
“Ek het geleer dat wat soos liefde lyk, nie vertrou moet word nie.”
“Kan ’n mens dit uit één ervaring leer?”
“Ek dink so.”
“Wil jy my vertel?”
Hy sug.
“Jy hoef nie.”
Hy dink daaroor. “Miskien moet ek. Dis so: Ek het in my laaste skooljaar privaat les gekry. Oor die gewone kunsklasse nie juis ’n uitdaging was nie en die onderwyser my verder wou help, het hy my by sy huis onderrig gegee. Vir my en nog een ander student. Sy was twee of drie jaar ouer as ek. Ek het haar liefgekry omdat …”
Dis ’n rukkie stil tussen hulle.
“’n Mens weet nie altyd hoekom jy iemand liefkry nie,” sê Rivkah.
“Ek het geweet. Sy het my geleer praat. Oor myself. Want ek het in my eie wêreld geleef en ek kon nie praat nie.”
Die aanhaling uit Daniël Hugo se “Pêrelvisser”, wat Nicola altyd vir hom gelees het, flits deur sy gedagtes:
jy gaan so oestermaklik toe
as ek met my woorde aan jou raak
net ’n oomblik sien ek soms hoe
blink die pêrel waaroor jy so pynlik waak
Dit is so ’n pynlike aanslag dat hy sy oë instinktief toeknyp, maar toe maak hy sy keel skoon en praat verder.
“Sy het my gehelp met my verwarde seksualiteit toe ek hoor my pa is gay, die rede waarom hy van my ma weg is toe ek sewe was. Sy het my getroos toe een van die mans, wat vir ons ekstra les gegee het en my vriend geword het, in ’n ongeluk dood is. Sy was daar vir my toe my ma in daardie selfde tyd weer getroud is. Sy was die hele tyd vir my daar. Toe al hierdie dinge gelyktydig met my gebeur het. En ek het geglo dat sy my ook liefhet …”
Rivkah sê niks nie, maar toe hy opkyk, is haar oë nog steeds op hom. Rustige, donker oë.
“Dit was juis in die tyd toe ek naakmodelle moes begin teken. Dit was vir my’n skok. Sy het my dit te bowe help kom. Ek weet vandag ek het begin glo dat sy altyd daar sou wees, vir my om aan vas te hou.” Rivkah knik.
“Maar op ’n dag het ek agtergekom dat sy …” hy sluk swaar, “dat sy wat vir my gesê het dat sy nooit vir ’n naakstudie sou poseer nie, al die tyd vir die ander onderwyser geposeer het. Dat sy seksueel by hom betrokke was …”
Rivkah raak met haar voorvinger gerusstellend aan sy gevuisde hand wat op die tafel lê. Maar hy kyk nie na haar nie. Hy worstel met die huil wat warm in sy keel kom sit. Maar hy moet tog later die trane uit sy gesig wegvee en sy neus blaas. En al die tyd sê sy niks nie. Toe eers kyk hy na haar, glimlag bewerig.
“Dankie dat jy my vertel het,” sê sy eenvoudig.
“Ná skool was ek ’n jaar of wat in Suid-Afrika op universiteit, maar ek kon nie koers kry nie. Nicola was ook daar en ek kon dit nie verwerk nie. Ek het opgeskop. Toe al wou ek Israel toe kom om na Baruch se mense te kom soek.”
“Baruch?” vra sy geïnteresseerd.
“Dit was die universiteitdosent en vriend van my wat in ’n motorfietsongeluk gesterf het. Ek het hom kort geken, maar hy het ’n groot leegheid in my agtergelaat. Nou besef ek dat dit die Joodsheid in my was wat na sy Joodsheid uitgereik het.”
“O ja, jy het my nou die aand iets van hom vertel.”
Marc knik. “By hom het ek die eerste keer die naam Yeshua gehoor. Hy het ook vir my die Sh’ma gesing. Ek sal nooit die uitdrukking op sy gesig vergeet nie. Ken jy dit?”
