Читать книгу Israel reeks: Omnibus 1 - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 8
Drie
ОглавлениеSaterdagoggend kom Marc vroeg aan die gang. Die gedagte aan Shabbat in die Ou Stad van Jerusalem maak hom opgewonde. Net ná ontbyt haak hy sy sak oor sy skouer en vat die pad. Hy kyk ietwat skigtig in die verlate Ben Yehudastraat op, waar houtskorte die verwoeste geboufronte van onlangse selfmoordbomaanslae stom herdenk. Gedagtig aan Rivkah se herhaalde waarskuwings van die vorige aand, stap hy ná ’n oomblik van huiwering liefs nie daar op nie, al is hy ook hóé nuuskierig.
Hy weet nou hoe om te loop om by die Ou Stad uit te kom. Al met Jaffastraat langs van die hotel af tot die Jaffa-poort voor hom opdoem. Die stadsmuur staan grys teen die helder lug. Oral bo-op die muur bibber die wit-en-blou Israeli-vlae met die Ster van Dawid daarop in die effense luggie wat nog trek. Daar is ’n soelte om hom heen, en hy kan die bome wit en pienk teen die helder lug sien bloei. Hy onthou dat dit voorjaar in Jerusalem is.
Pesach is ’n fees van die voorjaar, het Rivkah gesê.
Hy gaan sit op die sypaadjie, onbewus van die mense wat by hom verbyloop, en teken die muur met die vlae. Eers toe hy voel dat hy die godsmooie ou stene vasgelê het soos hy hulle sien, vou hy sy boek toe en staan op. Ingedagte druk hy dit in sy sak terug en gaan deur die poort na binne. Hy kom op dieselfde plek uit waar hy en Rivkah die vorige aand gesit het toe hy sy shawarma en sy die granaat geëet het. Hy sien dadelik die ingang na die nou gangetjies wat na die Arabiese shuks toe lei. Die meisie het hom gisteraand daarheen beduie. Hy gaan staan weer en sy hande trek werktuiglik die sketsboek uit sy sak. Toe iemand hom byna uit die grond loop, staan hy effens opsy. Maar hy is eintlik net bewus van dit wat hy wil teken.
Voor hom uit lei die stene van die nou stegies, blink getrap van eeue se verkeer, tussen die shuks in. ’n Grootvader, heeltemal in swart geklee, wit geknoopte toutjies van die tzitzit wat onder sy swart baadjie uithang, swart breërandhoed, kom by hom verbygeloop. Hy het ’n seuntjie aan die hand, ook heeltemal in wit en swart geklee, met ’n swart fluweelkalotjie op die kop. Marc se houtskool kras oor die wit papier. Met vinnige, sekere lyne lê hy dit vas. Maar toe kom daar al weer van die teenoorgestelde rigting twee mans en ’n seun aan. Hulle het blink, wit satynjasse aan, swart barette op, wit-en-swart gestreepte gebedsjaals om die skouers. Die seuntjie dra ’n wit hemp met wye, lang moue, donker broek en pragtige geweefde wit-en-swart onderbaadjie. Marc besef paniekerig dat hy nie alles vinnig genoeg geteken gaan kry nie. Hy pluk sy kamera uit en die voorste man wat byna by hom is, hou onmiddellik sy hand voor sy gesig.
Marc onthou Rivkah se woorde van die vorige aand. “Shabbat! No photos! Please!” Maar hy kan homself nie keer om die sluiter te druk nie. Die man se verontwaardigde gesig laat hom sy kamera verleë in sy sak terugdruk.
“Sorry,” prewel hy, maar die drie Jode druk vererg by hom verby sonder om een maal hul driftige gesprek te onderbreek of na sy kant toe te kyk.
Hy draai terug na die Jaffa-poort. Dit staan wonderlik in son gebaai. Links steek ’n pragtige boom met pers bloeisels die lug in. Hy slaan sy gidsboekie oop.
“David’s Citadel,” prewel hy ná ’n paar oomblikke se soek.
