Читать книгу Vreedsame revolusie - Нил Барнард - Страница 6
Hoofstuk 2
ОглавлениеOntmoet die vyand
Die World Trade Centre digby Johannesburg was ’n beskeie, bykans Spartaanse, vergaderplek. Dit het niks van die swier, prag en praal van ander lotsbepalende vergaderplekke soos die Paleis van Versailles gehad nie, maar dit was gerieflik genoeg en prakties: naby die destydse Jan Smuts-lughawe, asook die burokratiese hartklop van die amptenary in Pretoria, struktureel maklik aanpasbaar en in die omgewing was volop verblyf beskikbaar.
Afgesien van die opwinding in die lug omdat verteenwoordigers van feitlik die volle politieke spektrum die eerste keer in die land se geskiedenis saam ’n nuwe toekoms gaan uitwerk, is daar ook spanning. Die rede is dat die ANC steeds in gebreke bly om die demobilisering van Umkhonto we Sizwe (MK), beheer oor wapenopslagplekke en hul verdere plegtige ondernemings ingevolge die DF Malan Akkoord van tien maande tevore oor gewapende geweld na te kom.
Dit was so ’n ernstige saak dat pres. FW de Klerk die vorige dag nog gedreig het om die Regering aan dié historiese eerste ronde onderhandelinge – wat bekend geword het as Kodesa 1 – te onttrek.
Die vorige aand is ’n lang en intense debat hieroor by ’n vergadering van die Regering se Beleidsgroep vir Hervorming (BGH) gevoer. Uiteindelik het gesonde verstand geseëvier, nl. dat die Regering op geen manier dié veelpartykonferensie kon kanselleer nie. Die politieke dinamiek in die land en die onderhandelinge tussen die Regering en die ANC, asook tussen die Regering en ander partye, het sedert die Groote Schuur Minuut die vorige jaar reeds ’n momentum opgebou wat selfs in daardie vroeë stadium nie eensydig deur die Regering aan- en afgeskakel kon word nie.
Hoofregter Michael Corbett het die konvensie geopen waarna die gesamentlike voorsitters, regters Petrus Schabort en Ismail Mahomed, die verrigtinge gelei het.
Heel gepas is die verrigtinge en die vredesproses deur leiers van die volle godsdienstige spektrum van Suid-Afrika met gebede en wydingswoorde aan die Voorsienigheid opgedra. Vir baie was dit vreemd om dominees, rabbi’s, pastore, biskoppe en imams by dieselfde geleentheid die seën van hul godheid oor die byeenkoms te sien afbid. Heel vroeg het dit ’n onmiskenbare boodskap uitgestuur oor die diversiteit van die reënboognasie en die bereidwilligheid om vir mekaar ruimte te skep.
Leiers van al die politieke partye het daarna hul openingstoesprake gelewer, terwyl die bykans 300 afgevaardigdes aandagtig geluister het. Dié 19 partye het met uitsondering van drie regse partye en drie linkse splinterpartye die volle politieke spektrum verteenwoordig.
Die groot partye was almal teenwoordig – behalwe hoofminister Gatsha Buthelezi van die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) en die Zulu-koning Goodwill Zwelithini. Dit was ’n vroeë teken van die struikelblokke wat uit daardie oord sou opduik.
Die Kodesa-onderhandelinge het nie uit die lug geval nie.
Hoewel hy vandag weinig erkenning daarvoor kry, is die aanvoorwerk vir die “nuwe Suid-Afrika” deur pres. PW Botha gedoen wat in 1988 ingestem het tot geheime en verkennende – en later lotsbepalende – gesprekke tussen verteenwoordigers van die wit NP-regering en die onbetwisbare simbool van die swart bevrydingstryd, Nelson Rolihlahla Mandela.
Hierin het die Nasionale Intelligensiediens (NID), waarvan ek van 1980 tot 1992 die hoof was, ’n leidende en kardinale rol gespeel. Tydens die 48 tronkgesprekke met Mandela, wat in verbinding gestel is met die ANC-leierskap in Lusaka, asook met sy Rivonia-kamerade in die gevangenis, het dit duidelik geword dat genoeg gemeenskaplike grond tussen die twee nasionalistiese bewegings bestaan om ’n nuwe staatkundige bestel te kan uittimmer. Dít ondanks die feit dat Mandela en die ANC geweier het om geweld af te sweer – wat vir Botha ’n voorvereiste vir Mandela se vrylating was.
