Читать книгу Vreedsame revolusie - Нил Барнард - Страница 9

Hoofstuk 5

Оглавление

Openingsakkoorde

Die dag dat die twee groot politieke protagoniste in Suid-­Afrika gedurende die vorige halfeeu – die Nasionale Party en die African National Congress – mekaar in die oë kyk en saam om ’n tafel gaan sit om te beraadslaag, het uiteindelik aangebreek.

Ek en Mike Louw, my adjunk by Nasionale Intelligensie, het vroeg die oggend van 2 Mei 1990 by Groote Schuur, die impo­sante Kaapse herehuis van die aartskolonialis Cecil John Rhodes, opgedaag om ’n ogie oor die reëlings te hou. Ongewoon vir intelligensiemense teken ons ons name boaan in Groote Schuur se besoekersboek. Later volg die name van talle van die groot geeste. Daarna betrag ek en hy met geamuseerdheid hoe van dié “groot geeste” in die politieke en openbare lewe mekaar uit die pad werskaf om tog ook in die prentjie te wees tydens pres. FW de Klerk en Nelson Mandela se perskonferensie op die trap van Groote Schuur.

Toe die twee spanne daarna weg van die kameras om ’n tafel plaasneem, was die spanning voelbaar. Die strydrosse van albei kante was daar: benewens De Klerk ook ministers Gerrit Viljoen, Pik Botha, Dawie de Villiers, Kobie Coetsee, Stoffel van der Merwe, Adriaan Vlok, Barend du Plessis en adjunkminister Roelf Meyer. Van die amptenarekant, buiten ek en Mike Louw, ook Fanie van der Merwe, Willie Willemse, Jannie Roux en Basie Smit.

Terloops, dit sou ’n goeie waarnemer opgeval het dat genl. Magnus Malan nie daar was nie. Dit was ’n groot fout van die president om die minister van Verdediging uit te sluit. Ek het hom meer as een maal tydens die voorbereidings daarteen ge­adviseer, maar hy het naïewelik gedink dat vrede niks met oorlog te make het nie. Sekerlik het daar ook in sy besluit ’n goeie dosis vergelding gesit oor die vermeende rol wat die sekurokrate voor 1990 gespeel het. Sy kortsigtigheid oor die veiligheidsmagte het hom egter duur te staan gekom namate die vredesproses ontvou het.

Aan die ANC se kant was daar benewens Mandela ook Thabo Mbeki, Joe Slovo, Walter Sisulu, Ahmed Kathrada, Jacob Zuma, Mathews Phosa, Penuell Maduna, Alfred Nzo, Curnick Ndlovo, Archie Gumede, Cheryl Carolus, Ruth Mompati en dr. Beyers Naudé.

Op die agenda was net twee sake: Om mekaar te leer ken en ’n padkaart vir die nuwe Suid-Afrika te begin uitwerk.

Die partye het mekaar versigtig aan die tand gevoel. Sonder om dit te lug het almal instinktief geweet dat niemand die bal mag laat val nie. Die bydraes was beheersd en soms selfs bedees. Die lang en geheime voorbereidingsgesprekke het sekerlik ’n groot rol daarin gespeel dat albei kante by die sake voorhande wou hou en nie in propagandistiese galerytoesprake verval nie.

NI het vooraf aan die Regeringspan professionele en sensitiewe persoonlikheidsprofiele van die ANC-onderhandelaars verskaf. Ons het gemeen dit is uiters bruikbare inligting wat die Regering goed sou toerus, maar helaas – van die naïewe Regeringspolitici was ontsteld dat ons dit kon waag om persoonlikheidsontledings van politici te maak. Dalk was hulle meer bekommerd oor wat ons dalk van hulle geweet het as om die waarde van dié inligting tot hul voordeel te gebruik.

Die aand was daar ’n aangename sosiale interaksie waartydens die einste Joe Slovo “kamerade” en “vyande” met sy kwinkslae laat skater het. Toe die elektriese kragbron van die markiestent ’n wind sluk, het Slovo se stem helder in die donkerte weer­klink: “This reminds me of Lusaka.”

Die volgende dag is die gesprekke voortgesit. Dit was soms maar saai en retories en namate dit voortgedraal het, het al meer geniepsighede aan albei kante opgeduik. Dit is nou maar eenmaal eie aan onderhandelinge dat politieke deelnemers só optree dat hulle daarna hul magsbasisse kan verseker dat hulle onwrikbaar op dié punte gestaan het wat hul ondersteuners as ononderhandelbaar beskou. Só word politieke assuransiepolisse uitgeneem en strepe in die sand getrek.

