Читать книгу Vreedsame revolusie - Нил Барнард - Страница 12
Hoofstuk 8
Оглавление’n Wankelrige wegspring
Teen Desember 1991 het die tyd aangebreek dat die Suid-Afrikaanse vredesproses spoedeisend na die politieke en konstitusionele terrein beweeg. Verder dat die proses in die openbaar – en dus deursigtig – en ’n veelpartyproses moes wees.
Aan Regeringskant was die laaste dae voor die eerste sitting van die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika – wat bekend geword het as Kodesa 1 – ’n miernes van bedrywighede.
Die Beleidsgroep vir Hervorming (BGH) het ure lange diskoerse by die Uniegebou in Pretoria gevoer. Een van die brandende kwessies was dat die ANC in gebreke gebly het om die demobilisering van MK, beheer oor wapenopslagplekke en hul verdere plegtige ondernemings ingevolge die DF Malan Akkoord oor gewapende geweld na te kom. Dit was vertragingstaktiek met die oog op voordele by die onderhandelingstafel op sy beste.
Die aand van 19 Desember, ’n dag voor die opening van Kodesa 1, dreig pres. De Klerk by die vergadering van die BGH dat hy dit oorweeg om nie met Kodesa voort te gaan as die ANC nie sy beloftes nakom nie. Volgens hom was hy hoogs geïrriteerd omdat hy in ’n onmoontlike situasie geplaas is. ’n Lang en intense debat het gevolg. Uiteindelik het gesonde verstand geseëvier wat by dié geleentheid bepaal het dat die Regering hoegenaamd nie die veelpartykonferensie oor die toekoms van Suid-Afrika kon kanselleer nie.1
Oor die verdere besinning en besluite van die aand het die BGH, myself inkluis, minder insig en wysheid aan die dag gelê. Die president is warm gepraat oor die geweldskwessie en daar is besluit dat hy die ANC die volgende dag by Kodesa in die openbaar daaroor sal takel en dat Mandela hoflikheidshalwe vooraf daaroor ingelig sal word. De Klerk besluit om dié boodskap nie self oor te dra nie, maar Kobie Coetsee as sy boodskapper te gebruik.
Coetsee het later aan ons gerapporteer dat hy Mandela nie kon opspoor nie, maar dat hy die boodskap aan Thabo Mbeki oorgedra het. Dié sou op sy beurt Mandela ingelig het. Volgens Coetsee het Mbeki begrip vir die Regering se besware oor geweld getoon en ook vir die feit dat De Klerk daaroor ’n ferm standpunt by Kodesa sou inneem.
Die oggend van 20 Desember was die atmosfeer by die World Trade Centre in Kempton Park byna elektries gelaai in afwagting op die loodsing van die Suid-Afrikaanse model van ’n openbare grondwetlike skikkingsproses. Die Regering en 19 partye, bykans 300 afgevaardigdes, het voor die oë van hul ondersteuners en die wêreld byeengekom om formeel, ordelik en gestruktureerd dié proses van stapel te stuur. Die Staatkundige Ontwikkelingsdiens het die konferensie saam met ander rolspelers tot in die fynste besonderhede beplan.
Nadat hoofregter Corbett die konvensie geopen het, het die leiers van al die politieke partye en die Regering hul openingstoesprake gelewer. Die bykans 300 afgevaardigdes het aandagtig na die sprekers geluister.
Soos ooreengekom, het De Klerk as staatspresident laaste aan die woord gekom. Hy het geesdriftig weggespring en aangekondig dat die Regering bereid is om ’n kompromie te oorweeg tussen die ANC se eis dat die nuwe Grondwet deur ’n verkose grondwetgewende vergadering opgestel moet word en die Regering se standpunt dat dit deur ’n konstitusionele veelpartykonvensie opgestel moet word. Hy het ’n tweefaseproses voorgestel en verduidelik wat dit sou behels.
In sy woorde was dit “’n verrassingsaankondiging” wat in die media as ’n “asembenemende beleidsverandering” bestempel is.2
Soos by die BGH ooreengekom, het De Klerk hierna die ANC oor hul nienakoming van die Malan-akkoord geroskam. Hy kritiseer die ANC dat hulle as organisasie met ’n private leër aan Kodesa deelneem en sluit af met die standpunt dat die ANC nie vertrou kan word nie terwyl hulle aan die een kant steeds ’n voorstander van gewapende stryd bly en aan die ander kant aan die vredesonderhandelinge wil deelneem. Hy eis dat die ANC ’n keuse tussen vrede deur onderhandeling of ’n magstryd deur geweld moet doen. In sy eie woorde bepleit hy ’n wen-wen-situasie.