Die smal stegie met sy steentrappies tussen die shuks is bykans verlate toe hy daarlangs begin loop. By die hotel het die man by ontvangs hom gewaarsku om aan niks te raak of te veel belangstelling te toon nie, want dan word hy as ’n koper gereken en raak hy nie weer van die shuk-houers ontslae nie. Omdat die geweld toerisme heeltemal laat opdroog het, is die Arabiese winkeliers desperaat. Om aan hulle te ontsnap, maak hy soos hy aangeraai is, maar hy absorbeer die wondermosaïek van die kleurryke stalletjies, die geur van speserye, die reuk van leer wat met dié van wierook meng; die ligspeling oor glimmende, klam wande van die mure, oor kaste olywe, blink granate en tamaties, die skerp kleure van die Oosterse stowwe. Byna die enigste ander voetgangers is Ortodokse Jode, kennelik op pad terug van die sinagoge, swart jasse en hoede, peyot voor die ore. Uit die winkeltjies kyk haakneus-Arabiere onder hulle swart-en-wit of rooi-en-wit kafijas geïnteresseerd na hom. ’n Swartgerokte monnik, bengelende kruis om die nek, skarrel verby, ’n paar jong Sabra-meisies in die kenmerkende olyfgroen uniforms kom al pratend van voor af aan. Drie pragtige Arabiese vroue, swaar gesluier, donkeroogkindertjies aan die hand, staan by ’n winkeltjie en praat. Die ervaring van klank en kleur wil sy kunstenaarsiel oorweldig.
By die eerste plekkie waar dit effens rustiger is, gaan hy sit. Dié keer haal hy pastelle uit en hy begin in kleur werk. Oorkant hom sit twee Arabiese shuk-houers rokend en koffie drink. Hy teken hulle met al die ongelooflike kleure van hul winkeltjie om hulle. Die koper, die leer, die glansende materiale. Hy teken die jong Joodse seun wat eerbiedig eenkant staan en wag terwyl sy pa met iemand in gesprek is. Sy bleek, fyngebeende gesig, hoë wangbene, korterige peyot, skerp donker oë agter die raamlose bril, die breërandhoed, wit oopnekhemp, swart baadjie en broek, met die kenmerkende wit geknoopte tzitzit wat onder uithang – alles teken hy so vlugtig dat sy hand uiteindelik lam word. Van shuks en peyot en tzitzit het hy onder meer gisteraand in sy gidsboek opgelees. Maar toe hy nog meer oor die feeste wou lees, het sy oë toegeval.
Met behulp van die kaart in sy gidsboekie kry hy deur die Arabiese buurt koers na die Cardo. Maar by die Joodse winkels is dit doodstil en dit val hom weer by dat dit hul Shabbat is. Hy gaan maak weer ’n draai by die Klaagmuur wat hy nou uit sy boekie leer ken het as HaKotel. Dis nie so bedrywig daar soos die vorige aand nie. Dit is veral mans en seuns wat hul daarheen haas, skynbaar vir hul daaglikse gebede. Voordat hy uit die Joodse buurt na die Kotel deurgelaat word, word alles wat hy by hom het, en hyself, deeglik deursoek.
Hy gaan weer op dieselfde plek as die vorige aand sit en teken onvermoeid, totdat hy tot sy skrik sien dat dit ná ses is en besef dat hy sedert die groot ontbyt in die hotel feitlik nog niks geëet het nie. Hy haas hom terug, deur die smal gangetjies tussen die shuks, wat nou heelwat bedrywiger is as in die oggend, om Rivkah en haar broer te ontmoet.
Hulle daag net ná sewe op. Re’uven in sy olyfgroen uniform, opgerolde moue, wit T-hemp onder die oop hempskraag. Hy maak verskoning en verduidelik dat hy enige oomblik verwag om opgeroep te word. ’n Lang, skraal man in sy laat twintigerjare, donker hare en oë soos sy suster. Hy blyk ’n luitenant in die weermag te wees, valskermafdeling – as reservis opgeroep uit sy argitekkantore om in dié onstuimige dae diens te doen. Rivkah lyk nog kleiner as die vorige aand in jeans en ’n lang, blou hemp. Haar swart hare is nou los en krul donsig om haar gesig.
Ná ’n paar oomblikke se oorweging besluit hulle om in ’n Armeense restaurant in die Ou Stad iets te ete te gaan soek. Broer en suster beveel die Armeense kos sterk aan. Dit blyk ook voortreflik te wees. Oor ’n lang uitgerekte, rustige ete met veelvuldige fyn voorbereide en speserygegeurde geregte weeg hulle mekaar eers versigtig op en begin dan algaande oor ernstiger sake te praat.
Uiteraard gaan die gesprek oor die verskriklike selfmoordbomaanslae wat dag ná dag dié klein Joodse staat skud. Marc vertel hoe die pyn wat hy die vorige aand in die Ortodokse grootvader en die seuntjie kon aanvoel, hom ontroer het.