Reeds by Groote Schuur was dit duidelik dat openbare onderhandelinge met wenners en verloorders in die openbare oog, nie oplossings sou bring oor die taai kwessies wat voorgelê het nie. Ongelukkig sou baie tyd verloop en – veel meer tragies – baie lewens ingeboet word voordat vertroulike onderhandelinge deur vertroude kerngroepe die deurslag in die skikkingsproses sou gee.

Gode sy dank, het almal besef dat dié eerste gesprekke oor onderhandeling tot elke prys moes slaag. Aan die einde van die beraad is die sogenaamde Groote Schuur Minuut, wat hoofsaaklik deur Pik Botha opgestel is, deur albei kante aanvaar.

As uitgangspunt is ooreengekom op ’n gesamentlike verbintenis “om die heersende klimaat van geweld en intimidasie, uit watter oord ook al” uit die weg te ruim en albei partye te verbind tot stabiliteit en ’n vreedsame onderhandelingsproses.

Daar is besluit om ’n werkgroep te stig wat aanbevelings sal doen oor die omskrywing van “politieke oortredings” in die Suid-­Afrikaanse omstandighede, oor die vrylating van politieke gevangenes en die vrywaring van vervolging van politieke oortreders. Die Regering het ook onderneem om die bestaande veiligheids­wetgewing in ooreenstemming te bring met “die nuwe dina­mie­se situasie” wat in die land ontwikkel ten einde normale en vrye politieke bedrywighede te verseker.

As historiese afskopbelydenis vir vrede deur onderhandeling was Groote Schuur ’n roemryke moment in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Op die oog af het dit niks opspraakwekkends opgelewer nie, maar die feit dat dit plaasgevind het, het in die openbaar die hoeksteen gelê dat Suid-Afrikaners saam die Rubikon wil oorsteek.

* * *

Minder as twee maande later, op 24 Junie 1990, is ’n hoogs geheime en gekodeerde boodskap van Mac Maharaj in Johannesburg aan Siphiwe Nyanda in Durban gestuur. Dit verwys na “pieces” (kodewoord vir vuurwapens) wat deur “Ntaba” (kodenaam vir Jacob Zuma) se “outfit” gestoor moet word.

Dan volg onsamehangende verwysings dat dié wapens in die hande van ’n “vyandelike groep” was wat “Madiba’s assassination” beplan. Een van dié wapens het volgens “Ntaba” optiese nagsig­ver­moë waarvan Maharaj sê: “I am attracted to borrowing one of those pieces if it is suitable for use by us, even if on a temporary basis.”1

Enkele weke later is Nyanda in hegtenis geneem weens sy vermeende betrokkenheid by Operasie Vula. In die motor in sy besit word afgekom op verstekingskompartemente. Daarin is ’n .45 kaliber-­submasjiengeweer, kompleet met knaldemper en optiese nagsigtoerusting.

Was dit deel van ’n beplande aanslag op Mandela se lewe? Het sekere radikale in die ANC geglo dat ’n moord op Mandela die vonk vir die revolusionêre oorname van die land sou verskaf?

Nyanda het self vroeër daardie jaar in die SAKP-mondstuk The African Communist geskryf dat “a single spark can start a veld fire” en verwys na ’n oproep tot die massa “which triggers a chain of events leading to insurrection . . .”2

Die oorsprong van Operasie Vula het teruggestrek tot 1987 toe sekere lede van die uitvoerende komitee van die ANC – wat feitlik almal ook lede van die sentrale komitee van die SA Kommunistiese Party (SAKP) was – ’n sogenaamde “President’s Committee” in die lewe geroep het. Dié komitee moes voortaan die ANC se geheime bedrywighede onder die kodenaam “Vula” uitvoer wat ’n bin­ne­landse en buitelandse tak gehad het. Aan die spits van sake in die bin­nelandse tak was Mac Maharaj, Ronnie Kasrils en Siphiwe Nyanda.

Maharaj en Kasrils het twee jaar later onwettig en ongemerk die land binnegekom om die ondergrondse strukture vir Operasie Vula te help vestig. Nadat vredesgesprekke ’n aanvang geneem het én die Groote Schuur Minuut onderteken is, het hulle stille­tjies die land verlaat sodat hulle daarna openlik en wettig kon terug­keer. Dit was egter nie die einde van hul planne nie.

