Читать книгу Israel reeks: Omnibus 1 - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 13

Agt

Оглавление

Soos altyd hunker Marc se vingers daarna om die omgewing waar hy hom bevind in kragtige houtskoolhale op ’n wit sketsblad vas te lê. Die donker, middeljarige rabbi sit aan die kop van die tafel, Shabbat-jas netjies vasgeknoop, groot swart hoed wat sy gesig met die swart krulbaard in skadu hul terwyl hy oor sy gebedeboek buig. Sy vrou en sy dogter het albei wit sysjaals met fyn, blou borduursel oor hul skouers gedrapeer. Hy self, met sy donker krulhare en fraai kippah wat hy van Ruwth gekry het, voel meteens wonderlik tuis, asof hy hier hoort. Hy weet hy het tuis gekom en hy wil dit vaslê op die enigste doeltreffende manier wat hy ken – met houtskool in sy sketsboek om later met olieverf te verwerk.

Rivkah sit oorkant haar pa, en haar oë verlaat sy gesig byna nie. Marc merk steeds die half droewe trek om haar mond, dit maak hom week van emosie. Hy weet sy mis haar broer. Hy weet elkeen om die tafel kan beswaarlik hul gedagtes wegskeur van Re’uven en die omstandighede waarin hy hom mag bevind. Dat Rivkah enige oomblik opgeroep kan word. Sedert die Pesach-slagting van Woensdagaand hang die reuk van oorlog dreigend in die lug.

Twee uur gelede het Rivkah hom by die Haas-Promenade kom oplaai om Shabbat by hulle te vier. In die hewige voor-Shabbat-verkeer op pad na haar huis toe in Gilo, het sirenes meteens oor die stad begin galm. Oral kon hulle die blou ligte van sekuriteits- en polisievoertuie spookagtig deur die reën sien flikker.

“Dis naby ons,” het sy gesê, haar kneukels bleek op die stuur. “Dis Gilo se kant toe.”

Op die een of ander manier het hulle deur die verkeersknope gekom, waarskynlik oor sy as ervare ambulansbestuurder instinktief geweet het hoe. En al die tyd het sy byna onafgebroke oor haar selfoon gepraat. In staccato Hebreeus, en hy kon die spanning in haar stem hoor.

“Selfmoordbom by ’n supermark in Kiryat HaYovel,” het sy net een maal gesê, wit om die mond.

By die huis is hy in aller haas aan haar ouers voorgestel waar almal voor die televisie gaan staan het om vol afsku na die aaklige taferele te kyk wat oor die skerm flits. Langsamerhand het die feite begin duidelik word.

’n Agtienjarige Palestynse vrou, gordel vol plofstof, het ’n supermark in die Kiryat HaYovel-buurt binnegeloop en haarself opgeblaas. Dit blyk mettertyd dat die veiligheidswag by die deur ’n veel groter slagting voorkom het, deurdat hy haar gekeer het voordat sy dieper die winkel kon ingaan. Hiervoor moes hy met sy lewe betaal. So ook die sewentienjarige Rachel Levy wat net agter die mensbom geloop het. Marc het met afgryse na die lewende tonele op die skerm gestaan en kyk. Ook Rivkah en haar ouers het stil bly staar. Niemand het daaraan gedink om te gaan sit nie. Maar toe die ouderdomme van die twee meisies wat gesterf het, die Palestynse en die Joodse, bekend gemaak word, het Rivkah se pa sy dogter en sy vrou woordeloos in sy arms geneem. Marc het hom die Sh’ma hoor prewel: Sh’ma Yisra’el, Adonai Eloheinu Adonai Echad …

Hy het na Marc gekyk. “Mense sterf in die selfmoordbomaanvalle met die Sh’ma op hul lippe,” het hy stil gesê en toe sag vertaal: “Hoor, Israel, die Here ons God, die Here is één God …”

Geskok moes hy later ook hoor hoe die al-Aksa-brigade verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar, en die meisie word as Al-Ayat Ahkras geidentifiseer. Hy onthou wat hy twee dae tevore in die London Times van die al-Aksa-brigade gelees het en hy ril.