Re’uven knik. “Een van hul familielede was waarskynlik ’n slagoffer van verlede maand se slagting in Beit Yisra’el. Heel moontlik nog die seuntjie se pa, anders sou hy ook daar saam met hulle gewees het. Dit was ’n geweldige skok vir die ultra-Ortodokses toe daar ook in een van húl buurte ’n aanslag was. Tien van hulle is brutaal vermoor toe ’n Tanzim al-Jihad-terroris hom daar kom opblaas het. Dit was tussen ’n klomp gaste wat daar bymekaar was net ná ’n Bar Mitzvah. Die meeste van hulle was die familie van die seun wie se Bar Mitzvah dit was, Naveh Nachmani …”
“Hy ook?”
Rivkah antwoord hom. Hy merk dat sy baie bleek is. “Nee, hy het niks oorgekom nie. Maar emosioneel is hy vir die res van sy lewe geskend. Onder dié wat gesterf het, was sy ma, sy oom en vyf van sy broers en susters tussen die ouderdomme van sewe en vyftien. Sy tante is so ernstig gewond dat sy nie kon beweeg nie en moes toesien hoe haar seuntjie van agtien maande in sy stootwaentjie doodbrand. Onder dié wat ernstig gewond is, was daar ook baie kinders en tieners.”
“Verskriklik …” fluister Marc.
Hy merk hoe Re’uven sy hand oor sy suster s’n op die tafel lê. “Presies ’n week later was Rivkah in die Moment-kafee toe ’n Arabiese terroris homself daar opgeblaas het.”
Marc kyk geskok na haar, maar sy bly op die tafel voor haar staar. Hy sien die trane aan haar wimpers blink. Haar mond is wit.
“Wat het gebeur?”
Dis haar broer wat ná ’n paar oomblikke antwoord. “Daar is nou so dikwels aanvalle op die aand ná Shabbat. Net soos in Beit Yisra’el. Die Moment-kafee lê op een van die besigste kruisings van Jerusalem. Miskien moet ek sê: Dit wás daar, want dis heeltemal verwoes. Moment is net om die draai van Ariel Sharon se ampswoning af en baie Israeli’s het heeltemal paniekerig geraak toe hulle daarvan hoor. Dié kruising word gewoonlik gepatrolleer deur swaargewapende soldate, wat die eerste minister se huis oppas. Dit het mense laat voel dat, as terroriste dáár kan toeslaan, hulle dit oral kan doen.”
“En Rivkah was daar …?”
Dis weer Re’uven wat antwoord. Marc sien hoe die meisie se fyn vingers styf om haar broer s’n sluit.
“Rivkah is met ’n vriendin en dié se verloofde daarheen. Die plek was gepak van jong mense wat net ná Shabbat altyd op ’n Saterdagaand uitgaan omdat hulle die volgende dag al weer moet werk. Party sê baie van hulle was daardie aand juis daar om die noodlot te tart omdat dit net twee dae was sedert ’n terroris hom in die volgepakte Caffit-restaurant in die duur Emek Refaim-buurt probeer opblaas het. Maar toe het ’n wakker kelner daar iets verdags omtrent die Arabiese mensbom opgemerk. Hy het hom vasgegryp en met hom geworstel totdat hy hom op die grond gehad en waaragtig daarin geslaag het om die plofstof wat om sy lyf vasgemaak was, onskadelik te stel. Dit was niks anders as ’n wonderwerk nie. Baruch HaShem! Maar twee weke gelede in Moment het niemand betyds onraad vermoed nie.”
Re’uven vryf ’n oomblik vertroostend met sy duim oor sy suster se geklemde hand. “Rivkah het nie seergekry nie. Sy het net sekondes tevore van hul tafel opgestaan om ’n kennis te gaan groet. Sy was wel twee dae lank heeltemal doof. Maar … Danit en Felix het albei daar gesterf. Hulle was vier en twintig en drie en twintig jaar oud. En dit was presies twee maande en vier dae voordat hulle sou trou.”
Marc fluit geskok deur sy tande.
Rivkah kyk op. Marc sien weer die donker vlekke onder haar mooi oë. “By Danit se begrafnis was haar ma ontroosbaar. Niks wat ons probeer doen of sê, kon haar tot bedaring bring nie.”
“Wat is aan die gang?” vra Marc, wat voel hoe desperaatheid sy sinne begin benewel.
