Читать книгу Vreedsame revolusie - Нил Барнард - Страница 7

Hoofstuk 3

Оглавление

1 500 beslissende dae

Van Nelson Mandela se vrylating op 11 Februarie 1990 tot met sy inhuldiging as president op 10 Mei 1994 het Suid-­Afrikaners om tallose onderhandelingstafels die vreedsame ontlonting van die wurggreep waarin hulle hul bevind het, uit­gehamer.

Dié meer as 1 500 dae was vol roemryke epog. Daar was helaas ook roemlose selfsug en blatante opportunisme, selfs ook mantel­draaiery en magsgierigheid.

Die onderhandelinge het dag ná dag, nag ná nag en naweek ná naweek voortgeslinger. Dit is ’n illusie dat alles netjies en volgens plan verloop het. Dikwels is van dag tot dag en van tafel tot tafel voortgestoei sonder duidelike doelwitte by die meeste van die deelnemers. Krisisse is wanneer dit voorgekom het, aangepak en meestal opgelos. Dit was alleen moontlik danksy die onderlinge vertroue en vasberadenheid van die kerngroep onderhande­laars vir wie vrede ’n passie geword het.

Die meeste onderhandelinge is in die Staatkundige Ontwikkelingsdiens (SOD) se hoofkantoor by Walkerstraat 240 in Pretoria gevoer, maar baie daarvan ook oor die lengte en breedte van die land – selfs in ’n buurland. Van D’Nyala in die Bosveld en De Hoop in die Suid-Kaap tot die ivoortorings van die Witwatersrand en die staatsgeboue van Pretoria is intense debatte met veral die ANC gevoer. By Ulundi en elders in Natal is eindelose diskoerse met die Inkatha-Vryheidsparty gehou.

Die PAC is in Gaborone ontmoet omdat hulle geweier het om op Suid-Afrikaanse bodem te onderhandel. Die regses is, heel gepas, op ’n jagplaas in die verre Noord-Transvaal op die walle van die Limpopo te woord gestaan waar Thomas Langley volgehou het dat die beoogde volkstaat volle diplomatieke verteenwoordiging in die buiteland moet geniet.

Ook die ou Verwoerdgebou by Pleinstraat 120 in Kaapstad was die tuiste van onderhandelinge, onder andere met talle splintergroepe en flentergatpartye, soos PW Botha hulle genoem het. Almal was skielik in hul eie oë tog te belangrik om oorgeslaan te word in die soeke na ’n politieke oplossing. Dit was ’n uitdaging om hulle enersyds nie af te stoot nie en andersyds te laat verstaan dat hul bedingingskrag by die onderhandelinge breedweg in oor­eenstemming moet wees met hul (in daardie stadium ongetoetste) steunbasis.

Kom wat wil, daar moes na almal geluister word om volle deel­name deur almal te verseker. So gesê, so gedaan.

Die ANC se span

Die ANC se onderhandelingspan was gedug en het vele fasette ver­teenwoordig. Boonop het hulle die voordeel van ’n wêreldikoon as prinsipaal en leier gehad.

Meermale het Mandela die onderhandelinge soos ’n Stradivarius-­viool bespeel. Almal het geweet dat sy instemming die finale toets was wat hom eintlik ’n vetoreg besorg het. Wanneer dit uit sy oog­punt nodig was, was hy onversetlik. Soms was hy bykans banaal met verwytende passie, byvoorbeeld oor die “Derde Mag” en vei­ligheidsake; iets waaroor hy en die ANC self knus agter die deur gestaan het.

Waarom was Cyril Ramaphosa die uitverkorene om die ANC-span te lei, en nie Thabo Mbeki nie wat immers ’n leeue-aandeel in die voorbereiding gehad het?

NI se bronne het ’n heel logiese verduideliking daarvoor verskaf wat deels geleë was in die interne konflik in die ANC tussen die verrinneweerde binnelandse United Democratic Front-vleuel en die bedorwe buitelandse vleuel. Eersgenoemde is deur die vei­ligheidsmagte gekarnuffel; laasgenoemde het oorsee in spog­hotelle gerinkink. Dit was die persepsie, maar ook deel van die werklikheid.

Mbeki is deur die ANC-leierskap as die skerpsinnige intel­lek­tueel beskou wat te sag met die Regering sou onderhandel. Rama­phosa is gesien as die stormram wat die Regering se onderhandelaars op hul plek sou sit. Toe die pendulum ten gunste van aggressiewe onderhandelinge swaai, was Ramaphosa met sy per­soonlikheid en ervaring van vakbondonderhandelinge die aan­gewese persoon.

