Читать книгу Israel reeks: Omnibus 1 - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 7
Twee
ОглавлениеStellenbosch
Februarie 2002
Laataand lui die selfoon waar dit langs sy esel op die grond lê. Dis sy ma.
“Slaap jy al?” vra sy.
“Anders het ek nie geantwoord nie.”
Sy lag. “Waarmee is jy besig?”
“Waarmee ek altyd besig is.”
“Wat skilder jy?”
Hy was besig om háár te skilder, soos hy haar van sy kleinseuntjiedae af onthou. Hy sê dit nie.
“Dit en dat.”
“Jy skilder nooit net dit en dat nie.”
Hy grinnik.
“Jy was lanklaas hier,” sê sy toe.
“Ek was Sondagaand daar.”
“O ja.” Sy aarsel ’n oomblik. “Marc … daar is iets waaroor ons moet praat.”
“Sê dan so.”
Hy hoor aan haar lag dat sy verleë is. “Hoe lyk dit met brekfis by die Koper Ketel? Jy begin mos nie Woensdae so vroeg nie.”
Dit is dus ernstig. Dit verbaas hom, want hy kry sy ma selde nog te sien as Hannes nie by is nie.
“Dis oukei.”
Die volgende oggend drup die akkerbome nog van die nag se reën terwyl hy onder hulle deurloop.
Sy ma sit al by ’n tafeltjie toe hy inkom. Sy lyk nogal bleek en veral weerloos sodat hy onrustig wonder wat skort.
Maar dis eers toe die kelner hul koffie voor hulle neersit dat sy hom reguit aankyk en sê: “Daar’s iets wat ek vir jou wil vertel.”
“Jy het so gesê.” Hy sien hoe haar vingers om die koppie effens bewe.
“Dis ’n lang storie.”
Sy keel trek toe. “Dis oukei.” Hy hoop sy voel nie sy onrus aan nie.
“Ek weet nie juis waar om te begin nie.” Sy vou die papierservet senuagtig tussen haar vingers.
“Voor.”
“Ja, miskien.” Sy haal diep asem. “Dis so. Ouma Margriet was nie régtig jou ouma nie. Sy was nie régtig my ma nie.”
Vir ’n oomblik vererg hy hom byna. “Maar dit het jy tog al vir my gesê?”
Sy sluk. “Ja, maar daar is meer aan die storie. Oupa … my pa het ’n verhouding met ’n ander vrou gehad. Toe hulle tien jaar getroud was, het hy iemand anders ontmoet.” Sy kyk nie op van haar hande wat ’n patroontjie in die papierservet vou nie.
Marc sien sy oupa voor hom, twee en tagtig jaar oud. En sy ouma met haar silwergrys hare en ligblou oë. Sy wat hy so liefgehad het en wat dood is toe hy sestien was. Hy sê niks nie.
“Hy het begin 1954 ses maande in Duitsland gaan werk en die vrou daar leer ken. Sy … het swanger geraak en wou die baba laat verwyder. Maar hy wou nie. Omdat Ouma nie kon kinders kry nie, het hy besluit om die baba aan te neem. Direk ná die geboorte.”
Marc se keel raak kurkdroog. Sy ma is in Desember 1954 gebore. “Dit was jy?”
Sy knik sonder om op te kyk. “Ouma het ingewillig om dit te doen op voorwaarde dat niemand ooit weet dat hy die pa is nie. Dit moes nes ’n gewone aanneming lyk. Hulle is Duitsland toe vir die bevalling en het twee weke later met die baba teruggekom. Hulle het vertel dat hulle die baba deur ’n agentskap in Londen aangeneem het. Om te sê dat dit in Duitsland gedoen is, sou my pa net te veel aan die baba verbind.”
“En jy?” vra hy byna onhoorbaar sag.
Sy skud haar kop, antwoord nie dadelik nie. Hy sien haar gesig nat word van die trane. Dit drup op haar saamgevuisde hand. Hy lê sy hand oor hare, en sy draai dit om sodat hy dit in syne toevou. Hy voel haar bewe.
“Hulle het my van heel kleins af laat verstaan dat ek aangeneem is, in Londen aangeneem is. Maar niks verder nie. Ek het ook nie belanggestel nie. Ouma Margriet was my ma en ek het ook niemand anders as sy nodig gehad nie.”