Nou sit hulle om die Shabbat-tafel en rabbi Chaim Cohen bid met ’n sterk stem ter wille van hul gas in Engels: “Met ewigdurende liefde het u die volk van die huis van Israel lief; U het ons in die Tora en in die verordeninge en die oordele onderrig. Daarom, o Ewige, ons God, sal ons as ons gaan lê, en as ons opstaan, oor u verordeninge praat en ons vir ewig verheug in die woorde van u Tora en u gebooie. Want hulle is ons lewe en die lengte van ons dae. Geloofd sy u Naam en u heerlike koninkryk tot in alle ewigheid. Daarom sal ons, die volk van Israel, en die gas in ons midde, vanaand weer u Shabbat heilig. En ons sal dit van geslag tot geslag bevestig as ’n verbond vir ewig. Want in ses dae het Adonai die hemele en die aarde gemaak en op die sewende dag het Hy gerus en is Hy verfris. Daarom is die Shabbat vir ons heilig, o God, totdat ons Messias kom.”

Toe sy vrou die Shabbat-kerse wil aansteek, hou Chaim haar met ’n ligte handbeweging terug en wend hom tot Marc. “Ek neem aan jy verstaan al heelwat van wat aangaan, maar miskien kan ek net dit ter verduideliking sê: Die Shabbat is baie kosbaar vir ons Jode, Marc. Dit is die dag waarop selfs ’n arm man koning is en sy vrou koningin. Dit is die dag waarop ons by uitstek daaraan herinner word dat ons spesiaal in HaShem se oë is. Jy moet verstaan dat HaShem nie die Shabbat ter wille van Homself ingestel het nie, maar vir die mens, vir ons. Ons werk ses dae lank, maar op die sewende dag rus ons, soos HaShem gerus het, en ons onthou Wie ons gemaak het.”

Marc knik.

“Op Erev Shabbat, wanneer die son ondergaan, daal Adonai se teenwoordigheid, sy Shechina, oor ons huise en op Yerushalayim neer …” , sy stem bewe en hy sluit sy oë vir ’n oomblik, “ook op ’n aand soos hierdie.” Hy haal diep asem en sy stem word weer sterk. “Die twee Shabbat-kerse simboliseer die tweevoudige opdrag: om die Shabbat te gedenk en om dit te heilig, want dit is ’n teken tussen Elohim en ons deur alle geslagte heen.”

“Sh’ma Yisra’el, Adonai Eloheinu Adonai Echad. Baruch shem kavod malchuto l’olam va’ed,” sing hulle.

Hadassah sowel as Rivkah gooi die sysjaals oor hul hare voordat Hadassah opstaan om die Shabbat-kerse in die silwerhouers aan die brand te steek. Die sagte lig van die vlammetjies flikker teen haar gesig, wat nat is van die trane. Met ligte bewegings omsirkel sy die kerse asof sy hul lig in haar bang hart wil inkeer, en toe sy die seënbede bid, bewe haar stem so dat haar man langs haar kom staan en sy arm om haar skouers sit.

“Geseënd is U, o Elohim,

Koning van die heelal,

wat ons geheilig het deur u Tora.

U het ons geroep om die Shabbat

met lig te vereer,

met vreugde en met vrede.

Soos ’n bruid en haar bruidegom

mekaar liefhet,

so ontsteek ons hierdie twee ligte uit liefde

vir u dogter,

die Shabbat.

O Ewige, skenk my en dié wat ek liefhet

die geleentheid om waarlik te rus

op hierdie Shabbat-dag.

Seën en beskerm my man en my kinders …”

Haar skouers ruk soos sy huil en haar man hou haar vas totdat sy weer kan verder gaan. Marc sien ook die trane ongehinderd oor Rivkah se wange loop.

“Gebied u seën oor my kinders,

dat hulle in die weg van

u Tora mag wandel, in u lig.

Mag U altyd hulle God wees,

en myne, o Adonai,

my Skepper en my Verlosser,

Omaine.”

“Omaine,” prewel die ander ook en Chaim help sy vrou om te gaan sit.