Re’uven sug, vee vermoeid oor sy oë. “Die meeste internasionale leiers en die media besef dit nie, maar die getuienis is oorweldigend dat die leiers van die Palestynse Owerheid maande gelede al besluit het om die immer smeulende Arabies-Israeli-dispuut te laat losbrand. Hulle kry dit reg deur hul eie Fatah-magte opdrag te gee om aanvalle uit te voer wat hulle wéét Israel se woede sal laat uitbars. Of om te maak of hulle nie sien as Islamitiese militante hul vuilwerk doen nie.”
“Jy dink nie dis Arafat se manier om die wêreld se aandag op sy probleem te vestig nie; op die feit dat Israeli’s sy land beset nie?”
“Ons beset nie sy land nie!” sê Rivkah driftig. “Arabiese vlugtelinge het hulself eers in 1967 as ’n Palestynse volk begin identifiseer, twintig jaar nadat die staat van Israel tot stand gekom het! Daar het geen Palestynse volk bestaan voordat die staat van Israel ’n werklikheid geword het nie.”
Haar broer skud sy kop. “Los dit nou eers, Rivkah! Anders kom ons nooit verder nie.” Hy wend hom weer tot Marc. “Die Palestynse leiers probeer nie net om die wêreld se aandag te trek met hul aanklagte teen Israel nie; ook nie om hul onderhandelingsposisie te verstewig sou die sogenaamde Oslo-vredesproses weer op dreef kom nie. Ek is oortuig hulle het iets baie meer sinister in gedagte as net dit. Na my mening beoog hulle ’n verwoestende oorlog sodat ander buurlande ook daarby betrek sal word, om sodoende die Joodse staat so ’n vernietigende slag toe te dien dat hulle bereid sal wees om aan al die Palestynse eise toe te gee. Dit kan ook wees dat hulle die konflik so intens wil laat word dat magte uit ander wêrelddele uiteindelik daarby betrek sal word. Dit sal meebring dat daar ’n skietstilstand kom, waarna die Palestyne hul begeerde staat op ’n skinkbord aangebied sal kry. Laat ek vir jou sê: Arafat soek nie ’n Palestynse staat op Israel se grense nie. As Arafat se mense, die PA, se amptelike kaarte van dié gebied enige aanduiding is, is hul uiteindelike doel duidelik die Jode se finale uitwissing. Want die staat Israel kom glad nie op hul kaarte voor nie. Jy kan nie glo wat Arafat alles kwytraak nie, my vriend. Hy het eenmaal openlik gesê: ‘As ek bereid is om vir my land te veg, is ek ook bereid om vir my land te lieg.’”
“Jy bedoel werklik dat dit Arafat se bedoeling is om die staat van Israel totaal uit te wis?”
“Ek bedoel dit. Die sogenaamde PLO Charter (Palestynse bevrydingsorganisasie) eis nog steeds die verwoesting van die staat Israel. Arafat skroom nie om dit te sê nie. Weliswaar in Arabies vir sy eie mense en nie in Engels vir die media nie. Maar hy sê dit sonder omhaal.”
“Dis waarom Sharon voel hulle het nie ’n ander keuse as om die PA-gebied verder binne te val nie, want dis al wat hulle kan doen om die Palestynse terreurnetwerke by te kom. Daarom het hulle twintig duisend soldate in plekke soos Betlehem en Ramallah ingestuur, en vlugtelingkampe wat ten volle deur die PA beheer word. En nie om dit te beset soos algemeen beweer word nie. Dis ook hoekom Re’uven nou weer as reservis opgeroep is,” sê Rivkah. “Dis presies wat Israel in 1982 in Libanon gedoen het – om Arafat se aggressiewe PBO-magte terug te druk, weg van die suf gebombardeerde grens af. Maar die media en die wêreld noem dit besetting.”
“Maar is dit regtig nodig dat die Israeli’s sulke geweldige verwoesting in die Palestynse dorpies aanrig?”
Re’uven snork onelegant. “Dit is CNN se dramatiese beeldmateriaal sonder die ware agtergrondfeite. Luister, ten spyte van die feit dat die Palestynse teenaanvalle nogal hewig is, was daar sover verbasend min Israeli-ongevalle. Dit kan gedeeltelik toegeskryf word aan die leër se besluit om verdagte huise te deursoek deur gate deur aangrensende mure te breek waar dit moontlik is, in plaas van oop en bloot in die nou en baie gevaarliker straatjies te beweeg. Of om die gebied gewoon plat te bombardeer soos die Amerikaners in dié stadium in Afghanistan doen. Ons Intelligensie slaap nie, hoor. Wat jy op die televisie sien, is die huise van terroriste en bomvervaardigers. Of dit is die huise van onskuldiges wat hulle vir dié doel, maar ook vir die nodige publisiteit, gebruik. Vra my, ek was self daar! Dat onskuldiges ook in die slag bly en doodgeskiet word, is onvermydelik. Dis oorlog.