Volgens koerantberigte én De Klerk is sy toespraak met luide applous begroet. Die belangrikste afgevaardigde by die konvensie het dit egter nie met waardering begroet nie. Inteendeel.
Mandela se reaksie het die vergadering soos ’n kartets getref. Hy was woedend en het byna sy bewonderenswaardige selfbeheersing verloor. In die een vernederende opmerking ná die ander het die opgekropte woede van eeue – in sy geval van 27 jaar in die tronk – in staccato-uitbarstings na vore gekom.
Hy het De Klerk as die hoof van ’n “illegitimate, discredited, minority regime” bestempel en as ’n man “wat nie eens daarmee vertrou kon word dat hy [aan die regime se] lae morele standaarde sou voldoen nie”. Op die koop toe was hy “nie geskik om ’n regeringshoof” te wees nie.3
Mandela was briesend, maar nes in sy toespraak uit die beskuldigdebank tydens die Rivonia-verhoor in 1964 praat hy met groot oortuiging en tree op soos die volgende president van die land wat hom deur niemand sal laat rondstoot nie.
De Klerk was sigbaar woedend, verneder, skaamkwaad en volgens hom het hy baie gesukkel om sy humeur en diepe verontwaardiging te bowe te kom.4 ’n Mens moet hom bewonder dat hy bo sy ego kon uitstyg en in sy reaksie nie ook in ’n beledigende tirade verval het nie – waarop hy sekerlik geregtig was. Hy het werklik die land se belang bo sy eie gestel en voorkom dat Kodesa 1 op ’n algehele breukspul uitloop.
In sy antwoord het hy daarop gewys dat hy Mandela nooit persoonlik aangeval het nie en dat hy steeds meen dat geweld in die pad van die Kodesa-ideale staan. Hy het ook die afgevaardigdes meegedeel dat hy die ANC gewaarsku het dat hy die saak sou opper.
Ondanks De Klerk se protestasies het die pendulum van mag in die onderhandelinge dié dag onherroeplik geswaai. Mandela en sy span het spoedig die primus interpares van die onderhandelinge geword. Die morele gesagsposisie het na die ANC verskuif op grond van die implikasie: “Julle [die Regering] is nie te vertrou nie. Julle is nie waardige onderhandelingsvennote nie. Julle onderhandel vir vrede, maar agteraf maak julle nog oorlog teen ons mense.”
Vroeër was dit die Regering vs. terroriste. Van 20 Desember 1991 af nie meer nie.
Met agternawysheid is dit duidelik dat dit uiters dom van ons almal aan Regeringskant was om ’n sensitiewe kwessie wat ons nie privaat met die ANC kon beredder nie, met ’n openbare dreigement te probeer oplos – boonop deur ’n wêreldikoon soos Mandela tot verantwoording te probeer roep.
’n Mens vat nie die wêreld se witbroodjies in die openbaar aan oor sake wat nie privaat uitgepraat kon word nie. Dit getuig waarskynlik van magsbabbelas, van mense wat te lank sonder effektiewe opposisie regeer het. Nugter weet waarom De Klerk nie geadviseer is om die telefoon op te tel en Mandela oor sy ontevredenheid in te lig nie.
Dit kon die hele debakel voorkom het. Dit was ’n dwaasheid waarvoor ons ’n hoë prys betaal het.
Toe die gemoedere teen die volgende oggend gekalmeer het, soek Mandela witbroodjie deur in die vergadering oordrewe vriendelik en versoenend te probeer wees. In dié opsig was hy tipies politikus wat dit maar nie oor sy hart kon kry om ’n openbare verskoning aan te bied nie en onbeholpe salf probeer aansmeer het om te wys hy is jammer sonder om dit te sê.
