Читать книгу Vreedsame revolusie - Нил Барнард - Страница 11
Hoofstuk 7
ОглавлениеRussiese interlude
Gedurende die somer van 1991 in die Noordelike Halfrond bevind ek my op ’n aand in Moskou, by ’n aanbieding van die wêreldberoemde Moskouse Sirkus – as ’n gas in die losie van die KGB, in daardie stadium seker die mees gevreesde spioenasiediens ter wêreld. Die werklikheid is inderdaad soms vreemder as fiksie en in die wêreld van spioene gebeur soms nóg vreemder dinge.
Ek en Mike Kuhn, ’n gewaardeerde kollega van Nasionale Intelligensie, vergaap ons aan die perdryvaardighede van die ruiters in die klein arena, veral die manne van Mongolië wat lyk of hulle in die saal gebore is. Ons gasheer, ene Artemof, word vir ’n dringende telefoongesprek weggeroep en keer later met ’n ietwat stroewe gesig terug maar bied geen verduideliking aan nie. Uiteraard vra ons ook nie wat skort nie. Spioene deel immers nie slaapkamergeheime nie.
Terug by die luukse gastehuis die aand kuier ons ’n hond uit ’n bos in die swembad en die sauna en stel ná heelwat van die KGB se beste vodka lawwe heildronke op mekaar en ons vaderlande in. Om die vure verder te stook, trek ek uit volle bors los met “Sarie Marais” en sing al drie verse.
Die uitnodiging van die KGB om Rusland te besoek, was nie ’n impulsiewe bevlieging om vinnig met ’n paar Suid-Afrikaners vriende te maak nie. Die aanloop tot die besoek het oor feitlik ’n dekade gestrek.
Betreklik kort nadat ek in 1980 die hoof geword het van NI se voorganger, die Departement van Nasionale Veiligheid, het ek besef hoe belangrik dit vir Suid-Afrika was om ’n geheime gesprekskanaal met die Russe – een van die ANC se grootse weldoeners – te skep. ’n Vroeë geleentheid wat hom voorgedoen het, was die feit dat Suid-Afrika vroeg in die jare tagtig ’n Russiese spioen, Aleksei Kozlof, aangekeer het – ’n kans wat NI benut het om gesprekke met die KGB aan te knoop.
Jare lank en in talle Europese stede is gesprekke met verteenwoordigers van die KGB gevoer, veral met die oog daarop om hul geldelike en militêre steun aan die ANC op te skort of ten minste af te skaal. Vordering was bitter stadig, maar uiteindelik het dit uitstekende resulate gelewer.1
In Maart 1991 het twee generaals van die KGB, ene Artemof en Iwanof (wat klaarblyklik nie hul regte name was nie), op die lughawe Jan Smuts aangekom te midde van sensitiewe operasionele reëlings om die twee onder die neuse van die Veiligheidspolisie ongehinderd die land in te bring. Mike Louw, adjunk-direkteur-generaal van NI, het hulle daar ontmoet aan die begin van wat een van die interessantste besoeke was wat ’n susterdiens in die spioenasiewêreld aan Suid-Afrika gebring het.
Ons gaste was goed belese en het indringende vrae oor die land gevra. Dit het gestrek van regses in die landbousektor tot die rol van etnisiteit in die swart politiek (soos hulle dit in die optrede van veral die IVP tydens die onderhandelingsproses waargeneem het). Hulle het kundige vrae oor die ondersteuning en aansien van die ANC gevra en professioneel uitgevis oor die ANC-leiersfigure se doen en late. Werkloosheid en die rol van vakbonde is ook indringend bespreek.
Oor die toestand in die verbrokkelende Sowjetunie was ons kollegas verbasend openlik en ook lojaal krities. Hulle was van mening dat die veranderings in die Sowjetblok te vinnig plaasgevind het wat tot ontwrigting en ’n ordelose samelewing gelei het. Toegewings oor ’n te vroeë en vinnige transformasie was na hul mening te maklik gedoen. Boonop, het hulle beweer, was 90% van die 2 500 lede van die Parlement onkundig oor politieke sake en het hulle weinig of geen ondervinding van landsadministrasie gehad nie.
Tydens hul besoek was Artemof en Iwanof ook ons persoonlike gaste by ons strandplek “Lewensessens” by Kleinbaai aan die Suid-Kaapse kus. Engela het tipiese boerekos gekook wat skaapboud en kerrie-frikkadelle ingesluit het. Voor ete het die gesprek onder meer oor boerewors gegaan met die gevolg dat dit ook, ontradisioneel in gebakte vorm, by die vleisdis gevoeg is. Ons Russiese kollegas het veral die wors terdeë geniet en ons het nie gehuiwer om “ouma se sterfbedresep” daarvoor met hulle te deel nie.