Ver weg skel ’n sirene en nog een en nog een. Maar Chaim spreek die Kiddush oor sy huis en sy gas uit: “Geseënd is U, Koning van die heelal, wat die vrug van die wingerd vir ons gee …”

Hulle lig braaf een vir een hul glase met Shabbat-wyn in heildronke op mekaar en op dié wat nie daar is nie. Voor hulle is die tafel feestelik gedek en die kos duidelik met groot sorg berei. En alles lê Marc in sy geheue vas asof dit reeds met swart houtskool geteken is. En hy weet vir seker die God van Israel, Adonai Elohim, is die God wat hy altyd onbewustelik in die skoonheid van die skepping gesoek het. Hy voel die Shabbat-rus oor hom kom ten spyte van die sirenes wat buite loei.

Chaim verduidelik dat die challah, die twee ineengevlegte Shabbat-brode wat gewoonlik op die Shabbat-tafel is en die dubbele hoeveelheid manna simboliseer wat die Israeliete altyd op Erev Shabbat in die woestyn kon optel, vanaand deur matzot vervang word omdat dit Pesach is en daar geen suurdeeg in die huis aanwesig mag wees nie. Hy spreek ook die seën daaroor uit, breek dit toe en deel dit uit.

“Ons breek altyd die Shabbat-brode, Marc, ons sny dit nooit met ’n mes nie, want wanneer die Messias sy koninkryk hier kom vestig, sal alle wapens en werktuie wat vir oorlog gebruik kan word, verwyder word.”

“Omaine,” prewel Hadassah.

Chaim neem haar hand in syne voordat hy verder vir Marc verduidelik. “Die Shabbat kyk vooruit na daardie tyd. Dit is die één dag wat soos duisend jaar van die komende Vredesryk is. Die millennium sal duisend jaar van Shabbat wees wanneer die Messias in Israel oor die nasies regeer. Duisend jaar van vrede. Geen stryd, geen oorlog, geen selfmoordbomme nie.” Hy streel sy vrou se hand. “Daarom breek ons altyd die Shabbat-brood met ons hande.”

Hy neem ook Rivkah se hand, en sy en Marc hou hande terwyl Chaim die seën oor hulle uitspreek. Daarna omhels en soen almal mekaar met: “Shabbat shalom!”

Die kos is heerlik en hulle eet rustig omdat die Shechina van Elohim inderdaad oor die huis neergedaal het. Die televisie en radio word ook nie weer aangeskakel nie.

“Waarom haat die wêreld die Jode so? Ek verstaan dit nie,” vra Marc toe hulle aan die einde van die maal ’n aantal liedere saam gesing het. Hy kan nie meer onthou wat Rivkah se antwoord op dié vraag was nie.

Chaim vryf ingedagte oor sy ken. “Dis ’n ou vraag, Marc. Hoekom haat hulle ons? En die antwoord is eenvoudig: Diegene wat die Jode haat, haat in werklikheid vir God. Hulle manifesteer hul haat teenoor ons omdat ons die Naam van God in die wêreld verteenwoordig. Hulle haat die ewigdurendheid van God se verbond met ons. Hulle verstaan dit nie, maar hulle weet dat hulle dit moet haat. Daarom verkeer hulle voortdurend in ’n staat van oorlog met ons – of ons nou ’n vyf maande oue baba of ’n tagtigjarige Jood is.”

“Sal dit nooit ophou nie?”

Rabbi Cohen glimlag en sy donker oë straal. “Ons Messias kom,” sê hy eenvoudig.

Voordat Marc verder kan vra, skel Rivkah se selfoon. Almal om die tafel verstyf sigbaar. Daar volg ’n kort, intense gesprek. Al wat hy van haar kant hoor, is ken, wat hy weet “ja” beteken. Sy wuif gerusstellend in haar ouers se rigting wat albei Re’uven se naam duidelik op hul lippe het.

“Hulle wil hê dat ek vanaand al inkom,” sê sy toe sy klaar gepraat het. “Hulle verwag moeilikheid.”

Die hand waarmee Hadassah haar trui by haar keel toevat, slaan wit deur. Maar sy sê niks nie.

