Читать книгу Vreedsame revolusie - Нил Барнард - Страница 8
Hoofstuk 4
Оглавление’n Eg Suid-Afrikaanse plan
Dit strek die Suid-Afrikaanse onderhandelingsproses tot eer dat ’n unieke en eiesoortige prosedure en stelreëls ontwikkel is wat nog nie elders in die moderne wêreld geëwenaar is nie. Uitvoerende oorgangsrade om voorsiening te maak vir deelnemende bestuur deur al die partye tydens die laaste fase van die skikkingsproses, is ’n goeie voorbeeld hiervan.
Ons het stelsels, prosesse en prosedures ontwikkel wat so eg Suid-Afrikaans is soos biltong, boerewors, poetoepap, chakalaka, smoorsnoek en brijani.
Die klassieke teksboeke van Europa was ’n rigsnoer, maar ons het gaandeweg ons eie, soms unieke, onderhandelingsfilosofie en -strukture ontwikkel. Dit was beter so, want wat deur die eeue elders ontwikkel het, kon nie net so as evangelie op Suid-Afrika toegepas word nie.
Aan die een kant moes ons ’n land regeer en so stabiel moontlik hou ten einde vreedsame onderhandelinge moontlik te maak.
Aan die ander kant moes ’n bestaande Regering met partye onderhandel wat aktief aan die werk was om dié stabiliteit te ondermyn en dié vermoë as hul belangrikste wringkrag op die proses beskou het.
Boonop was van die groot partye se steun onder die breë bevolking nog nie demokraties bepaal nie sodat dit geen maklike taak was om hul gewig na waarde te oordeel en dienooreenkomstig te hanteer nie. Die onderhandelinge moes verder deelnemend en deursigtig plaasvind, want veral uit struggle-geledere is die Amerikaanse president Woodrow Wilson se “open covenants of peace openly arrived at . . .”1 met bykans godsdienstige slaafsheid nagevolg.
Nogtans is die geheimhouding in die binnekamers van al die partye in stand gehou en het dit gaandeweg al belangriker geraak. Onderhandelinge sonder geheimhouding is futiel. Geen onderhandelaar kan sy kritieke doelwitte en veral die toegewings wat noodwendig gemaak moet word, aan sy soms wispelturige en ontoeskietlike ondersteuners vir goedkeuring voorlê nie.
Die kerngroep onderhandelaars kan ook nie net die duiwe en sagmoedige vredesoekers van die onderskeie partye insluit nie. As dit nie die valke en hardebaarde van die verskillende partye insluit nie, kan onderhandelaars daarvan vergeet om hul boodskap deur die gewoonlik skeptiese ondersteuners aanvaar te kry. Valke se woorde dra by terugrapportering aan die ondersteuners deurslaggewend meer gewig as dié van duiwe.
Die prosesse van onderhandeling het deurentyd op verskeie forums en dikwels gelyktydig plaasgevind. Daar was ruimte vir vertroulike gesprekskanale en spesiale gesprekke vir die leiers op die hoogste vlak om struikelblokke te oorkom of die seën op verwikkelinge te plaas. Dan was daar ook groot massakonferensies sodat al die politici tog hul sê kan sê en die mediadekking ’n slag hul ego’s kan streel. Daarby was daar ook bilaterale en multilaterale gesprekke oor gemeenskaplike probleme en, les bes, hoogs geheime gesprekke met radikale groepe wat wel hul stuiwer in die armbeurs wou gooi maar nie gesien wou word dat hulle met ’n regering onderhandel wat nie deur hulle erken word nie.
Van die onderhandelinge het op skrif geskied, veral wanneer partye spreekwoordelik polisse wou uitneem sodat hulle aan die ondersteuners kon wys hoe knap en oortuigend hulle die saak van die party gestel het.
Daar was ook geleentheid vir vertroulike fluisteringe en versugtinge om die water te toets. Agterna sou almal natuurlik ten dode ontken dat sulke gesprekke ooit plaasgevind het. Soms was dit ’n wenslys, ander kere ’n subtiele aanduiding van die onderliggende dilemmas in eie geledere. En by ander geleenthede kon dit ’n aanduiding wees dat sekere stappe of vordering nie toe moontlik was nie, maar moontlik wel later.
Die feit is dat geen bloudruk vir alle staatkundige onderhandelinge geld nie, maar dit kan riglyne bevat wat deur ervaring, kundigheid en ondernemingsgees tot die suksesvolle ontlonting van revolusies kan lei.
Praat van Grieks! Dit is sekerlik wat ’n buitestaander van die Regering se onderhandelingstrukture sou dink.
Daar is ’n AK11 wat aan die KGO rapporteer wat die BGO vervang het en aan die BGH verslag doen wat beleidsake na die UK verwys, terwyl daar op ’n syspoor die WVVS en VIK is wat met hul eie agenda alle koördinasie bedons – en oor dit alles hou die Kabinet, in teorie, toesig.
