Читать книгу Israel reeks: Omnibus 1 - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 14

Nege

Оглавление

Sondagmôre laai Ruwth hom op sy versoek by die Sionspoort af sodat hy deur die Joodse buurt self sy weg na die Kotel kan vind. Hy is nie gerus oor haar nie, want sy ry alleen Netanya toe vir haar twee vriende se begrafnis. Met Ofer sowel as David opgeroep, het sy nie gedink ’n begrafnis van bomslagoffers was die beste plek om Shoshana en Binyamin heen te neem nie. Hulle hou mekaar styf vas toe hulle by die poort afskeid neem en sy bid saggies die beskerming van Adonai oor hulle albei.

Voordat hy uit die motor klim, raak sy aan die kippah wat hy nou gereeld dra. “My langverlore kleinseun, God seën jou!” sê sy sag.

Dis steeds baie koud en af en toe sak daar swaar buie reën uit. Ook in dié buurt is weermag-teenwoordigheid baie sigbaar. Dit raak Marc diep om te sien hoe jonk die soldate is en sy gedagtes is nooit ver van Rivkah af nie. Hy klim op die stadsmuur om van bo af op die Joodse buurt af te kyk en sy bors brand van emosie. Wanneer die son agter die donker wolke verdwyn, lê die buurt in bloupers skadu’s onder hom. Op plekke raak dun strale lig die mure en platdakhuise aan sodat dit rosig verkleur. Oral tussenin glim die klein koepels van sinagogedakke in die halflig wat die omringende bome en struike byna swartgroen kleur.

Marc teken koorsagtig met houtskool, skakeer roekeloos met pastel sodat hy begin vrees die pastelle raak gedaan voordat hy ’n plek kry om nuwes te koop. Meteens breek die son deur die wolke en die buurt, geheel en al uit Jerusalemsteen gebou, raak goudbruin voor sy oë. Hy skets verwoed, skakeer, kleur in, teken ferm donker lyne, vee skadu’s met sy voorvinger in. Hy teken die venstertjies, die groen-swart van die sonkragpanele op die dakke, die vreemde wit van sinagoge-koepels, boë bokant ingange, afwisselende rooibruin teëldakke. Die kaal bome wat hier en daar spinnerakagtig teen die geboue geteken staan en fyn skadu’s oor die keisteenstraatjies werp. Hier en daar fladder wasgoed hoopvol in die koue bries. ’n Paar swartgeklede figure beweeg in die hoofsaaklik verlate stege. Hy haal byna met moeite asem.

Langsamerhand word hy bewus van ’n ander teenwoordigheid. Toe hy opkyk, sien hy die man – ’n Ortodokse Jood in sy vroeë dertigerjare wat stil na hom staan en kyk. Hy het ’n donker broek en baadjie aan, wit oopnekhemp, wit met blou geborduurde kippah op sy krullerige swart hare, sagte kenbaard. Hy glimlag, sy oë is baie helder.

“Shalom,” sê hy.

“Shalom,” stamel Marc, wat stadig uit sy eie wêreld terugkeer, en vee met sy kneukels oor sy nat wange.

Die ander se glimlag verdiep, hy knik na die stad onder hulle. “Kyk, sy is inderdaad met koninklike luister beklee en in ’n kleed van lig omhul.”

“Jerusalem?” vra Marc in die war.

“Adonai, Hy wat in Yerushalayim woon, aan Hom kom die lof van Tziyon toe. Hy wat die hemelkoepel soos ’n tentdoek gespan en vir Hom ’n woonplek ingerig het oor die waters daarbo. Hy wat die winde sy boodskappers maak, die weerligte sy dienaars. Hy wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie, Adonai Tzva’ot.”

Haal hy uit die Bybel aan? Marc weet nie wat om te dink nie. Hy het nog nooit iemand so poëties hoor praat nie.

“Die God van Israel? Hy woon in Jerusalem?” vra hy en voel hoe sy vingerpunte vreemd begin tintel.

“Hy woon op Tziyon, sy heilige berg.”

Marc kyk die man vraend aan, maar toe hy nie verder uitwei nie, vra hy: “Nóú ook, soos dit nóú is?”

“Die son en die maan sal donker word, die sterre sal nie meer skyn nie. Adonai sal uit Tziyon brul, Hy sal sy stem uit Yerushalayim laat hoor, en die hemel en die aarde sal bewe. Adonai is ’n toevlug vir sy volk, ’n veilige vesting vir die kinders van Ja’akov. Dan sal hulle besef dat Hy, El Gibbor, hul Elohim is. Dan sal Yerushalayim heilig wees, vreemde nasies sal nie meer daardeur trek nie. Daardie dag sal daar volop wyn wees op die berge, oorvloed melk op die heuwels. In die slote van Y’hudah sal daar water loop, ’n fontein sal uit die huis van Adonai borrel en die Sittimdal natlei. Y’hudah sal sonder ophou bewoon word en Yerushalayim vir altyd. Hy sal sy volk se sonde vergewe en Hy, Adonai, sal op Tziyon woon. Daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.”

“En Jesus?” vra Marc byna onhoorbaar, want hy weet nie of hy dié naam voor ’n Ortodokse rabbi behoort te noem nie. “Wat het Hy hiermee te doen?”