Kodesa 1, wat veronderstel was om ’n viering en demonstrasie te wees van alle partye se bereidheid om vreedsame oplossings te soek, het dus rampspoedig begin. Nogtans het die proses nie ontspoor nie, hoewel die gebeure ook wys dat onderlinge vertroue op leiersvlak en veral tussen die prinsipale nog skromelik ontbreek het. Die proses van onderhandeling was egter reeds sterker as sy twee deurslaggewende leiersfigure.
Op dié manier het die onverkwiklike voorval ’n ander vreugdevolle feit tuisgebring: Geen individu kon meer die vredesproses eensydig kelder nie. Die vaargleuf van Suid-Afrikaners se soeke na vrede het te sterk geword.
Daar was steeds genoeg welwillendheid in die lug sodat 18 van die teenwoordige partye die dag voor die verdaging vir die Kersseisoen plegtig ’n sogenaamde “Verklaring van Voorneme” onderteken het.5 Daarmee het die partye hulle tot al die basiese elemente van die toekomstige Suid-Afrikaanse demokratiese staat verbind.
Die plegtige onderneming oor die breë raamwerk van ons demokrasie was nie moeilik te bereik nie. Die besonderhede daarvan sou egter vir baie dae en nagte se worstelinge sorg.
By Kodesa 1 is ooreengekom om vyf werkgroepe met verteenwoordiging van alle deelnemende partye te stig om op ’n openlike, deelnemende en gelykwaardige manier die kernvraagstukke van die vredesproses aan te pak. Uiteraard het die werkgroepe nie al die antwoorde en oplossings gebring nie. Tog was dit die onontbeerlike openbare verhoog waar politici onder die waaksame oog van hul ondersteuners en die media na hartelus kon redekawel en daardeur ’n onskatbare bydrae lewer om Jan en San Alleman te laat voel hulle is deel van die vrede en die toekoms.
In die moderne wêreld sal ooreenkomste wat in die geheim in rookgevulde kamers onderhandel word sonder om die burgery deel daarvan te maak, net nooit in die finale uitvoering slaag nie.
Die werkgroepe het op die volgende temas gefokus: 1. die skepping van ’n gelyke politieke speelveld; 2. grondwetlike beginsels en ’n nuwe grondwet; 3. ’n oorgangsbedeling totdat die nuwe Grondwet in werking tree; 4. die TBVC-state en hul demokratiese regte; en 5. tydskale vir die implementering van die Kodesa-ooreenkomste.
Met uitsondering van Werkgroep 2 was die bydrae van die werkgroepe ten beste ’n skrale oes. Derduisende woorde in seepkisorakels getooi, is gespreek. Gewaande intellektuele wyshede is kwytgeraak. Gal is gebraak en aspirant-politici het skalks gekyk of die media van hul slimmighede kennis neem.
Baie van veral die NP-politici se bydraes by die werkgroepe was erbarmlik. Hulle was onvoorbereid, het advies gesoek by junior amptenare en weinig leiding van De Klerk of Meyer gekry. Hulle was eenvoudig nie opgewasse vir die taak nie.
By Werkgroep 2 het die vonke gespat. Tertius Delport en Cyril Ramaphosa het tromp-op gebots oor die persentasie wat nodig sou wees om die Tussentydse Grondwet te verander. Delport het op ’n meerderheid van 75% aangedring, oënskynlik met De Klerk se steun. Ramaphosa het by twee derdes begin maar dit later tot 70% opgeskuif.
Later het hy bygevoeg dat as die grondwetskrywende vergadering nie binne ses maande ’n grondwet met die vereiste meerderheid (75% of 70%) aanvaar nie, ’n referendum gehou moet word waarin ’n gewone meerderheid voldoende sou wees. Met die ANC se bekende en geoefende manier om prosesse te vertraag, sou dit vir hulle kinderspeletjies wees om so ’n referendum af te dwing.
Dit was egter nie nodig nie. Teen die middel van 1993 het De Klerk op Mandela se aandrang van ’n meerderheid van net 60% kopgegee. Dit is wat gebeur as leiers strategies dom is. De Klerk se traagheid om nie ’n besluit te neem wanneer hy moet nie, het hom ingehaal.
Wat ’n historiese bydrae betref, was die Kodesa-werkgroepe randeiers. Fundamentele kwessies is steeds vertroulik uitgeworstel. Die kernvraagstukke van die onderhandelinge – die gewapende konflik, populistiese massageweld, die toekoms van die staatsdiens, regstellende aksie, amnestie, die amptelike landstale en kulturele kwessies, die provinsies en hul grense, konstitusionele regeringsvlakke en die afwenteling van mag – is steeds met geslote deure deur die hoofonderhandelaars uitgespook.
