Читать книгу Israel reeks: Omnibus 1 - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 6
Een
ОглавлениеJerusalem
Maart 2002
Marc kyk verwonderd toe terwyl ’n goue waas langsaam oor die stad kruip. Teen die massiewe klippe van die Klaagmuur begin diep skadu’s opklim. Die graspolle wat uit die gleuwe groei, staan donker afgeteken. Uit die grond slaan die geur van die komende aand al op. Die son het weggeraak en die Omar-moskee se koepel gloei in die verdwynende lig.
“Shabbat shalom!”
Tussen die mense wat deur die ingange oor die klipplaveisel stroom, klink die groet voortdurend op. Sag soos die lig waarin die laatmiddag gebaai is. Ou mans, wit baard op die bors, in swart hoed en manel gaan langsaam verby. Sommige is druk in gesprek gewikkel, beduie met hul hande. Ander het ’n huppelende kind aan die hand. Seuntjies van alle groottes met kalotjies op die kop, baie met kortgeskeerde hare en lokke voor die ore, skarrel tussen die mense deur. Hul skril stemmetjies vul die goue lug. Mans in wit oopnekhemde, donker broeke en swart fluweelkalotjies op die kop, meesal met baarde en sylokke, stoot kinderwaentjies deur die vrolike geroesemoes. Die meeste vroue, soel lenteweer ten spyt, dra langmousomerrokke, swart kouse, en is byna almal met hoofbedekkings. Pa en Ma het kleuters aan die hand, terwyl kleintjies van alle groottes agterna drentel. Saam loop die gesinne tot waar mans en vroue skei om na hul onderskeie afdelings by die Muur te gaan. Pa’s en oupas neem die seuns met hulle saam, party so klein nog dat hulle skaars kan loop.
Hier en daar gewaar Marc mans met swaar baarde, pelshoed op en met ’n gebedsjaal om die skouers, in goudkleurige jasse geklee. Maar die groot meerderheid het swart manelle by donker broeke en wit oopnekhemde aan, en ’n swart breërandhoed op die agterkop. Heelwat jong mans in strak, donker manel en broek, swart breërandhoede, sylokke swaaiend in die wind, haas hulle verby. Maar hy merk ook tussendeur mans in gewone drag met gekleurde kalotjies op. Meesal met blou- of swart-en-wit gebedsjaal oor die skouers. Met lang geknoopte klossies aan die some.
’n Lang, skraal man in gewatteerde manel en swart pelshoed kom met sy dogtertjie aan die hand aangestap. Die kind se donker krulhare vorm ’n skerp kontras met haar ligte vel. Sy het vreemde diepblou oë. Hulle vorm ’n wonderlike mooi kamee in die boaardse lig. Marc klik sy kamera vir die soveelste keer oop.
“No pictures! Please! Shabbat!”
Marc skrik. Hy het nie die jong vrouesoldaat sien aankom nie. Sy staan nou dreigend voor hom. Belaglik tenger in haar olyfgroen uniform met die koeëlvaste jekker, geweer oor die skouer.
“You’ve taken many. I have watched you. On Shabbat no pictures here. I’ll confiscate your camera.”
“I’m sorry,” sê hy verleë, “I didn’t know.”
Sy begin wegdraai, maar gaan staan dan. “You’re from South Africa?” vra sy.
Hy kyk haar verwonderd aan. “How did you know?”
Sy wys na die sak by sy voete waarop ’n brawe Suid-Afrikaanse vlaggie afgedruk is.
“You knów this flag?”
“I lived there for a time.” Sy wys weer met ’n dreigende vinger na hom. “No more pictures, yes? It’s very disrespectful.”
“I’m sorry,” sê hy weer.
Sy glimlag effens. “Okay.”
“You lived in South Africa?”
“Only for two years, between 1994 and 1996. My father was sent there … on business. I went to school there for that time.”
“You liked it?”
“Terrific land. Very violent in those years.”
“More so now.”
“I believe so.” Sy stoot haar baret effens na agter. “Sorry, I’m Rebecca.”
Hy knik. “Marc.”
“Hi! So, what are you doing in Israel at this terrible time?”