’n Onbeskryflike lig begin uit die gesig van die jong Joodse man straal toe hy antwoord: “Daar is ’n Seun gebore, daar is ’n Seun gegee. Hy is die verlossing van Yahveh, die Messias van Elohim. Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Pele-Yoetz El Gibbor, Avid-Ad, Sar Shalom. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van David sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die onverdeelde trou van Adonai Tzva’ot sal daarvoor sorg.” Hy lê sy hand ’n oomblik lank op Marc se skouer. “Sy naam is Yah’shua, Marc, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”

Marc voel hoe sy lyf bewe van emosie. Hy kyk weg oor die buurt wat gebaai in lig aan sy voete lê en hy vra die Naam baie sag. “Yeshua?”

“Dit is sy Naam,” antwoord die ander, “l’ben David, HaMashiach, Sar Shalom, aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”

Toe Marc sy wildkloppende hart so onder beheer het dat hy hoop om normaal te praat, draai hy weer na die man.

Daar is niemand nie. Hy swaai vinnig om, maar dis leeg en doodstil om hom. Verder langs die muur op kom drie Arabiese seuntjies aangehardloop, hul stemmetjies skril in die môrelug. Bokant hom maak die wolke weer toe en hy voel die eerste reëndruppels teen sy gesig. Hy raap sy tekengerei vinnig bymekaar en druk dit in die sak, trek die kap van sy jekker oor sy hare. Hy voel nog die warmte van die man se hand op sy skouer terwyl hy hardloop om skuiling te soek teen die reën wat nou met mening neerkom. Toe hy uitasem onder aankom, voel hy verwonderd dat die warmte van dié aanraking sy hele wese binnegedring het.

Oomblikke later lui die selfoon in sy sak en hy haal dit vinnig uit. Dis Rivkah. Haar stem so vlak langs die ander ervaring laat sy kop duisel.

“Rivkah! Waar is jy?”

Sy lag. “So ’n vraag moet jy nie nou vra nie, Marc. Maar luister, ek is veilig.”

“Dankie, Here-God,” sug hy.

“Waar is jy?”

“Hier in die Joodse buurt van die Ou Stad.”

“Wat maak jy?”

Hy lag, ongelooflik lig en bly. “Wat dink jy maak ek?”

“Jy teken en jy neem foto’s.”

“Hoe sou jy dit nou kon weet?”

Hulle lag, asof dit moet vergoed vir al die woorde wat nog tussen hulle ongesê is.

“Wanneer kan ek jou weer sien?” vra hy dringend.

Sy aarsel ’n oomblik. “Ek weet nie vir seker nie. Nie … nie so gou nie, dink ek, maar ek sal jou bel as ek ’n oomblik het.”

“Asseblief! Is jy oor Shabbat los?”

“Ek … glo nie. Maar ek sal jou laat weet. Wat is jou planne vir die week?”

“Ek moet ook maar sien. Ná Pesach sal ek waarskynlik Tel Aviv toe gaan.”

Hy hoor die skril gekrys van ’n sirene aan haar kant sodat hy dadelik uitroep: “Wat is fout?”

Sy is beswaarlik hoorbaar bo die gedruis. “Niks. Ek sal jou weer bel as ek kans het.”

“Rivkah!”

“Dis niks, Marc, dis net roetine. Maar ek moet gaan.”

“Shalom, allerliefste,” fluister hy.

Maar sy het hom gehoor, want haar stem neem ’n ander kwaliteit aan. “Shalom,” antwoord sy sag voordat die foon abrup afsluit en hy met die stil instrumentjie in sy hand bly staan. Maar hy wéét sy het hom gehoor en dit maak hom onbeskryflik bly. En bang.

Ma’alot Moriah

Sondagaand 31 Maart 2002

Wie was dit dan wat daar op die stadsmuur na my toe gekom het? So het ek niemand nog sien glimlag nie, so baie lig nog nooit uit iemand se gesig sien straal nie. Wie was dit? ’n Ortodokse rabbi wat van Yeshua praat. En hy’t my naam geken. Hy’t my Marc genoem. Maar ek het nie my naam vir hom gesê nie. Yeshua, het hy gesê, sal nog in hierdie stad regeer en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Was dit ’n engel? Waarom sal ’n engel na my toe kom? Het ek my dit verbeel?

Ek het my dit nie verbeel nie. Daar het nog van sy warmte in my oorgebly.

As dit ’n engel was, mag hy dan na die God van Israel se troon gaan en smeek dat Rivkah bewaar bly, van álles bewaar bly. En Re’uven en Ofer en David. En al die jong soldate wat ek vandag in die stad gesien het. God, wees genadig en stuur weer u engel na my toe.

O, hoe wondergodsmooi was u stad in die goue lig! Ek kan glo dat U dit u stad wil maak. Maar nou, só, is dit nou u stad, Adonai? Waarom sterf die pragtige jong Palestynse mensbomme dan daarvoor? Vir een wat hulle ook God noem?