Nogtans het Botha in Julie 1989 ingestem om Mandela vertroulik te ontmoet – wat, anders as wat aan albei kante gevrees is, gemoedelik en in ’n goeie gees plaasgevind het.
Ná Botha se uittrede kort hierna en sy opvolging deur FW de Klerk kon Mandela se vrylating nie veel langer uitgestel word nie. Voordat dit egter kon gebeur, moes die buitelandse vleuel van die ANC se verbintenis tot onderhandeling met die “racist white minority regime” verseker word. Dit sou eenvoudig nie deug dat Mandela deur die radikale elemente van die ANC in die buiteland verdag gemaak word indien hy beskou sou word as die persoon wat besig was om die bevrydingstryd uit te verkoop nie.
Boonop moes dit op die ou end – ondanks my en my adjunk, Mike Louw, se beste pogings tot oorreding – sonder Mandela se goedkeuring gebeur omdat hy wantrouig was dat gesprekke tussen verteenwoordigers van die Regering en die ANC se buitelandse vleuel dié organisasie kon verdeel. Tot vandag nog glo talle figure met revolusionêre oogklappe die bog dat dit ons oogmerk was om met die taktiek van “verdeel-en-heers” die ANC te verswak.
Daar was geen tyd om te verspil nie en die wiele is aan die rol gesit vir Operasie Flair. Uiteraard moet enige beskaafde intelligensiediens binne die wet en met die nodige mandaat optree. Terselfdertyd kon ons nie die besonderhede van die hoogs geheime planne rakende kontak met die ANC aan die politici voorlê vir goedkeuring nie.
Daarom is ’n noukeurig bewoorde voorstel die dag ná FW de Klerk se verkiesing op 15 Augustus 1989 tot staatspresident by die Staatsveiligheidsraad (SVR) ingedien: “Dit is noodsaaklik dat meer inligting ingewin en geprosesseer word oor die ANC, asook oor die doelstellings, alliansies en potensiële toeganklikheid van sy onderskeie leiers en groeperinge. Om dit te verwesenlik sal spesiale bykomende direkte aksie nodig wees, in die besonder met die hulp van die funksionarisse van die Nasionale Intelligensiediens.”
Dit is sonder teenstribbeling deur die SVR goedgekeur.1 Ek moet erken dat ek De Klerk nie in daardie stadium oor ons verskuilde maar goedbedoelde motiewe ingelig het nie.
Die aangewese ANC-leier in die buiteland om mee kontak te maak, was die organisasie se hoof van internasionale sake in Londen, Thabo Mbeki.
Daar was talle kanale na hom en die buitelandse vleuel tot ons beskikking, maar dit moes een wees wat hy sou vertrou en as geloofwaardig beskou. So iemand was die gesiene Stellenbosse akademikus en filosoof Willie Esterhuyse, wat toe reeds danksy ’n reeks gesprekke by Mells Park House in Engeland ’n goeie persoonlike verhouding met hom opgebou het. Mbeki en die buitelandse vleuel moes van die begin af geborge voel dat dit nie net nóg ’n riemtelegram was nie en dat die Regering erns wou maak met onderhandeling en eerbaar sou optree.
In daardie stadium het etlike selfaangestelde tussengangers tussen die Regering en die ANC na vore getree wat verwarrende en soms kruiperige boodskappe aan Lusaka oorgedra het.2 Die Regering kon eenvoudig nie bekostig om dié situasie sy gang te laat gaan en op ’n manier die inisiatief prys te gee nie. Om sake verder te kompliseer is verteenwoordigers van die Regering én die ANC met arendsoë deur veral die spioenasiedienste van Amerika en Brittanje – die CIA en MI6 (SIS) – dopgehou terwyl ons nie kon toelaat dat hulle van meet af aan danksy hul inligting oor die verwikkelinge ’n manipulerende rol in die proses speel nie.
In ’n “veilige woonstel” van NI (Nasionale Intelligensie) in Somerset-Wes is Esterhuyse ontmoet. Hy het ingestem om die boodskap oor ons voornemens in Londen aan Mbeki oor te dra. Dié het ná plegtige versekerings deur Esterhuyse dat dit nie ’n lokval was nie, ingestem tot ’n ontmoeting met verteenwoordigers van NI in Luzern, Switserland.
Ná talle oproepe tussen Maritz Spaarwater (alias John Campbell), NI se hoofdirekteur van operasies, en Thabo Mbeki (alias John Simelane) is afgespreek dat die twee, plus ’n kollega elk, mekaar op 12 September in die Palace Hotel in Luzern ontmoet.