Hy glimlag verleë. “I’m not sure. I just felt I wanted to come.”
Sy kyk hom ’n oomblik stip aan. “I hope you know what you’re doing.”
“Sure.”
“Take care, then.”
Hy knik. “I’m from South Africa, I know.”
“This is a different situation. Quite different. Be sure you know where you go. Stay out of the shopping malls and off the buses.”
“I’ll take care. I’ve been watching the media, so I have an idea what’s going on.”
Sy skud haar kop. “Don’t depend on the media to supply you with the truth about Israel.”
“No?”
“No.”
“Rivkah!”
Daar word van die ingang af geroep.
“I must go, I’m actually on duty. Take care, please!”
“I promise.”
Sy loop weg en die Kalatsjnikof swaai teen haar tenger figuur. Lang, donker hare klots onder die baret uit in ’n vlegsel oor haar rug. Hy wonder waarom sy gesê het haar naam is Rebecca as hulle ’n ander naam van die hek af geskree het.
By die Muur het die mense in groot getalle toegeneem. Swart soos miere teen ’n stroopblik vertoon hulle. Oral tussenin sien Marc goed wat soos wit vierkante lyk. Hy haak sy sak oor sy skouer en stap gefassineer na die afskorting wat die toeskouers en die aanbidders van mekaar skei. Daar staan al heelwat mense saamgekoek, maar hy wurm sy pad versigtig tussen hulle deur tot hy voor teen die traliewerk te staan kom. Wat soos wit vierkante gelyk het, is die blou-en-wit gestreepte gebedsjaals wat party mans soos tabernakels bo hul koppe hou. Ander het dit oor hul koppe gegooi sodat hul gesigte onsigbaar is; hier en daar steek net die punt van ’n baard uit. Party het dit oor hul skouers gedrapeer. Tussendeur dobber honderde koppe met kalotjies, meesal swart, maar ook wit-en-blou met patroontjies om die rand, of anderskleurig. Teen die muur wieg ander ligweg heen en weer in gebed versonke, swart gebedeboekies in die hand. Party se gesigte is teen die stene aangedruk. Hy sien twee mans met hul arms uitgestrek teen die massiewe klippe besig om te bid. Asof hulle gekruisig is. Aan die vrouekant is die meeste se hare met hoede of doeke bedek. Daar is ook vroue in weermaguniforms en sommige met babas in drasakke teen hul bors. ’n Geruis van stemme rimpel soos ’n sagte wind deur die skare.
Die toneel ontroer Marc. Dit stuur ’n vreemde gewaarwording deur sy lyf. Vlak teen die afskorting voor hom trek iets sy aandag. ’n Ou man, wit baard en hare, gebedsjaal oor sy kop, buig oor ’n seuntjie wat na hom opkyk. Die kind kan nie ouer as vyf wees nie, sy oë is donker, swart haarlokke krul langs sy gesiggie. Hy kyk sy grootvader vraend aan, sê iets wat Marc nie kan uitmaak nie. Die ou man se gesig verkrummel, hy trek die seuntjie se kop met bewende hande teen hom aan. Marc sien hoe die trane oor sy verweerde gesig begin loop, terwyl hy die kind in sy arms wieg.
’n Skreiende verlange kom in Marc op, so hewig dat dit voel asof hy daarvan steier. Hy ken geen naam daarvoor nie. Hy weet van net één manier waarop daar vir hom verligting sal kom.
Hy maak hom uit die mensegewoel los en gaan terug na waar hy vroeër agter op die muurtjie gesit het. Die goue lig het rosig geword. Marc haal sy sketsboek en houtskool uit sy sak. Hy huiwer nie, met seker hale teken hy die ou man en die seuntjie. Hy weet nie dat sy eie gesig nat is van die trane nie. Hy teken die figure teen die Muur. Die vele gesigte, baarde, neuse, kalotjies, gebedsjaals. Hy teken die versierde Tora-rolle, die wit-en-blou Ster van Dawid op die doeke oor die tafels. Skraal figure, bleek gesigte in swart manelle, sylokke, breërandhoede. Die lang man met manel en pelshoed, met die dogtertjie aan sy hand. Die kleure van die aandlug op die ruwe rotsblokke. Maar weer en weer die kind by sy grootvader, die ou man se huilende gesig, sy hande op die seuntjie se rug. Dit word so donker dat hy skaars kan sien wat hy doen, maar hy kom dit nie agter nie.