“Hulle het weer twee bomplanters voorgekeer wat op pad na die Jerusalem Mall toe was.” Rivkah se stem verraai niks nie.

“Loof die Ewige wat die IDF bonatuurlike oë gee,” fluister Hadassah, “Baruch Atah, Adonai Eloheinu.”

“Ek word met ’n jeep gehaal, Marc, ek sal sommer dat hulle jou ook by Ruwth aflaai.”

“Ek kan …”

“Jy kan nie. Daar loop nie busse nie, dis Shabbat, onthou verlede week?” vra sy ligweg, voordat sy verdwyn om haar uniform te gaan aantrek.

Sy klim saam met hom uit toe hulle voor Ma’alot Moriah stilhou. Die bestuurder van die jeep sit ongeïnteresseerd al rokend en beskou die sagte reën wat oor die stad uitsak.

Sy staan klein en weerloos vreemd in haar uniform by Marc onder die yslike swart sambreel wat Ruwth saamgegee het.

“Ek is bly dat jy vanaand by ons vir Shabbat was, Marc.”

Hy kan homself nie meer keer nie. Sy is so naby hom. Hy slaan sy vry arm om haar en trek haar teen hom aan. Die sambreel kantel en ’n stroompie koue water loop teen die kant van sy gesig af, maar hy voel dit nie. Sy mond is teen die warm hare onder sy ken.

“Rivkah?”

Sy sug en leun teen hom aan. Toe lig sy haar mond na hom toe op en hulle soen mekaar.

“Ek moet gaan,” sê sy toe hy sy mond van hare wegneem.

“Laat my asseblief weet waar jy is!”

“Dis nie eintlik moontlik nie, Marc …”

“Asseblief.”

“Ek sal probeer.”

Hy soen haar weer baie sag en hy hoor hoe die reën liggies teen die sambreel tik. Dit klink vir hom soos ’n geluid uit sy kleinseuntjiedae: sywurms wat onafgebroke in moerbeiblare vreet. En hy dink in ’n vlietende oomblik dat hy dié geluid vir altyd en altyd sal verbind aan die eerste keer dat hy haar gesoen het. En met die sekerheid dat sy vir hom bedoel is.

“Asseblief, Rivkah.”

“As ek kan, sal ek.” Sy vou haar hande om sy gesig en in die dowwe lig van die straatlamp sien hy die sagte lyne van haar wang; die skadu’s onder haar oë, die droewe trek om haar sagte mond ontroer hom weer eindeloos. Dis asof sy hart daarvan wil breek.

“Jy is mooi,” fluister hy, sy mond teen haar wang.

Sy neem sy gesig nog ’n oomblik tussen haar hande. “Laila tov,” sê sy.

Hy verstaan haar. “Laila tov,” fluister hy ook.

Toe koes sy vinnig onder die sambreel uit en nog voordat sy die deur van die jeep toe het, brul hulle die donker reën in, blou lig flitsend op die dak.

Hy wil net daar in die reën op sy knieë neerval en haar veiligheid afsmeek. Maar toe kom die beeld van die grootvader en die seuntjie helder by hom op. Die hande van die ou man op die kind se rug. “Abba,” kreun hy, “Abba …!”

Ruwth kyk verras op toe hy inkom. “O, jy is ook vroeg terug.” Sy was by Ofer-hulle vir Shabbat. “David is opgeroep. Hy het my net ’n paar minute gelede afgelaai.”

“Rivkah ook. Hulle het my met ’n jeep gebring.”

“Dit maak dan twee van ons.”

“Vanmiddag se aanval was nie ver van Rivkah-hulle af nie.”

Ruwth knik. “Ofer en Shoshana bly mos ook in Gilo.”

“Verskriklik. Kom daar dan geen einde aan nie?”

Sy skud haar kop, vra toe: “Hoe was Shabbat by die rabbi, Marc?”

“Wonderlik!” sê hy en raak ingedagte aan sy kippah. “Ek was soos ’n vis in die water, Ruwth. Dit het my Joodsheid vir my net nog ’n keer bevestig.”

“Ek is bly.”