“Analiste sê dat die lae sterftes en beserings ook te make het met die feit dat Arafat sy paramilitêre ‘polisie’ opdrag gegee het om nie Israel se invalle aktief te konfronteer nie. Hulle sê dié ou jakkals is slim en hy’t besef hy sal meer internasionale steun kry as sy mense wéér as die onskuldige duiwe voorgestel word wat deur die Israeliese ‘besettingsmagte’ geteister word. En die wêreld sluk dit alles.”
“Dis moeilik as ’n mens geen ander inligting het om jou op te verlaat nie …” verweer Marc verleë.
Rivkah glimlag en raak lig met haar voorvinger aan sy arm. “Ons besef dit, maar dit maak nie dinge vir ons makliker nie.”
“Ongelukkig het ons nie soveel sukses soos ons gehoop het met die opruiming nie. Die soldate het wel daarin geslaag om dosyne verdagtes te vang en duisende onwettige wapens te konfiskeer, maar die terroristenetwerke is hoogs beweeglik en daarom meesal ’n paar tree voor die oprukkende troepe. Om die waarheid te sê, die terroristeleiers was maande lank al so ’n inval te wagte, en het die voorste aktiviste en baie wapen- en bomvervaardigingfasiliteite uitgesmokkel en in bunkers in die sentrum van die belangrikste Palestynse dorpe gaan ingrawe. Sodat, as die IDF – dis nou Israel se leër – hulle daar wil gaan uitrook, die media pragtige foto’s van verwoeste geboue sal kan neem. Ou Shimon Peres, space cadet wat hy is, het hoeka gesê: ‘There is no battlefield anymore without television.’”
“Ons koerante in Suid-Afrika het ’n groot ophef gemaak van die Israeliese bevelvoerder wat sy manne opdrag gegee het om nommers op die arms en hande van die Palestynse gevangenes te skryf …”
“Ja, ja, ja!” Re’uven sug en stoot sy baret agtertoe. “Die arme man, Shaul Mofaz, die IDF se stafhoof, was so in die verleentheid hy het die vent se velle letterlik van sy lyf af getrek. Maar ek weet hoekom die ou dit gedoen het! Dit was eenvoudig om ’n mate van orde te skep in die verskriklike deurmekaarspul wat daar geheers het. Die media het dit natuurlik onmiddellik aangegryp en met die Nazi-praktyke van die Tweede Wêreldoorlog vergelyk. Belaglik! Die offisier het die spul Palestyne, wat gewoon net ondervra is, beswaarlik genommer met die doel om hulle na die gaskamers te stuur!”
“Die media sien hulle eenvoudig nie as terroriste nie, maar as arme, veronregte en onskuldige mense wie se land beset is. Hulle kry so swaar onder die brutale besetters dat hulle nie anders kan as om hul lewens op te offer deur Jode die ewigheid in te blaas nie,” sê Rivkah.
“Maar het Arafat regtig nog enige beheer oor Hamas of die Islamitiese Jihad?”
Re’uven sug weer, breek ’n stuk van die vars Armeense pitabrood af en eet dit voordat hy antwoord. “Marc, luister, hierdie aanvalle is nie die werk van onbeheerbare Hamas of Islamitiese Jihad-volgelinge, of van desperate individue, soos die Palestynse apologete dit voortdurend wil hê nie. Dis ’n doelbewuste militêr politieke strategie wat Arafat self ondersteun in ontelbare toesprake waarin hy die martelare prys en aanmoedig. Ek belowe jou ons het klinkklare bewyse dat dit ’n opsetlike beleid is om alle hoop op vrede te vernietig en Israel te dwing om terug te trek. Ek wil hê jy moet my baie goed hoor as ek vir jou sê: ’n Skrale twee jaar gelede was ’n Palestynse staat met tot negentig persent van die Wesoewer en Gasa, plus betekenisvolle Palestynse beheer oor die belangrike heilige plekke in Jerusalem, geheel en al op die tafel. Dink jy Arafat wou daarvoor val? Nee, broer, nee, hy het dit van die hand gewys.”
Marc skud sy kop. “Ongelooflik.”