“You’re an artist!”
Hy kyk verskrik op. Die meisie Rebecca staan voor hom. Hy kyk haar spraakloos aan, nog vasgevang in die vreemde, dwingende verlange.
“Dis donker,” sê sy op Engels, haar stem sag van verwondering toe sy op sy werk afkyk. “Jy kan nie meer sien nie.”
“Ja,” sê hy en maak sy sketsboek met bewende vingers toe. Sy mond is droog.
“Mag ek kyk?”
Hy huiwer.
“Asseblief.”
Dit het inderdaad donker geword, ligte het oral aangegaan. Mense het by hom verbygeloop, terug, sonder dat hy dit besef het. Hy voel nou die sweet aan sy hemp en in sy hare, ten spyte van die koue lug wat uit die klippe opslaan. Hy kyk op na die meisie. Sy het baie donker oë en ’n sagte, vol mond.
Hy hou die sketsboek na haar toe uit.
Sy gaan sit langs hom op die muurtjie en begin versigtig deur die boek blaai. Hy kyk na haar dun vingers en die lig van die hoë lampe teen die kant van haar gesig. Hy voel moeg.
Sy skud haar kop vir ’n lang ruk voor sy praat. “Ongelooflik.”
Hy neem die boek weer by haar en sy laat dit onwillig gaan.
“Jy was aan diens,” sê hy.
Sy knik. “Ek is klaar, dis al halfagt.”
“Rebecca,” sê hy ingedagte.
“Dis reg.”
“Maar dit was ’n ander naam wat hulle van die hek af geroep het.”
Sy glimlag effens. “Rivkah. Dis Hebreeus vir Rebecca.”
“Rivkah,” herhaal hy.
Sy knik.
Hy kyk op na haar soos een wat droom. “Weet jy waar ek ’n bus kan kry na my hotel toe?”
“Jy sal nie ’n bus kry nie. Busse hou op Shabbat smiddae vieruur op met ry.”
“Ja?”
“Ja. In watter hotel is jy?”
Hy soek in sy sakke na ’n kaartjie van die hotel en hou dit na haar toe uit. Sy kyk daarna. “Dis nie ver van die Ou Stad af nie. Jy kan terugloop. As jy deur die Jaffa-poort gaan.”
“Jaffa-poort?”
Sy moet lag. “Wanneer het jy gekom?”
“Vanoggend.”
“Hoe’t jy hiér gekom?”
Hy dink ’n oomblik na. “Die hotel se bussie het my by een van die stadspoorte afgelaai.”
Sy skud haar kop. “Het jy al geëet vandag?”
“Ek … Ja, vanoggend voor ek uit Tel Aviv weg is.”
“Jy was in Tel Aviv?”
“Ja, ek het Woensdagaand aangekom en tot vanoggend by ’n kennis oorgebly. Vanmiddag met die sherut Jerusalem toe gekom.”
Sy knik begrypend. “Miskien is dit goed as jy iets eet.”
Hy kyk na haar en vir die eerste keer glimlag hy, en dis asof hy uit sy droomtoestand terugkom. “Miskien.”
“As jy wil, kan ek jou gaan wys waar die lekkerste shawarmas en falafels in die Arabiese buurt is.”
“Arabiese buurt?”
“Dis Shabbat, jy sal niks oop kry in die Joodse buurt nie,” verduidelik sy geduldig.
“Sal jy saam met my eet?”
“Hulle wag vir my met Shabbat by die huis.”
“Is jy nie haastig nie?”
“My broer is nog tot nege-uur aan diens, ek wag vir hom.”
“Jy het gesê die busse ry nie.”
“Ons loop.” Sy kyk op haar horlosie. “Kom, ek gaan wys jou waar die shawarmas is.”
Hy sit sy sketsboek versigtig terug in sy sak. “Ontferm jy jou altyd oor vreemdelinge?”