Mbeki het sy ondersteunende rol oënskynlik met grasie aanvaar. Hy het dikwels gehelp om knelpunte te ontlont, veral met die regse Afrikaners en die stryd om hulle deel van die vredesproses te maak. Mbeki was skerp maar nooit geniepsig nie. Hy is ’n goeie luisteraar, soek oplossings en help almal om kerndilemmas duidelik uiteen te sit. Almal het geweet hy was uit eie reg en as ’n protégé van Oliver Tambo ’n swaargewig met toegang tot Mandela.

Ramaphosa was eweseer skerpsinnig en altyd goed voorberei. Hy het nie doekies omgedraai nie – ’n eien­skap wat goud werd was. Onderhandelinge gaan, soos die Duitsers sou sê, oor “blut und boden”-kwessies; dit het Ramaphosa goed verstaan. Hy is ’n vriendelike mens, maar het hom soms soos ’n sammajoor op die paradegrond gedra. Dan was hy bombasties en selfs arrogant, soos die dag toe hy my terwyl ek Afrikaans gepraat het, toegesnou het dat alle amptenare veronderstel was om tweetalig te wees.

Hy het gravitas en talle talente na die tafel gebring. Almal het geweet as Cyril deel van ’n plan was, was die kans op sukses so te sê verseker.

Die res van die ANC se kernspan was eweneens talentvolle mense: Joe Slovo, Mac Maharaj, Valli Moosa en soms Mathews Phosa. Hulle was goed voorberei en het mekaar uitnemend aangevul, soos ’n Olimpiese aflosspan wat die stokkie foutloos van die een na die ander aangee. Hul duidelike doelwit – ’n demo­kratiese bedeling vir Suid-Afrika – het hulle ’n onbetwisbare voordeel besorg. Intellektuele en akademiese beredeneringe kan nie kers vashou by die realiteit van die volkswil by die stembus nie. Agter in elke onderhandelaar se kop weet hy of sy dit baie goed.

Dan was daar ook nog die ANC se uitgebreide onderhande­ling­span wat na gelang van temas en knelpunte betrek is, onder andere Jacob Zuma, Joel Netshitenzhe, Barbara Masekela, Baleka Kgositsile (later: Mbete), Joe Modise, Zola Skweyiya, Arthur Chas­kalson, Siphiwe Nyanda en Aziz Pahad. Almal ou strydrosse, die meeste van hulle met uitstaande “struggle credentials” wat hulle met gesag laat praat het.

Dit is insiggewend om die duisende dae wat van die ANC-­onderhandelaars op sneeubedekte paradegronde in Oos-Duitsland, in luisbesmette kasernes in Angola en Uganda en agter tralies in Suid-Afrika deurgebring het – tesame met die vrees dat die Weer­mag se Spesmagte enige tyd op jou lêplek in een van die buur­state kon toeslaan – te vergelyk met die gemaklike leunstoellewe van die Regering se onderhandelingspan.

Aanvanklik het die ANC tydens die onderhandelinge verward voorgekom. Niemand kon agterkom wie die septer swaai nie. Was dit Mandela, of die binnelandse UDF-vleuel, of die buitelandse Thabo Mbeki-vleuel, of die SAKP of Cosatu? Dit was veral tussen die binnelandse vleuel en die buitelandse vleuel, wat spoedig in groot getalle na die land teruggekeer het, waar die onderlinge spanning selfs vir buitestaanders duidelik was. Nogtans is hulle deur die allesoorheersende ideaal van bevryding saamgebind.

Van deurslaggewende belang vir die ANC was die ondersteu­nende massas; ’n kritieke boublok van hul onderhandelingstrategie wat deur drie magselemente gerugsteun is. Eerstens sou die massas sorg dat die ANC die verkiesing demokraties wen en hulle moes dus vertroetel word. Hul nukke en jare lange opgekropte woede moes dus voortdurend verreken word. Alle gesprekke vir vrede was ter wille van hul redding uit onderdrukking, was die wekroep. Dít het alle gesprekke, met ’n goeie dosis apartheidsbittergal daarby, deurspek.

Tweedens was hulle die ANC se alibi. Wanneer die organisa­sie hom vasgeloop het in debatte, is eenvoudig verklaar dat die massas dit nooit sou aanvaar nie. Dit was deurentyd ’n effektiewe afdreiging, want so ’n groot steunbasis kon nie geïgnoreer word nie.