Sy skink vir hom van die tee wat sy gemaak het uit die glasteepot en hy gaan hang sy nat jekker in die gang op. Dit verwonder hom dat dit voel asof hy die huis sy lewe lank ken en nie net die afgelope paar dae nie.

Toe hy weer by haar met sy voete teen die verwarmer kom sit, sê sy: “Ek het ’n e-pos van Mara ontvang.”

Die glas tee wat hy na sy mond toe bring, kom in die lug tot stilstand en hy kyk haar deurdringend aan.

Sy glimlag bewerig. “Dit is nie iets wat oornag sal genees nie. Verwerping, in-die-steek-gelaat-wees is ’n baie diep seer.”

“Sy aanvaar nie wat jy vir haar sê nie?”

Hy sien ongestorte trane in haar oë skitter. “Ek glo nie sy kan al nie.”

Dis ’n rukkie stil tussen hulle. Buite klots die haelsteentjies teen die ruit.

Eindelik sê hy: “Dit het vir my ook gevoel asof sy my verwerp toe sy so skielik met Hannes getroud is … in ’n tyd toe ek …” Hy maak nie sy sin klaar nie. Hy kyk stip na die tee wat hy onder in sy beker skommel voordat hy verder praat. “En toe sy nie eens tyd gehad het om saam met my na Baruch se begrafnis te gaan nie.” Dit is die eerste keer dat hy hierdie woorde hardop teenoor iemand sê.

“Ons het almal so baie vergifnis nodig,” sê Ruwth ná ’n rukkie. Maar hy reageer nie daarop nie.

“Het jy planne vir môre?” vra sy later.

“Nee. Maar ek moet Baruch se suster bel.”

“Dis goed,” sê sy. “As jy vermoed dat hulle Ortodoks is, moet jy miskien liefs tot net ná Pesach wag.”

“Ek weet glad nie of hulle Ortodoks is nie, maar dis moontlik. Wanneer eindig Pesach?”

“Woensdagaand ná sononder.”

“Ja, miskien is dit beter om tot dan te wag.” Hy beduie vaag met sy hand.

“Sondag wil ek weer Tel Aviv toe gaan om by my vriende se kinders en kleinkinders te kom. Hulle word dan begrawe. Die een kleindogtertjie is nog kritiek. Maar ek wil jou graag môre ’n paar dinge gaan wys.”

“Dis Shabbat …”

Sy glimlag en steek impulsief haar hand na hom toe uit. “Dis dinge wat ’n mens op Shabbat kan doen. Shabbat is vir die mens gemaak.”

Hulle ry deur die doodstil Jerusalem tot by die kerk wat oor die ruïnes van die paleis van Kajafas, hoëpriester ten tyde van Jesus se verhoor, gebou is. Dis buite die ommuurde Ou Stad geleë. Hulle staan en kyk na die Olyfberg aan die oorkant.

“Daar is die Tuin van Getsemane,” beduie sy. “Yeshua is daarvandaan hierheen gebring, na die huis van die hoëpriester, Kajafas. Hulle het Hom heel onwettig hier in die nag verhoor. Wat mens nog kan sien, is die ondergrondse selle waar hulle die verhoorafwagtendes in daardie tyd aangehou het. Ek stel nie soveel belang in die mooi kerke wat hulle daar bo-oor gebou het nie, maar ek wil jou graag die kerkers laat sien.”

Marc sê nie veel nie, maar hy gaan saam met haar die baie treetjies af na die kerkers onder die gebou. Hulle is waarskynlik as gevolg van die reën en koue die enigste besoekers daar. Hulle staan in die klam selletjies wat uit die klip gekap is en Marc probeer hom voorstel hoe dit hier vir ’n gevangene moes gevoel het. Dit sou toe stikdonker gewees het. Hy word benoud toe hy daaraan dink.

“Het hulle Hom toe al gegesel?”

Ruwth skud haar kop. “Dit het nog vir Hom voorgelê. Ons gaan nou hiervandaan soontoe. Die Jode het Hom na Pilatus toe geneem omdat hulle nie die mag gehad het om die doodstraf oor Hom uit te spreek nie. Omdat Pilatus geen skuld in Hom kon vind nie, het hy gedink as hy Yeshua laat gesel, sal die bloeddorstige lede van die Joodse Raad tevrede wees en kon hy Hom vrylaat.”