Vroeg in Julie 1990 het die Veiligheidspolisie op grond van inligting op sekere huise en plekke in Durban en omgewing, en later ook in Johannesburg, toegeslaan. Benewens wapens, plofstof, kleef­myne en elemente vir die vervaardiging van motorbomme, is ook beslag gelê op gesofistikeerde kom­muni­kasietoerusting, sowat 1 000 bladsye se dokumente en rekenaardrukstukke van sowat 4 000 bladsye met uitgebreide planne vir ’n gewelddadige oorname van die land.3

Op die voetspoor van klassieke kommunistiese doktrine sou ondergrondse basisse gestig word wat tot die skepping van ’n volksleër sou lei wat op sy beurt opgelei en van die nodige logistieke steun voorsien sou word om ’n volksopstand te lei. Die opleiding van kaders, soortgelyk as wat MK-lede reeds in lande soos Angola, Tanzanië en Oos-Duitsland ondergaan het, het volgens die dokumente reeds in Mei 1990 begin.

Op 7 Mei is ’n hoogs geheime raadplegende konferensie van die SAKP by Tongaat in Natal gehou waar figure soos Kasrils en Slovo vasbeslote was om die bewegingsvryheid (die “ruimte” volgens die leerstellings van Mao Tsedong) te benut wat deur die aankondigings van 2 Februarie geskep is.

In Kasrils se woorde: “Taking the thesis seriously, we should be wary that we do not think that now with negotiations, we have arrived in Babylon. The legal space now creates the possibility of this kind of uprising much more than ever before . . .”4

* * *

Hoewel Mandela hoog en laag gesweer het dat hy nie van Ope­rasie Vula bewus was nie, moet sy en die ANC-onderhandelaars se ongemaklike ontkennings met streepsakke sout geneem word. Dit is eenvoudig nie hoe die ANC se besluitnemingsprosesse ge­werk het nie. Oliver Tambo, president van die ANC, was self ’n lid van Vula se buitelandse tak.5

Indien die Polisie meer outonoom en “volgens die boek” opgetree het – waarop hulle sekerlik geregtig was – en van die onderhandelaars in hegtenis geneem en van MK se “veilige huise” verwoes het, kon die onderhandelinge nog voor dit in alle erns begin het, ontspoor het. Dit strek pres. De Klerk en die veiligheids­magte tot eer dat hulle ingesien het dat die ANC dubbele voorsorg probeer tref het om te voorkom dat “die Boere” hulle uitoorlê.

Nóg ’n minuut en ’n akkoord

Die volgende ronde samesprekings tussen die Regering en die ANC was ’n uitvloeisel van die Groote Schuur-beraad drie maande tevore. Dié keer was die vergaderplek vir die byeenkoms op 6 Augustus 1990 die presidensiële gastehuis in Pretoria. Die onderhan­delingspanne was kleiner as by Groote Schuur; die druk op albei kante en die gevolglike spanning om te presteer aansienlik hoër.

Die kerndilemma het lewensgroot in die gesprekke gestaan: Geweld en vrede is onversoenbaar. Die staatkunde leer dat geweld soms vrede tot ge­volg het. Dié soort vrede is meestal die gevolg van konflik waaruit een party as die duidelike oorwinnaar uit die stryd tree. Dit was egter hoegenaamd nie in Suid-Afrika die geval tydens die onderhandelinge in Pretoria nie.

Die vraagstuk oor die gebruik van geweld as ’n middel tot ’n politieke doel het die Regering en die ANC in ’n skaakmatsituasie geplaas. Die Regering, wat die swaardmag moet hanteer om reg en orde te handhaaf, is deur die ANC daarvan beskuldig dat hy dié funksie skromelik misbruik om die swart bevolking hul legitieme aanspraak op volle demokratiese politieke regte te ontsê.

Die ANC se dilemma aan die ander kant is dat hy nie tegely­kertyd oor vrede op ’n vreedsame manier kan onderhandel én met sy terreurstryd voortgaan om ’n skikkingsproses af te dwing wat reeds begin het en waartoe hy hom by Groote Schuur moreel en kontraktueel verbind het nie.