En Rivkah? O, almagtige Here-God, Adonai Tzva’ot, sy het vir my kosbaarder geword as my lewe. U het haar vir my kosbaarder laat word, weet ek. Beskerm haar, o Here-God, beskerm haar. Moenie dat sy bang wees nie. Moenie dat ek bang wees nie. Moenie dat ek glo ek sal haar ook verloor nie. Nie vir haar nie. Gryp haar in u hand vas, God van Israel!

Die volgende oggend slaap hy later as gewoonlik en kom eers ná tien in die woonkamer aan waar Ruwth vasgenael voor die televisiestel sit. Hy kan nie dadelik agterkom wat aangaan nie, want dis op ’n Hebreeuse kanaal, maar die nou reeds bekende tonele kom hom tegemoet en hy hoef die taal nie te verstaan nie. Die algehele verwoesting van ’n restaurant. Stoele en tafels onderstebo, repe van die plafon wat uit die dak hang, oral bloed. Die Ortodokses in hul wit plastiekpakke, groen onderbaadjies met Hebreeuse woorde daarop geskrywe, swart kippot, geelbleek, geskokte gesigte, besig om die onnoembare in plastieksakke bymekaar te maak. Slagoffers wat in ambulanse gelaai word, verwese omstanders. Loeiende sirenes. Soldate en veiligheidspersoneel.

“Sh’ma, Yisra’el, Adonai Eloheinu Adonai Echad …” prewel hy sonder dat hy dit agterkom.

Maar Ruwth het hom gehoor. Sy staan op en slaan haar arm om sy skouers. “Selfmoordbom gisteraand in ’n restaurant in Haifa – vyftien dood, baie kritiek. In Efrat is ses ander afgemaai en heelwat beseer.”

Hy skud sy kop en het moeite om die gesig van die jong Joodse man wat met hom op die stadsmuur gepraat het voor die gees te roep. Aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie, het hy gesê.

“Dit het nou bekend geword dat daar in Maart 2002 alleen meer as honderd en twintig Israeli’s in selfmoordbomaanslae gesterf het en meer as duisend is beseer. Sommige se toestand is nog kritiek,” dreun die stem van die nuusleser op die televisieskerm.

Hulle sit nog en drink tee toe die aankondiging kom: Sharon het Arafat as vyand verklaar en hy gaan terroristeneste rondom Jerusalem opruim. Operation Defensive Shield noem hy dit. Marc kyk geskok na die bejaarde eerste minister se lykbleek, vermoeide gesig op die skerm. “Israel is op ’n kruispad,” sê hy in sy swaar stem, “ons veg vir niks minder as ons tuiste nie. Dit is nie ’n oorlog van ons keuse nie, maar een wat op ons afgedwing is. En ons sal hom wen.”

Ruwth huil. “Ek het geweet hy gaan dit doen. Daar kan nie langer uitgestel word nie. Ná die seder-slagting het ek geweet hy gaan dit doen. Nou sal die wêreld ons nog meer haat, want Israel sal weer die aggressor wees en die Palestyne die onskuldiges wie se grond ons beset. El Gibbor, wees ons genadig!”

Marc tel die Jerusalem Post op wat langs haar stoel op die grond lê, en sy oog val op die artikel van Charles Krauthammer wat sy besig was om te lees.

Arafat’s harvest of hate

September 11 awakened the Americans to the anti-American vitriol in the state-controlled media of such apparently friendly states as Egypt and Saudi Arabia. We are just beginning to understand how a daily diet of hatred fed through schools and the media – a hatred quietly incubating for years – found its most perfect expression in the slaughter of September 11.

We have failed, however, to see how a similar campaign of hate has laid the groundwork for the orgy of murdersuicide the Palestinians are now engaged in. A mother appears on videotape proudly sending her eighteen-year old to his death just so he can kill as many Jews as possible. This is unprecedented. Before the Oslo peace accords of 1993 suicide bombing was a practice almost unheard of amongst Palestinians.

And it is not as though they had no grievances before 1993. On the contrary. The advent of suicide bombing coincides precisely with the era of Israeli conciliation and peacemaking; recognition of the PLO, repeated concessions of territory, establishment of the Palestinian Authority, acceptance of an armed Palestinian police – all culminating in the unprecedented offer of an independent Palestinian state with its capitol in a shared Jerusalem. It is precisely in the context of the most accommodating, most conciliatory, most dovish Israeli policy in history that the suicide bombings took hold.

Where did they come from? During the last eight years – the years of the Oslo “peace process” – Palestinian Authority Chairman, Yasser Arafat, had complete control of all organs of Palestinian education and propaganda. It takes unspeakable hatred for people to send their children to commit Columbine-like murder-suicide. Arafat taught it. His television, his newspapers, his clerics have inculcated an anti-Semitism unmatched in virulence since Nazi Germany.

When US peace negotiator Dennis Ross stepped down last year, he acknowledged, to his credit, that a major error of diplomacy in the Clinton years was turning a diplomatic blind eye to the poisonous incitement in Palestinian media. Just as Osama bin Laden spent the nineties indoctrinating and infiltrating in preparation for murder, Arafat raised an entire generation schooled in hatred of the “Judeo-Nazis”. This indoctrination goes far beyond expunging Israel literally from Palestinian maps. It goes far beyond denying, indeed ridiculing, the Holocaust, as a Jewish fantasy. It consists of the rawest incitement to murder, as in the sermon by Arafat-appointed and Arafat-funded Ahmad Abu Halabiya broadcast live on official Palestinian Authority early in the Intifada. The subject is “the Jews”. (Note: not the Israelis, but the Jews.)