Derdens was die massas daar om tot massa-aksie of geweld opgeroep te word indien die onderhandelinge vasval en die ANC nie hul sin daar kry nie. “Ons sal die massas mobiliseer om julle hard­koppigheid die nek in te slaan,” was die dreigement. Dit bly ’n feit dat politici daar is om mense te dien. Wie dit verontagsaam, betaal altyd op die ou end die prys daarvoor.

Binne Suid-Afrika en in die buiteland was daar ook ’n leër­skare meelopers wat die ANC met raad en daad bygestaan het: onder andere die Verenigde Nasies, die Organisasie vir Eenheid in Afrika (later die Afrika-Unie), die Europese Unie (EU), tallose internasionale megamaatskappye en banke, kerkordes, nieregeringsorganisasies, sportbeheerliggame, universiteite . . . Almal het met advies en geld aan die ANC bygedra om die bose Pretoria op sy knieë te dwing.

Afrika het feitlik bankvas agter die ANC gestaan, vergelykbaar met ’n kontinentale tsunami om die vasteland van die laaste ves­ting van wit koloniale oorheersing te bevry, want daarsonder is die kontinent se bevryding nog nie afgehandel nie. Gevolglik is elke denkbare vorm van ondersteuning ingespan: van militêre basisse vir MK-vegters tot diplomatieke druk en eindelose aanhit­sing op internasionale forums. Van dié lande het ’n hoë ekono­miese prys vir hul ondersteuning betaal, maar hulle het broederlik skouer-aan-skouer in die stryd gestaan.

Dan was daar ook wat ons in Regeringskringe die “vyfdekolon­ners” genoem het: Mense wat uit die boesem van die ou orde gekom het, maar besluit het om die kraal te verlaat – sommige met ’n groot gedruis, ander suutjies – om die bevrydingstryd passie­vol te ondersteun. Hulle het geglo aan geregtigheid, wou die onregte van die verlede met woord en daad beveg en is in die proses dikwels van familie en vriende vervreem. Talle het ’n eensame lewe in die vreemde gelei, is plaaslik verguis maar het onwrikbaar aan hul morele missie geglo, is ideologies gebreinspoel en kon eindeloos praat. Die tragedie is dat talle van hulle, ná ’n lewe van selflose opoffering, deur die ANC opsy gestoot is, veral tydens die Zuma-regeertydperk.

Nog ander het van uiteenlopende agtergronde, oortuigings, ouderdomme en kleurgroepe gekom. Die meeste van hulle kon nie sonder handskoene aangepak word nie; dis gewoonlik talent­volle en eiesinnige mense wat die bestaande orde uitdaag, veral as dit op (werklike of vermeende) ongeregtigheid berus.

Veral in die tagtigerjare het al meer mense van die elite van die ou orde hulle aan die kant van die ANC begin skaar: sakelui, kerk­leiers, akademici, sportsterre, kunstenaars, joernaliste, regslui . . . Baie van hulle het geld aan die ANC geskenk, ander het intellektuele insette bygedra. Dit het ook ’n morele anker aan die ANC verskaf dat hy op die regte pad was.

Die Regering se span

Dr. Gerrit Viljoen was aanvanklik die hoofonderhandelaar van die Regering en die Nasionale Party. Dié goedgeaarde en soms briljante akademikus het egter die sprong na die harde wêreld van die politiek minder suksesvol uitgevoer. Hy het byvoorbeeld nooit geglo of begryp dat sy kollegas vir een plek hoër op die politieke leer, dolke in mekaar se rug sou steek nie.

Wanneer dit soms nodig was, het fermheid by hom ontbreek. Hy was byvoorbeeld nie mans genoeg om Kobie Coetsee vas te vat nie wat ewiglik laat by vergaderings opgedaag het en dan alles van voor af wou aanhoor. Hy was ook nie agterdogtig genoeg wanneer sommige senior amptenare kanse gevat het om “net gou” sy handtekening van goedkeuring te kry wanneer hy haastig op pad êrens heen was nie.

By ander geleenthede was sy fermheid onvanpas. Meer as een keer het hy amptenare op ’n verkleinerende manier tereggewys totdat ek hom by geleentheid ’n dreigende ultimatum gestel het. Amptenare is immers nie politici se kanonvoer nie.

Viljoen se voorsitterskap van die Beleidsgroep vir Onderhande­ling (BGO) en die Kerngroep vir Onderhandeling (KGO) was van korte duur toe hy in Mei 1992 weens swak gesondheid moes uittree. Sy termyn is gekenmerk deur ’n tekort aan strategiese lei­ding, gesaghoudende besluitneming en praktiese ervaring.