“Hoe het jy dan die waarheid gehoor?”
“Vroeër vanjaar toe jy in Parys was en Oupa so vreeslik siek geword het, het hy my hospitaal toe laat kom. Toe het hy my vertel dat hy in werklikheid my pa is. My eie pa.”
Sy begin geluidloos huil en hy hou haar hand styf vas sodat sy langsamerhand bedaar.
“Ek is bly vir jou, Mamma. Dat jy dit weet.”
“Jy sal verstaan dat hy my gevra het om hom te beloof dat ek vir niemand die waarheid sal vertel solank hy nog leef nie.”
“Ek verstaan dit.” Toe roer daar iets vaags in hom. “Hoekom vertel jy my nou, hy leef tog nog?”
“Ek vertel jou oor ek wil hê jy moet weet my eie ma was ’n Duitse Jood.”
“’n Duitse Jood?”
Mara knik. “Hy het haar in 1954 in Duitsland ontmoet. Sy was ’n raadgewende ingenieur by die firma wat hom Duitsland toe gestuur het.”
“Was sy in die Holocaust?”
“Sy was in Bergen-Belsen. Daar het niemand anders van haar familie oorleef nie. Sy was nog nie twintig nie toe die oorlog verby is. Verskriklike dinge het met haar gebeur.”
Marc onthou die film Schindler’s List wat hom so geruk het. Hy dink weer aan sy oupa en aan die Joodse vrou.
“Marc, dis nie die einde van die storie nie,” breek sy ma deur sy warrelende gedagtes.
Hy frons. “Ja?”
“Kan jy iets van Bert se ma onthou?”
“Al wat ek van haar weet, is dat sy dood is toe Bert baie klein was. Bert self het net sy stiefma geken.”
“Nee, hy het goed van sy ma geweet. Marc, sy was ook ’n Jodin. ’n Boerejood, soos die mense hulle daardie tyd genoem het. Van Russiese afkoms.”
Hy kyk haar verstom aan. “Sy was ook ’n Jodin?”
“Sy was. Haar ouers het in die begin van die eeu uit Rusland hiernatoe gevlug. Baie van dié mense het op plattelandse dorpies gaan woon.”
Die werklikheid van wat sy sê, daag vaag tot hom. “Jy sê vir my dat jy en Bert albei Joodse ma’s gehad het.”
Sy haal nog ’n slag diep asem. “Ek sê vir jou dat die Joodse bloedlyn deur die ma loop. Dus was jou pa Bert Joods. En ek is ook ’n Jodin. Jy het volop Joodse bloed.”
Sy mond raak droog. “Hoekom het julle nooit vir my gesê nie?”
“Bert het dit ook maar eers lank ná ons troue eendag teenoor my genoem. Ek bedoel van sy ma. Hy wou nie dat iemand daarvan moes weet nie. Hy het dit as ’n vloek gesien. Sy ma is dood toe hy vyf was en sy Afrikaanse pa het dit nooit op die dorp waar hulle ná haar dood gaan woon het aan die groot klok gehang dat sy eerste vrou Joods was nie. Hy is baie kort ná haar dood met ’n Afrikaanse vrou getroud en die Joodse bloed in die familie is nie iets waaroor daar ooit gepraat is nie. Trouens, hy het Bert blykbaar van kleindag af laat verstaan dat sy andersheid en sy verwyfdheid, soos hy na sy kuns verwys het, die smet van die uitlandse bloed was. Toe dit later jare duidelik word dat hy … homoseksueel is en ons uitmekaar is, het sy pa dit daaraan toegeskryf en hom heeltemal van Bert gedistansieer.”
“Ek onthou dat ons nooit meer van daardie oupa en ouma gehoor het nie. Ek het gedink dis oor jy en Bert uitmekaar is.”
“Hulle het voor die tyd ook nie veel kontak met ons gemaak nie, Marc.”
“Nee, dis waar. Maar jy kon my tóé tog gesê het, ek bedoel, in matriek toe ek agtergekom het Bert is gay.”