In die vertroulike gesprekke en bedinging in die werkgroepe het die Regering se standpunte meermale geseëvier; in die “openbare onderhandelinge” selde.
Gedurende 1991 het dit klaarblyklik vir die staatsdepartement Staatkundige Ontwikkelingsdiens (SOD) duidelik geword dat hy ’n dringende behoefte aan oorhoofse bestuur en beplanning en koördinering met die breë staatsdiens nodig het. Ek was toe reeds jare lank die mees senior direkteur-generaal van die staat.
Roelf Meyer, minister van Staatkundige Ontwikkeling, het my gepols of ek nie wou kom help om die skikkingsproses te bestuur nie. Ons het mekaar sedert ons studentedae in die 1970’s aan die Vrystaatse Universiteit geken en het toevallig dieselfde aand lid geword van die Ruiterwag, ’n Afrikaner-kultuurorganisasie vir jong mans.
Meyer se aanbod het ’n eensame besluit meegebring waaroor ek snags baie rondgerol het. Nasionale Intelligensie sou in veilige hande wees en ek het geoordeel dat die skikkingsproses Suid-Afrikaners se lot vir geslagte sou bepaal. Nogtans het ek en Engela met swaar harte ons bande met NI verbreek.
Op 1 Februarie 1992 het ek direkteur-generaal van Staatkundige Ontwikkeling geword. Dit was ’n sleuteldepartement wat baie bestuursaandag nodig gehad het. In staatsdiensterme was dit ’n jong departement wat reeds verskeie ministers gehad het van wie die deurwinterde Chris Heunis die bekwaamste was. Hy het my vroeër ernstig gevra om DG van die departement te word, maar ek het nie daarvoor kans gesien nie. Bowendien was daar in ’n stadium bespiegelinge in die media dat ek minister van dié departement sou word en dit het ’n onaangename skindery tot gevolg gehad.
Aan die amptenarekant het die departement gesukkel om stabiliteit en ’n gedugte korps lede daar te stel. Bekwame amptenare sluit nie maklik uit eie keuse by nuwe departemente aan nie en daar is baie gesukkel om veral die topposte te vul. Boonop is dit ’n uitdaging vir nuwe departemente om hul lêplek van verantwoordelikhede in die burokrasie oop te skop.
Gelukkig kon ons daarin slaag om die dienste van ’n paar gewese NI-lede soos Maritz Spaarwater, Daan Opperman, AP Botha, Herman du Toit, Gustav von Bratt en Nel Marais te bekom. SOD het ook oor die staatmakervermoëns van onder andere Andrew Gray, Ando Donkers, Chris du Plessis, Koos van der Merwe, Chris Maritz, Renate Williams, Francois Beukman en ’n spesialisraadgewer, Johan Symington, beskik. Symington se wysheid was meermale onontbeerlik.
Die adjunkhoof, Henk Fourie, en die administratiewe hoof, Deon du Plooy, was staatmakers uit die trotse tradisie van die ou staatsdiens wat die ruggraat van die departement uitgemaak het.
Die departement was nietemin ’n klein groepie mense wat hulle hoofsaaklik met ellelange akademiese beredeneringe besig gehou het en nie daarin geslaag het om die implementering van die staatkundige skikkingsproses suksesvol te hanteer nie.
1 Hermann Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers (Kaapstad: Tafelberg, 2012), p. 355; Willie Esterhuyse, Eindstryd. Geheime gesprekke en die einde van apartheid, p. 292.
2 FW de Klerk, Die laaste trek – ’n nuwe begin (Kaapstad: Human & Rousseau, 1999), p. 239.
3 Patti Waldmeir, Anatomy of a Miracle (Londen: Viking, 1997), pp. 191-192.
4 FW de Klerk, Die laaste trek – ’n nuwe begin, pp. 240-242.
5 Die twee wat nie die verklaring wou onderteken nie, was Bophuthatswana, wat teen herinlywing by Suid-Afrika gekant was, en die IVP, vir wie federalisme nie sterk genoeg in die verklaring gefigureer het nie.