Onder hom het die KGO egter soms uitnemende strategiese be­redeneringe oor die onderhandelingsproses opgelewer. Ongeluk­kig is dit nie afgerond met vaste en bindende beslissings en die ontwikkeling van helder doelwitte nie. Sleutelministers het laat opgedaag by vergaderings of glad nie en ander het hulle vroeg van die besprekings verskoon sodat kernvraagstukke oor en oor beredeneer moes word om almal geleentheid te gee om ’n bydrae te lewer.

Die gevolg was dat die agendas van die KGO ’n onlogiese lang gedermte met dieselfde agendapunte geword het wat tot satwor­dens toe herhaal is omdat daar geen duidelike koersaanduiding was nie. Ek en die sekretaris, Nelius Volschenk, het die agenda soms ’n bietjie bewimpel ter wille van meer fokus en minder her­haling, maar die Regering se beplanning het weinig gebaat by ons ligte vergrypie.

Pres. De Klerk het Roelf Meyer as Viljoen se opvolger aange­stel. Hy het sekere vaardighede en leierseienskappe na die onderhandelingstafel gebring. Met sy aanstelling as minister van Staatkundige Ontwikkeling het hy hope energie, geesdrif, kundige bestuursinsig en gemaklike menseverhoudinge as talente tot die proses bygedra. Meyer was baie gemaklik in die sosiale omgang, ’n goeie luisteraar en goed in staat om die kernpunte van uitda­gings te begryp en dit netjies op te som vir verdere beraadslaging.

Vir ’n politikus was hy egter minder wel ter tale en het gereeld gesukkel om veral in die openbaar en soms in vergaderings sy standpunte helder en skerp oor te dra. As ’n openbare spreker kon hy nie die Regering se onderhandelingsplanne suksesvol en afgerond oordra nie. Sy sterkpunt was om in kleiner gespreksgroepe te opereer waar sy sjarme as mens hom goed te pas gekom het. Hy het graag kompromieë gesoek, en ek kan min geleenthede onthou waar hy onwrikbaar oor fundamentele vraagstukke stand­punt ingeneem het.

Daar is ’n verskil tussen kleingeestig onversetlik wees en om ferm by jou standpunt te staan. Meyer het meermale tussen dié twee pole beland en dié “louheid” het hom duur te staan gekom by ’n groot groep van sy politieke kollegas wat dit as ruggraatloosheid beskou het en hom spoedig daarvan verdink het dat hy kop in een mus met die ANC was.

Benewens Meyer was daar ook ’n hele paar ander jong agterryers wat as nuwe ministers en adjunkministers op die toneel verskyn het en spoedig met ’n skok agtergekom het daar is ’n verskil tussen die vashou van die perde weg van die oorlogs­rumoer op die slagveld en om in die saal op die voorste perde in die veldslae te veg. Ook die meeste senior ministers in die De Klerk-­kabinet was meermale nie hierop voorberei of daarteen opgewasse nie.

Meyer en De Klerk het egter oënskynlik goed oor die weg gekom, veral aan die begin van die proses, en dit het sy posisie uitnemend versterk.

Kobie Coetsee sal waarskynlik vir twee dinge onthou word: dat hy met ’n hospitaalbesoek in 1985 die eerste NP-politikus was wat die gevangene Nelson Mandela ontmoet het en dat hy met sy latere jakkalsdraaie tydens die onderhandelinge reg in die hande van die ANC gespeel het. Hoewel hy nie ’n lid van die Regering se aktiewe onderhandelingspan was nie, het sy senioriteit in die Kabinet en sy duister maneuvers met kardinale kwessies ’n groot invloed op die verloop van die proses gehad.

Omdat Coetsee die nuk gehad het om belangrike sake vir homself toe te eien was daar van die begin af ’n toutrekkery tussen Staatkundige Ontwikkeling en sy Departement van Justisie oor wie namens die Regering die primêre verantwoordelikheid vir die onderhandelinge moet hanteer. Sy redenasie was dat regsmense alle “juridiese prosesse” moet hanteer; ons het daarop aan­gedring dat die grondwet primêr ’n konstitusionele aangeleentheid was en nie ’n “regsprobleem” nie – wat uiteindelik aanvaar is.

Toe Coetsee later die portefeuljes Verdediging en die Intelligensiedienste bykry, het hy nog brawer as tevore telkens sy eie koers, met plek-plek regse ondertone, ingeslaan. Sommige van ons het gewonder of die feit dat hy selfs by die president met moord wegkom, beteken het dat hy die staatshoof op ’n ongemaklike plek beethet.