Dié keer hou sy buite die Jaffa-poort stil, en hulle buk albei onder die groot swart sambreel in en loop vinnig die opdraand uit na die poort toe. Daar is oral swaargewapende polisie en die nou straatjies is stil en glad van die dae lange reën. Hy dink aan Rivkah. So tenger in die olyfgroen uniform en koeëlvaste baadjie, swaar geweer oor die skouer, haar welige donker hare in ’n vlegsel onder die baret. Hy moet hard op sy onderlip byt en sy vry hand in sy jekkersak vuis om sy emosies onder bedwang te kry.

Hy volg Ruwth deur die gangetjies van nog ’n kerk en uiteindelik kom hulle by Gábbata uit.

“Hier is Yeshua gegesel,” sê sy stil. Marc kyk na die lig wat oor die geelbruin, diepgegroefde, eeue oue stene val. Sy dui vir hom die slootjies aan waarlangs die bloed van die gegéseldes moes uitvloei. Ook die merke van die speletjies wat soldate gespeel het en nog duidelik in die stene te sien is. Hulle voetstappe klink hol in die groot, leë kerker. “Hier het hulle later ook die pers mantel om sy skouers gegooi, die doringkroon op sy kop gedruk. Hom in die gesig geslaan en op Hom gespoeg.”

“Hoekom!” Dis meer ’n uitroep as ’n vraag.

“Hy was die Pesach-lam, Marc, onthou. Hy moes vir ons oortredings gestraf word. Die straf vir die verskriklike dinge wat nou rondom ons gebeur, het Hy gedra. Ook wat hier in sy verbondsland aangaan – die straf van Jood én Arabier – het Hy gedra. Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom. Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Dit was die wil van Adonai om Hom te verbrysel en Hom die pyn te laat ly sodat ons wat na Hom toe kom weer heel sou kon word. Verstaan jy dit?”

Marc antwoord nie, hy voel na die sak oor sy skouer. “Gee jy om as ek … die een en ander hier skets?”

“Natuurlik nie. Ek kom bid soms hier. Kyk, hier is bankies om op te sit. Gebruik jou tyd. My hart is so by die familie in Netanya. Die twee seuns het gister uit Amerika aangekom …”

Marc huiwer ’n oomblik, toe trek hy die dosie met pastelle ook uit sy sak. Hy teken die stene ’n paar keer totdat hy die kleure van die lig daarop reg het. Dan bêre hy die pastelle weer versigtig en haal sy houtskool uit. Wanneer hy merk dat Ruwth in gebed versonke op een van die bankies bly sit, slaan hy ’n skoon bladsy oop. Hy huiwer ’n paar oomblikke. Toe vlieg sy vingers oor die papier. Hy skets die man wat gegesel word. Die liggaam wat in alle rigtings ruk om onder die mergelende houe uit te kom. Die krampagtig geboë lyf. Die vingers wat inmekaar klou. Uiteindelik die verwronge gesig met die donker, krullerige hare wat bebloed daaroor val. Die mond wat van pyn vertrek. Sonder dat hy daarvan bewus is, soek sy vingers in die pasteldosie na die rooi. In die swart houtskoollyne teken hy die donkerrooi bloed. Hy vou die sketsboek oor sy knieë oop en op die teenoorgestelde bladsy teken hy die onherkenbaar geskende Jesus met die kleed om sy skouers, die doringkroon op sy hare. Weer trek hy pastelle uit die dosie en teken die purper kleed, die bloed wat oor die gesig loop.

Hy merk nie dat Ruwth langs hom kom staan het nie. Hy word eers van haar bewus toe sy sy naam sag noem.

“Marc …?”

Hy kyk vinnig op en dit duur ’n oomblik voordat haar gesig in fokus kom. Hy kyk weer na die tekening van die gefolterde man. Selfs hy moet na asem snak. Sy stem slaan deur toe hy praat.

“As Hy die Seun van God was, sou Hy Homself nooit so laat verneder het nie. Geen God sou dit toegelaat het nie. Koning van die Jode! Nooit!”