Aanvanklik was die Beleidsgroep vir Onderhandeling (BGO) daarvoor verantwoordelik om die Regering se onderhandelinge te bestuur. Dit is later ná Kodesa 1 deur die Beleidsgroep vir Hervorming (BGH) vervang. As dagbestuur vir die BGH is die Kerngroep vir Onderhandeling (KGO) daargestel wat die daaglikse bestuur moes hanteer en die BGH in staat stel om beleidmakende koers aan te dui. Dié strukture het almal amptenare ingesluit.
Die BGO was die strategiese beplanningsgroep van die Regering waarmee die werklike proses van staatkundige onderhandelinge afgeskop is. Bekende swaargewigte het daarin gedien: Pik Botha, Gerrit Viljoen, Dawie de Villiers, Kobie Coetsee, Barend du Plessis, George Bartlett, Hernus Kriel, Roelf Meyer, Tertius Delport en later van tyd tot tyd Leon Wessels, Sam de Beer, Jac Rabie en andere wat na gelang van die agenda betrek is.
Die BGH moes op sy beurt aan die Uitgebreide Kabinet (UK) verslag doen waar pres. De Klerk die voorsitter was en wat hom geleentheid gebied het om politici en amptenare saam te laat beraadslaag. Die Kabinet het uiteraard die laaste sê gehad.
Om die staatsdiens se vermoëns te koördineer is ’n amptenarekomitee – die AK11 – daargestel wat normaalweg uit twee departementshoofde bestaan het van die tien staatsdepartemente wat by elk van die Kodesa-werkgroepe betrokke was. Die AK11 het met my as voorsitter uit 11 lede bestaan (vandaar die naam) en het gereeld soos klokslag vergader. Sy werksaamhede het later ingrypend verander.
Onder Coetsee se leiding is nog twee komitees in die lewe geroep: die Werkkomitee vir Veiligheid en Veiligheidsverwante Sake (WVVS) en die Veiligheidsinligtingkomitee (VIK). Die woord “veiligheidsverwant” was klaarblyklik betekenisvol; dit was duidelik Coetsee en die veiligheidsmagte se verskuilde poging om regstreeks by die onderhandelinge gemoeid te wees. Tot vandag bly dit ’n raaisel waarom die president Coetsee toegelaat het om sy eie empaaier neffens die bestaande strukture te bou.
Verder is tientalle ad hoc-komitees van tyd tot tyd gevorm wat met verskillende onderhandelingsvennote oor uiteenlopende temas beraadslaag het, soos die Oorgangsgrondwet, uitvoerende oorgangsrade, die gebruik van tradisionele wapens tydens betogings, die TBVC-lande se deelname aan die skikkingsproses, nuwe simbole vir die land, die amptelike landstaal of -tale, ensovoorts.
Die Regering se bestuursmeganismes vir die onderhandelinge was deels die gevolg van pres. De Klerk se obsessie om amptenare op hul plek te hou en politici se soewereine gesag te handhaaf. Dit was van die amptenare se kant nooit in die gedrang nie. Ons het altoos “ons plek geken”, maar ons het ook genoeg siniese insig in die swakheid van politici gehad om ons nie deur hulle te laat intimideer nie.
Met die beplanningstrukture van die Regering se onderhandelingspoging het daar min geskort – met die beoefening, besluitneming en uitvoering baie.
Die Regering het oor ’n unieke bate in die vorm van ’n uitgelese korps amptenare beskik – iets wat die ANC en ander partye nie gehad het nie. Die ANC het veral op buitelandse bedmaats, invloedsmouse en geplante “kenners van staatsadministrasie” staatgemaak om hulle by te staan. Daar was klaarblyklik ook ’n groot gros amptenare wat toe reeds as simpatiseerders, heimlike ondersteuners of betaalde beïnvloedingsagente vir die ANC gewerk het.
In die geheel was die amptenare egter van ’n besondere stoffasie. In die bestuurskader was talle topamptenare wat uit die kultuur van die armblankevraagstuk gekom het en wat harde werk, lojaliteit en deursettingsvermoë saam met moedersmelk ingekry het. In talle departemente was van die room van ’n jonger garde van afgestudeerde universiteitstudente wat innoverend gearbei het en van die burokrasie ’n vernuwende en kragtige meganisme vir landsadministrasie wou maak. Daar was natuurlik ook die gewone kwota loodswaaiers, asook hier en daar verstokte bestuurders wat nie aan die eise van moderne landsadministrasie voldoen het nie.
Toe ek jare later deel was van die Regering se poging om vrede tussen die Jode en Palestyne te bewerkstellig het ek met trots en dankbaarheid aan die rol van die AK11 teruggedink. Ons het nie soos hulle vrede gepredik maar dankbaar redes ontdek waarom onderhandelinge opgeskort moet word nie.
Ons het ook oënskynlik onoorkomelike probleme in die gesig gestaar, maar ons benadering was anders. Ons het ons probleme prontuit aangepak en oplossings gesoek – nie verskonings nie. In sy bydrae hiertoe, asook die waarborg van ’n ordelike onderhandelingsproses, het die AK11 ’n unieke en navolgenswaardige voorbeeld gestel.
1 FL Schuman, International Politics (New York, McGraw-Hill, 1958), pp. 211-226.