Mike Louw en Spaarwater het vroeg die aand by twee aangrensende kamers met ’n gemeenskaplike sit-area by die Palace inbespreek. Mbeki en Jacob Zuma (alias Jack Simelane) het vroeër die dag per vliegtuig in Genève aangekom en van daar per motor na Luzern gereis terwyl hulle, onwetend, die hele pad deur NI-agente gevolg is. By die Palace se ontvangstoonbank is hulle na kamers 338 en 339 verwys.
Aan albei kante was die mans gespanne en agterdogtig. Mbeki en Zuma het volle rede gehad om die situasie te wantrou. “Dit kon ’n lokval wees waarin hulle ná die oopmaak van ’n deur afgemaai kon word,” het Louw later vertel. Daarom het hulle die kamerdeur oopgelos.
Uiteindelik het die twee ANC-leiers aangekom en toe hulle die twee Suid-Afrikaners daar sien staan, binnegestap.
“Well, here we are . . . bloody terrorists and for all you know, fucking Communists as well,” het Mbeki doodluiters gesê.3
“Ons het almal gelag. Dit het die ys gebreek,” het Louw vertel.4
Vier dae ná pres. De Klerk se epogmakende toespraak van 2 Februarie 1990 was Louw en Spaarwater terug in Luzern, waar hulle dié keer vir Mbeki en Aziz Pahad in die Palace Hotel ontmoet het. Die NI-manne het steeds onder vals name en met vals paspoorte gereis ten einde nie onnodige aandag te trek nie.
Die atmosfeer was ontspanne en almal was uitgelate in die nágloed van 2 Februarie. Maar die tyd vir leer-mekaar-ken was verby en ernstige sake was op die agenda: Hoe om lede van die ANC, die Pan Africanist Congress of Azania (PAC) en die SA Kommunistiese Party (SAKP) – tot ’n paar dae tevore nog verbode organisasies – terug in die land te kry; hoe om te voorkom dat die veiligheidsmagte op dié “terroriste” toeslaan; hoe om te keer dat regsgesinde wittes die reg in eie hande neem . . . Prosedures en strukture moes gereed gekry word om al dié aspekte te bestuur.
Die Regering se verteenwoordigers het daarop aangedring dat die ANC op hoë vlak – verkieslik die uitvoerende komitee – positief reageer op De Klerk se aankondigings van 2 Februarie, dat die organisasie groter dissipline aan die dag lê om die protesaksies in die binneland te beheer en dat op ’n werkwyse ooreengekom word om die gewapende stryd te staak. Die groep het besluit om vier werkkomitees op die been te bring om dringende sake te hanteer: Mandela se vrylating, die vrylating van politieke gevangenes en aangehoudenes, strukture vir gesprekke tussen die Regering en die ANC, asook tussen NI en die ANC se intelligensie-netwerk.
Twee weke later het ek en Fanie (SS) van der Merwe, staatkundige raadgewer van die Departement van Staatkundige Ontwikkeling, ons by Louw aangesluit vir die volgende ontmoeting met die ANC-groep: Thabo Mbeki, Jacob Zuma, Aziz Pahad en nou ook Joe Nhlanhla, Intelligensiehoof van die ANC. Ter wille van sekuriteit is die ontmoeting na Bern, die Switserse hoofstad, geskuif.
Pres. De Klerk is volledig ingelig en ons het onderneem om hom voortdurend op die hoogte van gebeure te hou. Dié keer sou volledige logistieke beplanning vir die ANC-lede se terugkeer na Suid-Afrika en vir die openingskonferensie van die onderhandelingsproses gedoen moes word.
Die drie van ons uit Suid-Afrika het op 21 Februarie in Genève geland en van daar per trein na Bern gereis. In ons treinwa was daar ook drie van NI se gesoute operateurs, onder wie twee vroue. Ons het mekaar herken – sonder enige erkenning van dié feit. Terwyl ons in die hotel Bellevue-Palace in Bern ingeburger geraak het, het Louw met NI se operasionele voorspanne buite die hotel kontak gemaak om seker te maak dat alles in orde is en dat ongewenste Filistyne van ander lande ons nie dophou nie.