“Nee, nie as jy verstaan dat dit vir Arafat en sy trawante nie oor ’n Palestynse staat gaan nie, maar oor die vernietiging van Israel,” sê Rivkah.
“Luister, in 1922 het die Arabiere al vyf en sewentig persent gekry van die Palestynse mandaat wat deur Brittanje aan die Jode beloof is en deur die Volkerebond goedgekeur is. Daar bestaan reeds ’n Arabies-Palestynse staat! Dit word Jordanië genoem.”
Marc kyk Re’uven verbaas aan, maar hy verduidelik nie verder nie. Hy skep nog ’n bord van die voortreflike verskeidenheid kos op die tafel en eet in stilte.
Maar ná ’n ruk praat hy tog weer. Hy klink moeg. “Arafat kan maar nuwe ooreenkomste onderteken soos hy al hoeveel maal in die verlede gedoen het. Maar hy sal seker maak dat die selfmoordterreur en ander geweld voortgaan. Hy sal dit doen om te verhinder dat Amerika Saddam Hoesein onttroon. Saddam is sy dierbare vriend.”
“Ja?” Marc doen sy bes om ingelig te klink, maar sy kop draai van alles wat hy hoor.
Re’uven maak eers sy mond leeg, tik vererg met die lem van sy mes op die tafel. “Saddam Hoesein loop in die Arabiese wêreld daarmee te koop dat hy die enigste regte bondgenoot van die Palestyne is. Hy’t onlangs sy finansiële onderhoud aan élke familie van ’n selfmoordterroris van tien duisend dollar tot vyf en twintig duisend dollar verhoog …”
“Jy jok! Betáál hy hulle?” roep Marc spontaan tussenin.
“Hy betaal hulle,” sê Re’uven onverstoord. “Vyf en twintig duisend dollar is ’n fortuin vir ’n arm Palestyn, ek belowe jou. Vir my ook. Hoesein het ook pas besluit om alle olie-uitvoer te stop solank Israel nog in die sogenaamde besette gebiede is. Jy kan jou voorstel wat dit aan die wêreldmark gaan doen en veral aan vulstasies in Amerika.”
“Dit plaas Bush in ’n moeilike posisie as Israel se bondgenoot.”
“Bondgenoot?” Re’uven skud sy kop. “Ja, ja, ja, as die oliedollars praat, verdwyn Israel se bondgenoot waarskynlik soos mis voor die son. Maar, ja, Bush is inderdaad in ’n onbenydenswaardige posisie. Daar het hy pas Afghanistan platgevee oor Bin Laden dalk daar kon wegkruip. Dis hoe hy reageer op ’n terroriste-aanval. Wat moet hy nou doen omtrent piepklein Israel wat dag ná dag onder terroriste deurloop? Ek glo dat hy ons graag wil help, maar nou is daar die netelige kwessie van die bondgenote wat hy onder die Arabiese lande soek om hom by te staan in sy stryd teen internasionale terrorisme, en dan, natuurlik, die ellendige petroldollars. Hy kan beswaarlik …”
Hy word kortgeknip deur sy selfoon wat skel lui. Daar volg ’n blitsige gesprek in Hebreeus en nog voordat hy klaar gepraat het, staan hy al.
“Ek is weg,” sê hy in Engels en praat toe vinnig met sy suster in Hebreeus. Sy knik ’n paar maal, vra net een maal ’n vraag, wat hy met ’n enkele woord beantwoord. Toe buk hy af om haar te soen en verdwyn deur die ingang.
“Wat was dit?” vra Marc, vir wie dit voel asof hy in ’n stormwind te lande gekom het.
“Ramallah,” sê sy net. Hy sien dat haar kneukels wit deurslaan om die teeglas wat sy vashou, maar haar gesig verklap niks nie. Sy glimlag selfs effens.
Met die vertrek van Re’uven se dinamiese persoon kyk hulle twee mekaar ’n paar oomblikke half hulpeloos aan, onseker waaroor om te gesels.
Dis Rivkah wat eerste tot verhaal kom. “Was jy toe vanoggend by die Arabiese shuks?”
“Ek was,” sê hy, “heelwat om te sien.”
“Seker. Iets gekry om te teken?”
Hy glimlag, meer op sy gemak nou. “Ja.”
“Het jy dit by jou?”
“Altyd.”
“Kan ek sien?”
“Jy eet nog.”
“Maak nie saak nie.”
Hy trek dit uit sy immer teenwoordige sak. Rivkah blaai tydsaam deur die halfvol sketsboek wat hy vir haar aangee. Die hele tyd hou hy die wisselende trekke op haar gesig dop. Hy lê dit in sy geheue vas.