“They must be butchered and killed as Allah the Almighty said: ‘Fight them: Allah will torture them at your hands’ … Have no mercy on the Jews, no matter where they are, in any country. Fight them, wherever you are. Wherever you meet them, kill them.”

The rationale offered for such murderousness is Jewish villainy as taught not just in Palestine, but throughout the Arab world. On March 10, for example, an article in the official Saudi newspaper al-Riyadh, described in rich detail how the Jews ritually slaughter Christian and Muslim children to use their blood in their holiday foods. With almost comic pseudo-scholarship, it explained that for one holiday (Purim) the Jew must kill an adolescent, but for Passover the victim must be ten years or younger.

When the article achieved wide notoriety in translation, the editor apologized under pressure. He said he was out of town when the article appeared. An odd excuse, given the fact that this elaborate blood libel ran as a two-part series.

A precondition for peace is to prepare our children for peace. Egypt’s Anwar Sadat did that after signing his peace treaty with Israel. The Israeli’s did that after signing Oslo. They changed their textbooks and altered their civic culture to recognize and accept the Palestinians. On the 50th anniversary of Israel’s Independence, for example, Israel Television aired an epic multipart historical documentary that offered a view of the Palestinians that was deeply sympathetic and understanding.

While Israeli leaders, both political and intellectual, were preparing their people for peace, Arafat was preparing his people for war – the war he unleashed two months after rejecting Israel’s Camp David peace offer of July 2000 – with an unrelenting campaign of anti-Semitic vilification carried out by every organ of his media. And how he has succeeded! When Arafat’s state-controlled media glorify a “martyrdom operation”, it is not just a commendation of the murderer, it is a vindication of their own pedagogy. We now see its fruits in the streets of Jerusalem where the blood from the latest suicide bombing graces the third floor of surrounding buildings.

Toe hy van die koerant af opkyk, ontmoet hul oë. “Waarom?” vorm sy mond die woord geluidloos.

“Dis nie ’n politieke stryd nie, Marc, dit gaan nie eens om landgebied nie. Dis ’n stryd in die hemele tussen duisternis en lig. Tussen Islam en hulle wat die Naam van die Lewende God verteenwoordig. Dis ’n stryd tussen die koninkryk van die Duisternis en die Koninkryk van HaMashiach.”

Marc aarsel ’n oomblik voordat hy praat: “Daar het gisteroggend iets … vreemds met my gebeur …”

“Wat dan?” vra sy dadelik gevoelig vir die intonasie in sy stem.

Hy weet onmiddellik dat hy dit nie in woorde sal kan omsit nie. Maar hy kan nou ook nie stilbly nie.

Ná ’n paar oomblikke begin hy onbeholpe: “Nadat jy my afgelaai het, is ek teen die muur uit na waar ’n mens ’n uitsig oor die Joodse buurt het. Dit was … onbeskryflik mooi …” Trane spring tot sy ergernis onmiddellik in sy oë. “Ek sal jou wys.”

Hy loop half driftig oor sy onbeheerste emosies kamer toe en kom met die sketsboek terug. Sy kyk stil na die tekeninge van die buurt in bloupers halfduister en dan in goudbruin lig. Haar hande bewe liggies en eindelik kyk sy op. “Dis … so mooi, Marc. Wat het daar gebeur?” vra sy.

“Ek het gesit en teken,” hy knik na die boek in haar hande, “en toe was daar meteens die man langs my. Ek het hom nooit hoor kom nie. Hy’t … net daar gestaan. ’n Ortodokse Jood, swart broek en baadjie, effense baard,” hy beduie na sy ken, “kippah, swart krulhare. Toe praat hy oor die stad. Wonderlike, poëtiese woorde. Dit was asof hulle direk uit die Bybel kom, al het ek hulle nie geken nie. Dit het daaroor gegaan dat Jerusalem God se stad is, sy ewige woonplek … Dat daar groot seën op die stad wag, op die hele land, Israel. Hy het gesê dat God sy volk se sonde sal vergewe en dat Hy vir ewig op Sion sal woon. Daar was so ’n … lig in sy gesig soos ek nog nooit gesien het nie. Ek kan nie alles onthou wat hy gesê het nie, maar dis asof die woorde en die klank van sy stem in my agtergebly het.”

“Is dit al wat hy gesê het?” vra sy, asof sy weet daar was meer.

Eintlik wou hy nie meer sê nie, maar hy kan ook nie stilbly oor die man nie. “Ek … het hom oor Jesus gevra. Ek weet self nie hoekom ek ’n duidelik Ortodokse man oor Jesus gevra het nie, dit het net gebeur. Sy woorde het my so diep geraak … Dit was so onwerklik.”

“Wat het hy oor Jesus gesê?”

“Oor Hóm het die man ’n teks aangehaal wat ek al baie gehoor het. Met Kersfees altyd. ’n Seun is vir ons gebore. ’n Seun is aan ons gegee. Hy sal Vredevors genoem word, Ewige Vader … of so iets. Hy het Hebreeuse woorde gebruik vir dié name, maar omdat ek die teks nogal ken, het ek dit verstaan.”