Daarby vertrou die ANC die Regering nie en beskou die beëindiging van die gewapende stryd as die afswering van hul enigste wringkrag op die onderhandelinge. Vir hulle is onderhandeling sonder die instandhouding van die gewapende stryd, vrede tot elke prys wat daartoe kan lei dat hulle die onderhandelinge én die vrede verloor.

’n Mens moet die vrees verstaan dat die formidabele Suid-­Afrikaanse Weermag, gesteun deur ander simpatiekes in die vei­ligheidsmagte en verregse wit reaksionêre, ’n “staatsgreep” op ’n ongewapende ANC kon uitvoer. Dit kan nie ontken word nie dat daar in dele van die veiligheidsmagte en onder verregses heftige verset teen die onderhandelinge was en dat staatsgreeppraatjies daar soms dik geloop het.

Ná indringende en langdurige debatte is by Pretoria ooreengekom dat die ANC se gewapende stryd onmiddellik opgeskort (“suspend”) word, let wel: nie beëindig word nie.

Dit was kardinale vordering en ’n wen-wen-situasie vir albei partye. Die Regering kon daarop wys dat hy ’n belangrike toegewing van die ANC verkry het en dat mense met groter gerust­heid met hul lewe kon voortgaan. Die ANC kon op sy beurt sy volgelinge daarop wys dat hy nie die stryd prysgegee het nie en weer op gewapende geweld kon terugval indien dit nodig sou word.

Dié besluit, wat ’n kerndeel uitgemaak het van die Pretoria Minuut, was ’n briljante greep om die Regering en die ANC uit ’n wurgende skaakmat te kry.

Die minuut het, soos afgespreek by Groote Schuur, in meer besonderhede gehandel met vrywaring teen vervolging, die vry­lating van politieke gevangenes en die terugkeer na Suid-Afrika van lede van voorheen verbode organisasies. Tydskale is ook neer­gelê.

Albei partye het ernstige kommer uitgespreek oor die voorkoms van politiek gemotiveerde geweld in Natal en daar was algemene instemming dat in die soeke na vrede en stabiliteit alle gemeenskappe moet begryp dat probleme deur onderhandeling opgelos kan en moet word. Bykomende kommunikasiekanale tussen die verskillende en strydende partye sou op plaaslike, streeks- en nasionale vlak ingestel word. In die lig van “die nuwe omstandighede wat nou ontwikkel” sou veiligheidswetgewing deurlopend hersien word, asook die moontlike opheffing van die noodtoestand in Natal.

“Ons is oortuig dat dit waarop ons ooreengekom het, ’n mylpaal op die pad na ware vrede en voorspoed in ons land kan word,” aldus die minuut.

Die Regering en die ANC het ook verklaar dat hulle nie voor­gee om die enigste partye in die land te wees wat betrokke is by die proses om ’n nuwe Suid-Afrika te skep nie. “Die pad is nou oop om voort te gaan in die rigting van onderhandelinge vir ’n nuwe grondwet.”

Tydens die formulering en skrywe van die Pretoria Minuut het nog ’n gebeurtenis plaasgevind wat ’n reuse-effek op die skikkingsproses en die openbare lewe daarna sou hê.

Van die ANC is Thabo Mbeki en Joe Slovo afgevaardig om die minuut te help skryf, terwyl ek en Fanie van der Merwe aan­gewys is om die Regering by dié proses te verteenwoordig. Ons is sonder omhaal na die snoekerkamer van die Ou Presidensie. Tussen die rookteue deur het Fanie in sy krapperige handskrif die neerslag van die onderhandeling neergepen, terwyl ons almal redekawel en help met die formulering.

Die kwessie van amnestie vir almal wat by dade van politieke geweld betrokke was, het deel uitgemaak van die besprekings tydens die “hoofberaad” waarna dit met die oog op konsensus­vorming en formulering na ’n werkkomitee – die vierstuks van ons – verwys is.

Ons het ’n indringende gesprek gevoer en mekaar oortuig dat dit allernoodsaaklik was dat ons die boek van die verlede toemaak en ’n nuwe blaadjie omslaan. Dit het ingehou dat alge­mene amnestie aan almal aan weerskante van die spreekwoordelike loopgrawe toegestaan word. Om derms uit te ryg oor die geweld en terreur van die verlede gaan ons nêrens bring nie, was ons oortuiging.

Dit was nie moeilik nie om in te sien dat Mbeki en Slovo dit as ’n teenprestasie vir MK beskou het om die radikale in die ANC te paai oor die toegewing dat hulle die gewapende stryd sou op­skort. Ons was heel opgewonde oor wat ons as ’n deurbraak beskou het en kom ooreen dat ons dit as ’n voorstel aan ons onderskeie prinsipale sal voorhou.