Bokant hulle in die strate van die Ou Stad galm meteens die stem van die muezzin wat die getroues tot gebed oproep. Ruwth antwoord hom nie. Sy slaan haar arm styf om sy skouers wat van emosie ruk en soen hom in sy donker hare, presies soos dié van die Man wat hy geteken het.

Hy protesteer nie toe sy die boek by hom neem en met bewende vingers daarin begin terugblaai nie. Sy kyk geskok na die sketse van die geseling, want die gesig van die man is duidelik dié van Marc self. Sy kyk vlugtig na hom en besef dat hy nie weet wat hy gedoen het nie. “Baruch HaShem Adonai,” prewel sy.

“Wil jy nie asseblief hierdie twee tekeninge vir my gee nie, Marc?”

Hy voel te moeg en natgesweet om verder te praat. Hy knik net en skeur die twee bladsye uit en gee dit vir haar.

Die geroep van die muezzin weerklink nou ook deur die ondergrondse kerker en sy neem Marc aan die arm. “Kom,” sê sy, “ons moet gaan. Dit is nou-nou donker.”

Sy help hom inpak. Hy is wit in die gesig en sy oë donker sodat sy skrik. “Ons gaan eers gou by Abu Shanab koffie drink.”

Buite merk hulle heelwat soldate in groepies staan. Te midde van die gebulder uit die minaret stap hulle met die keisteenstraatjie langs na die restaurant en gaan dankbaar uit die reën na binne. Eers nadat hy ’n koppie sterk koffie gedrink het, kom daar weer kleur in Marc se gesig. Wyslik verwys Ruwth nie na wat nou net by Gábbata gebeur het nie. Sy stel voor dat hulle na die Olyfberg ry waar ’n mens ’n pragtige uitsig oor die Ou Stad het wanneer die son ondergaan.

“Hiervan moet jy ’n foto neem,” sê sy.

Hy glimlag effens meer ontspanne. “Ek moet weer films koop, myne is amper gedaan.”

“Môre is alles weer oop.”

Toe hulle in die Joodse begraafplaas teen die Olyfberg staan, slaan hulle albei hul krae hoog op teen die snerpende windjie. Maar dit het opgehou reën en die stad lê roospienk voor hulle. Die koepel van die Omar-moskee glim in die laaste lig. Instinktief lig Ruwth haar hande in ’n seëngebed, terwyl haar gesig nat word van die trane. “Adonai, Elohim Tzva’ot, seën u heilige stad, seën die plek waar die voete van HaMashiach sal staan, beskerm Yerushalayim vannag, o Ewige.”

Marc beaam haar gebed in sy hart.

“Dit is Oos-Jerusalem,” sê sy, “die gedeelte waarop die Palestyne hul oog het as hulle sê hulle wil die helfte van die stad hê.” Hy knik, kyk na die ongelooflike kleure. Sy kamera klik en klik. Hy stel die telefotolens versigtig in, want hy wil nooit vergeet wat hy nou sien nie. Die son sak en die stad gloei goud.

“Wonderlik, wonderlik,” fluister hy.

“Marc,” bring Ruwth hom terug na die werklikheid, “ons moet gaan, dit word nou erg gevaarlik. Shabbat is aan die uitloop en dis die tyd wanneer die meeste aanvalle plaasvind. Daarom sien jy oral soldate.”

Hulle moet deur ’n Arabiese gebied terugry. Ruwth ry stadig, behoedsaam tussen die baie jong Arabiese mans deur wat in die nou straatjies saamdrom. Marc is opnuut verbaas oor haar moed. Regoor die vinnig donker wordende Jerusalem kan hulle die blou ligte van polisie- en weermagvoertuie sien blink.

“Troos u volk, o Adonai,” hoor hy Ruwth saggies bid. “Wees by David en by Rivkah en haar broer waar hulle hul ook al op hierdie oomblik mag bevind.”

Baie later die aand, nadat Marc lank in sy kamer met sy sketsboek besig was, gaan soek hy na Ruwth. ’n Verskriklike vrees oor Rivkah se veiligheid het hom skielik beetgepak.

