Читать книгу Vreedsame revolusie - Нил Барнард - Страница 5
Hoofstuk 1
Оглавление“Ons het dit begin”
DIT IS NEGE-UUR die oggend van 20 Desember 1991 in die voorportaal van die World Trade Centre in Kempton Park. Bykans 300 verteenwoordigers van die NP-regering en 18 ander politieke partye is hier om voor die oë van die wêreld ’n vreedsame skikkingsproses in Suid-Afrika van stapel te probeer stuur. Amptelik heet dit die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa).
Die atmosfeer is bykans elektries gelaai van opwinding, afwagting en ook onsekerheid. Soos dit ’n intelligensiehoof betaam, betrag ek die dolle vrolikheid van my landgenote vanuit die spreekwoordelike agterste gestoeltes – met groot genoegdoening.
Nelson Mandela, toe al op pad om die land se eerste demokratiese president te word, daag onder groot gedruis en heldevererende blikke van al die aanwesiges op. Die politici vertrap mekaar om tog in sy geselskap te kom. Die ou man merk my agter die malende menigte op en stap nader.
Hy groet op sy hartlike en innemende manier: “Doctor, the two of us should never forget that we made this historical meeting possible.”1
“Dankie, meneer,” antwoord ek, en voeg gedemp by: “Maar moet tog nie te veel aandag aan my gee nie. Die ego’s van die politici sal nie so ’n blyk van erkenning aan ’n amptenaar kan verduur nie.”
Hy het betekenisvol geglimlag en stadig weggestap. Min het ons geweet hoe plofbaar dinge dié dag sou verloop.
1 Dit was ’n verwysing na die geheime samesprekings wat ek, bygestaan deur ’n handjie vol amptenare, vanaf Mei 1988 tot met sy vrylating in Februarie 1990 met Mandela in die Victor Verster-gevangenis gevoer het. Dié gebeure tydens my termyn as hoof van die Nasionale Intelligensiediens word uitvoerig behandel in die boek Geheime revolusie: Memoires van ’n spioenbaas (Kaapstad: Tafelberg, 2015).