Juis in daardie stadium daag ministers Kobie Coetsee en Gerrit Viljoen by ons groepie op om na vordering te verneem en klaarblyklik toe te sien dat die twee amptenare nie die Regering uit­verkoop nie.

Coetsee het hom onmiddellik heftig teen algemene amnestie verset. Ek en Fanie neem hom eenkant en daar volg ’n driftige debat waartydens ons hom van die meriete van amnestie vir almal probeer oortuig. Ons wys daarop dat as ons dié geleentheid verspeel, ’n uitgerekte heksejag sal volg wat die veiligheidsmagte gaan knou en Umkhonto nog verder ondergronds sal dryf.

Maar Coetsee bly onversetlik en steeks soos ’n donkie. Tydens ’n indringende gesprek met De Klerk probeer ek en Fanie hom van die onbedoelde en fatale gevolge van selektiewe amnestie oortuig, maar ook hy kón of wóú dit nie insien nie.

Coetsee het klaarblyklik gemeen dat met die toestaan van algemene amnestie die kans verspeel sou word om die ANC oor sy menseregtevergrype aan die pen te laat ry. Op die ou end het dit tragies geboemerang en net mooi die teenoorgestelde van wat hy voorsien het, het gebeur. Die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) is ingestel waar tydens dié se sittings die sondes van hoofsaaklik die veiligheidsmagte maand ná maand uitgeryg en aan die groot klok gehang is. Coetsee het geskitter in sy afwesig­heid by die WVK, waar hy sy dapper standpunte volledig kon verduidelik het.

By die nuuskonferensie die dag ná die ondertekening van die Pretoria Minuut was die eerste tekens van spanning tussen Mandela en De Klerk sigbaar. Dit was vir my duidelik uit albei se lyftaal.

Dit het vermoedelik saamgehang met die ANC se probleme om die opskorting van geweld aan al sy volgelinge te verkoop, want baie van die kamerade het dit as oorgawe beskou. Versetaksies het oral voorgekom en Mandela en sy adjudante het al hul dae gehad om tydens ’n landwye “road show” die ondersteuners op voetsool­vlak tot ander insigte te bring.

Ingevolge ’n bepaling van die Pretoria-ooreenkoms het ’n werk­groep met lede van die Regering en die ANC etlike kere vergader oor die implikasies van die opskortingsbesluit. In Sep­tember 1990 is ’n voorlopige verslag uitgebring en op 12 Februarie 1991 ’n finale verslag wat as die DF Malan Akkoord bekend gestaan het.

Daarvolgens is ooreengekom dat verskeie aksies wat met struggle-­geweld verband hou, nie sou plaasvind nie: van gewapende aanvalle en die geheime stapeling van wapens tot uitlatings wat geweld aanmoedig. Ook is in beginsel ooreengekom dat in ’n demokratiese gemeenskap geen politieke party of beweging ’n private weermag behoort te hê nie. Kennis is geneem dat die ANC “in goeie trou en as ’n bydrae tot die proses met die oog op ’n vreedsame skikking” alle gewapende en verbandhoudende bedry­wighede opgeskort het “met die veronderstelling dat die proses tot ’n situasie sal lei waar daar geen terugkeer na gewapende be­drywighede sal wees nie”.

Dit was volgens die akkoord van wesenlike belang dat beheer oor ANC-kaders en wapens wat vroeër die land ingebring is, uitgeoefen word. Openbare betogings sou steeds toegelaat word, maar “massa-aksie” mag nie met geweld en intimidasie gepaard­gegaan het nie. Daar is ook ooreengekom dat die veiligheidsmagte en die ANC ’n gesamentlike poging sou aanwend om konflik­situasies te beredder en dat die werkkomitee sou toesig hou oor die toepassing van die ooreenkoms.6

Dit was ’n lofwaardige poging om geweld te bekamp en die vre­desproses op koers te hou, maar in die praktyk is die verstandhouding nie afgedwing nie.

In die lente van 1990 was ek bevoorreg om die eerste amptelike besoek deur ’n Suid-Afrikaanse staatshoof aan Amerika – toe die wêreld se enigste supermoondheid – mee te maak. Dit was ook pres. De Klerk se eerste buitelandse besoek sedert die vrylating van Nelson Mandela meer as ses maande tevore.