Op 25 Maart 1991 het die twee ’n belangrike afspraak met pres. De Klerk in Tuynhuys nagekom. Artemof was die woordvoerder en het die boodskappe van sy regering oorgedra. Die eerste daarvan was dat die Russiese leier, Michail Gorbatsjof, die NI/KGB-kanaal as die amptelike kanaal vir sensitiewe sake tussen Rusland en Suid-Afrika aanvaar het.
In die toekoms behoort daar wat hulle betref, geen beletsel op samewerking te wees nie. De Klerk het saamgestem maar ook daarop gewys dat dit nie in die plek van normale diplomatieke verhoudinge mag staan nie.
Vervolgens is Gorbatsjof se gelukwense aan De Klerk met sy politieke hervormingsinisiatiewe oorgedra en die hoop gekoester dat die Sowjetunie, wat met soortgelyke prosesse besig was, en Suid-Afrika dit suksesvol en vreedsaam sal kan laat verloop. De Klerk het hiermee saamgestem waarop Artemof van mening was dat ’n persoonlike ontmoeting tussen die twee staatshoofde glad nie vergesog was nie.
Verrassend genoeg het Artemof Suid-Afrika se hulp gevra met die voorsiening van graangewasse vir die veestapel in die Sowjetunie. Gorbatsjof se amptelike boodskap was: “We are facing serious difficulties with our national economy in providing the country with feeding stocks and foodstuffs.” Hy het natuurlik nie daarna verwys dat dit die gevolg was van onder meer die katastrofale ideologiese manipulasie van die Russiese landbou nie.
De Klerk het Artemof meegedeel dat Suid-Afrika self in daardie stadium ’n tekort aan sekere landbouprodukte ervaar het, maar dat ons met graagte ’n span kundiges na die Sowjetunie kon stuur waar hulpverlening prakties bespreek en deur kundiges beplan kon word. Dié plan het later beslag gekry toe ’n interdepartementele span onder leiding van Mike Kuhn Rusland besoek het om die prosesse in dié verband van stapel te stuur.
De Klerk het Artemof volledig uitgevra oor die situasie in die Sowjetunie. Hy het ook versoek dat die boodskap aan Gorbatsjof oorgedra sal word dat Suid-Afrika baie baat daarby sou vind indien die Sowjetunie sou ophou om sanksies teen die land te ondersteun en ons isolasie op sosiale en sportgebied sou teenwerk. Hy het ook gevra dat druk op die SA Kommunistiese Party en MK uitgeoefen word om die gebruik van geweld met die oog op politieke doelwitte te laat vaar.
Die twee KGB-kollegas het aandagtig geluister, aantekeninge gemaak en belowe dat die boodskap binne dae persoonlik aan die Russiese leier oorgedra sou word. Die twee het ons almal seker so ’n klein bietjie gemesmeraais, soos PW Botha sou gesê het, en ’n mens moet erken dat ons nogal met ’n swaar hart van hulle afskeid geneem het.
Die uitnodiging aan my om as gas van die KGB Moskou en Rusland vier maande later te besoek was ’n regstreekse uitvloeisel van Artemof en Iwanof se besoek aan Suid-Afrika.
Baie vroeg die oggend, ongeveer halfvyf, ná die skouspelagtige vertoning van die Moskouse Sirkus die vorige aand, word ek diskreet wakker gemaak vir ’n oproep uit Suid-Afrika. Dis Mike Louw. Hy dra die treurige nuus oor dat my pa die vorige dag oorlede is.
Meteens het ek besef dit moet dieselfde tyding wees wat Artemof die vorige aand tydens die sirkus verneem het maar dat hy kennelik besluit het om my dit voorlopig te spaar, ook met die wete dat ’n nabye vertroueling soos Mike dit eerder moet oordra. Nog ’n teken van die Russe se warmte en sorgsaamheid was die meelewing van die personeel later die oggend met die bediening van ontbyt. Ook van ander gashere tydens my besoek het ek dieselfde egte medelye ervaar. Dit was nie aangeplak nie, maar aards en opreg. Ek het dit beleef as ’n karaktertrek van mense wat in hul geskiedenis al onmeetbare swaarkry en lyding beleef het wat ’n mens nederig en dankbaar hou en jou daartoe beweeg om jou medemens in tye van beproewing te ondersteun.