“Ek wil hoor van Suid-Afrika. Het jy al jou geld vir shekels omgeruil?”
“Ek het bietjie gehad, maar ek het dit alles in Tel Aviv en vir die sherut gebruik.”
“Wat het jy, reisigertjeks?”
“Dollars.”
“O, oukei. Ek sal jou sommer na ’n Arabier toe neem wat dit vir jou sal omruil. Hy’s veilig.”
Hulle begin teen die breë trap opklim wat na die Joodse buurt toe lei. Haar kop raak skaars aan sy skouer.
“Ek weet nie meer wat jou naam is nie,” sê sy.
“Marc.”
“Marc,” herhaal sy, en sy naam klink vreemd in haar aksent.
“Wat het jy gesê gaan ek eet?”
Sy lag. “Shawarmas of falafels.”
“Wat’s ’n falafel?”
“Jy sal sien.”
Hulle sit later op ’n muur naby die Jaffa-poort en Marc eet die falafels wat hy op haar aanbeveling by die Arabier gekoop het. Hy is honger genoeg vir twee. Dit smaak voortreflik.
“Ek voel sleg dat ek alleen sit en eet.”
“Jy hoef nie. Ons koop nie op Shabbat nie.”
“En as ek nou vir jou dié granaat gee?” Hy beduie met sy ken na die drie granate wat hy op die muurtjie neergesit het en waarna hy haar verlangend sien kyk het.
Sy aarsel ’n oomblik, toe neem sy een.
“Jou werk is stunning,” sê sy.
Hy kyk na die buitelyne van die stadsmuur wat donker afgeteken teen die naghemel staan. ’n Sekelmaan hang skuins bokant.
“Waarom het party van die mans pels om hul hoede en ander nie?” vra hy asof hy haar nie gehoor het nie en beduie na ’n man wat juis verbygeloop kom met sy gesinnetjie skarrelend om hom heen.
“Dis vir Pesach.”
“Sorry, wat’s dit?”
“Pesach begin Dinsdag. Pase.”
“Natuurlik. Ek het eintlik nie so daaroor gedink nie. Julle hou dit seker nogal … anders as wat ons dit doen. Ek bedoel nou ons Paasfees …?”
Sy breek die groot, rooi granaat, wat hy by ’n vrugtestalletjie langs die een met die shawarmas en die falafels gekoop het, behendig oop. Marc sien die geil pitte in die straatlig blink. Dit vlek haar vingerpunte rooi.
“Wil jy regtig weet, of vra jy dit nou uit beleefdheid?”
“Ek is nie heeltemal só beleef nie.”
Sy grinnik, hap ’n mondvol pitte en kou dit lustig. “Pesach is ’n fees van die voorjaar. Soos nou, Nissan. Dit duur agt dae lank en dis om ons te herinner aan Israel se verlossing uit slawerny in Egipte. Pesach is nie ’n opsigselfstaande fees nie. Dit is tegelyk ook die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brode. Alle suurdeeg word uit die huise en winkels verwyder, en ons eet vir die hele tydperk net matzah. Daar mag nie ’n stukkie suurdeeg in ons huise gevind kan word nie.”
“Dis anders as hoe ons Pase vier.”
“Ek weet,” sê sy. “Ek neem aan jy is ’n Christen en dis soos julle maak. Maar ons maak soos HaShem ons in die Tora beveel het om te doen.”
“HaShem?”
“Meester van die Heelal, Ribono Shel Olam.”
“God?” vra hy steeds onseker.
Sy knik.
“Vier alle Jode dit?”
Sy skud haar kop, breek nog pitte uit die taai, rooi skil en druk hulle in haar mond uit. Haar lippe raak rooi van die sap. Sy kyk nie op terwyl sy praat nie. “Nie álle Jode nie, maar verreweg die meeste. Al het dit by baie nie veel meer as ’n leë tradisie geword nie. Maar nou … met al die ellendes wat ons tref, gaan baie Pesach in ’n ander lig begin sien. Ek is seker daarvan.”