“Ja, miskien kon ek, maar ek het nie. Dalk het ek self in my onderbewussyn die sogenaamde smet gevrees.”
Hy sê niks nie.
“Ek is jammer …”
“Dis nie meer belangrik nie, Mamma.”
Hy voel moeg, met ’n vreemde verlange om die jong Joodse vrou met wie sy oupa in Duitsland ’n verhouding gehad het, te teken. Maar ook sy ouma, sy sagte grys ouma, wat die geheim al die jare in haar hart moes dra.
“Van my eie afkoms het ek natuurlik nie geweet nie,” sê sy.
Hy kyk na haar, na die trane wat in haar donker oë skitter, en hy sien vir die eerste keer dat sy ’n Joodse neus het wat by haar donker, kurktrekker-krulhare pas. Hy het haar soveel maal in sy lewe geskilder. Nou begeer sy vingers om haar te teken, weer en weer, met die nuwe wete in haar. En in hom.
“Waarom het jy my nou gesê? Vandag?”
“Omdat jy my Sondagaand vertel het van jou plan om Israel toe te gaan en Baruch se suster op te soek. Maar veral omdat ek nou ná vier jaar sien dat jy Baruch se dood nog nie verwerk het nie. Omdat ek, noudat ek van myself weet, ook verstaan waarom jy aan sy Joodsheid verknog geraak het …”
“Oor ek ook Joodse bloed het,” sê hy baie sag.
“Ook ’n Jood is.”
Buite koer ’n duif verlate in die akkerboom. Voor die venster demp die reën die geluid van die verkeer in die straat. Hy proe aan sy koue koffie en ril.
Sy kyk die eerste keer weer op. “My eie ma woon nou in Israel.”
“Hoe weet jy dit?”
“Oupa het ’n mate van kontak met haar behou. Sy woon al twintig jaar in Israel.”
Hy kyk na haar. Sy sê niks nie. Hy ook nie.
Maar later vra hy tog: “Het jy nie met haar probeer kontak maak nie?”
Sy skud haar kop. “Nee. Waarom sou ek? Sy wou my nie hê nie.”
“Ma-a-a, jy weet tog wat haar omstandighede was …!”
“Sy wou my nie hê nie.”
Ná ’n rukkie vra hy: “Sal jy omgee as ek na haar gaan soek?”
“Dis jou saak.”
“Sal jy vir my die adres kan kry?”
“Ek dink jy moet dit self vir jou oupa vra.”
“Maar… jy het gesê hy wil nie hê enigiemand moet weet nie.”
“Ek weet, maar ek het die gevoel hy sal verstaan hoekom ek vir jou gesê het.”
Dit neem hom ’n paar dae om genoeg moed bymekaar te skraap. Maar toe gaan hy tog.
Sy oupa sit in die rommelrige studeerkamertjie van sy woonstel in die aftreeoord iets en lees toe Marc daar aankom.
“Jy!” sê die ou man bly toe hy die deur vir hom oopmaak. “Dis ’n verrassing, hoor. Jy laat mos altyd weet as jy kom.”
“Maar dié keer het ek nie.”
Die ou man frons. “Beslis nie. Maar ek is bly jy’t gekom. Nou kom sit. Kan ek vir jou iets ingooi om te drink?”
“Wat drink Oupa?”
“Rooiwyn.”
“Asseblief, ja – ’n kleintjie.”
“Rooi of wit?”
“Rooi, dankie.”
Toe hulle sit, vra Lucas: “Iets pla jou, Marc. Of lyk dit maar so?”
“Mamma het my vertel van haar Joodse afkoms.”
Die ou man kyk vinnig op, toe stoot hy sy vingers deur sy yl, grys hare, skud sy kop. “Ek het haar gevra om dit nie te doen nie.” Maar hy klink nie kwaad nie.
“Weet jy dat my pa ook ’n Joodse ma gehad het?”
“Mara het my vertel. Ek veronderstel dat dit daarom ook nodig was vir jou om van haar afkoms te weet.”
Dit word stil tussen hulle. In die woonstel langsaan kan hulle die deurdringende stem van ’n televisienuusleser hoor.
“Hoekom het jy gekom, Marc?”
“Ek gaan volgende maand Israel toe.”
“So het ek verneem.”