Daar was nie veel tyd om toe oor my pa en sy lewe na te dink nie. Die KGB het ’n eenmaal-in-’n-leeftyd geleentheid vir my gereël: om ’n persoonlike gesprek met die Russiese leier Michail Gorbatsjof te voer. Dit was vir die volgende dag geskeduleer, maar weens my pa se dood moes ek vroeër huis toe vertrek.
Toe het nog ’n onvoorstelbare ding gebeur: Gorbatsjof het onderneem om ’n sitting van die politburo te onderbreek en my dieselfde dag in die Kremlin te woord te staan. Dit is ook presies hoe dit op 10 Julie 1991 om 10:00 gebeur het. Ons het in ’n enorme raadsaal vol ouwêreldse klatergoud ontmoet. Die Russiese leier het ’n netjiese donkerblou snyerspak en ’n rooi das aangehad. Artemof en ’n tolk was ook teenwoordig.
Van my kant lig ek Gorbatsjof in oor die politieke onderhandelinge in Suid-Afrika en vra dat die Sowjetunie nie enige politieke groep in dié proses moet bevoordeel nie; ook dat die Russe hul invloed sal gebruik om druk op die ANC/SAKP uit te oefen om hul versetaksies, soos massamobilisasie, te laat vaar indien hulle die proses vreedsaam wil laat verloop. Ek voeg ook by dat die SAKP ’n radikale invloed op die ANC uitoefen en dat hulle nie werklik in ’n politieke skikking nie maar net in ’n gewelddadige magsoorname belangstel. Ek waarsku ook dat enige militêre destabilisering van die proses van binne of buite Suid-Afrika nie geduld sal word nie.
Die Russiese leier het aandagtig geluister en daarna enkele opmerkings gemaak. Eerstens het hy beste wense aan pres. De Klerk oorgedra en bevestig dat albei van hulle met uitdagende en omvangryke veranderings besig is. Oor die Suid-Afrikaanse skikkingsproses was hy komplimenterend en ondersteunend.
Oor die moontlikheid van politieke kontak op die hoogste vlak, antwoord hy: “I will give this idea serious consideration.” Hy lug sy kommer oor die politieke verbrokkeling in Oos-Europa (dit was toe bykans twee jaar ná die val van die Berlynse Muur) en die invloed wat dit op die eenheid van die Sowjetunie kan hê. Moontlik het hy toe reeds die opstande in Tsjetsjnië en die balkanisering van die suidelike Russiese deelstate voorsien.
Gorbatsjof het onderneem om reguit met die ANC-leierskap te praat oor hul verantwoordelikheid om daadwerklik na ’n politieke oplossing te soek maar deel my in dieselfde asem mee dat ons geneig is om Moskou se invloed op die ANC, selfs ook op die SAKP, te oorskat. Hy was sekerlik korrek as ’n mens die revolusionêre baldadigheid van die SAKP teen selfs die ANC-leierskap die afgelope jare gadeslaan.
Ek het in ’n stadium waarskynlik te ligsinnig met Lenin se afwesigheid van Petrograd tydens die revolusie van 2 Februarie 1917 die spot gedryf en dit in verband gebring met die kommuniste in die ANC wat ook ’n redelik lae profiel handhaaf. Gorbatsjof het effens gefrons, maar die tolk het met ’n vermoedelik meesterlike omhaal van woorde die voortvarende angel uit my opmerking gehaal.
Gorbatsjof het ’n volle 40 minute aan my – of moet ek eerder sê: Suid-Afrika – afgestaan. Ek het hom as aangenaam en skerpsinnig ervaar. As mens was hy saakliker as die aardse gemoedelikheid wat ek by baie Russe ervaar het, nogtans was hy nie afsydig nie. Moontlik was hy nie meedoënloos genoeg om dié ontsaglike land met sy enorme probleme, ambisieuse politici en koppige veiligheidsmagte te hanteer nie.
By my vertrek het ek aan hom ’n Krugermunt oorhandig, en vir mev. Gorbatsjof ’n goue Krugermunt-halssnoer. Op pad terug in die motor het Artemof my oor die Lenin-opmerking gekapittel en vertel dat die tolk my eintlike woorde aansienlik aangepas het, maar dat dit alles vir ’n goeie doel was. Akkoord, waarvoor is daar dan ’n broederskap onder spioene! Ek het die tolk hartlik bedank.
