Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 70
Оглавление2 Maart – God voorsien in jou behoeftes
2 MAART
Lees: 1 Konings 17:1–6
God voorsien in jou behoeftes
Hy [Elia] het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. – 1 Konings 17:5–6
God stuur kraaie om die profeet Elia van kos te voorsien. God se hulp kom dikwels uit onverwagte oorde. Elia het seer sekerlik nie verwag dat God op so ’n vreemde manier sou sorg dat hy genoeg kos sal hê om te eet nie. Indien jy finansieel swaar trek op die oomblik, mag jy maar met vrymoedigheid bid dat God vir jou sal voorsien. Miskien gaan Hy dit ook op vreemde maniere en deur vreemde mense doen.
Neil Verwey, ’n sendeling in Japan, vertel dat hulle eenkeer vir hul kleinseuns T-hemde wou koop, maar nie geld gehad het om daarvoor te betaal nie. In die winkel waar hulle na die T-hemde gaan kyk het, het sy vrou ’n pragtige jas aangepas, wat sy heel goed geweet het dat hulle nooit sou kon bekostig nie. Sy kry toe ’n dik rol note in een van die jassakke. Toe hulle hierdie geld aan die winkelbestuurder oorhandig, het hy vir hulle ’n beloning gegee wat oorgenoeg was om vir die kleinseuns se T-hemde te betaal.
Vertrou God om te alle tye vir jou te sorg. Hy onderneem om in elke behoefte van sy kinders te voorsien. “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus,” beloof Paulus die gemeente in Filippi (Filippense 4:19). Hy wil dit vandag ook vir jou doen.
Here, ek loof U dat U nog altyd in elkeen van my behoeftes voorsien het. Amen.