Sy maak haar oë ’n oomblik lank toe en haar mond word wonderlik sag voordat sy sê: “Marc, elke, elke Jood ken die Sh’ma. Dis …”
Haar diepe emosie ontroer hom geweldig. “Sing dit vir my,” vra hy.
Sy aarsel ’n oomblik, maar toe sing sy baie sag: “Sh’ma Yisra’el Adonai Eloheinu, Adonai Echad. Baruch shem kavod malchuto l’olam va’ed.”
Dis vir hom asof hy weer saam met Baruch in die sonverligte ateljee is waar dit na olieverf en klei en terpentyn ruik. Weer saam Nicola onder die bome in die tuin sit. En Simon wat oor die herfsblare na hulle toe aangeloop kom met die doodstyding van Baruch op sy gesig. Hy ril.
Sy raak weer aan sy vingers en hy sluit ’n oomblik hare instinktief in syne toe. Hy sluk sy trane weg en hul oë hou mekaar ’n paar oomblikke vas.
Die geurige kos word voor hulle neergesit en hulle bly ’n rukkie daarmee besig. Sodat albei weer kalmer praat.
“En jy, Rivkah, het jy ook al baie liefgehad?”
Sy skud haar kop. “Miskien nie heeltemal so lief soos jy nie. Ek weet nie seker nie. Maar ek het ’n baie dierbare vriend gehad. Van skooldae af. Daar was tussen ons so ’n stil soort veilige gevoel van weet dit word wel meer as vriendskap en dit sal goed vir ons wees. Maar hy is reg aan die begin van die Intifada in Oktober 2000 in ’n lokval buite Afula doodgeskiet.”
“O!” kreun Marc onwillekeurig.
Sy knik. “Dit was ’n bitter groot hartseer, maar daar loop min Israeli’s rond sonder die pyn van ’n dierbare wat hulle verloor het. Anders as vir jou wat dit bang gemaak het om weer te vertrou, maak dit ons bang om weer lief te hê en te verloor.”
Marc aarsel ’n oomblik voordat hy vra: “Maar wat van die Arabiere, veral dié wat die selfmoordbomaanvalle doen? Hul vryheid moet tog ook vir hulle geweldig baie werd wees, anders sal hulle tog nie iets só ekstreem doen nie.”
“Ja, Marc, ja. Vir seker, ja. Maar daar is twee maniere van veg.”
“Jy bedoel?”
“Jul jong mense in Suid-Afrika het tog ook vir hul onafhanklikheid geveg, maar hulle het nie dinamiet om hul lywe vasgemaak en ander onskuldiges opgeblaas om hul politieke doelwitte te bereik nie. Die Palestyne het ook nie gekies om selfmoordbomme te word omdat hulle desperaat is nie. Hulle het hierdie verskriklike manier aanvaar omdat hulle van ’n baie vroeë ouderdom af duiwelse leuens gevoer word deur gewetenlose mense soos Jasser Arafat en sy trawante. Hul skoolboeke, hul radioprogramme, om die waarheid te sê elke aspek van hul lewens, is daarop gerig om hulle te leer dat Israel die satan is, met Amerika, as ’n nog groter duiwel wat agter hom staan. Baie Palestynse Arabiere is slagoffers van die fanatiese vertakking van Islam wat aan die volgelinge daarvan die reg gee om enigeen wat nie Islam as geloof wil aanneem nie, Jood of Christen of watter infidel dan ook al, te kan doodmaak. Dit geld natuurlik nie vir die ander vertakkings van Islam nie.”
“Maar die verwoesting wat die Israeli’s volgens die media in die Palestynse gebiede aanrig, kan darem ook nie sonder kommentaar gelaat word nie.”