So mooi is sy dat sy vingers jeuk om haar te teken. Onder die stadsmuur wat oor haar toring, by die lig van die straatlamp. In die swart hare wat uit haar vlegsel losgekom het en om haar gesig krul, sien hy sy ma. Sy hart pyn daarvan.
“Vier jy dit nog op die tradisionele manier?”
Toe kyk sy op. “Ek is Ortodoks, Marc. Ek het met hierdie dinge grootgeword. Vir ons het Adonai se voorskrifte nie verander nie.”
“Adonai beteken Here?”
“Dis reg.”
“Dis ’n pragtige woord.”
Sy kyk hom bietjie verwonderd aan. “Is jy ’n gelowige?”
Hy maak ’n vae gebaar met sy hand en vra: “Jy sê jy is Ortodoks?”
“Sê maar eerder modern-Ortodoks. Nie ultra-Ortodoks nie. Dié is baie strenger en volg hoofsaaklik die reëls van die Talmoed. My pa is ’n rabbi en my broer is ’n argitek.”
“Later moet jy my sê wat die verskil is tussen die Tora en die Talmoed.”
“Later, baie later.” Sy lag. “Dis ’n lang storie.”
“Wonderlik,” sê hy sag.
Sy kyk verwonderd na hom. “Waarom is jy eintlik in Israel?”
’n Tipies ultra-Ortodokse gesin kom oor die keisteenstraat aangestap. Die pa stoot ’n kinderwaentjie, aan elke kant loop twee kleuters, sy vrou is hoogswanger. Sy hou aan sy arm vas. Hy buig af na haar om met haar te praat. Sy beduie na iets op die stadsmuur, hulle bly ’n oomblik staan om daarna te kyk. Toe kyk hulle na mekaar en lag.
“Waarom dra party sulke opgestopte jasse?”
“Hierdie kom uit Rusland.”
“Wonderlik,” sê hy weer sag.
“Ek het gevra wat jy eintlik hier kom maak het. Jy met jou baie vrae.”
“Dis ook ’n lang storie.”
“Te lank vir vanaand?”
“Ek dink so.”
“Jerusalem is ’n hemel vir kunstenaars.”
Hy knik. “Kan ’n modern-Ortodokse ook ’n soldaat wees?”
Sy kyk na hom. Haar mond blink van die granaatpitte wat sy geëet het.
“Vir seker. Veral die mans. Maar nie altyd in gevegseenhede nie en nie baie vroue nie. Hoewel party wel daarin dien.”
“En jy dan?”
Sy lag. “Ai, Marc, dis moeilik om dit alles vir ’n buitestander te verduidelik. Soos ek sê, ons is wat hulle noem modern-Ortodoks. Ons dra moderne klere, juwele, ensovoorts, maar ons onderhou die Tora en vier die Shabbat. Ons verdra die meeste ander vertakkings van Judaïsme, met die uitsondering van die Messiane. Ons is Sioniste, maar nie so geesdriftig soos die tradisioneel-Ortodokses nie. Hoewel ek moet sê ek voel persoonlik diep saam met hulle wat die settlements op die Judese heuwels betref, en ek dink sterk daaraan om, wanneer ek gekwalifiseer het, daar te gaan bly.”
“Settlement?” Marc voel soos die spreekwoordelike vreemdeling in Jerusalem.
“Die nedersettings in Samaria en Judea, die sogenaamde Wesoewer en Gasa. Jy sal nog baie daarvan hoor as jy ’n tydjie hier bly. In die begin is dit vreeslik verwarrend.”
“Maar ek het op televisie gesien dat die helpers gewoonlik lyk asof hulle Ortodokse Jode is waar daar selfmoordbomaanvalle was … ek bedoel met die swart kalotjies …”
“Kippah,” help sy.
Hy knik erkentlik, “… en baie keer baarde.”
“Hulle is ook ultra-Ortodoks. Ja,” sy sug effens, “hulle is die hedendaagse Fariseërs waarvan jy in jou B’rit Chadashah, jou Nuwe Testament, lees. Hulle beoefen Rabbynse Judaïsme, deurspek met Kabbalah, en leef volgens die strengste godsdienstige voorskrifte. Jy sal hulle gewoonlik herken aan hul swart hoede en jasse, vol baarde, peyot,” sy beduie, “sykrulle. Soos jy sien, lyk hulle letterlik asof hulle net so uit die Middeleeue gestap kom. Hulle versorg die … liggame. As dié wat gesterf het miskien ultra-Ortodoks sou wees, mag niemand anders aan hul liggame raak nie.”