“Ek het nie woorde hiervoor nie, Marc,” sê sy toe sy eindelik opkyk.
“Dankie.”
Hy trek ’n ander sketsboek uit sy sak. Blaai ’n oomblik daardeur en gee dit toe vir haar aan. Dis twee tekeninge wat hy die vorige aand van haar gemaak het. Sy met die granate. Dis swart houtskoolsketse – net die granaat en haar mond is helderrooi pastel. Hy sien hoe haar wange warm word en toe sy opkyk, is haar oë donker. Hy sien dat sy nie weet wat om te sê nie.
Daarom sê hy: “Jy laat my aan my ma dink. Sy lyk soos jy. Sy is van Joodse afkoms.”
Sy frons. “Hoe bedoel jy jou ma is van Joodse afkoms?”
“Haar ma is ’n Poolse Jood. Sy woon hier in Jerusalem.”
“Maar dan is jy mos ook ’n Jood.”
Hy voel die bloed na sy gesig skiet, byt sy onderlip vas. “My pa se ma was ook ’n Jodin van Russiese afkoms.”
“Is dit hoekom jy hier is?”
“Gedeeltelik …”
Sy wag.
“Ek het ook ’n baie goeie vriend gehad wat vier jaar gelede verongeluk het. Hy was ’n Jood. Hy is hier in Israel gebore.”
“En dis die eerste keer dat jy hierheen kom!”
“Ek het dit onlangs eers te wete gekom. Ek bedoel oor my eie afkoms.”
“En jou grootmoeder hier? Weet sy van jou?”
Hy skud sy kop. “Sy weet nie, maar ek gaan haar opsoek.”
“Waar woon sy?”
“Hier in Jerusalem.” Hy haal die vel papier met haar adres uit sy jekker se binnesak en hou dit na haar toe uit.
“Oos-Talpiot,” lees sy, “dis Betlehem se kant toe. Jy kan bus no. 3 soontoe haal. Ek ken daardie deel goed. Jy kan Betlehem daarvandaan sien. Dis ’n wonderlike storie, Marc.”
“Ek moet self nog daaraan gewoond raak.”
“En is hier ook nog familie van jou vriend wat dood is?”
Hy knik. “Ja, sy suster. Sy is getroud en moet volgens wat ek weet ’n seuntjie van om en by vier jaar hê.”
“Waar bly sy?”
“Tel Aviv.”
“Het jy met haar kontak gemaak toe jy nou daar was?”
“Ek het twee maal gebel, maar daar was nie antwoord nie.”
“Baie mense het nou oor Pesach vakansie.”
“Ek sal weer probeer.”
“Watter jaar het jy skool klaargemaak?”
“Einde 1997. Jy?”
“Middel 2000. Ons akademiese jaar begin in Oktober. Wat het jy intussen gedoen?”
“Twee jaar ’n kunsterigting op universiteit. Maar ek’t opgeskop, dit het my verveel. Toe’s ek Parys toe tot einde verlede jaar se kant. Toe’s ek terug Suid-Afrika toe. Ek het die eerste kwartaal vanjaar buitemuurs klas gegee by kennisse van my. In iemand se plek uitgehelp wat met verlof was. Dis waar ek geld gekry het om hiernatoe te kom. Sal maar sien wat ek doen as ek teruggaan.”
“Is daar nog opsies in Suid-Afrika vir wit mense soos jy?”
Hy grinnik. “Nie veel nie. Wat het jy ná skool gedoen?”
“Weermag. Ek maak einde September klaar. Voorlopig. Dan wil ek Mediese Skool toe gaan. As die land nog staan.”
Hy kyk haar ’n rukkie stil aan. “Is dit regtig hoe jy oor die situasie voel?”
Sy skud haar kop. “Nee, nie regtig nie. Ek glo dis die land wat HaShem vir ons gegee het in ’n ewige verbond met ons vaders. Ek weet dit. Hy sal dit nie weer van ons wegneem nie.”
Hy weet nie wat om daarop te antwoord nie, dus bly hy stil.
Sy kreukel haar neus. “So jy is ook ’n Jood, Marc. Jy lyk nogal soos een.”
“Dink jy so?” vra hy verleë.
“Jou neus sal dit maak. En jou hare. Hoe voel dit om skielik te weet jy is ’n Semiet?”
“Ek het myself nog nie veel tyd gegee om daaroor na te dink nie. Ek weet net …”
Sy wag vir hom om klaar te praat.