Van 23 tot 25 September het De Klerk, Pik Botha, die minister van Buitelandse Sake, en ’n Suid-Afrikaanse span Washington besoek.

Die Amerikaners het die rooi tapyt uitgerol van die oomblik toe die SAL Hantam op die Andrews-lugmagbasis buite Washington geland het. Daarna is ons met helikopters na die “reflecting pool” langs die bekende gedenknaald aan die Mall geneem. Dit was ’n besonder gasvrye gebaar van die Amerikaners om ons in die be­kende Blair House te laat tuisgaan.

Soos Neil van Heerden, direkteur-generaal van Buitelandse Sake, graag gesê het: “Ons het nie meer handewringend voor die agter­deur gestaan nie. Ons kon met trots deur die voordeur die wêreld se diplomatieke raadsale binnegaan.”

Die hoogtepunt van die besoek was De Klerk se afspraak met pres. George HW Bush in die Oval Office die volgende oggend. Daarna het die afvaardigings van albei lande ’n besonder konstruk­tiewe werksessie in die Withuis se kabinetskamer gevoer.

De Klerk was op sy stukke. Hy het op sy besonder logiese manier ons voorneme met die skikkingsonderhandelinge in Suid-Afrika verduidelik en klem gelê op die waarborge, die “wigte en teenwigte”, van die regstaat en die beskerming van minderheidsregte. Die nodigheid daarvoor het die Amerikaners oënskynlik moeilik gevind om te begryp. Vandag verstaan hulle dit waar­skyn­lik baie beter; Washington het eers in 2014 by die globale uitdagings van migrasie en minderhede uitgekom.

Die middag het De Klerk en Pik Botha vir James Baker, die deur­winterde minister van buitelandse sake, ontmoet wat ook op ’n baie opbouende gesprek uitgeloop het. Baker het Suid-Afrika as die platform vir Amerikaanse invloed in Afrika gesien en ingesien dat die regeerervaring van die ou regime onontbeerlik vir die nuwe Suid-Afrika sou wees.

De Klerk het by verskeie geleenthede die Amerikaanse media, senatore, kongreslede en sakelui toegespreek. Hy het dit knap ge­doen, want hy was ’n uitnemende spreker en anders as sy voorganger, PW Botha, het hy die kuns van internasionale ge­sprek­­voering verstaan en bemeester. Pres. Bush se ruimhartige voorligting oor Suid-Afrika aan die nuusmedia en sy positiewe kommentaar oor die gebeure in die land, het selfs daartoe gelei dat die kongres se swart koukus hom voor stok gekry het.

Bush se kommentaar was deel van die seine wat sy administrasie aan die kongres en die publiek wou stuur om die komende verandering van beleid jeens Suid-Afrika in te lui. Terselfdertyd moes Pretoria voortdurend verreken dat Washington sy eie mags­politieke belange najaag en Suid-Afrika nie alte gou op diploma­tieke gebied sou omhels nie. Daar was talle Amerikaanse belangegroepe, sterk beïnvloed deur die ANC, wat vas geglo het dat die NP-regime nie te vertrou was nie. Ons wou glo net die wurggreep van internasionale isolasie verbreek en dan omspring en weer die stryd vir die behoud van die apartheidstaat voortsit.

Ons het goeie en vertroulike inligting daaroor gehad. Tog moet ’n mens opmerk dat dit die soveelste intelligensiedwaling van som­mige in Washington was. As hulle goeie inligting gehad het, sou hulle geweet het dat die koeël deur die kerk was; van omdraai na die “ancient regime” was daar tog geen sprake nie.

Toe die Hantam die aand van 25 September van die Andrews-­lugmagbasis opstyg, was dit met ’n tevrede span Suid-Afrikaners aan boord. Ons was besig om ons pad terug te beur na volwaardige lidmaatskap van die internasionale wêreld. Minstens is ’n bres geslaan in internasionale isolasie en die aanvaarding van die ANC as Suid-Afrika se gesig na buite.

Vir Suid-Afrikaners was die hoofuitdaging nou om sonder internasionale voorskrifte vrede met mekaar en onder mekaar te maak.