“Ja?” vra sy gretig.

“Hy het Hom ook Yeshua genoem. Meer na Yáshua geklink.” Sy knik. “Seun van Dawid … na Ben Dawied het dit geklink. Hy het Hom ook Sar Shalom genoem …?”

Sy knik weer bevestigend. “Sar Shalom. Prins van Vrede.” Haar oë blink van trane.

“Dat daar aan sy koninkryk geen einde sal wees nie, het hy gesê.”

“Dan was dit ’n Messiaanse Jood.”

“Hy was soos ’n Ortodokse aangetrek, baard en al. En …”

“Wat?”

“Om die een of ander rede het hy my naam geken.”

“Hy het jou náám geken?”

Marc knik. “Ek het eers ná die tyd besef dat hy my op my naam genoem het. En nog iets baie eienaardigs …”

Sy wag met ingehoue asem.

“Hy het net eenvoudig verdwyn. Een oomblik was hy daar en toe ek weer kyk, was hy weg.”

Sy steek haar arms uit en hy kom na haar toe en sy vou hom styf daarin toe.

Hulle sit vir ’n ruk so voordat hy skaamweg fluister: “Was dit ’n engel?”

“Ek dink so. As jy luister na wat hy gesê het, Marc,” sê sy dringend.

Sy laat hom nie gaan nie en hy voel die sagte klop van haar hart teen sy bors. Soos Rivkah die aand onder die sambreel.

“Ruwth …” sê hy byna onhoorbaar sag.

“Wat, my lief?”

“Ek het Rivkah liefgekry.”

Haar arms sluit stywer om hom. “Mi Kamocha Adonai!”

“Wat?” vra hy onseker.

“Mi Kamocha Adonai, Here, wie is soos U?”

Teen die aand ry Marc en Ruwth na Shoshana se huis in Gilo om saam met hulle te eet. Die atmosfeer is droef. Niemand weet wat presies om te verwag ná Sharon se verklaring nie. Hulle hoor dat twintig duisend reserviste opgeroep is en verstaan Ofer en David en Rivkah se skielike verdwynings beter.

“Ons leër van pa’s en seuns,” sug Ruwth. “My buurman vertel my vanoggend dat hy in die 1967-oorlog geveg het. Hy het Yerushalayim onder Ariel Sharon en Moshe Dayan help bevry. Sy seun het in die Yom Kippurgevegte op die Golanhoogland gesterf en nou is drie van sy kleinseuns in hierdie Pesach-oorlog betrokke.”

Shoshana is onseker oor wat omtrent Binyamin se voorgenome Bar Mitzvah op Donderdag gedoen moet word.

Toe hulle laataand terugry huis toe, sien hulle die rye tenks en ander militêre voertuie wat wag om Betlehem binne te gaan. Dis asof die hele nag van die geluid van hulle motore vibreer. Dit reën sonder ophou. Marc word yskoud toe hy drie ambulanse sien staan. Sou Rivkah daar wees? Hoe kan hy ooit weet? Hy voel magteloos na sy selfoon, al weet hy dis onmoontlik om met haar kontak te maak.

Heelnag deur hoor hy vliegtuie oor die stad dreun. ’n Geluid wat hy nog nooit tevore gehoor het nie. Dit vervul hom opnuut met vrees vir Rivkah se veiligheid.

“Wees met haar, wees met haar!” bly hy pleit. Hy sien haar tenger figuurtjie in die groen uniform en koeëlvaste jekker, die baadjie met die pelskraag teen haar gesig opgeslaan, die donker oë onder die baret, die geweer teen haar rug.

“O, God,” kreun hy. “Moet háár nie ook neem nie.”

Hy vergeet om vir sy ma te skryf, vergeet van sy dagboek. Hy teken verwoed in sy sketsboek. Al sy vrese en al sy hoop. Hy teken die jong rabbi op die muur. Weer en weer. Die lig in sy gesig. Hy huil terwyl hy teken.

Dinsdag hoor hy niks van Rivkah nie. Dit reën onafgebroke. Iemand sê dat dit die eerste keer sedert die 1967-oorlog is dat dit in April met Pesach reën en hael. Die aand sien hulle op televisie dat Palestynse terroriste die Geboortekerk in Betlehem beset het. Altesame twee honderd en vyftig gewapende Palestyne het die uitgestrekte kompleks binnegeval en hou twee honderd mense as gyselaars aan.

“Duiwelse slim set van Hamas.” Ruwth skud haar kop. “Nou kan die hele wêreld, ook die Christelike kerk, Israel verantwoordelik hou as daar bloed vergiet word op wat hulle as een van die heiligste plekke beskou.”

Woensdag daag Ofer onverwags daar op. Deels om sy vrou en sy ma te probeer gerusstel en deels om te sê dat hulle wel Donderdag met Bibi se Bar Mitzvah sal voortgaan. Hy sal die paar uur kan vry kry. Dit kan nie uitgestel word nie. Alles is reeds gereël.