Aan ons kant was die atmosfeer gespanne. Daar was so baie wat kon skeefloop. Terwyl ons deur Bern se rustige strate gedrentel het, het ons herhaaldelik die agenda vir die gesprekke en elke stukkie logistieke detail bespreek. Ons was deeglik bewus daarvan dat ons die gesprekke nie mog verbrou nie omdat Suid-Afrika dit nie kon bekostig om die onderhandelinge met misverstande en onnodige agterdog af te skop nie.
Die volgende oggend aan die hotel se ontbyttafel het ons die Mbeki-span in die eetsaal geëien, maar hulle én ons het niks laat blyk nie. ’n Uur of wat later het die ou aartsvyande mekaar as Suid-Afrikaners in my hotelkamer ontmoet en kon die samesprekings begin.
Dit het in ’n ontspanne en gemoedelike atmosfeer geskied. Mike Louw het met sy kwinkslae veral Zuma laat skaterlag oor onder meer sy kommer oor die vermorsing van water in die hotel se toilette vergeleke met die waterbesparende putmodelle van sy geboorteplaas in die dorre Prieska van die Noord-Kaap.
Die gesprekke was doelgerig en het tot die vroeë oggendure van die volgende dag geduur. Dit het skerp gefokus op die beplanning om die eerste groepe ANC-lede uit die buiteland na Suid-Afrika terug te bring om daar die eerste formele en openlike samesprekings oor die land se politieke toekoms te help beplan. Ons was nooit van voorneme om dié beplanning sonder die volle vennootskap van die ANC te doen nie.
Mbeki was die segsman van die ANC-groep. Hy het ons ingelig dat daar van sy kamerade was wat geglo het dat die Regering die geleentheid as valse voorwendsel wou gebruik om die buitelandse vleuel na Suid-Afrika te lok en hulle dan kort ná aankoms agter slot en grendel weg te bêre. Gelukkig kon ons dié lawwe siening nek-om draai.
Ons het hulle meegedeel dat indien ons nie mekaar se bona fides en eerbaarheid aanvaar nie, ons weinig hoop het om die onderhandelinge – ook die gesprek waarmee ons besig was – suksesvol aan te pak. Ook dat daar waarskynlik nog veel groter toetse vir ons wedersydse aanvaarding van mekaar se betroubaarheid en eerbaarheid as onderhandelingsvennote voorgelê het.
Mbeki wou ook weet wat die Regering se houding sou wees indien Joe Slovo, stafhoof van MK en hoofsekretaris van die SAKP, deel van die ANC se kernspan by die eerste onderhandelinge uitmaak. Ons het geantwoord dat ons tog klaarblyklik nie hul onderhandelingspan kan kies nie en geskerts dat die Regering dit dalk sal oorweeg om die regse vuurvreter Eugène Terre’Blanche, leier van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB), in sý onderhandelingspan in te sluit.
Toe ek egter die aand aan pres. De Klerk voorlopige terugvoering gee oor die verloop van die gesprek, skop hy viervoet vas oor die moontlike insluiting van Slovo in die ANC-span en sê dat sy ondersteuners dit nie sal aanvaar nie. Ná ’n redelik uitgerekte redekaweling het ek hom aan die Basil D’Oliveira-fiasko van 1968 herinner toe die Regering geweier het om aan dié voormalige bruin Suid-Afrikaner ’n visum toe te ken om as lid van die Engelse krieketspan in Suid-Afrika te toer. Dit het daartoe gelei dat die toer afgelas is – wat op sy beurt ’n groot inspuiting vir verskeie sportboikotte teen Suid-Afrika was.
De Klerk het oplaas saamgestem dat ons nie sulke stompsinnigheid in die nuwe onderhandelingspolitiek kon bekostig nie.
Benewens die beplanning vir die onderhandelinge in Suid-Afrika, is talle politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings telkens deur albei kante te berde gebring maar nie in detail bespreek nie. Dit was ook nie die doel van die ontmoeting nie. Bowendien was ons as amptenare nie daarop geregtig om beginselstandpunte oor kernvraagstukke in te neem nie.
Nog ’n vraag van Mbeki was insiggewend: Sal die Regering die toi-toi-danspassies van sy kamerade tydens politieke demonstrasies toelaat? Die mobilisasie van die massa was steeds die ANC se doeltreffendste wapen en daaroor kon daar wat hulle betref, geen kompromie wees nie.
My antwoord aan Mbeki was dat massamobilisasie dikwels op revolusionêre geweldsaksies uitloop en dat die ANC klaarblyklik nie in staat sou wees om sy gepeupel te beheer as massahisterie die oorhand kry nie. Die veiligheidsmagte sal ’n stokkie daarvoor moet steek, want ons kan tog nie ordelik en vreedsaam onderhandel terwyl daar afpersing en manipulasie deur ’n onbeheerste massa is nie.