“Ja, Marc, jy moet solank jy hier is maar self probeer vasstel wat waar is en wat nie. Ek kan maar net vir jou sê dat die jong Israeliese soldate uit ’n agtergrond kom wat groot waarde aan lewe heg. Ek dink ’n mens kan sê ek weet waarvan ek praat. Vir my is dit altyd verstommend hoeveel selfbeheersing daar nog in die aangesig van voortdurende terreur aan die dag gelê word. Het jy miskien al opgelet hoeveel jong Israeli-soldate hul lewens in gevaar stel om die leiers van die selfmoordbomaanvallers te gaan uitsnuffel in plaas daarvan om soos die Amerikaners net eenvoudig alles voor die voet te bombardeer? Het jy ’n idee wat dit beteken om in die nou straatjies tussen daardie huise in te beweeg? Wel, ek sê vir jou ek het ’n idee en ’n goeie een daarby.”
Hy lê sy hand oor hare. “Moenie kwaad word nie, ek vra maar net.”
“Ek weet, maar weet jy hoe sat ’n mens uiteindelik daarvan raak om hierdie soort vrae gevra te word? Het jy vergeet hoe barbaars twee van ons soldate afgeslag is toe hulle per ongeluk in ’n Palestyns beheerde stad beland het? Of die afgryslikhede wat die Palestynse polisie teenoor hul eie mense pleeg as hulle vermoed dat hulle die Israeli’s help? Vermóéd, sê ek, want daar is geen arrestasie, geen ondersoek, geen verhoor nie, net op grond van agterdog neem hulle hierdie mense en vermoor hulle brutaal, terwyl honderde Palestyne toekyk – sodat dit kamstig vir hulle ’n les kan wees. Ek sê nie die IDF het vleklose, skoon hande nie – niemand in ’n oorlog het nie – maar ek sê vir jou die soldate kom uit twee verskillende agtergronde. Uit twee godsdienste. Want dit gaan nie hier om grondgebied nie. Dit gaan om godsdiens. Dit gaan om die God van Israel en die Allah van Islam, en dis nie dieselfde God nie, glo my!”
“Ek hoor jou, Rivkah,” probeer hy paai, want hy sien die lig in haar oë opbou, “dis maar net dat ek probeer sê dat voor die stigting van die staat van Israel daar tog ’n onafhanklike Palestynse staat hier bestaan het en dat ’n mens daarom tog dié mense se gevoelens ook in ag moet neem. Om altyd onder besetting te lewe kan mos ook nie …”
Haar mond val oop. Letterlik. “Jy bedoel jy gló dat hier ’n Palestynse staat bestaan het!”
“Wel, ja,” sê hy verbaas. “Die afgelope twee jaar wat ek in Parys was en ná die Palestynse opstand hier begin het, het ek dit meer as een maal in die media gesien en almal met wie ek daaroor gepraat het …”
“Maar dis ’n versinsel, dis ’n mite!” val sy hom sonder meer in die rede. “Die sogenaamde Palestyne was nog nooit ’n afsonderlike volk nie en hulle het nooit ’n soewereine land gehad wat Palestina genoem is nie. Jerusalem was nog nooit hul hoofstad nie, daar is nie ’n Palestynse taal of kultuur nie, en daar is nie ’n Palestynse volk nie! Dit is ’n mite wat ontstaan het nadat die Jode Jerusalem in 1967 bevry het. Voor die geboorte van die staat van Israel, het Arabiese leiers self die bestaan van ’n land wat Palestina genoem word, ontken. Geen onafhanklike Arabiese staat het ooit bestaan in die geografiese gebied wat die Arabiere Palestina noem nie. Daar was nog nooit, dwarsdeur die geskiedenis van die mens, ’n land wat Palestina genoem is nie. Die laaste onafhanklike staat wat in hierdie streek bestaan het voor die stigting van die moderne staat van Israel in 1948, was die antieke Joodse staat van Juda twee duisend jaar gelede.” Haar wange vlam. “Ek daag jou uit om in enige geskiedenisboek vir my te wys dat daar so ’n staat was.”