Vir Marc is dit ’n welkome verligting om weer ’n man in die huis te hê, al is dit net vir ’n kort rukkie. Ofer, in sy uniform met die offisierskentekens, stel hom op ’n vreemde manier gerus.

“Kyk,” sê hy, en sug, “julle gaan baie verskillende menings hoor oor wat Israel se leër in dié dae doen. Miskien selfs in ons eie media, maar veral oor CNN en SKY. Probeer rasioneel dink. Sharon het Arafat tot vyand verklaar en gesê ons gaan die terroristeneste, veral dié in en om Jerusalem, uitwis. Ons opdrag is om die terroristenetwerk in die Arabiese stede en dorpe te vernietig. Die teikens is duidelik aan ons gestel: dié wat gewapen is en dié wat óns probeer doodmaak. Ons moet niemand seermaak wat nie by terreur betrokke is nie. Ons moet ons Tzelem Enosh respekteer. Dis ons respek vir onskuldige menselewens,” verduidelik hy vir Marc. “Daar is niks onduidelik omtrent die opdragte nie.”

Hy huiwer ’n oomblik, meet sy ma se krag, kyk vlugtig na Marc, want hy weet nou van Rivkah, en gaan toe voort: “Dit is gevaarlike werk. Lewensgevaarlik. Dit moet julle verstaan. In plaas daarvan om vanuit helikopters en bewapende skepe op bewoonde gebiede te skiet soos Amerika in Afghanistan gemaak het, het die generaals en bevelvoerders opdrag gegee dat die soldate te voet ingaan. Julle kan dink hoe kwesbaar dit hulle maak in nou straatjies waar motors geparkeer staan en waar baie van die huise met fopmyne toegerus is. Waar selfmoordbomplanters in huise skuil en hulself laat ontplof sodra die soldate inkom. Ja? Waar skerpskutters op die platdakke van huise wegkruip en ’n uitstekende uitsig op die manne het as hulle in die strate afkom en nie skuilplek het nie …”

Hy sien sy ma verbleek en hy staan op en lê sy hand vertroostend op haar skouer. “Ek is jammer, Mamma, maar jy was nog altyd een wat die waarheid wil weet. Ek kan dit nie vir jou sagter maak as wat dit is nie.”

Sy vee moeg oor haar oë. “Het Adonai ons dan teruggebring sodat ons hier uitgeroei moet word?”

Hy gaan sit weer. “Mamma, jy weet van beter! Israel se heropbou is die werk van God. Hy het dit tot stand gebring ná die Holocaust, die donkerste nag in die Joodse geskiedenis. Sal Hy ons dan nou in die steek laat?”

Sy skud haar kop troosteloos. “As ek sien hoe die grootste deel van die volk lewe asof die God van Israel nie hul God is nie, dan krimp my hart.”

“Mamma, die staat van Israel het tot stand gekom danksy God se ewigdurende liefde vir die Jode. Nie omdat hulle dit verdien het nie. Het Hy nie gesê dat Hy ons met ’n ewige liefde liefhet nie? Dink aan sy chesed, Mamma, sy genade.” Hy haal haar Engelse Bybel uit die boekrak langs hom en slaan dit oop. “Sal ek dit weer vir jou lees?”

Sy roer nie. Marc sien hoe die kneukels van haar hande oor haar knieë wit word en hy onthou dat sy die Holocaust beleef het.

“Esegiël 36, vers 22: ‘Daarom, sê vir Israel: So sê die Here my God: Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het.’ Van vers 24 af: ‘Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring. Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee … en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees. Ek sal julle bevry van alles waarmee julle jul verontreinig het.’ En dan staan daar nog ’n maal in vers 32: ‘Julle moet weet, sê die Here my God, dat Ek dié dinge nie ter wille van julle doen nie. Al wat julle pas, Israel, is skaamte en skande oor julle optrede.’ Chesed, Mamma,” sê hy weer, “die heropbou van Israel is ’n daad van genade ten spyte van sy ongeloof, sy sekularisasie, sy ongehoorsaamheid en sy blindheid.”

“Maar hierdie oorlog wat nou uitgebreek het,” vra Marc, “wat beteken dit?”

“Het jy gehoor wat Sharon Maandag op televisie gesê het? Israel het by ’n kruispad gekom. Hierdie oorlog gaan oor ons wesenlike bestaan in hierdie land. Net Adonai kan ons red, nie Sharon of Ben-Eliezer of Peretz, vergeef hom, of Shaul Mofaz nie, net Adonai. En Hy sal. Ter wille van sy heilige Naam sal Hy. God is in hierdie oorlog. Maar die meeste mense in hierdie land is totaal onbewus van die geweldige geestelike stryd wat aan die gang is. Tussen God en die magte van die duisternis, Messias en die Antichris, die Woord van God en die verleiding van hedendaagse humanisme. Israel het tot stand gekom as ’n direkte gevolg van God se ewigdurende liefde vir sy volk en sy verbond met ons vaders, Avraham, Yitz’chak en Ya’akov. Die stryd vir Israel se reg om te bestaan, is God se stryd en Hy sal as oorwinnaar uit die stryd tree. Uit die aard van die saak moet Israel homself verdedig, maar Hy is in beheer. Sou Hy haar oor die afgelope vier en vyftig jaar in ses oorloë beskerm het en haar nou verlaat? Beslis nie!”