“Ek wil Baruch se suster opsoek.”
Sy oupa knik.
“En as dit moontlik is, hierdie vrou ook.”
Lucas skommel die wyn in sy glasie, hou dit teen die lig van die leeslamp op, kyk lank daarna. “Hoekom wil jy haar gaan opsoek, Marc?”
“Is dit so vreemd, noudat ek weet dat sy my bloedfamilie is?”
“Nee, seker nie.”
“Maar lank voor dit wou ek meer van Baruch se agtergrond weet. Van sy Joodsheid, bedoel ek.”
“Baruch was die beeldhouer?”
Hy knik.
“Hy het verongeluk.”
Dis nie ’n vraag nie, net ’n stelling. Sodat Marc niks sê nie.
“Dit was ’n moeilike jaar vir jou, jou matriekjaar.”
Marc kyk hom verras aan. “Jy het dit geweet?”
Lucas drink van sy wyn. “Jy is al kleinkind wat ek het, ek hou jou fyner dop as wat jy dink. Daardie jaar het hulle jou uit die kunsskool gehaal oor jou werk so fenomenaal is en jou by die twee kunstenaars daar by Blaauwklippen laat klasloop. Baruch en …?”
“Simon.”
“Simon. Hulle het jou met naaktekeninge laat begin, en dieselfde tyd het jou ma jou vertel dat jou pa homoseksueel was, nie waar nie?”
“Ja,” sê hy, en sy stem klink vreemd.
“Toe verongeluk Baruch. Die een met wie jy so ’n hegte verhouding opgebou het. Net daarna is jou ma en Hannes toe getroud. Moeilike dinge, moeilike tye. Alles het so vinnig ná mekaar gebeur.”
Hy knik weer, kyk af op sy hande.
“En die donkerkopmeisietjie …?”
Marc se oë vlieg op en sonder dat hy daarvan bewus is, vorm sy lippe haar naam. Nicola.
“Vir haar was jy lief?”
“Hoe weet jy van haar?”
“Een Sondagmiddag het ek julle twee in die tuin by die kerk op die gras sien lê en praat. Ek het daar verbygeloop en jou gegroet, maar jy het niks gehoor of gesien nie.”
“Dit was vier jaar gelede,” sê Marc stil.
“Net soos vir Baruch het jy haar nie vergeet nie?”
“Nee.”
“Is dit oor jou Joodse wortels dat jy Ruwth wil opsoek, Marc? Of oor jy die vrou wil sien vir wie ek eenmaal so lief was dat ek byna alles vir haar oorboord sou gooi?”
“Beide.”
“Jy is eerlik. Ek sal jou met die adres vertrou.”
Hy staan moeisaam op en stap na een van die baie rye boekrakke wat die studeerkamertjie verdwerg. Hy haal ’n boek uit en kom terug na die lessenaar toe. Marc hou hom dop terwyl hy ’n adres op ’n los vel papier skryf voordat hy die boek weer toemaak en op dieselfde plek in die rak skuif.
“Het jy haar nog lief?” vra Marc toe hy die vel papier by hom neem, opvou en in sy jekker se sak druk.
Die ou man glimlag. “Kyk, Marc, as ’n mens tagtig verbygesteek het en vyftig jaar met dieselfde vrou getroud was, het jy niemand meer as vir haar lief nie. Maar vyftig jaar is ook nie te lank om te onthou hoe jy eenmaal iemand anders óók liefgehad het nie. Beantwoord dit jou vraag?”
“Het sy soos Mara gelyk?”
“Sy het soos Mara gelyk, ja, sy het soos Mara gelyk. Klein en donker en baie mooi.”
“Sy is my ouma …” sê Marc sag.
“Sy is jou ouma.” Hy sug.
“Hoekom het jy teruggekom?”
Hy neem die bottel rooiwyn en vul Marc se glas aan, maak toe sy eie vol. “Ek het ’n vrou hier gehad.”
“Het jy nie daaraan gedink toe jy …?”
“Ek hét daaraan gedink, maar ek was roekeloos verlief.”
“En sy?”