“Ek is jammer, Rivkah. Ek het eenvoudig nie geweet nie.”
Hy skrik toe hy sien haar oë blink van trane. “Ek is ook jammer. Ek is jammer, Marc. Maar dis so ’n geweldige oormag waarteen ons elke dag moet stry. En mense is so swak ingelig oor wat werklik aangaan dat hulle alles glo wat vir hulle opgedis word. Jy weet wat Josef Goebbels in die tyd van die Holocaust gesê het, nè? As ’n leuen groot genoeg is en luid genoeg herhaal word, sal dit op die ou end geglo word. Selfs dié wat dit vertel, sal dit uiteindelik glo. Dis wat nou hier in die Arabiese wêreld gebeur.” Sy vee met die agterkant van haar hand oor haar oë. “Ek moenie so emosioneel raak nie, maar ek is al so moeg, so moeg …”
Een van die aantreklike seuns van die Arabiese eienaar van Abu Shanab kom met nog ’n gereg langs hul tafel staan. “Lag julle twee dan glad nie vanaand nie?” vra hy gemoedelik.
Marc wonder hoeveel hy gehoor het, maar sy gesig weerspieël niks anders as welwillendheid nie.
Rivkah glimlag verwese. “Vergeef my tog, Afeef. Jou kos is uitstekend. Laat ek jou voorstel aan my vriend uit Suid-Afrika. Marc.”
Afeef skud sy hand. “Ja, daar is nie veel in Israel om oor te lag nie, my vriend. Maar so ’n mooi vrou by jou tafel gee jou darem seker rede om te lag? Nie?”
Hy staan ’n rukkie by hulle en gesels en toe hy later omdraai en wegstap, keer hulle inderdaad nie na hulle somber gesprek van vroeër terug nie.
Pas nadat hulle klaar koffie gedrink het en aanstaltes maak om te loop, skel Marc se selfoon. Hy onthou onmiddellik skuldig dat hy sy ma al weer moes gebel het en dat dit waarskynlik sy is. Maar dis Ruwth.
“Is jy nog in die Ou Stad, Marc?” vra sy.
Hy bevestig dit.
“Nou, moet eerder nie ’n bus terug haal nie, liewe kind. Ek en Ofer is op pad terug van Tel Aviv af. Ons sal jou iewers oplaai, of het jy ander planne?”
“Ons is ook net aan ’t klaarmaak om te gaan.”
“Waar is julle min of meer?”
Hy noem die naam van die restaurant.
“O ja,” sê sy dadelik, “ek ken dit. Ons sal jou voor die steeg in die straat kry?”
Hy verduidelik aan Rivkah wat aangaan en sy knik. “Baie beter so,” sê sy.
“Halfuur?” vra Ruwth.
“Goed so.”
“Afgespreek,” sê sy.
Toe sy hom later groet, sê Rivkah: “Ek is skaam oor my uitbarsting vanaand.”
“Nee, asseblief nie, ek begin miskien dinge beter verstaan.”
“Jy het ook baie om te verwerk.”
Hy wil haar gesig aanraak. Die sagte mond, die donker, half droewe oë oor die hoë wangbene. Maar hy doen dit nie, want dis asof sy ná haar emosionele reaksie nog nie weer heeltemal na hom toe teruggekom het nie. Asof sy iewers anders bly huiwer het. Hy dink aan die geliefde vriend wat sy so kort gelede verloor het. Hy dink aan haar vriendin en dié se bruidegom wat in die Moment-kafee afgemaai is. Hy dink aan die selfmoordbomaanslae waar sy help opruim het as ambulansbestuurder. Hy dink aan die land wat rondom hulle brand en waarvan sy so verskriklik deel is. Dit maak hom bang sodat hy vinnig vra: “Hoe kom jy by die huis?”
Dis sy wat haar hand uitsteek en liggies aan sy wang raak. “Marc, ek leef hier, ek leef elke dag hier.”