Hy glimlag vir Marc wat teen die muur aangeleun staan, sketsboek onder sy arm, kippah op die kop. “Luister, nuutgevonde Jood, ken jy die storie van Ya’akov wat by die Jabbokrivier met God geworstel het?”

Marc knik.

“God bring die Jode terug hiernatoe waar sy onuitspreeklike liefde hulle uiteindelik vir Homself sal wen. En hierdie Pesach-oorlog mag miskien net ons Jabbok van transformasie wees. Die plek waar Ya’akov, bang en heeltemal alleen, vir God ontmoet en waaragtig verander word. Waar hy Adonai van aangesig tot aangesig sal sien en tog bly lewe. Hoe het rav Sha’ul gesê? Dat daar ’n lig vir Israel sal opgaan en hulle die heerlikheid van God uit die gesig van Yeshua HaMashiach sal sien straal.”

“Dankie, Ofer,” sê Ruwth hees, “dankie dat jy my weer herinner het.”

“Moenie bang wees nie, Mamma, Adonai, ons Elohim, veg vir ons. Al moet ons deur die doodsvallei gaan om dit te besef.”

Hy staan weer op en Ruwth vra vinnig: “Weet jy waar David is?”

“David is in Ramallah. Bid asseblief vir hom.”

“En jy?” vra sy bewerig.

“Hier en daar,” sê hy ontwykend. Hy kyk na Marc. “Ek weet toevallig dat Re’uven in Jenin is. Moet dit asseblief nie vir sy mense vertel nie. Bid vir hom. Dis ’n verskrikking daar. Rivkah is waarskynlik ook daar. Maar dit maak nie regtig saak waar hulle is nie. God weet dit. Kom, laat ons bid, ek moet gaan.”

Hulle neem al drie mekaar se hande en Ofer bid, effens onhandig in Engels: “Adonai, U wat ons voorvaders Abraham, Isak en Jakob geseën het – wil U nou ook die soldate van Israel se weermag seën, hulle wat wag staan oor die land en die stede van God, van die Libanese grens af tot in die woestyn van Egipte, en van die Groot See tot by die begin van die Arabba, op land, in die lug en op die see. Mag U, Adonai, gee dat die vyand wat teen hulle opstaan, platgeslaan sal word. Mag U, die Ewige van Israel, heilig is u Naam, die vegtendes bewaar en red uit alle ellende en rampspoed en van elke plaag en siekte, en mag U u seën en sukses gebied oor alles wat hulle doen. Mag U hul vyande in hul hand gee en mag U hulle uitred en kroon met oorwinning. En mag daar dié skrif vervul word: Want dit is Adonai, julle Elohim, wat voor julle uittrek en aan julle die oorwinning oor julle vyand gee sodat julle gered sal word. Gebied nou u vrede, u goedheid, u seën, u genade, u goedertierenheid en u troos oor die hele volk van Israel. Seën hulle, Abba, met die Lig van u aangesig, die Lig wat Yeshua, ons Elohim, is. U het ons die Tora van lewe gegee en ’n liefde vir regverdigheid, seën, goedheid, guns, genade en vrede. Mag dit genade vind in u oë om u volk Israel in hierdie uur te seën met u vrede. Geseënd is U, Adonai, wat u volk Israel met vrede seën. Ons neem die woord wat Dawid vir Goliat gesê het, as ’n skild op vandag: Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die naam van Adonai Tzva’ot, die God van die leërs van Israel wat jy verkleineer het. Abba, hou u hand van beskerming oor dié wat ons liefhet, Rivkah en Re’uven en David. Amen.”

“En oor Ofer. Omaine,” prewel Ruwth.

Hy buig oor om sy ma te soen. “Adonai maak u sterk,” sê hy duidelik ontroer.

“Adonai gaan met jou, my seun.”

“Daar is nie net twintig duisend opgeroep nie,” sê hy nog terwyl hy hulle groet, “altesame een en dertig duisend het ’n Zav Shmona ontvang. Noodtoestand-mobilisering. Dis hoekom ons nie soos gewoonlik ’n week toegelaat is om ons huise in orde te kry nie, maar ’n paar uur. Dink wat dit aan die staatsdiens én die privaat sektor doen. Ons sal weer vrywilligers uit ander lande moet oproep soos in ’67. Dis ’n stryd op lewe en dood, besef dit. En uit die profesieë weet ons dat daar nog groot ellende vir Israel voorlê, maar ons weet ook van die uiteindelike oorwinning.”

“Aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie,” laat Marc hoor, sonder dat hy weet hoekom hy dit sê.

Ofer kyk hom verras aan. “Dit is reg,” sê hy, “aan sy koninkryk sál daar geen einde wees nie.”

Kort nadat Ofer weg is, bel Rivkah.

Hy voel dadelik die spanning in haar stem aan.

“Is jy in Jenin?” vra hy onmiddellik, Ofer se waarskuwing heeltemal vergete.

“Marc, asseblief …” maar sy versag dadelik weer. “Ek wou net jou stem hoor.”

“Dankie dat jy gebel het! Is jy veilig?”

“Anders kan ek tog nie praat nie,” maar haar lag oortuig nie een van hulle nie.