Die aand het ons in die hotel se restaurant ’n heerlike aandete saam geniet. En nog later, in die vroeë ure, het ek ’n bottel Chivas Royal Salute van ’n gepaste 21 jaar na die hotelkamer bestel. Albei kante het hul ingehoue opgewondenheid verdoesel, maar heimlik het ons geweet ons vreedsame revolusie het mondig geword.
Ons was toe al heel ingenome met die vordering van die vorige dag en ek het in ’n seldsame oomblik van ligte spandabelheid en in die gees van my ma se sêding gedink: Biedêm die ouditeur-generaal! Ek het vertrou dat hy patrioties genoeg wou wees om ons dié vergrypie te verskoon in die lig van wat ons besig was om in die belang van die land en al sy mense te doen. Hy het.
Later dié dag het almal huiswaarts gekeer. Vir die ANC-lede het dié rit waarskynlik nuwe inhoud gekry, want “huis toe” sou spoedig ’n terugkeer na die land van hul geboorte beteken. Dit was aandoenlik om hul nostalgiese begeerte te beleef om na ons gemeenskaplike vaderland terug te keer.
Op ons het daar geweldig baie werk gewag. Ons moes die president en die betrokke ministers volledig voorlig, veral dr. Gerrit Viljoen, minister van Staatkundige Ontwikkeling, en sy senior amptenare, by name die bekwame Henk Fourie, wat Fanie van der Merwe se administratiewe regterhand was, omdat die reëlings vir die eerste amptelike en openlike ontmoeting tussen die twee partye nou in die hande van die betrokke staatsdepartement moes oorgaan. Die spoke kon tog nie die openbare vredesproses reël nie!
Verder moes reëlings getref word om die eerste voorspanne van die ANC die land binne te bring. Regstegnies kon hulle steeds in hegtenis geneem word sodra hulle voet op Suid-Afrikaanse bodem sit. Met die Veiligheidspolisie en amptenare van Binnelandse Sake moes ooreengekom en die nodige reëlings getref word om die ANC-lede se ongehinderde en onopsigtelike binnekoms deur die Jan Smuts-lughawe te verseker.
Die eerste voorspan van die ANC het bestaan uit Jacob Zuma, Mathews Phosa en Penuell Maduna. Hulle is sonder slag of stoot vanaf April 1990 die land ingebring en het in ’n veilige huis van NI in Pretoria-Noord tuisgegaan. Hier is etlike dae lank oor die komende “spitsberaad” tussen die ANC en die Regering gesprek gevoer, geredekawel en daarvoor beplan.
Zuma en Phosa was gemoedelik, innemend en akkommoderend. Maduna, daarenteen, was bitsig en dikwels aanvallend en kon dit nie verhelp om sy akademiese regsagtergrond onder ons neuse te vryf nie. Moontlik het die ANC gemeen dat iemand “die Boere” deur verwaande ongeskiktheid moes uitlok of op hul plek hou. Dit was egter onsuksesvol.
By die NI-huis is ’n legio administratiewe reëlings getref. Intussen het nog ANC-lede, ook van hul uitvoerende komitee, in die land begin aankom om die onderhandelingsproses af te skop. Albei partye het hul vere vir die komende openingsgesprek van die staatkundige skikkingsproses begin regskud.
1 Notule van die vergadering van die Staatsveiligheidsraad, 16 Augustus 1989.
2 Een van die beste voorbeelde hiervan is Richard Rosenthal wat almal behalwe homself vir die mislukking van sy ongevraagde pogings verkwalik [Richard Rosenthal, Mission Improbable (Johannesburg: David Philip, 1998)]. Sien ook Willie Esterhuyse se Eindstryd. Geheime gesprekke en die einde van apartheid (Kaapstad: Tafelberg, 2012), pp. 160-162, 171-172.
3 Maritz Spaarwater, Die spook wat boom geklim en lig gevind het (Hermanus: Erfenis Publikasies, 2015), p. 236; Mark Gevisser, Thabo Mbeki. The Dream Deferred (Johannesburg: Jonathan Ball, 2007), pp. 563-567.
4 Aziz Pahad, Insurgent Diplomat (Johannesburg: Penguin, 2014), p. 220; Allister Sparks, Tomorrow is Another Country (Londen: Arrow, 1997), p. 113.