Hy vou die papierservet ingedagte tussen sy vingers. “Ek weet net dat ek ’n … aanvoeling met Baruch gehad het … byna soos wat ek met my ma gehad het. En vroeër ook met my pa.”
Sy voel sy emosie aan en vra sag. “Jou pa is dood?”
“Ja. Maar my ouers was toe reeds geskei.”
Sy knik. “Hoe het jy dan so laat eers van jou herkoms te hore gekom?”
Hy aarsel, maar toe vertel hy haar in breë trekke. Sy luister stil terwyl hy praat.
“Jood-wees …” sê sy net toe hy klaar is, skud haar kop half verdrietig, half verwonderd. “Om ’n Jood te wees …”
Hulle sit vir ’n ruk stil. Dit het laat geword en die restaurant het langsamerhand byna heeltemal leeggeloop.
“Jy begin weer môre?”
“Ek moet tienuur in die kamp wees.”
“Het jy elke Saterdag af?”
“Ek het elke tweede Shabbat af, van middagete Vrydag tot Sondagoggend tienuur. Ek het net gisteraand my vriendin gehelp.”
“Wat doen jy in die weermag?”
“Ek is ’n ambulansbestuurder, maar nou met die selfmoordaanvalle doen ek dikwels op strategiese plekke in die stad diens.”
“Jy is ’n ambulansbestuurder?” Marc kyk verstom na die tenger geboude meisie voor hom.
Sy glimlag. “Ja.”
“Dis moeilik om te glo.”
“Nie as jy in Israel woon nie.” Sy staan op, haak haar tas oor haar skouer. “Ek dink ons moet gaan.”
Toe hulle buite kom, is dit ná twaalf. Hulle staan ’n paar oomblikke onseker in die nouerige stegie na mekaar en kyk. Toe sê sy: “Marc, van Woensdagaand af is dit Pesach. Ek het Donderdag en Vrydag af tot Saterdag tienuur omdat ek in ander mense se plek gewerk het. As jy wil, sal ek jou bietjie rondwys. Ek weet nie hoe dit met Re’uven sal wees nie, dinge verander nou van uur tot uur. Ek is ook nie oor myself seker nie. Maar as dit moontlik is, sal ons, of ek dan as hy vas is, jou graag bietjie wil rondvat.”
“Dis verskriklik gaaf.”
“Bly jy in dieselfde hotel?”
“Voorlopig. Maar ek gaan môre ander blyplek soek. Ek kan dit nie bekostig nie. Ek het ’n paar kontakte om op te volg.”
“Laat maar weet as jy nie regkom nie, ek weet ook van ’n paar plekke. Maar ek het tog jou selnommer. Hier, neem myne ook.”
Hy maak so.
Die nagwind wat koud geword het, waai die los hare oor haar gesig.
“Kyk waar jy loop as jy teruggaan, Marc. Asseblief.”
“En jy?”
Sy lag. “Ek’s oukei.”
Jerusalem
24 Maart 2002
00:50
Om ’n Jood te wees. ’n Jood te wees. Re’uven dra ’n bonkige, klein goue Ster van Dawid aan die ketting van sy dog-tag. Dit skuil soos ’n duifie in die donker kuil van sy keel. Maar in die flikkerlig van die kers op die tafel het dit sag geglim. Sag soos wat Rivkah se oë raak wanneer sy sê HaShem het die land vir die Jode gegee. As ’n verbond gegee. Vir die Jode gegee as ’n verbond. Ek is deel van daardie verbond. Is ek deel van daardie verbond?
Ver onder my lewe die stad nog asof dit nooit slaap nie. Asof dit bang is om te gaan slaap. Stad van Dawid, waaroor Jesus tog gehuil het. Yeshua. Baruch se Yeshua. Het Hy hierdie slagtings voorsien toe Hy gehuil het? Het hy Rivkah in die Moment-kafee gesien? Haar dooie bruidsvriendin? Die stukke liggaam van haar dooie bruidegom? Het Hy die geskreeu gehoor van die vrou wat haar baba in haar kinderwaentjie sien doodbrand het? Het Hy die angs van die terroris se hart hoor klop voordat hy homself in stukke laat skiet het? Het Hy gehuil omdat Hy gesien het hoe Re’uven sy suster soen voordat hy weggaan? Die geheime vrees in haar klein hande? Jesus, Yeshua, het jy jou mense vergeet? Liewe Jesus, kan jy nie Ragel oor haar kinders hoor huil nie?