“Ek bid vir jou.”

“Ja,” sê sy sag.

“Ek het jou lief,” sê hy.

Dit klink byna of sy snik, maar sy sê: “Ek het jou ook liefgekry.”

In die agtergrond rammel swaar voertuie onophoudelik verby. “Waar is jy?” roep hy weer wanhopig uit.

“Ek sal nie met Shabbat huis toe kan kom nie, Marc, maar ek sal jou bel as ek kan.”

“Pas jouself op!” Sy magteloosheid ken geen perke nie.

“Jy ook,” sê sy skaars hoorbaar bokant die hernude gedreun en die duidelike geluid van geweervuur. “Ek moet nou gaan.”

“Rivkah!”

“Ek is nie waar ek kan praat nie, Marc. Moenie bang wees nie. Chag sameach!”

“Rivkah!” Maar sy is reeds weg.

Frustrasie wil maak dat hy die selfoon teen die grond wil gooi. Totdat hy weer haar sagte woorde hoor: Ek het jou ook liefgekry.

Hy haal diep asem en gaan op die kant van sy bed sit, want sy bene is willoos lam.

Ma’alot Moriah

Donderdagaand 4 April 2002

Ek het Bibi se Bar Mitzvah my eie gemaak, want ek sal nooit weer dertien wees nie, ek sal nooit met my pa by die Kotel deel kan word van die mans van ons volk nie. Vir my is dit vir altyd verby om onder die dekking van my moeder uit te gaan na die verantwoordelikheid van my vader. My moeder het haar bes gedoen om my te dek, maar my vader het nooit vir my verantwoordelikheid aanvaar nie. Maar nou het ek in Bibi se skoene gaan staan en saam met hom Bar Mitzvah geword, seun van die Tora, en ek glo dat die God van Israel, YHVH, dit so verstaan het. Hulle het my ook daar tussen die manlike sy van die familie by die Kotel toegelaat met my kippah en die pragtige tallit wat David aan my vir die geleentheid geleen het. Ek het jaloers toegekyk na die nog mooier een wat Ruwth vir Bibi as haar geskenk kom omhang het. Sy het na my gekyk asof sy verstaan het dat ek ook Bar Mitzvah word. En al het ek nie my sketsboek by my gehad nie en ook nie my kamera nie, het ek hierdie beelde vir ewig in my kop vasgelê. Bibi in sy donker broek met tzitzit, vlootblou hemp, swart kippah met goue Magen Davids daarop geborduur op sy pikswart hare, tefillin voor sy kop en om sy regtervoorarm en -hand, alles presies soos Ofer. En Ofer, so trots op sy seun, sy jongste, sy Binyamin. Sy arm om Bibi se skouer, Bibi se kop net-net onder sy ken. Trane oor Ofer se gesig. David in sy IDF-uniform, wat sy broertjie omhels, onbeskaamd huil. Hulle twee teen die enorme stene van die Muur. Die stokou rabbi (Ofer het vertel hy het Yeshua as Messias in die geheim aanvaar en ek het inderdaad Yeshua se naam soms vlugtig opgevang), wit hare en baard, heeltemal in wit geklee, pragtige blou geborduurde tallit oor sy kop met sy hand onder sy ken saamgevat. O, God-van-Israel, ek het gedink my hart sou breek oor ek huis toe gekom het, oor ek huis toe gekom het. OOR EK HUIS TOE GEKOM HET! O, dat Baruch dit kon meemaak! Rivkah, my Rivkah, in elke vrouesoldaat wat met haar geweer daar rondgeloop het, het ek jou angstig gesoek, maar jy was nie daar nie.

Van die Hebreeus kon ek bitter min verstaan, maar my hart het elke woord geken. Ek het gekyk na Ruwth en Shoshana bo agter die reling, die vreugde en die verdriet wat op hul gesigte meng.

Ek het die feesvierings verlaat en teruggegaan na die Kotel toe. Ruwth weet nie dat ek al lankal bus ry nie, of miskien weet sy. Die Muur was byna verlate, want die nagklamte het al koud uit die skeure in die klip opgeslaan. Ek het my gesig teen die enorme klippe gedruk en na Adonai geroep vir Rivkah. Maar in die koue, klam lug kon ek sy warmte nie voel nie. Ek het gekyk na die pa en sy twee seuns ’n entjie van my af. Hy met sy swart baard en hoed, hulle met hul koppe teen die stene gebuk en ek het gedink dat Hy met hulle praat en nie met my nie. Ek wat Bar Mitzvah geword het vir Hom, Hy het nie met my gepraat nie. Nie sy arm om my geslaan en my gesoen soos Ofer met Bibi gedoen het nie. Maar ek sal terugkom en ek sal Hom smeek totdat Hy my met die warmte van die man op die stadsmuur aanraak.

Tot diep in die nag teken hy elke onvergeetlike beeld van die dag wat in sy geheue gegroef gebly het. Maar hy skryf nie vir sy ma nie. Al weet hy Ruwth doen dit elke aand.

Die volgende dag skree die Jerusalem Post:

Bush demands IDF withdrawal

Sends Colin Powell

4 soldiers killed in action

Israel reeks: Omnibus 1

Подняться наверх