“Dis verskriklik, dié soort aanvalle. Ek kan dit nie verstaan nie.”
Haar gesig verstil. “HaShem praat met Israel,” sê sy byna onhoorbaar sag.
Dit word stil tussen hulle. Die wind het koud geword en sy ril effens, trek die uniformkraag teen haar wang op.
“Rebecca … Rivkah,” sê hy ingedagte.
“Rivkah is beter,” sê sy en kyk op haar horlosie. “Re’uven sal nie weet waar ek is nie.”
“Re’uven?”
“My broer.”
“Is jy die hele naweek aan diens?”
Sy skud haar kop, keer die laaste pitte van die granaat uit haar bakhand in haar mond om. “Ek is eintlik nie aan diens nie, ek het net vanaand in ’n vriendin se plek gewerk. Haar broer is gister in die busbom ernstig beseer. Ek begin eers weer Sondagoggend tienuur.”
“O.”
Sy takseer hom vir ’n oomblik. “As jy wil, kan ek en Re’uven jou môreaand iewers kry, dan kan ons bietjie gesels en iets doen. Hy sal ook graag weer van Suid-Afrika wil hoor. Hy het ’n paar maal vir ons kom kuier toe ons daar was. So ná ses wanneer Shabbat verby is …?”
“Wanneer begin die Shabbat?”
’n Sagte trek kom om haar mond, haar stem kry ’n singerige toon. “Vrydagmiddag laat. Erev Shabbat. Dan lê jy jou pen neer, skakel jou rekenaar af, trek jou winkel op slot. Teen sesuur sê jy: Ribono Shel Olam, hier is ek, ek gaan u rus binne. Dan omvou Hy jou met die mantel van Shabbat-vrede en jy sing Shabbat shalom.”
Daar gaan ’n ligte bewing deur Marc. Hy dink aan die toneel vroeër die aand by die Klaagmuur en sy oë skiet magteloos vol trane. Sy sien dit. Hulle staan ’n paar oomblikke stil langs mekaar.
Toe vra sy sag. “Sal ons jou môreaand by jou hotel ontmoet?”
“Baie graag.”
“Sewe-uur?”
“Absoluut.”
Haar oë vertroebel effens. “Daar is dikwels aanvalle net ná Shabbat.”
“Ja?”
Sy knik. “As een van ons of ons albei dalk opgeroep word … hoe kan ek jou laat weet?”
Hy haal sy selfoon uit sy sak. “Ek het dié saamgebring.”
“Goed so. Laat ek die nommer afskryf.”
Sy maak so.
“Baie dankie dat jy my gehelp het met kos en om my geld om te ruil.”
“Plesier. Dankie vir die granaat. Sal jy jou hotel kry?”
“Ek is seker. Ek het ’n kaart hier.”
“Laat ek vir jou wys. Dis nie ver nie.”
Hy vou die kaart oop en sy teken met haar pen hoe hy moet loop.
“Oukei?”
“Ek sal dit kry.”
“Sien jou môreaand. Laila tov.”
“En dit is?”
“Goeienag.”
“Hier. Neem dié twee granate ook.”
“O, dankie!”
“Laila tov, Rivkah.”
“Wees versigtig, Marc. Bly uit die Ben Yehudawinkelsentrum daar naby jou hotel. Daar was die laaste ruk al ’n paar selfmoordbomaanvalle. Bly asseblief weg daar. Loop ook vinnig met Jaffastraat langs, daar is Donderdagaand drie mense dood en heelwat beseer.”
“Ek belowe.”
“Asseblief.”
Toe wuif sy en hardloop oor die klipstraat van die Ou Stad af weg, haar geweer klotsend teen haar rug.
Hy merk hoe twee jong Arabiere, wat daar naby staan en gesels het, omdraai en haar stilswyend agterna kyk.