Hy sit lank stil voor hom en uitkyk, vereelte vingers van albei hande om die glas gestrengel. “Byna twee jaar lank het een van die hoë Nazi-offisiere haar as sy persoonlike … prostituut aangehou. Dis hoekom sy nie in die oonde beland het nie. Sy was so jonk toe. Miskien was ek vir haar ’n soort vaderfiguur, want toe ek haar ontmoet het, was sy nog so stukkend. Ek het haar misbruik …” Hy beduie met sy een hand. “Toe sy swanger word, wou sy die kind laat aborteer. Sy het al van die kampoffisier ’n aborsie gehad. Maar ek wou iets van haar met my saamneem.” Hy kyk meteens reguit na Marc. “Ek is nie die held van die storie nie, Marc. Margriet, wat my én die kind geneem het, is.”
“Jy en Ruwth het kontak behou?”
“Ja. Ek het haar van Mara vertel en later van jou. Margriet het nie daarvan geweet nie. Die briewe gaan een of twee maal per jaar deur my prokureur. Sy woon die afgelope twintig jaar of wat al in Israel.”
“Is sy getroud?”
“Ja,” sê hy. “Sy het twee seuns. Haar man is jare gelede al dood. Toe het sy Israel toe gegaan.”
“Jy het haar nooit weer gesien nie?”
Lucas skud sy kop. “In Mara sien ek haar altyd weer.”
“Ek sal haar gaan soek.”
“Sy is nou ses en sewentig.”
“Ek sal gaan.”
Lucas sug. “Jy moet doen soos jy goeddink, Marc.”
“Wil jy vir haar iets laat weet?”
Sy oupa glimlag effens. “Net dat ek dankbaar is teenoor haar vir my dogter en my kleinseun.”
“Goed dan.” Hy staan op om te gaan, maar Lucas bly sit.
“Die meisie, Marc, wil jy my van haar vertel?”
“Daar is nie iets om te vertel nie.”
“Dit kan ek beswaarlik glo.”
Hy tik met sy vinger teen die aardbol wat op sy oupa se lessenaar staan en dit begin stadig draai. Toe hy klein was, het hy hom altyd daaraan verwonder.
“Sy het besluit dat ek nie die een vir haar is nie.”
“Wie is dan?”
“Simon.”
“Simon! Hoe het jy dit agtergekom, my liewe kind?”
“Ek het ’n olieverf gesien wat hy van haar gemaak het.”
“En dit het alles gesê?”
“Dit was ’n naakskildery.”
Die ou man knyp sy oë ’n oomblik styf toe. “Dit moes erg gewees het.”
“Sy het vir my gesê sy sal nooit vir iemand naak poseer nie. Maar ’n paar weke later het sy dit vir hom gedoen. Ek was net ’n skoolseun op ’n fiets wie se kuns haar ’n paar maande lank geamuseer het.”
Sy oupa skud sy kop. “Alles gelyktydig.”
Marc gaan sit weer. “Dit het my gedwing om te soek na dit wat betekenis het en dit wat betekenisloos is.”
“Wat het jy gevind, Marc?”
Hy dink lank voordat hy antwoord. “Dat al wat goed is uiteindelik in God gesetel is. Maar …”
Lucas wag.
“Dat ek Hom eintlik nie ken nie. Hom as Persoon. Altans, nie soos Baruch Hom geken het nie.”
“Jy het met Baruch oor God gepraat?”
Hy knik.
“Raar in kunstenaarskringe, is dit nie?”
“Vir seker.”
“Hy is in Israel gebore?”
“Ja.”
“En die Joodse bloed in jou is so sterk dat jy nou Israel toe wil gaan?”
“Ek weet nie of dit dít is nie. Ek weet net ek wil gaan.” Hy staan weer op.
Dié keer kom Lucas ook orent. Hy lê sy hand swaar op Marc se skouer. “Mag jy vind wat jy soek. Mag God jou genadig wees, Hy het jou so ’n wonderbaarlike talent gegee.”
“Dankie,” sê Marc sag.
“Moenie dieselfde foute as ek maak nie. ’n Mens maai jou lewe lank aan dit wat jy gesaai het, Marc.”
“Ek is bly ek het gekom.”
Lucas druk Marc ’n oomblik teen hom vas. “Mag die Here God jou seën,” sê hy bewoë.