Ongeveer agt maande ná dié besoek is Amerikaanse sanksies teen Suid-­Afrika opgehef. Harry Schwarz, destyds ’n prominente lid van die Progressiewe Federale Party, was deel van die Suid-­Afrikaanse groep. Enkele maande later het hy dr. Piet Koornhof as ambassadeur in die VSA opgevolg.7

* * *

Laat in Januarie 1991 het sowat 15 000 boere van feitlik oor die hele land met trekkers, stropers, bakkies, beeslorries en woonwaens op Pretoria toegesak en die middestad lamgelê.

Hoewel hul protes volgens die vereniging Boere Krisis Aksie (BKA) aan landboutoestande soos hoë insetkoste en laer pryse vir hul produkte te wyte was, was daar duidelik ook regse sentimente by vele. Die leier van die Konserwatiewe Party, dr. Andries Treurnicht, en agtien lede van sy koukus het hul parlementêre bedrywighede in Kaapstad gelos en Pretoria toe gevlieg.

‘’Die KP staan by die boere,’’ het mnr. Andries Beyers, hoof­sekre­taris van die KP, verklaar. Ook mnr. Eugène Terre’Blanche, leier van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB), het in die hoofstad opgedaag om die boere te ondersteun.

Afgesien van landboutoestande, was die boere ook ongelukkig oor arbeidswetgewing wat plaaswerkers meer beskerming sou bied en voorgestelde grondhervorming. “Eers boere, nou bywo­ners,” was een van die slagspreuke op ’n woonwa.

Die boere was vasbeslote om ’n versoekskrif met hul griewe by die Uniegebou aan pres. De Klerk te oorhandig, maar dit het nooit gebeur nie.

Die protesaksie is onderhewig aan tien voorwaardes deur die stadsraad goedgekeur, onder meer dat nie meer as 5 000 mense daaraan deelneem nie, dat pad- en voetgangerverkeer nie ontwrig mag word en geen toesprake gelewer word nie. Daaraan het die boere hulle min gesteur. Noodvoorrade bloed vir dringende operasies moes per helikopter na hospitale gevlieg word omdat be­langrike strate versper of beset is.

Hierop het die stadsraad ’n hofbevel verkry wat die boere ver­plig het om die stad te verlaat.

’n Plofbare situasie het ontstaan nadat dit óók verontagsaam is en sowat 200 boere in hegtenis geneem is. Verskeie polisiemanne is aangerand toe boere wat geweier het om hul voertuie uit die strate te verwyder, met die Polisie slaags geraak het.

Onderwyl het die boere nie hul sin vir voorsiening verloor nie. Benewens gasbraaiers, vrieskaste, seilstoele, opvoutafels, vervoerbare toilette en kragopwekkers, het minstens een boer ook ’n geslagte skaap, ’n gevriesde skaap en ’n lewende skaap saam­gebring. Boeremusiek is gereeld gehoor en op die sypaadjies is lustig gebraai en heelwat “Klippies en Coke” ingeneem.8

Ongeag dié gemoedelikheid, het die beleg ook ’n duidelike poli­tieke boodskap gestuur: Moenie die regses in die wit politiek igno­­reer nie. Boonop was baie van die boere deel van die Weermag se kommandostelsel wat die potensiaal van regse geweld vergroot het.

* * *

1 Verslag van ’n koverte bron van Nasionale Intelligensie.

2 Siphiwe Nyanda in The African Communist: Journal of the South African Communist Party, First Quarterly Edition, 1990, pp. 35-43.

3 Conny Braam, Operation Vula (Johannesburg: Jacana, 2004), pp. 28-270.

4 Ronnie Kasrils, Armed and Dangerous (Johannesburg: Jonathan Ball, 2004), pp. 246-250.

5 Padraig O’Malley, Shades of Difference. Mac Maharaj and the Struggle for South Africa (New York: Viking, 2007), pp. 244-256, 260-284, 287-291, 365-388.

6 Beskikbaar by www.nelsonmandela.org/omalley, geraadpleeg op 14 Oktober 2016.

7 E-pos met aanvullende inligting: Derek Auret, 28 Julie 2016 en 2 Augustus 2016.

8 Eugène Terre’Blanche, My storie (Kaapstad: Griffel Media, 2010), pp. 156-158; “Pretoria plofbaar ná boere-beleg”, Beeld, 30 Januarie 1991; “Regter verklaar protesaksie onwettig”, Beeld, 30 Januarie 1991; “Slag­skape, trekkers dra by tot karnaval-gevoel”, Beeld, 30 Januarie 1991.

Vreedsame revolusie

Подняться наверх