Hy kry haar in die studeerkamer waar sy voor die rekenaar sit. Sy draai om toe sy hom hoor inkom en hou haar hand na hom toe uit. “Jy’s yskoud,” sê sy toe sy sy hand in hare voel. “Kom, ek gaan maak vir ons tee, en daar’s nog Shabbat-koek ook.”

“Wat doen jy?” vra hy sag.

Sy sug effens. “Ek skryf elke dag vir jou ma ’n e-pos. Daar is soveel wat ek vir haar wil sê …”

“Reageer sy?”

Sy skud haar kop. “Nog nie. Maar sewe en veertig jaar is ’n baie lang tyd.”

Toe hulle deur die woonkamer na die kombuis toe loop, skakel Ruwth die televisie aan. Hulle steek onmiddellik in hul spore vas toe hulle die aankondiger se stemtoon hoor.

Dit neem nie lank voordat hulle die besonderhede het nie. Vier en dertig mense is gewond toe ’n mensbom homself om halftien in ’n volgepakte kafee in Tel Aviv opgeblaas het.

“Dis die derde soortgelyke aanval binne vier dae,” merk die leser somber op. “Die al-Aksa-brigade het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Moehanan Ibrahim Salahat, drie en twintig, van Nablus het My Coffee Shop op die hoek van King George- en Allenbystraat binnegestap en die plofstof wat aan hom vasgemaak was, laat ontplof.”

Marc en Ruwth kyk verslae na die beeldmateriaal van die eens gesellige restaurant. Die ontploffing het die vensters en ’n gedeelte van die dak weggeskiet. Oral lê tafels en stoele gestrooi, terwyl die geluid van dansmusiek nog gehoor kan word.

“Een persoon is in ’n kritieke toestand,” gaan die somber stem voort, “en daar word op vier ander op die oomblik in die Inclov-hospitaal in Tel Aviv geopereer.”

’n Geskokte David Tishbi sê hy het soos gewoonlik dié Saterdagaand buite die kafee by ’n tafeltjie gesit. “Skielik was daar ’n geweldige ontploffing. ’n Bol vuur en rook het in die lug gehang, en oral was glasskerwe.”

Tishbi, wat deur die glas lig gewond is, vertel dat sy pa sewe jaar gelede in ’n terroriste-aanval op ’n voorstedelike bus gesterf het. “Ek verlaat die land, ek wil nie meer hier bly nie,” sê hy.

Etti Shabar, sewentien, wat in ’n kafee daar naby werk, sê sy en haar vriendin het dadelik buitentoe gehardloop toe sy die ontploffing hoor. “Ons het die geweldige slag gehoor. Alles om ons was vol rook. Ons het gewonde mense om hulp hoor roep, hulle het op die grond tussen die tafels gelê. Daar was bloed orals. Mense het histeries begin hardloop en gil.”

Shlomo Aharonisky, inspekteur-generaal van polisie, kom in beeld en sê hy verwag nie dat daar ’n einde aan die Palestynse aanvalle gaan kom nie. “Ons verwag nog baie meer bomaanvalle en ons stasioneer ons magte so goed as moontlik.”

Hulle is nog voor die televisiestel toe die telefoon lui. Marc sien hoe Ruwth spierwit word, maar haar stem is kalm toe sy antwoord.

Dit is Shoshana wat laat weet dat Ofer ook opgeroep is.

Jy, Jesus, ek sien hulle noem Jou Sar Shalom, Prins van Vrede – maar ek sien nie ’n spoor van jou vrede nie, hier in die land waarheen ek hoor dat Jy terugkom. Jou lyding … ek verstaan nie jou lyding nie. Waarvoor was dit, watse genesing het dit gebring? Moet mense soos Rivkah en Re’uven en David en Ofer daarvoor geoffer word? Was jou offer nie groot genoeg nie. Rivkah. Rivkah. Rivkah. O, God, waar is Rivkah vanaand? Sal alles wat ek liefkry dan altyd verdwyn? Waar is die God van Israel? Sh’ma Yisra’el!

En my ma? Wil sy Mara bly? Wil sy bitter bly?

Israel reeks: Omnibus 1

Подняться наверх