In die vliegtuig op pad terug huis toe, kon ek die eerste keer rustiger oor my pa nadink, met groot hartseer maar ook trots. Nicolaas Evehardus Barnard, 72 toe hy weens hartversaking gesterf het, was ’n man onder die manne. ’n Gelowige Afrikaner-patriot met gesonde politieke oordeel.
Hy het feitlik as ’n weeskind en bywoner brandarm grootgeword. Dog met dissipline en deursettingsvermoë het hy tegelyk aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege, waar hy voorsitter van die studenteraad was, en die Grey-Universiteitskollege gestudeer en ná drie jaar ’n BA-graad én ’n onderwysdiploma verwerf. Hy was ’n baanbreker op onderwysgebied in die destydse Suidwes-Afrika, waar hy tot hoofinspekteur van onderwys gevorder het, terwyl hy sy lewe lank wars van eiewaan was.
Hy het sy vier seuns geïnspireer om alles met volle oorgawe en toewyding te doen. Onder sy foto wat in ons latere familiemaatskappy se raadsaal gehang het, is die woorde gevoeg waaraan ons hom altyd sal onthou: “Blaas hoog die vlam!”
Voor my vervroegde vertrek terug huis toe ná die dood van my pa, het ek drie dae en nagte lank die gasvryheid en spontaneïteit van my gashere geniet. Ek en Mike Kuhn het in ’n splinternuwe gastehuis tuisgegaan waar niks ontbreek het nie.
Ons het later besef dit is waarskynlik in dié einste blyplek waar my destydse eweknie, genl. Wladimir Kritsjkof, ’n staatsgreep teen Gorbatsjof beplan het. Net bietjie meer as ’n maand ná ons besoek het onder andere Kritsjkof en die minister van verdediging, Dimitri Jasof, die mag in Rusland probeer gryp terwyl Gorbatsjof met vakansie was. Hul planne is egter gefnuik. By die aanhoor van dié nuus was ek en Mike enigsins – maar gelukkig onnodig – bekommerd dat ons besoek dalk met die gepoogde putsch verbind sou word.
Ons het talle interessante en geskiedkundige plekke besoek, ook die Universiteit van Moskou, waar talle Suid-Afrikaanse kommuniste opgelei is en die rektor ons meegedeel het dat die meeste Suid-Afrikaanse studente loodswaaiers van die hoogste orde was. Ná ’n uitgerekte besoek aan die Kremlin en al sy bewonderenswaardige kultuurskatte beland ek in ’n vertrek wat seker min kommuniste beskore is: die kantoor van Wladimir Lenin in die Kremlin, wat nog net so lyk soos op die foto’s wat ’n mens jare tevore in geskiedenishandboeke gesien het, met die bekende aardbol en al en waar hy sy revolusie en Leon Trotski se burgeroorlog teen die sogenaamde Wit Russe help beplan het.
Ons reis ook deur die platteland en slaap een aand in niemand minder nie as Josef Stalin se “dacha” in die omgewing waar die grootste tenkveldslag in die geskiedenis tydens die Tweede Wêreldoorlog by Koersk plaasgevind het. Ek en Mike het mekaar gretig in die badkamer van die hoofslaapkamer waar ek tuis was, in die bad en op die toilet, afgeneem. Dit is immers min mense beskore om ’n toiletstoel met Stalin te deel!
In die berugte hoofkwartier van die KGB het ons ure lank gesels. Dit is met gemengde gevoelens dat ek my voor Feliks Dzjerzjinski se borsbeeld in die voorportaal van die KGB-hoofgebou, die Loebjanka, laat afneem. Dzjerzjinski was die stigter en van 1917 tot 1926 die eerste direkteur van Tsjeka, die Sowjetunie se veiligheidspolisie. Die gemengde gevoelens het gespruit uit my historiese afsku van kommunisme totdat ek tot die “Damaskus-besef” gekom het dat nie elke Rus ’n kommunis is nie en dat hulle nie dieselfde waardes voorstaan nie. Dis hier aan die Dzjerzjinski-plein waar, volgens die geskiedenisboeke, onuitspreeklike wreedhede deur die Russiese intelligensiedienste uitgevoer is. Nogtans was dit vir my ’n voorreg dat NI in die heilige voorportale van die KGB toegelaat is.