Van Coetsee het PW Botha volgens die Britse joernalis Anthony Sampson gesê: “’n Snaakse klein mannetjie. As jy my vra wat hy in my Kabinet gedoen het, ek weet nie. Ek het altyd gevoel, nadat ek met hom oor Mandela gepraat het, dat dit ’n geval was van verwarring wat net vererger.”1

Inkatha was ook ’n kritieke rolspeler in die onderhandelingsproses. Dié organisasie het van sy stigting in 1975 as Inkatha ye­Nkululeko yeSizwe bekend gestaan, tot 1990 toe dit in ’n politieke party, die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) omskep is.

Hoofman Buthelezi was ’n voortreflike leier van die IVP, maar sy soms onvoorspelbare nukke en kwasterighede het nie van hom ’n gemaklike spanspeler gemaak nie. Nogtans moet sy buie in perspektief beoordeel word; die ANC wou hom van meet af aan op enige denkbare manier uitknikker – waarin hulle spoedig NP-bondgenote gevind het.

Die geskiedenis wys die IVP is nie altyd waardig en billik behandel nie en daarvoor het Suid-Afrika minstens ’n dekade lank die prys betaal in die vorm van ’n bloedige konflik tussen die ANC en Inkatha. Die IVP was met reg ernstig beswaard oor die toepasssing van ’n ooreenkoms oor “genoegsame konsensus” wat ingehou het dat hy, die Regering en die ANC ’n vetoreg oor sekere deurslaggewende kwessies sou hou. Gaandeweg is die IVP egter in die praktyk as ’n party met vetoreg uitgesluit wat later met die sluiting van die Akte van Verstandhouding in September 1992 tot hewige en bitter debatte gelei het.

Die Demokratiese Party (DP) se rol tydens die onderhandelings­proses was waardevol. Dit kon deurslaggewend gewees het as die NP-regering en die aartsliberaliste van Rondebosch hul soms kin­deragtige partypolitieke vendettas van ’n verbygegane era opsy kon skuif en aan die onderhandelinge deelneem met verstandhoudings oor die vele punte van konsensus. Die DP kon ervaring en insigte tot die proses bygedra het wat die NP gewoon nie gehad het nie. Hulle het dit wel gedoen, maar sonder ’n stewige verstandhouding met die Regering was die invloed daarvan be­perk.

Die konserwatiewe Afrikaners moes ook aan boord gehou word. Hulle was nie noodwendig teen die onderhandelinge gekant nie maar het die heimlike droom gekoester dat die onderhandelinge só moes verloop dat hulle ’n plekkie van hul eie onder die son behou. Hulle was egter erg versplinter en leierloos. Hoofsaaklik omdat hulle sterk ondersteuning in die veiligheidsmagte geniet het, is hulle tydens die onderhandelinge met begrip en sagte hande gehanteer.

Niemand minder nie as Thabo Mbeki en Jacob Zuma het ure lank saam met my met die regses oor ’n volkstaat en die latere insluiting van grondwetlike beginsel 34 in die Oorgangsgrondwet onderhandel. Mbeki het hul vermoë om ontwrigting te veroorsaak ingesien. Dié begrip was, vreemd genoeg, nie deel van De Klerk en Meyer se insigte nie. Hulle het dit hoofsaaklik aan my oorgelaat om met die regses te onderhandel en het sigbaar geïrriteerd van my vordering, of die gebrek daaraan, kennis geneem.

Daar was ook tientalle gesprekke met die skare van kleiner partye. Sommige was weinig meer as splintergroepe, maar die land kon dit nie bekostig dat hulle nie in die proses ingebind word nie. Hulle het gewissel van Azapo en die PAC, wat toe deur ’n vurige en ongenaakbare Patricia de Lille en die onindrukwekkende Benny Alexander (aka !Khoisan X) aangevoer is, tot die Afrikaner-Volksunie onder leiding van die bekwame Andries Beyers.

Op die koop toe het ons ook nog met die reste van die vorige politieke bedeling in die vorm van die tuislandleiers te doen gehad. Hulle was klaarblyklik in algehele onguns by die kiesers, maar hulle het tog iets gehad om by te dra. Nodeloos om te sê, die taak om met hulle te onderhandel is op mindere ligte afgelaai, maar wanneer Meyer tyd gevind het om hulle te spreek was hy vol bravade, wat normaalweg ontbreek het toe hy met die swaar­gewigte van die ANC kragte gemeet het. (Die onderhandelinge met elkeen van dié groepe word in hoofstuk 12 bespreek.)

1 Anthony Sampson, Mandela (Johannesburg: Jonathan Ball, 1999), p. 364.

Vreedsame revolusie

Подняться наверх