Hy vat haar hand vas voordat sy dit kan wegtrek en sy laat dit toe. “Wees versigtig,” sê hy.
Sy knik. “Ek kry jou môremiddag weer op die Prom. Miskien, groot miskien, is Re’uven tóg ook los vir Shabbat.”
Ruwth sien daar verwese en doodsbleek uit waar sy vir hulle staan en tee maak, maar sy huil nie meer nie. Hy is verbaas oor hoe kalm sy hom oor die omstandighede van die familie in Tel Aviv inlig. Maar die trilling in haar klein hande ontgaan hom nie.
Toe hulle met die tee in die gesellige woonkamertjie sit, sê sy: “Jy wou nog vir jou ma ’n e-pos stuur.”
Hy kyk op sy horlosie. “Oor ’n rukkie.”
Hulle drink ’n paar minute in stilte, toe sê sy: “Ek het vandag besluit dat ek met Mara moet kontak maak.”
Marc kyk verbaas na haar. “Ja?”
“Ja. Sy is my dogter. Ek kan verstaan dat sy voel dat ek haar verwerp het. Ek het. Daar is baie redes wat ek daarvoor kan aanvoer, maar ek hét haar verwerp. En die herstel moet van my kant af kom, nie van haar af nie. Wat ek vandag gesien het, het my laat besef dat ek nie daarmee kan uitstel nie. Die Ewige het jou nie sonder rede na my toe gebring nie. Ek sal met haar kontak maak as jy vir my haar e-posadres gee. Ek sal vannag nog vir haar skrywe.”
Marc onthou sy ma se onwilligheid en hy kyk na die klein gryskopvroutjie voor hom wat al soveel pyn in haar lewe ervaar het. Dis asof sy sy huiwering sien en sy sê: “Marc, jy hoef nie hieraan deel te neem nie, liefkind. Dis heeltemal my en Mara se ding. Gaan jy maar rustig jou gang met haar en sê niks van my bedoelings wanneer jy haar bel nie. Ek werk dié saak met Adonai uit en dan sien ek hoe ek moet maak.”
Hy staan spontaan op, gaan buig oor haar en soen haar. “Dankie,” sê hy emosioneel, “ek het jou wonderlik lief.”
Sy hou hom styf vas. Dan fluister sy: “Baruch HaShem!”
Toe hy later in sy kamer kom, haal hy oudergewoonte sy dagboek uit. Maar toe hy ’n ruk na die leë blad voor hom gesit en kyk het, maak hy dit weer onbeskrewe toe en bêre dit. In sy sketsboek sit hy wel meer as ’n uur lank en teken. Ruwth in Ofer se arms. Ruwth, met haar hand oor haar mond en neus geklem, haar starende swart oë. Joodse gebedeboeke wat op bloed en water dryf. Die leë stootkarretjies. En Rivkah. Elke uitdrukking wat hy in die loop van hul gesprek in Abu Shanab oor haar gesig sien speel het. Haar mond, weer haar mond, wéér haar mond.
En uiteindelik, feitlik tot sy stomme verbasing, vind hy dat hy Jesus se gesig teken. Sy verwronge, geskende gesig aan die kruis. Hy sien toe hy klaar is dat die mond die noodkreet roep: “Waarom het U my verlaat?” Hy laat die boek geskok op die grond val en loop, sonder dat hy eintlik weet waarheen, die donker gang in.
Uit Ruwth se studeerkamertjie val ’n streep lig. Toe hy nader gaan, sien hoe sy met haar kop in haar hande voor die rekenaarmonitor sit. Hy steur haar nie. Hy gaan sag na sy eie kamer terug, tel die sketsboek op sonder om weer daarna te kyk, vou dit versigtig toe en lê dit op die kas terug. Maar hy kan die woorde wat in sy kop maal, nie stil kry nie. Baruch haba B’Shem Adonai.