Ek is selfs op ’n uitgebreide toer deur die KGB se museum geneem waar my gashere nie huiwer om die kind by sy naam te noem nie, die heldedade én die mislukkings. Op sommige is hulle baie trots, oor ander baie skaam en hulle haal ook die feitlik universele verskynsel op: Vir die suksesse eis die politici alle eer op, terwyl die amptenare vanselfsprekend vir die mislukkings verantwoordelik gehou word.
Van daar is ons na die raadsaal van genl. Kritsjkof, hoof van die KGB, wat nie veel gepraat het nie. In sy kantoor doen hy my die eer aan deur ’n KGB-dekorasie aan my bors te speld as erkenning van die buitengewone diens wat ek tot die opbou van betrekkinge tussen die twee intelligensiedienste gelewer het.
Die foto daarvan moet sekerlik die ANC steeds nagmerries gee, want hoe kón die KGB “die Boere-Broederbonder-spioen” vereer! Toe ek en Joe Slovo kort voor sy dood vir oulaas saam whisky drink en sigare rook, wys ek hom die foto.
“Jy het veel verder as ek in die KGB gevorder. Julle het gedink ek was ’n majoor in die KGB, maar dit lyk my jy was ’n veldmaarskalk!” het hy geskerts.
Ons was veral beïndruk deur die KGB se hoof van operasies, kollega Leonid Sjebarsjin, wat intelligent oor alles gesels – van die SAKP wat klaarblyklik drome koester van ’n revolusionêre magsoorname in Suid-Afrika tot die rol van hoofman Buthelezi en die IVP en soortgelyke dilemmas wat die Russe met die Islamitiese etniese minderhede in die suide van hul steeds ontsaglik groot land het. Ons was almal oortuig daarvan dat een of ander vorm van federalisme in albei gevalle die beste oplossing bied.
Dit was duidelik dat ons KGB-kollegas nie veel dagdrome oor die realiteite van Afrika gekoester het nie. Hulle het ons ingelig dat hulle hul verteenwoordiging in Afrika aansienlik gaan inkort, want dit was weinig meer as ’n bodemlose put waarin daar van intelligensie-rendemente min sprake was. Net daar word ooreengekom op die plasing van ’n KGB-verteenwoordiger in Pretoria ten einde die Kremlin eerstehands oor die verwikkelinge in Suid-Afrika ingelig te hou.
In my terugvoering aan pres. De Klerk het ek daarop gewys dat die Sowjetunie onder enorme ekonomiese druk verkeer en dat die voorgenome samewerking met van ons staatsdepartemente deur Moskou hoog waardeer word.
Ek het ook Neil van Heerden, Derek Auret en Herbert Beukes van Buitelandse Sake volledig oor die besoek ingelig wat kwalik hul ongelukkigheid verberg het oor wat hulle as NI se betreding van hul terrein beskou het. Dit was heeltemal te verstane, maar ek het geen ander keuse gehad as om dié gewaardeerde kollegas ’n afgewaterde deel bitter medisyne te gee nie: dat die Russe my nadruklik meegedeel het dat hulle nie kans gesien het om die informele, vertroulike diplomatieke verhoudinge wat plek-plek bestaan het, uit te brei nie. Die rede was eenvoudig dat min. Pik Botha net nie in staat was om sensitiewe en geheime sake vir homself te hou nie, terwyl die Russe veral begaan daaroor was dat die Amerikaanse CIA, die Britse SIS asook ander Europese dienste nie van die verwikkelinge moes weet nie.
Drie maande ná my besoek aan Rusland, in Oktober 1991, het die hoof van die KGB (toe bekend as die Russiese Buitelandse Diens SA), Jewgeni Primakof, Suid-Afrika besoek en die volgende jaar het Moskou ’n ambassade in Pretoria geopen. Hoewel ek toe reeds van NI af oorgeskuif het na die Staatkundige Ontwikkelingsdiens, het ek sorg gedra dat die KGB op die hoogte van sake oor die onderhandelinge in Suid-Afrika gehou word.
Ná 1994 het die verhouding tussen die ANC-regering en die bewindhebbers in Moskou ten beste uiters koel gebly en dit word steeds nie deur warmte en ondersteuning gekenmerk nie. Voorgenome besoeke van Mandela aan Moskou is talle kere uitgestel, ’n bestemming wat steeds nie hoog op die lys is van wêreldstede wat die ANC-leiers in hul eindelose oorsese besoeke aandoen nie. Onder pres. Zuma het betrekkinge wel verbeter.
1 Sien Geheime revolusie: Memoires van ’n spioenbaas (veral pp. 71-77) vir besonderhede hiervan.